Of is dit?

Ansie Nel

of is dit? – 2017 © ansie nel

Jeug Fantasie

[spacer height=”20px”]

 

HOOFSTUK EEN

“Dit was fantasies!.”

Marinta los die tak waaraan sy geswaai het en moet blitsig ‘n ander tak gryp. Dit klink genuine of iemand in die boom hier by haar praat. Sy trek haarself op en gaan sit in die mik van een van die takke. Daar is niemand onder die boom nie.

‘O koekemekranka,’ dink sy, ‘ek kan sweer ek het iemand hoor praat.’

“Wow, dit lyk soos ‘n vet sywurm,” sê Marinta hardop toe sy ‘n vet wurm op die tak voor haar sien.

“Jy is reg,” antwoord die wurm, “ek is ‘n sywurm.”

Die keer skrik Marinta so groot sy foeter reg agteroor uit die peerboom waar sy besig was om haar swaaie vir gimnastiek te oefen.

‘Vandag val ek my stuitjie af,’dink sy. Sover as wat sy val krap en haak die takke haar.  Haar lang bruin pony stert haak aan die takke vas so ver sy val.

Sy land op een van die onderste dwarstakke. Sy gryp met albei hande en klou vir lewe en dood. Versigtig klim sy tot by die dik stam vir veiligheid en begin toe afklim grond toe. By die laaste dwarstak voordat sy die grond bereik gebeur dit:

Toe sy teen die stam trap gly haar voete binne-in die boomstam in. Sy skree soos ‘n maer vark. Die boomstam is heeltemal hol van binne. Sy gryp na vashouplek, maar word letterlik deur die boom ingesluk. Sy voel asof sy in ‘n donker tonnel ingesuig word.

Die volgende oomblik land sy hard op haar boude in ‘n stofpad.  Weerskante van die pad is massiewe hoë berge. Die pad loop in die middel van ‘n digte woud. Alles lyk mistig; tot die bome lyk grys en dreigend.

“O koek, wat nou?” Sy kyk rond.

“Dit is die grys bos,” sê ‘n stem op haar skouer.

 Sy draai haar kop en sien die sywurm op haar skouer.

“Ag nee, demmit, al weer jy. Dis alles jou skuld!” sê Marinta boos.

“My naam is Bernita,” sê die wurm, “en jy is mos Marinta” praat die wurm kalm verder.

Marinta se bruin oë trek op klein skrefies.”Ek hou niks van sywurms nie. Flippen níks! Wat soek ek hier? Ek is veronderstel om te oefen vir gimnastiek.”

“In die peerboom, ja. Soos ‘n  bobbejaan,” antwoord Bernita.

“Ek dog dit was ‘fantasies’,” sê Marinta en maak hakies met haar hande in die lug.

“Dit was, anders sou ek nie so gesê het nie,” sê Bernita, “ veral om so tussen die takke ‘n perfekte landing te doen.”

“Nou watse bobbejaanstories is dit met jou?” Marinta is lekker vies.

“Hoekom oefen jy nie in die gimnasium nie? Daar is al die regte apparate en jy weet tog julle mag smiddae sekere tye daar oefen,” wil Bernita weet.

 “Dit het niks met jou uit te waai nie. Wat ek wil weet is, wat ek hier soek?”

 “Jy is hier vir ’n rede,” sê Bernita.

 “Vertel my ook, dan is ons twee wat weet,” sê Marinta.

 “Ek is jou beskermer en jy moet asseblief mooi luister na my raad,” sê Bernita. Sy praat so rustig dat Marinta al kwater word.

 “Die sywurm gaan my beskerm. Ha-ha. Die grap van die jaar. Nie alleen staan en praat ek met ‘n wurm nie, maar die wurm is my beskermer.

“Sy wil sommer dadelik omdraai huis toe en kyk rond vir die peerboom. Rondom hulle is honderde bome, maar nie een is die peerboom waaruit sy geval het nie.

“Waar is die peerboom?” vra sy vir Bernita.

“Marinta, jy moet eers kalmeer. Jy is so bleek, ek sien net sproete en bruin oë as ek na jou kyk,” probeer Bernita haar kalmeer.

“Waar is die peerboom?, Gaan jy my nie antwoord nie?” vra Marinta weer.

“By julle huis, natuurlik,” antwoord Bernita vriendelik.”Gaan jy nie eens luister wat jy hier kom doen het nie?”

Marinta gluur haar eers net aan, dan gaan sit sy op ‘n groot klip langs die pad. Sy vat haar deurmekaar swart poniestert en bind dit in ‘n stywe bolla vas.

“Vertel, beskermer van my, vertel,” sê sy sarkasties.

“Daar is ‘n groot probleem met die  water op julle plaas. Dit raak nie net vir jou en jou familie nie, maar ook  al die diere en plante. Hier in die grys bos is ‘n glashamer versteek wat alles kan verander. As jy.” begin Bernita vertel.

“Halloo, ons leef in die een-en-twintigste eeu. Jy wil tog nie regtig hê ek moet daai storie glo nie! En ‘n glashamer. Asseblief!!  Hoe ver gaan ek kom voor die glasding fyn en flenters breek? val Marinta haar in die rede.

“Luister net klaar, asseblief. Jou familie en die diere het jou nodig.  Jy het self gesien ons kan nie omdraai nie. Ons moet die hele roete volg om by die huis te kom. Wat kan jy verloor deur die glashamer saam te neem huis toe? Die glashamer is eintlik van kristal gemaak, dit word net so genoem omdat dit soos glas lyk.” pleit Bernita.

“En hoe doen ek dit nogal?” vra Marinta ongeduldig.

“Vertrou my net,” sê Bernita.

“Vertrou my net,” koggel Marinta agter Bernita aan. “Aikona, dis nie so maklik nie.”

“Jy’s bang ek laat jou in die steek, nè? Soos jou pa,” sê Bernita.

Onmiddelik is Marinta smoorkwaad. “Jy los my pa uit oukei! Wat weet jy van my familie af?” sê sy boos.

“Ek weet jou ma het alleen hiernatoe getrek en dat jou hart stukkend is,” sê Bernita.

“Jy weet niks,flippen niks” sê Marinta,”spin jou storie.”

“Daar is ‘n roete waardeur ons moet gaan,” sê Bernita, “ons kan net vorentoe. Voor ons nie deur die hele roete is nie, kan ons nie huis toe gaan nie,”

Sy sien Bernita in die pad af kyk en draai haar kop. Toe rek haar oë. Dit  kan  wraggies nie moontlik wees nie.

‘n Bidsprinkaan so groot soos ‘n Bokser hond kom in die pad aangestap. As dit nie so gross was nie kon dit cool gewees het. Sy lyf gee allerhande kleure af soos die dowwe lig op hom val. Hy draai sy kop en rillings hardloop teen Marinta se rugstring af. Sy driehoek kop het twee kante en op elke kant is daar ‘n gesig. Die een lyk soos ‘n gewone bidsprinkaan, maar dit is toe hy sy kop draai wat Marinta omtrent wil uit haar vel spring; die ander gesig lyk soos syself. Die bruin oë, haar wipneus, sproete, alles, net die lang donkerbruin hare kort om haar ewebeeld af te rond.

Toe hy naby hy haar kom, steek hy een van sy stekelrige voorpote uit en sê in ‘n stroperige stem.

“Hi, mooi meisie. My naam is Gewete. Ek hoop ons gaan groot buddies word.” Sy pers oë glinster en rol heen en weer terwyl sy voelers in die lug rondtas.

Marinta steek haar hand uit, maar gril tot in haar tone.

“Pasop vir hom,” sê Bernita.

“Ek hoor jou,” sê hy met ‘n glimlag vir Bernita.

