DIE REËNBOOGHOND – 2016 © Ilse Goschus
JEUGFANTASIE (1 209 WOORDE)
Die Kaapse winter hierdie jaar, is koud en triestig. Die sneeu op die berge, Somerset-Wes se kant toe, gee die wind ʼn ekstra knypie.
Die agtjarige Zafira kyk hoe die reëndruppels haastig teen die vensters van hul dubbelverdiepinghuis af hardloop. Hulle woon in Tamboerskloof; skuins op teen die berg.
Kaapstad lê grys, nat en glibberig aan die onderkant. Die wind loei en die poele in die straat blink en word vetter en groter en blinker. Buite is dit egter skielik doodstil…
(Die wind het sopas gaan lê; ook die reën het opgehou, maar die reëndruppels klou nog steeds krampagtig teen die ruite vas vir so al wat hul werd is.)
Zafira hou haar kop skeef en kyk na die grys wolkemassa bo haar. Die wolke kleef soos grys wattebolle styf aan mekaar vas, breek dan skielik los en gly saggies weg van mekaar sodat klein stukkies blou lug sigbaar raak. Dis toe dat sy dit sien… tussen ʼn grys en witterige wolk met ʼn silwer rant, hang die pragtigste reënboog.
“Mammie, Mammie! Kom kyk na die reënboog! Dit lyk soos ʼn towerreënboog. Ek wonder of daar ʼn pot goud aan die punt van die reënboog is?” sê-vra sy met ʼn vonkel in die oog.
“Ek het die nat wasgoed in die wasmasjien vergeet. Ek druk dit gou in die tuimeldroër voordat dit muf raak. Ek is nou daar by jou, Zafira,” antwoord haar ma. “Dis nou jou kans…. wens my kind. Reënboë maak wense waar.”
Zafira maak seker dat haar ma terug in die kombuis is en dan prewel sy saggies: “Maak ‘seblieftog my bene weer loop. Ek is so moeg van die heeldag se sit in die rolstoel; vir vyf jare al.”
(ʼn Motorongeluk het dit aan haar gedoen. Sy was net drie jaartjies oud. Haar ma het haar die middag by die kleuterskool kom haal. Sy het haar ma se hand styf vasgehou, voordat hulle die straat sou kruis. Skielik was daar ʼn geskree van remme. ʼn Blou, plat, spoggerige sportsmotor het skielik op hul afgepyl. Dit het haar gevang. Haar liggaampie het in die lug opgeskiet en toe hard terug op die sypaadjie geval. Daar was ʼn verskriklike pyn en toe net die lamgeid.”
“Zafira sal nooit weer kan loop nie,” het die dokter se woorde hol in haar ore weerklink.)
Dis nou net sy en haar ma in die groot, bruin huis, tussen Leeukop en Seinheuwel se hange.. Haar pa het pad gevat, net na die ongeluk..
“Ek wil nie na ʼn lam en skeefgetrekte kind kyk nie,” het haar dronk pa een nag wreed en kliphard geskree.
Dit was asof sy harde stem die mure laat bewe het van die kwaad. Sy het wakker geword, van die skree. Die woorde het soos skerp naalde diep gate in haar hart gedruk, al was sy nog baie jonk.
(Die seer lê nou nog vlak in haar sensitiewe hart.) .
Trane hardloop oor haar wange. Sy vee dit vining weg met die agterkant van haar een handjie.
“Bring my my wens, asseblieftog, Reënboog.” smeek sy in haar kop.“Ek is so alleen –dis die ding van my bene – hulle wil net nie loop nie, al probeer ek hoe hard!”
“Drome en wense word waar!” hoor sy Mammie se stem diep in haar kop. “Glo net.
Haar oë glip weer na die reënboog se kant toe. Die neonkleure is helder afgeëts teen die grys-en-blou hemel; in ʼn halwe sirkel.
En toe sien sy dit …
Op sy maag lê hy… die reënbooghond. Al die kleure van die reënboog skyn skerp en kleurvol uit sy lyf uit Aarde toe.
“Waar’s die reënboog?” vra sy verbaas terwyl sy haar oë op skrefies maak en soekend rondkyk.
