Casper Coetzee
Afrikana: die begin – 2017 © Afrifiksie
_______________________________________________
Hoofstuk 1
Dit was die jaar… ek kan nie meer onthou watter jaar dit was nie. Wie kan dan onthou wat op ‘n ander wêreld gebeur het? Wat ek kan onthou is die Ingelse se aankoms aan die Kaap. Sien, die Kaap was Hollands. Net soos ek en my familie. Mens kan seker nie sê ons was eg Hollands nie, meer Afrika Hollanders. My oupa is hier gebore. So ook my pa en ma. En ek natuurlik. Maar die Kaap was definitief Hollands.
Toe het die Ingelse doodluiters aangekom met hulle skepe en hulle soldate en die Kaap, sonder om te vra, gevat. Oupa was kwaad. Pa was kwaad. Almal was kwaad. Maar Hollanders is nie lief vir oorlog maak nie. Nie dat dit veel sou help om te probeer nie. Die Ingelse was die sterkste nasie op aarde. Wat sou ‘n paar Afrikaanse boere dan aan die saak kon doen? En Holland? Wel, hulle het ons net so gelos om vir onsself te sien.
“Die donners het ons verraai.” Het oupa geskel. “Ons wat ons lewens daar oorkant die waters prysgegee het om hier vir hulle ‘n wegstasie te kom opsit. Ons wat moes kom oor begin. En nou? Nou skrik hulle so groot vir ‘n paar Ingelsmanne.”
Daar was baie mense wat soos my oupa gevoel het. Die Kaap het oor die jare heen vir ons ‘n huis geword. Ons mense het hard gewerk en gebaklei om ‘n lewe daar uit te kerf. En wanneer jy saam swaarkry, dan kan jy saam bid, en eet en leef. Die Afrikaner was maar ‘n klein ou volkie, maar hulle was taai.
“En bliksems hardkoppig.” Soos my ma altyd sou sê.
Ons was nie deel van die eerste trek nie. Ook nie die tweede een nie. Om die waarheid te sê, al die Potgieters en Trichardts en Van Rensburgs was reeds weg toe oupa en pa uiteindelik besluit om ook maar die pad noorde toe aan te pak. Om weg te kom van die Ingelse, sien. Ons was deel van die laaste trek; die Koekemoer trek.
Dit was Christiaan Koekemoer wat oplaas besef het die Ingelsman is in die Kaap om te bly. Hy was ‘n slim man. Hy kon lees en skryf. En almal weet jy gaan nie op ‘n trek sonder iemand wat uit die ou Hooghollandse Bybel kan voorlees nie. Christiaan het stil-stil begin om mense vir die trek bymekaar te maak. En oupa en pa het sommer dadelik besluit om nie weer agter te bly nie.
“Ons gaan saam.” Het hulle dadelik aangekondig. En ek, Susara Maria Magdalena Vermaak sou ook moes saam. Ek was skaars twaalf toe my Oupa die plaas net buite Stellenbosch aan ‘n Ingelsman verkoop het. Hy was nogal trots daarop.
“Nou gebruik ek hulle eie geld om van hulle af weg te kom.” Het hy gelag.
En nou het die tyd uiteindelik aangebreek. Ek dink ek is die enigste een in die familie wat nie uitsien na die trek nie. Hoe kan ek? In die Kaap is my lewe. Hier het ek die klein plaasskooltjie op die Vivierse se plaas bygewoon. Hier bly al my vriende. En hier is Jean-Pierre Viviers. Die mooiste stuk mens wat ek in my lewe gesien het. Oor hom droom ek my nagte om. Oor hom spot my drie jonger broers my elke dag. En dit is oor hom wat ek huil terwyl ons swaar gelaaide ossewa krakerig teen vroegoggend voor sonsopkoms agter die res inval. Ma probeer saggies troos, pa frons ietwat onseker en Dawid, Willem en Jorsie lag. Maar trek, trek ons.
Die Koekemoer trek is nie die grootste van die lot nie. Maar vir my is dit groot. Daar is meer mense as wat ek ooit in my lewe bymekaar gesien het. Sewe-en -dertig gesinne, twee-en-veertig waens, perde, beeste, skape, hoenders en selfs ‘n klompie bruin gesinne wat saamkom om te help met die werk.
“Hoe lank gaan ons trek, Mamma?” Vra ek nadat ek uiteindelik beheer oor my emosies gekry het.
Mamma trek net haar skouers op en sê: “Totdat ons klaar is.”
Vir my, ‘n jong meisie met ‘n skerp gedagte, is dit nie ‘n antwoord nie. Maar ek weet beter as om verder uit te vra. Dit is ‘n reënerige dag. Die wolke hang laag en donker oor die aarde terwyl die sagte water skamerig oor die aarde, en oor my hart neersif. En terwyl die osse die swaar waens teen die bulte begin optrek, maak ek ‘n belofte aan myself; nooit weer sal ek vir iemand lief word nie, want dit maak te seer.
Die Koekemoer trek volg nie dieselfde roete as die vorige trekke nie. Daardie trekke het sommer so reguit noord ingeval. Ons gaan eers Weswaarts trek, al met die kus langs totdat die see ons noordwaarts dwing. Dit is ‘n goeie plan, want om die groot berge met swaar gelaaide ossewaens te wil oorsteek is malligheid.
Dis nie ‘n maklike ding om te trek nie. Veral nie wanneer jy gewoond geraak het aan die luukshede van ‘n huis wat op een plek stilstaan nie. Op die pad is daar nie ‘n bed wat elke aand presies staan waar jy hom vanoggend gelos het nie. Daar is nie ‘n kombuis met ‘n stoof en ‘n tafel en ‘n spens nie. En daar is nie ‘n voorstoep waar jy in die vroegaand kan sit en kyk hoe die son oor die aarde, jou stukkie aarde, sy groet in oranje en geel uitroep nie. Maar ek reken die swaarste deel van trek is die feit dat jy nie weet waarheen jy trek nie. Ek meen, ‘n mens weet in watter rigting jy gaan. Maar jy weet nie wat jy gaan kry wanneer jy kom waarheen jy op pad is nie. Jy weet nie eers waar die einde is nie. Al wat jy weet is dat jy trek tot jy kom waar jy dink jy moet wees, en dan sal jy maar sien.
Bedags ry ek en ma saam met oupa op die wa terwyl pa en die tweeling, Dawid en Willem beurte maak om die osse te lei. Jorsie, wat maar net vyf jaar oud is, kuier so tussen die waens deur met die ander kinders. Dit is maar Jorsie se manier; hy sit nooit stil nie. Oupa sê gereeld die kind moet in die oggende met ‘n pakslae wakker gemaak word, net vir die wis en die onwis.
“Mens kan hom maar net later inlig wat die rede is.”
Pa, ‘n stil sterk man wat sy dae in die lande en aande op die voorstoep deurgebring het, is nie die slanerige soort nie. ‘n Kyk is in elk geval genoeg. Daardie deurdringende blou oë kan die stout sommer uit jou lyf uitkyk. Die tweeling moet noodgedwonge so nou en dan onder die sambok deurloop, net om hulle rooimiere in toom te hou, maar ek en Jorsie was dit genadiglik tot nou toe gespaar. Ek, omdat ek ‘n meisie is, Jorsie, omdat hy pa se oogappel is. In die oë van Grootwillem Vermaak kan klein Jorsie geen kwaad doen nie.
“Hy is nie stout nie, net woelig.”
Moeder is ‘n sagte mens. ‘n Nooi Venter wat grootgeword het as predikantsdogter, volg sy die Bybelse voorskrif van onderdanige vrou trou na. Maar dit is nie ‘n patetiese onderdanigheid wat sy leef nie, sy is ‘n trotse en opgevoede vrou wat haar man en haar gesin soos gom aanmekaar hou. En sy is ‘n goeie ma, een van daardie vrouens wat kan kook, some omwerk en seep maak terwyl sy haar oog op Jorsie se “woeligheid” hou.
Die trek vorder maar stadig. Dis maar hoe dit gaan met ossewaens. Elke oggend maak moeder ons kinders douvoordag wakker met ‘n blikbeker swart boeretroos en ‘n beskuit vir elkeen. Daarna is dit was en aantrek voordat ons weer in die pad val. Ek kan ook nie regtig praat van ‘n pad nie, want die pad was na die eerste paar dae nie meer daar nie. Oom Christiaan ry maar elke dag so ent vooruit om te sien watter stuk bos en bulte die maklikste moeilike roete sal wees om te gaan.
Ek steur my min aan die mense rondom my. Elke dag laat ek die gewone roetine soos ‘n slaapwandelaar rondom my gebeur. Ek is kwaad en ek is ongelukkig. En die swaarste van alles is dat daar niemand is wat eers regtig verstaan nie.
Maar tyd is ‘n wonderlike ding. Veral as jy jonk is. Want stadig maar seker begin die pyn wat soos ‘n kool vuur in my bors gebrand het, plek maak vir ‘n ligter tipe seer. Ek klou aan die pyn, en ek klou aan my alleenwees. Maar so tussen die daaglikse trek gebeure vergeet mens soms jy is veronderstel om te treur. En na twee weke op die trek pad, maak ek my eerste nuwe vriendin.
Dit is skemeraand en in die middel van die laer lek ‘n paar vure met geel tonge aan die vars aandlug terwyl die vrouens besig raak met kosmaak. Die manne staan en praat binnensmonds oor die weer en die trek en ander dinge wat ek nie mooi kan verstaan nie. Ek het myself op ‘n kis langs ons wa en weg van die mense kom sitmaak, besig om ‘n uitgerafelde lappieskombers vas te werk. Totaal verlore in my eie kop. Agter my praat ‘n sagte stem
“Jy’s goed met naaldwerk.”
My gedagtes keer terug van die Viviers se plaas en Jean-Pierre en my ander maats. Die onverwagte stem het my effens laat skrik. Vinnig kyk ek om in die oë van ‘n jong nooi, seker ‘n jaar of wat jonger as ek. Ek herken haar onmiddellik. Wanneer jou pa die leier van ‘n trek is, dan word jý ook geken. Haar naam is Jasmien Koekemoer, Oom Christiaan se enigste dogter. Ek het haar ‘n paar keer vantevore so tussen die waens raakgeloop, maar hierdie is die eerste maal dat sy met my praat. Ek begin half onseker op die kis rondskuif.
“Dankie.” Antwoord ek onderlangs.
Haar glimlag is vol selfvertroue.
“Ek hou nie van naaldwerk nie.” Lig sy my in. “Ek sukkel altyd met die gare.”
Ek weet nie mooi wat om te sê nie. Ek is nie een wat maklik maats maak nie. Boonop is die Vermaaks nie juis een van die gesiene families op die trek nie. Ek het van vroeg af geleer dat ‘n mens ‘n plek in die wêreld het, en myne is nie tussen die hoogere garde nie. Maar duidelik het Jasmien nie geleer van die lyn tussen ons nie. Sy kom maak haarself mooitjies langs my op die kis tuis.
“Kan ek maar by jou sit?” vra sy nadat sy reeds sit.
Ek kyk verbouereerd kyk, doodseker dat iemand gaan nader kom om te raas. Maar niemand in die laer steur hulle aan ons nie. Na ‘n paar oomblikke van onsekerheid bedaar my aanvanklike angs ietwat.
“Jy kan maar sit as jy wil.”
“Dankie.” antwoord sy .
Ongemaklik gaan ek voort met my werk, my kop geboë en my oë vasgenael op die naald in my hand.
“Is jy skaam?” vra sy.
“Hoekom?”
“Want jy’s altyd so eenkant. Jy speel nooit met die ander kinders nie.”
Op twaalf is mens in staat om grootmens gevoelens te voel, maar jy is nie altyd in staat om dit te verduidelik nie. Daar is geen manier vir my om die seer in my hart aan haar te verduidelik nie. En selfs al kon ek, sal ek dit nie doen nie. Want kinders is wrede goed. Die spot en die terg en die ongevoelige uitmergeling van jou siel is dit nie werd nie. Boonop is Jean-Pierre een van háár mense. ‘n Seun van ‘n gesiene familie. Daarom het selfs hý nooit geweet van my liefde vir hom nie. Hoekom sal ek dit dan met ‘n wildvreemde meisie deel?
“Eks nie skaam nie.” antwoord ek.
“O.”
Ek wag vir meer, maar daar is nie meer nie. Sy sit net hier langs my met haar gekruisde voete en daardie ewige glimlag. Na ‘n rukkie begin ek ontspan. Dit is duidelik dat hierdie meisie my nie skade wil aandoen nie. Ek het met die kombers klaargemaak en sit dit langs my neer.
“Is jy nie bang jy kom in die moeilikheid nie?” vra ek.
Sy kyk my met ‘n frons aan.
“Waarvoor dan?”
“Dat jy hier by my sit.”
“En wat’s fout daarmee?”
“Jy’s ‘n Koekemoer.”
“En?”
“Ek’s ‘n Vermaak.”
“So?”
“Julle is mense van stand… ons is nie.”
Skielik gaan die lig in haar groot oë op en sy glimlag.
“Vader sê op hierdie trek is ons almal gelyk. Niemand is beter as iemand anders nie, want ons almal gaan oor begin.”
Ek deel haar glimlag, maar nie vir dieselfde rede nie. Dis maklik vir iemand met aansien en geld om te verklaar dat almal skielik gelyk is. En oom Christiaan is reg; almal gaan oor begin. Maar almal gaan nie oor begin by dieselfde plek nie. Dis makliker om oor te begin met geld en goed en vyf keer meer beeste as die res. Om gelyk te wees is nie ‘n woord nie, dis ‘n situasie.
“Is jy bly?” vra sy.
“Waaroor.?”
“Dat ons gelyk is.”
Meteens besef ek dat sy nie weet wat dit beteken om gelyk te wees nie. In ‘n ongelyke wêreld is hulle wat aan die bopunt staan dikwels salig onbewus van die verskil tussen hulself en die res.
“Seker maar.” antwoord ek net om ‘n einde te bring aan die onderwerp.
Sy knik selfvoldaan. Aan die oorkant van die binnesirkel begin haar ouer broer, Klein-Chris in ons rigting aanstap. Hy is ‘n jongman van vyftien jaar, selfversekerd en vol bravade. Sy blonde hare speel ongetem in die aandwind. Ek hou hom dop, nie omdat ek enige belangstelling in hom het nie, maar omdat ek kan sien waarheen hy op pad is. Hy kom nie tot by ons nie. ‘n Paar tree van ons wa af stop hy, amper asof hy bang is iemand sal hom hier aan die “arm” kant van die laer sien.
“Jasmien! Ma sê jy moet kom eet.” Roep hy bars terwyl hy verby my kyk asof ek nie eers daar is nie.
Jasmien trek haar maer lyfie kiertsregop.
“Groet jy nie?” raas sy ewe kordaat.
Klein-Chris is duidelik vererg.
“Wat?” vra hy.
“Ek sê groet jy nie?”
“Vir wie?”
Sy sit haar arm om my skouer.
“Vir my maatjie.”
Hy kyk steeds nie na my nie, hy gluur haar net aan asof sy een van die tien gebooie oortree het.
“Miskien is daar ‘n elfde een waarvan net die ryk mense weet.” dink ek.
“Ma sê jy moet kom eet. En moenie met my skoor soek nie.”
Daarmee draai hy op sy hakskene om en stap weg.
“Jy’t lelike maniere!” skel sy hom agterna. Maar Klein-Chris is reeds halfpad oor die sirkel.
“Ek moet seker gaan.” sê sy.
“Ek hoor so.” is my antwoord, my hart vol van kwaad vir haar arrogante broer.
“Kan ek môre weer by jou kom kuier?”
‘As jy wil.”
“Ek wil.”
En daarmee verdwyn sy op ‘n drafstap agter haar broer aan na die ander kant van die sirkel toe.
Hoofstuk 2
Na drie maande se noordwaarts trek, al met die weskus langs, stuur ons uiteindelik oos, binneland toe. En twee weke later besluit pa Willem en Oupa Dawid saam-saam dat Christiaan Koekemoer ‘n idioot is.
“Die beeste kry al klaar swaar om so in die loop te vreet, nou vat die man ons hier in.”
Die “hier” waarvan oupa praat is die droë aarde wat al hoe minder weiding en water oplewer.
“Ag pa,” paai moeder, “Ons moet maar net vertrou. Christiaan is ‘n gesiene man. Hy sal wel ‘n plan maak om ons hier deur te kry.
“Gesiene?!” snork oupa sy misnoeë. “Wat het gesiene met slim uit te waai? Hy is maar net gesiene omdat hy ryk geërf het. Dit beteken nie hy weet wat hy doen nie. Kyk maar net hoe hy laas week die eerste was om weg te hardloop toe die olifant gestorm het. En hoe is dit dat sy beeste altyd in die middel van die takkraal moet wees? Sodat die leeus eerste by ons vee moet uitkom, sê ek jou. Nee wat, ek sien hom nie.”
Moeder antwoord rustig.
“Pa moet onthou dat Moses ook die Israeliete deur die woestyn moes vat om by die beloofde land uit te kom.”
Oupa is duidelik nie oortuig nie.
“Die Afrikaner is g’n Israeliet nie, en Christiaan Koekemoer is definitief nie ‘n Moses nie. En moenie vergeet nie; die Israeliete het uit Egipte gekom: ‘n woestynland. Ons kom uit die Kaap…”
“Dan moet ons maar op die Here vertrou.” probeer moeder weer.
Nadat ouma oorlede is, het oupa ‘n streek in hom gekry. Hy was altyd ‘n hardkoppige man, maar toe ouma weg is, het hy soos ‘n donkie voor ‘n kar geword; steeks!
“Kyk Fransie,” antwoord hy, “ek weet jou pa was ‘n dominee. Maar kom ek nou vir jou iets sê: Die Here is ‘n besige man. Dink jy regtig hy het tyd om ons beeste op te pas? En in elk geval; wie sê hy wil hê dat ons hier moet wees? Wie sê hy wou nie gehad het ons moes lankal oos gedraai het nie? Het hy vir Christiaan uit die brandende bos gesê om ons in hierdie godverlate plek in te bring?”
“Haai sies pa!” raas moeder. “Nou laster jy.”
Pa Willem sit so stil-stil na hulle gesprek en luister. En toe oupa uiteindelik sy tirade laat uitwoed het, is dit pa wat die laaste woord praat.
“Ons sal sien hoe lyk dinge oor ‘n paar dae. As dit so aangaan sal ons dalk maar ons eie pad moet vat.”
Een ding weet ek van my pa; hy praat min, maar as hy praat, dan is dit so. En my hart word koud soos ys. Want as ons Vermaaks op ons eie moet wegtrek sal ek weereens almal verloor wat vir my saakmaak. Vir die eerste keer vandat ons uit die Kaap weg is, het ek wat so moeilik maats maak weer vriende. Ek, Jasmien, Stella van der Watt en klein Willemientjie van tant Meraai Visser, ons het nader aan mekaar geraak as die musketiers. En nou wil die grootmense, sonder om eers my gevoelens in ag te neem, ons weer uitmekaar pluk.
Daardie aand, nadat almal reeds vas aan die slaap is en die ou ooms se gesnork deur die laer tril, lê ek met bekkomerde oë in die maanlig na die binnekant van die wa en staar. Ek is vasbeslote om iets aan die saak te doen, maar ek voel magteloos in my alleenheid. Saggies, versigtig om niemand wakker te maak nie, kruip ek uit die wa en draf kaalvoet oor die binnesirkel tot by die Koekemoers se wa. Ek klouter teen die kant op en loer na binne. Die geluk is aan my kant, want Jasmien lê hier reg voor my op haar maag en slaap. met ‘n ligte hand raak ek aan haar arm, en sy is dadelik wawyd wakker. Met my vinger voor my lippe beduie ek vir haar om stil te bly.
Tien minute later sit ek, Jasmien en die ander twee meisies ‘n entjie van die Van der Watts se wa af in die donker. Ek vertel alles wat ek vroeër die aand gehoor het.
“My pa praat ook van wegbreek.” fluister Willemien saggies. “Hy sê ons is in elk geval nou ver genoeg van die Ingelse af. Hulle sal nie tot hier kom nie want daar is niks hier wat hulle gaan baat nie. Hy sê hy’s lus om sommer terug te trek tot by die rivier wat ons eergister oorgesteek het en daar huis op te slaan.”
Jasmien is duidelik ontsteld.
“Maar julle kan nie so alleen bly nie. Dis gevaarlik. Vader sê ons is sterker as ons saamstaan. En julle het self gesien die inboorlinge soek ons nie hier nie. En wat van die olifante en die leeus en goed…’
Stella is oudergewoonte die stilste tussen ons. Dit is Jasmien wat haar uiteindelik deel maak van die gesprek.
“Wat sê jou mense Stella?” vra sy.
Stella, ‘n meisie van my ouderdom met ‘n blas vel en donker oë wat jou herinner aan die stilte van middernag, skud net haar kop. Sy praat nooit oor haar familie nie, veral nie oor haar pa nie. Dit is vir ons almal baie duidelik dat sy ‘n groot vrees vir hom koester.
“Ek weet nie,” antwoord sy sag, “hulle het my niks gesê nie.”
Ons sit nog ‘n rukkie daar en top oor ons probleem voordat Stella gestaan.
“Ek sal moet gaan lê, “ sê sy, “as Vader agterkom ek’s nie daar nie is ek in groot moeilikheid.”
Ek knik instemmend.
“Ons sal seker maar almal moet gaan.”
Stella staan eerste op, met ‘n kreun. Soos ‘n ou mens. Die res van ons volg haar voorbeeld. Maar voordat ons kan wegstap, keer Jasmien ons.
“Vanaand,” fluister sy sag, “gaan ek bid dat die Here ons uitkoms gee.”
Dit is twee dae later. Die dag van my dertiende verjaarsdag. Teen hierdie tyd is dit vir my duidelik dat Jasmien se gebed, al ons gebede, nie veel verskil maak nie. Want hoe verder ons trek, hoe droër word dit. En elke aand raak oupa se stuursgeit net erger. ‘n Mens se verjaarsdag is veronderstel om ‘n opwindende, gelukkige dag te wees, ‘n dag van blydskap. Maar ek staan met ‘n swaar gemoed op. Daar is geen vreugde in die gedagte dat ek weereens al my maats kan verloor nie. En al probeer hulle om my gemoed deur die dag op te beur, hang die werklikheid van die situasie soos ‘n swaar donderwolk oor my kop.
Daardie middag slag vader ‘n skaap. En moeder gebruik ‘n groot porsie van ons kosbare koekmeel om roosterkoek te maak. Selfs die tweeling is byna draaglik. Miskien besef hulle wat in my gedagtes omgaan. Miskien is dit maar net ‘n manier vir almal om, net vir ‘n tydjie, van die swarigheid van die trek te vergeet.
Wanneer die kos amper gaar is, roep moeder my nader.
“Hoekom gaan haal jy nie jou maatjies om saam te kom eet nie?” sê sy. “Ek het vanmiddag reeds met hul ouers gereël.”
Die teenwoordigheid van my maats maak die aand vir my meer gesellig. Vader maak die skaapvleis sommer so op die kole gaar. En terwyl die skemer soos ‘n kombers om ons begin toevou, haal oupa die konsertina uit. Dit is ‘n rare bederf. Na ouma se dood het hy nie meer veel belang in joligheid nie. Jorsie en die tweeling dans met hul kaal voete in die stof, en daar kom selfs mense van die buurwaens by ons aansluit om saam te luister. Teen die tyd dat almal begin bed se kant toe staan, is die gedagtes aan die moontlike wegbreek net ‘n vae, dowwe besef in my agterkop.
Terwyl die stilte oor die laer begin toesak en die laatnag uiteindelik sy heerskappy oor die aarde opeis, stap ek saam met Jasmien terug tot by hulle wa. Haar ouers het reeds gaan lê, maar Klein-Chris sit langs een van die groot hout wiele, besig om aan ‘n stuk biltong te kerf. Hy slaan oudergewoonte geen ag op ons nie. Jasmien kyk hom so in die verbygaan vies aan.
“Moet jou nie aan hom steur nie.” sê sy met die ooglopende bedoeling dat hy haar moet hoor. “Hy dink mos die son sak as hy gaan sit.”
Klein-Chris staak sy gekerf sit en regop, sy oë vurig op haar gerig.
“Jy moet aanhou krap, Meisiekind.” sis hy. “Dis hoe mens gedonner raak.”
Jasmien kyk hom uitdagend aan met haar hande in vuiste op haar skraal heupe.
“Toe, wys my bietjie.” tart sy. “En wag maar net tot ek vir pa vertel hoe vloek jy.”
“Sê hom.” Antwoord Klein-Chris. “Eks nie bang nie.”
Ek het lankal reeds besluit dat ek nie van die vent hou nie. Hy is nors en ongeskik. En die feit dat hy deur my kyk asof ek nie eers bestaan nie, laat ‘n selfsugtige kwaad in my opstaan. Maar ek het nie die moed om met hom te stry nie. Hy is kapabel en ‘donner’ my ook. Ek doen my bes om hom te ignoreer en gee vir Jasmien ‘n drukkie voordat ek alleen terugstap wa toe. Maar voordat ek kan inklim, praat Willemien se stem sag agter my.
“Saartjie.”
Ek draai om en stap nader.
“Ek dog jy’s al terug by julle wa.” Sê ek.
Sy vat my aan die arm en begin wegstap van ons wa af.
“Ek was, maar ek moes eers gou vir jou iets kom vertel.”
Ek kyk na haar met ‘n frons op my gesig.
“Wat’s fout?”
Sy gaan staan en sit sommer net daar in die middel van die binnesirkel op die gras.
“Ek het my pa en ma hoor praat. Pa sê hy en jou pa het vandag gepraat. ”
My frons verdiep. Moeder sê altyd mens moet baie frons nie, anders kry jy vroeg plooie, maar soms frons jy sonder om daaroor te dink.
“Waaroor?”
Sy sug soos een wat ‘n swaar boodskap moet oordra.
“Hulle gaan môre vir oom Christiaan sê hulle trek nie verder nie.”
Skielik is die gedagte wat na my agterkop geskuif het weer terug aan die voorpunt. En hierdie keer het hy ‘n paar yskoue vingers saamgebring om rondom my hart te kom klem.
“Is jy seker?” vra ek. Maar ek ken reeds die hartverskeurende antwoord.
“Ja. My pa sê ons beeste gaan nie meer lank hou in hierdie droë wêreld nie. Hy sê die bulle het nie eers meer krag om te dek nie.”
Ek laat my kop sak. Dit is swaar wanneer jy ‘n jong nooi is. Jou hart is jou eie, jou gedagtes is joune, en jy weet wat jy droom, wat jy wil hê. Maar jou lewe is steeds in die hande van ander. Die hande van grootmense. En grootmense doen net wat hulle wil. Hulle dink nie eers daaraan om jou te vra nie. Want in hulle oë is jy maar net ‘n kind. En wat weet ‘n kind dan nou van reg en verkeerd? Hoe sal ‘n kind dan weet wat die beste vir haar is?
Willemien sit haar hand gerusstellend op my knieg.
“Ten minste sal ons twee darem nog naby aan mekaar wees. My pa sê daar is vier gesinne wat hier rond gaan huis opslaan.”
Dit is ‘n troos. Ten minste sal ek nog een van my maats naby my hê. Maar wat ek nie vir haar kan sê nie is dat ek aan Jasmien dink. Uit die drie van hulle is dit sý met haar groot hart en groter glimlag wat my eerste genader het. En van die begin af is daar ‘n spesiale band tussen ons. Ons is susters, nie in vlees nie, maar in ons harte. Willemien en Stella is my vriendinne… maats. Maar Jasmien… sy is my hart se punt.
Ek knik maar net instemmend. Ons sit nog ‘n paar minute so saam en fluister voordat ek terugkeer wa toe. Met ‘n swaar gemoed trek ek my nagjurk aan en gaan lê. Maar die slaap kom moeilik. Ek wil bid, my probleem vir die Here gee. Maar hy het nie na Jasmien se gebed geluister nie. En Jasmien is die onskuldigste mens wat ek ken. Uiteindelik, na ure se rondrol en dink, begin ek wegraak in die veilige onbewustheid van die nag.
Hoofstuk 3
Dit moet iewers tussen middernag en dagbreek wees , want ek kan ‘n haan hoor kraai. Almal in die wa is vas aan die slaap. My slaap-bedremmelde kop is wasig. Vir ‘n paar oomblikke lê ek net so op my rug soos ‘n mens maar maak om jou helderheid te herwin. Daar is ‘n snaakse geluid in die lug. Dit klink of ‘n paar swerms kwaai bye oor die laer hang. En van buite af stroom daar ‘n vreemde helderheid by die tent in. Ek weet dit is nie volmaan nie. Vader het my geleer hoe om die maan fases uit te ken. Maar die lig moet van êrens af kom. Ek frons weer so sonder om te dink. Kan dit wees dat die dag besig is om te breek. Sekerlik nie. My pa staan elke oggend lank voor sonop reeds op. En Jorsie is ook nie een wat vir daglig wag om sy manewales te begin nie. Ek rol liggies op my maag om en trek my nek lank om by die tent uit te kyk. En wat ek sien, laat my opslag twyfel of ek wakker is. Die hele laer is helder verlig, maar buite die ligkring is dit stikdonker. Dit is nie ‘n lig waaraan ek gewoond is nie. Dit is nie ‘n kers of lamp nie. Dit is helder soos die son.
Ek trek myself versigtig op my elmboë opgetrek om beter te kan sien, seker dat ek besig is om te droom. Daar is geen beweging in die laer nie. Net die hoenderhane wat mekaar se kraaie antwoord en die gebulk van ‘n bees in die takkraal êrens buite die sirkel om ‘n teken van lewe te bring. Verdwaas en net so ietwat bang oorweeg ek dit om Vader wakker te maak, maar hoe maak jy iemand wakker as jy droom? Sonder ‘n geluid klim ek oor die kant van die wa en klouter versigtig af grond toe. Ek wil sien waar die lig vandaan kom, maar dit is ‘n fout. Die bron, wat dit ook al is, is so helder dat dit my opslag verblind. Met my oë styf toegeknyp probeer ek om die skielike pyn agter my ooglede met die agterkant van my hande weg te vryf. Hier buite is die gedreun nog harder. Dit klink nie meer net soos ‘n paar swerms bye nie, dit klink eerder asof die hele aardse bevolking van bye hier reg bokant my is. ‘n Dowwe pyn begin agter in my nek klop.
Nadat ek uiteindelik weer beheer oor my oë gekry het, maak ek hulle versigtig oop, hierdie keer kyk ek nie op nie. Deur die skrefies van my ooglede kyk ek na die Koekemoers se wa aan die ander kant van die laer. En daar staan iemand, skuins voor die agterwiel. Dit neem my rukkie om te besef dit is Klein-Chris. Hy het my ook gewaar. Vir die eerste keer vandat ons uit die Kaap weg is kyk hy na my, sien hy my. En ek is seker dat hy op daardie oomblik die selfde vraag in my oë kan sien as die een wat ek in syne kan lees.
“Wat gaan aan?”
Onsekerheid, twyfel en vrees, veral vrees, kan die grootste vyande bymekaar bring. Hier in die helder ligkring binne die laer is dit net ek en Klein-Chris. En ons gedeelde verwarring laat ons na mekaar toe uitreik. In die middel van die laer, daar waar ons van die begin af geleer het die veiligste plek tussen die sirkel van waens is, ontmoet ons mekaar. Hy sê iets, ek kan dit sien, maar ek kan dit nie hoor nie.
“Wat?” vra ek. Maar ek kan ook nie myself hoor nie. Het ek dan doof geword?
Die pyn in my nek begin geleidelik teen my agterkop opklim. Klein-Chris druk sy hande oor sy ore soos iemand wat ‘n groot geraas probeer uitsluit. En so staan ons mekaar en aanstaar, totaal oorbluf. Sonder waarskuwing dop sy oë in hulle kaste om dat net die wit sigbaar is. En meteens sak hy op die grond neer. Vir ‘n paar sekondes staan ek net daar met sy slap liggaam by my voete. Maar ek weet moet iets doen! Ek sak verwese op my knieë langs hom neer en raak versigtig aan hom. Hierdie is nie ‘n lekker droom nie.
“Word wakker!” roep ek. Maar steeds kan ek my eie stem nie hoor nie.
Hierdie keer stamp ek aan hom.
“Word wakker!”
Ek wil nie alleen wees nie. Nie nou nie. Maar hy roer nie. Die pyn beweeg stadig verder totdat dit reg tussen my oë kom lê. En amper genadiglik sak die donkerte my toe.
Wanneer jy wakker word uit ‘n droom moet jy jouself goed vasmaak aan die werklikheid, net sodat jy nie jou droom saam met jou terugbring nie. My ooglede is swaar en my mond is droog, asof iemand al my spoeg met ‘n watte opgedroog het. Daar is ‘n lamheid in my wat wil hê dat ek nog ‘n bietjie moet slaap, of ten minste net lê. Iewers praat ‘n stem.
“Miskien is dit die wederkoms.”
Dit is Stella se pa.
“Dis die wederkoms, nie die wedergáán nie.”
Dit is oupa se siniese stem.
“Dan moet dit die wegraping wees.”
Christiaan Koekemoer se stem.
“So jy wil vir my vertel dat die hele trek weggeraap is? Jy wil vir my sê dat daar nie een onder ons is wat nie vir die hemel kwalifiseer nie”
Weer oupa.
Ek forseer my oë met moeite oop. In die agtergrond gaan die gesprek voort, maar ek het vroeg in my lewe geleer om my nie met grootmens dinge op te hou nie. Veral nie as hulle oor die Bybel praat nie. Dit maak mens net deurmekaar. Want grootmense praat baie, maar hulle luister nie. Elkeen wil reg wees, en ek kon nog nooit uitwerk wie verkeerd is nie. Soms sê hulle dieselfde dinge op verskillende maniere en stry dan daaroor.
