Manne van die Maan

deur

Pieter W. Grobbelaar

_________________________________

By Kaap Kennedy is dit vanoggend weer ‘n miernes.

Daar gaan ‘n ding gebeur.

‘n Vuurpyl word gereed gemaak vir ‘n bemande vlug maan toe. Maanreise is glad nie meer iets nuuts nie. Die Amerikaners het al ‘n dosyn keer daar geland. Die Russe ook. Tog bly dit opwindend en gevaarlik. En hierdie vlug is vir Amerika van die grootste belang.

In die V.V.O. word al dae lank gestry. Onenigheid in die Verenigde Volkere is natuurlik niks vreemds nie. Hierdie keer gaan dit egter oor ‘n nuwe onderwerp: die maan.

Die Russe beskuldig die Amerikaners daarvan dat hulle die maan as basis wil gebruik om kernwapens op hulle af te vuur. Die Amerikaners ontken dit en beskuldig terug. Terwyl die diplomate praat, is die wetenskaplikes besig om iets te doen. So vinnig as moontlik skiet hulle vuurpyle op om so veel as moontlik van die maan te gaan afpen. Die Russe loop op die oomblik effe voor. Hierdie Amerikaanse maanvlug moet die voorsprong uitwis.

Die Saturnus-vuurpyl is eindelik gereed. Dit lyk nes ‘n tamaai roomyskegel, is oor die driehonderd voet lank en weeg meer as ‘n honderd ton. Sy vader is doktor Wernher von Braun. Hy eet, slaap en droom ruimskepe en vuurpyle. Vanoggend is hy al vroeg op die been. Vol trots kyk hy na die blink reus wat hy en sy manne gebou het.

„Gaan, papa se baba, gaan !” se hy.

„Bly bo, baba, bly bo !” beaam sy manne so sing-sing.

Binne die Saturnus is daar twee ruimkapsules : ‘n grote en ‘n kleintjie. Die grote heet Apollo, die kleintjie Gogga — ‘n mooi naam en ‘n lelike. Hulle is aan mekaar vas, sal later eers skei. Gogga moet ‘n groot werk doen, want hy gaan land terwyl die Apollo om die maan sirkel.

In die kajuit van die Apollo sit drie manne met hul ruimpakke aan en wag. Daar is Peter Jackson, die kommandeur, David Longfellow en James McGuire.

Elkeen is met sy eie gedagtes besig.

Peter dink aan sy babaseuntjie wat die vorige nag gebore is. „Ons doop hom Peter Apollo !” het sy vrou, Julia, voorgestel. Hy het ingestem.

David dink aan sy kinders, Lily en David, junior. „Bring vir ons diamante uit die maankraters saam, Papa!” het hulle gesoebat. Hy het laggend ja gesê.

James is nog ongetroud. Gwen, sy blouoog uit Texas, was dapper by die afskeid en het gespot : „As jy nie van die maan af terugkom nie, James, trou ek maar met die man in die maan !”

‘n Skril gefluit.

Dis die teken waarop almal gewag het.

Die aftelling begin :

Tien . . . nege . . . agt . . . sewe . ses . . . vyf . . . vier . . . drie . . . twee . . . een . . .

Zero !

Aarde en hemel skeur.

Die Saturnus is op pad.

Soos blits klim hy die lug in.

Nog ‘n ontploffing, en nog ene.

Die Saturnus sterf in die ruim. Maar die Apollo is vort. Hy is reeds besig om hom van die aarde se swaartekrag los te maak.

Doktor Von Braun glimlag tevrede. „Voorspoedige reis, baba!” roep hy agterna.

Die Apollo spoed nou teen 18,000 myl per uur voort. Later sal die snelheid afneem.

„Hoe voel julle?” vra die beheertoring by Kaap Kennedy.

„Eersteklas,” antwoord kommandeur Peter Jackson. „Die drukking in die kajuit bly konstant. Die vogtigheid is 80 persent, en die temperatuur 68 grade Fahrenheit.”

„Maar ons sweet in ons ruimpakke,” voeg James McGuire by.

Hulle voel aangenaam vry; hulle arms swem voor hulle. Nou is hulle gewigloos.

Peter skakel die sender af. Hulle moet minstens elke uur verslag doen. Intussen kan hulle ‘n bietjie ontspan. Dis ‘n lang reis : 36 uur of 240,000 myl.

Hulle raak aan die gesels.

