HEMELSE GLOED – Philip Brand

HEMELSE GLOED – 2015 © Philip Brand

JEUG WETENSKAPFIKSIE (3 191 WOORDE)

Riaan Simon ontwaak vinnig uit sy ligte slaap wanneer hulle oud-bekende geluide bokant sy kop begin rammel en saam drom. Dit klink soos die geluid wat borrels maak in dik olie wanneer hulle praat. Wanneer die stemme stil raak begin die swaar, metaal-huilende masjienerie weer beweeg in ’n ander rigting. Dis asof hy kan voel hoe die ander liggame in die donker vertrek saam met syne verstyf in senuwees en skok terwyl die asems so liggies en sag moontlik probeer suurstof en stikstof surkileer. Riaan tel vinnig met hulp van sy gehoor of almal in die kamer is en is effens rustiger wanneer hy voltal vind.

Hy swaai sy lyf versigtig tot hy op sy sy lê. Die ongemaklike gevoel van die ongelyke rots deur die dun, verrotte materiaal onder hom druk sy liggaam hier en daar, maar daaraan is hy nou al gewoond. Die ou, swaar kombers wat bo-oor hom en die twee kleiner liggame weerskante van hom getrek is gooi ’n stink walm oor sy gesig wanneer hy dit lig en oor sy skouers gooi. As hy reg onthou kom die kombers al saam met hom van die tyd voor nou af.

Agter hom skuif die vroue-lyf reg en gooi ’n arm onder sy arm deur oor sy maag. Riaan voel-voel versigtig vir die benerige lyfie wat voor hom opgekrul lê, en wanneer hy dit vind sit hy in beurt sagtelik sy hand oor sy dogtertjie se skouer. Haar lyfie is koud en bewerig, en dit bring met eens ’n warrelwind van emosies in hom na vore – woede, hartseer, spyt en wanhoop als in een.

Die geluide daar bo beweeg weer verder, maar nog nie buite hoor-afstand nie. Dis so donker in die vertrek dat Riaan weet daar is geen punt daaraan om sy oë oop te maak nie, maar wanneer hy die drip van water hoor kan hy onmiddelik vasstel dat dit kom van die volgende vertrek – ook ’n slaapkamer vol sagte asems. Die kamer het ’n klein varswater-fontuintjie in die een hoek wat met tye opdroog en slegs druppels uitlaat. ’n Kriek raas eensaam in ’n ander hoek en word dan stil wanneer daar skuif-geluide kom van iewers binne die vertrek.

’n Lig gaan aan, klein maar skerp. Riaan weet dis iemand in die volgende kamer wat regmaak om ’n draai te gaan loop. Die persoon vat sy tyd met elke beweging wat hy maak, met ’n pouse tussen elke swaai en oplig van ’n ledemaat om eers te luister wat bo die rots plafon aangaan.

Riaan maak sy oë oop en gooi sy vry arm, wat op sy dogter se skouer rus, voor sy oë wanneer die lig skerper is as wat hy kon vasstel deur sy oogwande. Hy behou die ongemaklike posisie tot sy oë aangepas het. Die lig is al heelwat flouer wanneer hy uiteindelik iets kan uitmaak en word al flouer soos die persoon in die lang gang, wat vanuit die volgende kamer uitloop, afstap.

Die eerste ding wat sy vars sig op let is die skadu-bewegings van die klip-stukkies en stalaktiete wat uitsteek onder die handgemaakte, uitgeholde bruin-swart rots plafon. Agter hom skuif die vrou haar weer reg en lê nou so styf teen sy rug dat hy nie kan omkyk na haar nie. Hy loer af na sy dogter onder sy bors. Slegs haar lang bos donkerbruin hare is sigbaar onder die stink kombers. Met bitterheid teenoor sy omstandighede troos hy homself daaraan dat sy minstens nie meer bewe nie.

