23 Oktober 2014
© dr. François P. Verster
In my elektroniese lêers vind ek ’n paar aantekeninge (sien onder) en besluit toe om dit te herbedink, uit te brei, en met mede-skrywers te deel:
Moonlike foutiewe terme-toepassing in koerante – Van Nierop (Rapport Weekliks, 19 Okt 2014) en Anker (Die Burger, 20 Oktober 2014).
1. Leon Van Nierop skryf oor die fliek Snowpiercer en sê meer as een maal dis dalk nie so wonderlik nie, maar stil vir eers sy honger na wetenskapfiksie – dis die deurlopende draad in sy artikel. En dan sê hy teen die einde nou kan hy eers wag vir die volgende Hobbit-fliek. Ongelukkig stort sy heel argument waarop sy artikel gebou is dan ineen: Tolkien se Middel Earth-reeks is nie wetenskapfiksie nie, maar Fantasie.
’n Mens sou verwag iemand soos Leon van Nierop sal die verskil ken.
2. In ’n stuk oor Willem Anker (deur Willem De Vries, p.9) se nuwe boek oor Coenraad Buys (Buys, ’n grensroman) sê hy dat jy met “historiese feite [oor Buys] en legendes” werk – die gebruik van die term legende in die meervoud is eintlik verkeerd want dit is dalk na mites waarna Anker verwys – wie behalwe Buys is nóg ’n legende in die verhaal?
Maar wat ’n mens hier opval is eerder sy stelling dat nadat hy die legendes en feite “[…] saamgevoeg het, smelt alles saam sodat dit fiksie word.” Die vraag is: hoe kan feite ooit fiksie word? Hy bedoel seker hy het sodoende ’n historiese roman geskep, wat ’n samevoeging van feite EN fiksie is, nie fiksie alleen nie. Dis natuurlik baie letterlik beskou, maar dis belangrik dat ’n roman ook feite kan bevat, nes ’n memoir feite bevat (hopelik meer as ’n roman!).
Interessant is juis dan ’n aanhaling van Mark Twain in dieselfde Burger (p.8): “Dit is geen wonder dat die waarheid vreemder as fiksie is nie. Fiksie moet sin maak.”
Benewens die ironiese aspekte hier en dat mens dadelik moet toegee dat enigiemand kan fouteer, het die twee gevalle wat in opeenvolgende dae in twee koerante voorgekom het, my weer herinner aan persepsies oor Wetenskapfiksie en Fantasie aan die een kant, en romans in die algemeen aan die ander kant. Met die gebruik en misbruik van feite in fiksieverhale boonop, by albei.
Hoewel Van Nierop nie juis oor feite as sulks geskryf het nie (hy sê net die verhaal is onwaarskynlik en dus ver van feite/die werklikheid verwyderd), is sy aanname dat The Hobbit wetenskapfiksie is wel relevant: inteendeel, Fantasie, soos Tolkien se Lord of the Rings, ens., is sekerlik die verste van feite verwyderd van alle genres. As ’n mens kyk na die reëls van Fantasie, soos elders in Afrifiksie se portale uitgelê word, is daar wel ’n skyn van werklikheid wat voorgehou kan word, maar die leser is bewus daarvan dat hy/sy op ’n (fantastiese) verbeeldingsvlug meegevoer word.
Daarenteen dui Wetenskapfiksie se naam duidelik daarop dat dit ’n vermenging van feite en fiksie is: feite word gemanipuleer om wat-as-scenario’s te skep. Sommige scenario’s is natuurlik nie noodwendig onmoontlik nie – die ontwerp van lasers en ruimtetuie is enkele bekende voorbeelde wanneer oor die “deugde” van WF gepraat word. in my WF-roman Deur na Nebula Nege verwys ek na ruimteskepe wat geloods kan word d.m.v. interaksie tussen die loods se brein en die kontroles van die skepe – en vandag word al sulke vliegtuie gebou, aldus Scientific America – se Mind-tydskrif. In my verbeeldinsgvlug het ek in die geval nie van bekende feite gebruik gemaak nie, maar aangeneem dat so iets moontlik sal word, soos afgelei van vordering wat in toepaslike tegnologie gemaak is. Dis bloot ’n tipiese geval van wat WF-skrywers gedurig doen.