Marinta weet nie of hy glimlag of grynslag nie.

“Ek verstaan jy’s nie te mal oor jou nuwe skool nie,” sê hy vir Marinta.

Sy gaap hom aan. Hoe de hel weet hy? Sy praat nie eens met haar ma daaroor nie. Sy krop maar op en probeer deur elke dag kom.

“Ek is nie verkeerd nie, is ek?” vra hy weer met die stroperige stem.

“Aag, wat weet jy,”antwoord sy.

“En daar is iemand wat jy vreeslik mis in die nuwe skool, nie waar nie?” vra hy

“Nina, van my ou skool,” sê Marinta verbaas. Sy kan nie verstaan hoe die bidsprinkaan alles weet nie.

“En daar is iemand by die nuwe skool van wie jy niks hou nie, of hoe?” sê hy.

“Shari.” Sy sug voor sy kan kan keer.

Skielik vlieg ‘n neon pienk duif oor hulle koppe. Die duif is so groot soos ‘n fiets. Op sy rug sit Nina, haar vriendin van haar ou skool, stokstyf van die skrik. Haar groen oë staan soos twee groen kolle uit in die heuningbruin gesig. Hy land so naby aan Marinta dat sy aan die neon pienk vere kan raak. Sy tree verskrik terug.

“Pasop, Marinta, agter jou,” sê Bernita.

Sy spring om en verloor amper haar balans. Agter haar is ‘n reuse gat en binne in die gat is ‘n ding wat sy net as ‘n monster kan beskryf. Sy tree vinnig weer vorentoe en amper binne-in Nina in wat bewerig van die voël se rug afklim.

“Muskiet!” roep Nina bly uit en gee haar ‘n drukkie.

Marinta is so bly om vir Nina te sien, sy vergeet vir ‘n paar minute van die penarie waarin hulle verkeer.

“Is jy oukei?” vra sy vir Nina.

“Ek is fine, wat van jou?”

“Noudat ek jou weer sien, sommer beter,”antwoord Marinta.

“Ek hoor julle het ‘n fantabulous gimnastiek saal in die nuwe skool,” sê Nina.

“Darem een rede om nie te wil wegloop nie,” antwoord Marinta.

“Ons mis jou, tjomma” sê Nina

“Ja, toe nou, genoeg geklets,” sê die bidsprinkaan.

“Wat gaan aan?” vra Marinta kwaai. Sy gluur die bidsprinkaan aan. Dan draai sy en Nina om na die gat agter hulle.

“Wag so bietjie. Wag, wag, wag,” sê die Gewete toe hy sien hulle draai na die gat toe. “Ek is seker daar is nog iemand wat hier behoort te wees.” Hy hou ‘n klein houtdeurtjie in die lug op.

“Kom klop aan die deur,” sê hy vir Marinta.

Sy kyk hom net kwaai aan, vryf met haar duim oor die punte van haar ander vingers.

“Toe, toe, ons het nie heeldag tyd nie,” sê hy ongeduldig,

Agter haar kom borrelgeluide uit die monster se gat. Sy loop op jelliebene nader en klop huiwerig aan die deur.

Die deur vlieg uit Gewete se hand en beland in die pad. Oomblikke later tref Marinta se aartsvyand,die blonde Shari, die pad met ‘n harde hik.

“Watse stunt probeer jy nou weer… Ek maak jou vrek!” skree Shari. Haar blou oë blits.

Sy staan op en skud die grond van haar jeans af. Sy bekyk haar vingers en vat vies aan haar hand waar een nael in die slag gebly het. “Wat de hel? Wat maak ek hier?” vra sy en kyk geskok rond.

Sy gluur vir Marinta aan, ”Waar is my broer? Is dit nie hy wat aan die deur geklop het nie?” vra sy.”En watse weird Hotnotsgod sit hier? Is dit jou idee van ‘n grap?” vra sy.

Sy sien vir Nina en kyk vraend na Marinta.

“En wat het ons hier?” vra sy. “Is dit jou beste tjomma van jou vorige skool? Die enetjie wat so goed is dat sy beter is as ons almal hier saam?”

Marinta voel hoe die bloed na haar kop styg. Sy gaan hierdie blonde tewerasie nou vermoor! Nina vat haar stewig aan die arm.

“Los haar,” sê sy. “miskien issit soos die Groot Boek sê, sy wetie van beter nie.”

Marinta gluur die bidsprinkaan aan. Sy wens sy kan hom dood kyk. Hy’t als begin. Wat probeer hy doen?

Gewete lag smalend. Sy driehoekige kop knik potsierlik op en af. “ Nou kan die pret begin,” sê hy.

Marinta hoor weer ‘n roggelgeluid agter haar. Sy swaai om. Nou kan sy die ding behoorlik bekyk. Die reusekop is harig en swart soos die van ‘n spinnekop. Rondom sy kop is lang harige arms soos die van ‘n seekat. ‘n Seekat met ‘n helse fabrieksfout. Skielik begin die arms na die bokant van die gat toe beweeg. Marinta gryp vir Nina aan die arm en retireer so ver moontlik.

“Ontmoet my vriend daar in die gat,” sê Gewete, “sy naam is Ou Langvingers. Dit beteken steel, en steel is tog so lekker, nè?.”

Elke arm stoot ‘n pragtige seepbel bokant die gat uit. Binne-in die seepbelle staan woorde in goue letters geskryf.  Marinta leun nader om te sien wat daarin staan.

“Moenie nader gaan nie,”waarsku Bernita, “hy gaan jou in die gat intrek.”

‘n Rilling hardloop langs Marinta se ruggraat af. Sy vries. Gewete loop op sy wieg-stap nader en haak die seepbelle een vir een uit die gat uit. Hy lees hardop:

“MP3’ aflaai, CD’s sny, DVD’s van Internet aflaai, rekenaarprogramme kopieer, huiswerk afskryf, biblioteekboeke fotostateer…”

Hy hou die seepbelle tussen sy voorpote en lees een vir een voor hy dit voor Marinta se voete neersit.

“Hoekom gee jy dit vir my?” vra sy vies.

Shari lag hard en smalend. “Die ou dingetjie wat haar altyd so heilig hou, is toe nie so onskuldig nie,” sê sy.

Hy vat die seepbel waarop  “huiswerk afskryf”  staan en hou dit hoog in die lug.

“Het jy huiswerk afgeskryf? Ja of nee?” vra hy vir Marinta.

“Ek het, en wat daarvan,” sy kyk hom vierkantig in die oë

“Nee, ek vra maar net, ek sê nie jy mag dit nie doen nie, meisie,” sê hy stroperig.

“Ek was ver agter omdat ek van ‘n ander skool afgekom het.” sê Marinta verdedigend, “en almal doen dit, hoe kan dit steel wees?” 

Hy gooi die seepbel in haar rigting. Die seepbel  land voor haar voete. Toe sy buk om dit op te tel, rol dit tot net buite haar bereik. Sy strek om dit by te kom, maar dit rol weer verder. Sy loop nader en buk weer om dit op te tel. Die seepbel rol weer weg en sy moet weer nader beweeg. Toe sy weer sien is sy op die randjie van die monster se gat. Sy verloor amper  balans en moet vinnig agteruitspring om nie in die gat te val nie. Die seepbal rol ook agteruit en toe sy weer sien is dit in haar hande. Sy kyk verwonderd na die mooi ding in haar hande. Die wande voel jellieagtig en buigbaar. Sy voel sy moet dit terugsit in die monster se gat.

