DIE WIT HANDE – 2016 © Ilse Goschus
JEUGFANTASIE (2 026 WOORDE)
Twee vislyne hang doodstil in die donker waters van die Vaalrivier op die eertydse plaas van die Skot, Angus. Twee pare hande klou met verwagting aan die stokke terwyl hul oë die wêreld om hulle bespied.
Die 17-jariges staar verwondered na die onverwagte kaleidoskoop van kleure wat die nag aan hulle bring.
“Koensie, is dit ʼn vuur daar tussen die riete?” vra Jeanine. “Die droogte bring mos net onmin, lyk dit vir my.”
ʼn Vuurvliegie swiep skielik rats verby en verdwyn dan iewers tussen die swart bloekomboomtakke en houtkaai in; gevolg deur nog een en dan nog een. Die stilte hang onvoorspelbaar oor die rivier. Koensie kyk skrams agtertoe vanwaar hy ʼn padda deur sy hoek haak.
“Dis die maan, Ounooi,” antwoord hy. “Ek dink nie die katvis gaan vanaand byt nie; dis volmaan.”
Verstom staar Jeanine weer na die donker riete in die verte en die rooi…
“Ek kan nie glo dis die maan wat opkom nie,” praat Jeanine verder.
Stadig maar seker raak die rooi platgeid geleidelik groter en vetter en rooier.
“So rooi en so groot,” gaan Jeaninine voort. “In Letterkunde het ons geleer van simboliek. Vanaand Koensie, is dit asof die maan ʼn teken of simbool is van iets; van wat presies, weet ek nie op hierdie stadium nie. Dis asof dit vir ons iets wil sê; meer as wat ons kan sien.”
2
Een van die stokke buig skielik in ʼn boog af water se kant toe.
“Jou stok, Koensie!” skree Jeanine opgewonde. “Bring die katvis in.”
Koensie storm vorentoe en gryp die stok. Die speletjie begin. Hy ruk skielik die lyn in ʼn boog so half agter sy kop verby om die grote te probeer haak. Hy gee ietwat skiet aan die lyn, maar die lyn span nou in ʼn stywe boog voor hom. Hy gee dan ʼn paar treë vorentoe.
“Dis ʼn grote, Ounooi,” lig hy Jeanine in.
Die rippels in die rivier raak nou groter en wyer. Die katvisse se stekelrige bekke hang wawydoop binne die rippels. Koensie ruk en trek aan die stok.
“Pasop!” breek Jeanine se gil die onnatuurlike stilte.
Die maan hang nou hoër en heelwat bleker teen die donker naghemel.
Koensie se voet glip op die nattigheid op die kaai en skielik tuimel hy lomp in die donkertes van die Vaalrivier in.
“Koensie! Koens!” skree Jeanine.
Al antwoord wat sy kry, is die stiltes van die rivier.
“Koens! Koensieee!” skree sy hierdie maal totaal histeries. “Waar is jy? Praat asseblieftog met my, my lief!”
Weer is slegs die stilte van die nag die antwoord, maar meteens trek ʼn beweging Jeanine se aandag. ʼn Wit wasigheid daal oor die rivier neer; ʼn miskombers.
Koue rillings hardloop langs haar ruggraat af. Op die ingewing van die oomblik, gryp sy ʼn roeispaan wat op die kaai lê. Sy druk dit paniekerig en voel-voel af op die plek
3
waar Koensie se liggaam verdwyn het. Sy steek in stukkende bottels en hiasinte vas.
Meteens voel Jeanine ʼn ferm greep op haar skouers. Sy kyk verbaas om haar rond. Al wat sy egter sien, is die donker silhouette van die regop bloekoms. Die greep is ferm en naels druk diep in haar sagte vel in.
“Eina!” kla sy van die pyn.
Ondersoekend voel-voel sy met haar hande na daar waar ʼn paar hande behoort te wees, maar sy vat in ʼn niksgeid vas. Dan sien sy dit… reg voor haar. Uit die wit wasigheid wat oor die rivier hang, verskyn iets. Jeanine rek haar nek om te sien wat aan die gebeur is. Haar skouers is steeds in ʼn brandende, skerp greep geklem.’ n Angstigheid neem van haar besit.”
“My selfoon…” dink sy. “Ek moet hulp ontbied. Hulle moet Koensie soek.”
Jeanine voel-voel aan haar denims se sak. Haar brein werk ekstra stadig. Sy ervaar nog vertraagde skok na die onverwagse gebeure.
“O my gits, ek het my foon tuis vergeet,” besef sy paniekerig. “My battery was aan die laai.”
ʼn Mismoedigheid kom hang oor haar, maar die greep op haar skouers verdwyn skielik. Verstom kyk sy na dit wat die rivier na haar bring.
