EINSTEIN SE HUIS – Pieter Saayman

EINSTEIN SE HUIS – 2016 © Peter Saayman

JEUGFANTASIE (1 717 WOORDE)

 

“Die naweek moet ons iets doen, ek het lus vir bietjie avontuur.” Die 14 jarige Corne lê skuins oor haar bed. Sy pluk die oorfone uit en kyk met `n glimlag na haar beste vriendin, Lindie.

“Wow, nou waar gaan jy avontuur kry in die ou dorpie?” Lindie kyk vraend na haar vriendin.

Die skoolvakansie het aangebreek. Gelukkige kinders is see toe, ander, soos die twee meisies moet maar by die huis bly en hulle self vermaak.

“Kom ons gaan besoek die ou spookhuis.” Corne se oë glinster ondeund.

Lindie se oë rek.”Wat, dit spook daar jong.”

“Ouvroustories, ons gaan self ondersoek instel. Wat sê jy? Vat vyf!”

Die vervalle ou dubbelverdiepinghuis staan op `n koppie `n ent buite die dorp.Stories loop rond  dat dit daar spook.Maar dis soos alle spookstories, net stories.Mense wonder of iemand daar bly? Saans het mense al ligte gesien brand, maar niemand het ooit beweging binne of buite gewaar nie.

“Vannaand is die aand.”

“Is jy dan nie bang vir spoke nie?” vra Lindie.

“Nee wat, jy kyk te veel scary videos.”

“Goed , dan is dit afgespreek. Ek sien jou so seweuur hier by my huis. My ma en pa gaan fliek, so dis nie `n probleem nie.Onthou om `n flits saam te bring.”

Dis `n onstuimige en donker aand. Onweerswolke hang swaar in die lug en `n sekelmaan loer kort-kort deur die swart wolke.Corne en Lindie ry met hulle fietse tot waar die grondpad doodloop teen die koppie waarop die huis staan.`n  Toegegroeide  tweespoorpaadjie kronkel in die rigting van die spookhuis.

“Lyk nie asof hier veel verkeer op die paadjie is nie.” Die straal van Corne se flits speel oor gate en klippe in die pad

Hulle nader die huis. Dis `n ou dubbelverdiepinghuis wat reg teenaan `n koppie staan. Groot Bloekombome staan dig teenaan die huis. `n Koue wind spring skielik uit die lang gras uit. `n Gefladder van vlerke digby laat hulle omspring.

Lindie swaai wild met haar flits.”Bosduiwe, hier’s hordes van hulle in die bome.”

“Gelukkig nie vlermuise nie.” Corne skakel haar flits af.”Ons moet versigtig nader beweeg”

Die twee meisies sluip gebukkend nader. Die huis doem onheilspellend voor hulle op. Rankplante klouter teen die mure op. Iewers rammel dakplate en vensterrame klap-klap in die wind.

“Versigtig hier by die houttrappe, dit lyk maar vrot.” Corne lig met haar flits op die grond en skakel dit weer af.

Hulle beweeg tot by `n swaar hout voordeur. Weerligte speel in die verte, donderweer kom dreigend nader.`n Verskrikte uil hoet naby hulle en fladder die nag in.

“Ek’s bang.” Lindie skakel haar flits aan en lig teen die deur.

`n Geweldige donderslag en weerligstraal verlig die donker nag. Hulle gryp mekaar vas, oë so groot soos pierings.

“Nee man, ons is nou hier, ons kan nie nou omdraai nie, en buitendien gaan dit nou-nou reën” Corne druk aan die deur. Dit kraak en skuur `n entjie oop.

Hulle leun teen die deur met hulle rue en beur met alle mag. Stadig skuur die deur oop, dan skielik gee dit mee en swaai oop, Hulle glip deur.

`n Muwwe reuk hang in die lug. `n Lang gang strek voor hulle uit, Verf dop van die mure af en vloerplanke is los en kraak onder hulle skoene.Skewe portrette van kwaai, ou mense wat voor hulle uitstaar hang in rye langs mekaar.