“Dinge verander!” antwoord die reënbooghond.
“Kom nader!” smeek Zafira. “Ek’s in ʼn rolstoel. Ek wil so graag aan jou raak.“
Dinge verander…” antwoord die reënbooghond weer in ʼn ernstige stem.
Zafira kyk met groot vraagteken-oë na hom.
“Ek verstaan nie.” sê sy. “Wat presies bedoel jy?”
“Ek bring aan jou ʼn boodskap. Jy moet uitwerk wat die boodskap is,” gaan hy voort.
Toe sy weer opkyk, sien sy telerugesteld dat sy kleure verdof het.
“Moenie wegglip nie, Reënbooghond. Ek wil aan jou raak. Ek wil jou reënboogkleure van nader bekyk,” smeek sy paniekerig.
Die son steek sy goudkleurige rondgeid tussen die wolke deur. Die druppels klou egter steeds aan die venster vas. Die druppels is nou reënboogdruppels.
Die geluid van die oorvol tuimeldroër grommel in haar ore. Sy ruik die bleikmiddel wat haar ma vir die witgoed gebruik.
“Jy is die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het, Reënbooghond. Kom ‘seblieftog terug” smeek sy. Die trane rol oor haar wange. Als en almal wat vir my belangrik is, glip uit my lewe uit.”
“Soos jy sien, Zafira. Dinge verander!” antwoord hy met ʼn dowwer stem.
Zafira skuif haar liggaampie effe vorentoe terwyl haar hande die kante van die rolstol styf vasklem. Haar kneukels is wit van die styf vashou. (Gelukkig het haar ma die rolstoel se remme vasgedraai voordat sy met die wasgoed begin het.)
Die reënbooghond klou nou baie dof aan die reënwolke vas. Hy kyk nog steeds na haar. Daar is ʼn effense glimlag om sy bek. Skielik forseer hy sy bek oop.
“Voor iets heeltemal wegglip
moet jy dit gaan haal.
Dis soos ʼn resies wat jy hardloop
Jy sien al die wenpaal.
Gebruik al jou kragte en buig jou lyf oor
In jou gedagtes is jy reeds ver voor
Dis ʼn wedren
Net jy kan dit wen!
Zafira kyk hoog op in die lug. Die lied is die lied van die Reënbooghond. Hy hang steeds daar in sy dowwe reënboogkleure. Die glimlag hang tevrede om sy bek.
Sy kyk stip na hom; haar hoop is op hom gevestig. Sy skraap al haar kragte bymekaar. Zafira buig haar lyfie oor vensterbank se kant toe. Sy klou vas aan die vensterbank met beide hande. Sy voel hoe die rystoel se sitplek teen die agterkant van haar bobene skuur en dit effe skaaf. Sy gee egter nie meer om nie.
En dan gee sy haar eerste tree…
“Zafira! Bravo! Jou eerste tree!” skreee haar ma bly en skril. “Al die terapie het tog gehelp!”
Die skree laat haar skrik, maar haar ma is nou by haar. Hulle omhels mekaar en huil tot hul koppe en lywe leeg gehuil is.
Die tuimeldroër is nou stil.
“Dis die wens; nie die terapie nie,” dink sy verward, maar glimlag gepas.
Sy kyk op in die lug. Die wolke seil nou in ʼn sagte wit watte-bondels verder. Binne etlike minute is die lug bo haar, blou en oop.
“Dinge verander,” onthou sy skielik Reënbooghond se wyse woorde.
“Dis oor my wens dat ek nou weer kan loop,” vertel sy opgewonde aan haar mammie.
Haar ma luister in eerbied. Sy sê niks.
Zafira vertel vir haar mammie van haar jarelange wens om weer te kon loop. Sy vertel haar van die boodskap van hoop wat die reënbooghond gebring het; en van sy motivering.
“Zafira, ek het mos gesê dat wense en drome waar word,” herninner haar ma.
“Mammie, ek kan dit net nie glo dat ek weer kan loop nie,” herhaal Zafira vir die soveelste keer. “Ek gaan elke dag verder en verder loop. Ek sien die wenstreep…”