Toe sy buk om dit neer te sit gryp een van die monster se reuse arms haar aan die voet. Sy staan versteen en voel hoe sy stadig in die gat ingetrek word. Nina gryp haar aan die hand en probeer haar terugtrek maar sy kry haar nie geroer nie. Selfs Shari is doodstil. Nina vat met altwee haar hande en probeer weer, maar Marinta voel hoe hulle altwee stadig maar seker in die gat ingetrek word.

“Sit jou vingers op jou neus, sodat jy ‘n sproet raakdruk,”sê Bernita dringend.”Gooi die monster met die sproet.”

Marinta is so verskik, sy reageer nie. Sy vryf net senuagtig met haar duim oor haar ander vingerpunte.

“Gou, luister na my!” sê Bernita hard by haar oor.

Sy sit haar hele regterhand op haar neus en hoop sy vat raak. Toe skiet sy in die monster se rigting. Verstom sien sy hoe die sproete voor haar oë in heldergeel en blou balletjies verander. Die balletjie is so groot so albasters met skerp punt na alle kante. Toe die balletjies die monster tref,  ontplof dit soos  mini-bommetjies. Die monster se tentakels vries en verslap dadelik die greep op haar voet. Sy tree vinnig agteruit.

“Dankie, Bernita,” fluister sy, “hoe het jy geweet ek kan dit doen?”

“Leer weer vertrou,” sê Bernita sag.

“En die weirdo het wragtig ‘n wurm vir ‘n troeteldier,” smaal Shari. “’n Coloured bestie en wurm vir ‘n troeteldier. Weird verby.”

“Moet haar nie eens antwoord,” sê Bernita, “ek weet jy wil vir Nina verdedig, maar dis nie die moeite werd nie. Los dit net.”

Marinta ignoreer haar. Sy hoor ‘n borrelgeluid uit die gat uitkom en wonder hoe dit daar onder lyk. Gewete lees hardop verder, maar sy luister nie meer nie.

“Ag bly stil jou vieslike ding,”  sê sy vir hom, “Ek weet nie wat jy probeer doen nie, maar dit gaan nie werk nie.”

Toe sy na hom kyk, sien sy haar eie gesig. “Ek soek maar net die waarheid,” sê hy stroperig. “Ek het nooit gesê jy doen iets verkeerd nie, jy het dit self gesê.”

Marinta vat Nina aan die arm en begin in die stofpad aanstap. Sy het geen idee waar hulle heengaan, maar hulle moet hier wegkom. Shari en die bidsprinkaan stap agterna. Skielik verander die stofpad in ‘n voetpaadjie wat met duwweltjies oortrek is.

“Dankie tog my se moedertjie vir tekkies,” sê Nina.

Marinta hoor ‘n snorkgeluid van Shari se kant af en glimlag net. Sy het gesien Shari het high polvy sandale aan. Sy wil mos altyd opdress. Dit is haar probleem, laat sy maar suffer.

Iets vlieg oor hulle koppe en Marinta wonder of dit die duif is, maar ‘n bont skoenlapper so groot soos Marinta self vlieg oor hulle koppe en vlieg voor hulle in die paadjie af. Skielik gil Nina hard en spring eenkant toe. Marinta hoef nie te vra waarvoor sy geskrik het nie, want die volgende oomblik verskyn ‘n rollende ding langs haar wat soos ‘n pienk slang lyk. Sy spring ook benoud eenkant toe.  Hulle het skaars uit die paadjie getree of ‘n piepklein pers paddatjie kom met reuse spronge in die paadjie afgespring; agter die skoenlapper aan. Hy spring so hoog, dis net ‘n kwessie van tyd voor hy die skoenlapper inhaal.

Die vraag is, wat so klein paddatjie met so reuse skoenlapper gaan maak. Marinta se hart tamboer in haar keel. Te veel goed gebeur gelyk vir een mens om alles in te neem. Wat het van die rollende slang geword? Sy kyk agtertoe en word omtrent flou van skrik. Die krullende ding was nooit ‘n slang, maar ‘n reuse verkleurmannetjie se tong.

 Shari wat nie vinnig genoeg uit die pad kon spring met haar hoëhakskoene word soos ‘n reuse insek deur die rollende tong opgeslurp. Die verkleurmannetjie is eintlik ook agter die reuse skoenlapper aan, maar toe verskyn hulle in sy pad. Shari gil dat dit voel of Marinta se oordromme gaan bars.

“Jou sproete!” skree Bernita.

Sy hoef niks verder te sê. Marinta druk op haar neus met albei haar hande en storm op die verkleurmannetjie af. Toe gooi sy haar “bommetjies” op die verkleurmannetjie se neus. Hy kriewel en nies een reuse nies. Shari tref die paadjie met ‘n harde hik. Sy hou aan gil en lyk of sy wil aapstuipe kry.

“Kyk hoe lyk ek! Ek is taai! Ek was in daai gedrog se bek!” skree-huil sy.

“En gelukkig het Marinta jou daar uitgekry,” sê Nina, “hou nou maar op skreeu en wees bly hy het jou nie ingesluk nie.”

Skielik begin die pad steil na bo loop en voor hulle neem ‘n krans vorm aan. Geleidelik word die hele pad versper deur ‘n klipkrans waarteen allerhande plante en boomwortels groei. Daar is geen klimplek teen die klip uit nie. Marinta sien daar is net een manier om tot bo te kom en dit is om te spring en een van die boomwortels te gryp vir ondersteuning.

Gewete sprei sy vlerke oop en vlieg moeiteloos tot bo-op die krans.

“Sien julle wat ek sien?” vra sy vir die ander twee meisies.

“Ja, die ongeskikte hotnotsgod vlieg boontoe en los ons om self op te snork,” sê Shari.

“Hoe gaan ons da bo kom?” vra Nina.

 

HOOFSTUK TWEE

Marinta retireer ‘n paar tree sodat sy ‘n goeie aanloop het.

Sy fokus soos sy geleer het om in gimnastiek te doen. Die eerste twee probeerslae is mis. Die derde keer kry sy die wortel van ‘n wildevy raak gegryp. Sy gryp dit vas en trek haarself op. Sy maak haar gordel om ‘n boomwortel vas en begin vir Nina teen die krans uithelp.

“Dalk moet ons haar da onder los, wat dink jy?” vra sy vir Nina toe Shari alleen onder bly staan.

Shari se blou oë blits, maar sy sê nie ‘n woord nie. Marinta voel skielik jammer vir

Shari wat altyd so opgetof is, maar nou vuil en verwaarloos lyk. Sy steek dadelik haar hand uit op vir Shari op te help.

Omtrent tien tree verder  word die pad versper deur ‘n reuse klip. Hulle moet om die klip stap om te kan voortgaan.

Marinta loop haastig om die klip en spring dan verskrik terug. Langs die klip is ‘n grot in ‘n oorhangende rots en ‘n vreeslike stank kom daar uit. Daar is geen plek om verby te kom nie. Voor die bek van die grot sit ‘n reuse Pinocchio. Hy lyk komieklik behalwe vir die wrede rooi ogies wat hulle kwaai aangluur.

Toe die meisies so vinnig agteruitspring kom Gewete vorentoe.

“Ontmoet my vriend, Lie-lieg. Is hy nie te aantreklik nie?” sê Gewete. Hy druk hulle vorentoe sodat hulle amper teenaan die grot staan.

“Hy lyk daremie soos ‘n dracula of ‘n ding nie, of wat sceme jy, Muskiet” fluister Nina.

Pinocchio  alias Lie-lieg hou sy reuse houtvingers in die lug op.  Op elke vinger staan iets geskryf.

“Wit leuentjies, verdraaide waarheid, halwe waarhede, oordrywings….” lees Gewete. Hy kyk na Marinta.

Sy kyk hom vraend aan.

“Weet jy nie?” vra hy en loer skuins na haar. Hy wys na die een waar die ‘halwe waarheid” op staan.