“Hier bly niemand nie. Kyk die stof op alles.Moet ons nie maar huistoe gaan nie ?” sê Lindie

“Raak jy nou bang. Hier’s niks nie. Kom ons gaan verder.” Corne stap vooruit.Die reen sak nou uit. Harde slae weergalm deur die huis en orals drup-drup water op die vloer Die gang eindig in `n kombuis. Kaste hang  oop, die inhoud lankal weg. `n Swart koolstoof staan koud  en geroes , rustend. Vir jare het hy hitte gegee vir kospotte en panne. Muise skarrel oor die vloer, hulle oë rooi in die strale van die flitse.           

“Sjuut, luister.”  Lindie hou haar vinger in die lug en draai haar kop skuins.

“Wat? Ek hoor net die wind en reën.” Corne se oë is groot in die glans van die flit se strale.

“Luister. `n Sagte dreuning iewers.”Lindie hou haar vinger op.”Daar’s dit weer, amper `n lae frekwensie vibrasie, en `n soemgeluid”

“Ja, daar hoor ek dit nou ook, klink asof dit onder die vloer  is.”

Corne buk af en sit op haar hurke.”Defnitief, hier’s iets hier onder. Dalk `n kelder?”

Hulle skuifel-skuifel die gang af.Naby die voordeur is `n stel houttrappe wat na die boonste vertrekke lei.

Corne skyn haar flits boontoe.” Die trappe is baie vrot en plek-plek weg. Dis gevaarlik, ons kan nie opklim nie.”

“Iewers moet `n valdeur of ingang wees, dalk buite?”

“Kyk hier, agter die trappe,`n deur.” Lindie beduie met haar flits se lig na `n swaar houtdeur onder die trappe.”Dis gesluit met `n ketting en slot. Hier’s iets hier agter.”Haar hart klop hamerslae, koue sweetdruppels rol onder haar armholtes uit.“Ons moet dit oopmaak maar waarmee?” Corne draai skielik om .”Die koolstoof- daar lê `n swaar yster bo-op.”

Hulle gaan haal die yster en skuif dit deur die slot Elkeen vat aan weerskante van die ronde ysterstaaf en draai met al hulle krag.Die yster buig en skielik spring die slot oop.Die deur gly geruisloos oop. `n Donker stel sementtrappe lei afwaarts. Koue, klam lug styg op en voel aan hulle gesigte. `n Vreemde, onbekende reuk kriewel in hulle neusgate.Ver onder die trappe is `n gloed sigbaar. Versigtig beweeg die twee meisies die trappe af.Laer en laer, al dieper lei die trappe ondertoe- waarheen lei dit? Skielik eindig die trappe in `n kleinerige vertrek.- `n enkele oop gloeilamp hang aan `n koord van die dak af.

“Nog `n deur, `n staaldeur- hier’s iets aan die gang hier agter.Ons moet versigtig wees.” Corne voel aan die deurhandvastel. Dis oop!Versigtig druk hulle die deur verder oop.Helder ligte verlig `n gang voor hulle. Die mure en dak is wit gepleister en orals brand helder neonligte.Blink vloerteëls skitter onder die skerp ligte.Versigtig,baie stadig  en met asems wat vinnig jaag en natgeswete hande beweeg hulle vorentoe. Die gedruis is nou duidelik hoorbaar.

“Jong, dink jy nie ons moet maar liewer omdraai nie?” sê Lindie vir die tweede keer. Hier’s iets aan die gang. Netnou is ons in groot gevaar.Dalk is dit `n dwelmsmokkelary of iets.Wie gaan ons ooit hier kry?”

“Ek wil weet wat aangaan. Ons moet net versigtig wees.” Fluister Corne.

Hulle stap verder af in die helder gang.Die gesoem raak nou harder. Die gang draai  na regs. `n traliehek staan oop. Hulle loer na binne. Vreemde en onherkenbare elektriese en elektroniese apparate staan op die vloer.`n Gesoem vul nou die hele vertrek. Die hele area is in `n goen en blou  glans en skynsel geklee.

