SAGE VAN REINHEID – Velma Barnard

Sage van Reinheid – 2016 © Velma Barnard

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 151 WOORDE)

 

Die afgelope sewe wentelbane was uitmergelend gewees vir die hele planeet se inwoners. Dit het begin met ʼn eenvoudige verskil van opinies. Die politici het een vergadering op die ander gehou. Konfederasies en afvaardigings van al die ryke het byeengekom op ʼn weeklikse basis. Daar was gekoukus en beraadslaag. Nie die keiser of die ander ministers het voorsien dat die inwoners in opstand sou kom oor die verdeling van water en voedsel voorrade nie. Die planeet het nog altyd oorvloedig voorsien in almal se behoeftes.

Sommige van die wetenskaplikes het aanbeveel dat die werkkragte ingespan moet word om alternatiewe moontlikhede vir hervestiging te ondersoek. Die meerderheid stemme was egter daarmee eens dat Reinheid in staat was om aan te hou voorsien in die inwoners se behoeftes.

Die droogte het egter alles verander. Niks sou ooit weer soos voorheen wees nie. Die inwoners het begin gierig raak en was al hoe minder mededeelsaam met mekaar. Die droogte het egter voort geduur. Dit was die langste droogte in Reinheid se hele bestaan. Daar was slegs enkele Jamelia plantasies oor. Die geurige Jamelia blomme is deur die inwoners in die meerderheid van hul spyse aangewend. Dit word selfs soos tee getrek en as medisyne gebruik. Dit is ontsmettend van aard. Die reuk verdryf ook die langneus brommers wat op alles eiers lê as die hitte seisoen heers. Vyftig son siklusse se tydsverloop van moerasse en stoom wat opstyg vandat die son opkom totdat dit sak. Die humiditeit was ondraaglik en drukkend, byna versmorend.

Die son hang groot en groen waar dit in die laagte anderkant die rantjies wegsink terwyl die kinders water opspat en giggelend wegduik. Leara staan en kyk hoe hulle vrolik baljaar in die water. Die water maak golfies en kring uit tot op die oewer waar sy staan. “Grieja…Sobian…Sarja, kom nou liefens, ons moet nog gaan aandete maak!” roep Leara die kinders. Hulle hardloop al gillend tot by haar en slaan hulle nat armpies om haar nek. “O Leara, die water is heerlik. Kom swem eers saam met ons” Leara se glimlag huiwer floutjies rondom haar mondhoeke. “Nie nou nie liefens. Dalk swem ek more saam met julle. Kom ons moet aanstap huis toe.” Saam met die sak van die son, ontvou die Jamelia blomme tot hul volle glorie en streel die vroegaand se lug met liefderyke aromas wat vly.

Weggesteek uit die oog agter die Kroa-berg lê die droewige getuienis sigbaar in die wrakstukke van vlug skepe en elektroniese water vlette wat die krygers vervoer het. Die eens magtige ryk van vrede en samehorigheid nou net hersenskimme van ʼn eens glorieryke bedeling wat deur selfsug, jaloesie en wraak verwoes is. Hartseer en met heimwee gly Leara Kroon se oë oor die kinders wat so heerlik baljaar het.

Kameelkleur hang in die lug terwyl dit vinnig skemer trek en die haak-bek voëls in swerms op die water neer vlaag om gereed te maak vir die nag se slaap. Hulle weeklaag gesange sluit aan by die mistroostige gevoel wat in Leara se hart hang. Sy lig haar hand na haar wang en besef met skok dat haar gesig swem in die trane. Dit is trane van magteloosheid, oor gedane sake en gebeure waarvan die gevolge nog lank gaan voortvloei. Sy is hartseer oor wat nou voorlê en omstandighede waaraan niemand iets kan verander nie.

Stadig vreet die skadu’s die laaste daglig op en stoor dit vir die volgende sonsopkoms onder die berg se voet. Die kinders hardloop vooruit en teen die tyd dat sy die beskutting bereik is al drie reeds in die bad en speel hulle vrolik terwyl sy aandete voorberei. Die riet bredie met Jamelia blare vir geur en fyn rys prut op die stofie en sy sit met ʼn koppie Jamelia tee in haar hand by die lae tafel in die vertrek. Die riet bredie is veeldoelig, aangesien dit voedsaam en helend is. Die kinders besef nie eers hoe gesond die voedsel vir hulle is nie. Hulle trippel in die vertrek in net toe sy haar laaste sluk tee neem en dan sit hulle aan vir aandete. Die riet bredie en rys verdwyn sommer vinnig in die honger magies in. Daarna stap sy saam met hulle na die matras in die agterkant van die hut en maak hulle een vir een toe met hul komberse. Sy gaan sit weer by die tafel en raak veel later daar aan die slaap met haar kop op haar arms.