In die middel van die rivier rys daar ʼn paar wit hande; in ʼn biddende posisie. Jeanine kyk om haar rond; sy voel uiters ongemaklik. Sy besef sy is nie alleen nie. ʼn Ander dimensie is saam met haar daar tussen die regop bloekoms, op die oewer van die rivier.
ʼn Paar onsigbare hande, so voel dit vir haar, druk haar kop skielik rivierwaarts, so asof dit haar wil dwing om haar aandag op die regte plek te vestig. Sy stik amper in haar eie spoeg van die skrik. Die rysende hande is enorm: drie meter by een-en-ʼn-halwe meter. Die handpalms skuif stadig uit mekaar; sy ervaar ʼn tipe openbaring. Binne in
4
die hande sien sy los, wit skeletbeendere. Dit begin wikkel en sweef en kletter, maar skielik val dit in plek. Die geraamte dans.
“Dis ʼn afskeidsdans… ʼn dodedans,” besef sy.
Jeanine trek haar oë op skrefies om beter te kan sien. Sy kyk en probeer om te konsentreer op die gebeure voor haar.
Die onsigbare greep kom lê weer op haar skouers; ferm, maar die keer druk die naels nie so skerp in die sagte vleis in nie.
“O my goeiste, ek kan dit nie glo nie. Die skelet, nou in skakerings van violet neonkleure, dans binne Koensie se wasige lyf, wat soos ʼn lampskerm daarom vou. (Dit was dan al die tyd Koensie se skeletbeendere tussen die hande!) Wat beteken dit als? Belewe ek die nou ons lewe of kyk ek terug na die verlede?” wonder sy verward.
“Eina!”
Die naels druk nou dieper in haar sagte skouers in.
“Dit is oor die droogte…” lag ʼn sarkastiese, hol stem in haar ore.
Jeanine voel-voel agter haar. Sy kyk skrams om. Dis weer net sy en die bloekoms. ʼn Ligte briesie sluit nou by hulle aan. Terwyl sy stip na die wit hande kyk, sien sy nog ʼn dansende skelet binne die groteske paar hande. Weer rek sy haar nek en fokus so al wat sy kan, om beter te sien.
“Goeie Griet! Dis dan ek,” prewel sy saggies. “Die tweede geraamte is ek! Ons dans saam ons dodedans. Hoe ironies.”
“Die volmaan simboliseer illusie. Dit wat jy nou hier binne-in die paar wit hande ervaar, is die hede. Op die houtkaai ervaar jy die verlede,” fluister dieselfde onaardige stem-sonder-ʼn-liggaam.
5
Yskoue rilings hardloop weereens deur Jeanine se lyf.
“Jy ervaar, maar jy is nie.” hoor sy die stem in haar oor. “Jy kyk, maar jy sien nie, want jy kyk in simbole en illusies vas.”
“Ek verstaan nie!” worstel sy paniekerig met haar verwarde gedagtes.
Op die houtkaai, reg voor haar, amper op die punt, daar waar die water teen die houtkonstruksie kabbel, gewaar sy dit skielik en tot haar verbasing. Dis ʼn tol; ʼn opwen-speelgoedtol vir peuters.
“Dis snaaks,” dink sy. “Ek het dit nie voorheen opgemerk nie. Wie sou ʼn tol hier agtergelaat het?”
Sy buk af, gaan sit op haar hurke en wen dit op en kyk hoe dit in die rondte draai… om en om… in die maanlig. Sy dink terug aan haar kinderjare…
En dan is sy skielik binne in die tol. Dit is meteens enorm en pikswart binne-in. Die tol draai vinniger en vinniger en… nog vinniger. Sy val dieper en dieper af in swart niks binne-in die draaiende tol. Sy wonder of daar iets is wat haar val sal keer. Sy’s naar van die draai.
Draaiende en vallende kry sy ʼn terugblik op haar lewe. Jeanine ervaar weer die droogte; nie alleen die droogte op die plaas nie, maar die droogte van ʼn eensame, verwaarloosde siel.
* * *
Jeanine bevind haar op hul wildsplaas langs die Vaalrivier. Kruispad, is die plaas se naam.
(Sy en haar man Koens, is in hul vroeë dertigs en hulle is die eienaars van Kruispad.)
Dis laatnag. Sy wag op Koens.
“Weer seker aan die drink by Lillie-se-put, die plaaslike kroeg,” dink sy bitter terwyl sy
6
die huweliks-tameletjie van die afgelope ag jaar herkou. “Dis ʼn mengelmoes van probleme: drank, goedkoop vrouens, selfsugtigheid en absolute hardkoppigheid. As hy terugkom, is ek seker weer sy slaansak. Ek verafsku hom, maar ek sit vasgevang in hierdie huwelik en dalk ook in my kop.
