Jaco van der Merwe – 2020 Wenner

____________________________________________

WAT KAN NOU MOONTLIK FOUT GAAN?

 

1

“Die rede hoekom ons julle spesifiek nader, is omdat julle die beste is.”

Ek neem ’n sluk van die bier en kyk eers rustig rond, net ingeval ek sê wat ek dink en dalk die hele transaksie belemmer. Die koepel van die Imre stasie strek ’n goeie vyf vloere bo ons uit. Aan die ander kant van die versterkte skakel-glas lê Vachya IV soos ’n turquoise strandbal teen die sterre veld. Storms kolk wit oor die oppervlakte. Die geosentriese wentelbaan waarin ons ons bevind, verskaf ’n besonderse sig op ’n uitsonderlike storm. Wie hulleself ook al onder daardie storm bevind, mag dalk die estetiese waarde minder waardeer.

Om my is die room van verskeie samelewings. Een honderd agt en sewentig gaste. Sestig kelners. Ek kan nie uit die gewoonte kom om nie die vyand te tel nie.

Baie eksklusief. Ek is selfs ’n baadjie verskaf voor ek ingelaat is. Pas glad nie by die militêre stewels nie. Dit is een van dáárdie plekke. Eksotiese atmosfeer. Indirekte beligting in blou, groen en pers. Om die meeste van die visuele skouspel daarbuite uit te bring.

Ek is nie beïndruk nie. Die oseaan wêreld onder ons se grootste trekkrag is die myn van ’n eksotiese seewier. Die ekostelsel is reeds aan die grens van intuimel. Dalk nog so tien jaar voor die planeet kaal gestroop is. Die prag wat ons aanskou (nie die storm soseer nie) sal eenvoudig deur ’n verdere sensasie vervang word wanneer die stasie gesleep word na die volgende besienswaardigheid.

My aandag is terug by my gasheer. Duur klere. Simpel donkerbril wat meeste van sy gesig bedek – een of ander nuwe mode êrens. Oorgewig. ’n Bos hare wat nie natuurlik kan wees nie. Jamon by name. Net dit. Geen van. Moontlik is ek nie belangrik genoeg om ’n van ook te kry van sy kant af nie. Ek is immers net die hulp.

“Ek is jammer,” sê ek met ’n glimlag wat ek nie bedoel nie, “ek dink ons het mekaar misverstaan.”

“Glad nie. Glad nie.” Ek sien net tande. Te perfek om sy eie te wees. “Ons het soveel goeie dinge van julle gehoor.”

“Nee. Dit is nie wat ek bedoel nie.” Ek maak die bier klaar en beduie vir nog een. Selfs die kelners is mense. Ek drink die bier uit ’n bottel omdat ek kan. “Kan ons ooreenkom om eerlik te wees?”

“Natuurlik. Natuurlik. Dit is vanselfsprekend.”

Ek sit vorentoe. My glimlag styf. “Ons is nie die beste nie.” Met ’n hand weer ek sy beswaar af. “Daar is baie instansies wat beter as ons is. Maar saam met so ’n reputasie kom ’n prys. En ek is oortuig julle het reeds ’n paar genader.”

“Dit is…”

My hand gaan weer op. “Saam met ’n reputasie kom ook sekere vrae. Vrae wat julle dalk nie wil antwoord nie. Dalk nie kán antwoord nie.” Ek haal my skouers op. “Dit is nie vir my om te sê nie. Maar een ding is belangrik. Sonder inligting – nodige inligting – kan ons nie help nie.”

Hy vat ’n rukkie om te herkou. Moontlik is hierdie nie die tipe gesprek wat hy gewoonlik voer nie. Moontlik hoekom Lashmi my gekies het om die openings gesprek waar te neem. Sy kan staatmaak op my minder-as-diplomatiese benadering waar nodig.

Hy haal die bril af en steek ’n hand uit. “Absoluut.”