Leara is op die been voor die son sy gesig kom wys. Leara se nek is styf, want sy het dit omtrent verslaap. Sy glip by die deur uit en koers tussen die lanings bome deur na die stroom waarin die kinders die vorige middag rinkink het. Sy het gaan slaap met malende gedagtes en het wakker geword met dieselfde span wat haar vrede in sirkels rond jaag. Haar moeë skouers hang en weerspieël terselfdertyd haar hartseer.

Sy swenk skielik na die hoogte wat aan die grens van die lanings uitsteek. Dan klim sy vinnig en moeiteloos tot heel bo en gaan sit met haar gesig in die rigting vanwaar die eerste lig sigbaar raak. Die dag is besig om gebore te word. Die haak-bek voëls se geskreeu weerklink soos kraampyne vanuit die vlei op. Stadig rys die groen son oor die kim en sprei sy lieflike groen strale asof roepend na vrede en heling vir die planeet wat suur uitbloei. Sover as wat Leara kan sien steek daar stukke metaal uit tussen die heuwels. Sy sit op die hoogte tot die son reeds hoog bokant die horison uitgelig het en klim dan af na onder. Sy stap tot waar sy uit die voetpad geswenk het en draai dan terug op haar roete.

Leara beur voort en tree stadig nader aan die stroom se oewer. Verskrik vlieg twee haak-bek voëls op tussen die riete. Sy kyk geskok na die water voor haar in die stroom, alhoewel sy reeds die vorige middag ʼn vermoede gehad het dat dit net ʼn kwessie van tyd is voor die broeiende euwel sy kop gaan uitsteek. Sy het egter nie besef dat dit so gou reeds sigbaar sal wees nie. Haar gedagtes hardloop nog steeds op ʼn mal jaagtog terwyl sy na die verkleurde water staar. Hoe gaan dit hulle raak? Waar gaan hulle water kry om te drink of in te bad? Hulle sal moet trek. Waarheen? Hoe ver? Die vrae storm voort terwyl sy verdwaas na die stroom kyk.

Die chemiese stowwe se vernietigende besoedeling staar haar glurende in die oë. Die diep pers stroom syfer stil voort asof niks fout is nie. “Waar is al die wetenskaplikes en ander slim geleerdes nou” wonder sy hardop? “Nee, wat gaan ons maak? Wat gaan ons maak? Dis nou ondrinkbaar.” Leara snik terwyl sy haar hande oor haar oë vryf om die onbedaarde trane te keer. Daar was nie twee keer gedink toe die kundig ontwerpte materiaal goedgekeur was om vir die nuwe oorlogstuie, wapenrusting en ammunisie gebruik te word nie. Die voorstel was op die tafel geplaas en eenparig aanvaar. Geen vrae. Geen twyfel of proefnemings nie.

Die “Groen”-tuie is bio-disintegreerbaar ontwerp om te voorkom dat daar stapels wrakke agterbly om van ontslae te raak. Die opgewondenheid was so groot oor die nuwe materiaal en die nood om dit te ontplooi so dringend, dat niemand ʼn gedagte geskenk het aan omgewingsbewaring of selfs wat sou gebeur na die oorlog tot ʼn einde gekom het nie. Die toekoms was ʼn flits op die horison en lewendig slegs in die drome van die optimiste. Sy kyk weer na die verkleurde water en sug diep. Hoe selfsugtig kan wesens nie teenoor mekaar wees nie.

Leara knip die sak langs haar sy oop en haal ʼn fles daaruit. Sy sak op haar knieë en vul die fles met water tot op die merk op die kant van die fles. Dan plaas sy die deksel terug en druk dit in die sak. Sy staan op en loop tot by die klip wat uitsteek tussen die riete. Sy druk die riete weg en soek na die voetpad wat langs die stroom af koers. ʼn Halfuur se stap later sien sy die groot boom waarvan die takke liggies wieg in die windjie wat opsteek.