„Von Braun se baba is doodreg,” sê James. „Maar dit gaan nog lank vat voor professor Stuhlinger se ruimperd na Mars gereed is.”

„Ja,” stem David saam, „seker goed ‘n jaar of vyf. ‘n Reis na Mars is nie speletjies nie. Dink net : sewe maande.”

„Jy vergeet nog die maand op Mars self,” vul Peter aan.

„Agt maande,” sê James. „Dis ‘n lang tyd om van ‘n nooi weg te wees !”

Die twee getroudes lag.

„Daardie ruimperd sal darem baie geriefliker as ons Apollo wees,” gaan James voort; hy is lief vir gesels. „So groot soos ‘n huis van ‘n paar verdiepings met eetvertrekke, slaapkamers, stortbaddens, beeldradio, telefone, alles kompleet.”

So droom hulle van die wonderlike ruim om hulle en die planete wat daardeur op hul vaste bane snel :

Venus met sy wolkkombers;

Jupiter, die ou grote, wat teen 18,000 myl per uur drie jaar ver lê;

Saturnus, waar die winters sewe maande lank is;

Mercurius, altyd met dieselfde kant na die son gedraai — daarom is dit so warm dat lood daar sal smelt, terwyl sy agterkant so koud is dat selfs die gasse van die lug sal verys.

En dan is daar nog Pluto — eensame swerwer op die grens van die sonnestelsel.

„Dink net daarnaan,” sê David, „teen 18,000 myl per uur sal dit een-en-twintig jaar kos om daar te kom. Selfs James sal dan al te oud wees vir die mooi nooiens van Pluto.”

Hulle lag.

„Sê nou ons was op pad na Pluto,” mymer Peter, „dan sal my seun net mooi mondig wees teen die tyd dat ons daar aankom.”

„En dis nog sommer grappies as jy na die sterre kyk,” val James weer in. „Die naaste outjie is mos omtrent vier ligjare ver.”

„Lig trek teen 186,000 myl per sekonde,” begin David uitreken. „En vier ligjare is 4 x 365 x 24 x 60 x 60 sekondes. Vermenigvuldig die antwoord nou met 186,000, en jy het die myle.”

„Nee, toggie,” lag Peter, „so goed is my hoofrekene nie. Maar ek weet iemand het al uitgewerk dat jy teen 18,000 myl per uur altesame 162,000 jaar na die naaste ster sal reis.”

„Teen daardie tyd het Gwen lankal met ‘n ander kêrel weggeloop !” meen James.

„Die Russe sal dit seker nog probeer,” sê David. „Stuur ‘n hele paar gesinne op, sodat daar gedurig op pad nuwe ruimvaarders gebore word. Hulle het mos genoeg mense waarmee hulle graag mors.”

Die Russe ! Noudat die naam genoem is, word die ruimvaarders stil. Hulle dink aan hul sending, en hulle verwens die spul Rooies wat die wêreld — en die ruim — altyd vir al die ander mense probeer moeilik maak.

„Ek hoop nie ons loop van ons ,vriende’ op die maan raak nie,” sê James.

„Dit sal my glad nie verbaas nie,” sê Peter. „Hulle skiet die maanskepe nou soos ertjiepitte op.”

David blaas minagtend deur sy neus.

Kaap Kennedy roep. Hoe gedra die Apollo hom nog?

Nee, uitstekend. Die ruimmanne kan nie oor hul ryperd kla nie.

Die ure gaan verby. Hulle slaap om die beurt, eet vitamienpille en wag.

Eindelik hang die groot ronde bal voor hulle.

Kommandeur Jackson druk ‘n knoppie op die paneelbord. Die truvuurpyle rem die Apollo tot hy netjies in ‘n baan om die maan geplaas is.

Nou is die drie ruimmanne baie bedrywig. David en James verdwyn in Gogga se maag. Alles word eers weer ‘n slag getoets, die voorrade nagegaan : kos, water — die maan is heeltemal droog; sonskerms, want daar is geen atmosfeer om die skroeiende strale te breek nie; stelte om mee te loop, omdat die stoflaag op die maan soms gevaarlike gate bedek waarin ‘n mens heeltemal kan verdwyn. Ja, en dan die vlae. Laaste toets hulle hul lugdigte ruimpakke met die swaar suurstofsilinders op die rug, maar daar is geen lekplekke nie.

Hulle is gereed.

„Tot siens !” se David en James. Die kommandeur bly in die Apollo agter.