Ek neem sy hand wat klam en sag is. Hulle doen hulle huiswerk. Ons organisasie is klein maar het genoeg suksesse op ons profiel om ’n beter as gemiddelde reputasie te hê. Ons pryse is ook nie buitengewoon hoog nie. Ons gaan nou nie planetêre regerings help omvêrgooi nie, maar ons is ook nie sonder angel nie.

Hy gee ’n beterweterige glimlag. “Is jy van dié Santiago’s?” Hy dink reeds daar is nie ’n manier dat ek deel is van daardie Familie nie. Een van die (huidige) invloedrykste families in die Gereguleerde Terreine. ’n Familielid met daardie tipe aansien en konneksies sal nie werk vir ’n organisasie wat in sekere kringe gesien word as niks meer as betaalde hulp nie. Soos tans. Die Families beheer die groot korporasies. Die korporasies beheer meeste regerings.

Ek glimlag terug. “Stuur wat julle het en ons sal in kontak wees.” Die bier is nie goed genoeg om langer te bly nie. Die geselskap nog minder.

 

2

“Ek verstaan nie al die geheimsinnigheid hierom nie?” Rowan swaai haar been soos ’n kind waar sy haarself gemaklik gemaak het op die tafel. Mace sit op ’n stoel langs haar. Haar ander voet rus op sy bobeen. Die twee het mekaar onlangs ontdek op ’n ander vlak en gaan aan soos tieners wat deur puberteit oorrompel is. Beide is huursoldaat materiaal (nes ek) maar Rowan se twee metaal arms is bietjie buitensporig vir my smaak. Daar is stil argumente agter haar rug of sy die arms verloor het in iets soos ’n ongeluk, en of dit bloot haar keuse was om haarself te verbeter. Ek weet nie hoe Mace daarmee saamleef nie. Hyself kom van ’n wêreld met ’n hoër swaartekrag as wat ons gemaklik mee is en staan so hoog soos hy breed is. Wat ’n goeie ses voet is. Hy is massief. Alles spiere.

Ek sit eenkant en hou almal dop. Laat hulle maar die argumente voer. My opinie sal later gevra word. Verkies dit so in elk geval. Ek vee my blonde hare terug en loer na waar Dago eenkant op die vloer lê. Hy het besluit op ’n vorm soortgelyk aan iets van die Aarde se katfamilie. ’n Luiperd of iets. Net groter. Met ses ledemate. En ’n geel vel. Hy gee my ’n vinnige kyk met sy vier oë en sak sy kop op sy voorpote. Hy hou die ander stil dop.

“Verskuilde agenda? Steek iets weg?” sê Tyesha peinsend. Sy draai weg van die verskeie hologram panele wat voor haar in die lug hang. “Logan is reg. Dit is nie terloops dat ons genader is nie. Ons is sekerlik op die lys van dié wat desperaat is vir werk.” Haar oë skyn groen in die halwe lig.

Die vertrek is uitgelê soos die beheerdek van ’n interplanetêre skip. In die middel is ’n platform met die rekenaar banke en Tyesha se stoel soos dié van ’n skeepskaptein. Die omringende vloer bevat gemak stoele en rusbanke wat in verskeie eilande opgedeel is. Soos ’n eksklusiewe klub. Twee-derdes van die muur spasie word opgevat deur ’n panoramiese venster (tans verdonker) wat uitkyk oor die tropiese plantegroei en oseaan van Kekona. Kekona is ’n vakansie stad vir die hoër klas toeriste wat Docila besoek. Wie gaan nou ’n basis vir huursoldate hier verwag?

“Is ons desperaat?” vra Mace.

“Nee. Ons is nie. Maar die geld is goed,” antwoord ’n siborg wat die vertrek instap.

“Nee, sies man, Mayah,” proes Mace. “Trek iets aan. Dis…onbetaamlik!”

Die kaal kop met die trekke van ’n vrou draai in sy rigting. Die res van haar liggaam is basies ’n metaal geraamte, die romp en onderlyf solied. Sy lyk nie na baie nie, maar mors met haar tot jou eie ondergang. “Sodra ek iets kry wat die moeite werd is,” sê sy snedig. “Miskien trek ek jou weer aan.”

