JAAG TEEN DIE TYD – Waldo Kühn

JAAG TEEN DIE TYD – 2012 © Waldo Kühn

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 311 woorde)

Vinnige Freddie hardloop dat die stof staan. Dit is 02h00 in die oggend in ’n dorpie in Quebec, Kanada. Freddie is ’n “pro” en hy hou dié huis al geruime tyd dop. Hy het in die tuin gewerk sodat hy kans sou kry om die alarmstelsel te bestudeer. Maar hy was nie in die huis toegelaat nie. Die mense was baie kwaai toe hy aan die deur geklop het en koffie gevra het. Deur die donker getinte vensters kon hy niks binne sien nie. Daar woon twee mans en ’n vrou; immigrante.

Die mense was twee dae weg en het ’n dakvenster laat oopstaan. Freddie het sy kans gewaag en binne gesluip. Dit was ’n snaakse plek. In een vertrek was daar net masjiene en botteltjies, gasbranders en toetsbuisies – amper soos die “methlabs” wat hy ken maar met duurder toerusting. Hy het verder verken en in ’n koelkamer hom koud geskrik. Daar was twee lyke, onaards vermink! Dis toe dat Freddie die hasepad kies – reguit polisie toe!

Douw van Blerk, ’n immigrant uit Suid-Afrika, is in beheer van die forensiese span. Hy besef gou die sinistere aard van Freddie se ontdekking. Hy kan sien hierdie twee mense is nie gister of vandag dood nie. Hulle is opgegrawe uit grafte. al is hulle goed bewaaring. Die lyke is dus moontlik uit die permafrost van die noordelike gebiede opgegrawe, en het ’n mate van mummifikasie al ingetree.

Ondersoekbeampte Cliff Marney is duidelik in die duister.

“Wat dink jy hiervan, Douw?”

“Ek vermoed iets baie sinisters. Kyk hier, kommersiële sellyne van aapniere, kweekmedia, warmkaste, en mikroskope. Hierdie masjien berei weefsel voor vir mikroskopiese ondersoek. Die lyke is opgegrawe. Julle moet uitvind waar gevalle van grafroof en lykskending die afgelope tyd in begraafplase plaasgevind het. Die lyke is ook deels gemummifiseer; albei se velle toon egter tekens van slegte letsels met gedroogte sukutane bloed. Hulle het ook iets wat dalk gedroogte bloed kan wees in die mond. Die patoloog sal beter weet; ek spekuleer maar.”

“Wat beteken dit alles?”

“Wel, óf ons het hier te make met oorywerige mediese studente, óf…met bioterroriste. Fokus op begraafplase waar slagoffers van Swartpokke begrawe is. Daar was ’n uitbraak in Quebec in die 1970s, een van die laaste dodelike uitbrake voordat ’n volgehoue wêreldwye immunisasie-program die virus oormeester het. Beperk jou ondersoekpersoneel op die terrein tot ’n minimum en laat hulle maskers, handskoene en weggooibare oorpakke dra. Dit kan ’n gevaarlike soektog word.”

Dag 2: Vergadering van ondersoekbeamptes; polisiekantoor: Hoofondersoeker Cliff Marney aan die woord.

“Die huis behoort aan ’n makelaar van Ontario. Hy verhuur dit aan ’n immigrant van Somalië, ’n Dokter Anwar Shaik en sy verloofde, Faiza Ali. Ons het hul rekords in Somalië nagegaan. Hy is geregistreer as ’n algemene praktisyn; sy was verbonde aan ’n Libanese Universiteit en het ’n doktorsgraad in selbiologie en virologie. Sy het ’n akademiese visum om aan die Universiteit van Quebec te studeer. As haar familielid, het hy verlengde verblyfreg. Die twee is vyf dae gelede landuit, Pakistan toe. Intussen het hulle verdwyn. Die RMC en FBI en ander veiligheidsdienste is almal op soek na hulle. Ons weet nog nie wie die ander man is wat Freddie genoem het nie, maar ons werk aan ’n identikit. Ons het ook uitgevind dat daar die afgelope jaar meer as ’n honderd gevalle van grafskending, lykskending en grafroof was net in die noordelike gebiede van Quebec. Daar is ’n paar malletjies daar buite, dis verseker! Douw…?”

Douw: “Ons het op nog ’n verrassing op die perseel afgekom. Spuite met kragtige dwelmmengsels: metamfetamien en morfien. Ons het sommige van die mikroskoopskyfies wat ons op die perseel gekry het, nagegaan. Hulle was beslis opsoek na tekens van ’n pokke-infeksie. Die skyfies is spesifiek gekleur om ’n spesifieke insluitings-liggaampie te toon. Ons noem hierdie struktuur ’n Guarnieri liggampie en dit word gevorm in selle wat met die virus geïnfekteer is. Daar word nog outopsies uitgevoer maar ons kan voorlopig bevestig dat hulle pokke-slagoffers was en dat hulle die dodelike hemorrhargiese vorm van die siekte gehad het.”