Oorkant hul posisie, teen die ander muur van die uitgeholde-klipvertrek sien Riaan die dubbele ry van uitgeholde slaaphokkies wat min of meer net so groot is soos die een waarin hulle lê. Hy kan die buitelyne van die uitgeteerde liggame onder die dun toemaakgoed uitmaak in die bietjie lig wat nog oorbly. As hy nie van beter geweet het nie sou hy sy oë geglo het wat hom aanmekaar probeer oortuig dat hulle almal moet dood wees.

Net voor die lig heeltemal verdwyn van die vertrek laat hy sy hand weer sak tot op sy dogter se skouer. Hy sien die lang, wit hale van die skeur-wonde wat hy as kind opgedoen het, wat soos weerlig-strale verspreid is oor sy voorarm. Dit voel soos net nou die dag, maar dis nou al meer as vyftien jaar gelede toe hy as twaalf-jarige nog met sy blou Rally-fiets die strate van sy ouerhuis se buurt op- en af gejaag het. Dit kon net sowel ’n ander mens se lewe gewees het as hy nou terugdink aan hoe dinge was voor die eerste keer toe hulle gekom het:

“Riaan Simon! As jou pa hier kom vanaand gaan julle twee ’n lang geselsie hê!” laat hoor Rina Simon haar van binne die huis toe die twaalf-jarige Riaan by die voordeur uitstorm en die patroon-bedekte houtdeur agter hom toe gooi.

Rina Simon was in haar vroeë veertigs in daardie jaar. Riaan onthou nie meer veel van sy ouers nie, maar hy onthou wel dat sy ma ’n ma en ’n vrou duisend was. Nie hy of sy pa kon vir beter gevra het in hierdie lewe nie. Sy was dalk op sig self net ’n huisvrou soos enige ander vrou op haar straat, maar vir hulle was sy alles en nog meer. Rina Simon was ook die mooiste vrou in haar buurt, selfs onder die jonger pas getroudes. Haar wit-blonde bos hare en see-blou oë het al wat man is betower, maar tog het sy nooit oë gehad vir enige ander man buiten sy pa nie. Riaan onthou ook hoe sy normale-vaal, prokureur pa haar altyd opreg waardeur het met al wat ’n geskenkie of liefkosing is. Riaan het sy ma se wit-blond hare geerf, maar sy pa se harde, donkerbruin oë en growwe gesig.

Die houtdeur vibreer nog in sy skarniere toe is Riaan al met ’n beswaarde mars die tuinhekkie uit en op sy fiets in die straat af.

Al wat in sy gedagtes gedwaal het daardie Sondag middag was die nuwe parkie op die berg agter hul klein dorpie. Die afkondiging het die Vrydag oor die skool-interkom gekom dat hulle klaar gebou is daaraan. Toe hy sy ma vra of hulle die parkie kan gaan besoek het sy gesê dat hulle net vir sy pa moet wag wie weg was met ’n kliënt vir die naweek en die einste Sondag sou terugkeer.

Soos dit is met kindwees het die gewag te lank geword, en toe sy pa die middag nog nie tuis was nie het Riaan sy frustrasie op sy arme ma uitgehaal en eindelik besluit om ’n draai met sy fiets te gaan ry.

Eers het hy net in die buurt op en af gery in die Sondag-stilte, maar teen drie-uur het hy in die rigting begin ry waaruit sy pa moes terugkeer. Hulle het die vorige oggend laas van hom gehoor, en dit was vreemd dat hy nog nie vir die Sondag gebel het soos oudergewoonte nie. Dit was nog meer vreemd dat sy foon aanhoudend beset gelui het wanneer sy ma probeer bel het.