“Onthou jy die naaldwerk wat jy moes ingee?” vra Gewete.

Sy voel hoe haar gesig warm word.

“’n Mens sou sweer ek het gemoor of iets. My ma het my net met die soom gehelp,” sê Marinta.

“Het jy vir die onderwyseres gesê dis jou werk?” vra Gewete.

“Ja, ek het, want die res van die werk het ek self gedoen,” antwoord Marinta verdedigend.

“Halwe waarheid,” sê Gewete,“maar ek neem jou glad nie kwalik nie.”

“Halwe waarheid,” herhaal Shari koggelend. “lekker gelieg,” smaal sy in Marinta se gesig. Haar blou oë blink van lekkerkry.

“Daar is niks fout met ‘n wit leuentjie nie,” sê die Pinocchio ou skielik vriendelik uit die grot uit.

Die drie meisies kyk oopmond na die houtpop wat so vriendelik praat.

“Wat is ‘n noodleuentjie tussen vriende, vra ek julle?” vra Lie-lieg weer oorvriendelik.

“Moenie na hom luister nie,” sê Bernita, “as hy so slim was, sou hy nie beslis nie ‘n  stinkende grot gesit het nie.

“Wat stink so?” vra Marinta.

“Goeie vraag,” antwoord Gewete.

“My geheim,” antwoord Lie-lieg.

“Dit ruik soos dooie goed,” sê Shari.

“Ugh, gross,” sê Nina.

“Wie wil kom kyk?” nooi Lie-lieg joviaal.

“Moenie na hom luister nie,” waarsku Bernita. “ As jy daar ingaan, kom jy nooit weer uit nie.”

Lie-lieg hou meteens sy hand na Marinta toe uit sodat sy moet sien wat daarop geskryf staan. Sy staan nader om te kan lees en voel hoe sy in die grot ingesuig word. Sy gil hard en hoor ver weg Bernita se stem:

“Die sproete, Marinta, gooi hom met jou sproete!”

Sy druk haar linkerhand op haar neus en gooi in die rigting van die pop. Die balletjies tref hom op sy lang neus en voorkop. Sy kyk na die ontploffingtjies in sy gesig. Byna dadelik voel sy die suigbeweging stop. Sy storm ‘n paar tree agteruit en gluur die houtpop aan. Hy grynslag vir haar met sy rooi ogies. Sy wil hier wegkom, maar daar is nie plek om verby te kom nie.

“Hoe kom ons hier weg?” fluister sy vir Bernita.

“Het jy enige les geleer?” vra Bernita.

“Dat ek nie vriendelike houtpoppe moet vertrou nie?” vra Marinta vies.

“Dink jy dit is al wat jy moes leer?” Bernita skud haar kop.

“Ek moes my eie naaldwerk doen?” vra Marinta.

“Jy moet self uitwerk wat die lesse is,” sê Bernita, ek mag geen antwoorde gee nie.

“Ek weet steel en lieg is verkeerd, maar daar is tog uitsonderings soos noodgevalle,” sê Marinta verdedigend.

Bernita antwoord nie, wys net na Gewete wat  ‘n ander voetpaadjie ontdek het. Hy beduie vir hulle om hom te volg.

Die voetpaadjie loop in ‘n sirkel om die grot en kom voor in ‘n groter voetpad uit. Die pad is oortrek met veldblommetjies. Marinta voel sleg om die blomme raak te trap. Dit raak al donkerder en die pad vorentoe lyk of dit nouer word. Nadat hulle omtrent tien minute gestap het, verdwyn die blommetjie pad en die pad verander in ‘n doolhof.

“Lekker!” roep Shari uit, “Ek’s mal oor doolhowe, dis die coolste ooit.”

“Wag,” sê Gewete, “Marinta moet voorloop en sy is die een wat moet kies watter kant toe ons moet gaan.” Hy vryf sy stekelrige voorpootjies teen mekaar.

Marinta voel ‘n rilling teen haar rug afhardloop. Wat is besig om te gebeur? Hoekom sy? En wanneer gaan Bernita haar vertel waar die hamer is wat sy eintlik hier kom moes kom haal?

 

HOOFSTUK DRIE

Gewete druk vir Marinta vorentoe en die ander val agter haar in. Die eerste skok wat Marinta kry, is die vrae wat groot op die krom boomstam staan waar sy moet kies of hulle links of regs moet draai.

Sal jy jouself blameer as jou ouers skei?

Sal jy lieg om jou beste vriend te beskerm?

Onderaan staan:

Kies die een wat jy die waarskynlikste sal doen.

“Is dit omdat my ouers my haat dat ek hierdie goed moet doen?” vra Marinta vir Bernita

“Hoekom dink jy jou ouers haat jou?” vra Bernita.

“Omdat ek nog gimnastiek kan doen en my boetie in ‘n rolstoel sit,” antwoord Marinta ongelukkig.”Dis seker hoekom hulle wil skei ook”

“Dis nie waar nie, praat met hulle daaroor,” sê Bernita.

“Maar hoe kies ek?” vra Marinta.

“Ek mag jou nie help nie,” sê Bernita, “jy moet self die antwoorde uitpluis.”

“Toe, toe, die son trek water, ons kan nie die hele dag hier staan nie, “ por Gewete  kwaai van agter af.

Marinta wens sy kan hom ‘n harde klap gee. So hard dat hy sommer verdwyn. Sy huiwer ‘n oomblik, maar draai toe vinnig regs. Die gangetjie waarlangs hulle loop is nou en hulle moet koes vir doringtakke wat krap en steek. Na ‘n paar draaie en kronkels kom hulle by die volgende kruispad waar Marinta moet kies. Hier sê die pyle die volgende:

Sal jy hulpmiddels gebruik om mooi en maer te wees?

Sal jy op ander trap in jou poging om ‘n wenner te wees?

Onderaan staan:

Kies die een wat jy die waarskynlikste sal doen.

Weereens por Gewete haar van agter af aan toe dit lyk asof sy te lank dink. Die trane sit vlak.  

“Toe, ons wil graag sien wat jy nou gaan maak,” koggel Shari.

“Sy traai jou omkrap,”  sê Nina vir Marinta.

Sy kry dit flippen goed reg,” sê Marinta

Marinta draai links. As dit moet, kies sy dan maar die hulpmiddels, maar sy wil definitief nie op ander trap om ‘n sukses van enige iets te maak nie.

“Onthou altyd jy is nie verantwoordelik vir alles wat met ander gebeur nie,” sê Bernita.

“Dit voel of ek alleen aangaan met my lewe terwyl my boetie by die huis in sy rolstoel sit,” sê Marinta.

“Baie mense leef met gebreke saam en presteer selfs, hy het net tyd nodig om aan te pas,” sê Bernita. “Die ongeluk was nie jou skuld. Maak vrede daarmee.”

Die kronkels en draaie hou net aan en die kante van die doolhof word al hoër. Marinta voel paniekerig. Sy loop al hoe vinniger. Dis vreemd stil in die doolhof. Bokant hulle is net die dowwe lig en  al wat sy hoor is vreemde voëlgeluide. Sy ken dit nie en wonder hoe lyk die vreemde voëls. Sê nou hulle kom nie voor donker hier uit nie? Voor sy weet word sy met die volgende vrae gekonfronteer:

Sal jy jou beste vriendin se ou afvry?

Sal jy iemand anders beskinder om jou eie selfbeeld te verbeter?

Onderaan staan:

Kies die een wat jy die waarskynlikste sal doen.

Sy hoef nie eens twee keer te dink nie, sy glo nie sy en haar beste vriendin sal ooit smaak kry in dieselfde ou nie. Sy draai regs en loop nog vinniger.