Rondom my is dit lig, helder lig. Ek dwing my beswaarde lyf om regop te sit. Is my droom dan nog nie verby nie?
Ons is in ‘n vertrek, die eienaardigste plek wat ek nog ooit gesien het. Dit is ‘n groot ronde yster vertrek met lampe wat teen die dak brand. Maar hierdie is nie gewone lampe nie. Daar is geen vlam nie, geen reuk van lampolie nie, en dit is hierdie lampe wat so helder skyn. In die ystermure is daar ronde vensters met glas so helder dat jy slegs kan weet dit is glas omdat die lig daarteen weerkaats. En oral op die vloer sit die mense van die laer in groepies rond. Almal! Party staar net niks sienend voor hulle uit. Ander sit senuagtig en praat. Hier en daar huil iemand.
Wat ‘n eienaardige droom!
Skielik rus ‘n hand sag op my skouer, en ek skrik ietwat. In ‘n droom moet dinge nie so werklik voel nie. Ek sou my omgeruk het, maar die pyn tussen my oë is nog daar, ligter, maar steeds genoeg om my te noop om versigtig om te draai, soos ‘n dronk mens wat sy kop met sy lyf probeer draai. Maar dit is die moeite werd. Want hier voor my is Jasmien met haar sagte oë en glimlag.
“Jy het lank geslaap.” Sê sy.
“Wat gaan aan?” vra ek met ‘n verdwaasde stem.
Sy trek haar skouers onseker op.
“Ek weet nie. Niemand weet nie. Al wat ek weet is dat ons nie meer is waar ons was nie.”
Haar woorde maak geen sin nie.
“Hoe bedoel jy ons is nie meer waar ons was nie? Waar is ons dan?”
Weer die opgetrekte skouers.
“Al wat ek weet is dat ons nie meer op die aarde is nie.”
Dit vat tyd om sekere dinge in jou kop te verteer. Veral wanneer jy pas wakker geword het. En veral wanneer die ding wat jy moet verteer totaal buite jou begrip van moontlike dinge val. My brein kou aan haar woorde, stadig soos ‘n bees op kraal. Maar daar is geen manier om sin te maak van wat Jasmien gesê het nie.
“Ek verstaan nie.”
Sy probeer nie verduidelik nie. Sy staan sonder woorde op en trek my aan die hand orent.
“Kom kyk.”
Steeds verdwaas laat ek haar toe om my op te trek en begin agter haar aanloop.
“Saartjie, waar gaan jy heen?”
Dit is moeder se stem. Meteens voel ek sleg. Hier is ons in hierdie vreemde plek en ek het nog geen gedagte gehad aan die welstand van my mense nie. Ek kyk skuldig om. Op die vloer, ‘n entjie van waar ek gelê het, sit my ma met die tweeling aan haar sy. Jorsie het homself doodluiters en ongeërg op haar gekruisde bene tuisgemaak.
“Jasmien gaan my net iets wys, Ma.”
Ek is verlig om te sien dat almal veilig is. Maar moeder lyk duidelik bekommerd.
“Bly net waar ek jou kan sien, hoor.” Kloek sy soos ‘n moeder hen.
“Ja ma.”
Jasmien lei my tot by een van die ronde vensters.
“Kyk.” Sê sy terwyl Willemien en Stella hulle by ons aansluit.
Daar is geen manier om te beskryf hoe dit voel om iets te sien wat jou verstand weet nie moontlik is om te sien nie. Dit is soos om jou hele lewe lank te weet blou is blou en dan vind jy uit dit is nie. Dit gooi jou hele wese omver. Dit is asof iemand jou brein kniehalter en dan wegstap en jou net so los. Buite die venster is dit donker. In die verte kan ek sterre sien skyn. En elke nou en dan skiet iets by ons verby. Groot, ronde goed, soos massiewe gekleurde klippe. Maar dit is duidelik dat dit nie hulle is wat beweeg nie. Dit is ons! Vinnig! Te vinnig! En die ergste van alles is dat daar geen grond is nie. Ons is in die lug! Ek kan niks meer doen as om woordeloos te staar nie, naar tot in my tone.
“Is dit nie pragtig nie?”
Jasmien is nie soos ander mense nie. Sy is gemaklik met die lewe en met haarself. Sy is bereid om dinge te aanvaar soos dit is, sonder om te verstaan waarom dit so is. Mens kan seker sê dit is naïef, maar op hierdie oomblik wens ek, ek kon soos sy wees. Want my verstand is besig om die stryd teen sy eie kennis te verloor. Wanneer alles wat jy weet en alles wat jy glo verkeerd bewys word, dan is jy soos ‘n skip op die diepsee… sonder ‘n anker. En my see is nie kalm nie. Iemand moet weet wat aangaan.
“Wat sê jou pa?” vra ek. Christiaan Koekemoer is immers die mees geleerde man onder ons.
“Hy sê net ‘Miskien’.”
“Miskien?”
“Ja. Miskien die, miskien dit, miskien daai. Ek dink nie die grootmense weet wat aangaan nie. Hulle stry die heeltyd oor die here en die Bybel en goed.”
Daar is steeds ‘n glimlag op haar gesig.
“Pla dit jou nie?” vra ek.
“Pla wat my nie?”
“Dat niemand weet wat aangaan nie.”
Sy trek net weer haar skouers op.
“As niemand weet wat aangaan nie, dan help dit nie om te wonder nie. Ons sal maar sien wat aangaan wanneer ons kom waarheen ons op pad is.”
Sy is ‘n rare mens.
Hoofstuk 4
Die mens het behoeftes, liggaamlike behoeftes. En wanneer daardie liggaamlike behoeftes nie bevredig word nie, dan fokus die mens op niks anders nie. Wat baat dit immers om jouself te bekommer oor idees, of liefde of die toekoms as jy nie jou liggaam aan die gang kan hou nie. In die groot yster vertrek waarin ons vasgekeer is, het die fokus uiteindelik van die oorsaak, rede en doel van ons situasie verander na meer dringende probleme. Daar is geen kos of water hier nie. En dit is nou die nuwe onderwerp van elke gesprek. Want die kinders is honger en dors, en die grootmense is nie ver agter nie. Aan een kant van die vertrek, waar die bruinmense hulle stil-stil tuisgemaak het, begin ‘n baba huil. Aan die ander kant kerm ‘n wit kind. Selfs op moeder se skoot begin klein Jorsie kriewel. Ek en my maats gaan sit tussen ‘n ander groepie kinders en luister na die grootmense se gesprek.
“Of dit nou die here is wat ons in hierdie ystergevaarte kom wegvat het of mense, hulle moet tog seker besef dat ons moet eet?” Kla oom Serfaas van der Merwe.
“Miskien gee hulle nie om nie.” antwoord oupa.
“Ons kan maar net hoop.” probeer oom Christiaan.
Skuins agter ons sit Klein-Chris saam met sy twee maats, Gideon en Flippie.
“Hulle hou hulle slim,” sê hy vir hulle, “maar hulle weet nie eers watse tipe ‘gevaarte’ hierdie is nie.”
Sy stem herinner my aan daardie eienaardige ontmoeting in die middel van die laer. Voordat ek myself kan keer kyk ek om, en tot my verbasing kyk hy vir my ook, nie daardie verby-my-kyk waaraan ek gewoond is nie. Hy sien my.
“Ek dink dis ‘n soort skip wat kan vlieg.” Sê Willemien hard genoeg dat die groter seuns haar ook kan hoor.
Klein-Chris se maats begin spottend lag.
“G’n skip kan vlieg nie. Veral nie as hy van yster gemaak is nie.” Terg een. Maar Klein-Chris lag nie saam nie. In plaas daarvan verbaas hy my ‘n tweede maal in ‘n baie kort tydjie.
“Niks wat op aarde gemaak is kan vlieg nie.” praat hy. “So as iemand wil glo hierdie is ‘n skip wat kan vlieg, dan sê ek glo dit maar. Dis in elk geval ‘n beter verduideliking as wat enige iemand anders mee kon opkom.”
Sy vriende is skielik stil. Dit is duidelik wie die leier onder hulle is.
Tussen die grootmense gaan die gesprek doelloos voort. Selfs vir ons kinders is dit duidelik dat hulle nie nader aan ‘n oplossing gekom het nie. Dit is kommerwekkend vir ‘n kind wanneer die mense wat veronderstel is om jou te beskerm nie ‘n idee het hoe om dit te doen nie. Met ‘n sug begin ek opstaan.
“Waar gaan jy?” Vra Jasmien agter my.
“Ek gaan kyk of ek my ma bietjie kan help met Jorsie.” antwoord ek. “Hy lyk bietjie moeilik.”
“Moet ek kom help?” bied sy aan.
“Nee wat. Ek weet hoe om hom te hanteer.”
Soms wil mens net alleen saam met jou mense wees. Vir my is hierdie een van daardie tye. Niemand weet waarheen ons op pad is of hoe dit gaan eindig nie. As daar dan die moontlikheid is dat ons nie daar sal uitkom nie, dan wil ek my laaste tydjie saam met hulle spandeer.
Ek stap oor tot by moeder. Jorsie kriewel steeds onophoudelik op haar skoot. Ek het in die verlede gereeld na hom omgesien, gereeld genoeg om dadelik te besef wat fout is. Sien, Jorsie is een van daardie kinders wat sy piepie sal inhou tot op die laaste. Dikwels té laat.
“Wil jy piepie Jorsie?” vra ek.
Die besef gaan dadelik in moeder se oë op. Dit moet haar kommer oor die situasie wees wat haar verby die tekens laat kyk het. Jorsie steek sy arms angstig na my toe uit en ek tel hom op. Daar is ‘n dankbare blik in moeder se oë. Met Jorsie op die heup draai ek om, gaan staan en draai terug. Moeder besef dadelik my nuwe dilemma. Jorsie is die eerste een in die ‘vlieg-skip’ wat nodig het om te piepie. En daar is geen plek om te gaan nie. Teen my heup begin sy beentjie onophoudelik wikkel en ek het weet dat sy hou nie meer lank sal hou nie. Ek moet ‘n besluit maak. En ek doen. So vinnig as ek kan stap ek met hom na die punt wat die verste van almal af is. Dit was nie ideaal nie, maar die nood het gedruk, letterlik, en ten minste gee die afstand tussen ons en die res van die trek hom so bietjie privaatheid. Innerlik ys ek om te dink wat sal gebeur wanneer ek in sy situasie beland. Lomp sit ek hom op die vloer neer met sy ruggie na die mense toe en sy broekie afgetrek.
“Piepie sommer gou hier teen die muur.” Sê ek.
Ek vermoed onder normale omstandighede sou hy dalk nog wou stry. Maar hierdie is nie normale omstandighede nie. Ek het skaars klaar gepraat en die straaltjie tref die muur. En dit is duidelik dat hy ‘n lang tyd ingehou het, want daar is baie. En dit is lank. Skaam-skaam staan ek en wag dat hy moet klaarmaak, en ek is uiters bewus van elke oog op ons. Maar wat anders kan ons doen? Uiteindelik maak hy klaar en ek trek sy broekie vinnig weer op en vat hom met rooi wange aan die hand.
“Daar’s hy,” glimlag ek, “voel jy nou beter?”
Hy wil knik, maar hy het nie kans nie. Agter ons, uit die muur waarteen hy pas sy nood verlig het, slaan ‘n vonk soos ‘n klein weerligstraal. Instinktief gryp ek my klein boetie en begin hardloop. Ek het geen idee waar die vonk vandaan gekom het of hoe dit ontstaan het nie. Al wat ek in my paniekbevange kop kan dink was dat ons die eienaars van die gevaarte, hulle wat ons weggevoer het, moes ontstel het. Agter ons slaan nog ‘n vonk, en oomblikke later ‘n derde. Ek maak dit angsbevange maar veilig tot by moeder, ‘n verskrikte meisie met ‘n verskrikte kleuter aan die hand. Almal se oë is vasgenael op die plek waar die vonke geslaan het. Maar niks gebeur verder nie, en daarom verskuif hul fokus na my. Dit is ‘n aardige gevoel wanneer een honderd vyf-en-vyftig pare oë op jou gerig is. Dit is nog meer ongemaklik as jy seker is jy het iets verkeerd gedoen, maar jy weet nie mooi wat dit is nie.
Ek voel hoe die bloedrooi en warm blos teen my wange opstoot en gaan sit skamerig langs moeder op die vloer. Net betyds. Want die volgende oomblik begin die gevaarte wat ons in die nag van die aarde af gesteel het ruk en skud soos ‘n donkie wat nie gery wil wees nie. Moeder gryp die tweeling vas. Ek trek Jorsie se mollige lyfie teen my vas. En die res van die Koekemoer trek klou, skree en hier en daar, onder die ouer garde, kom ‘n skel. Iewers in my agterkop besef ek dat ek waarskynlik die oorsaak van hierdie marteling is, maar gelukkig is almal te besig om verskrik te wees om my daaraan te herinner.
Skielik hel die vlieg-skip oor na links. En saam met die skip ons wat onsself in sy maag bevind. Mense val oor mekaar, skuur en skuif. Moeder kry die tweeling eers onder en toe bo-op haar, en Jorsie beland wydsbeen bo-oor my soos ‘n ruiter op ‘n perd. Die yster-skip snel voort. Teen hierdie tyd het ek in my oorlaaide brein uitgewerk dat die vonke uit die muur nie ‘n straf is nie, maar ‘n teken dat daar iets fout gegaan het met hierdie magtige vlieënde tuig. Daar is vuurtonge buite die vensters en toe ‘n oorverdowende donderslag. Daarna is dit stil. Nie die tipe stilte wat vrede en rustigheid in jou gemoed bring nie. Dit is ‘n ongemaklike stil. Die tipe stil wat jou laat asem ophou vir die storm wat gaan volg. En dan kom die slag. ‘n Slag wat die Koekemoer trek eers die lug in, en toe vloer toe smyt. My herontmoeting met die vloer is nie te seer nie. Ek het wel my kop gestamp en my boude gekneus, maar ek sal waarskynlik redelik vinnig herstel. Dit is Jorsie se terugkeer na vaste… vloer, wat my maer lyfie soos ‘n kanonkoeël tref en die meeste skade aanrig. Maar sy hartseer, bang gehuil maak die pyn en die tekort aan suurstof in my longe minder belangrik. Dit is merkwaardig hoe die nood van jou geliefdes jou eie swaarkry in perspektief kan bring. Ek hou hom styf teen my vas en probeer sy hare vryf. Daar sal geen sin daarin wees om hom te probeer paai nie, want my vermoë om te praat is tydelik opgeskort.
Rondom ons is daar kreune en steune en weereens ‘n paar woorde wat ek nie graag herhaal nie, omdat ek ‘n ordentlike meisie is. Die een voordeel is dat die skip oplaas nie beweeg nie. Vader kom stywebeen aan om vir ma en die tweeling op te help. Moeder se trane bring ‘n sagte lig in sy oë. Hy druk haar styf teen hom vas. Jorsie wat tot nou toe nog bo-op my gelê het, besef uiteindelik dat die situasie nie meer buite sy beheer is nie en hy klim van my af. Vir ‘n oomblik lê ek net so, net om my eie gedagtes weer in gelid te bring. En wanneer ek besluit dat dit waarskynlik tyd is om regop te kom, vou ‘n sterk hand myne toe en lig my sonder moeite van my rug af. Op my voete, en in een stuk kyk ek op in die blou oë van my helper, Klein-Chris Koekemoer.
“Het jy seergekry?” vra hy besorg.
Ek is te verbaas om te antwoord. Hoe het hy van ‘n ongeskikte buffel verander in ‘n besorgde redder? Na alles wat die laaste paar uur gebeur het, is dit nie regverdig dat hy ook nog my wêreld kom omfoeter nie. Hy is veronderstel om ‘n onaangename en bot vent te wees. Hierdie nuwe mens wat voor my staan is besig om die laaste paar varkies wat ek nog op hok het ook te verwilder. Hy bekyk my op en af.
“Lyk darem nie so nie.” werk hy dit vir homself uit.
Sonder om verder te praat draai hy om en stap doodluiters weg. Ek staar hom verdwaas agterna. Dit is eers toe ‘n stem verbaas uitroep dat ek tot verhaal kom.
“Kyk!” skree iemand.
Die botsing wat ons so woes behandel het, het ‘n gat in die muur aan die agterkant van die vlieg-skip geruk. Dit is nie ‘n groot gat nie, maar deur die nou opening skyn die son in.
“Is ons terug op die aarde?” vra iemand.
Niemand antwoord nie, Niemand kán antwoord nie, want niemand weet nie. Daar is ‘n paar oomblikke van onsekerheid, daardie tipe onsekerheid waar almal vir mekaar kyk maar niemand iets doen nie. Dit is Klein-Chris wat die eerste is om te beweeg. Hy stap doelbewus na die opening in die muur . Aanvanklik reageer niemand nie. Maar wanneer dit duidelik raak wat Klein-Chris beoog om te doen, is dit sy pa wat van agter hom uitroep.
“Chris! Nee!”
Maar Klein-Chris stap ewe rustig voort, so al asof hy nie sy pa se vermaning gehoor het nie. In die opening gaan hy staan en kyk na buite. Na ‘n oomblik se stilte draai hy om.
“Is daar blou gras op die aarde?” vra hy.
Eers antwoord niemand nie. Dit is oupa, wat reeds begin nader stap het, wat praat.
“Nie waarvan ek weet nie.”
Klein-Chris draai weer weg van ons af en kyk weer deur die gat.
“Wel, dan’s ons beslis nie terug op die aarde nie.”
Oupa is ‘n paar tree agter hom wanneer Klein-Chris Koekemoer die eerste mens word om die nuwe, vreemde wêreld in te stap. Dit is eers nadat hy deur die opening verdwyn dat sy pa en die res van die grootmense volg. Ek is steeds so gedisoriënteer dat ek nie kan beweeg nie. Te veel goed het gedurende die afgelope paar ure te vinnig gebeur. My verstand wil doen wat ‘n verstand veronderstel is om te doen; verstaan! Maar daar is geen boek of lering om hierdie ongelooflike gebeurtenis te verklaar nie. Dit is nuut. Dit is vreemd. En dit is ‘n totale ontnugtering.
In ‘n waas van ongeloof begin ek agter die mense aanloop wat een-een deur die opening verdwyn. En wanneer dit my beurt is om deur te gaan klink Jasmien se stem agter my op.
“Ek wonder hoe dit lyk.”
Haar woorde bring my terug na die werklikheid. Met ‘n aarseling tree ek vorentoe, deur die opening die vreemde in. Die sonlig is helder. Vir ‘n oomblik moet ek my hand oor my oë hou om hulle kans te gee om aan die skielike helderheid gewoond te raak. En dan sien ek…
Hoofstuk 5
Agter my kom die laaste mense bangerig deur die opening, en net soos ek, gaan hulle verdwaas staan. Klein-Chris was reg; hierdie is nie die aarde nie. Daar is dinge wat jou kan herinner aan die aarde, dinge soos gras en bome wat plek-plek groei en die berge wat op die verre horison troon. Maar selfs hierdie dinge is vreemd genoeg om jou te laat besef dat hierdie ‘n ander plek is. Die gras is ‘n snaakse blou-groen kleur, die bome is ‘n ander skakering van dieselfde kleur en die berge is, wel… genadiglik net berge. Daar is snaakse geluide.
Voëls! Dink ek. Definitief voëls. Maar nie enige voëls wat ek al ooit vantevore gehoor het nie.
Almal staan in stilte rond. Daar is ‘n voelbare ongemak tussen ons. Dit is net Klein-Chris wat rustig rondstap, asof hy heel tuis is . Hier trek hy ‘n grasstingel uit en ruik daaraan, daar tel hy grond in sy hand op en laat dit deur sy vingers val. Hy kyk om na die res van ons.
“Ten minste lewe ons.” Sê hy.
En iewers in die agtergrond, asof in antwoord op sy woorde, bulk ‘n bees. Dit is ‘n geluid waaraan ‘n mens so gewoond raak op ‘n trek dat dit ‘n tydjie vat voordat enige van ons besef wat dit beteken. My gedagtes is nog gefokus op Klein-Chris toe die besef uiteindelik tot my deurdring. Beeste? Hier?
Vir die Afrikaner is daar ‘n paar dinge wat belangrik is. Dinge waarvoor hy sy lewe sal aflê; sy geloof, sy familie, sy diere. Maar in ons situasie, hier in ‘n vreemde wêreld waar daar geen sekerheid oor enige iets is nie, beteken die teenwoordigheid van bekende diere nog meer as vir die gewone Afrikaner. Want ‘n mens moet eet.
Daar is ‘n tweede bulk. En dit is genoeg om ons almal te laat omvlieg. Oomblikke later begin die hele spul van ons holderstebolder in die rigting van die welkome geluid beweeg, eers teen ‘n draf-stap en dan op volle vaart. Die skip is groot, groter as enige gemaakte ding wat ek ooit gesien het. Groot soos ‘n berg. ‘n Massiewe ronde yster gedoente met ‘n plat bo-kant en onder-kant. Amper soos twee reuse pierings wat opmekaar gesit is. Ons hardloop, al om die kant van die skip. Ek en my maats is nie so vinnig soos die mans en seuns wat vooruit getrek het nie. Teen die tyd dat ons aankom waar hulle verbaas in hulle spore vasgesteek het, brand my longe reeds. Maar die brand maak nie saak nie, want daar voor ons, ewe rustig besig om aan die blou-groen gras te vreet, staan ons beeste in ‘n groot uitgespreide trop rond. En dit is nie net die beeste nie. Daar is die skape, die perde, die hoenders en selfs oom Servaas se jaghonde. Daar is onmiddellik ‘n merkbare verandering in die kollektiewe gemoed van die groep. Waar daar tot dusver net onsekerheid en kommer was, is daar nou ‘n oomblik van vreugdevolle verligting. Mens noem dit; hoop.
Aan hierdie kant van die skip is daar meer skade as aan die kant waar ons uitgekom het. Rondom die gat in die romp waar die diere klaarblyklik uitgekom het, is daar verwronge stukke staal en gebreekte glas. Hierdie is duidelik die kant waarop die gekweste tuig te lande gekom het. Die skade strek hoog teen die swart romp op. Een van die manne stap versigtig nader aan die groot gat en loer na binne.
“Waarna soek jy?” roep iemand hom agterna.
“Ek kyk maar net.” antwoord hy. “As die diere hier is kan die waens net so wel ook hier wees.”
“En?” voeg oupa sy stem by.
Die oom draai om met ‘n sug.
“Niks.” Antwoord hy. “Net mis.”
“Wel,” sê oupa terwyl hy oor die diere kyk, “ten minste sal ons nie doodgaan van die honger nie.”
Een van die trek-osse begin wegstap van ons af, rustig, soos een wat weet waarheen hy op pad is en een vir een val die ander diere agter hom in.
“Chris,” roep oom Christiaan uit. “Gaan jy en jou maats só om en keer dat hulle nie te ver wegdwaal nie. Ons wil hulle nie verloor nie.”
“Nee!” antwoord pa-Willem, “Moet hulle nie keer nie.”
Dit is die eerste keer vandat ons uit die Kaap vertrek het dat my pa so tussen die mense praat. En soos ek hom geken is daar ‘n goeie rede voor.
“Nou waarom dan nie?” praat oom Christiaan vies. Hy is nie ‘n man wat hou van teenstand nie.
“Water!” antwoord pa, “Hulle soek water.”
Vader is nie ‘n boek-geleerde man nie. Maar hy weet baie. Hy verstaan die wêreld. En hy ken sy diere.
“Jou pa praat nie baie nie,” sê moeder altyd, “maar hy luister. Hy hoor en sien wat rondom hom gebeur, en hy leer daaruit. As jou pa praat, dan kan jy maar woorde ag.”
En ek weet dat as vader sê die diere gaan water soek, dan is dit so. Maar oom Christiaan lyk meer skepties. Miskien is dit maar net omdat hy nie weet nie, of miskien wil hy net nie toegee dat hy ‘n fout gemaak het nie.
“En hoe kan jy so seker wees daarvan?” skree hy vader agterna. Maar pa antwoord nie. Hy stap ‘n entjie agter die diere aan, gaan staan en fluit saggies. Vonk, sy appel-blou skimmelperd, wat tussen die diere beweeg gaan staan, draai om, runnik sag en draf nader. Dit is soos ‘n herontmoeting tussen twee ou vriende. Terwyl pa oor die gespierde dier se nek vryf knik die indrukwekkende dier sy kop op en af. So rats soos ‘n jong man trek pa homself agter op die perd se kaal rug draai en die dier sommer so aan die maanhare om. Klein-Chris draf vinnig agterna, gevolg deur sy twee vriende. Kort voor lank het hulle, ook op hulle perde, langs pa ingeval. Dit wil lyk of oom Christiaan nog iets wil sê, maar oupa spring hom voor.
“Ja, nè,” sê die ou korrelkop doelbewus hard genoeg dat almal hom kan hoor, “Ryk en slim is duidelik nie dieselfde ding nie.”
Oom Christiaan is summier boos. Hy is ‘n man wat gewoond is aan die respek van ander, en oupa se openlike kritiek steek hom duidelik dwars in die krop.
“Oom Dawid, moet nou nie dat ek en jy stry kry hier voor die mense nie. Ek het nie lus vir jou dinge nie.”
Hy begin wegstap, terug in die rigting van die skip, maar oupa is nie een wat hom laat koudsit nie.
“Waaroor wil jy dan nou stry Chrisjan? Is dit dan nie jy wat verantwoordelik is vir hierdie gemors waarin ons is nie?”
Oom Christiaan gaan doodstil staan, draai om en kom maak homself reg voor oupa kom staan.
“Oom Dawid, jy soek vir my.” Sê hy dreigend. “Ek het niks uit te waai met hierdie gemors nie en jy weet dit. Hoe kan jy my van so iets beskuldig?”
Oupa staan nie terug nie. Inteendeel, hy kom tot reg by oom Christiaan se gesig voordat hy praat.
“Ek skrik nie vir jou nie, ou seun. Ek het in my lewe baie dinge aangevat, vêr meer as ‘n rykmanskind met ‘n groot kop. As jy ons nie daardie droë, godverlate plek ingevat het nie, sou ons nie nou hier gewees het nie. Dis hoe dit werk, sien jy? As jy wil lei, dan moet jy die verantwoordelikheid vir jou besluite vat.”
Die mense rondom die twee mans begin ongemaklik rondtrap. Duidelik is daar van hulle wat oupa se mening deel het, maar net so duidelik is hulle onwilligheid om dit hardop te sê. Oom Christiaan is rooi in die gesig.
“Hoe moes ek geweet het dat een of ander onding ons daar sou kom weg steel?” antwoord hy in ‘n bars stem. “Niemand kon so iets weet nie. En nog ‘n ding; as jou kleindogter nie jou kleinseun teen daardie muur laat pis het nie, sou ons nie hier geval het nie.”
Daar is ‘n nuwe lig in oupa se oë. ‘n Lig wat ek nie vantevore gesien het nie. En duidelik ‘n lig wat oom Christiaan ook nie van bewus was nie, want hy tree ‘n tree terug. Maar oupa is op die oorlogspad.
“Wil jy jou foute op ‘n kind kom staanmaak, Chrisjan? Want as jy wil kan ek jou wys hoe om ‘n man te wees.” antwoord hy kwaad.
Oom Christiaan lyk vir die eerste keer vandat ek hom ken onseker. Maar ek sien dit skaars, ek is verpletter. Want sy woorde laat my voel soos ‘n slegte mens. Al wat ek wou doen was om my boetie te help. Hoe moes ek weet dat dit die hele spul deurmekaar sou gooi? Maar oupa dink anders daaroor.
“Jy wil haar blameer dat ons hier is? Hier waar die beeste weiding het en ons veilig sal wees van die bedoeling van wie ook al ons gesteel het? Na my mening het sy ons gered.”
Vir my is oupa se woorde soos goud. Nie dat dit my sinkende gevoel van skuld totaal wegvat nie, maar almal wat onder druk is het iemand aan hulle kant nodig.
Die twee mans gluur mekaar boos aan. Ek ken vir oupa goed genoeg om te weet hy gaan nie terugstaan nie, al is oom Christiaan jonger en groter as hy. En oom Christiaan? Ek kan sien dat hy onseker is. Hy is duidelik nie ‘n bakleier nie. Maar sy probleem is dieselfde as wat mans deur die eeue heen moet oorkom; as jy voor mense stry, dan kan jy nie eerste ingee nie. Wat sal die mense dan van jou dink? En oom Christiaan is die leier van die trek. Dis mos hoe mans dink; as jy terugstaan vir ‘n baklei verloor jy die mense se respek. Natuurlik weet elke vrou dit is sommer bog. Jy meet nie die waarde van ‘n man aan die krag in sy vuiste nie. En dit is uiteindelik ook ‘n vrou wat die probleem vir hulle twee moet oplos. Oom Christiaan se vrou, tant Marie stap nader en raak haar man sag aan die skouer.
“Kom nou Christiaan. Los julle nou hierdie gestry van julle.” sê sy sag. “Ons het genoeg probleme. Moet julle twee nou nie die mense nog verder ontstel nie, toe.”
Haar woorde bied aan albei mans die geleentheid gebied om met hul trots uit die stryd te tree. Oom Christiaan is die eerste een wat daarvan gebruik gemaak het. Hy gee oupa ‘n vuil kyk en draai weg. Voor hom staan die trek se mense, onseker en stil. Hy kyk oor hulle, amper asof hy hulle nie raaksien nie. En dan, sonder om ‘n woord te sê begin hy deur die groep stap. Mense staan opsy om vir hom ‘n pad te maak, duidelik bewus van die kwaad wat in hom kook.
Hy is al ‘n ent weg van ons af wanneer Klein-Chris oor die bult aangejaag kom. Oom Christiaan gaan staan en tuur in die rigting van sy seun. Wanneer hy naby kom, maan Klein-Chris sy perd en die dier slaan dadelik van galop na ‘n draffie oor. En voordat hy nog behoorlik kan stop spring sy ruiter rats na die grond en kyk met ‘n groot glimlag oor die mense.
“Daar’s water!” kondig hy aan.
En rondom my klink ‘n gesamentlike roep van vreugde op. Hierdie klompie mense was oor die laaste paar uur waarskynlik die ongelukkigste skepsels wat die here ooit gemaak het. Maar nou het ons kos en water. Ons geluk is besig om te draai.
“Hoe ver is dit?” vra oom Christiaan, wat weer sy plek voor die mense kom inneem het.
Klein-Chris kyk na sy pa. Dit is ‘n snaakse kyk. Ek weet nie of dit die eerste keer is dat hy so vir sy pa kyk, en of dit miskien is dat ek dit nou vir die eerste keer agterkom nie, maar dit is ‘n kyk wat ‘n mens vir iemand gee aan wie jy nie veel erg het nie. Dit is ‘n normale verskynsel onder jong mense, veral seuns, om ‘n rebelse streek te kry. Ek reken Klein-Chris is op daardie plek in sy lewe.
“Dis net oor die bult.” Antwoord hy. “Mens kan maklik tot daar stap.”
Sy pa slaan nie ag op die manier waarop Klein-Chris hom antwoord nie.
“Dink jy ‘n mens kan dit drink?” vra hy.
Klein-Chris glimlag.
“Ek hoop regtig so, want as mens nie kan nie, dan’s ek in die moeilikheid.”
Hy vryf deur sy blonde boskaas.
“In elk geval, dit lyk baie suiwer en skoon. En dit proe soos gewone water.”
Oom Christiaan kyk hom vir ‘n oomblik met ‘n frons aan voordat hy omgedraai na die res van die mense toe.
“Ek reken ons het geen ander keuse as om die kans te vat nie.” Sê hy vir ons. “En ek’s seker almal hier het ‘n groot dors. Kom ons gaan.”
Verlig en vol gesels begin die mense agter hom aanstap. In die agtergrond breek oupa se stem deur die sagte dreuning van die mense.
“Asof hy ons eers toestemming nodig sou hê.”
Hy praat met niemand in besonder nie, maar almal weet vir wie sy woorde bedoel is.
Hoofstuk 6
Die water smaak anders as die water waaraan ons gewoond is. Nie slegter nie, net anders. Party mense skep die helderskoon vloeistof met hulle hande op en slurp dit raserig op. Ander lê sommer so op hulle mae en drink. Dit laat my vir ‘n oomblik aan die storie van Gideon dink. ‘n Rukkie later het almal meer gedrink as wat hulle nodig gehad het. Dit is mos maar hoe die mens is. As jy iets dringend nodig het en jy kry dit, dan is jy geneig om jou daaraan oor te gee.
Vader, Klein-Chris en die ander twee seuns staan ‘n entjie stroomaf van ons en kyk hoe die laaste van die diere ook hulle dors les. En nadat hulle klaar gedrink het, gaan oupa en die tweeling ook by hulle staan. ‘n Rukkie later begin die res van die mense het in groepies terugstap na die vlieg-skip terwyl Oom Christiaan die bruinmense nader roep het om opdragte uit te deel. Drie van die mans word aangewys om by die diere te bly terwyl die res moet gaan hout bymekaar maak.
Dit is terwyl ek en my maats staan en luister na oom Christiaan se gesprek met hulle dat ek vir die eerste keer werklik aan hulle dink het. Dit is nie dat ek hulle nog nooit raak gesien het nie. Dit is net die eerste maal dat ek dink het oor hulle lot. Hulle wat uit hulle land in die ooste na die Kaap gebring is om die witman te kom dien. Hulle wat gebore is as minderes. Vir hulle maak hierdie vreemde gebeurtenis waarskynlik nie veel verskil nie. Want hulle is voorheen reeds deur iemand uit hulle huis gesteel. Hierdie is maar net nog ‘n vreemde plek. Hulle lot is steeds dieselfde.
