HOENDERDIEF – Pieter Saayman

HOENDERDIEF – 2016 © Pieter Saayman

JEUGFANTASIE (1 819 WOORDE)

“Iemand steel my hoenders.” Sê pa een oggend aan die ontbyttafel.

“Seker maar weer `n jakkals of muishond.” Sê ma.

Pa vat `n sluk koffie en staan op.”Tenminste twintig die afgelope maand. Dis baie vreemd, die hokke se drade is heel en daars nerens gate onder die drade nie.”

Ruben en Hester loer onderlangs na mekaar. Hulle het lus vir avontuur- die vakansie is nog lank op die plaas.

“Ons sal vannaand gaan waghou pa.” Ruben kyk na sy jonger suster wat grootoog sit en luister.

“Ja pa, ek en Hester sal heelnag agter die bloekoms naby die hokke wegkruip om te sien wie die skelm is”

Pa loer na ma wat by die stoof doenig is.Sy draai om. “Vat net vir Bruno saam. En wees versigtig, ons is veilig hier op die plaas maar mens weet nooit nie.”

Bruno die ou boerboel, is al oud en afgetree, maar waai vinnig sy stert met die aanhoor van sy naam. Hy volg sy basie in elk geval soos `n skaduwee.

Dis Vrydagaand.Volmaan en die hemelruim is `n wit gewelf van sterre.

Gewapen met `n flits en Bruno aan hulle sy, stap die twee kinders na die hoenderhokke.wat `n ent weg van die plaasopstal geleë is.Hulle neem stelling in agter `n groot bloekom wat naby die hoenderhokke groei.

Ruben gaan sit op die grond, die lang gras verskans hulle heeltemal.” Ons gaan eers waarneem, wie of wat ookal dit is wat die hoenders steel. Pa sal dan besluit wat is volgende.Ons doen net die speurwerk.” Sê Ruben windmakerig

“En as dit skelms is, wat dan?”

“Ons sal laag lê en waarneem.”

Dis doodstil. `n ligte wind suis sag deur die bloekomtakke. Brulpaddas kwaak aanhoudend in die vlei en bosduiwe skrop in die takke bokant hulle. Bruno slaap lankal, styf opgekrul teen Hester se bene.Niks gebeur nie. Die stilsit en niksdoen oorval hulle en kort voor lank raak die kinders aan die slaap.

Die sagte geknor van Bruno laat Ruben wakkerskrik. Sy lyf is seer en styf van die regop sit en slaap.Hy streel oor Bruno se kop. ”Wat is dit oubaas?”

`n Paar donkerwolke het voor die maan ingeskuif. Die paddas is stil en die insekte het ook bedaar,“Wat’s dit?” Hester is ook wakker en vryf haar oë

“Ek weet nie, Bruno het iets gehoor- ek sien of hoor niks.” Ruben loer deur die gras na die hoenderhokke. Geen beweging nie,. Die hoenders is stil en droom rustig van die hoenderparadys.

Bruno grom weer en tjank saggies. “Sjtt Bruno, ons moet stilbly.” Hy paai die hond en vryf oor sy lyf.

Dan sien hulle dit.`n Rooi skynsel verlig die boomtoppe.`n Sagte gesuis is hoorbaar Hester gryp Ruben vas.

“Wat is dit. Ons moet wegkom!” Hester se stem bewe.

“Saggies, ons moet kyk wat dit is.”

Die rooi gloed verlig nou die area rondom die hoenderhokke. Hulle hou asem op.`n Silwer rugbybalvormige tuig sak geruisloos neer.op die gras. Die gesuis hou op.Die tuig glim dof in die maanlig.Die kinders het ophou asemhaal.Hulle lê plat in die gras en bekyk die affêre.

“ʼn UFO” Fluister Ruben.

`n Ovaalvormige opening aan die kant van die tuig suis oop.Dan trippel hulle uit die tuig uit Drie koddigge wesens. Eiervormig, kort bene en arms. Die koppe en lyf ovaal, amper aanmekaar verbind.Laat mens dink aan die kinderrympie –Hompie Kedompie Die kinders swyg soos die graf. Bruno lê met platgetrekte ore.