“Moes geweet het sy sal daai een kies,” sê Shari katterig van agter af.

“Los haar uit,” sê Nina, “wees liewer bly dis nie jy wat al die keuses moet maak nie.”

Die paadjie waarlangs hulle loop word al nouer. Haar hart klop in haar keel. Nina stamp teen haar van agter af en sy wip soos sy skrik. Het hierdie doolhof dan geen einde nie?

Eindelik sien sy weer twee pyle teen ‘n dooie boomstam.

Sal jy selfmoord oorweeg as jy uitvind jy het Vigs?

Sal jy ‘n aborsie oorweeg as jy verkrag is?

Onderaan staan:

Kies die een wat jy die waarskynlikste sal doen.

Marinta steek vas. Hoe kies sy?  Haar lewe of ‘n ongebore baba se lewe? Sy bly staan. Gewete skree van agter af.

“Jy moet kies! Ons moet vorentoe gaan!”

Sy bly staan.

“Kies, demmit, ons wag!” skree Shari.

“Ek sal nie kies nie. Bernita, hoe kan ek?” fluister vra Marinta.

“Niemand kan jou dwing om iets teen jou sin te doen nie,” sê Bernita sag.

Hulle bly staan by die kruising in die pad en Marinta probeer haar doof hou vir Gewete se geskree en Shari se gekerm. Sy weier om hierdie verantwoordelikheid alleen te dra. Sy draai haar rug op die twee borde en gluur vir Gewete en Shari aan. Sy sal teruggaan en ‘n ander pad probeer. Haar asem steek in haar keel vas. Sy voel die bloed koud word in haar are.

Daar is nie meer ‘n pad agter toe nie. Die pad waarlangs hulle gekom het, is toegegroei deur digte doringtakke! Daar is geen omdraaikans nie.

Gewete se pers ogies draai heen en weer. Sy hele lyf wieg heen en weer. Dit lyk of hy lus is om haar te lyf te gaan.

“Wat probeer jy nou doen?” skree Shari skril.

“Ek wou omdraai,” sê Marinta hees.

Shari vlieg om. “Nou kom ons doen…” vir ‘n oomblik is sy stil, maar dan skree sy weer.” Kies net dêmmit, dan kan ons huis toe gaan!”

Nina kom staan by Marinta en gee haar hand ‘n drukkie.

“Ignore hulle,” sê sy. “Hulle kan lekke bekke rek, oorlat hulle nie hoef te kies nie.”

“Ag, shut up jy net,” sê Shari vir Nina.

Marinta sien hoe Gewete se ogies heen en weer flits van Shari na Nina. Dit lyk asof hy dit geniet as hulle so hap na mekaar.

Skielik kom ‘n helder rooi aap so groot soos ‘n rugby voorspeler uit een van die bome geswaai. Dit lyk asof hy reguit op Marinta afpyl. Sy voel haar bene word jellie. Toe hy amper by haar is, swaai hy met ‘n luide geblaf by haar verby. Hy gryp die twee borde wat die keuses aandui en die pyle van die boomstam af en verdwyn tussen die bosse in.

Marinta wag nie langer.  Nou is daar nie meer ‘n keuse om te maak nie. Sy draai regs en loop so vinnig as wat haar lam bene haar toelaat. Sy hoop dit was die laaste struikelblok.

Die paadjie wat hulle nou moet volg is ‘n tonneltjie waardeur hulle moet kruip. Die tonnel is gevorm deur bome se inmekaar gedraaide takke. Die takke is vol  helder pienk, blou, en geel bessies wat vreemd ruik. Die sap skuur teen hulle klere en gee hulle kleure af.  Marinta wonder hoe bont hulle gaan wees as hulle anderkant uitkom.

Marinta se hande voel rou van die takke waaroor sy moet kruip. Haar denim het geskeur by haar regterknie . ‘n Tak het haar gekrap en sy voel hoe die bloed in ‘n straaltjie teen haar been afloop. Sy probeer nog vinniger kruip. Sy voel ‘n knop in haar keel, maar sy sal nie dat enige iemand agterkom hoe moedeloos sy is nie. Sy is al so naar van die vreemde reuk van die bessies. Sy lig haar kop op om een lekker teug asem te skep en voel hoe haar hare in die takke vashaak. Sy sukkel ‘n paar minute lank om die klein takkies en dorinkies uit haar hare te kry. Sy kry nie weer haar hare in ‘n bolla gemaak nie en moet tevrede wees met ‘n slordige poniestert.

Eindelik! Daar sien sy die einde van die tonnel.

Die oomblik toe Marinta uit die tonnel is, sien sy die groot peerboom staan. Seker so vyf tree voor hulle in  die middel van die pad. Nou kan sy huis toe gaan. Sy wag tot Shari ook uit die tonnel is voor sy vorentoe begin beweeg.

“Moenie vorentoe gaan nie, dis dryfsand,” waarsku Bernita.

Marinta kyk na die grond om die boom. Omtrent twee tree reg rondom die boom groei niks, dit lyk so netjies asof iemand daar skoongemaak het. Sy verstaan dit nie, sy het gedink dit is hulle peerboom tuis. Die een waaruit sy geval het.

Aan die een kant van die pad is ‘n loodregte krans. Aan die ander kant is die bosse so dig, die kans dat hulle daar deur sal kom amper nul. Marinta dink aan die pad waarlangs hulle gekom het. Hulle kan beslis nie omdraai nie.

Marinta gaan staan doodstil in die pad. Die ander volg haar voorbeeld. ‘n Mens kan ‘n takkie hoor kraak.

Skielik verskyn die verkleurmannetjie weer uit die kant van die bosse uit. Hy is so bont soos die veldblommetjies wat die pad bedek. Sy twee groot oë rol weerskante toe soos hy soek na sy prooi. Hy hol by hulle verby en verdwyn voor hulle oë in die dryfsand voor die boom.

Marinta se asem ruk in haar keel vas en sy hoor hoe die ander twee meisies ook na hulle asems snak. Haar hart tamboer soos donderslae in haar ore.

“Bernita, ons gaan mos nooit hier uitkom nie,” fluistervra sy.

Voordat Bernita kan antwoord loer ‘n popmooi gesiggie agter die boomstam uit. Dit lyk soos ‘n Barbie pop in lewende lywe. Haar hare skitter en blink in die dowwe lig. Dit lyk asof daar silwer draadjies in haar hare ingevleg is. Soos wat sy agter die boom uitkom word die meisies se oë al groter. Haar klere blink en die juwele wat sy aanhet lyk soos egte silwer, goud en diamante.

Sy  is lewensgroot en sy geniet duidelik al die aandag. Sy lyk asof sy in die dryfsand staan, maar sy sak nie weg nie. Gewete staan vorentoe en stel haar voor met ‘n swaai van een van sy koddige bokser voorpootjies.

“Ontmoet vir Oelala! Sy stel ydelheid voor. Sy is ook vreeslik lief vir skinderpraatjies.”    

“Dankie tog, ek kan nie beskuldig word van ydelheid nie,” dink Marinta.

Gewete draai na Marinta toe en sy kyk weer in haar eie gesig vas. Die keer praat haar eie gesig smalend met haar.

“Nie ydel nie? Maar jy dink klaar jy is beter as ander,”

Sy draai haar gesig vies weg. Die pestilensie. Nou kan sy nie eens meer dink wat sy wil nie!         

Oelala hou ‘n groot spieël op. “Kyk hoe mooi lyk jy sonder al die baie sproete,” sê sy vir Marinta. “Al wat jy nou kortkom is mooi juwele en spoggerige klere om die prentjie af te rond.”

Gewete praat weer met haar, hierdie keer met sy eie gesig.