Een aspek van my mishandeling is die aspek van ‘finansiële isolasie’. Ek is ʼn opgeleide verpleegsuster, maar hy weier dat ek werk. Die plaaslike hospitaal het al soveel male vir my genader oor moontlike werksgeleenthede. Die ding is… ek is sy gevangene; sy marionet. Hy weerhou geld van my. Die wild op ons plaas het beslis meer vryheid as ek. En nou is daar die ding van die droogte… Sy gesuipery verander hom in ʼn absolute duiwel en ʼn steeks donkie; hy gebruik nie sy logika nie en mens kan nie sin in sy kop praat nie. Die drank is sy god en gee hom leiding; in die diepste duisternis in.”
(Kruispad se veld is rooi en dor en kaal en die plaaspaaie stowwerig. Die wilde eend-damme en voerdamme is opgedroog en die modder in die damme hard en gekraak. Die vlakvarke en rooibokke, kudu’s, blesbokke, wildebeeste, gemsbokke en ander wild is aan die vrek. Miljoene rande is spandeer om hierdie pragdiere aan te koop, maar die verdoemende droogte-resultaat is: gebleikte songebrande hopies skelette; oor sy (Koensie se) steeksheid. Dis ontstellend. Bekommerde en behulpsame bure probeer hom oorreed om van sy diere aan hulle te verkoop, maar trots en die drankprobleem staan in sy pad. Dis voorwaar ʼn bose kringloop.)
Jeanine kyk televisie, maar sukkel om te konsentreer.
“Huur grond by Angus, ons buurman,” het sy die ander dag sin in sy kop probeer praat. “Die Skot se veld is immers welig en sy gras staan hoog; hy kry meer reën op sy plaas en soos jy weet… hy het waterregte. Hy gebruik die water van die Vaalrivier vir sy besproeiing.”
“God is in beheer. God het die diere geskep; en Hy het die droogte gebring. Hy kan
7
sorg,” was Koens se hardkoppige antwoord.
“Ek is so skaam,” het sy hom probeer oorreed. “Die bure gooi dan nou voer oor jou heining omdat jy verseg om jou wild te voer. Jy het soveel belê in jou pragplaas en nou laat jy alles in die niet verdwyn. Dis ʼn sonde. Jy sal beslis gestraf word.”
Haar gedagtes word skielik onderbreek.
Skreeuende remme kompeteer met die luide klank van die televisie. (Jeanine is effe doof. ʼn Onverwagse hou weens Koens se dronkenskap, die rede.)
“Dis weer sulke tyd,” besef Jeanine paniekerig, terwyl ʼn lamgeid van haar besit neem. Haar tande kners op mekaar. Sy hoor hoe die deur van sy Jeep toeklap. Sy skakel vinnig die televisie af en verdwyn slaapkamer toe. Sy hoor sy voetstappe op die plankvloer in die kombuis.
Etlike sekondes later…
“Vroumens, waarsh my kosh!” weergalm sy stem deur die huis.
“Dis dan al verby middernag. Ek het nie gekook nie Koens. Ek het gedog jy eet in die dorp,” skree Jeanine van die slaapkamer af.
Sy tap haar badwater; die warm kraan eerste, vanaand.
“Wat?” skree hy woedend. “Geen kosh nie? Jy shê daarsh geen kosh nie…”
Sy swaar voetstappe klink hard op die plankiesvloer in die gang. ʼn Vaas breek as sy lompe, dronk lyf, te na aan die tafeltjie verbyskuur. Hy ruk die slaapkamerdeur oop.
“Jou vervloekte vrou…. mensh kan nie op jou shtaatmaak nie. Mensh kan net nie.
Hy skop die deur van die badkamer oop. Die beeld van die diskusman kom hard op sy kop te lande, as Jeanine hom onverhoeds van agter die deur beetkry. Sy kop is ʼn bloederige massa. Sy swaar lyf val in die vuurwarm badwater.
8
“Dis oor die droogte….” groet Jeanine hom vir oulaas, maar hy is onbewus van die afskeidsgroet.
Die trauma van die aand en aanloop daartoe, laat haar onverwags inmekaarsak; ʼn hartaanval.
Die stemme op Kruispad is nou doodstil… oor die droogte.
* * *
Sagte hande masseer Jeanine se seer nek. Haar liggaam ontspan. Die enorme wit hande verdwyn opeens in die donker waters van die Vaal; stadig en in eerbied vir die voltooide siklus.
Die maan is steeds vol. ʼn Ongekende stilte hang oor die houtkaai en die rivier…