Op hulle tone nou. Stadig,  nader en nader.Hulle loer om die hoek van `n silindervormige  masjien vol drade en pype. Dan sien hulle dit.

`n Ou man wat lyk of hy 200 jaar oud is, sit by `n lessenaar. Sy lang wit hare hang op sy skouers, `n ronderaambril sit skeep op sy neus.Glasapparate, bottels, buise, flesse is aanmekaar verbind. Orals borrel en prut vloeistowwe – rooi en blou en pers. Drade en plastiese pype verbind mekaar.Die ou man skryf kort-kort op `n boek wat voor hom ooplê. Hoë frekwensie alarms, sirene en vreemde geluide vul die vertrek. Die ligte flikker-flikker en die dreuning word harder.

Grootoog loer die meisies na die onverstanbare opset wat voor hulle afspeel.”Hy lyk nes Einstein.” Fluister Corne.

Lindie skud haar kop.” Ek wonder wie is hy en waarmee is hy besig?”

Na `n wyle staan die ou man op. Hy strompel na`n fles waarin `n groen vloeistof vergader het, neem die fles in albei hande en sluk die inhoud af.Sy ligaam gloei blou en pers .Hy skuifel na `n ding wat soos `n groot glassilinder lyk met `n deur aan die een kant.Gekleurde rook borrel by die silinder uit, sirene en alarms loei meteens harder. Dan is dit stil. Die glasdeur van die silinder gaan oop.`n Aantreklike jongman met swart hare en groen oë kom uitgestap.Hy skakel `n klomp skakelaars af. Hy druk met sy hand teen die agterste muur en `n onsigbare deur gly oop. Dan is hy weg.Die gesoem raak stil, die ligte flikker `n paar keer en gaan dan uit.

“Kom, ons moet hier wegkom.” Corne skakel haar flits aan en hulle hardloop terug in die gang met die vloerteëls. `n Stem uit `n luidspreker laat hulle vassteek. Verskrik kyk hulle na die luidspreker teen die dak van die gang.`n Rooi liggie gloei aan en af.`n Helder mansstem vul die stilte van die vertrek: “Ek het julle tweetjies gesien. Orals is geslote baan televisie.Moet niks vir iemand sê nie. Julle sal die eindeksamen druip as julle iets vir iemand vertel.”

Die meisies hardloop vir `n vale teen die sementtrappe op.Hulle  klap die deur onder die houttrappe toe en laat spaander by die voordeur uit.`n Entjie van die hoofpad, waar hulle fietse onder `n boom staan, kom hulle tot verhaling.

“Het ons gedroom?” Lindie trap dat haar fiets se ketting sing.

“Nee, dit het alles gebeur. Maar hoe…en wie is die ouman wat verander in `n jongman?”

“En wat bedoel hy ons sal druip as ons iets vir iemand vertel. Niks maak sin nie.”

Die vakansie is verby. Dis die begin van `n nuwe jaar, nuwe graad, kinders en onderwysers. Vir Corne en Lindie was dit moeilik om stil te bly oor die misterie van die spookhuis. Die stem oor die luidpreker spook by hulle : ”Bly stil, ek weet wie is julle.Julle sal die eindeksamen druip as julle praat.”

Dit dreun en gesels en kekkel in die klaskamer.Die klaskamerdeur gaan oop. Die lawaai en gedruis bedaar skielik.“More klas ek is julle wetenskaponderwyser vir die volgende drie jaar.” `n aantreklike jongman met swart hare en groen oë stap deur die rye,

“Dis hy!” fluister Lindie agter haar hand vir Corne. Die ou in die spookhuis.”

“Die ouman wat verander het in die jongman” fluister Corne terug.

Hy steek vas by Corne en Lindie se bank. Sy groen oë deurboor hulle.”Corne en Lindie. Ek dink ons het al ontmoet.”

Hy stap vorentoe.”Klas, ek het die bynaam van Einstein. Julle mag my maar so noem. Ek hou baie van eksperimente. Dit gaan `n interessante paar jaar wees. Laat ons begin.”