Ons het nie werkers saamgebring op die trek nie. Nadat oupa die plaas verkoop het, het hy aan elkeen van ons werkers ‘n bedrag uitbetaal en die huisraad wat nie op die wa sou pas nie tussen hulle verdeel. Maar eie aan sy natuur het hy dit nooit beskryf as goedhartigheid nie.
“Hulle sal op die trek net moeite wees,” het hy gesê, “Net ‘n klomp ekstra monde om te voer.”
Maar ek weet van beter. Oupa kan ‘n harde koejawel wees as hy wil, maar vir sy eie mense sal hy sy lewe gee.
Nadat almal reeds weg is en die werkers by die beeste ingeval het, begin Vader, Oupa en die seuns ook aanstap. Ek en die ander drie meisies val stil-stil agter hulle in. Soos al die ander mense hier is my hart bly oor die diere en die water, maar daar is steeds ‘n groot stuk deurmekaar in my kop. En behalwe vir Jasmien, is ek seker die res voel ook so. Die hele affêre met die vlieg-skip en die nuwe wêreld is onverklaarbaar. Ek begin so in die stap wonder oor die betekenis van dit alles. Is dit God wat ons wou kom haal? Sekerlik nie. Hy sou ons tog nie so weggesteel het nie. Nie op so manier nie. Hy is die Here. Hy het mos nie nodig om dinge so agteraf te doen nie. Maar as dit nie hy is nie, wie is dit dan? Die duiwel? Dit sal die dief in die nag metodes van ons ontvoerders verklaar. Miskien is dit hy. Miskien het hy sy demone gestuur om ons te kom steel. Maar waar is hulle dan? Vandat ons geval het, is daar nog geen teken van iemand anders nie.
Ek ril in my binneste en teen my rug af tot in my stuitjie. Dit is beter dat ons hulle nie sien nie.
In my agterkop bly daar ‘n derde, en veel meer ontstellende moontlikheid vassteek. Want as dit nie die here of die duiwel is wat ons hier laat beland het nie, dan is dit mense. En as dit mense is, dan moet dit ander mense van ‘n ander wêreld wees, mense wat slim genoeg is om skepe van yster te bou wat deur die lug kan vlieg. Die blote gedagte daaraan laat my kop laat. Dit kan tog nie wees nie, kan dit? Die aarde is die plek wat deur die here geskape is. Die aarde is die plek waar god ons mense gesit het. Maar hier is ons op ‘n ander wêreld. ‘n Wêreld met gras en bome en klippe en riviere. ‘n Wêreld met lewe, al is dit net voëls. En as daar een ander wêreld is, wie sal dan kan sê daar is nie nog nie?
Ons stap teen die bult op en stadig begin die skip binne sig gekom. Vader en die ander mansmense is reeds bo-op die bult wanneer hulle meteens gaan staan. Ons volg hulle voorbeeld. Dis mos wat mens doen. As iemand voor jou gaan staan, dan doen jy dit ook. Maar vir Jasmien werk die lewe anders. Sy laat haar nie sommer voorskryf deur konvensie nie. Sy gaan vir ‘n oomblik langs my staan en dan stap sy nuuskierig vorentoe. Ek doen die ander ding wat mens doen. Ek loop agter haar aan. En wanneer ons langs oupa bo-op die bult te staan kom, gewaar my deurmekaar kop ‘n nuwe onwerklikheid. Op die uitgestrekte grasvelde aan die ander kant van die skip loop daar goed rond. Goed wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Eienaardige goed. Groot goed. Die kleinste onder hulle is twee maal so groot soos ‘n olifant. Maar hulle het net twee bene.
Met lang geboë nekke en groot koppe staan hulle aan die boonste blare van die bome en vreet. Terwyl ons met oop monde na die gediertes staan en staar, het die res van die mense daar onder langs die skip in ‘n bondel gaan staan. Selfs al hou jy nie van iemand nie is hulle nabyheid in oomblikke van onsekerheid ‘n troos.
“Watse goed is dit?” fluister Jasmien.
Daar is geen werklike rede vir haar om so sag te praat nie. Ons is te ver van die goed af vir hulle om haar te hoor. Tog maak dit sin dat sy fluister. Dit pas by die geleentheid. Oupa, wat teen sy natuur in vir ‘n paar oomblikke sprakeloos gelaat is, antwoord sonder om weg te kyk van die eienaardige toneel voor ons .
“Ek dink nie enige iemand weet wat dit is nie.”
Sy loer skuins verby my na hom.
“Dink oom hulle is gevaarlik?”
Oupa hou steeds sy oë op hulle.
“Dit lyk nie so nie. Hulle vreet blare.”
Hy vryf verdwaas deur sy hare.
“En dis ‘n baie goeie ding. Met sulke groot lywe sou ons nie veel kans teen hulle gestaan het as hulle in vleis belang gestel het nie.”
Ons staan nog ‘n rukkie so en kyk voordat pa begin aanstap na die skip toe. Die res van ons val agter hom in sonder om te praat. By die skip het dinge ook weer begin bedaar. Die aanvanklike skrik vir die groot diere begin plek maak vir bespiegeling.
“Ek wonder of hulle die grootste diere in hierdie wêreld is.” praat een stem êrens tussen die mense.
“Ek hoop so.” Antwoord ‘n ander.
“Wat mý pla,” val oupa ook in, “Is of daar iets is wat húlle eet.”
“Ag nee pa!” raas moeder. “Nie voor die kinders nie. Pa sal hulle op hol jaag.”
Oupa trek sy skouers op.
“Miskien is dit beter as hulle op hol gejaag is. ‘n Bang kind is ‘n veilige kind.”
Moeder skud net haar kop. Sy het al geleer dat dit nie help om met hom te stry nie.
Met die aanvanklike skok van die groot tweebeen gedoente wat ons nuwe huis met ons deel vir eers agter die rug, kom die mense voor ‘n nuwe uitdagend te staan. Sien, ‘n mens raak gewoond aan dinge. ‘n Mens raak bederf. En dikwels begin ‘n mens die dinge waarsonder jy moeilik oor die weg sou kom as hulle nie daar is nie, as vanselfsprekend aanvaar. Dinge, byvoorbeeld, soos gewere, houers, potte en waterkanne. Sommer daardie alledaagse dinge wat mens in en om die huis gebruik sonder om eers daaraan te dink, totdat jy dit nodig kry en dit is nie daar nie.
Ek weet daar is ‘n paar manne wat hulle pype en twak mis, en hulle wapens. In ‘n vreemde en potensieel gevaarlike plek voel ‘n mens veiliger as jy iets het om jouself mee te verdedig. Die vrouens het waarskynlik meer hunkering na ‘n bietjie tee of ‘n treksel koffie, maar daar is nie eers ‘n koppie om dit in te skink nie. Die mensdom darem; ons waardeer eers wat ons het wanneer ons ophou om dit te hê.
Op daardie oomblik is die probleem ‘n praktiese een. Ons het beeste en skape, maar ons het niks om hulle mee te slag nie. Dit is ‘n nuwe dilemma vir die manne om oor te stry. Ek weet nie hoekom dit so is met Afrikaners nie. Ons moet altyd stry. Dit is amper asof dit in ons bloed is. En die probleem is dikwels dat ons verby die punt van die stryery begin praat. Ons kan stry oor die weer en opeindig by die Bybel.
Terwyl die grootmense redekawel oor die beste manier om die vleis wat binne die bees se vel is aan die buitekant te kry, begin die kinders in groepies om die omgewing rondom die skip te verken. Dit is een van die voordele van kindwees. Jy het nie baie verantwoordelikhede nie.
Ek, Jasmien, Stella en Willemien stap stadig deur die kniehoogte gras en verken alles. Tussen die gras groei hier en daar ‘n paar veelkleurige veldblommetjies. Hul pers en geel blaartjies is eenvoudig te aantreklik vir ‘n jongnooi om te weerstaan. Kort voor lank loop ons al vier met ‘n handvol blomme. En hierdie blomme is nie soos die veldblomme op aarde wat mooi gelyk het maar nie te wel geruik het nie. Die fyn blaartjies gee ‘n soet en aangename reuk af.
“Ek’s so lief vir blomme.” koer Jasmien droomverlore terwyl sy aan haar fonds ruik. “Hulle laat my aan die hemel dink.”
“Dink julle hierdie is dalk die hemel?” vra Willemientjie uit die bloute.
“Ek dink nie so nie.” Antwoord ek. “As ons in die hemel is, waar is die engele dan? En waar is die ander mense wat hemel toe gekom het voor ons. En die here bly in die hemel. Waar is hy?”
Ons kom tot by ‘n groot klip onder ‘n blou-groen boom. Stella gaan eerste sit, swaar en stadig, soos sy maar altyd maak.
“Is jy siek?” vra Jasmien haar terwyl sy ook ‘n sitplek uitkies.
“Wat?” antwoord Stella.
“Ek vra of jy siek is.”
“Hoekom?”
“Wel, jy lyk altyd of jy seer het… en jy loop altyd so swaar en stadig.”
Stella begin bloos. Onmiddellik voel ek jammer vir haar. Gedurende die laaste paar weke het ek so in die stilte dinge begin raaksien oor Stella. Nou en dan, wanneer die wind reg gewaai het, het ek die blou hale op haar bene opgemerk. Ek het daardie tipe hale geken. Dit lyk dieselfde as die hale waarmee die tweeling by hulle maats spog wanneer vader hulle met die sambok moet reghelp. En ek vermoed dat daar meer daarvan op die res van haar lyf is. Stella is die een wat nie kaalgat saam met ons in die watergate wil speel nie. Stella is die een wat ‘n duidelike vrees vir haar pa het. En twee keer vandat ons vriende geraak het, het ek iets aan die boudkant van haar rok gewaar wat vir my baie na droë bloed gelyk het.
“Stella is nie siek nie.” antwoord ek in haar plek. “Sy’s maar net lyfseer omdat sy altyd so hard werk.”
Dit is net ‘n halwe leuen. Stella werk definitief harder as die res van ons. Sý is die een wat die wasgoed en skottelgoed in haar huishouding doen. Sý is die een wat skoonmaak. Ek weet dat dit nie die rede vir haar pyn is nie, maar dit is al waaraan ek kan dink.
Gelukkig het Jasmien se gedagtes reeds ‘n ander pad gevat. Terwyl Stella my ‘n stil ‘dankie’ toekyk, staar Jasmien met haar kop agteroor gegooi na die massiewe romp van die skip wat oor ons troon.
“Ek wonder wie het die ding bestuur.”
Dit is ‘n goeie vraag. Vandat ons geval het, is almal so besig met die dinge wat so kort op mekaar met ons gebeur het dat niemand tot nou toe die onderwerp opgebring het nie. Sekerlik moet daar iemand wees wat bestuur het. Die ding kon dit tog nie self doen nie. Die res van ons kyk ook op na die swart staal opmekaar pierings.
“Miskien was dit engele.” probeer Willemien.
“Maar waar is hulle dan nou?” vra Jasmien.
Willemien het duidelik nie ‘n antwoord nie. Ek ook nie. Dit is Stella wat ‘n nuwe teorie, een wat stil-stil ook in my kop begin moontlik lyk, die lig laat sien.
“Miskien is dit nie engele nie. Miskien is dit maar net mense wat van ‘n ander wêreld af kom. En miskien het hulle nie die val oorleef nie.”
‘n Diep frons kom oor Jasmien se hele voorkop.
“As dit so is, dan is daar dooie mense in daardie ding.”
‘Miskien.” antwoord Stella sag.
Ons sit nog ‘n paar minute daar, elkeen besig met haar eie gedagtes oor wat alles nog binne die reuse struktuur kan skuil. Die gedagte aan dooie mense laat my ril. Ek hou nie van die idee nie. Met ouma se dood het die grootmense ons gedwing om verby haar oop kis te stap. Dit het my diep ontstel.
“Om te groet.” Het hulle verduidelik.
Maar dit het vir my geen sin gemaak nie. Hoe groet mens iemand wat klaar dood is? Hulle kan jou mos nie hoor nie. Duidelik het Stella se woorde die ander twee meisies ook ontstel. Willemientjie kry trane in haar oë gekry en Jasmien kom vinnig orent.
“Kom ons gaan kyk wat maak die mense.” sê sy
Ons weet almal dat wat die mense doen nie regtig vir ons enige opwinding sal inhou nie. Dit gaan meer oor die idee om nie alleen hier aan die ver kant van die skip te sit nie. Veral nie as dit moontlik is dat daar dooie mense binne in is nie. Ons staan almal op en, met Jasmien aan die voorpunt begin ons terugstap.
Teen die tyd dat ons die res van die mense bereik, het die grootmense so tussen die stry deur ‘n plan gemaak vir die slag van ‘n bees. Dit is nie die beste moontlike plan nie, maar dit sal vir eers moet doen. Die mans het van die ysterskerwe wat aan die valkant van die skip gehang het afgebreek en is besig om dit op plat klippe skerp te skuur. Terwyl hulle besig is daarmee begin die werkers met stapels droë hout aankom en begin dit op ‘n hoop langs die skip pak en oupa en van die ander ouer mans is besig om ‘n braaiput van klip te bou.
Behalwe vir die geskuur in die agtergrond en die gesing van die voëls in die verte, is die tydelike kamp doodstil. Daar is ‘n besige rustigheid tussen die mense.
“As jy nie weet wat om te doen nie… doen iets.” sê vader altyd.
Teen die tyd dat die son sy laaste vashou aan die dag teen die verre horison aankondig, sit ons in groepies al rondom die brandende vuur en gesels. Die reuk van vleis laat my mond water. Pa en oupa staan saam met die ander mans rondom die vuur en, vir die oomblik lyk dit asof daar vrede tussen oupa en oom Christiaan gekom het. Ma sit op ‘n klip met ‘n paar ander tannies en gesels terwyl Jorsie nie ver van haar voete af nie op die grond met sy dolosse sit en speel. En in die verte begin die tweebeen reuse stadig in die rigting van die berge stap.
Dit is ‘n rustige skemeraand. Maar iets bly aan my gemoed knaag. Iets is nie mooi reg nie. Ek kan net nie my vinger daarop lê nie.
In stilte laat ek my blik oor die mense van die trek dwaal. Dit is maklik om stil te wees as jy in die geselskap van Jasmien is. Sy praat sonder ophou. Nou en dan kry Willemien darem ‘n paar woorde in, maar net ‘n paar. Dit is tydens ‘n oomblik van stilte, wanneer Jasmien noodgedwonge en teen haar sin moet asemskep dat Stella aan my stamp.
“Kyk hoe lekker speel jou kleinboet.” sê sy.
My blik gaan in die rigting van Jorsie. Hy is salig onbewus van die vreemdheid van ons situasie. Al waarop hy gefokus is, is sy dolosse.
“Dolosse?”
Opslag besef ek wat my die hele tyd pla. Jorsie is besig om met sy dolosse te speel. Waar het hy hulle gekry? Met ‘n diep frons op my voorkop staan ek op stap en nader.
“Jorsie?” vra ek sag.
“Huh?” antwoord hy sonder om op te kyk.
“Jorsie, waar het jy jou dolosse gekry?”
Jorsie trek net sy skouertjies op.
“Op die wa.”
“Waar is die wa, Jorsie?” vra ek terwyl moeder en die ander tannies hulle gesprek staak.
Met ‘n klein, vuil vingertjie wys Jorsie in die rigting van die skip.
Hoofstuk 7
Om die presiese ligging van die wa uit Jorsie te kry is nie ‘n maklike taak nie. Hy is ‘n woelige knaap, en daarom is hy gereeld in die moeilikheid. En die skielike gewoel van mense rondom hom oortuig hom dat hy weer in ‘n penarie beland het. Eers probeer moeder om hom te paai. Ek is tweede. Maar al wat wil praat was Jorsie. En wanneer oom Christiaan met sy woeste baard en growwe stem probeer help bars hy in trane uit. Dit is op die ou einde oupa wat nader staan, maar nie voordat hy oom Christiaan ‘n vuil sylangse kyk gee nie. Met ‘n stywe lyf buk hy oor Jorsie en lig hom op sy heup voordat hy ‘n entjie van ons af wegstap.
“Jorsie,” praat hy met ‘n sagte stem, “Oupa is alweer in die moeilikheid jong.”
Jorsie het opgehou huil en kyk oupa vas in die oë. Duidelik is dit vir hom beter dat sy oupa eerder as hy in die sop beland het.
“Weet jy hoekom is ek in die moeilikheid?” gaan oupa voort.
Jorsie skud net sy kop. Oupa sit hom op die grond neer en gaan plat langs hom op die grond sit.
“Oupa is in die moeilikheid omdat ek die ossewa iewers gebêre het, maar ek kan nie onthou waar nie. En nou is almal kwaad vir my.”
Jorsie glimlag. Oupa vergeet alewig iets iewers.
“Ek weet waar hy is.” Antwoord my kleinboet ewe slim.
“Rêrig?” roep oupa kamma bly uit. “Sal jy my wys waar?”
Jorsie knik en begin oupa ywerig aan die hand trek.
“Kom kyk.”
Oupa staan so vinnig op as wat sy ou lyf kan hanteer en begin agter Jorsie aanstap. Die res van ons volg stilweg opgewonde ‘n entjie agter hulle. Ons prosessie stap al om die linkerkant van die skip totdat Jorsie uiteindelik gaan staan. Aan die onderkant van die romp, waar die grond en die yster bymekaar kom, is daar ‘n nou opening. Jorsie wys met sy vinger na die opening.
Hy’s daar binne.” kondig hy trots aan.
Oupa sak op sy knieg langs hom af en soen hom op die wang.
“Oupa is baie bly, baie dankie grootseun.”
Die opening is nie groot genoeg vir ‘n groot man om deur te gaan nie. Nie eers Klein-Chris is klein genoeg om daar in te kom nie. Op die ou end is dit die onwillige Flippie wat met sy skraal lyf deur die nou opening wurm. Flippie se ma, tant Koekie neem naby die opening stelling in. Nadat Flippie se kaal voete deur die opening verdwyn het, roep sy dadelik in ‘n skril stem uit.
“Kan jy iets sien Flippie?!”
“Ja ma,” roep die hol stem deur die romp van die skip, “ Daar’s lig hierbinne.”
“Wat sê jy?!” roep die halfdoof antie uit terwyl sy haar hand bak oor haar oor hou.
“Hy sê hy kan sien tant Koekie!” help iemand van agter af.
Tant Koekie kyk die barmhartige man skeef aan.
“Jy hoef nie te skree nie, Janneman.” raas sy, “Ek’s nie doof nie.”
Sy draai terug na die skip.
“Nou wat sien jy daarbinne Flippie?!”
“Ek sien die waens ma!”
“Hy sê hy sien die waens antie.” probeer Janneman weer van agter af help, maar sagter hierdie keer.
Tant Koekie draai haar swaar lyf kwaai om.
“Sie jy nou ent kry, Janneman! Ek kan skaars ‘n woord hoor wat die kind sê soos jy te kere gaan!”
“Jammer antie.”
Tant Koekie draai met ‘n sug weer terug na die skip toe.
“Flippie?!” roep sy weer in ‘n skril stem.
“Ja ma!”
“Kyk vir moeder of jy die beskuit daar in die agterste kis kan kry! Kry sommer vir ons ‘n treksel koffie ook uit! En jou pa se pyp en twak!”
“Ja ma!”
Kort voor lank staan elke kind wat deur die opening kon pas, ek inkluis, binne die maag van die skip met ‘n lysie van goed om saam te bring. Die eerste bestelling op elke lysie, behalwe nou vir tant Koekie s’n, is klere. Dit is nie maklik om in jou naggewaad voor vreemdelinge rond te loop nie, veral wanneer jy al jouself begin ruik. Klein Dawid en Willem het saam met my deurgekom. Hulle opdrag is om my te help dra aan die goed wat moet uitkom, maar die tweeling se vermoë om op een ding te konsentreer is maar kort. Ek is besig om oupa se twak te soek wanneer ek hulle ‘n entjie van my af by die romp van die skip gewaar.
“Wat maak julle twee daar!” raas ek, “Pa het gesê julle moet my help.”
Oudergewoonte word ek deur die twee geïgnoreer. Ek klim kwaad van die wa af en stap vererg nader, vasberade om nie weer een van my familie toe te laat om die oorsaak van ‘n krisis te wees nie. Dawid kyk oor sy skouer na my.
“Kom kyk, Sussa,” sê hy, “Hier’s rooi en groen liggies in die muur.”
Willem steek sy vinger na die liggies toe uit.
“Willem! Nee!” probeer ek keer. Maar dit is te laat. Hy druk op die liggie voordat ek by hulle kan uitkom. Ek gaan staan, seker dat daar ‘n nuwe ramp op ons wag. Maar daar is geen vonke nie. In plaas daarvan begin ‘n deel van die romp stadig en met ‘n sagte sisgeluid opskuif. Die tweeling staan verbaas agtertoe. Onder normale omstandighede sou ek waarskynlik die naaste een van hulle sommer met die agterkant van my hand reggehelp het, maar die feit dat die ystermuur van die skip sommer so vanself beweeg, lei my aandag tydelik van my kwaad. Ek is nie regtig verbaas nie. Wanneer soveel ongelooflike goed in ‘n dag met jou gebeur, dan verbaas min dinge jou. Maar dit beteken nie jy hou op om ‘n wonderwerk te herken wanneer jy dit sien nie.
Stadig maar seker begin die plek waar die muur oomblikke tevore was, verander in ‘n oop gat waardeur ek na buite kan kyk. En buitekant staan die res van die trek met duidelike verbasing na binne en staar. Die liggies teen die muur begin flikker en doodgaan en die muur hou op beweeg. Vir ‘n paar oomblikke beweeg of praat niemand nie. Binne in die skip staan kinders onseker rond, hulle oë stip gerig op die plek waar daar ‘n kort rukkie gelede net skip was. Buite kyk die grootmense heen en weer van die gat na mekaar. Een van die ouer mans staan versigtig nader en sit sy voet deur die opening soos een wat van ‘n dobberende roeibootjie moet afklim. wanneer hy seker is dat geen onheil hom gaan tref nie, tree hy met meer gemak na binne. Een vir een begin die res hom soos skape namaak, totdat byna die hele trek in die skip staan.
Daardie aand is ‘n beter aand as wat enige van ons kon verwag. Na die verwarring van die dag se gebeure het ons dit nodig. Die mans gaan in die vroegaand water skep terwyl die vrouens aandete begin gereed kry. Oom Christiaan sit die werkers aan om die vee terug te jaag in die vertrek waaruit hulle gekom het sodat hulle veilig sal wees. En ek en my maats sit rustig rond en luister na die gesprekke wat in groepies rondom ons aan die gebeur is.
Pa Willem en die res van die mans besluit om die waens vir eers net so te los waar hulle binne die skip staan tot die volgende dag toe. Dit sal beslis ‘n affêre afgee om die osse so in die donker te probeer inspan. Ons sal die nag sommer so binne die skip in ons waens deurbring. Maar vir eers, in ‘n sirkel rondom die vuur, het die mense van die Koekemoer trek ‘n tydjie van rustigheid. Vir eers is alles stil en kalm.
Maar dan begin die naggeluide.
Die donker het ‘n manier om mens aan onheil te laat dink. Miskien is dit omdat ons van nature geneig is om te wil sien wat rondom ons aangaan. Miskien is dit maar net hoe ons geleer word. Hoe dit ook al sy, ‘n mens kan niemand kwalik neem as die donker hom onrustig maak nie. Veral nie wanneer die donker op ‘n vreemde plek gebeur nie. En wanneer dit gevul word met aardige geluide wat jy nog nooit vantevore gehoor het nie, wel dan sit jy ‘n bietjie nader aan die een langs jou, en aan die vuur.
Rondom ons is daar dinge wat my pla. Iewers in die verte skree ‘n ding skril. Dit is ‘n bloedstollende gil, soos wanneer jy ‘n vark in ‘n hoek vaskeer. Aan die ander kant brul iets vir die nag. Dit is nie dieselfde as die brul van ‘n leeu nie. Dit is groter en harder. En van die rivier se kant af vul ‘n deurdringende gekiep die naglug. Dit is ‘n onrusbarende ervaring.
Ek vryf onseker oor my skouers en ril liggies. ‘n Entjie van ons af sit oupa saam met drie ouer manne en pyp rook.
“Ons sal môre moet mense uitstuur om te gaan verken.” praat oupa. “‘n Mens weet nie wat alles daarbuite rondloop nie.”
Die ander ooms knik instemmend.
“En ons sal moet uitwerk wat ons volgende gaan doen.” dra een by.
“Hoe bedoel jy?” vra oupa met ‘n frons.
Die oom verskuif sy sit op die grond en maak keel skoon. Afrikaners is baie lief vir hulle eie stemme veral wanneer daar iemand is wat luister.
“Wel,” antwoord, “ons moet besluit of ons hier gaan bly en of ons verder gaan trek.”
Oupa se frons verdiep.
“Nou waarheen wil jy dan nou trek? Vir wat?”
Die oom aarsel. Almal weet hoe lief oupa vir ‘n stry is.
“Ek weet nie.” antwoord die oom uiteindelik. “Ek reken maar net ons moet daaroor praat.”
Kyk Pietman,” sê oupa ietwat ongeduldig, “ons het uit die Kaap getrek om weg te kom van die Ingelsman af. En ek is baie seker dat daar geen manier is dat ons verder van hulle af kan kom as wat ons nou is nie. Ek sê vir jou; ek trek geen stuk verder nie. Ek bly net hier.”
Ten spyte van die donker geraas van die nag wat my verontrus, kan ek nie help om te glimlag nie. Oupa is ‘n man wat weet het hoe om sy sê te sê. Ek lê agtertoe op my elmboë en kyk boontoe na die sekelmaan wat bo-oor ons hang. Wie sal kan weet wat volgende vir ons voorlê?
“Wil julle iets sien?” Die stem wat van agter my kom, laat my skrik. Ek sit dadelik kiertsregop en kyk om. Agter ons staan Klein-Chris en sy maats.
“Soos wat?” vra Jasmien onbeskof.
Klein-Chris staan vir mý en kyk.
“Sommer net iets.” antwoord hy.
“Is julle weer besig om iets goddeloos aan te vang?” vra Jasmien verder uit.
Klein-Chris vererg hom opslag.
“Kyk hier!” raas hy, “Ons het gekom om julle iets te wys. As julle nie wil sien nie, los dit!”
Daar is ‘n paar eienskappe wat alle vrouens deel: die vermoë om meer as een ding op ‘n slag te doen, die sagtheid om ‘n kind groot te maak… en nuuskierigheid. Ons weet almal dat jong knape die gewoonte het om jong meisies te terg, te pla, skrik te maak en ons siele oor die algemeen te versondig. En wanneer ‘n groepie jong seuns wat nooit ‘n woord met jou praat nie jou skielik ‘iets’ wil gaan wys, dan is daar ‘n groot kans dat daar een of ander plan agter skuil. Maar as daar iets is om te sien, dan wil ‘n vrou sien.
Jasmien staan kwaai op, die wantroue duidelik op haar gesig te sien.
“As julle besig is met nonsens gaan ek vir pa sê.” waarsku sy.
Klein-Chris slaan skaars ag op haar woorde.
“Kom,” sê hy terwyl hy op sy hakke omdraai.
Ek en die ander meisies val onseker agter die drie seuns in. Hulle begin stap met ons al om die skip tot naby die nuwe tydelike veekraal in die romp van die ystergevaarte. Hier draai hulle weg in die rigting van die rivier. Wanneer dit vir ons duidelik raak dat hulle met ons al dieper die donker wil instap, gaan ons staan.
“Christiaan Koekemoer!” roep Jasmien agter haar ouer broer aan wat reeds in die donker begin wegraak. “Pa het gesê ons moet naby die vuur bly. Waar wil julle ons nou heen vat? As hy ons hier kry gaan hy ons velle aftrek.”
Ek kan sien hoe hy in die donker gaan staan en uitdagend omdraai.
“Is julle dan bang?” vra hy amper spottend.
Ons ís bang. En daar is geen skaamte daarin in nie. Niemand kan sê wat daar voor in die donker lê en wag nie. Maar daar is nog ‘n eienskap wat vrouens deel; wanneer ons bymekaar kom, sal ons enige iets doen om ‘n man op sy neus te laat kyk. Daar is min dinge in die lewe wat ons soveel genot verskaf as om ‘n mansmens verkeerd te bewys.
Jasmien ruk haar regop en met haar ken uitgestoot begin sy aanstap, al verder die donker in. Die res van ons volg haar voorbeeld met minder toewyding as sy. Klein-Chris en sy maats draai om en stap verder vooruit, al teen die bult op wat tussen ons en die rivier lê. In die donkerte probeer ek om my oë op die grond te hou sodat ek kan sien waar ek trap, maar dit is vrugteloos. Al wat ek kan sien is die donker. Sonder my wete het die seuns en Jasmien, wat reeds ‘n entjie voor my is, bo-op die bult tot stilstand gekom. Ek raak eers daarvan bewus wanneer ek agter in Klein-Chris vasloop. Ek verloor amper my balans, maar hy ruk homself behendig om en gryp my met sterk hande vas. Ek probeer in sy gesig opkyk. Sy blou oë skuil donker onder sy swaar ooglede.
“Is jy reg?” vra hy sag.
Te skaam om te antwoord knik ek net my kop. Hy laat my los en draai om. Vir ‘n oomblik gee ek nie om dat dit donker is nie, want die nag verberg die rooi in my gesig. Ek tree versigtig vorentoe en neem langs Jasmien stelling in. En op ‘n dag wat soveel nuwe dinge vir my ingehou het, staan ek weereens verbaas. Want daar ver op die horison, anderkant die rivier, steek ‘n tweede maan sy kop skaam-skaam oor die berge uit. Hierdie maan is groter as die een wat reeds hoog bokant ons in die lug hang. Ek kyk vir Jasmien wat oopmond staan en staar. Maar nie vir lank nie. Want ek was nog altyd lief vir die maan. Ek kon tot laatnag in die vensterbank van my kamer daar in die Kaap sit en kyk. En hier, in hierdie vreemde, onbekende wêreld is daar twee.
Ons staan ‘n lang ruk daar , net ons jongmense en die tweede maan. Op ‘n stadium kyk Klein-Chris na my toe af met ‘n glimlag op sy gesig.
“Mooi nè?” praat hy sag. En ek besluit opslag om my opinie oor hierdie sterk geboude en effens onpeilbare jong man so spoedig moontlik in heroorweging te neem. Maar op hierdie oomblik van betowering is dit net ek en die maanlig.
Hoofstuk 8
Daar is mense wat vroeg gaan slaap en vroeg opstaan. Party gaan slaap laat en staan laat op. Ander slaap amper nooit. Ek is een van die mense wat laat gaan slaap en in die oggend altyd nog so bietjie langer wil inlê. Daar is min dinge wat jou dag so mooi kan begin soos die geluide en reuke van ‘n splinternuwe oggend. Die hoenderhane wat mekaar met hulle gekraai uitdaag, die reuk van vars moerkoffie wat op die vroeë oggendbriesie by jou kamer instroom, die sagte gewoel van moeder in die kombuis. Maar wanneer jy vir die eerste keer op ‘n normale manier in ‘n nuwe wêreld wakker word, dan is dit moeilik om te bly lê.
Ek het laasnag nag tot laat gelê en herkou aan die dag se vreemdheid. Dit was nodig, want wanneer soveel ongewone dinge jou lewe in so kort tydjie kom deurmekaar gooi, dan vat dit ‘n rukkie vir jou verstand om op te vang. En wanneer jy jonk is, voordat die gelowe en bygelowe van die lewe jou aan jou eie werklikheid kom vasmaak, dan is dit makliker om te aanvaar, maar moeiliker om te verstaan. Ek het gedink aan die ligte bokant die laer daar in die verre Afrika. Ek het gedink aan die vlieg-skip wat ons van alles wat ons kom wegsteel het. Ek het gedink aan ons val in ‘n nuwe wêreld met blou gras, groot tweebeen diere en twee mane. En ek het gedink aan Klein-Chris Koekemoer.
Dit is nie maklik vir enige mens om te erken dat jy verkeerd is nie. ‘n Mens se trots laat jou dit moeilik toe. Maar vir die Afrikaner is dit besonder swaar. Die hardkoppigheid wat so eie is aan ons volkie wil jou maar nie toelaat om op te gee nie, selfs al is dit duidelik dat jy ‘n fout maak. Dit het my ‘n hele ruk se stry met myself gekos om te besluit dat ek my beste vriendin se broer waarskynlik te vroeg geoordeel het. Uiteindelik het ek met myself ooreen gekom dat dit nog te vroeg is om te sê of ek van hom hou, maar dat ek bereid is om aan myself te erken dat ek nie meer nie van hom hou nie. Vorentoe sal ek maar sien wat gebeur.
Ek het later gevoel hoe my kop uiteindelik die gewoel van die dag begin los en die slaap my begin inhaal. Dit was ‘n lang dag…
Maar voordat ek aan die slaap kon raak, het ‘n sagte geluid buite die wa my laat regop sit. Dit was ‘n geritsel wat in die donker gefluister het. My eerste gedagte was om my kop by die watent uit te steek, maar die vorige keer dat ek dit gedoen het, het my hele wêreld om my platgeval. Ek het gesit en luister. Daar was dit weer! Getrou aan my vrouwees kon ek my nie langer beteuel nie. Ek het sag omgedraai en by die tent uitgeloer. Daar was iemand in die donker. Ek kon nie sien wie dit is nie, maar die wit nagjurk het duidelik in die nag uitgestaan. Wie dit ook al was het by die opening van die skip uitgestap. Ek het teen my beterwete by die wa uitgeklim en gevolg. By die opening wat die tweeling so sonder bedoeling vir ons oopgemaak het, het ek gaan staan. Die wit nagjurk het langsaan die opening op ‘n klip gesit en huil. Ek het versigtig nader gestap.