“Wil jy nie ook so pragtig lyk nie? So mooi aantrek soos Oelala?” vra hy.

“Hoekom vra jy nie eerder vir Shari nie?” vra sy snipperig. “Sy is tog so bang ek vry haar kêrel af.” Sy kyk kwaai in Shari se rigting.

“Shari?” vra Gewete, “dink jy Marinta kan jou kêrel afvry?” en hy draai sy voelers in die lug rond.

Shari spoeg omtrent in Marinta se rigting. “You wish! Wie dink jy is jy?”

“Nou wat is jou probleem dan? Van die begin het jy ‘n appeltjie te skil met my. En as Ryno met my praat, kraam jy omtrent,” sê Marinta kwaai.

“Meisies, meisies is dit nodig om so te stry?” praat Oelala skielik. “Hoekom kom kyk julle nie liewer na al my pragtige juwele nie?”

Nou eers sien Marinta dat daar oral in die boom ook juwele skitter en blink.

Oelala buk en trek ‘n groot juweledosie uit die sand uit. Toe sy die deksel oopmaak, vou ‘n die dosie vol juwele oop en uit hom nog ‘n dosie. So hou die dit aan tot daar ‘n ry dosies met juwele lê. Elke dosie is uitgevoer met rooi satyn en die juwele skitter en blink in die dowwe lig.

“Cool, wat het ons hier,” sê Shari haar stem hoog en opgewonde.

Marinta staar na die verskeidenheid juwele. Daar is ringe, hangertjies, armbande, oorbelle, horlosies, lyfringe en pêrels. ‘Wow,’ dink sy, ‘ek het nog nooit so baie mooi juwele op een plek by mekaar gesien nie.’

“Dié jewelery nie altemit gesteel nie?” vra Nina agterdogtig

Ek hou nie van jou insinuasies nie,” sê Oelala met ‘n skerp stem. “Maar ek sal jou vergewe,” sê sy dadelik met ‘n sagter stem agterna, “jy weet seker nie van beter nie.”

Al drie die meisie loer versigtig van ver af. Oelala trek haar bloesie op en wys haar naeltjiering vir hulle. “Is dit nie awesome nie? “

Sy draai na Marinta toe.”Jy sal asemrowend lyk met so diamant naeltjiering,” sê sy.

Marinta snork. “Ek vertrou nie maklik nie, jy dink verniet ek sal nader kom,” sê sy. Sy vryf net haar duim teen die ander vingers van haar regterhand.

Uit die dryfsand rol skielik die mooiste varingplant oop met ‘n verskeidenheid naeltjieringe aan die blare. Dit rol in die rigting van die meisies asof dit hulle uitnooi om te kyk.

“Jy hoef nie, kyk maar net na die prag van juwele voor julle oë,” sê Oelala.

Die juwele skitter in die laatmiddag son. Skielik waai ‘n ysige wind teen die meisies vas. Dis so koud dat hulle tande klap. Hulle bewe van kop tot tone. Oelala haal twee warm baadjies uit en gee dit vir hulle aan. Hulle is skrikkerig, maar vat tog die baadjies. Marinta gee die baadjies vir die ander twee meisies. Shari trek haar wenkbroue op, maar trek dit tog vinnig aan.

Voordat hulle verder na die juwele kan kyk kom ‘n trop windhonde so groot soos muise aangestorm. Hulle is besig om  ‘n haas so groot soos ‘n sprinkaan te jaag. Dit laat die meisies skrik en Marinta en Nina beland in die dryfsand. Die keer onthou sy betyds om sproete te gooi. Sy bestook behoorlik vir Oelala met haar oorblywende sproete. Oelala probeer koes maar die klein “bommetjies” tref en doen hulle werk. Dit laat haar ophou sink maar Nina is stadig maar seker besig om voor hulle oë dieper in die dryfsand weg te sak..

Sy gryp Nina se hand en met haar ander hand gryp sy ‘n boom daar naby se tak. Sy sien hoe Shari Nina se ander hand gryp en ook begin trek. Stadig, maar seker trek hulle Nina uit die sand uit. Toe hulle met een laaste pluk vir Nina op die harde grond neerlê gebeur die wonderlikste ding ooit.

Die boom, Oelala, die dryfsand en Gewete verdwyn in ‘n maalkolk in die aarde in waar die boom met die dryfsand gestaan het. Voor hulle lê nou ‘n gewone stofpad. Marinta sien vorentoe word die bosse minder en dit lyk asof daar ‘n draad en ‘n hek voor in die pad is.

“Bernita?” vra Marinta verbaas.

“Eindelik het julle ‘n les geleer,” sê Bernita.

“Watse les?” vra Marinta

“Eers het jy vir Shari gehelp met die verkleurmannetjie, toe weer onselfsugtig die baadjies vir die ander twee gegee. En toe het Shari weer ingespring en gehelp om vir Nina uit die dryfsand help trek,” sê Bernita.

“En dit was al wat nodig was om van die dryfsand en Oelala ontslae te raak?” vra Marinta.

“Oelala bestaan uit selfsug en verwaandheid. Sy kan nie funksioneer waar groothartigheid bestaan nie,” sê Bernita.

“Nogal jammer van al daai mooi juwele,” sê Shari.

“Wêreldsgoed is ‘n handvol vlieë,” sê Bernita

“Jy’s nogal weird, weet jy,” sê Shari.

Marinta lag. “Ek dink ook so,” sê sy.

“Onthou dat lag die wêreld ‘n beter plek maak,” sê Bernita. “Moet nooit dat enige omstandighede jou ontneem van die vermoë om lekker te lag nie.”

“Check it uit!” roep Nina uit, toe die Rooi aap skielik by hulle verby hardloop. Hy hardloop oor die deel waar die boom en die dryfsand was.

“Nou weet ons ten minste dis veilig om daar te loop,” sê Shari.

“Hoe gouer ons begin, hoe gouer gaan ons by die huis kom,” sê Marinta. Sy begin ook dadelik stap en die ander volg haar voorbeeld.

Voor hulle lê die pad tussen die berg en die see en hulle stap vinnig agtermekaar in die stofpaadjie aan. Die pad word wyer sodat hulle lang mekaar kan stap en spoedig lyk dit soos ‘n gewone plaaspad.

Net waar hulle onderdeur die boom stap verskyn skielik ‘n sirkel paddastoele met bloedrooi koppe.

“Ek is seker hierdie sampioene was nie netnou hier nie,” sê Marinta, “ is dit nie awesome nie?” Sy steek vas om die verskynsel te bewonder.

“Cool,” sê Shari, “kyk die pragtige glashamer in die middel van die kring. Dalk kan ek iets wens as in die middel gaan staan.” Sy voeg ook dadelik die daad by die woord en gaan staan in die middel van die sirkel paddastoele.

Bernita roep waarskuwend uit, maar dit is te laat. Shari staan reeds in die middel van die rooi sampioen sirkel. Marinta en Nina sien verstom hoe die sampioene Shari aanval.  Sy gil soos ‘n maer vark. Die sampioene verdeel en word al meer hoe harder Shari gil. Die sampioene byt vir Shari aan haar bene met vlymskerp tandjies.

“Sy moet ophou skree, dadelik!” sê Bernita dringend by Marinta se oor.

Marinta spring nader en pluk haar uit die kring uit. Nou eers sien sy die bloed aan Shari se bene. Sy bewe soos ‘n riet en die trane loop oor haar wange.

“Daar is ‘n teenmiddel vir die wonde, maar ons sal eers by die sampioene moet verbykom,” sê Bernita

“Ons hol ma net om hulle,” sê Nina

“Kyk,” sê Bernita. “Probeer langs hulle verby loop,” sê sy vir Marinta.

