HART IN DIE HAND – Christelle Strydom

Hart in die hand – 2016 © Christelle Strydom

VOLWASSE FANTASIE (1 164 WOORDE)

 

Ek het my gesig tot teen aan die spieël gedruk, my oë was helder en die geel spikkels het soos vlamme gedans tussen die groen en blou. Maar dis nie waarvoor ek gekyk het nie. Nee, ek het opgelet na die fyn spoortjies oral op my vel en die bekende frons wat soos ʼn onderstreepte dubbel lyn op my voorkop pryk. Skielik het ek gedink aan oorlede oom Wilhelm; Vader, hy het homself dood gedrink as ek reg onthou. Ja dit was in die vroeë tagtigs; voorblad berig. “Dronk vragmotor bestuurder sterf in gru ongeluk.” Daardie jare was dit ʼn skaarse ding. Tannie Baba moes hom nooit gelos het nie. Maar na elf kinders en baie, baie swaarkry kon sy seker nie anders nie. Mens het nooit gehoor van iemand wat hulleself dood drink nie.  Genadiglik is nie een van my spoortjies van drank of rook nie; meer swaar kry, ʼn harde lewe en harde werk. Om ʼn lappie grond so vrou alleen te bewerk van vroeg oggend tot laat aand is immers harde werk. Die hoenders moet gevoer word, twee koeie wat gemelk moet word en die skape moet na die nuwe kraal geskuif word waar daar beter voer is. Maar vandag is anders; ʼn Afspraak op die dorp.

Nietemin, ek het steeds meer as ander as ek alles in perspektief plaas. Elke haar op my kop is getel en elke “blessing” is gegee met liefde. Die man oor die radio het nog ʼn dag van reën voorspel en die grasperk lyk al na Leeu wêreld. Sy loer by die venster uit en sien die grys wolke dig saamgepak. Ek wat Katinka, is sal maar aan die gang moet kom, want om hier te sit en alles te bedink en te bespiegel gaan niks verander nie. Sy het reeds die twee emmers vol melk op die tafel gesit. Dit moet staan sodat die room bo kom lê. Katinka sal dit later afskep en dit begin karring in die karring masjien vir botter. Al die plaas mense kom koop haar tuisgemaakte botter en die yskas het nou al drie rakke vol, byna genoeg vir die maand se verkope. En sodra sy die room van die melk geskei het kan sy dit in bottels gooi vir die mense wat vars melk kom koop. Lasarus lê voor die agterdeur. Sy hok kan maar in die reën vergaan al is dit net drie treë van die agterdeur af.

(Katinka het buite toe gestap met ʼn erde emmer vol hoenderkos.)

Met elke treë op die modderige grond paadjie voel Katinka hoe sy plek-plek gly. Lasarus loop stertswaaiend langs haar. Die hoenders is bewus van haar nabyheid. Hulle ken die bekende kraak van die hout agterdeur se oopswaai, hulle ken selfs die geluid van haar voetstappe. Met elke treë nader aan die hoenderhok, klink die opgewondenheid van die hoenders soos ʼn plaas gesang. Hulle is ongeduldig vandag. Katinka praat met die hoenders terwyl sy sommer so in die hek en oor die draad heining staan en gooi.

“Ja, toe nou… Hiert! Vettie, gee net kans dat die ander henne ook ʼn ietsie kan in kry. Netnou sit daar weer ʼn dubbel eier in jou vas van al gevretery! Rallie, jy is moedswillig; jy trap op Meidjie. Sies! Voertsek!”

Sy draai om en stap terug met die steeds kekkelende hoenders wat haar volg so of hulle haar probeer terugroep om nog ʼn bietjie langer te gesels. Katinka sal die eiers maar laat middag gaan uithaal want daar is nou belangriker dinge, soos die afspraak. Ouder gewoonte wend ou Lasarus weer ʼn poging aan om in te kom. Hy druk sy kop styf teen Katinka se been. Dan skiet Lasarus verby haar en val soos ʼn dooie neer op die deurgetrapte matjie voor die koolstoof. Hy loer na Katinka om te kyk of sy nie gaan raas nie, maar Katinka se kop is besig. Haar gedagtes hardloop die tyd vooruit. Die horlosie teen die muur bevestig die tyd en op die radio word die sesuur nuus gelees deur ʼn onbekende man met ʼn diep drawende stem. Katinka glimlag skielik aan die gedagte van die woord “dradeloos”. Dis hoe ouma verwys het na die radio. Sy wonder wie met daardie woord vorendag gekom het en of dit toe sin gemaak het?

Katinka stap gang af tot in haar kamer; sy staar vir ʼn paar sekondes na die handegemaakte spieëlkas wat meer geskiedenis dra, as wat sy soms kan onthou. Oorlede ouma Sieletjie sou beslis ontevrede wees as sy moes sien dat Katinka nie die hout liefkoos met lyn-olie nie. Die Kersiehout het al verbleik met die jare en die bal en klou pote se vorm is nie meer so duidelik uitgerond soos ʼn klompie jare gelede nie. Wonderbaarlik hoe dit vir soveel jare oorleef en soveel geslagte al sien kom en gaan het.

“As dit kon praat, wat sou dit sê?” wonder Katinka so by haarself.”

Dan pluk sy die bypassende hangkas se deure oop, skuif die hangers een vir een verby. Sy haal ʼn denim af en van die ander hanger ʼn netjies swart bloes. Katinka trek vinnig aan en die skerp punt swart hakskoene pas mooi by die denim en bloes.

“Sy wonder oor Grytjie…”

Sal Grytjie vandag sukkel om aan die gang te kom of sal sy met die eerste draai van die sleutel brul en bolle rook by die uitlaatklep uitspoeg.

Sy stap weer in die kombuis binne; dan vang haar oog die stukkende bebloede glas op die vloer by opwasbak. Katinka buk en bekyk die skerwe van nader. Dit lyk eintlik soos ʼn meesterstuk, geskets deur ʼn geoefende hand. Miskien… selfs ʼn selfportret. Die bloedspatsels gee karakter aan die skerwe en die skerwe gee lewe aan die bloed.

“Ja Here dit was gisteraand…dis hier waar hy my gegryp en magteloos gelos het.”

My lewensmaat wat nou al jare saam met my die pad van wel en weë stap…

(Ek het dit nie eers gesien kom nie en was nie eers bewus van die diepe pyn nie. Nee, ek het niks gevoel nie.)

Maar hy maak maar so… So elke nou en dan kom vat hy hard aan my hand en my hart; dan krap hy soos ʼn roofdier my gedagtes deurmekaar en my emosies word soos die van ʼn wilde vreemdeling. Ek kan maar mooi praat en skel dit maak elkgeval nie ʼn verskil nie as hy hier is verander ek in ʼn leemtheid; ʼn leë ding. En later baie later wonder ek oor sielsiek, oor die stemme in my kop. Here, dis hoe dit is as Eensaamheid sy teenwoordigheid sigbaar maak. Hy breek dinge binne my wat geen dokter of mens weer heel kan maak nie. Hy het geen genade, al pleit ek. Hy fluister behoeftes; my eie persoonlike behoeftes, in my ore. Hy verneder my tot in my kaalheid en as hy my hand los, Here, bly net die merke oor.

“Katinka se boodskappe is nie in die straat gelos nie, maar in die hart.”