HUIS-TOE-GAAN TYD – 2016 © Madeleine Venter
VOLWASSE FANTASIE (1 240 WOORDE)
Alika sit met sy rug teen die boom en wag.
Binnekort behoort die brand te begin. Vir die laaste keer. Met elke brand is daar meer skade aan die dik, swaar stam gedoen en moes hy die boom regop hou. Honderde motors string verby op die pad onder aan die effense heuwel waarteen die boom staan. As die boom op een van die motors daaronder moes val, sou dit noodlottig wees.
Maar vandag is dit die laaste brand. Vandag moet die boom val.
ʼn Beweging op die sypaadjie vang sy oog. Dit is ʼn jong man wat aangestap kom. Sy naam is Jim. Hy dra nie die seël nie. ʼn Lang swart kuif steek onder sy kappie uit en tussen sy bleek vingers word ʼn sigaret vasgeknyp. Hy stop vir ʼn oomblik en kyk op in Alika se rigting. Dit lyk amper asof hy hom dalk kan sien deur die rookwalm wat hy stadig uitblaas. Een van sy neusringe vang die oggendson en weerkaats dit skerp terug. Dan beweeg ʼn donker figuur skielik soos ʼn skaduwee agter die jong man uit. Lysias. Die verwoester.
“Alika!” snork Lysias minagtend, “wat maak jý hier?”
Alika skuif homself meer gemaklik teen die boom se stam en glimlag selfversekerd. Hy weet nou hoe die brand gaan begin.
“Ek sit maar hier en doen my werk,” antwoord hy smalend.
Lysias vertrou nie die vrede nie. Hy kyk vinnig om hom rond of daar nie dalk nog engele iewers skuil nie. Jim begin weer aanstap en Lysias val agter hom in. Kort-kort loer hy op sy hoede in Alika se rigting.
Alika moet homself keer om nie hardop te lag nie. Weereens word die bose se planne omgedraai tot die beswil van die geliefdes wat die seël dra. Maar sy glimlag verdwyn vinnig as hy onthou dat die mense dit nie so gaan verstaan nie. Vir hulle gaan dit ʼn tragedie wees…
Jim het weer gaan staan. Hierdie keer kyk hy skelm om hom rond. Lysias is reg voor hom.
“Wag net totdat daar nie meer motors verbykom nie,” sis hy vir die jong man wat sy kop effens skuins draai, amper asof hy regtig hoor, “wag…wag…reg! Nou!” skree Lysias.
Jim druk sy hand in sy sak, haal ʼn sigaret aansteker uit en steek ʼn paar lang grashalms hier reg by hom aan die brand. Die droë gras vat onmiddellik vlam. Lysias gee die grashalms ʼn geniepsige klap in John se rigting sodat die vlam op sy mou spring en vinnig teen sy arm begin opkruip. Die man skree benoud en probeer die vlam met sy ander hand doodslaan. Lysias lê soos hy lag. Vinniger as ʼn ligstraal is Alika langs Jim. Hy druk die vlam aan sy klere met sy hand dood. Die jong man kyk verbaas na sy verbrande mou en begin dan angsbevange weghardloop.
Lysias kom tot verhaal en skarrel verskrik tot op sy voete as hy Alika so naby hom sien staan. Hy gryp na sy swaard en begin ook hardloop. Dan steek hy vas en kyk verbaas om na Alika wat rustig terugstap na die boom toe terwyl die vlamme nou verwoed om hom dans.
“Wat maak jy?” skree hy verward agter Alika aan, “waarom stop jy nie die brand nie?”
“Dis nie my werk nie,” antwoord Alika rustig en gaan sit weer teen die boom.
“So hoekom het jy my dan nie gekeer nie?” vra hy weer, “jy het dan vir my gesit en wag!”
“Ek het nie vir jou gewag nie,” antwoord Alika.
“Nou vir wie wag jy dan?” vra Lysias en kyk weer benoud rond, “wat is jou werk dan?”