Die hele sirkel sampioene skuif voor hulle in. As een van hulle regs beweeg skuif die sirkel regs of ‘n paar van die sampioene jaag hulle met skerp ontblote tande.

“Kan jy klou as ek wawiel?” vra Marinta vir Bernita.

“Sit my in jou sak,” sê sy, “Ons moet die teengif gaan haal. Shari gaan siek word as ons nie haar wonde behandel. nie”

“Kan ek doodgaan?” vra Shari.

“Ek weet nie, maar ons gaan seker maak dit sal nie gebeur,” sê Bernita “Die glashamer wat Shari gesien het, is die een wat jy nodig het om saam te neem huis toe. Ons kan nie daarsonder huis toe gaan nie.”

Met Bernita veilig in haar sak wawiel Marinta so vinnig moontlik dwarsoor die sampioen sirkel en hardloop dan in die pad af. Sy het twee of drie bytplekke en dit brand soos vuur.

“Sien jy die boom met die geel stam?” vra Bernita. “Dit is sy blare wat sal help vir die bytplekke.”

“Moet ons die blare op die bytplekke sit?” vra Marinta.

“Die blare moet eers gekou word,” sê Bernita, “die vermenging met jou spoeg aktiveer die regte bestanddeel.”

Marinta moet spring tot by ‘n dwarstak en haarself optrek, voordat sy van die blare kan pluk. Sy pluk genoeg sodat sy vir Shari ook kan vat. Sy kou sommer dadelik en sit van die gekoude blare op haar been. Dit voel dadelik koel en die brand bedaar.

“Nou moet ons baie vinnig ‘n mikstok van die wilde wilg soek sodat jy die sampioene kan oorwin. Daarsonder sal jy nie die glashamer kan kry nie.

Sy hardloop rond en Bernita kyk vir die regte boom. Eindelik vind hulle die regte boom. Nou moet Marinta ‘n mikstok afbreek. Gewapen met die mikstok en ‘n sak vol blare hardloop sy terug na Shari en Nina. By die sampioene takel sy die venynige sampioene met die mikstok. As sy hulle met die mikstok slaan verander die sampioene in poeierstof. Toe dit veilig is om verby te kom gee sy vir Shari die blare om te kou. By die glashamer sien sy hoekom dit so genoem word. Die hele hamer is sonder ‘n merkie en blink soos n spieël. Langs die hamer lê ‘n kristal so lank soos haar wysvinger.

“Bernita, moet ek die kristal ook saamneem?” vra sy.

“Definitief,” antwoord Bernita.

Met die kristal in haar sak en die hamer in haar hand stap Marinta en die ander twee in die pad af. Ongeveer twintig tree verder sien Marinta ‘n hek voor in die pad. Weerskante van die hek is draad gespan en die hek self is toegegroei met iets wat soos rankaalwyne lyk.

“Dit is die laaste struikelblok,” sê Bernita.

“Bedoel jy as ons deur daardie hek is, gaan ons huis toe?” vra Marinta.

“Presies. Ongelukkig is dit nie so maklike taak nie. Die rankaalwyne wat oor daardie hek groei is gifaalwyne. Dit word ook die blitsige aalwyne genoem. Dit groei so vinnig as wat jy dit afsny of afkap. Die groot gevaar is dat dit nie naby jou oë mag kom nie,” verduidelik Bernita.

“Dan klim ons maar deur die draad,” sê Shari.

“Sal nie werk nie. Kyk,”sê Bernita.

Die rooi aap kom weer by hulle verby gestorm. Hy klim deur die draad en beland onmiddelik weer aan die kant waar hulle staan. Hy probeer bo-oor klim, maar dis asof hy in die rondte klim, hy beland doodeenvoudig net weer aan dieselfde kant as waar vandaan hy begin het.

“Wow,” sê Nina.”Dis freaky.”

“So, ons sal ‘n manier moet kry om deur daardie hek te kom of ons kom nie hier uit nie,” sê Marinta.

“Presies,” sê Bernita“die goeie nuus is, dat ek kan help. Ek kan die aalwyn vas spin terwyl julle die hek probeer oopkry. Dit sal egter baie vinnig moet gebeur. Ons sal die hamer moet gebruik om die hek se handvatsel op te lig, want waar dit jou hand raak, gaan die bloed spat.”

“Presies. As jy nie die hamer gekry het nie, sou julle beslis nie kon uitkom nie.” sê Bernita

Hoe nader hulle aan die hek kom, hoe stiller raak die groepie. By die hek gaan hulle eers ‘n rukkie stilstaan en al drie meisies bekyk die hek wat toegerank is met die doringagtige aalwyn.

Marinta sit Bernita op die glas hamer en sy hou dit uit na die hek sodat sy kan oorklim op die hek.

Die oomblik toe Marinta se hand met die  hamer nader kom begin die blitsige aalwyn nader krul en die skerp punte steek en krap waar dit haar kan bykom. Bernita klim oor so vinnig sy kan en begin spin so hard sy kan. Marinta ruk haar hand terug en wag vir Bernita om eers die aalwyn bietjie onder dwang te kry.

Toe dit redelik veilig lyk, steek sy hand uit en kap met die hamer die haak van onder af. Sy probeer die haak met die hamer oopkap, maar die meganisme is oud en geroes. Sy kap harder en probeer weer, maar die dorings begin al weer krap en steek. Sy ruk haar hand terug.

Bernita spin met alle mag om die aalwyn in toom te kry. Marinta probeer weer maar die haak sit. Marinta voel sy kan huil van frustrasie.

Die meisies vat naderhand die hamer en kap saam om hulle kragte bymekaar te sit. Dit het die gewenste uitwerking. Die geroeste haak kom los en lig op. Nou is al drie se hande vol krap en bloedmerke. Hulle staan eers terug om asem te skep.

Marinta gebruik die agterkant van die hamer om die hek oop te forseer.  Die hek beweeg net ‘n klein entjie.

Bernita hou op spin.”Jou oë, pas op vir jou oë!” skree sy vir Marinta.

Teen die tyd dat die Blitsige Aalwyne naby Marinta se oë kom het die hek darem ‘n entjie beweeg. Sy spring weg en bekyk die snye aan haar arms. Haar hart klop in haar keel. As die hek net nog ‘n entjie kan beweeg sal hulle daardeur kan spring.

‘n Skaduwee val oor hulle koppe en toe Marinta opkyk sien sy die neon pienk duif laag oor hulle koppe vlieg. By die hek vlieg die duif laag en die Blitsige Aalwyne draai hulle skerp aanval boontoe om die duif by te kom.

Marinta spring vorentoe en saam trek die drie meisies die hek nog ‘n entjie oop. Dit neem egter net ‘n sekonde of twee vir die aalwyne om hulle aanval terug te draai in die meisies se rigting. Al drie retireer vinnig. Met ‘n laaste poging haak hulle die hek nog ‘n klein entjie oop.

Hulle staan hygend en kyk na die groeiende krullende aalwyn. Marinta tel die  hamer op en hou dit na Bernita uit om op te klim. ‘n Mens kan omtrent nie sien waar sy gespin het nie. Die plant groei eenvoudig net te vinnig.

“Is julle reg?” vra Marinta.

“Reg,” antwoord Nina.

“Let’s go,” sê Shari,

“Jy eerste,” sê Marinta vir Nina.

Nadat Shari ook deur gehol het, maak Marinta seker Bernita is veilig op haar skouer en toe hardloop sy vinnig deur die nou spasie. Die drie meisies staan naby mekaar en skep eers asem. Saam draai hulle om en kyk terug na die aaklig hek. Wat geen aaklige hek meer is! Al wat hulle sien is ‘n netjies wildsheining.

