VERGELDING – Pieter Saayman

VERGELDING – 2016 © Pieter Saayman

VOLWASSE FANTASIE (2 307 WOORDE)

 

Ek besef meteens ek is verdwaal, Die bitter smaak van- jy weet jy het verkeerd gery- lê bitter in my mond. Die adfraai na my oupa se plaas het ek ure gelede al seker mis gery. My enigste uitkoms is rigting vra by die naaste plaasopstal. Die winterson lê laag op die horison en `n koue windjie spring uit die grasvlaktes. Senuweeagtig trommel my vingers op die stuurwiel. Skielik gewaar ek `n opstal tussen `n plantasie bome.

Ek draai van die sanderige grondpad af en hou stil voor `n skewe en geroeste plaashek. Met al my mag beur en steun en kreun ek om die gedoente van `n hek oop te kry. Uiteindelik skuur dit oop en my karretjie kan net-net deurskuur.

“Die pad word veel gebruik nie, ”praat ek met myself. Die tweespoorpad is toegegroei met lang gras en kort-kort tref my afgeleefde Golfie `n slaggat. Dit word nou vinnig donker, die laaste oranje gloed van die ondergaande son word stadigaan verswelg deur die donkerte wat oor die aarde toesak.

Skielik doem die vervalle ou plaasopstal voor my op. Ek hou stil en klim uit. Alles lyk vervalle, verwaarloos en verlate. Lang gras groei tot teenaan die vensters van die sinkhuis. Ek sluip nader. `n Vreemde stilte hang in die dun namiddag lug. Versigtig bestyg ek die stukkende houttrappe na die voordeur. Ek gee twee harde kloppe en spring terug. Niks, net die sinkplate wat kraak en die geruis van wind deur die gras. Vreemd .

Meteens hoor ek dit. Koue rillings hardloop oor my voorarms en ek spring die paar trappe af tot onder. Daar’s dit weer. Onheilspellend, `n skree, ʼn gil, onderaards. Nog mens nog dier. Ek beweeg om die huis, hamers klop teen my borskas, koue sweet harloop onder my armholtes uit. Wat gaan hier aan?

`n Ent van die huis af is `n groot bloekomplantasie. `n Uitgetrapte voetpaadjie lei daarheen. Meteens is ek bang, doodbang. Vroumens alleen, waarin bevind jy jou nou? Wat wag daaragter? `n Lamheid spoel oor my liggaam, terug, gaan terug skree my binneste. Blindelings en asof iets my aanjaag strompel ek deur die gras in die rigting van die bome.

Ek beweeg tussen groot bloekombome en lang gras. Tussen `n paar bome ingedruk is `n traliehok gebou van stewige pale. Agter in die hok skuifel iets rond. Stadig bekruip ek die stellasie. Die donkerte neem nou `n oorhand. `n Vreemde figuur in sakke geklee hobbel sleepvoetend nader. Ek wil omdraai, wegvlug, maar iets trek my nader. Die onderaardse gedrog se langwerpige kop is oortrek met skubagtige hare. Lang gesplete oë flits vinnig heen en weer toe die dierasie my waarneem.

Ek staan versigtig nader aan die hok. Die gedrog kyk op. `n Kwylende, skewe mond mompel iets onverstaanbaar. Dan maak die oë kontak met my. Diep en deurdringend gevul met hartseer, pyn, en verlorendheid. Wat se dierasie is dit ? Dis nie menslik nie, ook nie dierlik. Waar kom dit vandaan en hoekom is dit in die hok? `n Onverklaarbare gevoel van hartseer, woede en hulpeloosheid oorweldig my.

`n Geskuifel agter my. Ek vlieg om. `n Dubbelloop haelgeweer is laag op my gerig. `n Ou man staan met die geweer onder sy een arm, die ander rus swaar op `n kierie. Sy lang wit hare en baard hang op sy bors.

“Stadig met die geweer oom. ” Ek beweeg weg uit die rigting van die geweer.

“Wie is jy en wat soek jy hier juffie? ” kraak die stem.

“Ek het verdwaal en hier ingery. Die geluid het my hierheen gelei. Wat gaan hier aan oom, en waste dierasie of gedrog is dit die? ”

Die ou man laat sak die geweer en skuifel nader aan die hok. “Jong, dis `n lang storie, ek weet nie of ek dit vir iemand kan vertel nie. ”

“Wel, ek is nou hier en het die ding in die hok gesien, so oom kan maar vertel. ”

Die ou man laat sak sy geweer. Hy vroetel in `n broeksak en bring `n kromsteelpyp te voorskyn. Hy steek dit aan en gaan sit op sy hurke.

“Dit was baie jare gelede, my ou Susanna het nog geleef. My ou plasie was nog mooi, beeste, skape en hoenders. ”Die ou man trek aan sy pyp, blou walms geur die lug. “ Ons het een aand op die stoepie agter die huis gesit en koffie drink. `n Onbeskryflike wit lig het skielik bokant die bome verskyn. ”

“`n Helikopter wat wou land? ” Ek gaan sit ook nou plat op die grond naby die hok.