“Is die weefsel nog aansteeklik?”

“Onwaarskynlik, maar… Die genetiese materiaal is nog teenwoordig. Daar is twee dinge wat bioterroriste met dooie geïnfekteerde weefsel kan probeer doen. Hulle kan die genoom, oftewel die genetiese kode, probeer ontleed, maar dit is ’n stadige proses wat hulle makliker in hul eie lande kan doen. G’n bioterroris na sy teikenland immigreer net om sulke komplekse genetiese werk te doen nie. Selfs met die kode sal dit ’n komplekse proses wees om ’n nuwe pokke-variant te probeer skep. Dit maak net nie sin nie. Ons het toe oor ’n tweede moontlikheid gespekuleer: ’n Lasarus regenerasie van die virus. Hulle sou ’n sleutel-ensiem nodig hê om dit te bewerkstellig – DNS-afhanklike RNA polimerase wat Faiza Ali maklik deur die universiteit kon bekom het. Verder het hulle virus genetiese materiaal nodig – dit hét hulle – en dan gasheerselle – dié het hulle ook. Verskeie tipes kommersiële sellyne is vrylik beskikbaar aan bioloë. Dan het hulle ook bevrugte hoendereiers nodig, en dit het ons ook gekry. Van die gasheerselle was reeds in warmkaste geïnkubeer. Ons het van die materiaal aan viroloë van Kanada se Departement van Gesondheid en die VSA se Centers for Disease Control and Prevention gestuur.”

Cliff Marney: “En daarom is veiligheidsdienste op die hoogste vlak in Noord-Amerika nou betrokke by die ondersoek.”

Dag 4: Die derde man word in hegtenis geneem. Cliff Marney skakel vir Douw om hom oor die nuwe verwikkelinge in te lig.

“Sy naam is Pancho; hy was ’n werknemer van die ander twee; ’n voortvlugtige, gesoek vir moord. Die twee het hom opdrag gegee om die huis op te ruim en van die lyke, weefsel en toerusting ontslae te raak.”

“En toe kom hy agter ons het dit reeds vir hom gedoen!”

“Nee, wag eers. Pancho raak toe gulsig en probeer om ván die laboratorium toerusting aan dwelmvervaardigers te verkwansel. Hulle het op die toneel aangekom toe ons daar was en dadelik laat spaander. Toe kry Pancho ’n uitslag.”

“Pokke?!”

“Pancho het ’n dwelmprobleem en Anwar Shaik het hom van kragtige dwelms voorsien. Hy was letterlik ’n slaaf van Shaik en Faiza Ali. Maar hy glo die twee het hom probeer vermoor deur sy dwelms te meng met pokke kieme. Hy is oortuig hy is besig om te sterf. Hy is gearresteer vir betreding van ’n misdaadtoneel toe hy die huis in ’n ontrekkingswaan in binnegegaan het en daar aan die slaap geraak het. Hy het die polisiemanne gesmeek om hom te laat sterf want sy onttrekkingsimptome en die kwaai uitslag, het hom baie neerslagtig gemaak. Daarna is in mediese isolasie geplaas. Hy word vir sy verslawing behandel en die medici doen toetse op hom. Die voorlopige uitslag is dat hy aappokke het. Jy sal beter weet, maar dit is glo nie dodelik nie. “

“Nee dit is nie, maar baie seldsaam én verwant aan pokke.”

“Daar word nou ’n lys opgestel van almal met wie hy kontak gehad het sedert hy begin siek word het. Hulle sal almal gemonitor moet word.”

“’n Feitlik onbegonne taak.”

“Dis verseker! Douw, julle moet daardie dwelmspuite wat ons op die toneel gekry het deeglik toets vir teenwoordigheid van biologiese agente. Dit sal ons ook toelaat om ’n poging-tot-moord klag op daai twee terroriste se klagstaat te sit.”

“Ons sal so maak Cliff. Jy weet, hierdie mense het ’n biologiese gemors aangejaag. Die CDC sal hierdie area ’n kwarentyn-gebied moet verklaar en mag dalk selfs ’n uitwissings-oorlog moet verklaar teen klein soogdiere in die omgewing. Ek het geen idee hoe mens dit in die platteland moet doen nie? Ek sal hulle kontak want ek wil graag weet wat hulle gaan doen en wat ons as polisiediens te doen staan.”

“Ja, binnelandse sekuriteit gaan nou verder opgeskerp word. Aan die anderkant, is dit feitlik onmoontlik om iets soos bioterrorisme te verhoed; die uitdagings word al meer namate tegnologie verbeter.”

1 thought on “JAAG TEEN DIE TYD – Waldo Kühn

  1. Dwelms is ‘n groot probleem in die land, so ook in ander lande en ek dink jy het dit goed uitgebeeld in jou kortverhaal.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui