Sprokie vir ‘n Stadskind

deur

Koos du Plessis

(1945 – 1984)

___________________________________

As die reën van stof en roet verby is
en die rook verdwyn,
sal daar in die sterrelose hemel
‘n neonboog verskyn.

En kyk maar goed, want as jy hom vind,
vertel ek vir jou ‘n sprokie, my kind,
van ‘n skatkis, met ou kettings gebind,
aan die neonboog se punt.

Volg hom elke nag oor swart riviere,
oor kranse van beton;
as jy aanhou stap, tienduisend ure,
sal jy dalk daar kom.

Maar hier moet jy jou nimmer laat bind,
want, so lui die ou-ou sprokie, my kind:
As jy geluk en vreugde wil vind,
soek die neonboog se punt.

Volg hom elke nag oor swart riviere;
kyk nie éénmaal om.
Dalk vind jy die land van blou saffiere…
en dalk ‘n brokkie son.