“Nee, dit was nie `n helikopter nie. `n Vreemde silindervormige tuig het laag oor die bome gevlieg, stil en geruisloos”.

“`n UFO oom ? ”

“Ons weet nie van sulke goed nie, dis voor TV en selfone se tyd. Na `n ruk het ons `n dowwe plofgeluid gehoor. Ek het my geweer en flits gegryp en na die plantasie gehardloop. Die tuig het `n gat in die grond geval. Die omgewing het rooi gegloei en statiese geluide het uit die gat uit gestyg”.

“Sjoe, en toe oom, was julle nie bang nie? ”

Hy suig aan sy pyp en loer oor sy skouer na die gedrog agter hom in die hok. ”Ons het nog so verstom gestaan ek kyk, toe daar `n opening aan die een kant van die tuig verskyn. `n Vreemde wese het uitgestrompel gekom. Nie van ons aarde of oseane nie, Nie mens of dier nie. Die wese het seergekry. Wat soos pers bloed gelyk het, het uit sy een koddige kort arm gestroom. ”

Ek merk dat die ou man moeg raak en teen die hok begin leun. Sy asem is kortaf en kort –kort hoes hy.

Hy steek weer sy pyp aan en gaan verder. ”Wat moes ons doen, die wese het seergekry en ons moes help. Dit was `n wese van `n ander wêreld. Ons kon sy vreemde geluide nie verstaan nie. My vrou het huistoe gehardloop en verbande gebring. Dit het nie aggressief vertoon nie, en ons kon die paar stukkende plekke aan sy lyf verbind. ”

“Maar oom, die hok? ” Vra ek tussendeur sy vreemde verhaal.

Hy ignoreer haar vraag en gaan voort. “Sy tuig was onherstelbaar beskadig. Hy kon nie teruggaan na waar hy vandaan gekom het nie. ”

“Het julle die insident gerapporteer aan die polisie, weermag…? ’

“Nee, ek wou nie vreemde mense, polisie, weermag of wie ookal op my grond hê nie, dit sou `n toeloop van mense, karre en ewige publisiteit wees. Ons het besluit om stil te bly. Die wese

 was `n probleem. Ons kon mekaar nie verstaan nie. Hy kon nie ons aardse kos inhou nie en het gebraak van alles wat ons eet. Al wat hy kon inhou is rou pampoen. Hy’t my boerpampoene sommer self gepluk en verslind. ”

“Ek kyk die ouman snaaks aan, iets is nie pluis nie. Dit wil vir my klink soos `n wolhaarstorie.

Hy vertel verder. ”Bedags het hy op die plaas rondgeswerf. Op `n stadium het ek begin agterkom dat van my skape en beeste vermink is. Ons het gedink dat dit jakkalse kan wees. Dit was egter vreemd. Die diere se pense was oopgeskeur en die harte was verwyder. ”

“Sjoe oom, wat was dit toe? ’

“Die wese. Ek het hom eendag gevang. Hy bekruip `n skaap of bees, en met sy lang pootagtige naels word die dier se pens oopgeskeur. Hy verorber dan die hart en lewer. Dit was grusaam en ek wou hom op die plek doodskiet. ”

“Maar oom, hoekom is dit in die hok? ” vra ek weer.

Die ou man sug, en lê swaar op sy kierie. “Ek het begin om die traliehok hier tussen die bome op te rig. Ek moes hom in die hok inlok op een of ander manier. Hy sou al my beeste en skape doodgemaak het. ”

Ek kyk na die bak water en beendere wat eenkant op die blinkgetrapte grond lê. In die een hoek staan `n houtkas wat soos `n hondehok lyk. `n Paar vuil komberse bondel daaruit. My siel ruk in my binneste. Ongekende woede, hulpeloosheid en jammerte borrel in my op. Trane loop onwillekeurig oor my wange.

“Maar oom, jy kon mos nie, dis dieremishandeling, mishandeling van `n lewende wese…”

“Wat kon ek doen, juffrou. ” Trane rol oor die verrimpelde gesig en verdwyn in sy baard. “ Ek het elke keer as ek `n skaap of bees slag, die hart en lewer vir hom gegee. Op die manier kon ek hom in die hok inlok en dit toesluit. ”

Ek staan verbysterd op. Iets hinder my, maar wat? Praat die ou man die waarheid, wat steek hy weg?

“Oom en die ruimtetuig, waar is dit nou. ? ”

Hy steek weer sy pyp aan en teug behaaglik. “Ek het die gat toegegooi. Ek wou nie dat enigiemand daarop afkom en vrae vra nie”

Die ou man staan op, verloor skielik sy balans en val agtertoe met sy rug teenaan die houthok. Die toneel wat voor my afspeel is soos in `n rillerfliek in stadige aksie. Soos blits spring die gedrog na die kant waar die man teenaan die hok geval het. Skerp, benerige kloue met lang naels skiet deur die openinge van die hok en gryp die ou man aan sy keel. Ek gil en skree, maar die ysterbeklemming om sy keel duur voort. Na `n wyle sak die ou man neer op die grond. Ek voel na sy pols. Niks, hartklop ook niks. Hy is dood.