“Stella?” het ek sag gepraat.
Sy het geskrik, soos mens maar doen wanneer jy dink jy is alleen en dan skielik besef jy is nie. Maar toe sy my herken het sy opgespring, haar arms om my gegooi en haar snikkende gesig in my skouer begrawe. Ek het haar vasgehou, vas oortuig dat haar pa haar weer geslaan het. Maar ek het niks gesê nie. Daar is tye wanneer jy nie praat nie. Dit was so ‘n tyd. Dit was vir haar net nodig om haar hartseer uit te huil en vir my om daar te wees.
Dit was heelwat later dat ek eers terug in die wa geklim het. Ek was moeg, maar die dinge wat Stella my vertel het, het in my kop bly draai. Nadat sy haar uitgehuil het, het ons op ‘n klip gaan sit en praat.
“Het jou pa jou weer geslaan?” Het ek gevra. Daar was geen rede vir my om weg te steek dat ek daarvan weet nie. Maar sy het haar kop geskud.
“Nee,” het sy hartseer geantwoord. “Nie vanaand nie.”
Vir ‘n paar oomblikke het ons net so gesit voordat sy voortgegaan het.
“As dit maar net die slaan was, dan sou dit beter gewees het. Ek gee nie so baie daaroor om nie. Ek het nou al daaraan gewoond geraak. Dis die ander dinge wat hy doen wat my seer maak.”
“Dinge soos wat?” het ek gevra. Ek kon nie aan iets dink wat swaarder kon wees as die manier waarop hy haar geslaan het nie.
Sy het niks sienend voor haar gesit en uitstaar voordat sy uiteindelik haar kop laat sak het.
“Grootmens dinge.” Het sy geantwoord.
Ek is maar ‘n jongnooi uit die Kaap. Ek weet nie veel van grootmens dinge nie. Maar as jy op ‘n plaas grootword, dan sien jy goed, en jy werk dele daarvan vir jouself uit. Ek weet genoeg daarvan om te weet dat dit ‘n verkeerde ding is wat besig is om te gebeur. Maar ek is te jonk en naïef om te weet wat om met die nuwe inligting te maak. Langs my het Stella steeds kop onderstebo gesit, asof sy skaam gekry het. Ek het my arm om haar skouer gesit. En in my binneste het ek inmekaar gekrimp. Hoe kan ‘n mens so iets doen?
“Kan jy nie jou ma sê nie?” het ek probeer om te help met ‘n oplossing voordat ek die totaliteit van die probleem kon verstaan.
Sy het haar kop gelig en met swaar, hartseer oë na my gekyk.
“Ek het.” Het sy geantwoord.
Later, op my rug in die wa het ek probeer sin maak van hierdie nuwe spookstorie waarvan ek deel geword het. ‘n Ma is tog daar om haar kinders te beskerm. Sy kan tog nie net toelaat dat iemand haar kind so verniel omdat ‘dit maar is soos mans is’ nie. Ek het hulpeloos gevoel, magteloos. Ek wou iets doen om haar te help. Maar ek was maar net ‘n kind. Ek wou iemand wakker maak en vertel. Iemand soos moeder, wat sou weet wat om daaraan te doen. Maar dit was nie vir my om daaroor te praat nie. Dit was Stella se storie, en vir haar was dit ‘n skandelike een.
Ek kan nie verstaan waarom sy skaam kry het oor die hele ding nie. Dit is tog nie sy wat verkeerd gedoen het nie. Maar sy het my laat belowe om niemand daarvan te sê nie. En al stem ek nie saam daarmee nie, moes ek dit so aanvaar.
Die oggend kom my met ‘n swaar gemoed wakker skud. Dit is nog baie vroeg wanneer ek uit die wa klim het om die dag te begin. Buite is dit nog nie heeltemal lig nie. Ek stap stadig uit die skip met die verwagting om een van die eerstes te wees om op te staan, maar ek is nie. Die hele trek is in rep en roer, en ek kan dadelik aanvoel dat daar groot fout wis. Tussen die vrouens wat duidelik ontsteld in groepies staan en praat, soek ek moeder se gesig uit. Ek stap nader en raak aan haar arm.
“Wat gaan aan, ma?” vra ek.
Moeder draai om.
“Iets het laasnag die beeswagter en een van die beeste gevang.” antwoord sy.
Ek frons intens.
“Gevang?”
Sy knik, haar oë groot van onsekerheid.
“Ja, ons het ou Gam se liggaam halfpad na die rivier toe gekry en die bees se karkas was net buite die skip.”
Ek ken nie vir Gam nie. Ek meen, ek weet wie hy is, maar ek en hy het nooit iets met mekaar te make gehad nie. En tog kom daar ‘n jammerte oor my vir hom. Hy is net ‘n werker, maar hy is deel van ons.
Ek kyk rond.
“Waar’s pa?” vra ek.
“Hy en van die ander mans het die ding se spoor gevat.”
Dit is net soos op die trek. Wanneer ‘n leeu of luiperd ‘n dier vang, doen die mans alles in hulle vermoë om hom so gou moontlik vas te trek. Dit kan ook nie anders nie, want ‘n bees en ‘n skaap is ‘n maklike prooi. Dit is mak diere wat nooit geleer het om bang te wees vir roofdiere nie. En wanneer ‘n groot kat bewus raak het van ‘n kraal vol maklike prooi, dan sal hy bly terugkom totdat daar niks oorbly nie.
Ek is gewoond daaraan om te hoor pa het spoor gevat, maar hierdie keer is daar ‘n tikkie onrus by. ‘n Roofdier is nie jou speelmaat nie. Jy kan hom jag as jy genoeg moed het, maar een klein foutjie kan jou einde beteken. Ek weet vader ken van leeu jag, maar hierdie is nie ‘n leeu nie. Hierdie is verseker ‘n nuwe ding, ‘n ding wat ons nie ken nie.
Ek kan sien dat die ander vrouens ook onrustig is, want soos Afrikaner vrouens maar doen, praat hulle sonder ophou terwyl hulle met die ontbyt of iets anders besig is. Wanneer jy bekommerd is moet jy werk vir jou hande kry.
“Het jy gehoor van Gam?” vra Jasmien agter my.
Ek knik met ‘n bedeesde blik op my gesig.
“Ja, dis sleg nè.”
“Ja,” antwoord sy. “Vader sê Gam was die beste werker wat hy ooit gehad het. Ons gaan hom vanmiddag begrawe”
Sy het die vermoë gehad om ‘n diep saak soos ‘n alledaagse storie te laat klink.
“Het jou pa ook spoor gevat?” vra ek om die onderwerp te verander. Die dood en begrafnisse laat my ongemaklik voel. Sy skud haar kop.
“Nee. Net ‘n paar mans het gegaan, die ander het agter gebly om ou Gam toe te draai en die kamp op te pas. Maar Klein-Chris het saamgegaan.”
Hoekom sal sy dink ek is gepla waar haar broer homself bevind? Dit laat my ongemaklik voel, maar sy gee geen aanduiding dat sy dit raaksien nie. Sy gryp my aan die hand.
“Kom ons gaan kyk hoe lyk die bees se karkas.”
Ons stap om na die tydelike beeskraal in die maag van die skip. Nou en dan kom van die mans en jong seuns wat agtergebly het by ons verby, elkeen met ‘n os aan ‘n leiband, op pad om hulle voor die herwinde waens in te span. Oupa, Willem en Dawid tel onder hulle. Die tweeling is skaars tien jaar oud, maar hulle is reeds goed behendig met inspan. Onder pa se dak is daar nie plek vir lui kinders nie. Ek groet hulle sommer so in die verbygaan.
Ons kry die karkas ‘n entjie van die skip af. Teen die bult staan die res van die vee senuagtig rond. Twee mans met gewere staan naby hulle op wag. Ek is nie een wat van die dood hou nie, maar ek het al dikwels gesien hoe die mans bees en skaap slag. Die karkas van die gesneuwelde bees bring vir my veel minder opwinding as vir die betowerde Jasmien. Sy kan interessantheid vind in dinge wat vir die res van ons alledaags is. Miskien is dit omdat sy nie soos die res van ons skool gegaan het nie. Oom Christiaan het vir sy kinders ‘n private onderwyser gehuur. Wanneer ‘n mens maar min uit die huis uit kom, beleef jy min.
Maar daar is iets anders wat my aandag trek. Bo-op en rondom die karkas sit ‘n paar voëls, lustig besig om die laaste vleis van die bene af te vreet. En dit is ‘n snaakse affêre. So groot soos ‘n duif met uitpeul oë en ‘n lang snawel wat nie mooi opmekaar pas nie. Dit lyk amper soos die lemme van ‘n skêr, en wanneer hulle eet, dan sny hulle eers ewe behendig die vleis van die been af en tel dit dan sukkel-sukkel met hul skewe snawels op. Ek verkyk my aan hulle. Ek moet wonder wat van ‘n mens sal oorbly as hulle in ‘n swerm op jou toesak. Gelukkig is hulle skugter voëls wat elke keer as iemand te naby kom ‘n entjie weg wip op hulle dun beentjies.
“Ek wonder hoe lyk die ding wat hom gevang het.” bespiegel Jasmien.
Ek wonder ook daaroor. ‘n Bees is nie ‘n klein dier nie, en wat hom ook al gevang het, het die opsie om ‘n skaap te vang van die hand gewys.
“My pa sê die ding het nie eers aan ou Gam gevreet nie. Hulle kon net ‘n gat in sy been kry. Hulle weet nie eers waaraan hy dood is nie. Moeder sê dalk was dit van die skrik.”
Jasmien is lief vir praat. Met ‘n halwe oor op haar geklets kyk ek teen die bult op. Dit pla my dat vader sommer so die vreemde in is. In hierdie nuwe wêreld kan daar soveel gevare wees. Maar ek ken hom goed genoeg om te weet dat hy vir niks sal terugstaan nie. Ek sug onrustig. In my gedagtes wonder ek of ek ooit aan hierdie plek gewoond gaan raak.
Nadat ons vir ‘n rukkie gestaan en kyk het, voeg Stella en Willemien hulle by ons. Willemien groet opgewek, maar Stella is merkbaar ongemaklik. Ek glimlag vir haar met ‘n stille boodskap van versekering in my oë. Dit is vir my belangrik dat sy moet weet dat ek aan haar kant is. Saam gaan die vier van ons terug om ontbyt te eet, voordat nog ‘n dag van ontdekking en verken begin.
Teen vroeg middag het die osse die laaste waens uit die skip getrek. Oom Christiaan reël die opsit van die laer so al in ‘n halfmaan rondom die groot binneruim waarin hulle staan. In opdrag van al wat ‘n grootmens is, mag ons nie juis ver van die laer af beweeg nie, maar ons het genoeg vryheid om nog ‘n paar nuwe dinge te ontdek. Die eienaardigste hiervan is ‘n klein, rotagtige diertjie so groot soos ‘n springhaas wat opslag besluit het ons is sy nuwe familie. Ons het hom in die kort gras raakgesien en gaan staan. Hy het ons nuuskierig aangekyk, maar nie weggehardloop nie. En wanneer ons wegstap hardloop hy al agter ons aan.
“Soos ‘n hondjie.” merk Jasmien op.
Hy is soos ‘n hondjie, maar hy lyk nie soos een nie. Die lang, dun stert en skerp snoet wat in twee groot voortande eindig, bring geen herinnering aan ‘n hond nie. Hoekom hy besluit het om ons te volg weet nie een van ons nie, maar dit is nogal oulik.
In die naaste bome en ook op die grond merk ons verskillende tipes voëls op. Groot en klein en van alle kleure. Baie soos op die aarde, maar glad nie soos op die aarde nie. Dit is opwindend en skrikwekkend terselfdertyd. Ek en my maats gee elke diertjie, blommetjie en plant ‘n naam. Willemien rol in die sagte gras rond, Stella kyk stil-stil maar met ‘n glimlag toe, en Jasmien, wel, sy is Jasmien.
Dit is ure later wanneer ons terug is in die laer. Die grootmense raas omdat ons middagete misgeloop het, maar vir ons is dit die moeite werd. Wanneer jy jonk is, moet jy so nou end dan net wees. Kort nadat ons die koue beesvleis en droë askoek met melk van pa se Vrieslanders afgesluk het, keer die groep mans wat die vorige nag se roofdier gejag het terug. Agter een van die perde sleep hulle die gewraakte dier saam. Wanneer jy dink aan ‘n dier wat vee jag, dan dink jy aan ‘n groot kat. Dis is al wat ons tot nou toe geken het. Maar hierdie is nie ‘n kat nie. Dit is ‘n reptiel, so groot soos ‘n leeu en so lank soos ‘n krokodil van sy neus tot die punt van sy stert. Sy kop is groter as wat normaal sal lyk en met sterk kakebene en vlymskerp tande.
Aanvanklik wonder ek hoe daardie gedierte dit reggekry het om ‘n bees te vang, want al is sy tande skerp, is hulle ver te klein om dodelik te wees met die eerste byt. En sy voorpote lyk soos kort armpies wat maar min werd sal wees in ‘n geveg. Dit is eers wanneer ek die lang angel, soos die van ‘n skerpioen aan die punt van sy stert opmerk, dat ek besef het hoe hy sy prooi gejag het. Aan die punt van die angel loop daar ‘n dik, stroperige vloeistof uit. Die angel, die gat in oorlede Gam se been en oom Servaas se honde wat stert tussen die bene weghardloop wanneer hulle wind-onder daarvan kom, is genoeg informasie om mee afleidings te maak.
Die hele trek kom rondom die dooie dier staan.
“Is dit gif wat by sy stert uitkom?” vra iemand.
Daar moet altyd iemand wees wat die ooglopende vra.
“Dit moet so wees.” antwoord een van die jagters, “Maar nie een van ons het kans gesien om uit te vind nie. Daar was drie van hulle, maar een het weggekom.”
Terwyl die grootmense verder rondom die roofdier staan en praat, loop ek en die ander drie meisies agter Klein-Chris aan.
“Hoe het julle hom dood gekry?” vra Jasmien.
“Geskiet.” antwoord hy oor sy skouer.
“Wie’t hom geskiet?” gaan sy voort.
“Oom Willem.”
Ma sê altyd mens moet nie jouself beter dink as ander nie, maar ek kan nie help om net so bietjie meerderwaardig te voel nie. Dit is immers mý pa wat hom geskiet het.
“Hoekom het julle nie al drie geskiet nie?” peuter Jasmien voort.
Klein-Chris gaan staan en draai om met ‘n diep geïrriteerde uitdrukking op sy gesig.
“Omdat die derde een in ‘n gat ingekruip het… ‘n diep gat. Sal jy nou ophou met jou vrae?”
Hy draai weer weg van ons en stap, maar Jasmien is nog nie klaar nie.
“Is dit rêrig gif wat by sy stert uitkom?” hou sy aan.
Klein-Chris gaan weer staan, duidelik gefrustreerd met haar gepraat.
“Hoekom gaan lek jy nie daaraan nie dan kan ons almal sommer uitvind.” antwoord hy in ‘n kwaai stem.
Ek kan hom nie eintlik kwalik neem nie. Wanneer ‘n mens die heeldag op ‘n perd se rug in die warm son was, dan is dit te verstane dat jy nie lus is vir ‘n klomp gepraat nie. En Jasmien kan soms te veel praat. Wel, eintlik meer gereeld as soms. Terwyl haar broer van ons af wegstap, staan sy met gebalde vuisies op haar heupe.
“Ek gaan vir ma sê jy wil hê ek moet gif eet.” roep sy hom agterna. Maar hierdie keer verwerdig hy homself nie om te antwoord nie.
“Los hom maar, Mientjie.” paai ek. “Hy’s seker moeg van die gejag.”
Hoofstuk 9
Die aand, nadat nog ‘n bees in die mae van die trekmense beland het, belê oom Christiaan ‘n vergadering. Afrikaners hou van vergaderings. Ek het nog altyd gedink dit is omdat vergaderings ‘n mens laat belangrik voel.
Terwyl die grootmense in ‘n groot kring rondom hom sit, sit die kinders en jongmense ‘n entjie weg en luister. Normaalweg sal geen normale kind veel erg toon aan hulle gepratery nie. Mens kan in elk geval maar min verstaan van wat hulle sê. Die meeste van die tyd praat hulle sonder om iets klaar te praat. Maar hierdie eerste vergadering in ons nuwe wêreld is belangrik. Ons weet dat ons toekoms vanaand bepaal sal word.
“Mense,” praat oom Christiaan met ‘n belangrike stem nadat oom Pieter die byeenkoms met ‘n gebed geopen het. “Ek besef dat die laaste twee dae vir almal van ons moeilik was. Maar die feit is dat ons, ons nou hier op ‘n vreemde plek bevind, en ons sal moet besluit wat ons volgende stap gaan wees.”
Daar is stilte onder die mense. Oom Christiaan kyk oor hulle soos dit ‘n man van agting betaam.
“Ek dink die eerste ding waaroor ons moet besluit, is of ons hier gaan bly, en of ons gaan verder trek. Ek wil voorstel dat ons nie hier bly nie.”
“En vir wat nie?” val oupa hom in die rede. Oupa is nie iemand wat hom aan protokol steur nie. “Waar wil jy dan heengaan?”
Oom Christiaan sug.
“Oom Dawid,” antwoord hy. “Jy kan tog sien watter gevaarlike goed hier ronddwaal. Ek het gisteraand my beste werker verloor aan een. En ons weet nie wat nog daarbuite skuil nie.”
Oupa snork minagtend.
“Enige leeu of luiperd is net so gevaarlik as daardie stuk likkewaan.” sê hy, “Dis niks nuuts vir ons nie. As ons nou op die aarde was, sou ons nog meer gevare moes trotseer as nou. En dink jy as ons trek gaan ons nie ander gediertes raakloop nie?”
Oom Christiaan glimlag meerderwaardig, so al asof oupa nie op sy vlak kan dink nie.
“Dis jou opinie, Oom Dawid. Maar ek glo nog steeds ons sal beter af wees as ons verder trek.”
Oupa is duidelik nog nie klaar met hom nie.
“My opinie is dat jy net verder wil trek om jouself te baat Chrisjan. Almal weet tog dat as ons hier bly dan het ons jou nie meer ‘n trekleier nodig nie. En dis al wat jy wil doen, jy wil baie praat en dom besluite maak. Daar is volop weiding hier. Daar is water hier. Vir wat moet ek trek? As jy wil gaan, dan gaan jy, maar ek wat Dawid Vermaak is bly net hier.”
Oom Christiaan is dadelik bloedrooi in die gesig van kwaad.
“As jy dink jy kan beter doen, oom Dawid, hoekom lei jý dan nie hierdie trek nie?”
Die mense staar oopmond en grootoog van een man na die ander.
“Ek wil niemand lei nie.” verweer oupa, “ Daar is niks om te lei nie. Jy praat van ‘n trek, maar daar kan net ‘n trek wees as mens trek. En ek trek nie meer nie. So, al wat ek wil hê is om uitgelos te word om te doen wat ek wil. Ek sê mos; trek as jy wil. Niemand keer jou nie.”
Daar kom ‘n tyd in elke leier se loopbaan dat hy moet vasstel hoe sterk sy gevolg is. Hierdie is oom Christiaan se tyd.
“Wel,” antwoord hy kwaad, “Dan moet jy en jou mense maar hier bly, oom Dawid. Ek en die res van die trek sal verder gaan sonder julle.”
“Ek dink ek gaan ook maar bly,” val oom Pieter in, “Hierdie plek lyk nie vir my te onaardig nie. Die grond lyk vrugbaar, en ek wil graag ‘n oes in die grond kry. Ons kan nie elke dag ‘n bees slag nie.”
“Ek voel ook so.” voeg ‘n volgende stem by. En kort voor lank besef oom Christiaan hoeveel mag hy nog oor die trek oor het. En dit kan vir hom ‘n aangename gewaarwording wees. Een vir een kondig hulle aan dat hulle nie verder wil trek nie. En aan die einde daarvan staan oom Christiaan verbaas in die middel van die gewese Koekemoer trek.
“As dit is hoe julle voel.” sê hy sag, “Dan is dit maar goed so. Ek kan sien dat julle dink julle weet van beter.”
Hy draai na oupa.
“En jy, oom Dawid, ek wil van jou en mense niks meer weet nie.”
Daarmee draai hy weg en stap tussen die mense deur na sy wa toe. Vir ‘n paar oomblikke is dit so stil dat jy die nag in die agtergrond kan hoor gebeur. Dan staan oom Servaas op.
“Wel,” sê hy, “Ek is nou nie ‘n man van baie woorde nie, maar as ons hier gaan bly, dan is daar baie waaroor ons moet praat.”
Die vergadering gaan sonder oom Christiaan voort. Die grootmense besluit dat hulle môre sal begin plase uitsit, al met die rivier langs sodat almal toegang tot water kan hê. Hulle besluit ook dat iemand een van die groot tweebeen blaarvreters sal moet skiet sodat ons kan sien of hulle eetbaar is. Verder sal twee groepies verkenners uitgaan om die res van die omgewing te bespied, net sodat ons kan weet wat rondom ons aangaan.
Aan die einde van die vergadering, net voordat almal uitmekaar gaan, is dit Tant Koekie wat opstaan om ‘n paar woorde in te kry.
“Daar’s nog een ding.” kondig sy in haar kenmerkende skril stem aan.
“Sê maar Koekie.” nooi oom Servaas uit.
Tant Koekie is duidelik in haar skik met al die aandag op haar.
‘As ons hier gaan bly.” sê sy, “ sal ons die plek seker darem ‘n naam moet gee. En al die diere en goed. Ek reken ons wil almal seker weet waarvan iemand praat as hulle daarvan praat.”
Die Afrikaner was nog nooit goed met naamgee nie. Ons is ‘n praktiese volkie. Wanneer jy keer op keer moet baklei om aan die lewe te bly, dan het jy nie regtig tyd om kreatiewe name uit te dink nie. Daarom het ons op aarde na dinge gekyk en hulle genoem soos hulle lyk of doen. Die rooibok, die blouwildebees, Swartspruit, Bloubergstrand en natuurlik die mees kreatiewe naam van almal; Tafelberg.
“Ek hoor wat jy sê, Koekie.” antwoord oom Servaas. “Maar wie gaan daaroor besluit. En in elk geval het ons so baie om nou te doen. Ons moet plase uitsit en almal gaan besig wees om hulself in te burger.”
Dit is pa wat op sy stil manier antwoord.
“Die kinders.” Sê hy.
Almal se oë is skielik op hom gerig en hy begin onrustig rondskuif.
“Hoe sê jy nou, Willem? Wat van die kinders?” vra oom Servaas.
“Laat die kinders name gee.” antwoord pa. “Hulle sit in elk geval net rond vir kwaadgeld. Dit sal goed wees vir hulle om iets te hê wat hulle besig hou.”
Jy kan aanvoel hoe die aandag van die jongspan, wat teen hierdie tyd lankal nie meer by die vergadering is nie, skielik opnuut gefokus raak. Watter wonderlike plan is dit nie. Jasmien, wat na haar pa se wegstap ietwat ongelukkig gelyk het, sit met ‘n groot glimlag op haar gesig.
“Dink jy dis ‘n goeie idee, Willem?” vra tant Koekie, “Hulle is maar net kinders. Wat weet hulle nou van naamgee?”
Jy kan hoor hoe die kinders asem ophou. Teen hierdie tyd het elkeen van ons reeds ‘n paar name in gedagte. Sal tant Koekie ons dan so ‘n plesiertjie ontneem? Maar ons kommer is verniet. Pa sit rustig die nag en intuur voordat hy antwoord.
“Wat maak dit saak, tant Koekie?. Dis maar net ‘n spul name. En ek reken ons kan hulle daarmee vertrou. Dis nie asof ek of jy gaan tyd kry vir dit nie.”
Die mense is stil. Pa het hulle oortuig.
“Nou ja,” praat oom Servaas, “Dan is dit so. Klein-Chris!”
Klein-Chris kom regop waar hy ‘n entjie van ons af gesit het.
“Ja oom Servaas?”
Oom Servaas glimlag vir hom.
“Ek dink jy sal maar moet beheer vat van die naamgee storie.”
Klein-Chris stry nie. Dit is duidelik dat hy nie ingenome is met sy nuwe amp as voorsitter van die naamgee-komitee nie, maar mens praat nie teë met ‘n grootmens nie. Minute later gaan die vergadering uitmekaar en die mense staan so stuk-stuk rond en gesels. Almal weet tog dit is eers ná die vergadering dat die werklike praat gepraat word. Dit is eers dan dat elkeen sy opinie wil lig. So tussen hulle vriende, waar hy kan kla en wonder oor die besluite wat geneem is terwyl hy doodstil gesit het.
Klein-Chris het nie nodig om die kinders bymekaar te roep nie. So opgewonde is almal dat ons sommer so vanself saamdrom. Maar om ons bymekaar te bring is nie sy grootste probleem nie, want almal is besig om sommer so deurmekaar te praat. Almal behalwe ek en Stella. Stella omdat sy van nature stil is, en ek omdat ek te besig is om hom fyn dop te hou.
Klein-Chris sal binne die volgende maand sy sestiende verjaarsdag vier. Op daardie ouderdom is jy so te sê ‘n man, ‘n grootmens. Maar dit is net in jou kop. Die grootmense rondom jou beskou jou dikwels nog as ‘n kind. En dit terwyl hulle meer en meer grootmens verantwoordelikhede op jou skouer laai. Vir hom is dit duidelik ietwat van ‘n onreg dat hy moet kind-oppasser speel. Dit moet nog moeiliker wees omdat hy glad nie soos sy pa is nie. Oom Christiaan is ‘n politikus. Hy is ‘n man wat daarvan hou om gesien en gehoor te word. Maar Klein-Chris is ‘n stil en teruggetrokke jongman. Vir hom is die middelpunt van belangstelling die een plek waar hy nie wil wees nie. As ‘n mens van ‘n plek in jou kop kon wegtrek, dan sou hy sekerlik vanaand nog sy wa pak.
Hy staan vir ‘n paar oomblikke na die deurmekaar gepraat en luister. Miskien wag hy dat ons moet stil raak. Miskien is hy onseker wat om te doen. Op die ou einde draai hy op sy hakke om en begin wegstap.
“Waar gaan jý heen?” roep Jasmien agter hom aan.
Skielik is almal stil en alle oë op hom gerig. Hy gaan staan en draai weer na ons toe.
“As julle nie wil stilbly nie, dan loop ek maar.” Sê hy kwaai.
“Maar ons moet naamgee.” antwoord Jasmien.
Hy kyk haar stip aan.
“As julle wil naamgee, dan moet julle eers begin om julle te gedra. Almal kan nie so gelyk wil praat nie.”
“En wie’s jy nogal om so baas te speel.” sê Jasmien onbeskof.
Hy antwoord nie. Hy draai net om begin en weer aanstap. Dit moet op hierdie oomblik wees dat Jasmien besef het sy het te ver gegaan.
“Nou goed dan, ons sal ons gedra.” praat sy agter hom aan.
Hy stop weer en draai om.
“As ons hierdie ding reg gaan doen dan moet ons dit ernstig opvat.” sê hy terwyl hy nader stap.
Tussen die kinders knik koppe asof hulle besig is om van nekke af te val.
“Nou goed.” gaan hy voort. “Kom ons gaan sit.”
‘n Minuut later sit die hele toekoms van die trek in ‘n kring rondom Klein-Chris ‘n entjie van die vuur af.
“Ek het ‘n baie mooi naam vir die roofdier wat julle vandag geskiet het.” breek Jasmien sommer dadelik haar belofte. Hy kyk haar kwaai aan.
“Ons gaan nie sommer net so holderstebolder naamgee nie.” raas hy, “Ons gaan dit reg doen.”
“Nou hoe wil jy dan maak?” daag sy hom uit.
Hy fokus vir ‘n paar oomblikke stip op die grond voor hom. En wanneer hy opkyk, kan ek sien dat sy plan in plek is.
“Ons gaan eers besluit wat daar alles is wat moet naamkry.” Sê hy, “En dan gaan jy wat Jasmien is by ma ink kry en dit alles neerskryf sodat ons daarvan kan rekening hou. En dan gaan ons almal mooi daaroor nadink en saam besluit watse name die beste pas.”
Dit is ‘n baie goeie plan. Nie net omdat dit orde in die warboel kindergedagtes skep nie, maar ook omdat Jasmien, wat met ‘n glimlag langs my sit, duidelik voel dat haar spesiale talente nou amptelike erkenning kry. Dit is ‘n belangrike taak om dinge neer te skryf. Sy knik haar kop instemmend. Meteens besef ek dat Klein-Chris ‘n goeie leier sal wees. Enige iemand wat Jasmien in so kort tydjie aan sy kant kan kry, moet ‘n goeie leier wees. Klein-Chris kyk oor die res van die vuil kindergesigte rondom hom.
“Nou goed. Kom ons begin met tien dinge wat moet naamkry. Jasmien sal dit vanaand gaan neerskryf en almal sal oornag aan name dink. Dan besluit ons môre oor hulle.”
“Ag boeta, kan ons nie maar vanaand net een ding naamgee nie? Groot asseblief.” vra Jasmien. Maar hierdie keer is dit nie ‘n uitdaging nie, dit is ‘n versoek. Die res van die kinders beaam dadelik en luidkeels haar versoek. Kinders is nie bekend vir die uitnemendheid van hulle geduld nie. Klein-Chris sug.
“Nou ja toe dan,” gee hy eindelik in, “Kom ons besluit dan maar oor die belangrikste ding. Hierdie nuwe wêreld van ons kan sekerlik nie die aarde genoem word nie.”
Kinders is vinnig om in te val, maar dikwels wanneer die inval met ‘n stuk werk saamgaan, dan raak hulle stil. En dit is wat Klein-Chris begroet; doodse stilte. Hy kyk weer oor die jong gesigte.
“Lyk my ek sal julle maar kans moet gee om te dink.” sê hy terwyl hy begin opstaan.
“Afrikana.”
Dit is Stella wat sag daar langs Willemien praat. Almal se oë is skielik op haar, en soos ‘n skilpad probeer sy om haar kop in ‘n dop in te trek wat nie daar is nie. Klein-Chris gaan weer sit. Agter ons begin Flippie en Gideon aan mekaar stamp en lag.
“Dis ‘n dom naam.” spot Gideon.
Maar Klein-Chris lag nie saam nie.
“Is dit rêrig, Giepie?” vra hy kwaai. “Het jy ‘n beter een?”
Gideon raak stil en so skaam-skaam kyk hy weg.
Klein-Chris wend sy aandag na Stella.
“Hoekom het jy daardie naam gekies?” vra hy sag.
Stella antwoord nog sagter.
“Ons is Afrikaners. Ons kom van Afrika af. En ons praat Afrikaans. As ons die eerste mense hier is, dan moet die plek seker na ons vernoem word.”
Klein-Chris glimlag breed.
“Dit is die beste rede vir ‘n naam wat ek nog ooit gehoor het.” Sê hy.
Ek kan nie help om saam met hom te glimlag nie. Na wat ek laasnag uitgevind het, is sy prysing vir haar goud werd. En Stella? Sy kyk skaam af na die grond toe terwyl die res van die kinders haar voorstel oorweeg.
Hoofstuk 10
Die nuwe dinge wat ons in Afrikana raakloop, begin oor die volgende paar dae een-een naam kry. Die Twee-been wat so rustig aan die boomtoppe staan en vreet, die Gifstert wat ons beeste wil steel, die Sponsboom met sy sagte bas, die ysterboom wat twee mans met byle twee dae sal neem om af te kap, die Skêrbek Aasvoël, Blougras, die Reënboogblom en , oplaas Jasmien se Rothond, wat homself ewe rustig in die laer kom tuismaak het. Elke dag is daar nuwe ontdekkings en nuwe name.
Jasmien skryf getrou elke naam neer en kort voor lank begin die grootmense tot ons groot genot ook om die nuwe benoemings te gebruik. Na die vergadering wat die einde van oom Christiaan se leierskap sou beteken, het hy tog maar besluit om nie te trek nie.
“Sien,” sê oupa, “ek’t mos gesê hy wil net trek om die mense onder sy duim te hou. As hy dan so vas glo aan die trekkery, hoekom het hy dan nie self so gemaak nie?”
Die plase is uitgesit en met die lot verdeel, van die berge in die ooste tot by die berge in die weste en aan weerskante van die rivier. Ons het uitgevind dat mens die vleis van die Tweebeen wel kan eet. Verspieders het tot in die voetheuwels van die berge gaan verken en teruggekom met stories van nog vreemde plante en diere. En Klein-Chris en sy maats het die bestuurders van die ysterskip ontdek…
Die grootmense het ons belet om te gaan kyk. Ons moes so met ‘n draai uitvind van die vreemde klein grys mensies met die groot koppe en groot ronde oë. Maar nadat hulle uit die skip verwyder en begrawe is, kon ons darem gaan kyk waar hulle ontdek is. Dit is in ‘n kleinerige vertrek met groot vensters waar Klein-Chris en die ander hulle gekry het. Orals teen die mure is daar liggies en knoppies en snaakse hefbome. Nadat almal eenkeer gaan kyk het, het die grootmense besluit om die skip se stuurkajuit toe te maak sodat niemand weer daar sal ingaan nie.
“‘n Mens peuter nie met ‘n ding wat jy nie ken nie.” Sê hulle.