„Voorspoed !” wens hy hulle toe.

Hy trek ‘n hefboom. Gogga begin lewe.

Stadig maar seker maak Gogga hom van Apollo los. Vuurpyle word afgevuur in die teenoorgestelde rigting as die waarin hulle beweeg. Gogga se snelheid verminder. Neus vorentoe peil hy op die maan af.

„Hy is te haastig,” sê James. „Pluk hom so ‘n bietjie in die bek.”

Twee truvuurpyle doen hul werk.

„Nou gaan ons saggies-saggies op die maan se donskombers land !” sê David uitgelate.

Dis ‘n groot oomblik vir die twee manne.

Gretig beskou hulle die maanlandskap. Daar is ruwe bergreekse met eensame spitse, hoër as Everest. As die maan ‘n dampkring gehad het, sou hulle seker met sneeu bedek gewees het. Daar is ontsaglike kraters — party vulkanies, ander weer deur vallende meteore veroorsaak. Niemand het nog die dia-mante ontdek waaroor so baie gegis word nie, maar dis glad nie onmoontlik dat hier „blink klippies” sal wees nie.

Daar is breë, eindelose vlaktes. Op een van hulle, bekend as die Oseaan van Storms, stryk Gogga neer en skop ‘n tamaai koolstofwolk op.

Peter se stem kom na hulle deur. „Is julle veilig ?” vra hy.

„Doodveilig,” antwoord David. „Ons,gaan nou uitklim.”

Hy vat sy stelte vas en gly af. Nou word die voorrade eers uitgelaai. Dan kom James help om die sonskerms op te rig sodat hulle sommer dadelik skuiling kan hê. Hulle moet net versigtig wees om nie te vinnig te beweeg nie. Een tree word sommer maklik ‘n sprong, want die maan se swaartekrag is maar een-sesde van die aarde s’n.

„Ons moet die Olimpiese Spele hier kom hou — dan sal jy darem rekords sien,” spot David.

„Hier wil ek nie begrawe lê nie,” merk James op.

Hulle kyk rondom hulle. Dis voorwaar ‘n droewige gesig. Nêrens is ‘n grassie of ‘n stroompie water of ‘n teken van lewe behalwe hulleself nie.

David ril. „Spookagtig !” sê hy.

„Ek sal selfs nie omgee om ‘n Rus hier raak te loop nie,” meen James. „Dis darem nog ‘n asem.”

„Vergeet nou die Russe, man. Ons het werk.”

Hulle soek tot hulle ‘n bars in die oppervlakte kry waar hulle die vlagpaal stewig kan inslaan. Die vlag bly pap soos ‘n vadoek hang, want daar is geen asempie wind om dit te laat styf span nie. Albei salueer die sterre-en-strepe van hul geliefde land.

Toe praat David : „In die naam van die President van die Verenigde State van Amerika neem ons hiermee hierdie maanstreek in besit om te gebruik tot voordeel van die mensdom.”

James neem die kort seremonie met sy beeldradiokamera af.

„Uncle Sam, jy bly maar bobaas !” sê hy trots.

Hulle gaan eers ‘n bietjie onder die sonskerm skuil voor hulle ‘n klompie monsters van die maankors bymekaarmaak om op die aarde ontleed te word.

„Met die Oseaan van Storms se kaart en transport in ons sak, is ons en die Russe nou omtrent kiets,” peins David. „Dis die grootste enkele gebied op die maan.”

„Ja, saam met die See van Wolke en die See van Buie is dit ‘n mooi lappie — amper sê ek grond. En ons het sommer ‘n hele klomp beroemde mense aan ons kant.” James noem die name van ‘n paar spitse op : „Plato, Archimedes, Copernicus, Heredotus, Kepler. — Ek is net spyt die Russe het ons met die Meer van Drome voorgespring.”

David lag. „’n Mens kan sien j y het muisneste,” spot hy.

„Gaan julle twee daar bly ?” kom Peter se stem weer deur.

„Ek soek nog diamante vir my kinders !” antwoord David.

Hulle begin laai, en spoedig is Gogga gereed. Maklik wip hy in die lug toe ‘n vuurpyl afgeskiet word. Die klein aantrek-kingskrag van die maan help baie. Tog sirkel Gogga nog in ‘n baan wat heelwat laer as die van die Apollo is. Nog ‘n vuurpyl word gebruik. Peter stuur die Apollo ‘n bietjie, en nou trek die twee vaartuie reg agter mekaar.

Die Apollo word effe gerem, Gogga skiet vinniger vorentoe. Met fyn tydsberekening tref Gogga die Apollo en laat sy kop in die koppelkraag wegsink. Die ruimvaartuig is gereed vir die terugreis.

Peter vra sy twee makkers uit, en veral James vertel maar te graag. Nou en dan vul David aan as hy dalk iets vergeet.

Peter het ook vir hulle nuus. Hy het minstens een vreemde vaartuig op die maan gesien. Dit moet Russe wees !

„Toe maar, vir hulle is dit neusie verby !” sê James vermakerig.

Nadat Peter aan Kaap Kennedy verslag gedoen het, sluk hulle ‘n paar vitamienpille en drink baie water. Dis belangrik dat hulle genoeg vog inkry, anders kan hulle dalk „uitge-droog” raak van al die sweet.

Nou begin die toetse weer. Alles lyk in orde.

Peter Jackson gaan voor die paneelbord sit. „Tata, maantjie !” sê hy opgewek.

„Gwen kan met plesier die man in die maan kry,” merk James op. „Hy is maar ‘n ou monster.”

„Ja-nee,” se David, „ek wou mos nooit die storie glo dat die maan van kaas gemaak is nie. Nou het ek met my eie oë gesien dis eerder tameletjie.”

„Nou is ons weg wereld !” se Peter, en hy druk die knoppie om die truvuurpyle af te skiet wat hulle met een pluk van die maan sal wegskeur.

Niks gebeur nie.

Hy druk weer.

Soos ‘n mot om ‘n kers bly die Apollo in sy baan sirkel.

„En nou?” vra David bekommerd.

„Daar is iets met die truvuurpyle verkeerd. Ons sal Kaap Kennedy moet laat weet,” antwoord Peter.

‘n Volle twaalf uur lank werk hulle, volgens instruksies van die aarde af, aan die vuurpylstelsel van die Apollo. Doktor Von Braun is self aan die woord. ‘n Fout kan hulle nie kry nie, en tog bly die vuurpyle buite werking.

Die toestand raak kritiek. Hoewel daar aan noodgevalle gedink word, is die voorraad suurstof wat ruimvaarders saam-neem nie onbeperk nie. As daar nie spoedig iets gebeur nie, gaan hulle nie genoeg oorhê vir die lang terugreis aarde toe nie.

Nog ‘n maanpyl word haastig gereed gemaak, maar dit kos twaalf uur voor hy in die lug is. Dis twyfelagtig of hy nog betyds gaan wees.

Die wereld wag in spanning.

Die drie ruimmanne bly opgewek, gesels oor die etergolwe met hul dierbares, werk nog steeds aan die ruimtuig — maar hul kanse word al skraler.

Skielik kom daar ‘n wending.

„Hallo ! Hallo ! Hallo !” roep Kaap Kennedy. „Kan julle my hoor?”

„Ons hoor jou duidelik,” antwoord Peter. „Die President van Rusland het pas hulp aangebied. Hy se daardie Russiese maanpyl waarvan julle gepraat het, vertrek binnekort terug aarde toe. Hy kan julle maklik oplaai. Ons President sal nou daaroor besluit.”

Die ruimvaarders is nie baie geesdriftig nie. Hulle vermoed lankal dat die Russe dalk iets met hul eie moeilikheid te doen het. En as hulle nou boonop die drie Amerikaners red, gaan dit as die grootste stuk propaganda van die jaar gebruik word.

Die tyd gaan verby.

„Die Russe het laat weet dat hul ruimskip binne ‘n uur ver-trek,” berig Kaap Kennedy.

„Sê vir hulle nee dankie,” antwoord kommandeur Peter Jackson.

Maar net toe kom die opdrag deur : „Die President het be-sluit om die Russiese aanbod te aanvaar. Maak julle gereed om opgepik te word.”

Eers oorweeg die drie ruimvaarders dit om te weier. Dui-sende het al hul lewe op die slagveld afgele vir hul vaderland. Sal hulle dan te lafhartig wees? Maar dan besef hulle dat dit ‘n nog groter terugslag vir Amerika sal wees as drie van sy ruimvaarders verlore gaan.

Taamlik dikmond verlaat hulle hul ruimskip, gryp die lang nylontou vas wat die Russe uitskiet, en word een vir een binnegehelp.