`n Doodse stilte sak toe. Die wind wat effens geroer het, gaan lê en dis asof die natuur sy asem ophou en wag wat gaan volgende gebeur.

Die wese gluur my aan. Kwyl loop uit sy bek uit. Dit begin ruk en pluk aan die houthek. Ek hoor kraakgeluide, hy gaan die hok oopbreek! Sonder om te dink, gryp ek die dubbelloop- haelgeweer wat op die grond lê. Ek mik na die dierasie en trek die sneller. Die geweer skop amper my skouer af. Die volgende skoot weergalm deur die stilte. Ek laat sak die geweer.

Wat de duiwel! Die haelkorrels van die twee patrone het die dierasie se kop amper van sy lyf af geruk. Ek staan nader. Ongeloof, skok en verbystering spoel deur my liggaam. Die kop hang skeef aan sy lyf, maar wat op aarde? Daar is nie bloed nie, maar elektriese drade, plastiese en metaalpype steek orals langs die kop uit.

Bioniese gedrog. Halfmens, halfrobot ? Dit staan regop. Die reuk van gebrande elektriese toerusting wel in my neusgate op.

Ek gooi die geweer neer en laat spaander na die plaashuis. Wat gaan aan? Het die ouman die storie opgemaak? Vrae wel in my binneste. Die agterdeur staan oop. `n Flou gloeilamp hang aan `n draad uit die plafon uit. Eenkant staan `n koolstoof. `n Swartgebrande ketel staan en prut op `n plaat. In die middel van die vertrek staan `n eenvoudige houttafel met twee stoele. Die tafel is besaai met boeke en tydskrifte. Ek lig een swaar boek op. “The Human Anatomy” ek bekyk die titels van ander boeke wat opmekaar gestapel is. Mediese boeke, elektronika, vreemde verskynsels. Mutante. Vreemde Vlieënde Voorwerpe…

Waarmee was die ou man besig? Wonder ek. `n Houtboekrak teen een muur trek my aandag. Ek stap nader. Dieslde tipe boeke, van bo tot onder ingedruk. Die lig is flou in die kombuis. Ek haal my selfoon uit en met die ingeboude flitsie lig ek teen die een kant van die boekrak. Dis vuil en vol vingermerke. Ek kyk na die anderkant-dis skoon. Ek druk en stoot aan die swaar kas. Dit beweeg nie. `n Blink voorwerp op een van die rakke trek my aandag. Ek voel daaraan-dis `n handvastel. `n Draai en die kas swaai oop. Donkerte slaan my meteens in die gesig. Ligte, hier moet tog seker ligte wees. Ek voel aan die binnekant van die ingang en my vingers vind `n ligskakelaar.

Helder neon ligte verlig `n vertrek. Ek kyk rond. `n Staaltafel staan in die middel van die vertrek. Skerp ligte hang uit die dak uit. Orals is elektroniese en mediese apparate. Staalhokke met dooie diergeraamtes staan aan een kant van die vertrek. `n Groot kistipe vrieskas staan in die hoek van die vertrek. Versigtig lig ek die deksel op. Rakke en rakke vol mens- of dierlike organe is verpak in plastiekhouers. Vasgevriesde harte, lewers en niere is opmekaar gestapel. Ek uiter `n gil en klap die deksel toe.

Ek is verbysterd. `n Notaboek met handgetekende prente en inskrywings vang my oog. Ek blaai daardeur. Tekeninge van `n wolfagtige figuur pryk orals. Ek blaai verder. Op die volgende bladsy is `n tekening van die wese in die hok. Dierlik, kan dalk `n wolf of hond wees. Half dier, half bionies. Drade, pype, elektronika verbind met vlees en bloed en spiere.

Ek gaan sit op `n stoel wat eenkant staan. Dis duidelik. Die ou man het `n bioniese mensdier of gedrog gekweek of geskep. `n Ongelooflike mal projek wat totaal skeef geloop het. Hy kon die gerdog nie beheer nie en moes dit eenkant opgesluit hou.

Ek strompel buitentoe en gaan sit in my kar en beleef weer die nagmerrie. Wat nou? Beangs sluit ek my kar se deure. Ek skakel die Polisie se noodnommer en leun agtertoe en maak my oë toe. Dit gaan `n lang nag van verduidelikings en verklarings wees.

Die spanning van die dag en nare ondervinding maal deur my kop. Moeg en uitgeput sluit ek my oë. Ek het seker net ingesluimer. `n Onderaardse skree weergalm deur die nagstilte. My hare rys en ek gaan onbeheersd aan die bewe. Wat! Is daar nog sulke goed hier op die plaas?

Meteens sit ek regop. Die vêrweg geloei van sirenes word harder, blou polisiekar ligte weerkaats in my truspieël. “Dankie vader! ” skree ek en klim uit.