Die mannetjies beweeg in die rigting van die hoenderhokke,Een dra `n voorwerp wat soos `n plastiekmandjie lyk.By die hokke beweeg hulle stilweg oor die drade. `n Soort flits met groen en blou strale, word aangeskakel. Meteens kom die die hoenders slaperig uit hulle neste gewaggel. Asof gehipnotiseerd klim vyf hoenders binne in die mandjie. Die deksel word toegemaak en die mannetjies gly weer oor die draad.

Bruno se ore staan regop en hy gee meteens `n grom.Die wesens steek vas.Helder ligte verlig die area waar Ruben en Hester plat in die gras lê.`n Elektroniese stem praat skielik by hulle. “Mensekinders…altyd lastig en nuuskierig. Julle tweetjies het te veel gesien.Julle moet saamkom. Die bruin dier met die vier pote moet bly. Kom.”

Ruben en Hester is sprakeloos.Soos `n magneet yster nader trek, beweeg die kinders onwillekeurig nader aan die tuig.

“Klim in en bly stil.”Ek is Eig, kaptein van die skip. Die twee is Eiger en Eggie.”

Die slapende hoenders word in `n houer geplaas.Oral flikker liggies Eig skuif agter `n konsole in en skakel monitors aan. `n Sagte geloei is hoorbaar.

“Sit op die bankies en gordel vas, dis partykeer `n rowwe rit. Verkeer deur die ruimte is partkeer soos julle N1.”

`n Ligte vibrasie –Die tuig skiet deur die lug.Orals is klein ronde venstertjies.Sterre en planete skiet verby.

“Kyk, daar lê julle aarde.” Sê Eiger wat met sy wit en geel ogies die kinders dophou.

Ruben sluk vir die soveelste keer en kry sy stem terug.”Waarheen vat julle ons en hoekom steel julle ons hoenders?”

Eggie antwoord.”Stadig julle wil te veel weet. Ons is onderweg na ons planeet Eggiedop.”

“En die hoenders?” waag Hester dit.

“Hoendereiers is ons stapelvoedsel. Daarsonder sal ons uitsterf. Baie lank gelede het ons hoenders `n siekte opgedoen en ons hele planeet se hoenders het uitgesterf. Dit was `n ramp, ons het die hemelruim deurkruis na `n planeet waar hoenders lewe- julle aarde was ons enigste hoop.”

Ruben bekyk die snaaksse ronde mannetjie en sê : “En nou steel julle sommer ons hoenders –kan julle dit nie koop nie?”

Eggie se geel en wit oë rol. “Koop, waarmee? Ons gebruik nie geld nie. Buitendien, niemand weet van ons bestaan nie. Bly nou stil en sit stil- ons is amper daar.”

`n Ligte stamp, sagte geruis, dan stilte.”Ons is hier, klim uit.” Kaptein Eig en sy bemanning klim uit gevolg deur die kinders.

Ruben en Hester knip hulle oë. Alles is geel en wit. Eiervormige voertuie sweef orals rond.Blyplekke en geboue is eiervormig.

“Kom, ons moet eers die Opperbevel sien.- hy sal besluit oor julle lot.”

Die gebou waarin hulle nou beweeg is asemrowend.Orals is versierings van hoendervere-rooi, geel en blou.Koning Eierdop sit op sy troon. Koelrond, sy beentjies en arms amper verdwerg deur sy ronde lyf.`n Kroon van hoendervere pryk op sy ronde kop. Hy drink `n vloeistof uit `n helderkleurige eierkelkie.

Sy oë gly oor die twee kinders. “Julle is seker honger “ Die elektroniese stem kraak.”Bring kos vir die kinders” Hy klap sy hande en trollies word binne gestoot.Gekookte en gebakte eiers, Eierslaai en allerhande eiergeregte word aangedra.en voor hulle neergeplaas.

“Waar bly al die hoenders?” vra Ruben, sy mond vol eiergeel.

“In `n spesiale kamp, agter die paleis. Hulle word dag en nag bewaak. Dokters is permanent aan diens as een dalk siek raak.”

Hulle stap uit na `n balkon.” Daar lê die stad. Alles mooi skoon wit en geel. Nie so deurmekaar en vuil soos planeet Aarde nie”

“Nou is dit slaaptyd, hier het ons nie laatnagte soos julle aardmense nie.” Orals kom die eiermense aangehardloop. Orals staan groot stellasies wat soos eierhouers lyk. Almal duik in en kort voor lank dreun dit soos die eiermense slaap.

Ruben en Hester kyk verward rond.”Wat nou, ons moet hier wegkom. Hoe gaan ons ooit weer by die huis kom?” Hester se trane lê vlak.