Alika kyk skerp na Lysias: “Dit is nou genoeg!” beveel hy en trek sy swaard uit, “nou moet jy gaan!”
Lysias val behoorlik oor sy voete soos wat hy padgee en Alika hou hom dop totdat hy verwyn.
Die vlamme is nou tot reg teen die boom en lek die laaste bietjie lewe uit die dik stam uit. Dit is nog nie tyd nie. Hy wag vir Grisha om die woord te bring. Hy is hard aan die werk om seker te maak sy ry op die regte tyd vanmiddag by die werk. Dit kan nie ʼn minuut te vroeg of te laat wees nie.
Niemand gaan verstaan hoe alles so noodlottig teen haar kon saamwerk nie. Hulle gaan al die bome afsny om nog so ʼn tragedie te probeer vermy. Haar familie gaan baie hartseer wees. Hy het gevra of hy hulle mag beskerm in hierdie tyd en die antwoord was ja. Hy voel jammer vir mense. As hulle maar kon sien wat hy sien.
“Anna is op pad!” roep Grisha skielik van ver. Alika staan op en kyk in die pad af. Daar is haar motor. Die lig van die seël wat sy dra borrel by die motorruite uit. Die lofsang wat sy oor haar motorradio speel weergalm deur die hemel en word aangevul met instrumente en sang vanaf die musiek-engele. Grisha vlieg bokant haar motor, sy hande ferm om die bakwerk gevou. Die motor voor hare word liggies aangepor van agter af deur Kiril en die motor agter hare word met mening teruggehou deur Gavriil.
Sy het gevra dat, as dit eendag huis-toe-gaan tyd vir haar is, sy nie wil seerkry nie en nie wil weet dat sy doodgaan nie. Die ander alternatief was ʼn jare lange siekbed met baie leiding. So, die opdrag was om haar nou te kom haal. Die oomblik moet presies reg wees. Daar mag geen pyn wees nie. Anna is ʼn geliefde.
Alika gaan staan agter die boom met sy hande om die stam. Gereed.
“Nou!” weergalm die opdrag deur die hemel.
Hy los die boom en dit val.
Gavriil stop die motor agter Anna se motor in sy spore. Grisha gee pad net voordat die reuse stam met ʼn oorverdowende slag deur haar motor se dak skeur.
Sy staan dadelik langs Alika en kyk verwonderd na die toneel voor haar.
Dan glimlag sy vir hom: “Dankie!”
“Haai, hy het nie alleen al die harde werk gedoen nie!” se Grisha wat langs hom kom staan het, “ons was ʼn hele span!”
“O, wel dankie aan die hele span!” lag sy saam met die ander engele wat nou ook by hulle aangesluit het.
“Kom,” se Grisha en beduie na die lig, “dit is tyd om huis toe te gaan.”
In die lig is die silhoeët van die Koning duidelik sigbaar. Sy arms uitgestrek na haar. Die musiek wat in haar motor gespeel het, is nou oral rondom hulle, met duisende engele wat saamsing. Sy lag en hardloop met oop arms na Hom toe. ʼn Gejuig bars los die oomblik toe sy Hom omhels. Dan verdwyn hulle saam met die lig en die gejuig en musiek doof uit.
Alika bly agter. Hy kyk na die noodvoertuie met flitsende ligte wat by haar motorwrak bymekaar gekom het. Hy sal nou vinnig by haar familie moet uitkom voordat hulle die nuus hoor. Hulle gaan beskerming nodig hê. Een van die toeskouers wat daar naby staan se snikke ruk deur hom.
“Ek wens jy kon sien wat ek sien,” fluister hy en sit ʼn troostende hand op haar skouer.
Sy raak rustiger en vee die trane met die agterkant van haar hand af.
“Ek dink sy is in die hemel,” sê sy vir die man wat langs haar staan, “sy is oukei.”
Alika glimlag. Dan styg hy geruisloos op en verdwyn. Vinniger as ʼn ligstraal.