Op die twaalfde dag na ons aankoms op Afrikana loop die werkers weg. Vir mense soos ons, wat geen werkers saamgebring het nie, is dit geen ramp nie. Maar vir die ryker garde, wat oor die jare heen meer gewoond geraak het aan opdragte uitdeel as om self te doen, is dit ‘n groot probleem. Oom Christiaan en van die ander mans soek vir twee dae na hulle, maar daar is geen teken van hulle nie. Ek wonder so in die stilligheid oor die hele aangeleentheid. Mens kan seker tog gaan waar jy wil?
Ek, Jasmien, Stella en Willemien sit ons vriendskap met mening voort. Maar die verhouding tussen oom Christiaan en die Vermaaks versleg net verder. Die ding met die Vrieslanders help nie juis nie. Sien, ‘n mens vat nie melkbeeste saam op ‘n trek nie. Melkbeeste is sagte diere. Hulle is nie naastenby so taai soos die Afrikaner-beeste waarmee almal trek nie. Maar pa dink anders. Toe oupa die plaas verkoop het, het pa seker gemaak dat hy sy Vrieslanders behou, en teen oupa se advies in, het hy besluit om hulle saam te neem op die trek. Teen die tyd dat ons van die aarde weggevat is, het drie van hulle reeds gevrek. Maar met ons aankoms op Afrikana het die oorblywende nege gefloreer. En skielik is die Vermaaks die enigste mense waar jy melk kan kry. Skielik het mense allerhande dinge in ruil vir ‘n melkbees aangebied. Maar pa is nie bereid om nou al van sy klein kudde af te staan nie. Hy is egter nie suinig nie. Hy aanvaar hier ‘n paar hoenders en daar ‘n skaap of ‘n sakkie mieliesaad in ruil vir ‘n jaar se melk. En kort voor lank het die Vermaaks ‘n groot trop skape en sommer ‘n klomp hoenders op hok. Skielik is ons, in terme van die mense op Afrikana, ryk.
Dit was ‘n dag voordat die werkers weggeloop het dat oorlede Gam se seun, Jaffat aangekom het om met pa te praat. Saam met hom het hy ‘n sakkie vol goue munte gebring.
“Die kroon sê hy ruil hierdie vir drie melkbeeste.” Het hy gesê.
Pa het die sakkie gevat en daarin gekyk voordat hy dit vir Jaffat teruggegee het.
“Jy kan vir die kroon sê ek stel nie belang in goud nie. Mens kan dit nie eet of drink nie. En in elk geval wil ek nie nou al van my melkbeeste verkoop nie. Sê vir hom so. As hy wil kom praat oor melk, dan kan ons praat.”
Maar oom Christiaan het nooit gekom nie.
Pa steur hom nie veel aan oom Christiaan se kwaadgeit nie, en oupa is maar in elk geval kwaad vir die wêreld. Sover dit die Vermaaks aangaan, is dit in elk geval ‘n klein saak. Dit is eers later dat ek by Jasmien uitvind hoe groot die saak in húlle huis geraak het. Oom Christiaan wil haar selfs belet om by my te kom kuier, maar haar ma het daarvoor ‘n stokkie gesteek.
“Jy kan nie die kinders wil straf vir ‘n grootmens vete nie.”
Ons plaas is reg langsaan die groot ysterskip, en dit is hier, binnekant die koel romp waar moeder die eerste klein skooltjie op Afrikana begin het. As predikantsdogter is sy een van die min vroue wat ordentlik kan lees en skryf. En omdat dit so goed gaan het met ons gesin, kan pa sy invloed gebruik om die kinders van die gemeenskap daar te kry. Tot oom Christiaan, wat nie meer toegang het tot privaat onderwysers nie, stem uiteindelik in dat Jasmien die skooltjie kan bywoon.
Bietjie vir bietjie begin die mense van Afrikana gewoond raak aan die ongewone. Die mens is ‘n wonderlike wese. Wanneer jy geen keuse het nie, dan vat jy dit wat jy het en jy laat dit werk. Ons het geleer dat die Gifsterte nagdiere is, gedurende die dag lê hulle in of naby hulle gate en slaap. Ons het geleer dat die Tweebene vredeliewende diere is wat nogtans jou oes sal vertrap as jy hulle nie uit jou lande hou nie. En ons het geleer hoe om die gestreepte- en wit Platbek vis in die Skoonrivier te vang.
Dit is twee maande na ons aankoms en ek, Jasmien en Willemientjie lê op ons mae op die oewer langs die water met ons arms in die water. Dit is hoe jy Platbekke vang. Jy druk jou hand in die water met jou duim na vore. Wanneer die tandlose vis jou duim byt, dan vang jy hom reg onder sy benerige kakebeen en pluk hom uit die water.
Agter ons het ‘n klein vuurtjie gebrand. Want daar is min dinge so lekker soos die soeterige wit vlees van ‘n Platbek.
“Boeta gaan vanmiddag jou ma sien.” Sê Jasmien sag, versigtig om nie die visse skrik te maak nie.
Ek het Klein-Chris maar min gesien vandat almal begin huis opslaan het. Dit vat ‘n groot klomp werk om ‘n plaas aan die gang te kry.
“Hoekom?” vra ek gemaak ongeërg.
Sy wikkel haar duim ‘n bietjie om die Platbekke se belangstelling te prikkel.
“Hy sê hy wil verder leer van lees en skryf. Hy sê ‘n man moet weet van goeters as hy suksesvol wil wees.” Antwoord sy.
“Nou hoekom kom hy dan nie skool toe nie?” vra Willemientjie.
Jasmien lag saggies.
“Hy’t lankal die goeters geleer wat ons nou leer.” Verduidelik sy. “Hy sê hy’t nie tyd vir kinderdinge nie.”
Sonder dat ek kan verklaar waarom, trek daar ‘n warm gevoel in my gesig op.
“Ek’s seker ma sal hom help.” Sê ek selfbewus.
Die volgende oomblik byt die eerste Platbek. Ek het gryp, pluk en gooi en druk my hand weer in die water. ‘n Platbek sal vrek van te veel suurstof as jy hom net uit die water hou.
“Hy en Vader baklei baie.” gaan Jasmien voort.
“Waaroor dan?” vra ek.
“Hy sê vader is halsstarrig en vader sê hy’s windgat.” antwoord sy.
“Sies!” raas Willemien. “Jy praat lelik.”
“Dis nie ek wat so sê nie.” gaan Jasmien ongeërg voort, “Dis my pa. Hy sê boeta ken nie sy plek nie. Nou die aand wou hy boeta slaan, maar boeta het gesê as pa hom slaan, dan slaan hy terug. Toe sê vader hy kan nie langer onder sy dak bly nie. Nou slaap boeta in die wa.”
“Grootmense slaan te maklik.” dra Willemien haar deel by. “Kyk maar vir Stella.”
Willemien is drie jaar jonger as ons, maar sy is ‘n wakker meisiekind.
“Wat bedoel jy oor Stella.” vra Jasmien.
“Het jy nog nie die blou merke op haar gesien nie?” verduidelik Willemien. “My ma sê haar pa is te hard met haar.”
Hoe hard haar pa regtig met haar is weet net ek en Stella.
“In elk geval,” gaan Jasmien voort, “Boeta sê hy wil sy eie plaas begin, weg van pa af.”
Ek het nie geweet dat daar soveel onmin tussen Klein-Chris en sy pa is nie. ‘n Mens kan sien dat daar ‘n krapperigheid is, maar dit is mos maar hoe dit is tussen jong mense en hulle ouers. Wanneer jy begin grootword, dan moet jy leer om jou eie mens te wees, en dikwels is die mens wat jy dink jy moet wees nie wat jou ouers in gedagte het nie. Dit gebeur in die meeste families. Maar dit gaan verby. ‘n Mens kom oor dit.
“Waar sal hy grond kry?” vra ek, “Die hele grasland is klaar opverdeel.”
Jasmien het haar eerste Platbek oor haar skouer gegooi.
“Ek weet nie.” Antwoord sy terwyl sy haar hand terugdruk in die water. “Hy sê miskien moet hy trek. Hy sê die grasland is nie die enigste plek op Afrikana nie.”
Ek het dikwels gewonder oor Afrikana. Hoe ver strek dit? Wat is daar alles wat ons nie van weet nie? Waar eindig dit? Soms, in die vroegaand staan ek in die lig van die mane en droom oor plekke ver anderkant die berge.
Ek kom laatmiddag by die huis aan. Die tweeling is besig om die beeste op kraal te jaag terwyl Oupa en vader nog ‘n stukkie land omploeg voordat dit te laat word. Dit het goed gereën op die grasland, en pa wil so gou moontlik plant.
”n Mens weet nie hoe lank die reënseisoen hier is nie.” Sê hy. “Ons moet plant terwyl ons kan.”
Hulle het teen hierdie tyd reeds ‘n goeie stuk aarde onder mielies en koring. En agter in die groentetuin is daar pampoen, patats en aartappels. Oupa het selfs ‘n stukkie tabak ook geplant.
Ek loop rustig by die kombuisdeur in, soos mens maak wanneer jy by jou eie huis aankom. By die sponshouttafel wat oupa vir ons gemaak het, sit moeder en Klein-Chris, elkeen met ‘n treksel Witpit voor hulle. Witpit is die plaasvervanger vir koffie, wat teen hierdie tyd lankal opgebruik is. Dit kom van ‘n vaal bossie wat in die voetheuwels van die oosterse berge groei. Die groot geel vrug daarvan is nie juis lekker om te eet nie, maar jy kan die groot wit pit aan die binnekant fyn maal en soos koffie trek. Dit het ‘n aangename neuterige smaak wat my aan grondboontjies herinner.
Met my instap kyk hulle altwee op. Klein Chris lyk goed… vir ‘n mansmens. Sy blonde hare hang amper tot op sy skouers en sy vel is ‘n koperbruin kleur gebrand van al die werk in die son. Hy lig effens uit die stoel.
“Middag.” Sê hy.
“Middag.” Antwoord ek.
Moeder glimlag.
“Chris gaan van nou af twee keer ‘n week hier by ons wees.” Sê sy so amper terloops.
“Ek weet,” antwoord ek skamerig. “Om te kom verder leer.”
“Hoe’t jy geweet?” vra sy.
“Jasmien het my gesê.”
Klein-Chris oftewel, Chris, want hy is definitief nie meer klein nie, kyk effens kwaai na my.
“Daai suster van my is lief vir uitpraat.”
Ek het nie bedoel om haar in die moeilikheid te kry nie. Ek het sommer net gepraat.
“Jy weet mos hoe sy is.” Probeer ek vir haar opkom, “Sy praat maar net. Sy bedoel nie sleg nie.”
Dit lyk darem asof my woorde hom laat ontspan. Hy sluk die laaste van sy Witpit haastig af en kom orent.
“Ek sal moet aanstaltes maak tant Fransie.” Sê hy vir moeder, “Voordat die Gifsterte begin loop.”
Moeder staan op en skud sy lomp uitgestrekte hand.
“Als reg Chris. Dan sien ek jou oormôre?”
Hy knik net.
“Ja tant Fransie, en dankie nogmaals.”
“Dis geen probleem nie,” antwoord sy voordat sy na my draai.
“Saartjie, hoekom loop jy nie so ent saam Chris nie.”
“Dis nie nodig nie, tant Saartjie.” Keer hy, “Ek ken die pad.”
“Nonsens.” Sê moeder, “Dis slegte maniere om iemand sommer so by die deur te groet.”
En daarmee is my lot geseël as die een wat vir Chris moet afsien. Ons stap saam by die huis uit en nadat hy vir vader en oupa gegroet het, loop ons so met die paadjie langs terwyl hy sy perd saam lei. Ek is ietwat ontsteld met moeder. Wat het ek dan nou vir die jongman te sê? Ek is nog nie eers seker of ek van hom hou nie. Ek meen, hy is nie te onaardig nie, maar hy is ‘n moeilike mens om te peil. Daar is tye dat sy dapperheid en denke my beïndruk, maar hy kan ook maar soms ‘n buffel wees.
“Jy moenie met Jasmien baklei nie.” dink ek uiteindelik aan iets om te sê.
“Ek sal nie.” Antwoord hy sag.
Ons stap nog ‘n stukkie verder, sonder om te praat. By die groot ysterboom wat die grenslyn van ons grond aankondig, gaan hy staan en kyk na my.
“Het jy ‘n kêrel?” vra hy sommer so uit die bloute.
‘n Mens vra nie sulke goed uit die bloute uit nie. Dit is slegte maniere, want dit laat altyd iemand bloos. Ek kan voel hoe die rooi teen my wange begin opkruip. Gelukkig is ek nie alleen nie. Sy koperkleurige nek kry ook ‘n rooi skynsel, en dit is beslis nie sonbrand nie.
“Dis mý saak.” antwoord ek voordat ek kan dink.
“Ek vra maar net.” Keer hy, “Dis nie nodig om my kop af te byt nie.”
Daarmee klim hy op sy perd se rug.
“Dan groet ek maar.” praat hy van bo af voordat hy die dier van my af wegdraai.
Hy is reeds ‘n entjie weg wanneer ek agter hom aanroep.
“Ek het nie.” Hy stop en draai die perd om.
“Wat?”
“Ek sê ek het nie.”
“Jy het nie wat nie?”
Ek het nie ‘n kêrel nie.”
Hoofstuk 11
Winter het gekom. Dit is vyf maande nadat ons op Afrikana geland het, dat ek dit besef. Mens kom sulke dinge agter, veral wanneer dit begin sneeu. Dit is nie vir my vreemd nie, want in die Kaap het ek een of twee keer sneeu gesien. Wat wel vreemd is, is dat hierdie sneeu anders is. Dit lyk presies dieselfde as op aarde. Dit lê spierwit op die grasland, maar dit is nie daardie yskoue, deurdringende gevoel wat mens kry nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is koud. Maar dit is ‘n snoesige koue. Dit is ‘n koue wat jou teen sy bors vasdruk.
Ten spyte van die winter kom Chris, soos hy duidelik gemaak het hy genoem wil word, elke Dinsdag en Donderdag vir ‘n uur of twee by moeder sit.
“Hy’s ‘n baie slim seun.” Kondig moeder aan. “Hy gaan ver gaan in die lewe.”
En nadat hy klaar is met sy lesse, maak hy altyd tyd om met my te gesels. Aan die begin is dit vir my ietwat vreemd om met ‘n jongman te sit en praat. Ek weet nie mooi wat ‘n mens nou eintlik vir hulle moet sê nie. Maar ‘n mens raak gewoond, en gemaklik. Met die loop van tyd begin ons al hoe meer tyd saam spandeer. En tot my verbasing is gewere, jag en die plaas nie al wat ‘n man het om oor te praat nie.
Jasmien, wat oor die algemeen maar min dinge raaksien wat rondom haar aangaan, veral as dit haar nie interesseer nie, let wel die verandering in my roetine op.
“Is boeta jou kêrel?” vra sy eendag sommer terloops terwyl ek, sy en Stella rondom die skip speel. Ek kyk haar verbaas aan.
“Hoekom vra jy so?”
Sy trek haar skouers ongeërg op.
“Jy gaan elke Dinsdag en Donderdag vroeg huis toe.”
Ek weet nie wat om te sê nie, omdat ek nie die antwoord weet nie. Hy het na daardie eerste keer by ons huis nooit weer gepraat oor kêrels nie. En ek weet nie wanneer iemand jou kêrel word nie. Hy is wel die enigste jongman saam met wie ek tyd spandeer, maar is dit dan wat ‘n kêrel is? Hoe dit ook al sy, die feit dat Jasmien die vraag vra, laat my dink. Ek besef vir die eerste maal dat ek nie eintlik sal omgee as hy my kêrel is nie. Ek besef dat ek van hom hou. Nie dat ek enigsins gereed is om dit hardop te erken nie.
“Hy’s nie my kêrel nie.” Antwoord ek omdat ek nie lus is vir die onderwerp nie.
Dit lyk nie of sy my antwoord betwyfel nie.
“Ek vra maar net.” gaan sy rustig voort,” want pa is baie kwaad.”
“Waaroor is hy dan kwaad?”
Sy tel ‘n handvol sneeu op en gooi dit teen die romp van die skip.
“Hy het nou eers uitgevind dat boeta by jou ma kom leer en dat boeta van jou hou. Hy sê geen Koekemoer sal onder sý dak uit agter ‘n Vermaak aan vry nie. Hy sê boeta verraai die familie.”
Van alles wat sy sê, steek net een ding in my kop vas. Dit is ‘n ding wat my hart laat bokspring.
“Wie sê hy hou van my?” vra ek voordat ek myself kan bedink.
Sy lyk steeds ongeërg.
“Boeta.”
As ek my gesig op hierdie oomblik in die sneeu kan druk, sal dit gesmelt het.
“Wanneer het hy so gesê?”
“Gisteraand toe vader hom aangevat het oor sy geleerdery by jou ma.”
Toe ons uit die Kaap weg is, het ek myself belowe om nooit weer lief te word vir ‘n seunskind nie. Dit is net te seer as jy hulle verloor. Maar staan my voorneme nie meer so sterk nie. Dit is maar altyd moeilik om Jasmien se woorde sonder ‘n tikkie sout te aanvaar. Nie dat sy iemand is wat lieg nie. Dit is net dat sy die meeste van die tyd in haar kop lewe. En soms lyk en klink dinge in haar kop anders as vir ander mense. Nietemin maak haar woorde ‘n fladdering in my maag wakker.
“Hy’t nog nooit vir my so gesê nie.” probeer ek myself terugruk na die werklikheid.
“Miskien is hy skaam.” verduidelik Jasmien. “Hy’s nie eintlik een vir woorde nie. Ek het ‘n kêrel.”
Dit is die eerste wat ek daarvan gehoor. Dit is ook ‘n goeie geleentheid vir my om die aandag van my eie hartsake af te kry.
“Wie’s jou kêrel?”
“Gideon.”
“Gideon? Chris se vriend?”
“Ja.”
“Van wanneer af?”
“Vandat hy my gevra het.”
“En wat sê jou pa?”
“Hy sê as daai laitie dink hy gaan sy dogter kry dan skiet hy hom met sy laaste paar lood koeëls.”
Ons lag saam.
“En wat van jou Stella, het jy al ‘n kêrel?” vra ek.
Stella skop met haar kaal voet in die sneeu.
“Ek soek g’n man nie.”
Ek voel dadelik sleg. Soms sê mens goed sonder om te dink. Maar ek het nie veel kans om langer sleg te voel nie, want die volgende oomblik skree ‘n ding wat ons nog nooit gesien het nie, in die lug bokant ons. Ons al drie kyk verskrik op. Dit is ‘n voël. Dit moet wees, want hy vlieg. Maar dit is nie hoe ‘n voël moet lyk nie. Dit is ‘n dier so groot soos ‘n Afrikaner bul. Die blou vlerke is massief en klap onophoudelik om die swaar dier in die lug te hou. Die stert is dun en lank en die kop lyk soos die van ‘n groot hond. Die vier bene eindig in groot, skerp kloue. En in daardie spesifieke vier kloue is daar op hierdie oomblik ‘n volgroeide skaap.
Die Winterdraak, soos ons hom die volgende dag in die klas doop, bring ‘n nuwe krisis vir ons aan die lug. Met die geskiet van Tweebene en Gifsterte het die gemeenskap se loodkoeëls begin opraak. En in Afrikana is daar geen bron van enige iets harder as die Ysterboom nie. Van die mans het probeer om van die staal uit die skip se romp koeëls te maak, maar dit is te lig om enigsins akkuraat te wees. Die jonger mans, onder wie Chris tel, het vir hulle swaarde en messe uit die skip se staal gemaak en lang spiese uit die getemperde hout van die ysterboom. Hiermee kan jy ‘n Gifstert maklik baasraak as jy uit die pad van sy angel bly. Maar dit sal nie baat teen ‘n ding wat vlieg nie. En al het hulle genoeg lood gehad, hoe skiet jy ‘n ding uit die lug uit met ‘n voorlaaier?
Boonop weet niemand hoeveel van hierdie drake daar is of waar hulle nes maak nie. En niemand weet wanneer hy weer sal toeslaan nie. Op die eerste volle gemeenskap vergadering sedert daardie gewraakte aand toe oom Christiaan sy setel verloor het, word daar besluit om te doen wat die Afrikaner so dikwels doen; wag en kyk. Nie dat daar veel anders is wat ons kan doen nie. Jy kan nie teen iets baklei as hy nie voor jou staan nie.
Daardie middag kom Chris soos altyd vir sy les. En nadat hy klaar is sit ek vir hom by die beeskraal en wag. Daar is dinge om oor te praat. Maar wanneer hy uiteindelik by my uitkom, het my moed my reeds begewe. Mens kan mos nie sommer net so uit die bloute vir iemand oor sulke goed vra nie.
“Hoe gaan dit?” groet hy my op sy stil manier.
“Goed dankie.” antwoord ek beleefd. Die manier waarop hy na ‘n mens kyk, maak dat jy met hom beleefd wil wees.
“Wil jy ‘n entjie gaan stap?” vra hy.
“Ons kan maar.” Antwoord ek.
Ons loop so al met die toegesneeude beespaadjie langs rivier se kant toe. Hy is stil. Ek ook. Ek brand om hom te vra oor die kêrel besigheid. Maar wat as die hele storie net in Jasmien se kop gebeur het? Wanneer ons by die water kom, vryf hy vir my die sneeu van ‘n klip af sodat ek kan sit.
“Ek hoor Jasmien het ‘n kêrel.” Dit voel soos die veiligste manier om die onderwerp te benader. Hy knik.
“So hoor ek ook maar.”
Hy kom langs my sit, sy warmte hier neffens my ontval my nie.
“Het Gideon jou dan nie gesê nie?” beur ek voort.
Weer knik hy.
“Hy’t my gesê, maar jy weet mos hoe dit met Jasmien is. Sy verander elke uur haar dink. Ek het nie geweet dis rêrig so nie. Ek het dit maar eers ‘n paar dae terug by haar ook gehoor.”
“O,” antwoord ek omdat ek nie ‘n manier in my kop aanmekaar kan sit om die onderwerp op ons van toepassing te maak nie.
“Wat dink jy van die Winterdraak?” vra ek net om iets te sê.
Hy soek ‘n paar klippies onder die sneeu uit en begin om hulle een-een in die half toegesneeude rivier te gooi.
“Wil jy dan nie meer oor kêrels en nooiens praat nie?” vra hy sonder om na my te kyk.
“Ons kan maar as jy wil.” Probeer ek om ongeërg te klink, maar binne my bors bons my hart so dat ek seker is hy kan dit hoor. Hy glimlag.
“Ek wil.” Sê hy.
Ek staar stip voor my uit, in volle afwagting.
“Ek en jy ken mekaar nou al lank.” gaan hy voort, “En ek hou van jou.”
Nou klop my hart in my keel.
“Ek hou van jou ook.” kry ek dit uiteindelik uit.
“Ek’s bly om dit te hoor.” Sê hy. “En ek het gewonder of jy nie dalk my nooi wil wees nie.”
Daar is dit! Die oomblik waarop ek besef dat ek my belofte aan myself nie gestand sal doen nie. Ek aarsel ‘n oomblik, want mens wil die regte woorde uitdink om so ‘n belangrike vraag te antwoord. Hy kug selfbewus.
“Ek wil.” is al wat ek kan uitkry.
Daarna sit ons lank net daar op die koue klip, sonder woorde. Woorde is oorbodig. Dit voel reg. Dit voel goed. En ek is verlig dat die groot gepraat wat ek voorsien het sommer so gemaklik tussen ons kon verloop.
Heelwat later, op pad terug huis toe, val Jasmien se woorde my by.
“As jy wil kan ons dit maar vir eers stil hou.” Sê ek.
“Hoekom wil jy dit stilhou?” vra hy.
Ek gaan staan stil en kyk in sy oë.
“Ek wil nie die oorsaak wees dat jy en jou pa stry nie.”
Hy het glimlag en sit sy hand teen my wang. ‘n Opgewonde skok trek soos weerlig deur my liggaam.
“Moet jou nie bekommer oor my pa nie.” Paai hy, “Hy en ek het nog nooit langs een vuur gesit nie. En in elk geval, hy het geen reg om vir my te besluit nie.”
“Maar wat as hy jou van die plaas afsit?” vra ek bekommerd.
Hy skud sy kop.
“As hy my van die plaas af jaag, dan is dit sý verlies. Vandat die werkers weggeloop het, doen ek die meeste van die werk op die plaas. En in elk geval, ek beplan nie om vir altyd daar te bly nie. Ek het in elk geval klaar met jou pa gepraat oor ons. Dis al toestemming wat ek nodig het.”
Ek is opreg verbaas.
“Wanneer het jy met hom gepraat?”
“Vroeër vandag, toe ek hier aangekom het.”
“En wat het hy gesê?”
Hy glimlag.
“Vir my om te weet en vir jou om uit te vind.’
“Ag toe sê my.”
Hy vat my aan die hand en begin aanstap.
“Hy het gesê as ek met jou mors gaan hy me gatvelle aftrek.”
“Ag toe,” lag ek, “hy sou nie so iets sê nie.”
Hy lag saam met my.
“Hy’t regtig so gesê.”
“En?’
“En wat?”
“Is jy nie bang nie.”
Hy skud weer sy kop.
“Ek het niks om voor bang te wees nie, want ek sal nooit met jou mors nie. Jy’s dan my meisiekind.”
Ek, Saartjie Vermaak, is Chris Koekemoer se meisiekind. En ek kan nie stry nie, ek hou baie van die idee.
Die liefde is ‘n snaakse ding. Sterker as enige iets op aarde, neem dit jou op ‘n reistog wat net as hemels beskryf kan word. Dit omvou jou soos ‘n warm kombers teen die winterkoue. Dit lig jou voete op, en neem jou op ‘n wonderskone tog oor die verre horison. Dit plaas ‘n ewige glimlag op jou lippe, en dit koester jou teen alle gevaar.
Vir my is die reis ongelooflik. Soveel so dat my familie en my vriendinne opslag die verskil in my agterkom. Gelukkig vir my weet die grootmense in my gesin reeds waaroor dit gaan. En hulle sê absoluut niks daaroor nie. Ek kan sien hoe hulle nou en dan met mekaar glimlag. Ek kan sien hoe moeder daaroor blom. Maar dit pla my nie. Niks pla my nie.
Nie eers die snaakse kyke wat ek die volgende dag van my vriendinne af kry, kan my steur nie. Ek kan hulle seker vertel van my en Chris, maar ek weet hulle sal uiteindelik self daarvan uitvind. Vir hierdie eerste paar dae wil ek dit net vir myself hou. Dit is soos ‘n kosbare juweel wat ek teen die wêreld moet beskerm.
Hoofstuk 12
Aan die begin van ons verhouding sê oom Christiaan niks. Ek reken hy het gesit en wag dat dit, soos so gereeld met jongmense gebeur, vanself tot ‘n einde kom. Maar ek en Chris kom teen sy wense in, net nader aan mekaar. Daar is nooit ‘n oomblik van twyfel in my hart oor ons nie. Daar is geen verveeldheid of baklei nie. Ons bring al hoe meer tyd saam deur. En dit is goed.
Die winter hou net drie maande aan voordat die lente aanbreek. Die reën kom, die boere plant en die diere teel aan. Pa se melkkoeie raak in die eerste jaar almal dragtig. En teen vroegsomer hardloop sewe klein swart en wit kalfies al agter hulle onderskeie ma’s aan. Die ander diere teel ook mooi aan. Oupa en pa begin om die plaas af te kamp. En moeder begin kaas en botter maak.
Dit is nie net die Vermaaks met wie dit goed gaan nie. Die hele grasland gaan vorentoe. Maar daar is ook ‘n paar dinge wat agter bly. Soos die geloof. Dit is moeilik om te glo wanneer alles wat jy in die Bybel gelees het omvergegooi is. Met die tyd lees mense al minder, bid minder en praat minder oor die Bybel. Net ‘n paar gesinne leef nog sterk Bybels. Die laaste lood koeëls en buskruit is oor die winter opgebruik en al waarvoor ‘n geweer nou goed is, is om mee te slaan. Die vete tussen oom Christiaan en die Vermaaks staan steeds sterk. En Stella word net stiller.
My geluk saam met Christiaan ten spyt, bekommer ek my oor haar. Sy kom steeds skool toe met blou hale oor haar bene. Sy loop steeds sommige dae soos ‘n ouvrou van die seer wat haar pa haar aandoen. Maar in my hart glo ek dat sy die fisiese pyn sal kon verduur, as hy net wil ophou om haar siel so te martel. Die ewige hartseer in haar oë spook in die aande by my. Uiteindelik kan ek dit nie hou nie. Ek moet iemand vertel. En daar is net een met wie ek so iets kon deel.
Ek en Chris sit by die rivier, op die einste klip waar hy my gevra het om sy nooi te wees. Hy is besig om ‘n mooi man te word. Sy sterk liggaam en sy sterk gemoed getuig van iemand wat weet wat hy in die lewe wil hê.
“Daar’s iets wat ek jou moet vertel.” praat ek sag teen sy skouer.
Hy kyk na my af met daardie helderblou oë wat tot binne my kan sien.
“Vertel.” Sê hy.
“Dis iets groots.” praat ek weer.
“Ek luister.” antwoord hy sag.
“Dit gaan oor Stella.”
“Wat van Stella.”
“Oor wat haar pa aan haar doen.”
“Bedoel jy die geslanery?”
“Hoe weet jy van dit?” vra ek.
“Mens moet blind wees om dit nie raak te sien nie.” antwoord hy.
Ek is beïndruk. Mansmense is gewoonlik nie so oplettend nie. Maar ek skud my kop.
Dit gaan nie daaroor nie.” gaan ek voort. “Dit gaan oor iets anders wat hy aan haar doen.”
Hy kyk weer na my, dieper as voorheen.
“Iets anders?” vra hy, “Wat kan erger wees as die slanery?”
“Lelike dinge Chris. Ek kry eintlik skaam om daaroor te praat.”
“Lelike dinge soos?”
Ek aarsel vir ‘n oomblik. Is ek besig om my vriendin se vertroue te breek? Maar ek weet dat hy die een mens is op wie ek kon staatmaak.
“Grootmens dinge.” antwoord ek lomp.
Vir ‘n oomblik kyk hy onseker na my, en dan gaan die lig in sy oë aan. Ek kan sien hoe sy brein sukkel om dit wat ek gesê het te verwerk. Ek verstaan, want ek is self daardeur die nag toe sy my vertel het. Hoe kan dit dan anders wees? Dit is so verregaande, so totaal ondenkbaar, dat dit ‘n tydjie neem om die gedagte aan die werklikheid te koppel. Daar kom ‘n diep frons oor sy voorkop lê.
“Hoe lank gaan dit al aan?” vra hy. Ek kan die kwaad in sy stem hoor.
“Ek weet nie,” antwoord ek, “maar dit het al voor die trek begin.
“Hoekom praat sy nie?” vra hy.
Ek skud my kop.
“Ek weet dit ook nie. Ek dink sy’s bang. Ek dink sy’s skaam. En wat maak sy as niemand haar wil glo nie? Jy weet hoe mense is. Hulle maak liewer asof iets nie bestaan nie as om dit aan te vat.”
Hy staar vir ‘n oomblik in stilte voor hom uit. Ek weet wat in sy kop aangaan. Wanneer jy iemand liefhet soos wat ek hom liefhet, dan leer jy vinnig hulle gedagtes ken. Daar is mense wat die verkeerd in die lewe raaksien, maar nooit iets daaromtrent doen nie. Die Afrikaner is goed daarmee. Ons sien, maar ons meng nie in nie. Chris is anders. Wanneer hy die onreg raaksien, dan doen hy iets daaromtrent.
“Vertrou jy my.” vra hy stil.
“Jy weet ek doen.” Antwoord ek.
“Jy weet ek kan die ding sommer net so los nie?”
Ek weet.
Heelwat later kom ons by die huis aan. Chris soek pa by die melkkraal op en lei hom aan die arm van my af weg. Ek is bekommerd, baie bekommerd. Chris is soos ‘n ridder uit die ou dae. Hy sal geen onreg ongestraf laat gaan nie. En pa? Pa is ‘n pa. Vir hom is die onskuld van ‘n kind heilige grond. Die wete dat die twee van hulle besig is om die grootste onreg denkbaar te bespreek, moet my onrustig maak. Ek vertrou albei van hulle met my hele hart. Maar wanneer twee opregte mans by so ‘n diep ongelukkige saak betrokke raak, dan kan dit in ‘n treurspel eindig.
Hulle praat lank. Ek weet waaroor hulle praat, en die onrus vreet aan my. Ek wou net die regte ding doen. Maar hoe sal Stella daaroor voel? Het ek haar verraai? Na wat vir my soos ‘n ewigheid voel, draai die twee van hulle om. Vader is reguit die huis in, en Chris stap na die perdekamp en begin om pa en oupa se perde op te saal. Ek kan nie langer die spanning verduur nie. Ek stap senuagtig nader na waar hy besig is met die saals.
“Wat gaan julle doen?” vra ek prontuit.
Hy kyk oor sy skouer na my.
“Ek dog jy vertrou my.” Sê hy.
Ek is ietwat afgehaal.
“Dit gaan nie oor vertroue nie.” Antwoord ek, “Ek wil maar net weet.”
Hy draai om en kyk my met diep, hartseer oë aan.
“Ons gaan die regte ding doen.” Sê hy.
“Ek gaan saam” kondig ek aan.
Hy is besig met die perde, sy rug op my gekeer.
“Jy kan nie saamgaan nie. Dis nie ‘n plek vir ‘n vrou nie.”
“En hoekom nogal nie?”
“Want dit kan gevaarlik raak. Oom Stefan is ‘n moeilike man.”
