TYD WAG NIE – Handré Jankowitz

TYD WAG NIE – 2016 © HANDRÊ Jankowitz

JEUG WETENSKAPFIKSIE (979 WOORDE)

 

Oop.

Alles… is… óóp.

My… neus (die sintuigorgaan spring in my verstand op) ruik die allervreemste geure. Dit ruik – skóón. Skerp lig dring my oë wreed binne. Ek maak my oë weer toe, en hoor ʼn versteekte laggie.

Iemand is… geamuseerd, herroep ek die woord.

Iets vreemds kry my brein beet. Irritasie.

Ek maak my oë hierdie maal stadiger oop, versigtig vir die skerp spektrum, en fokus op twee vroue in wit jasse voor my – die een wil lag; die ander wil huil.

“Hy lyk nes Bernard,” sê die een wie se trane vlak lê.

Wie is Bernard?

Die geamuseerde een – rond en gesond – sluk vinnig haar laggie. Sy stap vorentoe, na my toe, en ek verkyk my aan die plek waar ons drie ons bevind. Dit lyk na ʼn… laboratorium met metaalpale wat die dak ondersteun.

Is ons ondergrond?

“Halloo, Ben,” oorrond sy haar woorde. “Kan… jy… my… hoor?”

Ek knik stadig. Die spiere in my nek is soepel soos ek my kop beweeg.

“Kan jy praat, Ben?”

Al my spraakorgane doen soos beveel en ek rasper: “Ja.”

My eerste woord.

“Goed, Ben, ek is dokter Vermaak, en hierdie is professor Lutjens,” sê dokter Vermaak soos sy na die ander geleerde beduie. “Jy is Voorwerp MX193, maar almal sal jou Ben noem.”

Ek knik weer.

“Draai om, Ben.”

Ek draai my liggaam om en spring verskrik agtertoe. ʼn Reus kyk my diep in die oë – rooi oë – en hy spring nes ek weg. Die vroue agter my lag albei hardop. Ek som die vyand dadelik op: hy’s presies sewe voet, drie duim lank en een meter breed om sy middel. Blas vel, en ongelooflik gespierd. Baard en ʼn bietjie bors- en voorarmhare. Ek en hy kyk mekaar peinsend aan.

“Dis ʼn spieël, Ben. Jy kyk na jouself. Dit is jý,” sê dokter Vermaak tussen die giggels deur. “Ontspan. Kyk weer na ons.”

Ek draai weer terug en professor Lutjens vee die oorblywende trane uit haar oë. “Weet jy wat jy is, Ben?”

My brein swel – letterlik – soos die vloede van herinneringe deur my gedagtes syfer. In een toneel speel ek in ʼn sandput as ʼn kind, die volgende is my troudag – met professor Lutjens? – en die volgende is ek voor die wit lig van ʼn trein, vasgebind op die treinspore.

Ek gil.

“Ben?”

Ek bedaar en antwoord: “Nee, ek weet nie.”

“Jy is ʼn kloon, Ben. Jy is in die presiese liggaamsbou van my oorlede man, Bernard. Identies. Die herinneringe wat jou nou getref het, was nie jou eie nie, dit was my man sʼn. Ons het jou ontwerp, want jy gaan my man vir my terugbring.”

Sy’t seker die en-hoe-de-hel-gaan-ek-dit-regkry uitdrukking op my gesig waargeneem toe sy sê: “Jy gaan terug in tyd reis, MX193.”

Die geleerdes het my missie stap-vir-stap aan my verduidelik en my sterkte toegewens. Ek is in ʼn bed vasgemaak met duisende afvoerpypies wat my liggaam binnegaan en verlaat. Die digitale horlosie teen die muur lig ons in dat ek – in hierdie tydstip – slegs veertien sekondes oorhet. Dertien.

Alles is so skielik op my gegooi.

Professor Lutjens kom nader aan my en sê ernstig: “Vaarwel, Ben. Jy weet wat om te doen. Jy weet hoe om terug te kom. Bring my man terug.

Ek laat haar met rus deur eenvoudig net weer my kop te knik.

Vier.

Drie.

Twee.

Een.

Ek val vanuit die hemele gesig eerste in die teerpad.

Ek staan op en haal die kompakte spieël uit my agtersak en kyk daarin. Die een helfte van my gesig is weggeskuur; tog aanskou ek hoe elke sellaag weer vinnig teruggroei. Binne sekondes is my gesig herstel!

Dit vat steeds nie die pyn weg nie.

Nes ek dink aan hoe die tyd verbyvlieg, hoor ek die trein. Die geluid gee my hoendervleis en ek hardloop teen die spoed van wit lig in die rigting van die massiewe voertuig, nes ek beveel is.

Stap een: vind jou voete.

Stap twee: vind die trein.

Stap drie: vind my man.

Stap vier: vind die hede.

Moenie te lank daar bly nie, Ben. Jy het enkele minute om terug te wees, anders kan nie jy of Bernard terugkeer nie!

Al wat ek nou benodig, is klipharde rockmusiek in my ore.

Die bome vlieg verby. Stap twee – check.

ʼn Skreeu amper net so hard soos die trein. Bernard.

Sy reusagtige liggaam is met kettings aan die treinspore gebind. Sy oë lyk waterig – hy is bedwelm. Dit verduidelik hoe enige skurk hierdie Goliat só kon verdoem!

Ek breek die kettings met moeite af en lig Bernard van die grond af op. Hy gil. Die spore ruk.

Die trein kom nader!

VIND DIE HEDE, BEN! hoor ek die professor. BRING MY MAN!

Hoe vind ek die hede, nouweer?!

Ek druk alle knoppies op die beheerstelsel wat in my ander sak is, maar niks werk nie. Ek druk alles!

Bernard gil; hy is te swak om te hardloop, dus sal ek hardloop! Ek lig hom in my arms en vlieg van die spore af – net betyds om te voel hoe die vuurwarm metaalwiele van die trein my linkervoet vergruis.

Ek rol in die stof, en dis toe ek onthou: Bernard moet die klein rooi knop op die beheerstelsel druk. Ek gil vir hom en hy doen dit gehoorsaam.

Hy neem ons albei na die hede, en ons val die laboratorium binne.

Iemand skrik en laat val ʼn paar koppies. My voet groei sening vir sening terug en ek kyk na Bernard. Hy is net geskraap – nie ernstig beseer nie.

 “Ben? Ben, is dit jy? Bernard?!” Die vrou is grys en haar vel is oor die jare verrimpel. Ek herken die stokou vrou; dit is dokter Vermaak!

Wat het hier gebeur?

“Waar is professor Lutjens?”

Die fossiel skud haar kop in verdriet. “Iets het skeefgeloop, Ben. Ons het iewers fouteer. Jy was twee-en-sewentig jaar weg. Professor Lutjens is oorlede.”

Alles… is… tóé.