DIE BRUIN KOEVERT – Tanita Da Silva

DIE BRUIN KOEVERT – 2016 © Tanita da Silva

JEUG WETENSKAPFIKSIE (1 006 WOORDE)

 

Lennie se maag is een massiewe knop. Dit voel soos ʼn steekpyn tussen sy ribbes. Dis vir seker nie net van hongerte nie. Dis senuwees. Vanmiddag is dit sy beurt om kos vir die span te kry.

Dis sy vyfde dag op straat en nog boonop Vrydag die dertiende. Volgens Katvis gaan dit naweke beter. Meer mense kom dorp toe. Die werksmense val ook vroeër uit. Hy het hom die vorige dag half dood gegril vir Katvis. Die kort mannetjie het kaalhande in ʼn vullisdrom

begin krap en grou. Later het hy die drom omgetuimel. Die leë blikkies, bottels, papiere, vrot kos en skille het die sypaadjie vol gelê. Miskien was daar iets tussen die gemors wat hy nie van weet nie. Katvis het ʼn klompie goed in ʼn stukkende plastieksak toegeknoop, meeste van die vullis weer in die drom gegooi en breëbors weg gestap.

Toe die twee laatmiddag by hulle agterstraattuiste land, was Katvis op sy pos. Bieza, die baas van die plaas, het hulle hande gevou ingewag. Katvis het ʼn brood, aartappeltjips, viskaiings en ʼn boksie melk uitgepak. Genoeg vir die drie van hulle. Bieza het natuurlik die eetgoed uitgedeel. Lennie kon darem die laaste twee slukkies melk uit die boks wurg. Jakes het heelwat later daar aangewals. Hy het twee roomysbakke by hom gehad. Die een was vol toebroodjies en die ander een vol bonesop. Die halfkan wyn met die rooi prop het hy vir laaste gehou. Hy en Bieza het alleen gedrink tot ou nag.

“Ons drink gʼn saam met klôgoed nie,” het Bieza laggend gesê en kliphard wind gebreek.

Die grootmanne het toe hulle kartonne en komberse uit die winkeltrollie gehaal en by die ingang van die selfoonwinkel onderdak hulle lê gekry. Die twee kinders moes tevrede met die oorblywende stukkies karton en koerante onder die sterre slaap.

“Moet jy nie in die skool wees nie?”

Lennie wip soos hy skrik vir die skril stem agter hom.

“Dis julle soort wat in die tronk opeindig… vir steel en goed.”

Lennie gee ʼn paar treë agtertoe toe die groot vrou met haar blommerok hom trompop loop.

Die seunskool was erg genoeg, sê hy in sy gedagtes.

“Ek is jammer,” sê hy met ʼn hees stem.

“Sorry…” kry hy die laaste woorde uit voor hy wegstap.

“Seun! Seun!”

Die kwaai stem laat hom in sy spore omdraai.

“Hiersô!”

Blomrok krap op haar tyd in haar handsak. Lennie staan doodstil en kyk voor hom op die grond. Te bang om in haar rigting te kyk. Netnou dink die vrou hy wil haar handsak gryp en verdwyn.

“En nou kan jy dit gaan uitrook en drink!”

Sy plak ʼn opgestopte groot, bruin koevert in sy hand.

“Toe nou! Weg is jy!”

“Baie dankie,” brom Lennie voor hy vinnig wegstap. Hy druk die koevert by sy broek in en zip sy sweetpakbaadjie toe. Hy vleg tussen die aankomende voertuie en voetgangers deur.

As hy eers verby die taxi rank is, is die strate ondertoe stiller. Hy kan nie wag om te sien wat binne die opgestopte koevert is nie. In Hoopstraat draai hy by ʼn afgebreekte steengebou in.

Dit lyk stil. Hy gaan in die verste hoekie sit en wikkel die koevert onder sy klere uit. Net toe hy dit wil oopmaak, klink ʼn seunstem op.

“Zos, naam Zos… van Zirkon. Zos! Zos!” Die stem raak al harder.

Lennie hou sy asem in. Hy kyk op, want dit klink asof die stem van bokant , uit die lug kom.

Hy byt sy tong raak toe die seun met uitgestrekte hande ewe skielik twee treë van hom af staan. Hy skat hom ook so vyftien. Die bene steek stokkerig onder die lang kortbroek uit.

“Wie is jy?” wil Lennie agterdogtig weet. Hy hou die bruin koevert met albei hande styf teen sy bors vas.

“Zos. En jy is Leonard Muller.” Zos gaan oorkant hom sit.

“Hoe ken jy my naam en van?” vra Lennie uitasem. Hy skuif al vinniger langs die muur verder en verder van Zos af. Maar dit lyk asof Zos al nader kom alhoewel hy nie ʼn tree versit nie.

“Waar bly jy? vra hy weer.

“Zirkon… my plek.” Zos lig albei hande op. Hy hou sy duime teen mekaar. In Zos se handpalms sien Lennie twee beelde voor sy oë optower. Amper asof hy televisie kyk. Alles gebeur in stadige aksie.

Bieza gryp die bruin koevert uit sy hande. Lennie probeer keer en storm vorentoe. Jakes kry hom van agter af beet. Hy hou sy hande stewig agter sy rug vas. Lennie gil van die pyn. Hy kan skaars beweeg.

Lennie klem die koevert met nat geswete hande al stywer. Zos vou sy handpalms toe.

“Wil jy nog sien?”

Voordat Lennie nee kan sê, maak Zos weer sy palms oop soos die vorige keer.

Lennie gee die koevert vir Zos aan. Hy gryp Zos se skouers vas met albei hande toe hulle opstyg. Hy knyp sy oë styf toe. Hulle glip deur iets wat soos ʼn maan lyk.

“WELKOM BY ZIRKON,” staan op ʼn groot banier geskryf. Kinderstemme klink van oral af op. Hulle speel en lag. Dit lyk amper soos ʼn skool. Dan land die twee. Zos maak hom los uit Lennie se greep. Lennie wieg van die een kant na die ander soos sy kop draai. Zos plaas die koevert in Lennie sy hande. Hy beduie met sy kop. Lennie kyk na waar hy wys. Die vrou se gesig lyk bekend.

“Dankie dat jy dit gebring het” sê die Blomvrou met ʼn breë glimlag. Sy neem die koevert by Lennie.

“Wys vir Leonard rond,” sê sy en maak die koevert oop.

Zos maak sy palms toe. Hy staan hande gevou en kyk afwagtend na Lennie. Lennie stuur ʼn skietgebedjie op. Hy gee die koevert vir Zos aan. Die twee styg op. Diè keer knyp hy nie sy oë toe nie. Hy glip deur die geel maan. Hy lag hardop toe hy die banier sien. Hy neem die koevert uit Zos se hande toe hulle land, en oorhandig dit aan die Blomvrou.

Die einde