Riaan is nog vol energie wanneer hy weer omdraai voor die afdraai na die hoofpad – die enigste straat wat hom belet is. Hy trap die fiets se pedale stadiger noudat hy weer gerig is in die huis se rigting. Dan fluister die duiwel se stem, presies op tyd soos die noodlot dit wou, in Riaan se oor en sy oë blink met die briljante idee wat van dit kom. Die fiets se voorwiel swaai na links sodat hy in sy spoor omdraai, en met die volgende vier-rigting stop vat Riaan ’n ander straat wat afstuur in die rigting van die berg. Die opgewondenheid vir ’n oomblik oorheers die skuldgevoel en vrees vir wat sy pa gaan doen as hy gevang word, en binnekort is Riaan aan die rand van die styltes van die klein bergpas oppad na bo.

Die klein bergpas suig hope van sy oortollige energie op. Meeste van die pad konsentreer Riaan net daarop om nie verkeerd te trap en te val nie. Kort voor lank is die park in sig. Met longe wat brand en kuitspiere wat kramp gee Riaan ’n paar laaste harde trappe in ’n effe-hoë rat en bereik die ingang totaal uit asem. Hy blaas sy asem uit en suig vars lug in keer op keer, sy bolyf wat oor die stuur slap hang blaas op en af soos ’n ballon.

Wanneer hy weer genoeg van sy asem terug gekry het sit Riaan die fiets neer en draai eers om, om oor die afgrond te kyk na die dorpie wat nou ver onder sy posisie lê. Op die horison kan hy die son sien wat al baie na-aan sak is, en besluit dan dat die afgaan tog heelwat vinniger gaan wees as die opkom. Hy draai om en staan ’n oomblik eers stil om die hele prentjie van die nuwe park in te neem, maar uiteindelik is dit die speelgrond-gedeelte wat al sy aandag het en hy slaan ’n vinnige stappie in in die rigting van die glyplank.

Die prentjie van die park sal Riaan nooit kan vergeet nie. Oral waar sy oog kon sien was dit groen van bome, plante en blomme, die gras sag en nog nat van die onlangse natmaak. Voëlbakkies van borshoogte was opgerig op ’n paar plekke en ’n uiters netjiese hout heining was om die park, asook om die speelterrein binne-in die park opgerig. Die yster en hout rusbankies was hier en daar in skadu-kolle in die grond vasgepen. Daar was nooit baie diefstal in en om hul dorpie nie, onthou Riaan, maar die bankies was duur en nuut en hul gemeenskap nie van die rykste nie, dus was dit beter om seker te maak dit word nie gesteel nie.

Riaan sien en hoor voëls al die pad soos hy oor die grasperk stap. Party het hy herken, maar daar was tot die wat hy nog nooit eens gesien het nie. Voor hom, in die speelterrein, was nie net ’n glyplank nie maar ook ’n groot swaai en rondomtalie en vele ander tipes speel-patente wat hy nie geken het nie, alles in die kleure van die reënboog geverf. Vir die volgende halfuur was Riaan in verwondering en ekstase. Hy het van die een apparaat na die ander getrek en elk so bietjie uitgetoets.

Dit het so skielik skemer geword dat Riaan mooi moes kyk waar hy trap toe hy van die swaai afspring. Hy het geweet dit was laat en het dus na sy fiets toe gehardloop. Sy pa moes al by die huis wees, en as hy nog na donker daar moet aankom bo alles sou die ontmoeting met meer as net ’n instruktiewe geselsie gepaard gaan. Onder die ruigtes van boom-bedekking uitgekom was Riaan slegs ’n paar tree van sy fiets af toe hy wolkbedekking vir die eerste keer gewaar. In al die baljaar in die speelterrein het hy nie eens besef dat dit bewolk raak nie, en die wolke het klaar gedreig met ’n donderweer-gedruis in die verte.

Met die buk om die fiets van die grond af op te lig vang sy oog die eienaardige ligblou gloed bokant ’n gedeelte van die wolk-bedekking byna reg bo sy posisie. Riaan knip sy oë twee maal voor hy besluit dat hy dit werklik sien en staan dan weg van die naaste bome om beter te fokus. Die blou gloed verander na wit en keer dan terug na blou. Na ’n tydjie met sy oë in die lug besef Riaan dat die omtrek van die gloed vergroot, en al vinniger groei soos dit al hoe donkerder word bokant die wolke.

Die aarde gee ’n onverwagse ruk onder Riaan se voete, te vinnig om ’n aardbewing te wees – nie dat hy eens so iets ken nie. Hy kyk outomaties af net om te vind dat hy al in die middel van die teerpad staan. Voor hy weer na bo kan staar kom daar ’n klapgeluid vanuit die hemele bo wat sy handpalms na sy ore dryf. Riaan pers sy oë toe en maak sy mond oop. Hy gil maar kan sy eie stem nie hoor nie. Vrees skop in en sy hart klop in sy keel wanneer hy weer versigtig loer na bo.

Die wolkbedding is nog donkerder, nog donkerder as die pers-swart kleur van swaar weer. Toe Riaan sy hande laat sak en agterkom sy gehoor kom terug begin die grond onder sy voete onophoudelik vibreer. ’n Nuwe geluid sak neer vanuit die gloed area. Dit klink vir Riaan soos die geluid wat sommige voertuie maak op Saterdae in die verbyry voor hul huis wanneer die musiek kliphard binne speel. Hy onthou hoe sy pa altyd sal vloek en iets mompel van ’n “bys” as die karre verby gaan.

Die nuwe geluid hou aan om die aarde te skud en is nog meer oorverdowend as die vorige klap-geluid. Hierdie keer help dit nie wanneer Riaan sy handpalms oor sy ore pers nie. Hy draf bevrees terug na die blou Rally-fiets en spring op die saal. Voor hy kan wegtrek hou die geluid op en word vervang met doodse stilte. Riaan kan homself hoor vinnig asem haal, sy asamhaling gedeeltelik onderbreek deur die klop-klop van sy hart.

Riaan waag dit om na die lug bo sy posisie te loer. Die lig in die wolke is steeds donker, maar die wolke het van vorm verander – dit lyk of iemand ’n massiewe stofsuier bo die wolke hou waar die donker kol is en die wolke opsuig. Dan kom die aardskudding ligtelik terug wanneer iets deur die holte in die wolke uitsak na onder. Die skudding word sterker en sterker terwyl die swart voorwerp uitsak onder die wolke-massa. Toe die snaakse geluid weer begin trek Riaan met ’n spoed weg, maar dit is nie lank voor sy bene hom in die steek laat nie, lam van oorspanning en vrees.

Hy maak staat op die afdraande om spoed te gee aan sy vordering teen die bergpas af en loer kort-kort op na die lug. Die swart voorwerp het nou al heel uitgekom onder die wolke. Dis bedek met swart tentakels en ’n oorweldigende hoeveelheid ligte en lyk soos ’n skip wat in die lug dryf. Riaan kyk net betyds terug in die pad om ’n rots mis te ry wat van die berg afgerol gekom het. Hy weet daar gaan meer wees as hy nie gou maak nie. Met als wat hy in hom het forseer Riaan sy liggaam orent op die fiets en sy bene om te trap, die fiets nou net een rat onder die hoogste stelling. Die wind in die afgaan verander binne sekondes van warm na ysig koud, so erg koud dat Riaan se neus begin brand en sy oë traan.

Riaan bereik ’n reguit stuk pad en weet hy is nou min of meer halfpad wanneer hy af loer na die dorpie wat nou heelwat nader is. Hy loer om na skip se posisie wat nou agter hom is. Die wolke bokant die vreemde verskynsel het weer toegemaak en die skip het omgedraai – en as sy oë hom nie bedrieg nie is die gedeelte wat soos die neus-punt lyk nou gerig op hom en die dorpie onder hom. Riaan kyk terug na die pad voor hom en ontvang hulp van ’n adrenalien ontploffing om die fiets nog vinniger te trap.

