Spore op die maan

deur

Koos du Plessis

(1945 – 1984)

____________________________________________

Elke nuwe plan lê hopeloos verfrommel,
want iets sê: “Stomme drommel,
die ruimte lê vol rommel!”
En ek begin verstaan:
Daar is geen nuwe oord om heen te gaan,
want, kyk, daar lê reeds spore op die maan.

Want die stad blom elke nag,
strooi sy saad en skemerdag
breek staalspruite deur die aardkors,
waar jy gaan.
Rommelberge groei omheen
en daar’s swaelsuur in die reën –
en, kyk, daar lê reeds spore op die maan.

Waarheen sou ek gaan?
Ontvlug is onbegonne;
selfs droom is onbesonne,
want die wêreld is oorwonne
en ek begin verstaan:
Daar is geen nuwe paaie om te baan;
want, kyk, daar lê reeds spore op die maan.

Elke hektaar is verkoop,
elke opstal lê gesloop
en die wêreld wag verwese, in die waan
dat ‘n wonder sal gebeur
om sy rusperleërs te keer –
maar, kyk, daar lê reeds spore op die maan.

Vlug na berg of woud….
Meen jy dat daar geeneen is;
dat jy eindelik alleen is?
Ag, verspieders loer op Venus
en ek begin verstaan:
Daar is geen nuwe oord om heen te gaan,
want, kyk, daar lê reeds spore op die maan.

Elke woord is retoriek,
elke droom is bloot plastiek
en atoom’s die idioom van wie verstaan.
Iewers moet ‘n rusplek wees
vir die afgematte gees –
maar, kyk, daar lê reeds spore op die maan;
duisend donker spore op die maan.
Kyk, daar lê reeds spore op die maan.