Kwantumtonnels

Jac Nöthling

kwantumtonnels – 2017 © Jac Nöthling

Volwasse

[spacer height=”20px”]

Quant

Beheer, vanwaar kom hierdie ruimteskip wat hierheen op pad is?

Beheer

Hulle is van ‘n planeet wat hulle Aarde noem. Dis in ‘n sonnestelsel in die groep wat hulle die Melkweg noem.

Quant

 Maar dis miljoene ligjare hiervandaan.

Beheer

 Hulle het uiteindelik die kwantumtonnels ontdek en kan nou baie vinnig oor afstande van ligjare beweeg. Hulle eerste pogings om dit te gebruik het rampspoedig verloop, want sommige van hul skepe sit nou in die tweede heelal vasgevang en hulle het geen idee hoe om daaruit te kom nie. Ander weer het hopeloos verdwaal. Hulle het egter geleer en hul navigasie opgeskerp.

Quant

Waarom het dit hulle so lank geneem?

Beheer

Kwantum tonnels was op hulle planeet al baie lank bekend. Hulle noem dit ook “wurmgate”. ‘n Groot gees soos Einstein het dit indirek voorspel, maar sy mense het dit nie verstaan nie.

Quant

Nie verstaan nie?

Beheer

 Einstein was ‘n wetenskaplike en baie min het sy teorie wat wiskundig geformuleer is,  verstaan. Dit het hulle lank geneem om sy veldvergelykings volledig op te los.  Een van die oplossings het kwantumtonnels voorspel, maar dis een van die oplossings wat hulle heel laaste gevind het.

Quant

 Wat kom soek hulle nou hier?

Beheer

 Hulle soek ‘n nuwe woonplek en hulle het na ‘n lang soektog ‘n planeet ontdek wat baie met hulle s’n ooreenstem. Ons planeet.

Quant

Waarom soek hulle ‘n nuwe woonplek?

Beheer

Hulle het hulle eie planeet verwoes. Eers het hulle die ekologiese balans versteur. Deur besoedeling is al die ander vorms van lewe vernietig. Om dinge te vererger het die planeet oorbevolk geraak. Hulle kan nie meer voedsel aan al die biljoene mense verskaf nie. In hulle oseane is daar geen lewe meer nie. Hulle het omtrent alle vorms van plantegroei vernietig. Na ‘n reeks kernoorloë het die grootste deel van die planeet as gevolg van radioaktiewe kontaminasie onbewoonbaar geword. Hulle is baie haastig om ‘n nuwe woonplek te vind, want elke dag sterf miljoene van hulle as gevolg van siektes en hongersnood. As gevolg van lugbesoedeling is die planeet se osoonlaag vernietig en kan die atmosfeer hulle nie meer teen ultraviolet beskerm nie. Hulle het al ‘n kolonie op hul buurplaneet, wat hulle Mars noem, gestig. Dis egter baie beperk, want die klimaat daar is nie geskik vir hul spesie se lewensvorm nie.

Quant

Waarom het al hierdie dinge gebeur?

Beheer

Gierigheid en onverdraagsaamheid. As gevolg van gierigheid het hulle miljoene bome uitgekap. Die verbranding van fossiel brandstowwe het hul atmosfeer so erg besoedel dat die klimaat drasties verander het en groot dele van die planeet woestyne geword het. Hulle het die oseane geplunder, met die gevolg dat alle vorms van lewe in die see uitgesterf het – wat ‘n baie belangrike voedselbron was. As gevolg van die onverdraagsaamheid kon die verskillende nasies en gelowe eenvoudig net nie in vrede saamleef nie, wat uiteindelik tot die laaste verwoestende oorlog gelei het.

Quant

Wat kom soek hierdie ruimteskip hier?

Beheer

Dis’ n verkennings ekspedisie om foto’s te neem.  En ook om natuurlike hulpbronne te identifiseer en die groottes daarvan te bepaal.

Quant

Nou wil hulle seker in groot getalle hierheen trek.

Beheer

Net diegene wat dit kan bekostig.

Quant

Bekostig?

Beheer

Ja, dis ‘n baie materialistiese spesie. Diegene wat wil trek moet betaal en sommige van hulle het die situasie uitgebuit en baie ryk geword.

Quant

Wat bedoel jy met betaal?

Beheer

Hulle noem dit geld. Onder die huidige omstandighede ‘n nuttelose vorm van vergoeding, want binnekort gaan al hul opgegaarde rykdomme waardeloos wees. Maar wag, hulle het opgedaag. Hulle is nou in ‘n wentelbaan en is heelwaarskynlik besig om foto’s van ons te neem en om data van ons klimaat op te neem.

Quant

Wat kan ons doen om hulle te stop?

Beheer

Vernietig hulle, want ons kan nie bekostig dat hulle al daardie data terugneem huis toe nie.

Quant

Beheer, ek hou niks hiervan nie.

Beheer

Ons het nie ‘n keuse nie, Quant. Hulle gaan ons ook soos hul eie planeet vernietig. Aanvanklik sal min van hulle hierheen kom, maar dis ‘n baie vrugbare spesie. Hulle sal teen ‘n hoë tempo vermenigvuldig wat uiteindelik tot oorbevolking tot sal lei. Hulle gaan ons fossielbrandstowwe op ’n roekelose manier verbrand en dieselfde situasie hier skep as wat op hulle eie planeet heers.

Quant

Gaan jy ‘n skokgolf gebruik?

Beheer

Nee, dit neem te veel energie. ‘n Lae-energiestraal sal voldoende wees. Hulle is nou binne trefafstand. Maak gereed. Drie, twee, een, vuur!

Quant

Genugtig Beheer! Die straal het hulle eenvoudig net laat verdamp! Ons het lewens vernietig! Ons is veronderstel lewe te bevorder, nie om dit te vernietig nie.

Beheer

Quant, jy is ontsteld. Ek verstaan jou nie, want ‘n Klas 1 planeet van jou kaliber is nie veronderstel om emosioneel te raak nie.

Quant

Beheer, jy sal nie verstaan nie, want jy is nie ‘n lewende wese nie soos ons nie, maar ‘n elektroniese masjien met ‘n biologiese brein wat ‘n super ras baie lank gelede hierheen gebring het.

Beheer

Hoofsaaklik gierigheid en hebsug. As gevolg van onverdraagsaamheid het hulle baie lank oorloë gevoer. Die laaste een, wat hulle die Derde Wêreldoorlog noem het uiteindelik die planeet vernietig. Die groot tragedie is dat hulle nie hul eie geskiedenis onthou of geken het nie. Dan sou hulle geweet het wat die gevolge van so ‘n groot oorlog sou wees.