Dan is daar nog ’n knal van dieselfde klap-geluid wat hy vantevore gehoor het uit die hemele. Die semi-donkerte om Riaan verlig na ’n wit kleur. Dit lyk of die hele aarde om hom bedek is met ’n buislig tien keer skerper as die sonlig, maar die lig beweeg. Riaan kyk op en sien ’n groot wit-blou straal hoog bokant sy kop verby trek en die dorp onder met nog ’n knal tref. Die lig omvou die hele omtrek van die dorpie en suig als na binne. Met die trefslag is die lig so skerp dat Riaan niks voor hom kan sien nie. Hy trek die agterbrieke van sy fiets vas met alle mag. Die aarde huil ’n kraak-geluid wat klink soos honderde bome wat naby en ver, oor en oor breek.

’n Verwoede wind slaan hom van voor en pluk hom agter oor van die fiets af. Stof en sand slaan teen hom en brand sy vel soos hy deur die lug trek. Wanneer hy uiteindelik te lande kom op sy maag slaan die hou die wind uit hom uit. Riaan teug na suurstof, maar sluk groot bondels gras en sand. Hy spartel om orent te kom maar die wind druk hom teen die grond. Sy hele liggaam brand nou. Iewers naby hoor hy iets verskuif, iets groot wat meer raas as die wind en sand. Dan rol die rots skielik uit die hoek van sy oog nader en Riaan spring-val uit die pad. Die rots tref die regter kant van sy lyf en vlenter hom teen ’n afgrond af. Toe sy liggaam die grond weer tref is sy bewussyn weg.

Die volgende ding wat die volwasse Riaan kan onthou is dat hy wakker geword het in ’n donker kamer met geen benul hoe hy daar gekom het nie. Vlugtelinge het hom lewend gevind kilos ver van die berg en dorpie af. Sy wonde was van so ’n aard dat hulle hom eers net daar wou los, maar ’n enkele paar tussen hulle wou hom die kans op lewe gun en het hom verpleeg. Hy was glo met tye wakker gedurende hierdie tydperk maar kon tot dusver niks daarvan herroep nie.

Sy redders is intussen oorlede en die lewe het drasties verander… Dit wat van die mensdom oorbly skuil ondergronds en oorleef op die bietjie wat hulle hul lewens voor kan waag bogronds. Die wat bogronds gaan vir kos en medisyne kom soms so versteurd terug dat hulle ophou praat. Oor die algemeen praat niemand oor die dinge wat hulle daar bo sien nie.

Riaan Simon sien hoe die donkerte in die vertrek weer verlig word met die terugkeer van die persoon deur die gang na die volgende vertrek waar die fontyntjie steeds net drup-drup. Hy luister fyn en kan nie meer hulle geluide ver bogronds hoor nie.

Teen sy bors skuif die klein, benerige liggaampie van sy dogter onrustig rond. “Pappa, is hulle weer weg?” vra die kleine Heleen Simon met ’n bewerige stemmetjie.

Riaan druk haar skouer sagkens en fluister so sag as moontlik, “Ja, my kind. Slaap nou maar.”

Riaan Simon lê wakker tot dit weer donker is in die vertrek. Sy gedagtes dra hom na plekke waar hy nie wil wees nie, en wanneer die gal in sy hart bitter kook forseer hy sy brein om af te skakel sodat die slaap hom kan vat. Die laaste ding waaraan hy dink, nes elke ander aand, is die vloek van ’n lewe wat hy aan sy dogter gegee het en hoe hy haar geboorte met alle mag sou vermy as hy weer die keuse daarvan kon beoefen.

Ver bo hulle posisie beweeg die nuwe heersende spesie van die wêreld heen en weer op die aardkors, op soek na elke laaste bietjie lewende energie om te versamel en te verslind.

3 thoughts on “HEMELSE GLOED – Philip Brand

  1. Skitterend geskryf, met raakte beskrywings. Die verskil tussen die kind Riaan en die volwasse Riaan se gedagtewêreld kom baie sterk uit.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui