Taal

Daar is so ongelooflik baie wat oor die onderwerp van taal gesê kan word op ‘n webblad wat gewy word aan wetenskapfiksie en fantasie.  Enigiemand wat al ooit ‘n bietjie gedink het oor hierdie saak sou met die ooglopende vraag vorendag kom:  “Hoe is dit moontlik dat die wesens van al die verskillende wêrelde mekaar kan verstaan?”

Een ooglopende moontlike oplossing vir die probleem is natuurlik dat almal wat met mekaar wil, of moet, kommunikeer dieselfde taal aanleer.  Só ‘n wêreldtaal is immers reeds hier op aarde ontwikkel, naamlik Esperanto.  Maar hoewel dit reeds in 1887 ontstaan het, is daar relatief min mense (as persentasie van die bevolking) wat dié taal magtig is.  Afrikaans, wat ná Esperanto amptelik as ‘n taal gereken was, het byvoorbeeld veel meer gebruikers as beide eerste- en tweede taal, as wat Esperanto het.  Tog, in Suid-Afrika het daar ook so ‘n eenvormige taal ontwikkel vir gemene gebruik tussen mense wat verskillende moedertale het, naamlik Fanakalô – ‘n taal wat spesifiek ontwikkel was vir gebruik in die mynwese en wat vandag nog deur duisende mense gebruik word.  Maar daar is natuurlik vele probleme met só ‘n benadering in wetenskapfiksie, soos jy jouself kan voorstel…

Telepatie is bes moontlik ‘n veel beter idee, en dit kom nogal geredelik voor in WF-stories.  In dié geval word kommunikasie bewerkstellig deur die ander party dadelik te laat verstaan, of sien, wat die boodskap is – en dit word nie noodwendig deur woorde oorgedra nie.  Dit is ‘n oulike idee, maar nie so maklik indien ‘n onbemande satelliet gestuur was om ‘n boodskap oor te dra nie, of wanneer die partye baie ver van mekaar af is nie.  En dis nie noodwendig maklik om ‘n boodskap aan ‘n hele groep oor te dra nie, of om slegs ‘n spesifieke aantal persone te teiken wat die boodskap moet ontvang (“hoor”) nie.

Daar is egter verskeie antwoorde wat deur die wetenskapfiksie vir hierdie probleem aangebied word.  In Star Trek word daar dikwels verwys na die sogenaamde universele vertaler – ‘n tipe rekenaar wat die spraak van ‘n spesie of ras ontleed en in beide rigtings vertaal sodat beide partye mekaar kan verstaan.  Die meeste van ons voel natuurlik dis ‘n bietjie dik vir ‘n daalder…

In The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy kom ons op ‘n selfs meer verstommende idee af.  Wesens neem ‘n spesifieke klein vissie, ‘n Babelvis, en prop dit in die een oor.  Dié vissie lewe van breingolfenergie soos ‘n parasiet op die persoon, maar as vergoeding lees dit telepaties die denke van ‘n ander persoon wat praat en laat die persoon in wie se oor die vis is, dadelik die ander persoon verstaan.  Nie juis ‘n lekker wetenskaplike verduideliking nie, maar dit oorbrug darem die moeilike probleem van kommunikasie in ‘n wêreld bestaande uit duisende verskillende wesens en tale.

Die kwessie van taal word verhef tot ‘n besondere plek van belang in die 2016 fliek, Arrival.  In dié fliek word die aarde besoek deur ‘n spesie van buiteaardse wesens – sogenaamde heptapode na aanleiding van hul sewe ledemate wat aan die aardbewoners sigbaar is.  Dit blyk dan uit die fliek dat die hoofdoel vir hul besoek juis is om ‘n universele taal met die aarde te kom deel – waarskynlik om toekomstige kommunikasie moontlik te maak.  Dié taal, in sy “geskrewe” vorm, is uiters vreemd en kommunikeer ‘n ganse idee, of sin, of konsep in sy geheel deur ‘n sirkelstruktuur met verskillende patrone op die rant daarvan.

Dit is miskien nie so vreemd dat die storie juis ‘n sirkelpatroon gebruik in hierdie wetenskapfiksiefliek nie.  Die sirkel kom redelik algemeen voor in gewaspatrone – patrone wat dikwels in die landerye van saaiboere gevind word (nie juis algemeen in Suid-Afrika nie).  Daar word vermoed dat hierdie patrone (nie dié wat deur mense as ‘n grap of kunsvorm gemaak was nie) juis die werk is van buiteaardse wesens.  Dít is altemit dan ook ‘n taal of boodskappe wat ons bloot nog nie verstaan nie…?

Ons dink soms dat die taal van ‘n vreemde wese in ‘n fliek of televisieprogram bloot ‘n spul vreemde geluide is wat die akteur maak om soos ‘n vreemde taal voor te kom.  Dit is egter glad nie die geval nie.  In die vroeë fantasie het JRR Tolkien reeds verskeie tale ontwikkel wat deur sekere van die volke in die Heer van die Ringe gebruik sou word.  Dít is nogal ongelooflik, want die boeke was natuurlik nie tóé reeds bestem gewees vir die silwerdoek nie, maar bloot vir boekvorm.  Nietemin het hy verskeie van dié tale redelik volledig ontwikkel, met ‘n eie skrif, woorde, spelreëls, ens. om hierdie tale ten volle te laat bestaan.  Hier is ‘n voorbeeld van die skrif wat Tolkien vir sy fantassietale ontwikkel het – Elfs in die geval.

Deesdae is die tale wat deur buiteaardse wesens gepraat word ‘n groot affêre.  Taalkundiges word dikwels gebruik om spesiale tale te ontwikkel, kompleet met alfabet, woordeskat, fonetiek, skrif, spelreëls, ens.  Én, dis nie net vir die karakters in die storie nie!  Baie van dié tale word uiteindelik aangeleer en gebruik deur die entoesiastiese navolgers van ‘n storie om werklik gebruik te word binne ‘n sekere gemeenskap – gewoonlik as deel van die maskerspel in die uitleef van hul persoonlike fantasieë.  Mens moet ook nie die omvang hiervan onderskat nie – hierdie volgergemeenskappe is baie groot, en mens kry ‘n idee hiervan by byeenkomste soos Comic-Con.

Een van die algemene en gewildste platvorms om ‘n nuwe taal, soos Duits, aanlyn aan te leer, is Duolingo – nogal gratis daarby.  Twee van die tale wat jy op dié manier kan leer, is Klingon (uit Star Trek) en Hoë Walyriaans (uit Game of Thrones wat sowat eenmiljoen leerders het wat dit tans probeer aanleer).

Indien jy dalk ‘n bietjie ledig is, registreer gerus gratis op Duolingo en kyk of jy dalk Klingon kan leer praat…