OUMA ELSA SE VERSOEK – Christo Meyer

Ouma Elsa se versoek – 2016 © christo Meyer

JEUGFANTASIE (1 489 WOORDE)

 

Met ʼn knop in my keel staan ek langs Ouma se bed. Ek byt my onderlip vas om die trane te keer. Al voel ek lus om te huil, wil ek nie hê Ouma moet dink ek is ʼn tjankbalie nie. Ek is darem al twaalf jaar oud en volgende jaar gaan ek hoërskool toe.

 Dis nie lekker om my ouma Elsa net so te sien lê nie. Sy moet dit seker haat om dag in en dag uit aan ʼn siekbed vasgekluister te wees. Sy is nie een vir stilsit en niks doen nie. Nee, my ouma hou van aan die gang wees. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy kook die lekkerste etes en my klere ruik elke keer of dit splinternuut is wanneer Ouma dit van die wasgoedlyn af haal. Ma kla gereeld dat Ouma nie so hard moet werk nie, maar sy steur haar glad nie daaraan nie.

Sedert Ouma drie weke gelede in die hospitaal opgeneem is, kom maak ek elke middag na skool ʼn draai. Dis op my pad huis toe. Baie dae slaap sy so vas dat sy nie eers weet ek is hier nie. Ma sê dis van die medisyne wat die hospitaalpersoneel haar gee. Sy wil nie vir my sê watter siekte Ouma het nie, maar ek is nie onnosel nie. Dit moet ʼn ernstige siekte wees. Hoekom anders sal Ouma nou al drie weke lank in die hospitaal lê? Miskien is dit ook beter as ek nie weet nie.

Ouma se oë gaan oop. Sy probeer glimlag toe sy my sien. Ek wil uitbars van die trane, maar ek beheer myself. Sy lyk so swak en broos.

“Zander, my seun, ouma wil jou ʼn groot guns vra.” Haar stem is niks anders as ʼn fluistering nie. Ek sak op my knieë voor haar bed, neem haar een hand in myne en kyk reguit in haar moeë oë.

“Watter guns, Ouma? Ouma weet mos Ouma kan my enigiets vra.” Ek sien hoe sy sukkel om asem te haal.

“Kelly… ek wil vir Kelly sien voor ek begrawe word. Al is dit net om oor haar kop te streel en haar vir oulaas ʼn stywe drukkie te gee. Die dokter het my ingelig dat ek nie meer lank oor het om te lewe nie. Die siekte se gif is te ver in my lyf. Sal jy vir Kelly na my toe bring?”

“Maar Ouma…”

“Ja ja, ek weet katte word nie in ʼn hospitaal toegelaat nie. Ek het klaar met dokter daaroor gepraat en hy sê hulle sal hierdie keer ʼn uitsondering maak.”

“Nou goed, Ouma. Totsiens Ouma. Ek sal môre weer kom inloer.”

“Totsiens, Zander. Veilig huis toe loop.”

 Ek kry dit nie oor my hart om vir Ouma te sê Kelly het weggeloop nie. Dieselfde aand toe die ambulans vir Ouma by die huis kom haal het, het Ouma se goudkleurige kat haar uit die voete gemaak. Niemand weet waar Kelly is nie. Ek het oral op die dorp plakkate van haar opgesit en Ma het selfs ʼn beriggie met ʼn oulike foto van Kelly in die plaaslike koerant geplaas. Niemand het gebel om te laat weet hulle het vir Kelly iewers gewaar nie. Kan ʼn kat aanvoel wanneer iemand na aan hom baie siek is en dat daardie persoon se tyd op aarde byna verstreke is? Is so iets moontlik?

 Buite in die straat rol die trane oor my wange. Wat gaan ek doen as Ouma nie meer daar is nie? Sy is die een wat altyd vir my in die bresse tree as Ma of Pa met my raas. Sy koop gereeld vir my geskenke en gee vir my geld vir die snoepie sonder dat ek daarvoor vra. Sonder haar sal die lewe nooit weer dieselfde wees nie. Ek wil nie hê sy moet sterf nie. Ek wil nie.

Die volgende oggend voor skool hou ek en my twee boesemvriende, Anton en Darius ʼn noodvergadering.

“Ouens, ek sit met ʼn probleem en ek wil graag hê julle moet help.” Die twee gaap my vraend aan.

“Dis my ouma. Julle weet mos sy is in die hospitaal. Dit gaan nie so goed met haar nie.”

“Jislaaik, Zander, jammer om dit te hoor,” sê Anton en tik my op my skouer. “Jy moet net sê as daar iets is waarmee ons kan help.”