Dit word ‘n nagmerrie-rit. Aan die een kant van die kajuit sit die drie Amerikaners, en hulle wissel skaars ‘n woord. Aan die ander kant lag en gesels die drie Russe aanmekaar. Tog is daar maar ‘n baie nou spasie tussen hulle. Want hoewel die kajuit van die Wostok eintlik groot is, is dit tog nog maar beperk — veral noudat dit ses ruimvaarders moet dra.

Aan die manier waarop die Russe kort-kort na hulle kyk, weet die Amerikaners dat hulle van hulle praat, met hulle spot. Hulle maak of hulle dit nie sien nie — en gebikkig kan hulle g’n woord verstaan van wat hulle sê nie. Die taalmuur is die grootste skeiding tussen die twee groepe.

Ses-en-dertig uur saam met die Russe ! Peter sug en probeer ‘n bietjie slaap. David dink aan sy kinders om die tyd om te kry. James staar nors voor hom uit. Vir hom is hierdie vernedering erger as die dood.

Toe hulle sowat twaalf uur van die aarde af is, kry Peter skielik ‘n gedagte wat hom regop laat sit. „Waar gaan hulle met ons land?”

„Seker nie in Amerika nie,” sê David moeg.

James swyg nog steeds.

„Ek móét weet !” sê Peter driftig.

Hy beduie vir die Russiese gesagvoerder dat hy met die aarde wil praat. Eindelik maak hy met Kaap Kennedy kontak. Die vraag word gestel. Nou moet die beheertoring eers ‘n tolk laat soek wat Russies ken. Die tolk herhaal die vraag aan die Rus. Die Rus gryns. Via die tolk en Kaap Kennedy kry kom-mandeur Jackson die antwoord : „In die arms van Moedertjie Rusland natuurlik !”

Dis net wat hy verwag het. „Dankie,” sê Peter Jackson en skakel af.

Nog tien uur . . . nege . . . agt . . . sewe . . . ses . . . vyf vier . . . drie . . . twee . . . een . . .

Die Rus verstaan sy ruimskip. Sierlik stryk hy iewers op die wye Russiese steppe neer.

Soos die Amerikaners verwag het, maak die Russe ten volle van die geleentheid gebruik.

Daar is beeldradiokameras en blomme — wavragte. En blyk-baar is al die mense vir myle in die omtrek aangery om hul „helde” te kom toejuig. Die Russe sorg selfs vir ‘n tolk sodat die Amerikaners alles woord vir woord kan volg.

Daar is lang toesprake, spottend met die Amerikaners, vol lof vir die Rooi ruimvaarders.

Nog blomme.

Peter Jackson byt op sy tande. Hy wonder hoe lank hy dit nog gaan verduur.

Daar kom ‘n roering in die skare. ‘n Ou vroutjie beweeg stadig in die rigting van die drie Amerikaners. Sy praat met die tolk.

Peter Jackson kyk haar aan. Sy is oud en verkreukeld, maar tog verbaas dit hom dat sy sulke sagte oë het. Hy het nie ge-weet daar kan sulke oë in Rusland wees nie.

Dan praat die tolk met die Amerikaners : „Die ou vrou se u was mos ook in die ruim, en u het ook veilig teruggekom. Nou vra sy of u nie ‘n ruiker van haar sal aanvaar nie.”

Die ou vroutjie knik haar kop op en af en lig ‘n klein kransie veldblommetjies omhoog asof sy elke woord van die tolk verstaan.

Die drie Amerikaanse ruimvaarders is verslae.

Peter Jackson buk en neem die kransie. „Baie dankie!” se hy. Dit hoef nie vertaal te word nie. Sulke woorde se betekenis lees ‘n mens op idie gesig.

Die ou vroutjie se gebaar maak die skare stil. gespot met die Amerikaners kry end. Net toe hou ‘n motor van die Amerikaanse ambassade daar naby stil.

„En dit ?” vra die militêre attaché toe hy die kransie blomme in kommandeur Jackson se hande sien.

„’n Geskenk van Moedertjie Rusland,” antwoord Peter droog.

David en James lag. Die spanning is gebreek.

„Ons moet die Russe natuurlik bedank,” gaan die man van die ambassade voort, „maar ons sal in die V.V.O. sterk beswaar maak teen die manier waarop hulle die voorval vir propagan-da misbruik.”

„Doen dit gerus,” sê Peter, „maar sorg net dat julle van die ou vroutjie ook vertel.”