Die skrywer van ’n historiese roman daarenteen, verlaat hom/haar gewoonlik op bestaande, geverifieerde feite wanneer iets as ’n feit in so ’n roman voorgestel word – soos die aankoms van drie Hollandse skepe aan die Kaap op 6 April 1652 of die inhuldiging van die eerste swart president van S.A. op 10 Mei 1994. Die WF-skrywer ekstrapoleer dus (maak ’n afleiding van wat nog kan gebeur) en die romanskrywer van bv. Buys, ’n grensroman kan afleidings maar van wat dalk gebeur het, en stel dit wel as ’n feit, maar nie so dat dit bots met bekende feite nie. Die WF-skrywer kan met meer wegkom, maar ook nie met veel meer nie – die Fantasieskrywer het meer ’n “lisensie vir lieg” as die WF-skrywer.
Oor my opmerking aangaande die verskil tussen mites en legendes moet ’n mens net op hierdie stadium duidelik maak wat die definisie van die twee terme is. Ek voeg sommer “fiksie” by:
- Mite: word ook soms met “fabel” (storie sonder enige werklike grondslag) verwar. Mites handel dikwels oor oud-Germaanse of Griekse godeverhale. Godsdiens speel dus ’n rol.
- Legende: lewensbeskrywing van bv. ’n heilige, verhaal wat nie op die werklikheid berus nie… [maar dit gaan oor ’n persoon].
- Fiksie: kan denkbeeldige voorstelling, versinsel, verdigsel beteken, of “Romanliteratuur.”
• Dis volgens HAT, maar daar is talle definisies, min of meer dieselfde.
Skrywers verlaat hulle dikwels op die leser se kennis van mites en legendes (al weet baie mense nie wat die verskille is nie), want van die oertye af vertel mense sulke stories – eers met die koms van die roman as genre het mense begin om nuwe verhaaltipes te skep en weg te breek van ou-ou verhale soos o.a. uit die Westerse mitologieë. In sy baie nuttige bundel aanhalings oor skryfkuns, Reality hunger (2010) skryf David Shields juis onderhoudend oor hierdie ontstaansfase van die romanskuns – sy boek is vir skrywers hoogs aan te beveel. Een so ’n aanhaling is “The origin of the novel lies in its pretence to actuality”. En nog een: “To be a truly good artist [lees: skrywer], you have to link your art to your life.” En, my gunsteling: “No artist tolerates reality.”
’n Aanhaling in dié boek (oorspronklik deur ene Walter Benjamin geuiter) wat mens egter laat wonder oor die reëls van die onderskeie genres is: “All great works of literature either dissolve a genre or invent a new one.” Dit onderskryf wel die feit dat daar genres is, want eerstens is daar min groot literatuur” – die meeste is dus blote genre-werke, en tweedens veronderstel dit dat steeds nuwe genres geskep word, anders beteken dit daar word nie nuwe groot werke geskep nie en ons stagneer tot die tyd vóór romans, toe vir dusiende jare by enkele genres (soos fabels en sprokies) gehou is.
Om af te sluit: Twain se opmerking oor fiksie wat sin moet maak. In werklikheid bedoel hy dit moet skynbaar sin maak; dit hoef nie regtig logies of feitelik gefundeer te wees nie. Die historiese roman verlaat hom die meeste op opgetekende feite (nie noodwendig algemeen-bekende feite nie) en bespiegel oor die verlede, die wetenskapfiksie-roman neem feite en bespiegel oor die toekoms (hoewel dit geskryf kan word vanuit ’n verbeelde toekomstige tyd, terug na bv. vandag), en die Fantasieverhaal keer eintlik bekende werklikhede om en skep ’n inversiebeeld van wat ons ken en as die werklikheid aanvaar – diskwels ook gebaseer op ou mites en legendes.
Dis asof die een genre se reëls die skepping van ’n ander genre noodsaak sodat alle moontlike verbeeldingsvlugte geakkommodeer kan word in ’n valse voorstelling van die werklikheid/hoe dit kon gewees het/ hoe dit nog kan wees, maar gewoonlik aangebied asof dit nie vals is nie, maar om te doen wat Shields ons aan herinner: “The origin of the novel lies in its pretence to actuality.”
Dit bly egter nodig om bewus te wees van die grense van genres en die terminologie wat binne sulke grense van toepassing mag wees. Anders verloor jy geloofwaardigheid – en ons wil ons tog verbeel dat jy weet waarvan jy praat!
- As ek nie reageer op vrae nie, mag daar ’n tegniese probleem wees. Stuur dan u kommentaar/vraag na francois.verster@media24.com asb.