“Dis juis hoekom ons hier bymekaar kom. Sy het versoek dat ek vir Kelly, haar kat hospitaal toe neem.Maar ek weet nie waar die kat is nie. Julle ouens moet my help soek, asseblief.”

“Geen probleem, Zander. Ons sal help soek. Ons ken mos vir Kelly. Maar dis snaaks, sy het nog nooit vantevore weggeloop nie.”

“Toemaar, ouens, ek kan dit self ook nie verstaan nie. Ons moet haar soek tot ons haar kry.”

Drie aande later lui die telefoon. Ek, Pa en Ma sit voor die televisie. Pa staan op om die oproep te beantwoord. Ek sien hoe Pa se gesig verkleur terwyl hy met die hoorbuis teen sy oor staan. Hy sit die telefoon terug op die mikkie en haal diep asem.

“Dis die hospitaal wat gebel het. Ons moet ons voorberei op die ergste. Mamma het ʼn terugslag gehad.”

Vyf minute later is ons in Pa se nuwe BMW oppad hospitaal toe. Die atmosfeer in die motor is gespanne. Niemand uiter ʼn woord nie. Vir die eerste keer sien ek vir Pa onverskillig ry. Hy jaag teen ʼn hoë spoed oor ʼn rooi verkeerslig. Ma laat hom begaan. Sy besef seker dis nie nou die tyd om hom daaroor aan te spreek nie.

By die hospitaal aangekom vertel die uitdrukking op die dokter se gesig die hele verhaal.

“Ek… ek is vreeslik jammer vir julle verlies. Elsa is nie meer met ons nie.”

Ek voel hoe iets aan my hart ruk. Is Ouma regtig weg? Dit kan mos nie wees nie. Ek het dan nie eers kans gekry om vir oulaas te groet nie. En wat van Kelly? Ons het dan nog nie vir Kelly opgespoor nie.

Met skouers wat hang, loop Ma en Pa voor my uit terug tot by die motor. Pa sluit die motor oop, ons klim in en hy trek stadig weg. Ma sit langs my op die agterste sitplek. Sy slaan haar arms om my. Dit voel soos ʼn dam se walle wat breek toe ek uiting gee aan my emosies. Nie een van Ma of Pa huil openlik nie.

Die dag van Ouma se begrafnis breek aan. Dis ʼn warm dag, met ʼn ligte windjie wat waai. Die kerksaal is van hoek tot kant volgepak. Ouma se kis staan in die middel van die vloer. Baie van die gesigte is bekend, maar daar is ook mense wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Anton en Darius sit skuins oorkant my. Pa hou Ma se hand vas. Op die preekstoel is dominee besig om uit die Bybel te lees.

Skielik hou dominee op met preek. Ek sien hoe hy sy bril afhaal, soos iemand wat iets gesien het maar nie heeltemal seker is nie. Dan sien ek dit ook. Dis Kelly. Waar op aarde kom sy vandaan? Sy kom stadig by die kerk ingestap. Met ʼn stert wat swaai gaan sy voor Ouma se kis staan.Sy spring tot bo-op die kis en die volgende oomblik weergalm haar miaau-geluid deur die kerkgebou.

Asof in ʼn droom lig Ouma haar kop en sit sy regop in die kis. Sy steek haar hand uit en vryf saggies oor Kelly se rug. Dan sak sy weer terug in die kis. Kelly spring van die kis af en net so skielik soos sy by die deur ingekom het, netso verdwyn sy weer.

Dominee hervat die preek asof niks gebeur het nie. Toe ek later vir oulaas ʼn draai by Ouma se kis gaan maak, is dit asof ek ʼn glimlag van tevredenheid op haar gesig sien.

ʼn Jaar later staan ek en my twee vriende voor ouma se graf.Ons elkeen het ʼn bossie vars blomme in ons hand. Ons praat oor die dag in die kerk. Hulle albei stry met my dat Kelly nie daardie dag op Ouma se kis gespring het nie.

“Die kat was nie eers daar nie,” hou Darius vol. “En hoe kan ʼn dooie persoon regop sit in ʼn kis? Jy het jou seker maar net verbeel.”

Ek gee nie om wat hulle sê nie. Ek weet wat ek gesien het. Kelly het uit die bloute haar verskyning gemaak en Ouma was so bly om haar geliefde kat te sien. Anton en Darius het tien teen een gesit en slaap, soos wat hulle gewoonlik op ʼn Sondag in die kerk doen.

Ten minste het ek met my eie oë aanskou hoe daar aan my Ouma Elsa se laaste versoek voldoen is. Ek wonder wat gaan Anton-hulle se reaksie wees as ek hulle moet vertel Ouma het vir my geknipoog toe sy so oor Kelly se rug vryf…