Wat wel baie werklik is, is die klein deurtjie waardeur Shari gekom het en die neon pienk duif wat in die pad voor hulle wag. Ook die peerboom waaruit Marinta geval het ‘n entjie verder.

Marinta gee vinnig vir Nina ‘n drukkie voor sy op die pienk duif klim.

“Jy moet kom kuier, Tjomma” sê Nina.

“Daarvan kan jy seker wees,” antwoord Marinta.

Sy en Shari kyk hoe die groot duif wegvlieg. Skielik voel dit weird om alleen met Shari in die stofpad te staan. Sy hou die deurtjie op en glimlag effens.

“Jou beurt,” sê sy vir Shari,“ sien jou by die skool.”

“Cheers,” sê Shari ook met so effense glimlaggie voor sy klop en die volgende oomblik is sy weg.

Voordat Marinta en Bernita in die peerboom klim verduidelik Bernita in detail vir Marinta hoe sy die kristalhamer en kristal moet gebruik. Sy weet Marinta sal die regte ding doen as sy net eers daar is. Solank sy weet waar om die kristal in te slaan.

Marinta in die peerboom en soek die mik waar sy vir Bernita die eerste keer raakgeloop het. Voordat sy vir Bernita van haar skouer afhaal vra sy.

“Gaan ons twee weer praat?”

“Ek glo nie, maar die lewe is onvoorspelbaar, of hoe?” antwoord Bernita.

“Hoe sal ek weet waar om te trap om terug te kom by my huis?” vra Marinta

“Vertrou net jou instinkte,”antwoord Bernita toe Marinta haar op die blaar neersit.

“Bye, Bernita, dit was lekker om jou te ken,” sê Marinta.

Die keer antwoord die wurm nie. Marinta kyk verbaas na die wurm wat net vreet en vreet aan die blaar voor haar. ‘n Doodgewone vet wurm op ‘n groen blaar.

“Bernita?” probeer sy nog een keer.

Die wurm eet net, heen en weer gaan die koppie.

Stadig begin Marinta afklim na die dik stam toe, nou voel sy rêrig totaal alleen. ‘n Donker kolletjie teen die stam trek haar aandag en sy leun nader om te sien wat dit is.  Sy vat met haar een hand daaroor om te sien of dit dalk boomgom is en die volgende oomblik verdwyn haar hand in die boomstam in, maar die res van haar lyf bly buite.  Wat nou?

Hoe kom sy by die huis? Sy trek haar hand versigtig uit. Die vorige keer het sy met haar voete eerste in geval. Miskien moet sy dit probeer. Sy gaan sit op ‘n dwarstak en korrel sodat altwee haar voet mooi in die kolletjie inpas. Toe skop sy so hard sy kan op die donker kol.

“Miaau!” Marinta en haar kat skrik ewe groot toe sy regs langs Strepies onder die boom land. Sy is so bly om by die huis te wees. Sy wil tegelykertyd huil en lag.

Sy raap vir Strepies op en druk hom styf teen haar vas.

“Jou liewe ding, ek is so bly om jou te sien.”

Voor sy kan huis toe gaan het sy eers ‘n ander taak om af te handel. Sy kyk na die mooi glas hamer in haar hand. Bernita het vir haar gesê wat om met die  hamer te maak. Sy loop na die boorgat toe. Vertrou jou instinkte, sê sy vir haarself.

Sy gaan sit op haar hurke langs die enjin wat die water uit die boorgat pomp en bekyk die grond rondom die boorgat.  Skielik trek iets haar aandag.  Dit lyk soos die spinnekoppe se gaatjie waarvan Bernita gepraat het. Sy leun  nader en sien die gaatjie blink. Sy haal die kristal uit haar denim se en druk dit in die gaatjie in. Die kristal steek buitekant die gaatjie vas. Met die hamer tik sy die kristal versigtig in die gaatjie in.

‘n Wonderlike ding gebeur. Die kristal en die hamer verdwyn in die grond in. Die volgende oomblik skyn ‘n groot lig reg rondom haar. Dit lyk of die grond vir ‘n paar minute deursigtig raak. Sy sien hoe water in die onderaardse are blou raak en sy hoor hoe ruis die water vir ‘n hele rukkie voor dit weer stil raak. Toe raak alles weer normaal. Al wat sy sien is die groen gras en daar is geen teken van ‘n gaatjie waar sy die  hamer ingesteek het nie.

“Marinta! Kyk wie het kom kuier,” roep haar ma.

Sy kyk na die kar voor die deur. Dit lyk soos haar pa se kar.

“Ek is nou daar Mamma!”  Sy sal natuurlik moet please explain waar al die krapplekke op haar bene en arms vandaan kom. Sê nou haar pa het kom sê hy kom hier bly, dan maak niks anders meer saak.

Toe sy by die voordeur kom kry sy haar boetie, Dewald, op die stoep. Hy lyk nie baie gelukkig nie.

“Raai wat?” sê hy, “Pa is terug, hy gaan nie weer weg nie.”

“Nou hoekom lyk jy dan of die honde jou kos gevat het?”, vra Marinta

“Dit klink of Pa die plaas wil verkoop. Net toe ons nou lekker hier bly en ek pelle begin maak het,” sê hy.

“Hoe so?” vra Marinta verbaas.

“Daar is groot fout met die plaas se water en die vorige ou het niks gesê toe hy die plaas aan ons  verkoop het nie,” sê Dewald.

“Moenie so gou moed verloor nie,” sê Marinta.

“Aag wat weet jy?” vra Dewald moedeloos.

“Vertrou my maar die een keer, sê Marinta met ‘n geheimsinnige glimlag.

Dewald kyk haar aan asof sy van ‘n ander planeet af kom. Sy is die een wat niemand vertrou en nou kom sê sy vir hom om haar te vertrou.

Dinge lyk nog beter as wat Marinta kom droom dit sou wees. Haar pa en ma lyk heel op gelukking met mekaar toe sy in die vertrek inkom. Sy gee eers haar pa ‘n stywe drukkie

“Wat hoor ek by Dewald van plaas verkoop?” vra sy toe hulle klaar gegroet het.

“Die vorige eienaar het uitgevind dat die boere jare gelede gif uitgesit het vir ‘n vreeslike plaag jakkalse en van die gif het in die onderaardse waterbronne beland. Hy het die water laat toets en toe besluit om die plaas te verkoop sonder om vir ons daarvan te vertel.” lig haar pa haar in.

“Laat toets net eers die water, Pappa,” sê Marinta ernstig.

“Dit ís getoets, Marinta,” sê haar pa.

“Doen dit net, Pappa,” hou sy vol.

“Ons sal môre sien, nou is dit tyd om te gaan eet,” sê haar ma.

Die volgende oggend kan Marinta haar blydskap nie wegsteek toe haar pa aankondig dat hy tog die water laat toets nie. Hy maak ‘n afspraak en die man daag die middag na ete op.

“Ons is baie gelukkig om so gou iemand te kry,” sê haar pa “ hulle was in die omgewing om ander boorgate te toets.”

Dit voel vir Marinta of sy ophou asem haal terwyl die water getoets word. Die uitslag wys dat die water 100% normaal en veilig is om te verbruik vir mens en dier. Marinta hop op en af.

“Beteken dit Pa gaan hier bly en ons gaan nie meer die plaas verkoop?’ vra sy en kyk na Dewald wat met ‘n groot glimlag in sy rolstoel sit.

“Dit is reg, ja,” glimlag haar pa.

Sy vlieg om en hardloop na die peerboom toe. Sy kyk op in die peerboom en wonder of Bernita haar sal hoor.

“Bernita, dankie vir alles. Alles wat jy my geleer het. Sommer alles…Bernita nou weet ek – jy is ‘n engel.