“Die tuig, maar ons weet nie hoe om dit te vlieg nie. Dalk kan ons daarin wegkruip en met die volgende rit aarde toe, uitspring.”

Versigtig beweeg hulle deur die koninklike paleis. Die koning en sy lede lê nog rustig en slaap. Die tuig staan nog op die platform waar dit geland het.Hulle stap om die tuig. Nêrens is `n deur nie.

“ Dit word elektronies oopgemaak” Die kinders skrik vir `n stem wat naby hulle praat.

Hulle kyk skielik vas in die ronde gesig van `n eiermannetjie.”Hi, my naam is Scramble, ek kan julle terugvat aarde toe, Ek’s die hoofingenieur van die tuie, en moet dit gereeld toets en diens vir die vlugte aarde toe.

Die kinders is stomgeslaan. Asseblief Scramble, ons wil graag weer ons ouers sien.” Ruben steek sy hand uit om die mannetjie te groet.

“Nee, nie groet, daar’s oral kieme, ons groet nie soos die aardmense nie. Goed, spring in laat ons weg wees voor die koning wakker word.

Die deur skuif oop en hulle hop in. `n Sagte geloei vul meteens die tuig. Dit vibreer en skiet opwaarts.

Die eierman draai om in sy sitplek, Gordel vas hier gaan ons.”Julle kan teruggaan op een voorwaarde, en dis dat julle niks hiervan vir enigiemand vertel nie.Iets vreesliks sal gebeur as julle praat.Kaptein Eig gaan later nog `n vrag eiers haal. Hy sal weet as julle gepraat het.”

“Gaan julle nog van ons hoenders steel?” Hester se benoudheid het bedaar.

“Nee, ons werk op `n skedule. Julle hokke sal eers weer oor `n paar maande besoek word.”

Soos `n ster skiet die tuig deur die ruimte, terug aarde toe.Dit seil tussen sterre en asteroiëdes deur.”Erge verkeer vandag.” Scramble vee sweet van sy ronde kop af.

Die dag begin breek in in die ooste toe die tuig stilweg agter die hoenderhokke en bloekombome neerdaal.die deur suis oop en die kinders klouter vinnig uit, dankbaar om weer op moeder aarde te wees.

“Baie dankie, Scramble, ons is jou ewig dankbaar.”

Scramble knipoog met sy groot ronde, geel oë.Die tuig skiet vinnig deur die lug. Vir oulaas flikker daar `n rooi liggie, dan is dit weg.

Bruno lê nog rustig en slaap langs die groot bloekom waaronder hulle wag gehou het.Hulle staar in die lug maar die tuig is weg.

“Kom, ons moet huistoe.”sê Ruben.

‘Wat gaan ons vir pa sê.” Vra Hester,

“Niks, absoluut niks. Jy’t gehoor wat sê Scramble, iets vreeslik sal met ons gebeur as ons praat”.

Ma is aan die koffie maak in die kombuis toe die twee kinders binnestap.

Pa verskyn in die deur.” En toe, kon julle die hoenderdief sien?”

“Nee pa, niks gesien of gehoor nie.” Sê die twee gelyktydig.

“Wat het julle aangevang?” vra ma terwyl sy hulle snaaks aankyk. “Julle klere stink pure hoendermis en julle monde is vol eiergeel.”

Ruben en Hester loer onderlangs na mekaar. Een van die hoenders het oor die draad gevlieg. Ons het hom geduik en…”

“Nou toe, gaan was julle hande dat ons kan eet. Ek maak lekker roereier.”

“O, nee asseblief ma, net nie eiers nie ons is vol daarvan…e…ek bedoel ons is nie eintlik honger nie.”

“Die kinders reageer snaaks, dink jy hulle het iets gesien? Vra ma.

“Pa sluk sy koffie weg.”Hulle het seker die hele nag gelê en slaap en gedroom van hoenders as jy my vra.”

`n Klein bietjie later kom pa briesend by die deur ingestap.”Daar’s wragtie alweer vyf van my hoenders weg.”

“Sjoe pa, ons het niks gesien nie. Jammer pa.”

“Ek het hierdie `n ent van die hokke af opgetel.” In sy hand hou pa `n paar gekleurde hoendervere Rooi en groen en blou.”Wat het julle aangevang?”

“Niks pa, belowe pa.”