“Dis juis hoekom ek moet saamgaan.”
Hy draai weer om en kyk lank na my.
“Ek verstaan nie mooi nie.” Sê hy.
Ek staan nader, sit my hand op sy sterk skouer.
“Stella is ‘n meisie. Sy is bang en sy is skaam. As julle sonder my daar aankom gaan dit haar net ontstel, en sy sal nie praat nie.”
Hy dink ‘n oomblik voordat hy omdraai om voort te gaan met die opsaal.
“Gaan praat met jou pa,” sê hy, “Ek saal solank jou perd op.”
‘n Rukkie later ry ons by die huis weg, ek, Chris, vader en Oupa Dawid. Agter sy perd lei Chris ‘n vyfde opgesaalde perd saam. Ek is op my senuwees. Dit is ek wat hierdie hele ding aan die gang gesit het. Dit is ek wat uit my beurt gepraat het. En daar is soveel dinge wat kan verkeerd loop. ‘n Mens gaan vat nie maklik ‘n man by sy eie huis aan oor wat hy daar doen nie. Ek kyk angstig na Chris. Sy gesig is stoer. Ek kan geen emosie daar lees nie.
‘n Halfuur later draai ons by die Van der Watts se hek in. Die laaste entjie tot by hulle huis is vir my ‘n marteling. Konfrontasie is nie vir my nie. Voor die huisie wat ‘n entjie van die rivier af staan, kom ons tot stilstand. Oom Stefan, wat seker die perde moes gehoor het, kom alleen by die deur uit.
“Wat soek julle?” vra hy bars terwyl hy sy arms voor sy bors vou.
Chris klim af van sy perd af en stap ‘n entjie nader.
“Naand Oom.” Groet hy.
“Ja naand.” antwoord oom Stefan nors. “Ek vra wat soek julle.”
Chris haal sy hoed af en stoot sy hand deur sy hare. Ek ken hom teen hierdie tyd goed genoeg om te weet hy probeer sy bes om sy humeur te beteuel.
“Ons kom haal vir Stella, Oom.” val hy sommer met die deur in die huis.
“Wat?”
“Ek sê ons kom haal vir Stella.”
Daar is ‘n diep trek van verbasing en ‘n groot stuk kwaad op oom Stefan se gesig.
“Om wat te gaan maak?” vra hy.
Chris sit sy hoed terug op sy kop en kyk die ouer man stip in die oë.
“Om niks te gaan maak nie, Oom. Sy gaan van nou af by oom Willem hulle bly.”
Ek weet nie van daardie deel van die plan nie. Ek is verbaas, maar nie so verbaas soos oom Stefan nie.
“Wat sê jy?” vra hy.
“Jy’t my gehoor oom Stefan.” antwoord Chris met gebalde vuiste. Ek kan sien hoe hy sukkel om homself terug te hou.
Oom Stefan tree uitdagend nader, sy vuiste langs sy sye gebal.
“Wie is jy om my kind hier te wil wegvat, Koekemoer? Dink jy ek gaan sommer net terugstaan vir jou en die Vermaaks?”
Chris staan nie ‘n tree terug nie. En wanneer hy praat is sy stem ‘n sagte sisgeluid.
“Dis presies wat ek dink.” Antwoord hy, “Dis nou as jy nie wil hê ek moet die hele gemeenskap gaan vertel waarmee jy hier doenig is nie.”
Vir die eerste maal is daar onsekerheid op oom Stefan se gesig. Hy weet duidelik waaroor dit gaan, en Chris se dreigement laat hom dink. Maar hy is ‘n hardkoppige man.
“En wie sê vir jou hulle gaan jou storie glo?” probeer hy.
Chris kyk meteens oor oom Stefan se skouer. Ek volg sy blik. Daar in die deur staan Stella en haar ma soos twee verskrikte voëltjies in ‘n kuip. Ek weet nie hoe lank hulle daar is nie, maar dit is duidelik hulle het genoeg gehoor om te weet wat aangaan.
“Oom Stefan,” praat Chris, “Ek gaan nie hier met jou staan en stry nie. Ek vat vir Stella. Dis hoe dit is. As jy daaroor wil redekawel, doen dit. Ek is seker die gemeenskap sal graag daarvan wil weet. En as jy dink om te baklei, dan moet ons maar. Maar ek en jy weet altwee dat jou vuiste net regstaan vir ‘n vrou. Dis mos maar hoe ‘n lafaard maak.”
Op hierdie oomblik klim pa en oupa van hulle perde af en begin nader gestap. Ek volg hulle voorbeeld gevolg, nie omdat ek wil help baklei nie, maar omdat ek nader aan Stella wil kom.
“Wil julle dan nou drie teen een kom baklei?” wend oom Stefan sy laaste bietjie durf aan. Pa skud sy kop.
“Nee Stefan. Hierdie jongman is mans genoeg vir jou. Ons is maar net hier om toe te sien dat hy jou nie doodslaan nie.”
In oom Stefan se oë is dit duidelik dat hy besig is om sy opsies te oorweeg. Mens maak so wanneer jy in ‘n hoek gedryf is. Ek staan stokstyf langs pa, my oë stip op Stella. Ek probeer om die oordeel in haar te lees vir my verraad, maar daar is geen oordeel nie. Daar is niks.
Skielik gee oom Stefan ‘n tree agteruit en draai van ons af weg. In die deur staan die twee vroue hom en aanstaar. Hy gee hulle net een vuil kyk en begin wegstap van ons almal af.
“Vat die kind!” raas hy kwaad oor sy skouer, “Sy’s in elk geval net ‘n pyn in die gat.”
Sonder om iets te sê loop Stella se ma agter hom aan. En daar staan Stella, so alleen en weerloos.
“Kom jy Stella?” vra Chris sag.
Vir ‘n oomblik twyfel sy, maar net vir ‘n oomblik. Dan knik sy. En soos daardie einste voëltjie wat uit die kuip vrygelaat is, hardloop sy in my arms in met ‘n snik wat haar bors ontsnap. ‘n Kort rukkie later, nadat ek en Stella die nodigste van haar goed uit die huis gaan haal het, is ons op pad terug huis toe.
Niemand praat nie. Dit was nie een van daardie tye waar praat nie nodig is nie. Dit is een van daardie oorwinnings wat geen vreugde bring nie. En wanneer ons by die huis aankom, wag moeder en my drie broers ons buite die huis in. As Stella bang was dat daar ‘n stigma aan haar sal kleef, dan het sy die Vermaaks verkeerd opgesom.
Hoofstuk 13
In die begin, toe ons op Afrikana aangekom het, was daar maar min behoefte vir die gemeenskap om bymekaar te kom. Almal was besig om hul eie lewens oor te begin. En dit vat ‘n groot klomp werk. Maar na ‘n jaar is daar reeds vyf nuwe babas, drie huwelike en twee begrafnisse, tekens van ‘n gesonde en groeiende gemeenskap. Maar wanneer jou blyplek, kos en toekoms verseker is, dan begin sommige mense om te krap. En soms krap hulle aan die verkeerde mens.
Dit is die dag na Chris se sewentiende verjaarsdag dat die ruiter verby kom om ons na die skip toe op te roep vir ‘n vergadering. En die volgende middag kom die gemeenskap vir die eerste maal sedert die Winterdraak probleem weer almal bymekaar.
Ek en Jasmien soek mekaar soos gewoonlik dadelik op. Ons sien mekaar minder vandat ek en Chris en sy en Gideon begin kuier het. Met die groet kan ek al sien dat sy brand om my iets te vertel.
“Saartjie,” sê sy terwyl ons mekaar ‘n drukkie gee, “Jy gaan nie glo nie.”
Ek glimlag. Sy sal nooit verander nie.
“Wat sal ek nie glo nie?” vra ek.
Met Jasmien hoef jy nooit lank te wag om nuus te hoor nie. Sy is vrygewig met wat sy weet.
“Moeder is swanger.”
Dit ís verbasende nuus. Nie omdat haar ma reeds sewe-en dertig jaar oud is nie, want vrouens kry kind tot in hulle vroeë veertigs, maar omdat daar na Jasmien nie weer ‘n baba in die Koekemoer huishouding was nie. Nietemin, ‘n nuwe baba is altyd iets om oor bly te wees. Maar hoekom het Chris my nie gesê nie?
“Ooee,” antwoord ek bly, “Jy’s seker baie opgewonde.”
Jasmien knik.
“Ja, hulle het my vanoggend vertel.”
En daar is die antwoord. Ek en Chris het mekaar nog nie gesien sedert gister nie.
“En wat sê Chris daarvan?’ vra ek.
Jasmien se glimlag verdwyn.
“Hy het niks gesê nie. Hy het net vir moeder op die wang gesoen en geloop. Pa sê hy hoop dis ‘n seuntjie want boeta is nie ‘n Koekemoer se gat werd nie.”
Daar is baie wat ek daaroor kan sê. Maar ek kan dit nie vir Jasmien sê nie. Sy sal my nooit doelbewus in die moeilikheid bring nie, maar haar liefde vir praat beteken dat ek dinge aangaande Chris vir myself hou.
“Waaroor gaan die vergadering?” verander ek die onderwerp.
Sy trek haar skouers op.
“Ek dink dit gaan oor pa en oom Pietman. Hulle stry oor grond.”
Dit is toe ook so. Oom Christiaan en oom Pietman stry oor grond. Meer tot die punt, oom Pietman beweer dat oom Christiaan ‘n deel van sy grond ingespan het.
In die romp van die skip waar ons skoolgaan, is daar nie genoeg sitplek vir al die mense nie. Ek en Jasmien staan saam met Stella en Willemien maar so agterlangs rond. Met die inkom slag gewaar ek Chris tussen die mans en glimlag vir hom. Op sewentien is hy nou oud genoeg om nie net meer te luister nie, hy kan deelneem aan vergaderings. Voor langs sit die ouer mans soos Oupa en pa. Oom Christiaan en oom Pietman sit so ver van mekaar af as wat die spasie in die vertrek toelaat. Dit is duidelik dat die stry al ‘n rukkie tussen hulle aan die gang is. Oom Servaas sit oudergewoonte voor.
Nadat oom Servaas die vergadering geopen het, kry die twee mans elkeen ‘n kans om hulle saak te stel. Oom Pietman boer meestal met skaap, en oom Christiaan met bees en koring. Skaapboere en Beesboere het nog nooit veel erg aan mekaar gehad nie. Niemand kan regtig sê waarom dit so is nie, dit is maar net.
Die saak is nie moeilik om te verstaan nie. oom Christiaan het onlangs sy grond ingespan, en oom Pietman reken dat daar ‘n deel van sy grond aan oom Christiaan se kant van die heining lê. Oom Christiaan hou vol dat dit onmoontlik is om heining op te slaan rondom die stukkie grond omdat die grond te klipperig is. En omdat oom Pietman in elk geval nie daardie stukkie grond gebruik nie, moet hy die reg daartoe verkry. Dit is ‘n moeilike saak om na te luister, want daar is ‘n groot klomp gepraat wat redelik betekenisloos is.
Ek reken as dit nie vir Chris was nie sou die vergadering veel langer aangehou het. Maar Chris staan op en die mense is stil.
“Wil jy iets sê Chrisjan?” vra oom Servaas.
“Ja oom,” antwoord Chris, “Ek wil net weet waaroor ons nou eintlik stry.”
Oom Servaas frons.
“Hoe bedoel jy nou?”
Chris kug.
“Ons is Afrikaners, Oom. En almal weet hoe ons Afrikaners oor ons stukkie grond voel.”
Daar is glimlagte van ondersteuning vir sy woorde.
“Die ding is, dit maak nie saak wat ‘n man op sy grond doen of nie doen nie. Dit is sy grond. En niemand het die reg om dit by hom te wil wegvat omdat hy dit nie gebruik nie. Dit maak nie saak of dit vrugbaar of onvrugbaar is nie. Dit maak nie saak of daar net klippe groei nie. ‘n Man se grond is sy grond. Daar is niks om oor te stry nie.”
Die vergadering is doodstil. Klein-Chris Koekemoer het pas sy pa se saak vernietig. En dit is duidelik dat daar geen logiese redenasie teen sy woorde kan wees nie. My hart sink in my skoene. Want daar sal oorlog wees op die Koekemoers se plaas.
Die vergadering is minute later uitmekaar. Oom Christiaan word beveel om sy lyndraad te skuif en vir die tweede keer storm hy woedend uit ‘n vergadering. En albei kere is iemand wat ek liefhet verantwoordelik vir sy kwaad. Ek wag buite vir Chris. Wanneer hy my sien stap hy ewe doodluiters nader.
“Hallo Meisiekind.” groet hy asof daar absoluut niks gebeur het nie.
“Chris,” sê ek, “Jou pa gaan jou nooit vergewe nie.”
Hy trek sy skouers op.
“Reg is reg. Ek kan tog nie met hom staan as hy verkeerd doen nie, kan ek? As hy wil kwaad wees, dan moet hy maar. Hy moes van die begin af die regte ding gedoen het.”
Pa sluit hom by ons aan en klop Chris op sy skouer.
“Jy het meer moed as ek ou seun.” Sê hy. “Maar jy besef seker jou pa gaan jou van die plaas afsit?”
Chris glimlag.
“Dit is seker moontlik, Oom Willem.” Antwoord hy. “Ons sal maar moet sien wat gebeur.
Pa lag sag saam met hom.
“Wel, as hy doen wat ek dink hy gaan doen, dan moet jy maar daar by ons kom inwoon totdat jy besluit het wat jy wil maak. Ek kan altyd doen met ‘n paar sterk hande.”
“Dankie oom.” Antwoord Chris.
‘n Mens mag nie hoop dat families stry kry nie. Dit is ‘n lelike ding om te doen. En ek sal nooit erken wat op hierdie oomblik deur my kop gaan nie, maar ek kan erken dat die situasie nie meer vir my so erg klink nie.
Dit is toe ook so. Chris kom skemeraand op die plaas aan, met die wa waarin hy die laaste paar maande geslaap het, sy trekosse en ‘n paar beeste. Niemand is verbaas nie. Die skrif is al geruime tyd aan die muur. Maar ek voel steeds vir hom jammer. Chris is ‘n opregte mens. Hy is ‘n eerlike mens. Hy doen altyd wat vir hom reg en goed voel. Hy het nie sy pa teëgegaan omdat hy rebels of agterbaks wil wees nie. Hy het bloot uiting gegee aan sy eie natuur. Net soos met Stella, het hy ‘n verkeerde ding gesien en dit reggemaak. Daar is in my geen twyfel dat oom Christiaan sy seun ‘n onreg aandoen nie. Maar hy is steeds Chris se pa, en om met jou pa te baklei kan nooit goed voel nie.
Chris sê niks oor die saak nie. Maar wanneer jy iemand opreg liefhet, dan doen jy moeite om sy hart te leer ken en sy gedagtes te verstaan. Ek het hom opreg lief, en ek weet dat hy teleurgesteld is met oom Christiaan. Want Chris ag geregtigheid, en sy pa ag net homself. Dit is ‘n swaar ding wanneer jou pa nie iemand is na wie jy wil opkyk nie.
Daardie aand word daar ‘n ekstra plek aan die etenstafel gedek. En ten spyte van my hartseer vir Chris, is my hart tevrede daar langs hom. Aan my ander sy sit Jorsie, en oorkant my het die tweeling weerskante van Stella hulle plekke ingeneem. Hulle het geen benul oor die redes wat haar in ons huis gebring het nie, maar hulle het saam-saam besluit dat sy die mooiste vrou op Afrikana is. En al het sy dit baie duidelik aan hulle gemaak dat hulle te jonk vir haar is en dat sy in elk geval nooit ‘n man sal vat nie, pas hulle haar soos goud op. Ma sit langs Willem terwyl Pa en oupa aan die onderskeie koppe van die tafel plaasneem. Nadat Oupa die tafelgebed gedoen het, begin moeder, ek en Stella inskep. Pa vestig sy aandag op Chris.
“Dis ‘n paar mooi beeste wat jy daar het, Chris. Het jy hulle by jou pa gekry?” vra hy.
Chris skud sy kop.
“Nee Oom,” antwoord hy, “Dis mý beeste. Ek het al voor ons met die trek uit die Kaap uit weg is my eie beeste gehad. Net drie van hulle, maar hulle was myne. Ek het hulle gekoop met geld wat ek verdien het met los werkies op die bure se plase. Hulle het maar self aangeteel tot die sewe wat ek nou het.”
Pa is duidelik beïndruk. En oupa sien ‘n geleentheid om die tweeling ‘n lewensles te leer.
“Sien julle daar?” praat hy opgewonde, “Sien julle wat ‘n mens kan bereik? Chrisjan is skaars sewentien en hy het al sy eie vee. Hy het dit nie geërf nie. Hy het dit nie verniet gekry nie. Sien julle wat gebeur as mens bereid is om so bietjie jou hande uit te steek. Die lewe gaan nie oor Platbek vang en rekker skiet nie.”
Hy leun na Chris se kant toe oor.
“Of hoe sê ek ou seun?”
Chris glimlag skamerig, sy oë gefokus op die bord kos wat ek trots voor hom neergesit het.
“Dis seker so oom.” antwoord hy stil.
“Ag pa,” sê ma terwyl sy weer haar plek inneem, “los tog die kinders. Hulle is nog glad nie groot genoeg om hulle oor sulke dinge te kwel nie. Daar sal genoeg tyd vir hulle wees om te werk as hulle groter is. Is die kos vir jou genoeg Chris?”
Weer glimlag Chris skaam terwyl hy sy kop knik.
“Ja dankie tannie. Dis oorgenoeg.”
“Jy moet maar net sê hoor, daar’s nog baie.”
Moeder is ‘n regte moeder.
“Klink vir my,” val pa by die gesprek in, “Jy weet wat jy in die lewe wil hê?”
Chris knik weer.
“Ek het ‘n plan oom.”
“Nou ja toe! Laat ons hoor.” Sê oupa.
“Ek dink om te trek, Oom.” antwoord Chris stil.
“Trek?” vra moeder geskok, “Waarheen?”
“In die Grootriviervallei op Tannie.” antwoord Chris.
Die graslande is omring deur berge. Maar in die weste stroom die Skoonrivier deur ‘n nou vallei die groot grasland in en hou oos tot teen die Oosberge op die oosterse grens. Hier draai die rivier noord en al die waterstroompies en fonteintjies wat van die Oosberge afkom, word deel daarvan. Daar, waar die rivier breër word en sterker vloei, word dit die Grootrivier. In die noorde verdwyn die Grootrivier deur ‘n breë vallei tussen die berge in. Daar is mense wat al so in die vallei op bespied het, maar hulle het nooit te ver van die bekende grasland af verken nie. Daarom weet niemand hoe ver die vallei strek en waar hy uitkom nie.
“Die Grootriviervallei?” gaan moeder voort, “Hoe ver wil jy dan trek?”
Chris lyk ongemaklik.
“Tot daar waar ek my eie begin kan maak, Tant Fransie. Daar is nie nuwe grond hier in die Grasland nie. Al die grond is reeds verdeel. As mens jou eie plek wil hê dan moet jy self na hom gaan soek.”
Daar is kommer op moeder se gesig, ‘n gesig wat na my kyk. Want moeder weet waarheen hierdie gesprek op pad is, en sy hou nie daarvan nie. Pa, aan die koppunt van die tafel, knik instemmend.
“Jy’s reg, ou seun.” Sê hy, “Ons het ‘n fout gemaak om die hele Grasland daar aan die begin te verdeel. Nou sit almal op plase wat so groot is dat ons skaars die helfte daarvan kan benut, en elkeen klou soos ‘n neet aan sy stuk aarde.”
“Dit is so oom.” beaam Chris pa se woorde. Maar ma gluur pa stip aan. Sy is ‘n moederhen, en die hen in haar het skielik ingeskop.
“Maar is daar nie ‘n ander manier nie?” vra sy, want ‘n moeder is net gelukkig as sy weet haar kinders is veilig hier om haar tafel.
Chris skud sy kop.
“Nee tannie,” antwoord hy, “Almal hier het kinders,” hy kyk na die tweeling, “net soos julle. En ‘n pa wil sy grond vir sy seuns los. Soos dit is sal julle hierdie grond eendag in drie moet verdeel. En dit is so vir die meeste ander gesinne. Niemand gaan grond afstaan nie. En die plase gaan kleiner word, té klein. En die mense gaan meer word, baie meer. Iemand sal een of ander tyd moet gaan soek na nuwe grond. En aangesien ek onterf is, kan dit maar net sowel ek wees wat die poort deur die vallei oopmaak.”
Chris is soos vader, hy praat nie baie nie, maar wanneer hy praat, maak sy woorde sin. Ek kan sien dat pa met sy argument geen fout kan vind nie. maar moeder se kyk noop hom om maar weer te probeer.
“Hoe seker is jy dat jy onterf is?” vra hy, “Mense maak soms emosionele besluite wat hulle later oor spyt kry.”
Chris glimlag.
“Doodseker oom. My pa het geen doekies omgedraai nie. ”
Pa knik. En vir ‘n rukkie eet almal in stilte. En dan kom die vraag. Daardie vraag wat ek self oor wonder, want ek en Chris het nog nie kans gehad om planne vir die toekoms te bespreek nie. Maar die vraag kom nie van pa of ma of oupa nie. Dit is die sewe-jarige Jorsie wat sommer so terloops praat.
‘En gaan jy vir Saartjie saamvat?”
Moeder is opslag bleek in die gesig, so bleek dat ek bang is dat sy floute sal kry. Chris is rooi van sy nek af boontoe. Ek reken hy het hierdie gesprek beplan as een tussen hom en vader. Dis mos maar hoe dinge gedoen word. Maar nou is hy deur ‘n bogsnuiter aan etenstafel in ‘n hoek gedruk. Dit is merkwaardig hoe dikwels kinders in hulle onskuld ‘n situasie kan beneuk.
“Jorsie!” raas ek, maar Chris sit sy hand op myne.
“Los hom,” paai hy. Ek raak stil, want ek kan aan sy aanraking voel hoe groot die oomblik is. Hy kyk eers vir ma, dan vir oupa en uiteindelik vir vader.
“Die ding is, Oom Willem,” praat hy sag terwyl my hart in my keel bons, “Ek is baie lief vir Saartjie. Ek is seker julle weet dit. En as dit julle geval sal ek haar graag my vrou wil maak voordat ek trek. Ek beplan nie om nou al te trek nie. Dis amper winter. Maar ek wil graag vroeg in die lente in die pad val. Dit sal ons ‘n hele paar maande se goeie weer gee.”
Daar is geen woorde om te beskryf hoe dit voel wanneer ‘n man sy liefde vir jou in die openbaar bekend maak nie. Ek meen, hy kan dit wys en mense kan dit weet. Maar wanneer hy dit sê, dit is anders. Dit is waarvan ‘n vrou droom. Ek kan skaars my gevoelens inhou, maar ek weet watter groot ding dit is wat hy gevra het. Hy wil my nie net uit my pa se huis uit vat nie, hy wil my skoon uit die Grasland vat.
Oor die tafel vind vader se oë myne. Ek kan daarin niks lees nie. Hy is nie die tipe man wat haastig oor ‘n ding besluit nie. Hy wil dinge weet en ‘n ingeligte besluit neem.
“Beplan julle om alleen te trek?” vra hy, “Net die twee van julle?”
“Nee oom,” antwoord Chris, “Giepie en Jasmien gaan saam, want my pa het hulle verbied om saam te wees. En Flippie gaan ook saam. En daar is nog ander. Ons is op die oomblik sestien mense wat wil gaan. En ons het agt waens”
Ek is totaal uit die veld geslaan. Ek het hiervan niks geweet nie. En wat my meer verbaas, is dat Jasmien my niks gesê het nie. Ek verstaan egter hoekom. Want oom Christiaan sal haar nooit laat gaan as hy van die plan uitvind nie. Hy sal Gideon vermoor. Sy sal moet wegloop. En die geheim van wegloop is om die geheim vir jouself te hou.
Pa kyk sylangs vir ma, en wat hy met daardie kyk vir haar sê, sal net sy weet.
“Jy’s ‘n goeie jong man, Chris Koekemoer.” Sê hy, “En duidelik is jou kop reg aangeskroef. As Saartjie jou wil hê, dan gee ek julle my toestemming.”
My hart begin gejuig, my siel begin gejubel en my verstand, wel, my verstand hou op met dink. Maar pa is nog nie klaar nie.
“Ek is nie iemand wat in ‘n ander man se besigheid krap nie,” sê hy, “maar ek sal dit waardeer as julle, julle planne met ons deel. As jy met Saartjie in die vallei gaan optrek, dan wil ek weet dat julle dit reg gaan doen. Daar is in elk geval oor genoeg tyd om julle dinge oor die winter reg te kry.”
Oorkant my sit Stella haar vurk op haar bord neer en glimlag met my. Die tweeling spring op en begin laf om die tafel dans. Chris is immers vir hulle ‘n held, en hy hou die beste rekkers in die hele Grasland. Jorsie sit die gedoente en aanskou soos iemand wat skielik besef sy familie het van hulle koppe af geraak. Moeder het trane in haar oë, maar daar is ‘n tevredenheid op haar gesig. En Oupa? Oupa sit met die breedste glimlag van almal terug in sy stoel. Ek is seker hy is opreg bly vir my, maar ek reken daar is ‘n klein deeltjie van hom wat vir oom Christiaan wil sê: “Vat so Koekemoer!”
Daar bly net een ding oor. ‘n Ding waarvan ek vir ‘n oomblik vergeet het. Maar wanneer ek na Chris toe draai, staan hy soos ‘n wafferse heer op sy knieg. Ek druk my hand op my bonsende bors.
“Wat sê jy, Meisiekind?” vra hy sag, “Sien jy kans vir ‘n lewe saam met ‘n weggooi kind?”
Dit is nie ordentlik om jou emosies sommer so voor mense die teuels te gee nie. Maar ek gee nie om nie. In ‘n oomblik is ek in sy wagtende arms.
Hoofstuk 14
Die winter het gekom, en saam met hom het hy vir ons ‘n groot stuk hartseer gebring. Dit het begin met die boodskap dat Willemien ernstig siek is. Niemand was seker wat presies met haar fout was nie, en daarom kon niemand iets vir haar doen nie. Twee weke later staan ek, Jasmien en Stella saam met die verbaasde gemeenskap by haar graf. Sy is die eerste mens naby aan my wat ek aan die dood moet afstaan. ‘n Mens kan seker sê dat ek gelukkig is dat dit so lank gevat het, want mense gaan dood. In daardie eerste paar maande op die trek, toe ons nog op die aarde was, het daar vyf mense die ewigheid ingegaan. Daar is soveel dinge wat gevaar ingehou het. Selfs ‘n ligte verkoue kan in die graf eindig.
Terwyl oom Servaas, wat steeds vas gelowig gebly het, die singery voorstaan, staan ek na Willemien se ma en kyk. Hoe swaar moet dit wees vir ‘n moeder om haar kind aan die dood af te staan?
Daar is woorde in elke taal vir die dood. Wanneer ‘n kind sy ouers verloor, dan is hy ‘n weeskind. ‘n Man wat sy vrou verloor is ‘n Wewenaar. ‘n Vrou wat haar man verloor is ‘n weduwee. Maar daar is geen woord in enige taal vir ‘n ouer wat ‘n kind verloor nie. Miskien is dit omdat daar nie woorde is wat die pyn kan beskryf nie.
Ek voel vir haar jammer, diep jammer. Ek voel vir Jasmien en Stella jammer wat langs my staan en huil. Ek voel jammer vir myself.
Dit is swaar om oor haar dood te kom. Sy was sterk en gesond. Mens wonder hoe dit met so iemand gebeur. Maar dit help darem wanneer jy so baie het om te doen. Veral wanneer jy alles in die stilligheid moet doen omdat Jasmien se pa nie mag uitvind van die trek nie. Chris bly by ons op die plaas, maar omdat sy trots hom nie sal toelaat om ‘n bywoner te wees nie, slaap hy in die wa. Bedags help hy getrou vir pa en oupa op die plaas, en in die laatmiddag gaan hy voort om voorbereidings te maak.
Ek en Stella bak elke dag beskuit en koekies of maal mielies en koring. En Willem en Dawid droog saad uit en pak dit in sakke.
Die Winterdraak, getrou aan sy naam, keer weer terug. Hierdie keer is die mense beter voorbereid vir hom. Hulle kan hom ‘n paar maal verjaag, maar daar is geen manier om hom dood te kry nie. Teen die einde van die winter het hy net twee skape gevat.
Met die aanbreek van die lente is alles gereed vir die trek in die Grootriviervallei op. Twee dae voordat ons vertrek gaan sit ek, Jasmien en Stella blomme op Willemien se graf. Sy sou nooit op die trek kon gaan nie, sy was veels te jonk. Maar ons het nooit verwag om haar op hierdie manier te groet nie. Ons staan almal in stilte langs die graf.
“Ek kom saam.” Praat Stella sag langs my.
“Wat?” vra ek omdat ek nie weet waarvan sy praat nie.
“Op die trek.” Verduidelik sy, “Ek gaan saam. Ek het gisteraand met jou pa gepraat, en hy en Chris het ingestem.”
Ek kyk nie weg van die mooie Willemien se grafsteen nie. Miskien is dit ongehoord so langs ‘n graf, maar daar is ‘n glimlag op my gesig. Wanneer ons uiteindelik, na vele trane en baie onthou daar wegstap, haak Jasmien by Stella in.
“Ek het geweet jy sal saamgaan,” sê sy, “Niks kan die vier van ons skei nie. Nie eers die dood nie.”
Die volgende dag trou ek en my Chris. Dit was veronderstel om ‘n klein geleentheid, net so tussen die familie te wees. Maar Oupa is nie genoeë met ‘n klein geleentheid vir sy kleindogter nie. Hy nooi die hele gemeenskap, behalwe natuurlik Christiaan Koekemoer. En hy spaar geen moeite om dit ‘n totale affêre te maak nie. Daar is beespot en skaap op die spit. Daar is soetmielies en stampmielies. En daar is musiek en dans tot die vroeë oggendure. En nadat almal huis toe is, klim ek saam met my nuwe man in dieselfde warm bed.
Daar is min dinge in die lewe wat so opwindend is as om ‘n nuwe begin saam met jou nuwe man te maak. Ja, dit is moeilik om jou familie agter te los. Veral wanneer jy weet jy gaan ver van hulle af weg. Dit is nie asof ons elke tweede Sondag by hulle kan inval vir middagete en kuier nie. Maar wanneer jy ‘n man liefhet, dan word julle die middelpunt van mekaar se bestaan. En goeie ouers sal dit altyd verstaan. Ons is op pad na die avontuur van ‘n leeftyd. Ons is op pad om nuwe plekke te ontdek en, wie weet, miskien is ons die voorgangers van ‘n hele nuwe bestaan. Maar vir my en die sewentien ander jongmense saam met my is dit nie grootheid waarna ons strewe nie. Ons wil maar net leef.
Dae voor die trek het die jongmanne al begin om die waens in die vallei op te trek. Daar is geen ander keuse nie. Almal van ons weet dat oom Christiaan na Jasmien sal kom soek wanneer hy besef sy is weg. Ons moet ‘n voorsprong hê. Die aand van die troue slaap Jasmien by ons huis oor. Oom Christiaan is natuurlik nie gelukkig hiermee nie, maar Jasmien het nie met hom daaroor onderhandel nie.
“My broer trou met my beste vriendin.” Het sy vir hom gesê, “ Probeer maar om my te keer.”
Die ander jongmense slaap sommer in die klein waenhuis wat pa gebou het, en wat nou leeg is omdat hy vir ons ook sý wa gegee het. Die ekstra wa help baie. As jy moet trek, dan wil jy so veel as moontlik met jou saamneem. Vader het ook vir ons vyf melkbeeste gegee, terwyl oupa en moeder onderskeidelik ‘n paar vleisbeeste en hoenders afgestaan het. En wanneer ons die volgende oggend teen dagbreek uiteindelik die pad na ‘n nuwe begin aanpak, is daar sewentien jongmense, nege waens, ‘n klomp vleisbeeste, melkbeeste, skape, hoenders en Jasmien se rothond met haar drie kleintjies. Niemand weet hoe sy dit reg gekry het om kleintjies te kry nie, want sy is ewig aan Jasmien se sy, maar hier is hulle. En ten spyte van Chris se ontevredenheid met die ‘spul rotte’, is daar geen manier dat sy hulle sal agterlaat nie.
Teen vroegmiddag het ons dit alreeds ‘n goeie ent in die breë vallei op gemaak. In die voorste wa is ek, Stella en Jasmien, terwyl Gideon en Chris beurte maak om die osse te lei. Agter ons volg Flippie van tant Koekie en sy jongnooi, Marie. Dan is daar Kleinkoos Eenoog, Wimpie du Toit, een van twee Fransmanne tussen ons, Sussie Venter, Kotie Venter, Jannie le Roux, die ander Fransman, Tielman Visser, Klein Anna van oom Servaas, Nelie van Rooyen, Dikneels en Wilma van Blerk.
Daar is ‘n goeie gees tussen ons. Die meeste van die jongmanne is tweede of derde seuns wat weet dat hul eersteling broers hul ouers se grond eendag sal erf. Die meeste van die nooiens is sleepsels wat blinkoog agter hul onderskeie kêrels aan trek. Dit is net Stella en Nelie van Rooyen wat so op hul eie, en vir hul eie redes saamkom.
Jasmien praat onophoudelik, meer as gewoonlik. Sy maak maar so gemaak wanneer sy op haar senuwees is. Ek kan haar nie kwalik neem nie. Sy is die enigste een op die trek wat sonder toestemming by die huis weg is. Hoe ons dit reggekry het dat oom Christiaan nie voor die tyd daarvan uitgevind het nie, gaan my verstand te bowe. Die hele Grasland weet van die trek, en soos die anties oor die draad skinder is dit ‘n wonder dat niemand hom gesê het nie.