“Roggos!” “Roggooooosssss!” Leara staan vir ʼn oomblik doodstil en luister vir enige aanduiding van beweging of lewe. Sy hoor slegs die wind wat deur die blare suis. Sy klim teen die houtjies op met die stam van die boom tot bo in die boomhuis en haal die fles uit haar sak. Dan neem sy die grif en skryf op die vel dat Roggos die water moet ontleed en haar moet laat weet wat die lesings is. Sy plaas die vel onder die fles en klim dan af tot onder om haar roete terug aan te pak na die beskutting toe. Sy hoor die kinders reeds van vêr af skater en voel bly dat hulle nie vanoggend saam met haar na die stroom gestap het nie.

Sy koers met die paadjie terug langs die stroom af tot sy by die voetpad aankom wat tussen die lanings deur koers. Leara wonder skielik wat is anders. Sy gaan staan en luister. Dis opvallend stil. Dan besef sy dat die kinders se stemme stil geraak het. Langs die rivier hang die verdroogde Jamelia blomme soos swygende getuies, van die onreg wat aangerig is aan die planeet en aan die kinders wat dit vir die volgende honderd wentelbane moet bewoon. Daar is geen keer aan die bewoners se selfvernietigings drang nie.

Roggos het die fles eers baie later gevind toe hy by die boomhuis aangekom het van sy jagtog af. Die haak-bek voëls was heeldag baie skaars gewees. Hy is seker hulle word vinnig minder. Voorheen het hy nie eers ʼn halwe middag gesoek vir iets om te eet nie. Hy kyk amper histeries na die fles met pers vloeistof. Wie het dit daar aangebring? Wat weet hulle? Dan sien hy die vel met geskryf op onder die fles. Die pers water lyk onheilspellend bekend. Dit is presies dieselfde kleur as die water wat hy in die laboratorium van die keiser ontleed het. Die water waarin die keiser nog die vorige middag gebad het.

Die lesings is presies wat hy vermoed het. Niemand weet dat die keiser reeds oorlede is nie. Dit was so vinnig verby. Hulle het nie eers kans gehad om die keiser te probeer behandel nie. Die verterende kanker hou nie op as die water eers deur die vel opgeneem is nie. Niks keer dit nie. Hulle kon nog geen teenmiddel vind nie, in elk geval nie betyds om die keiser te red nie. Roggos tel sy rugsak op en stap na die leer. Hy klim na onder en stap driftig in die rigting van Leara se beskutting. Sy hart voel beangs. Waar het Leara die water gekry? Wie was in kontak daarmee? Roggos besef skielik dat sy stap oorgeslaan het in ʼn draf. Hy moet haar so vinnig moontlik bereik en uitvind of sy die water gebruik het.

Waar die lanings eindig gaan staan Roggos en dan ruk sy hart in sy bors. “Leara!” Sy sit op die trap voor die beskutting. Haar figuur lyk klein teen die hut wat agter haar staan. Haar wasbleek gesig staar nikssiende voor haar uit terwyl sy vorentoe en agtertoe wieg met haar arms om haarself geslaan. Roggos stap stadig nader. Daar by Leara se voete lê die liggame van Grieja, Sobian en Sarja reeds pers verkleur net soos die water en net soos die keiser. Hulle oë sal hom altyd by bly. Hulle oë bly oop. Dit is donker pers. Hy sak op sy knieë en begin saggies huil. “Kyk Roggos, liefens slaap. Kyk, my liefens slaap rustig en soet.” Roggos se skouers begin onbeheers ruk. Die stil man ween soos ʼn kind.

Roggos sak sy kop op Leara se knieg en vir baie lank sit hy net so sonder om ʼn woord te sê. Die stilte is oorverdowend. Dis eers toe Leara saggies snak en stadig haar asem uitblaas dat Roggos opkyk en die fles met water langs haar sy sien staan. Die fles waaruit sy altyd water gedrink het. Hy draai om en kyk op in haar gesig. Leara se oë is oop. Hulle is donker pers. “Leara…my liefens… jy was altyd my liefens.” Leara slaap ook nou rustig vir altyd.

Die reaksie wat veroorsaak word deur die wrakke wat oplos sypel stadig deur die landskap en vertroebel die water langsaam sonder keer. Roggos besef dat daar nie meer veel wentelbane oor is vir Reinheid se inwoners nie. Voorsorg is beter as nasorg of probeer sorg.

Voor hom lê die liggame van vier liefens wat moes boet vir die onbesonne denke van ander wat nooit die son oor mekaar wou sien opkom nie. Wanneer sal ons leer dat oorlewing gesetel is in saamstaan en saamleef.

Reinheid se ongereptheid is vir goed vernietig…