Boeke

Al gewonder waarom ‘n werf soos Afrifiksie soveer klem lê op boeke, eerder as die vele ander vorms waarin wetenskapfiksie of fantasie kan manifesteer. Die rede hiervoor is eintlik redelik eenvoudig.  Die meeste ander vorme van wetenskapfiksie en fantasie, soos rolprente, radiodramas, televisieproduksies, ens. begin aanvanklik by ‘n geskrewe teks waarin die skrywer die storie en agtergrond skep.  Om hierdie rede word ‘n groot deel van hierdie werf dan juis gewy aan boeke – nie omdat dit die enigste vorm van hierdie genres is nie, maar omdat dit dikwels die beginpunt daarvan verteenwoordig.

In Afrikaans begin ons storie van wetenskapfiksie eintlik maar in 1923 toe CJ Langenhoven vir ons die eerste werk gegee het – Loeloeraai. Die ‘n fantastiese verhaal van eerste kontak met ‘n intelligensie van elders. Hoewel hierdie verhaal baie vroeg in die geskiedenis van Afrikaans sy voorskyn gemaak het, is dit meer as ‘n eeu nadat die roman wat vandag gereken word om die eerste van wetenskapfiksie te wees, reeds gepubliseer was – Frankenstein van Mary Shelly in 1818.

Maar wetenskapfiksie in geskrewe vorme is veel ouer selfs as dit.  Werke so vroeg as die tweede eeu n.C. word aangehaal as van die eerste wat met konsepte in hierdie veld fantastiese verhale geweef het…

Afrikaanse WF

Die WF in Afrikaans kan in vier onderafdeling verdeel word.

  1. WF wat deur professionele skrywers geskryf is wat ‘n bewese rekord hou in ‘n verskeidenheid van letterkundige bydraes in verskeie genres.
  2. Amateur WF wat geskryf is deur persone wat gewoonlik ‘n spesifieke liefde het vir WF.
  3. Prominente WF van ‘n internasionale oorsprong wat deur ‘n uitgewer spesifiek in Afrikaans vertaal en versprei is.
  4. Prominente WF van ‘n internasionale oorsprong wat deur ‘n rekenaar na Afrikaans vertaal is en wat van uiters swak gehalte is – of feitlik onleesbaar.

Die lekkerste Afrikaanse WF is natuurlik die eerste vorm.  Dit is eenvoudig ‘n plesier om Afrikaans te geniet uit die pen van ‘n vaardige woordkunstenaar wat ‘n goed nagevorste storie met trefkrag kan aflewer.

Maar die tweede klas, die amateurs, moet nie onderskat word nie.  Hoewel hulle dikwels nie dieselfde vlak van voortreflikheid het waarmee ‘n verhaal oorgedra word nie, maak hulle dikwels op daarvoor deur ‘n werklik verbasende knoop, idee of agtergrond wat nog nie voorheen verken was nie.  Die rede hiervoor is waarskynlik omdat hierdie klas gewoonlik bestaan uit werklike WF entoesiaste, terwyl die professionele skrywers nie werklik al so baie tyd en liefde gegee het aan die amper esoteriese veld van WF nie. Hierdie amateurs is dan ook dié wat dikwels van die mees passende nuutskeppings invoer in ‘n genre wat deur Engels domineer word en waarvoor die versoeking baie aanloklik is om bloot ‘n direkte oorvertaling (of Engels afgeleide) woord in die sin in te druk.

Die derde klas van werk is natuurlik eweneens ‘n plesier om te geniet. Ongelukkig is baie van die name van plekke in sulke werke noodgedwonge nie Suid-Afrikaans of Namibies nie, en is dit gevolglik nie altyd ewe maklik om in die storie in te leef soos ‘n dorpie in die platteland van Suidelike Afrika nie. Dit maak egter baie werke heel toeganklik vir lesers wat Afrikaans verkies al is hulle Engels magtig. Dit is tog jammer dat daar relatief min hiervan beskikbaar is en dat baie van die grootste werke van WF nooit vertaal is deur ‘n knap vertaler nie.

Die laaste klas van werk is amper van bloot akademiese belang. Dit is swak – dikwels uiters swak. Hoewel dit gewoonlik as ‘n seën beskou word om iets in Afrikaans beskikbaar te hê ten spyte van swakker gehalte, is hierdie werke só swak dat dit glad nie samehangend ‘n storielyn kan weergee nie, en dat dit meer inspanning verg as die ontspanning wat ‘n goeie boek sou kon veroorsaak. Wees dus gewaarsku en afgeraai om hierdie boeke aan te koop – gewoonlik beskikbaar gemaak deur internasionale handelaars soos Amazon.