Teen laatmiddag span ons uit en trek laer. Op aarde is die laer altyd ‘n groot sirkel van waens, maar hier in die vallei is nie genoeg ruimte vir ‘n sirkel nie. Ons trek die waens maar soos wat die kranse aan die een kant en die rivier aan die ander kant ons toelaat. Ek en die ander meisies gaan by die rivier, onder die Geelwilger bome wat in die vroeg lente vol helder geel bloeisels staan, water skep. Chris, met sy breëlem swaard aan die sy, sit die jongmanne aan om vuur te maak en die vee te beveilig.
“Ons kan nie weet wat daarbuite skuil nie.” Sê hy.
En hy is reg, want skaars het ons teruggekom in die laer, wateremmers in die hand, wanneer die eerste gevaar op ons neerdaal. Maar dit is nie ‘n wilde dier nie, dit is oom Christiaan. Ons hoor sy perd se galop in die verte aankom. Chris stap na die suide punt van die laer om die ruiter in te wag. Gideon volg hom, en Jasmien gaan bleek in die gesig langs haar wateremmer sit.
Oom Christiaan, vol stof van die gejaag, klim van sy perd af en stap nader. Chris ontmoet hom halfpad tussen sy perd en die laer. Oom Christiaan gaan staan, sy gesig vertrek van woede.
“Ek kom haal vir Jasmien.” sê hy bars.
Teen hierdie tyd het Gideon hom ook by Chris gevoeg.
“Jasmien kom nie terug nie.” antwoord Chris.
Daar is ‘n oomblik se aarseling in oom Christiaan, dan draai hy om, stap na sy perd toe, trek sy voorlaaier uit die saal, en rig dit op sy eie seun.
“Ek gaan nie terug sonder my dogter nie.” praat hy vasberade.
My hart bokspring van die skrik. Maar Chris staan nie terug nie, inteendeel, hy gee ‘n paar tree vorentoe.
“Moenie jou tyd mors nie,” antwoord hy sag, “Ons albei weet die buskruit en lood is op. Daai ding in jou hand is so goed soos vuurmaakhout.”
Oom Christiaan kyk na sy seun en dan af na sy geweer. En dan gooi hy die geweer eenkant toe en begin loop asof hy rondom Chris wil loop.
‘Ek het g’n geweer nodig om my kind te vat nie.” Sê hy. Maar Chris tree voor hom in en trek sy swaard uit sy skede. Dit is ‘n groot swaard. En almal weet dat Chris weet hoe om hom te gebruik. Dit is Chris wat die enigste man was om ‘n Gifstert sonder ‘n geweer aan te vat, en te wen. Oom Christiaan gaan staan.
“Wat wil jy maak?” vra hy, “Is jy dan so goddeloos dat jy jou eie pa sal doodmaak?’
Chris kyk hom stip in die oë terwyl trane oor Jasmien hier langs my se wange loop.
“Ek het nie ‘n pa nie.” Antwoord Chris.
Daar is ‘n oomblik van verbasing in oom Christiaan se gesig. Maar dit is net vir ‘n oomblik,
“Staan jy nou jou eie pa af? Die man wat jou gemaak het?”
Chris gee ‘n siniese laggie.
“‘n Pa is nie iemand wat ‘n kind maak nie.” Sê hy bars, “‘n Pa is iemand wat ‘n kind liefhet. ‘n Pa is iemand wat sy kind respekteer. ‘n Pa is iemand wat die dinge doen wat maak dat sy kind hóm respekteer. Jy is ‘n eiesinnige en selfsugtige man wat selfs sy dogter se man vir haar wil uitsoek. Jy dink ons moet wees wat jy wil hê ons moet wees. En as ons dit nie is nie, dan wil jy óns weggooi. Noem jouself ‘n pa as jy wil, maar moet jouself nie mý pa noem nie.”
Daar is ‘n lang stilte wat soos ‘n wolk oor die laer hang. Oom Christiaan en Chris staan mekaar soos twee Afrikaner bulle en aangluur.
“Sê van my wat jy wil,” kry oom Christiaan uiteindelik iets uit, “Maar jy kan nie my dogter hier hou nie.”
“Ek hou haar nie.” Antwoord hy, “Sy het self besluit om te kom. Sy is vry om te gaan waar sy wil”
“Jasmien!” roep oom Christiaan die laer in sonder om ag te slaan op Chris se woorde. Langs my staan Jasmien stadig op en stap nader. Wanneer oom Christiaan haar gewaar draai hy na haar.
“Kom jy of bly jy?” vra hy bars.
Jasmien kyk hom hartseer aan.
“Ek bly pa.” sê sy in ‘n sagte stem.
Sonder om verder te praat draai oom Christiaan om en stap na sy perd toe. Hy klim op en kyk Chris minagtend aan.
“Ek het gedog julle sal wil weet julle ma het ‘n tweeling, ‘n seun en ‘n dogter.”
“Sê vir haar ons sê geluk.” Sê Chris.
“Sê haar self.” spoeg oom Christiaan dit uit, “Ek is klaar met jou en jou suster.”
En dan is hy weg.
Chris draai om en stap na Jasmien toe. Haar trane is trane van hartseer, en hy weet dit. Hy vou sy arms om haar en druk haar teen hom vas.
“Daar is nog kans vir teruggaan.” Sê hy sag, maar sy skud net haar kop snikkend.
Daar was ‘n tyd toe Chris en Jasmien sonder ophou geredekawel het. Daar was tye dat ek gewonder het of hulle selfs van mekaar hou. Dit is die manier waarop kinders in een huis hulle eie plekkie uitskoffel. Mens is mos maar altyd in mekaar se hare. Dit is eers wanneer jy grootword dat die gestry en baklei eindelik opraak. Ek praat nie van ouer word nie. Ek praat van grootword. Want ‘n mens kan ouer word sonder om ooit groot te word. Dit is eers wanneer jou verstand met jou liggaam opvang dat jy besef dat jy soveel tyd en energie op baklei vermors het, dat jy die lekker dinge skoon mis leef. Die lag en speel langs die rivier. Die saam-saam kwaad doen en pakslae kry.
Chris en Jasmien het grootgeword. Maar hulle het nie net grootgeword nie, hulle is groot gedruk. Dit is wat die hartseer aan ‘n mens doen. Dit is wat die swaarkry van jou verwag. Maar wanneer jy iemand het om mee saam groot te word, al is dit te gou, dan bring dit julle soveel nader aanmekaar. Dit is ewig.
Die aand is die laer stil. Die voorval met oom Christiaan het seker iets daarmee te doen, maar dit gaan ook oor vreemdheid. Almal van ons daar is deel van dieselfde gemeenskap. Ons ken mekaar. Maar ons kén nie almal mekaar nie. Dit is maklik om met mense oor die weg te kom wanneer jy ver uitmekaar woon. Maar wanneer jy mense skielik in ‘n klein stukkie aarde probeer indruk, dan kom die vreemdheid uit. Ons sal mekaar moet leer ken, want die paar van ons wat daar is, het net vir mekaar.
Hoofstuk 15
Die eerste nag kom iets een van ons beeste vang. Dit is diep in die nag, terwyl almal vas slaap, dat ons die gebulk hoor wat ons wakker ruk. Chris is dadelik op en spring swaard in die hand sommer so kaal bolyf by die wa uit. Ek is reeds op pad agter hom aan, wanneer hy vir my oor sy skouer skree.
“Bly in die wa!”
Ek wil nie. Ek wil by hom wees. Maar ek weet dat ek net in die pad sal wees. Teen die tyd dat hy ‘n stok uit die vuur gegryp het en in die rigting van die beeste begin hardloop, is Gideon, Flippie en twee ander aan sy sy. ‘n Vrou se hart is ‘n gekompliseerde ding, want terwyl hy so met sy sterk lyf voor die ander mans uithardloop, is ek terselfdertyd bang en trots. En albei gevoelens laat my asem jaag. Oomblikke later is daar ‘n geskree en, tot my foltering, ‘n harde gebrul. Dit is die soort brul wat ek al voorheen gehoor het. Dit was lank terug, daar op die trek uit die Kaap, maar die brul van ‘n groot kat vergeet jy nooit. Uit die wa langsaan spring Jasmien na die grond.
“Bly in die wa, Jasmien!” waarsku ek. Maar sy steur haar nie aan my nie. Sy begin haastig in die rigting van die kraal hardloop. Ek het geen keuse nie, ek moet haar keer. Ek spring ook uit en begin agter haar aanhardloop. Maar ek is te ver agter haar om te keer wat volgende gebeur. Tussen die waens deur, uit die rigting van die kraal, kom ‘n kat so groot soos ‘n luiperd gehardloop. Sy oorhang slagtande glinster in die dowwe lig van die vuur, en daar steek ‘n kort spies in sy vaal, harige sy. Die dier is duidelik woedend en paniekerig. Sy oë glinster rooi en wreed in die nag. En Jasmien staan in sy pad. Ek wil vir haar skree, maar my keel trek toe van die skrik. Ek wil hê sy moet hardloop, uit sy pad kom, maar sy staan net daar, versteen soos ‘n soutpilaar in haar vrees. Die kat pyl reguit op haar af en vee haar met een veeg van sy groot voorpoot uit sy pad. Soos ‘n lappop trek sy deur die lig en kom met ‘n plofgeluid op die grond te lande, terwyl die dier in die donker nag verdwyn.
Agter my gil Stella. Voor my hardloop die jongmans in die laer in en steek in hulle spore vas. Chris en Gideon is by Jasmien voordat ek daar kan kom. Sy lê op haar sy met haar arms en bene ingetrek soos ‘n baba in ‘n kot. Dit is Gideon wat haar omdraai. Daar is diep hale teen die kant van haar gesig af en tot in haar nek, en die bloed stroom vrylik uit haar wonde. Maar haar oë is oop, groot en verskrik.
“Jasmien, kan jy my hoor.” vra Gideon. ‘n Mens kan dom dinge sê as jy groot skrik. Jasmien sit haar hand op sy wang en glimlag.
“Giepie.” sê sy voordat die floute haar oorval. Ek kyk vir die eerste keer om. Chris is nie meer agter my nie. En sonder om daaroor te dink weet ek waarheen hy is. ‘n Mens hardloop nie in die donker agter ‘n gewonde grootkat aan nie. Almal weet dit. Geen gewone mens sal so ‘n kans waag nie. Maar Chris is geen gewone mens nie.
Gideon het Jasmien opgetel en gaan sit haar naby hulle wa neer, maar ek kan nie beweeg nie, ek staan net daar waar Jasmien geval het. Daar is ‘n tipe vrees wat maak dat jou bene nie wil werk nie. In die donker, anderkant die waens, brul die groot kat weer. En dan raak dit stil. Ek gaan net daar op die grond sit en druk my gesig in my bewende hande. Ek is seker hy is dood.
Ek weet nie hoe lank ek hier sit nie. In die agtergrond kan ek hoor hoe die ander rondom Jasmien te kere gaan. Nie een van hulle besef dat Chris agter die kat aan is nie. En ek kan daaraan niks doen nie. Maar ‘n stem roep skielik uit.
“Chris!”
As jou verstand klaar iemand aan die dood afgestaan het, dan is sy terugkeer asof hy uit die dood uit opstaan. Ek ruk my kop op en staan sommer so van my boude af op. Daar, in die buitekring van die gloed van die vuur, staan hy. Daar is bloed op sy bors, daar is bloed aan sy arms, maar hy leef. Hy loop uitasem tot by die naaste wakis en val met ‘n sug daarop neer, duidelik uitgeput. Ek nael die afstand tussen ons af en gaan op my knieë voor hom af, my hand op sy wang.
“Chris?”
Daar is ‘n tevrede kyk in sy oë.
“Ek het hom.” Is al wat hy kan uitkry.
Ons het hulle wonde skoongemaak en verbind. En wanneer dit lig word gaan ons na die kat kyk. Hy is groter as wat ek aanvanklik gedink het. Met sy mond toe strek sy slagtande verby sy onderste kakebeen. Hy het kort, sterk bene wat in groot pote met lang, skerp kloue eindig. In sy nek is ‘n gapende wond waar Chris se swaard die doodslag toegedien het. Ek ril. Dit kan so maklik anders gewees het.
“Ek wonder hoeveel van hulle daar is.” wonder Nelie hardop terwyl sy na die hoë kranse rondom ons kyk.
“Hierdie is ‘n alleen dier.’ Antwoord my held, :”soos ‘n luiperd. Daar’s nie genoeg kos in hierdie berge vir ‘n trop nie. Ek’s seker hierdie een het ‘n groot gebied gehad. Dis maar hoe katte maak.”
Later pak ons op en vertrek. Tussen my en Stella op die wa, sit die beseerde Jasmien. Vir die eerste keer vandat ek haar ontmoet het, praat sy nie. Miskien is dit omdat die skok van die vorige nag nog by haar spook, miskien is dit maar net omdat die wonde in haar gesig en nek so seer is. Wat ook al die rede is, Dit is vir my duidelik dat daar ‘n verandering in haar is. Ek kan dit in haar oë sien. Sy kyk skielik nie meer na my met daardie oop, onskuldige blik nie. Daar is ‘n jong vrou daar. As jy met die dood bladskud, dan kyk jy anders na die wêreld. Ek voel jammer vir haar, maar ten minste is sy steeds met ons.
Drie dae op ‘n trek is ‘n lang tyd. Dit neem drie dae voordat Chris weer in die nag kan slaap. Dit neem drie dae vir my om oor die skok van sy baklei met die Vaalbergkat, soos ons die gedierte gedoop het, te kom. En dit neem drie dae vir ons om te besef dat ons Jasmientjie ernstig siek is. Ek weet nie of dit is omdat Chris sterker as sy nie. Ek weet nie of dit is omdat haar wonde nie mooi skoongemaak is nie. Maar terwyl Chris besig is om goed van sy wonde te herstel, gaan sy elke dag agteruit. Daar is ‘n dik rooi swelling onder elke wond, en dit is duidelik dat sy infeksie het.
Ons weet ons moet die wonde oopmaak, sodat die vuil kan uit, maar nie een van ons het dit ooit vantevore gedoen nie. Op die ou einde is dit Chris wat met ‘n skerp mes klein snytjies bokant elke swelling maak. Ons het nie salf nie, die is lankal reeds in die graslande opgebruik. Ons kan niks verder doen as om die wonde oop te hou en te hoop dat die infeksie sal opklaar nie. Maar dit doen nie. En teen die vyfde dag nadat die kat haar gekrap het, lê my beste vriendin op sterwe. Ek weet dit! Almal weet dit .
Dit is vroeg in die middag. Jasmien lê agter in die wa en yl terwyl ek en Stella om die beurt haar gesig en sweterige lyf met nat lappe afvee. Chris ry op sy perd langs die wa. Ten spyte van my eie foltering, kry ek hom innig jammer. Hy is ‘n bakleier, ‘n regmaker van dinge wat verkeerd is. Maar aan hierdie vyand in sy suster se liggaam kan hy niks doen nie. Teen die sweer en die koors is hy magteloos. Ek weet dit vreet aan hom. Terwyl Stella besig is met Jasmien, sit ek voor op die wa. Op sy perd hier langs my is hy so naby dat ek aan hom kan vat. Daar is diep donker kringe onder sy oë.
“Hoe gaan dit met haar?” vra hy.
“Dieselfde.” Antwoord ek.
Hy ry vir ‘n rukkie so in stilte langs my.
“Ek moes haar nooit gebring het nie.” Sê hy uiteindelik.
Ek steek my hand uit en vryf sy arm.
“Moenie jouself so skuldig maak nie, my lief. Jy kon nie weet wat gaan gebeur nie. Dit is nie jou skuld nie.”
Hy het nie geantwoord nie. In pleks daarvan trek hy sy perd in en staar vorentoe. Aan die voorkant van die wa, waar Gideon besig is om te lei, bring hy die osse ook tot stilstand. Ek volg Chris se blik.
Wanneer jy van jou wêreld afgeruk word net om op ‘n plek neergesit te word waar jy elke dag iets vreemds en nuuts ervaar, dan vat dit naderhand ‘n groot ding om jou te verbaas. Jy raak afgestomp vir verbasing. Die ding wat op daardie oomblik my mond laat oophang, is egter nie ‘n groot ding nie. Dit is klein, miskien twee en ‘n halwe voet hoog. Hy het twee arms. Hy het twee bene. En behalwe vir die spies in sy hand en die boog en pyle oor sy skouer, het hy niks aan nie. Nie dat dit veel saakmaak nie, want sy hele liggaam, van sy kroontjie tot by sy tone, is met ‘n digte bos hare bedek. En dit is nie hare soos die gladde pels van ‘n dier nie. Dit lyk meer soos die hare op ‘n mens se kop net nadat jy in die oggend opgestaan het. Al wat uitsteek is sy groot swart oë, sy bloedrooi lippe en sy vinger- en toonnaels, wat lyk soos die kloue van ‘n kat.
Op aarde het ek gehoor van dwergies. Daar was selfs ‘n paar tannies, die soort tannies wat nooit getrou het nie en iewers in ‘n vervalle huisie saam met hulle twee-en-dertig katte gewoon het, wat beweer het hulle het al dwergies gesien. Maar my idee van ‘n dwergie is heel anders as hierdie wese wat ‘n ent voor Gideon en die trekosse staan. ‘n Dwerg is tog ‘n ding met groot puntskoene en ‘n gekleurde hoed op sy kop.
Ek kyk onseker na Chris en gewaar dieselfde ongeloof in sy oë as waarmee ek in my binneste stoei. Dit is nie net die voorkoms van hierdie wese wat moeilik is om mee vrede te maak nie, dit is die goed wat hy met hom saamdra. Want ‘n dier kan nie ‘n spies of ‘n pyl en boog maak nie. Ons het gedink ons is die enigste intelligente, denkende wesens op Afrikana. Ons was verkeerd. Hier voor ons is iets, of iemand, wat vir homself wapens bou. En wat meer is, daar is ‘n soort wakker in sy oë, ‘n tipe verstaan.
Hy staan net daar, so amper asof hy homself aan ons wil wys om ons tyd te gee om aan hom gewoond te raak. Teen hierdie tyd het die mense agter ons uit hulle waens geklim en kom ewe oopmond langs die voorste een vassteek. Na ‘n rukkie van vir mekaar kyk, klim Chris stadig van sy perd af.
“Chris?” sê ek sag, amper asof ek te bang is om die klein mannetjie skrik te maak.
Chris kyk sylangs na my.
“Ek dink nie hy’s gevaarlik nie.” Sê hy. Hy begin stadig vorentoe stap. Die mannetjie staan steeds waar hy staan, sonder om te beweeg. wanneer Chris naby hom kom gaan hy staan en lig sy hand op.
“Hallo.” Sê hy.
Die mannetjie kyk hom lank en stil aan. Uiteindelik maak hy sy mond oop. Ek kan sy klein skerp tandjies sien.
“Kjyth?”
Chris kyk oor sy skouer na my en dan weer na die mannetjie.
“Ek verstaan jou nie.” Sê hy.
“Gtnm dfr bilm.” Antwoord die mannetjie.
Hierdie keer draai Chris sy hele liggaam om en kyk met arms uitgestrek na my.
“Probeer gebare,” sê ek, “Soos wanneer jy met ‘n dowe mens praat.”
Hy knik sy kop instemmend en draai weer om. Met sy vinger druk hy op sy bors.
“Chris.” praat hy voordat hy na die mannetjie wys. Die mannetjie lyk onseker. Chris herhaal die proses, en skielik gaan daar ‘n lig in die swart oë aan. Hy wys na Chris.
“Krs?”
Chris knik sy kop, en wys na die mannetjie. Die mannetjie sit sy hand op sy bors en trek sy skouers trots op.
“Kurr.” Sê hy in ‘n stem wat verbasend diep klink vir so ‘n klein mensie.
Chris glimlag.
“Kurr”
Kurr lyk beïndruk. Hy stap ‘n klein treetjie nader en steek sy hande voor hom uit soos die van ‘n kat. Met sy mond maak hy gromgeluide. Dan staan hy regop en maak soos een wat die kat met sy spies doodsteek. Wanneer hy klaar is met sy vreemde vertoning kyk hy stip na Chris en wys met sy vinger na my lief toe. Chris kyk met ‘n frons na my.
“Hy wil weet of jy die Vaalbergkat doodgemaak het?” sê ek. Voor ouma se dood was sy stokdoof. Mens leer allerhande tale verstaan as jy nie ‘n keuse het nie. Chris draai terug na Kurr en knik. Kurr staan ‘n oomblik na hom en kyk, dan stap hy tot reg voor Chris, gaan op sy een knie af soos ‘n man wat wil trou vra en sit sy spies by Chris se voete neer.
“Ek dink hy sê dankie.” Verduidelik ek. Dit maak sin. Vir ons mense is die Vaalbergkat ‘n gevaarlike dier, maar vir die kleine Kurr moet dit ‘n monster wees. Chris glimlag vriendelik, steek sy hand na Kurr toe uit en help hom regop. En dan, as ‘n teken van wedersydse respek, tel hy die spies by sy voete op en gee dit vir hom terug. Daar is ‘n groot, skerptand glimlag op Kurr se gesig. Die volgende oomblik stap hy verby Chris en reguit na my en Stella, wat intussen langs my stelling ingeneem het, toe. Chris volg kort op sy hakke. By die wa klouter Kurr rats soos ‘n kat op en klim sonder om aan my of Stella aandag te gee, agtertoe. Ek en Stella draai verskrik om, om te sien wat hy maak. Hy het op sy knieë langs Jasmien gegaan en kyk kopskuddend na haar.
“Wat maak hy?’ vra Chris.
“Hy kyk na Jasmien.” Antwoord ek.
Hy sit sy harige handjie op haar warm voorkop en skud sy kop weer terwyl hy klikgeluide maak. Dan staan hy op en klouter weer van die wa af. Hy maak homself voor Chris staan en wys na Chris voordat hy sy hand, palm na voor, uitsteek.
“Ek dink hy wil hê ons moet hier wag.” Sê ek.
Chris loer skuinsweg na my en knik sy kop. Daarmee draai Kurr om en snel met verbasende spoed teen die helling op totdat hy tussen die kranse in verdwyn.
Chris draai stadig om en kyk met ‘n glimlag na my.
“Het dit regtig gebeur of hallusineer ek?”
Ek kan nie help om saam met hom te glimlag nie.
“Dan hallusineer ons almal.” Antwoord ek.
Hoofstuk 16
Ons span uit. Dit is nog lank voor sononder, maar Chris glo vas dat daar ’n rede is waarom Kurr wil hê ons moet wag. Teen die tyd dat ons die trekosse uitgespan het, begin die onsekerheid in my opstaan.
“Miskien het ek hom verkeerd verstaan.” Sê ek vir Chris, “Miskien was dit maar net sy manier van groet.”
“Dit maak nie regtig saak nie.” Antwoord Chris, “As hy terugkom, dan kom hy terug.”
Teen laatmiddag is ek seker hy kom nie terug nie. Maar ek het nie tyd om daaraan te dink nie. Jasmien is erger. Soms raak mense so siek dat jy nie dink dit is moontlik vir hulle om sieker te word nie, net om uit te vind jy is verkeerd. Ek, Stella en Gideon is by haar in die wa. Chris hou homself buite besig. Hy kan dit nie verdra om sy suster so te sien nie. Ons almal weet dat sy dit nie deur die nag sal maak nie. Ek hou die nat lap in my hand oor haar warm lyf, maar ek weet dit baat niks. Sy is verby die punt waar ons haar kan help. Chris steek sy kop by die wa in.
“Meisiekind,” sê hy vir my met hoop in sy oë, “Kom kyk.”
Ek sleep my moeë liggaam by die wa uit. Ek was toe nie verkeerd nie. Kurr is terug. En hy is nie alleen nie. Saam met hom is daar drie ander soos hy. Twee van hulle lyk presies soos hy en het dieselfde wapens as hy by hulle. Maar die derde een is anders. Sy hare is spierwit en hy het geen wapens nie. In pleks daarvan hou hy twee klein kalbassies in sy hande vas. Aan die manier waarop hy staan, en aan sy kyk, kan ek sien dat hy oud is, baie oud. Op sy kop dra hy ‘n geweefde kopstuk van verskillende kleure. Kurr kom met ‘n glimlag nader en groet vir Chris met ‘n kopknik. Sonder om verder te praat draai hy om en wink vir die wit dwerg. Die ou man staan versigtig nader terwyl Kur reeds agter my besig is om teen die wa op te klouter.
“Ek dink hulle het medisyne gebring.” Sê ek sag vir Chris. Maar daar is onsekerheid op Chris se gesig.
“Lyk die ou een nie vir jou soos ‘n toordokter nie?”
Hy is reg, daar is sekere ooreenkomste met die toordokters wat ons op aarde gesien het. Ek draai na hom toe.
“Daar is niks meer wat ons vir haar kan doen nie lief. Niks wat hierdie mensies doen kan dit erger maak nie.”
Hy staan ‘n oomblik hartseer na my en kyk. En dan neem hy my aan die hand en stap saam met my weg van die wa af waar sy suster en my vriendin op sterwe lê.
“Ek wil nie sien nie.” was al wat hy kan uitkry.
Oomblikke later peul Gideon en Stella by die wa uit.
“wie’s daai?” vra Gideon verskrik.
Chris laat dit aan my oor om te antwoord.
“Ons is nie seker nie,” praat ek, “Maar dit lyk of hulle wil help.”
Gideon vryf verward met sy hand deur sy hare.
“Sy het ons daar uitgejaag.” Sê hy.
“Sy?” vra ek.
Hy knik net.
“Definitief ‘n sy.” Antwoord hy, “Of ‘n man met ‘n vrou se stem.”
Ons staan buite die wa rond. Uiteindelik kan ek dit nie meer hou nie.
“Ek gaan kyk.” Sê ek.
Met Stella agter my loer ek by die wa in. Die vrou wat soos ‘n man lyk, of die man wat soos ‘n vrou klink, is besig om ‘n dik rooi salf aan Jasmien se wonde te smeer. Terwyl sy besig is prewel sy aanhoudend sagte woorde, asof sy vir Jasmien wil kalmeer. Wanneer sy klaar is, tel sy die tweede kalbassie op en hou dit voor Jasmien se mond terwyl sy haar kop met haar ander hand oplig. Bietjie vir bietjie, en met groot geduld gooi sy die waterige vloeistof in Jasmien se mond af. Daar is ‘n deernis in haar oë, ‘n sagtheid wat nie by haar voorkoms pas nie. Wanneer sy klaar is bly sy langs Jasmien sit en vryf oor haar hare.
“Wat maak sy?” vra Stella agter my.
“Ek weet nie,” antwoord ek, “Maar ek hoop dit help.”
Ek hoop. ‘n Mens kan nie help om te hoop nie, selfs al is die tekens sleg. Want solank as wat jy hoop, het jy iets om aan vas te hou. Die wit dwerg laat ons nie weer in die wa toe nie. Sy sit net rustig daar langs Jasmien terwyl my beste vriendin aan die laaste van haar lewe klou.
Daardie aand slaap ek en Chris in die spaarwa. Ek kan ook nie sê ons het geslaap nie. ‘n Mens kan nie slaap wanneer jy weet dat jy besig is om iemand aan die dood te verloor nie. Maar ‘n rukkie voor sonop het ek uiteindelik nie meer die krag om my oë oop te hou nie. Die laaste paar dae van opsit en bekommernis het sy tol geëis. ‘n Mens se liggaam kan net soveel hanteer.
Die son is reeds hoog wanneer ek wakker skrik, té hoog. Teen hierdie tyd moes ons al lankal aan die trek gewees het. Daar spoel ‘n koue gevoel deur my. As ons nie besig is om te trek nie, dan is hulle besig om ‘n graf te grou. Dit is al wat ‘n trek laat stilstaan. Dit is hoe dit op aarde was, en dit is al wat ek ken. Ek klim traag by die wa uit, bang vir die nuus wat ek gaan kry. In die middel van die laer, langs ‘n klein vuurtjie waarop ‘n groot swart pot staan, is die ou dwerg. En langs haar, besig om sonder ophou te praat, sit Jasmien!
Ek staar die spulletjie verdwaas aan. Behalwe vir die wonde, waarvan die swelsel reeds ver gesak het, is daar geen teken van haar noue ontkoming nie. Ek is bly. Natuurlik is ek. Sy is vir ons gespaar. Maar daar is ook ‘n groot klomp verbasing in my. Dit is nie onmoontlik vir iemand om by die dood om te draai nie. maar wanneer jy dag vir dag langs hulle sit en sien hoe hulle swakker word, dan is dit ‘n groot ding wanneer hulle herstel, veral wanneer daardie herstel oornag gebeur.
Waar sy langs die vuur sit, merk Jasmien my op. Sy staan op en begin nader stap. Ek ontmoet haar halfpad. En ek hou haar lank vas.
“Jy lyk fantasties!” sê ek opreg. Sy glimlag.
“Ek voel so.” Antwoord sy. “Ek het gedink ek’s klaar met die wêreld.
Ons bly ‘n week daar op dieselfde plek. Gewoonlik trek ‘n mens om iewers te kom, en daarom bly jy nie graag op een plek staan nie. Maar Chris glo dat daar baie is wat ons by die klein mensies kan leer. Hy is reg.
Hulle noem hulself die Kinders van die Kagma, of sommer Kagma, vir kort. Ons het leer dat die manlike en vroulike Kagma presies dieselfde lyk, behalwe vir een ding, natuurlik. Ons leer dat hierdie groepie Kagma een van sewe stamme is wat in die groot bergreekse rondom die Grasveld woon. En ons leer dat die Kagma verbasend goed is met tale. Binne die eerste twee dae het Stella reeds die basiese beginsels van Afrikaans by hulle ingeprop. En hoe meer hulle van die taal leer, hoe meer praat hulle.
Hulle huise is grotte in die hoë kranse. Die vrouens van die stam wys vir my en die ander jongnooiens van die trek watter bessies, vrugte en plantwortels eetbaar is en waar om hulle te vind terwyl die mans van die Kagma vir die jongmans wys het hoe hulle jag en watter diere daar in die berge is. Die Allur, soos hulle die ou vrou noem wat vir Jasmien gesond gemaak het, het ‘n spesiale belangstelling in Stella gekry, en wys haar al die kruie, blomme en plantwortels wat sy vir haar taak gebruik.
Die Kagma is ‘n vredeliewende en eenvoudige wese. In die berge weggesteek vir soveel jare, het hulle nie dieselfde eienskappe ontwikkel as mense nie. Hulle is een met die natuur. Vir hulle is daar geen konsep van besitting of die eie nie. Die wêreld waarin hul leef is almal s’n, of niemand s’n nie. Hulle kan ons nie eers verduidelik hoe ver die vallei nog strek nie, want hulle het geen benul van tyd of afstand nie. Vir hulle is die toekoms ‘n vae moontlikheid en die verlede ‘n gedane ding. Die oomblik waarin hulle leef, is al wat saakmaak. En afstand? Afstand maak nie saak nie. Wanneer jy gaan waar jy wil wees, dan is jy daar wanneer jy daar kom. Hulle het geen leier of heerser nie. Dit is nie nodig nie, want elke Kagma doen altyd wat die beste is vir die stam. Klein mensies in ‘n groot wêreld leer vinnig dat hulle mekaar nodig het.
Hulle is goed aangepas vir hulle lewe in die berge. Hulle digte haarbedekking beskerm hulle teen die koue daar bo teen die kranse, hulle is sterk en rats, en met hul gekloude vingers en tone kan hulle enige steilte aandurf.
Op die dag dat Chris aankondig dat ons verder gaan trek, kom die hele stam uit die berge af na die vallei toe om ons te kom groet. Vir sommige van hulle is dit die eerste keer in hulle lewens dat hulle die beskerming van die hoogtes verlaat. Die Kagma is nie ‘n groot stam nie. Daar is skaars dertig van hulle, maar hulle is duidelik ‘n hegte groep. Kurr, wat ten spyte van die aanvanklike taal probleem ‘n hegte vriendskap met Chris ontwikkel het, skenk aan ons ‘n geweefde grasmandjie vol vrugte en bessies . En voordat ons weg is druk hulle bergblomme in ons hare, ‘n teken van respek en vriendskap.
Die dinge wat ons by hulle geleer het, kom ons goed te pas. Daar is meer om te eet omdat ons tussen die verskillende bergplante kan onderskei. Chris en die ander jongmanne weet nou waar om na diere te soek wanneer hulle gaan jag, en wanneer Kleinkoos Eenoog van die wa afval omdat hy met sy een oog die einde van die wa en die begin van niks mis gekyk het, kan Stella sy seer sonder moeite reg dokter. Ons maak goed vordering, en ‘n week nadat ons die Kagma agter gelaat het, is daar ‘n optimistiese gees onder ons. Dit help natuurlik dat ons mekaar teen hierdie tyd ook beter leer ken het. Ons is nie meer vreemdelinge nie. Dit moet ook so wees. Ons het immers almal saam die onbekende aangedurf.
Daardie aand sit ons in ‘n groep om die vuur en gesels sommer so oor en weer. Daar is geen sterre in die donker hemel nie, want vroeër vanmiddag het die wolke bokant ons toegemaak. Ek sit langs Chris gesit met my hand in syne terwyl ons luister hoe Tielman en Wimpie stry oor wie nou eintlik die eerste was om daardie middag die Takhoring Bergbok vas te trek. Chris glimlag.
“Wie wás eerste?” vra ek sag in sy oor. Hy skud sy kop.
“Ek het nie ‘n idee nie. Toe ek daaraan kom het hulle altwee daar gestaan.” Antwoord hy. Oorkant ons voeg Jannie le Roux hom by die stryery.
“Ek dink die arme bok het gesien hoe lelik julle twee is en homself doodgeval.”
Terwyl die res van ons hartlik lag, sit die verontregte Wimpie en Tielman dikmond voor hulle en uitstaar.
“Ek dink dis tyd vir iets meer ernstig mense.” val Flippie die joligheid in die rede. Hy het ook begin grootword. Hy is nog steeds ‘n maer jongman, maar hy is lank en seningrig met breë skouers. Die res van die groep raak stil. Flippie draai na my en Chris.
‘Chris,” begin hy, “ Ek en die res van die groep het so by onsselwers gepraat.”
Chris frons.
“Nou laat ek hoor.” Antwoord hy. Flippie kug en staan ewe belangrik op.
“Die ding staan so,” sê hy, “Vandat ons uit die Grasland weg is, het jy ons goed gelei. Ek weet jy het van die begin af gesê jy trek maar net, en die van ons wat wil saamtrek is welkom. Maar ons almal hier weet dat jy voorloop. Jy voel dalk nie so nie, maar jy ís ons leier.”
Langs my begin Chris ongemaklik rondskuif. Hy is nie ‘n man vir sulke gepraat nie.
“En ons het so gepraat.” gaan Flippie voort, “Ons wil nie ‘n storie hê soos daar in die Graslande waar mense in vergaderings sit en die heeldag politiek net om op die ou einde nie tot besluit te kom nie. Ons is maar min, en ons het nie sulke onnodigheid, wel, nodig nie. Ons soek een man om ons te lei. En ons is almal gemaklik daarmee. En ons wil hê dat jý daardie man moet wees.”
Chris kyk hom ‘n lang ruk aan, sonder om sy emosies te toon. En dan praat hy sag en innig.
“Ek is nie ‘n leier nie, Flippie. Ek is maar net ‘n gewone mens soos jy en almal hier. Ek trek maar net. En sonder julle sou ek self ook nie ver gekom het nie.”
Flippie glimlag.
“Dis presies wat van jou so ‘n goeie leier maak.” Hou hy vol, “ Jy sien jouself nie as een nie. Maar die ding is, ons sien jou so. Ons wil nie vra dat enige-iets moet verander nie. Ons wil dit maar net amptelik maak. Ons wil maar net hê jy moet weet dat ons besef ons het jou nodig en ons volg jou graag.”
Chris tel met sy los hand ‘n takkie op en krap in die sand voor hom. Almal is stil, alle oë op hom gerig. Chris is nie die oudste tussen ons nie. Die oudste is Dikneels. Maar Dikneels is… Kom ons sê maar hy is ietwat stadig. Hy was nie altyd so nie. Daar kan slegte dinge met ‘n kind gebeur as hy te naby aan die agterkant van ‘n befoeterde perd staan. Na ‘n lang stilte kyk Chris uiteindelik op.
“Ek weet nie mooi wat om te sê nie.” praat hy , “Ek kan nie sien hoekom daar ‘n leier moet wees nie. Ons is tog almal in staat om vir onsself te dink. Ek is nie een wat aandring op dinge nie, maar ek gaan waar ek gaan, en ek doen wat ek doen. As daar mense tussen julle is wat my wil volg, dan is dit so.”
Chris is verkeerd oor een ding. Daar moet ‘n leier wees, want binnekort sal ons ‘n leier baie nodig hê. Daardie nag kom die reën, ‘n reën soos ons nog nie op Afrikana gesien het nie.
Hoofstuk 17
Om in die reën te trek is nie maklik nie. Veral nie wanneer daardie reën sonder ophou op jou neerstort nie. Ons vorder die volgende dag skaars die helfte van ons gewone afstand. Die grond is modderig en die klippe is glad, en elke nou en dan sit een of meer van die waens vas. Maar ons beur voort. Daar is niks anders om te doen nie. Teen die derde dag van deurdringende reën is alles binne die waens klam en alles buite die waens sopnat. Ons het droë hout op die waens, maar ons kan nie vuur maak nie.
Die gees van opwinding en optimisme tussen ons begin stadig maar seker plek maak vir irritasie en onsekerheid. Skielik begin ons stry oor dinge wat ons ‘n paar dae tevore nie eers sou raakgesien het nie. Chris probeer sy beste om die vrede te bewaar, maar ek kan sien dat selfs hy begin om kort van draad te raak.
Teen die vierde dag kom die rivier af en neem vier skape met hom saam. Vir ‘n groepie mense wat ‘n nuwe begin gaan maak, is die verlies van vier skape groot skade. Chris gee opdrag dat ons so al langs die kranse hou, want die water is besig om al hoër op te stoot. Ek weet nie hoe laat dit in die dag is nie, want sonder sonlig is dit moeilik om te sê, maar ons is reeds ure aan die gang wanneer daar meteens ‘n onaardse dreuning in die hoë kranse voor ons uitbreek. Eers dink ek dit is miskien donderweer uit die wolke wat laag en swart oor die berge hang, maar ek kom gou genoeg agter ek was verkeerd. Asof die onophoudelike water nie genoeg is nie, begin daar ‘n ent voor ons klippe, party so groot soos wawiele, uit die lug reën. Chris spring van sy perd af en pluk my van die wa af terwyl hy vir die ander skree.
“Onder die waens! Kom onder die waens!”
Oomblikke later skuil ons sy aan sy in die diep modder onder ons wa. Ek is bang, ek is nat, ek is vuil, en ek kry koud, so baie koud.
“Wat het gebeur?” vra ek.
“Die reën moes die klippe bo teen die kranse losgespoel het,” antwoord hy, “Dis ‘n rots storting.”
Ons lê daar totdat die dreuning heeltemal bedaar. Ek loer onder die wa uit.
“Chris.” Sê ek sag.
“Ja?” antwoord hy.
“Dit reën nie meer nie.”
Hy glimlag.
“Ek sien so.” Sê hy.
Saam-saam seil ons onder die wa uit. Agter ons verskyn die mense van die trek een-een. Chris staan en kyk na die mense wat hom wil volg.
“Is almal veilig?!” roep hy. Almal is. Maar dit sal nie lank so wees nie. Die rots storting het ‘n groot klomp klippe in die vallei kom neergooi, genoeg klippe om die hele breedte van die vallei van een kant tot die ander toe te val. En in die rigting waarheen ons op pad is, is daar nou net ‘n muur van klip, so hoog soos ‘n wa. Chris gaan moedeloos net daar in die modder op sy bas sit, kruis sy bene en staar met sy voorarms op sy knieë voor hom uit.
“Sal ons dan nooit uit hierdie donnerse vallei uitkom nie?” sê hy.
As ek die antwoord geken het, sou ek hom sê het wat dit is. Maar op daardie oomblik is daar iets meer dringend wat ek onder sy aandag moet bring.
“Chris?” praat ek.
Hy kyk na my toe op. Ek wys met ‘n koue vinger in die rigting van die rivier, wat teen hierdie tyd in volle vloed is.
“Kyk.” Sê ek.
Hy kyk, en wat hy sien het is dat die water besig is om stadig teen die nuut gevormde klipwal op te stoot. Almal weet wat gebeur as jy aan die verkeerde kant van ‘n damwal is wanneer die rivier begin afkom. En ons is definitief aan die verkeerde kant. Chris, wat oomblikke tevore nog moedeloos en moeg gelyk het, staan sommer so van sy boude af op en draai sommer so in die opstaan om.
“Kom manne!” skree hy en storm op die wal af. Die jongmanne reageer onmiddellik. Chris klouter tot bo-op die klippe met die res kort op sy hakke. Ek wil help, maar ek ken Chris goed genoeg om te weet hy sal my daar afjaag. Die enigste ding wat ek kan doen is om die jongnooiens, wat paniekerig in die modder rondstaan, se koppe bymekaar te hou. En wanneer mense paniekerig is, is die beste ding om te doen om hulle besig te hou.
Ek maak hulle vinnig bymekaar en begin take uitdeel.
“Jasmien! Jy en Stella moet die osse uitspan. Ons kan nie laat hulle so in die tuig verdrink as die water te hoog raak nie. Nelie, klim jy en Wilma teen daardie skuinste op en kyk of daar vir ons skuilplek is as ons moet wegkom. Marie, Anna, Sussie, Kotie, kry die spaarseil uit die agterste wa en gaan sit dit so hoog as julle kan, ons gaan dalk skuiling nodig hê.”
Die meisies reageer vinnig. Ek vlieg om en kry twee ysterhoutpale uit die voorste wa voordat ek daarmee na die muur toe hardloop. Daar is groot klippe in daardie muur, en ek reken die jongmanne sal die pale dalk nodig kry. Van onder af skree ek vir Dikneels wat die naaste aan my is. Hy draai om en kom die pale by my haal. Daarvandaaan gaan ek terug om te help met die uitspan.
Op die klipwal is die manne angstig besig om af te breek. Ek kyk om. Die water styg nou vinniger en is reeds naby die waens.
“Ons moet vinnig maak.” roep ek vir Jasmien terwyl ek met die spantoue sukkel. Een vir een sodra hulle los is, sluit die osse hulle by die res van die vee wat teen die kranse saamgebondel aan. ‘n Dier weet vooraf van die dinge wat in die natuur gaan gebeur.
“As jy wil weet of dit gaan reën, kyk maar na die kalfies. As hulle speel, dan kom dit reën.” Het Oupa Dawid altyd gesê
Hierdie diere speel nie. Hulle wéét.
Teen die tyd dat ons die laaste osse loskry en die ander meisies hulle take afgehandel het, skarrel die jongmanne steeds bo-op die klippe rond. Hulle het reeds ‘n klomp klippe van die muur af gegooi, maar dit sal duidelik nie genoeg wees om te keer dat die water alles wat ons het vernietig nie. Ek kyk beangs ondertoe. Die water langs die waens is reeds kniehoog.
“Chris!” skree ek. “Kom julle af daar! Dis te laat!”
Chris stop waarmee hy besig is en kyk na die water. Hy gryp een van die ysterhout pale by Dikneels en skree iets vir die ander jongmanne. Ek is te ver om te hoor wat hy met hulle praat, maar die volgende oomblik kom hulle een vir een teen die klippe af. Ek is verlig, maar net vir ‘n oomblik. Want Chris volg hulle nie. Hy druk die paal onder ‘n groot klip in en begin daarop leun. Ek kan sien hoe die inspanning oor sy gesig lê.
Teen die tyd dat al die ander jongmanne reeds op die grond is, trek die water reeds tot by hulle middellywe. Bo-op die muur is dit net Chris, self tot by sy knieë in die water, en Dikneels wat ‘n ent van hom af besig is om afklimplek te soek. Ek skree beangs.
“Chris! Kom af!”
Hierdie keer kyk Chris nie op nie. Maar Dikneels doen, en wanneer hy omkyk en Chris alleen daar sien, is hy binne oomblikke daar langs hom. Ek wil hê hy moet vir Chris terugbring, maar in stede daarvan gryp hy die paal saam met Chris vas en begin druk. Skielik beweeg die groot klip. Ek hou my asem op. Die water is nou so hoog dat ek op die wa moet klim.
“Wat maak hy?” vra Jasmien.
Ek kyk om. Ek het gedink al die meisies is reeds veilig op hoër grond, maar Stella en Jasmien is nog daar op die wa. Ek moes geweet het hulle sal my nie alleen daar los nie. Ek het nie tyd om te antwoord nie. Ek draai my weer om, gereed om weer te skree. Maar daar bo-op die muur leun die groot klip skielik oor, en dan, stadiger as wat ‘n mens sou dink, kantel hy oor en val van die wal af.
Skielik loop die water. Ek kyk weer af. ‘n Mens kan sien hoe die watervlak val, en my hart juig. Ek kyk na Chris. Bo-op die muur staan hy en Dikneels, hulle hande triomfantlik in die lug. Ek begin lag van totale verligting.
En dan gee die wal onder hulle mee…
Ek wil skree. Ek wil gil. Maar die skok slaan al die lug uit my longe uit. Chris en Dikneels verdwyn oor die wal saam met die malende watermassa wat hulle vrygelaat het. Ek spring van die wa af en begin deur die knie-hoogte water hardloop. Ek weet nie geweet wat ek van plan is om te doen nie, ek hardloop net. Maar sterk hande gryp my van agter af styf vas. Ek probeer losruk.
“Saartjie!” skree Flippie in my oor terwyl hy my vashou. Ek probeer stoei.
“Los my!” gil ek, “Los my! Chris!”
Flippie lig my ‘n entjie van die grond af op en draai met my om, weg van die dieper water af. Reg voor ons staan Jasmien.
“Los my!” skree ek weer. Jasmien trek haar arm terug en klap my hard in die gesig. Ek verslap my liggaam, nie omdat dit so seer is nie, maar omdat dit Jasmien is wat dit gedoen het. Ek besef iewers in my agterkop dat sy gedoen het wat ‘n mens doen wanneer iemand histeries raak, maar Jasmien? Ek kyk haar verdwaas aan.
“Wat dink jy gaan jy doen?” skree sy, “Wat dink jy baat dit as jy jouself ook gaan versuip?!”
Ek weet sy is reg, maar ek gee nie om nie. Ek sal eerder doodgaan as om sonder Chris te leef.
“Dink jy dis wat Chris sou wou hê?” vra sy met ‘n sagter stem.
Sy is weereens reg. Maar ek gee nogsteeds nie om nie. Binne my is dit leeg. Ek laat my kop laat hang soos een wat verslaan is en begin huil. Binne oomblikke is haar arms om my. Sy druk haar gesig in my nek.
“Wat ook al gebeur,” sê sy sag in my oor, “Hulle het ons gered. Hulle het almal van ons gered. Hulle is helde.”
Wat baat dit om ‘n held te wees wanneer jy dood is. Wolraad Woltemade was ‘n held, ‘n dooie held. En so was baie ander. Nou is my man, die man vir wie ek lief is, ook een van hulle. Mense onthou sulke helde. Mense bring hulde aan sulke mense. Maar wat van die wat agterbly? Wat maak dit verskil dat hulle helde is? Ons bly alleen agter.
Ons staan net daar, so in mekaar se arms. En terwyl Gideon en Flippie hulle perde sommer so bloots deur die water en om die gebroke wal stuur, op pad om na hulle vriende te gaan soek, huil ons saam. Ek het my man verloor, en Jasmien het haar broer verloor.
Sonder om te praat begin die res van die jongmanne en nooiens om die wal verder af te breek. Ons moet nog steeds die waens verby kry. Die lewe wag nie vir die hartseer om klaar te raak nie.
Flippie en Gideon keer na sononder terug. Hulle het niemand gekry nie. Ek is nie verbaas nie. dit is ‘n groot klomp water wat die twee mans weggespoel het. Ek weet daar is min kans dat ons hulle ooit sal vind.
“Ons sal môre weer vooruit ry en gaan soek.” Sê Gideon. Maar Jasmien skud haar kop.
“Nie altwee van julle nie,” sê sy, “Een van julle moet by die trek bly.”
En dit is ook so. Nadat almal tot diep in die nag gewerk het om die wal af te breek, stuur ons vroeg die volgende oggend die waens een vir een deur die nou opening. Gideon is in beheer van die trek, terwyl Flippie reeds voor dagbreek teen die rivier af ry, op soek na ‘n teken van Chris en Dikneels. Ek wil saam met hom gaan, maar Jasmien hou voet by stuk.
“Jy bly hier by my.” Maan sy. En ek het nie die krag om te stry nie.
Al hang die son teen vroegmiddag helder in die blou lug, gaan die trekkery nog maar moeilik. Dit sal ‘n dag of twee neem voordat die nat grond droog gebak is, en die modderige grond vertraag ons pas nog steeds. Daar is geen sonskyn in my hart nie. Ek sit soos ‘n slaapwandelaar voor in die wa. Kan ‘n mens iemand wat sit ‘n wandelaar noem? Stella en Jasmien sit weerskante van my, stil, sonder woorde. Ek waardeer dit. Ek het dikwels as kind gewonder hoekom mense so baie te sê het wanneer iemand sterf.
“Dit was God se wil.” Sou hulle sê, of: “Die here pluk ‘n blom op sy mooiste.”
Hoe weet mense wat God se wil is? Hoe weet hulle wanneer die blom op sy mooiste is? Ek kan verstaan dat hulle probeer help, dat hulle probeer om te troos. Maar daar is tye wanneer ‘n mens nie getroos wil wees nie. Daar is tye wanneer al die oorgebruikte woorde niks beteken nie. Soms moet ‘n mens jou mond hou en net jou arm om iemand sit. Soms moet jy net daar wees. Want soms wil ‘n mens net huil omdat jy die reg het om te huil. Jy wil vra hoekom. Jy wil kwaad wees vir die wêreld en omstandighede en selfs vir God.
Aan die voorpunt van die span osse gaan Gideon skielik staan. Die osse is teen hierdie tyd al so gewoond aan sy leiding dat hulle onmiddellik gaan staan. Ek kyk niks sienend op. Voor ons in die vallei is daar ‘n draai, nie ver van ons af nie. En om daardie draai kom Flippie, saam met hom is Dikneels, en hy leef. Op so ‘n oomblik gaan daar baie dinge deur jou gedagtes. Die eerste wat deur myne gaan is as een mens dit kan oorleef, dan kan die ander ook, veral in ag genome dat Dikneels nie eers kan hondjieswem nie. Chris kan swem. Hy kan goed swem. Ek en Jasmien spring van die wa af en hardloop agter Gideon aan, wat reeds halfpad tussen die wa en die tweemanskap is. Dikneels sit op die perd terwyl Flippie die dier ly. Daar is blou merke aan Dikneels se gesig, sy klere is geskeur en aan sy regterbeen is daar ‘n bloedkol.
Ons loop saam met die perd terug in die rigting van die waens. Ek brand om Dikneels uit te vra oor Chris, maar die groot jongman is duidelik moeg en seer. Dit moes vir hom ‘n folterende ervaring gewees het om so deur die water meegesleur te word, om van die nag alleen in die oopte nie te praat nie.
“Waar het jy hom gekry?” vra Gideon vir Flippie.
Flippie lyk moeg.
“Langs die rivier.” Antwoord hy, “Hy het in ‘n hoop tussen die klippe gelê.”
“Het hy iets gesê?” vra ek. Ek sê nie waaroor nie, want dit is voor die hand liggend. Flippie skud net sy kop.
“Hy het nog nie eintlik gepraat nie.” Antwoord hy, “Ek dink hy ly aan skok.”
Bo-op die perd kyk Dikneels met hartseer oë na my toe af.
“Hy het my lewe gered.” Praat hy in ‘n sagte stem.
“Wat?” vra ek.
“Chris.” Sê hy, “Hy’t my gered. Ek was in die water, en ek het geweet ek gaan dood. Maar Chris het my beetgekry en my tot by die wal gekry. ”
“Het hy ook uitgekom?” spreek ek my hoop uit. Maar Dikneels skud sy kop.
“Die water was baie sterk. Ek het ‘n klip vasgegryp en gehou vir al wat ek werd was. Toe ek my kop draai het ek gesien hoe die water hom verder vat. Ek het gesien hoe sy kop onder die water gaan. Ek dink sy krag was op. Ek weet nie eens hoe hy my daar kon uitkry nie.”
Gideon en Flippie help hom van die perd af en loop weerskante van hom tot by een van die waens. Nadat hulle hom veilig binne die wa het, los hulle Stella by hom en kom skuit haar weer by my en Jasmien aan.
“Ek sal weer verder gaan.” Sê Flippie, “Die terugkom met Neels het maar stadig gegaan.”
Gideon knik.
“Ek dink jy moet ‘n vars perd vat.” Sê hy, “Vat sommer myne.”
“Daar is nog iets.” Sê Flippie. Vir my maak dit nie veel saak wat daar nog is nie. Solank dit nie oor Chris gaan nie, het ek geen erg daaraan nie. Hy gaan voort.
“Ek het die einde van die vallei gesien.”
Hoofstuk 18
Vir my is Flippie se nuus nóg hier, nóg daar. Wanneer jy ‘n geliefde verloor maak dit nie regtig saak waar jy is nie. Maar vir die mense van die trek is dit goeie nuus. Flippie kan ons nie vertel wat anderkant die einde lê nie, want hy het Dikneels ontdek kort nadat hy besef het hy raak uit vallei uit. Maar dit maak nie veel saak nie. Niemand gee om of ons verder sal moet trek nie. Die verandering van die hoë kranse rondom ons, wat na ‘n paar weke se trek begin maak dat jy voel jy is vasgekeer in ‘n plek sonder einde, na ‘n oopte waar jy ten minste verder as ses wa-lengtes kan sien, sal welkom wees.
Daar is die volgende oggend ‘n opgewondenheid in die laer. Almal staan douvoordag op en maak gereed maak sodat ons, ons doelwit so vroeg as moontlik kan bereik. Ek staan rond en aanskou die besige laer. Hoe graag sal ek wil hê dat Chris hier kan wees om saam met ons klaar te maak wat hy begin het. Aan die verpunt van die laer is Flippie besig om sy perd op te saal. Ek stap oor na hom toe. Wanneer hy my oor sy skouer sien aankom draai hy om.
“Môre Saartjie.” Groet hy.
“Môre Flippie.” Antwoord ek stil. “Gaan jy weer uit?”
Hy knik.
“Ek gaan kyk hoe ver ek kan uitry.’n Mens weet nooit, Chris is ‘n sterk man.”
Ek weet nie of hy regtig glo hy staan ‘n kans om Chris te kry, en of hy maar net probeer om my op te beur nie. Ek vat hom aan die arm.
“As jy iets kry.” Sê ek, “Al is dit net sy liggaam, jy moet my kom haal, hoor jy? Ek gee nie om hoe sleg dit is nie, ek wil weet.”
Hy kyk my lank aan. In sy oë is daar ‘n opregtheid wat my gemaklik laat voel.
“Ek sal so maak.” Antwoord hy.
Hy draai om en maak die laaste verstellings aan die buikgordel voordat hy sy rydier bestyg. Hy is al ‘n entjie van my af weg wanneer ek agter hom aanroep.
“Flippie!”
Hy draai sy perd om en kyk na my.
“Dankie.” Sê ek.
Hy antwoord nie. Hy glimlag net en ry weg.
Wanneer ‘n mens jou naby iemand bevind wat groot hartseer beleef het, dan maak dit jou ongemaklik. Jy weet nie altyd mooi hoe om op te tree of wat om te sê nie. Terwyl ek op die wa sit, met my oë op dinge rondom my sonder om dit te sien, is daar ‘n opgewekte gees tussen die res van die mense. Maar nie naby my nie. Dat is asof almal wat naby my kom voel dit sal onvanpas wees om vrolik te wees in die teenwoordigheid van iemand wat rou. Dit pla my nie. Ek het self in die verlede so gevoel wanneer ander mense skade gely het. Dit is net vreemd om dit van die ander kant af te ervaar.
Gideon, wat sekerlik self uitsien om die einde van die vallei te bereik, maak nogtans seker dat ons nie te vinnig probeer vorder nie. Dit sal nie help om die osse te hard te probeer druk of die waens skade aan te doen nie.
“Ons sal wel daar kom.” antwoord hy rustig wanneer iemand kla oor die stadige pas. Teen Vroegmiddag stuur hy Jannie le Roux en Wimpie vooruit om te sien hoe ver ons nog moet gaan. Hulle is skaars weg, dan is hulle terug. Ons is maar ‘n uur weg van ons bestemming af. Van die jongnooiens klim van die waens af en stap vooruit om te gaan kyk. Jasmien, wat die heeldag in stilte langs my gesit het, stamp aan my.
“Moet ons ook gaan kyk?” vra sy. Ek skud my kop. Ek is lus vir niks. Maar sy vat my nietemin aan die hand.
“Komaan,” sê sy, “die stap sal jou goed doen.”
Ek sal dit nie op hierdie dag aan haar erken nie, maar sy is reg. Teen die tyd dat ons op die heuwel kom waar die kranse plek maak vir ‘n groot, oop wêreld wat vir myle na onder strek, is my gemoed ligter. ‘n Mens vergeet nie jou pyn nie, jy dink verby dit. Ons staan in stilte en kyk. Die golwende heuwels wat al ondertoe voor ons uitstrek, is oortrek met ‘n verskeidenheid groot bome. Hier en daar staan ‘n tweebeen aan die blare en vreet. En in die verte, so ver dat jy dit net op ‘n helder dag soos hierdie sal kan sien, sien ek vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd hoe die water soos ‘n berg bokant die grond uitstaan. Ons is by die see…
Ek weet van my kinderdae in die kaap dat die groot water op die horison nog ver van ons af is. Dinge lyk soms nader as wat hulle is, veral wanneer jy afdraande kyk. Maar die wete dat dit daar is, verslap die groot hande wat swaar om my hart druk ietwat. Ek het nog altyd van die see gehou. Water het ‘n manier om ‘n mens rustig te maak.
Die waens bereik ons ‘n rukkie later. Gideon gee opdrag dat ons net daar laer opslaan. Hy wil eers verkenners uitstuur om die pad vorentoe te bespied voordat ons verder trek. Terwyl die ander besig is met die gewone besigheid wat met die opslaan van ‘n laer saamgaan, stap ek so op my eie teen die rivier se wal af. Iewers agter in my kop is ek bewus daarvan dat dit nie mooi maniere is om nie te help met die werk nie, maar daar is nie genoeg van ‘n skuldgevoel in my om om te draai nie. Daar is ‘n moegheid oor my wat my voete swaar en my brein stadig maak.
Op die oewers, aan albei kante van die nou rustige water, getuig die lyke van ‘n honderd bom van die groot waters wat onlangs hier verby is. Die tekens is duidelik: geen mens kan so ‘n magtige fors oorleef nie. Ek sou bid vir ‘n wonderwerk, maar ek het vergeet hoe. Mens kan in elk geval nie verwag dat god, as daar een is, net moet regstaan wanneer jy hom skielik nodig het nie. Daar is ‘n ding soos mooiweersvriende. Daar is ook ‘n ding soos swaartyd gelowiges.
Ek moet steeds hoop. Dit is wat ‘n getroue mens doen; jy hoop dat alles sal uitwerk. Maar daar kom ‘n tyd dat jy weet daar is geen meer hoop nie, al is dit teen jou sin. Op hierdie stadium wil ek net weet. Ek wil hom terughê, al is dit net om hom te begrawe. Die onsekerheid kan ‘n mens mal maak. Dit vreet aan jou. Dit tart jou.
Ek draai weg van die water af, want die rivier vertel die marteling van my liefde se liggaam oor en oor. Daar is bome in hierdie nuwe plek wat ons nie in die Grasland geken het nie. Die ysterhout en die Sponsboom is al wat ek op Afrikana leer ken het, maar nie meer nie. Miskien is dit die berge rondom wat verhoed het dat ander soorte ook hul pad na die Grasland toe gevind het.
Bokant my doof die blare van ‘n reuse boom met wortels wat halfpad bokant die grond uitsteek die sonlig uit. Ek merk dit skaars op. Ek weet nie hoe lank of hoe ver ek stap nie, maar uiteindelik gaan ek teen ‘n dik stam sit. Ek is moeg. Nie van die stap nie, my liggaam is sterk. Maar my gees, my gees is moeg. Ek laat my kop op my opgetrekte knieë rus en ek begin gehuil. Ek huil oor Chris. Ek huil oor Willemien. Ek huil oor my mense. En aan die einde huil ek sommer net.
Ek sit ‘n lank ruk, so met my verborge gesig. Dit is die regte plek om te wees as jy wil treur. Die skemerlig koelte en die koel stilte van die groot boomstamme rondom my roep die hartseer binne my. Verder is dit stil, doodstil. Daar is tye wanneer jou kop leeg is. Nadat my trane lank reeds opgedroog het, gaan staan my gedagtes stil. My kop is leeg. Dit is net ek en die stilte. Totdat ‘n klein geluidjie voor my, uiteindelik my aandag trek. Daar is geluide wat stil is, geluide wat nie geraas maak nie. Hierdie is so ‘n geluid. Maar dit is ook een van daardie geluide wat, ten spyte van sy stilte, spreek van ‘n groot plek van oorsprong. ‘n Geluid hoef nie te raas vir ‘n mens om te besef dat die plek waar dit begin het ‘n groot plek is nie. Dit is soos die sagte donderweer dreuning wat diep binnekant die borskas van ‘n leeu rammel. Jy hoef nie die leeu te sien nie, jy weet net dit is daar. Jy hoor die krag en die grootte. Wanneer jy jou alleen in die bos in ‘n vreemde wêreld bevind, dan is so ‘n geluid ietwat onrusbarend. Ek verstyf, te bang om op te kyk. Miskien sal dit wat daar voor my is, die groot ding wat sag gerammel het, vanself wegraak. As mens weet iets is daar, maar jy kyk nie, dan stel dit die werklikheid daarvan uit, al is dit net vir ‘n wyle. Uiteindelik oorkom my nuuskierigheid my vrees oorkom. Ek maak my oë oop en kyk stadig op. Voor my, ‘n paar tree van my af, sit ‘n ding plat op sy boude. Ek kan nie seker wees wat dit is nie. Dit lyk soos ‘n groot aap, of miskien ‘n harige soort mens. Daar is twee arms wat in groot hande met lang vingers eindig. Daar is twee opgetrekte bene met die grootste pote wat ek nog gesien het. Maar dit is die gesig wat my aandag hou. Dit is nie die gesig van ‘n mens nie, maar dit is naby genoeg. ‘n Groot plat neus en dik lippe is prominent, en groot swart, amper hartseer oë staar na my. Ek is nie seker hoe om te reageer nie, maar daar is geen behoefte by my om enige iets vinnig te doen nie. Wanneer ‘n ding drie keer so groot soos jy vir jou sit en kyk, dan doen jy wat jy doen so stadig as wat jy kan.
Na ‘n lang ruk van so vir mekaar sit en kyk, besluit ek dat ek nie meer hier wil wees nie. Daar is geen indikasie dat die dier my wil skade aandoen nie, maar ek sal nie weet wat presies dit sal wees wat sulke intensies sal aandui nie. Ek begin stadig opstaan, so stadig dat ek met tye wonder of ek nie dalk net dink ek beweeg nie. Die groot oë hou my intens dop. Uiteindelik staan ek regop, die growwe stam van ‘n boom teen my rug. Sonder om my oë van die groot mens-aap af te haal, begin ek agteruit om die boom beweeg, totdat die stam tussen my en hom staan. Hy beweeg steeds nie.
Sonder om te aarsel vlieg ek om en spring weg. Mens hardloop soms weg vir iets wat nie daar is nie. Jy kyk oor jou skouer en kan niks sien nie, maar jy hoor die groot voete in die kortgras hier agter jou en jy voel die groot hande na jou gryp. Met hol rug en groot tree hardloop jy, net vir ingeval.
Uiteindelik kom ek onder die blaredak uit en voel die sonlig op my vel. Voor my is die rivier en aan my linkerkant, ver teen die steiltes op, krul die rook van die laer se vuurtjies rustig die blou hemel in. Ek staan vir ‘n paar oomblikke. My hande is op my knieë en my asem jaag in my keel. Hier in die oopte langs die rivier voel ek veiliger. Die grootpoot sal sekerlik nie tot hier kom nie. En nadat ek my asem terugkry, kom ek regop, gereed om myself terug te vat na my mense toe. Maar ‘n geluid laer af teen die rivier trek my aandag getrek. Eers dink ek dat die grootpoot my wel agtervolg het, maar wanneer ek omkyk, is dit nie hy wat ek daar sien nie.
Daar, langs sy perd met die teuels in sy hand, staan Flippie. En bo-op die perd, met geboë skouers en kop, bebloed en stukkend, is my Chris.
Wanneer mens iemand lewend sien wie jy reeds in jou kop aan die dood afgestaan het, dan is dit moeilik om jou eie oë te glo. Ek staar verdwaas na die drie van hulle, Flippie, die perd en Chris. Flippie lyk moeg, maar daar is ‘n glimlag op sy gesig.
“Hy het aan ‘n boomstomp vasgeklou.’ Sê hy, “Al die pad met die stroom af tot amper by die riviermond.”
Sy stem wek Chris uit sy half beswyming op. Hy kyk met moeë oë op, en wanneer hy my sien, hel hy sommer so vanself oor en gly teen die perd af. Flippie vang hom en sit hom op die grond neer. En ek is daar, plat op my boude met my lief se kop op my skoot. Sy gesig is geswel en sy lippe is gebars, maar in sy oë is daar ‘n wakker, ‘n lig wat nie uitgedoof sal word nie. Ek vryf met my hand oor sy gekoekte hare. Ek kan sien hy wil praat en leun vorentoe. Stadig maak hy sy mond oop.
“Meisiekind,” sê hy sag hier teen my wang, “Ons is hier.”
Drie dae later staan ons langs die groot water. Dit is net ons twee, ‘n ent van die laer af wat verder teen die strand op getrek is. In die ooste begin die rooi son om die einde van die dag aan te kondig. Ons staan net, in mekaar se arms en sonder woorde. Dit is ‘n perfekte oomblik, een van daardie oomblikke wat ‘n kunstenaar wil skilder. Hier by ons voete breek die rustige golwe sag oor ons tone. Verder teen die strand op troon die rotse trots bo die water. En ver op die horison, daar waar die blou water en die blouer lug bymekaar kom, met twee maste en geel seile wat bolstaan in die seewind…
‘n Boot?!
Die Einde.
_________________________
LET WEL: Afrifiksie behou alle kopiereg op hierdie storie. Geen deel daarvan mag gekopieer of op enige manier elders gestoor word nie – dit mag alleenlik op die Afrifiksie-webwerf gelees word.