Mace maak ’n geluid. Sy het op ’n slag – wat sy ’n vleis-pak noem – gedra wat soos Mace lyk. Iets meer as bloot sintetiese vleis. Dit is beter om nie te veel daaroor uit te vra nie. Ernstige verleentheid vir hom geskep. Ek kan nie onthou of hy ’n weddenskap verloor het of iets nie, maar dit was ’n teer punt vir maande. Die humor was verlore vir hom.

“So, om terug te keer na die kontrak,” sê Tyesha met ’n keelskoonmaak, “die instruksies blyk eenvoudig te wees.”

“En daar lê die probleem,” se Mayah sag.

Tyesha vee kabels wat soos gevlegte hare uit haar agterkop peul na agter. Haar geskeerde kop glinster bruin in die vals lig. “As almal klaar is met hulle opmerkings, kan ek dalk voortgaan?” Sy kyk rond. Mace giggel. Wat snaaks is op sigself. Mens verwag nie iemand soos hy kan giggel nie. Dago skuif homself gemakliker. My gesig bly versigtig uitdrukkingloos.

“Ja? Nee?” Stilte groet haar. “Die onderwerp van die kontrak is ’n ene Chantrea Devereux.”

’n Holo-beeld hang oor die vloer. Nie onaantreklik nie. Medium bou, kort donker hare. Mooi oë.

“Sy word bestempel as een of ander beter-as-ander-mens wat haar tyd bestee om mense te help,” gaan Tyesha voort.

“Ons doen dit ook,” sê Rowan. Sy gooi haar kop dramaties terug om haar dik blonde maan vryheid te gee. Moontlik eerder vir Mace se onthalwe.

“Nee, ons doen dit vir die geld,” sê Mayah.

“Soos ek gesê het,” gaan Tyesha voort met ’n tikkie meer volume in haar stem, “sy doen mediese wonders vir mense in afgeleë plekke. Soos ons weet, het afgeleë plekke die geneigdheid om mense op te vreet en te verteer.”

Dago se kop lig, maar hy laat sak dit weer, klaarblyklik gemaklik met die idee.

“Waar is sy?” vra Mason.

“Dit is die probleem.” Tyesha hou ’n hand dramaties uit. “Logan?”

Ek grinnik. “Rutger III.”

Deurmekaar pratery en swetsery vat ’n oomblik om te bedaar.

Mace staan op en lig die beswaar: “Rutger is ’n straf-kolonie. Hoe kom ons in?”

Tyesha sit agteroor. “Ek is bly dit is die eerste vraag en nie ‘wat maak sy daar nie’.”

Mayah gaan sit plat op die vloer. “Julle sê die geld is goed. Daar is altyd ’n rede.”

Ek neem die gesprek verder. “Die storie is dat sy behulpsaam was met die behandeling na ’n uitbreek van ’n virus. Iets het vanselfsprekend verkeerd gegaan en nou is sy vasgekeer. Of gevang. Of iets. Dit was vyf jaar gelede.”

“Hoekom gee iemand om oor ’n virus daar?” vra Rowan. “Sekerlik is dit nou maar een van daardie dinge wat gebeur. Hulle is tog afgesonder.” Sy hou haar hand op in my rigting met vingers uitgesprei. Woordeloos vra sy: vyf jaar?

Ek maak ’n hoe-moet-ek-weet gebaar.

“Sekerlik het hulle gebeurlikheidsplanne in plek?” lig Tyesha uit.

“Nie so seker hoekom nie,” antwoord ek. “Maar dit is nie die belangrikste brokkie nie.”

Rowan dop haar oë om. “Sê ons tog net. Die spanning maak my dood.” Sy gaap dramaties.

“Chantrea is die dogter van ’n belangrike politikus. Pappie is seker bekommerd,” sê Mayah.

Rowan lig beide hande in die lug. “Hoekom kry ons ’n kontrak? Het Pappie,” sy glimlag vir Mayah, “nie sy eie privaat sekuriteit om sy dogter te gaan haal nie?”

“Beter nog – het hy nie kontakte in hoë plekke om te reël dat sy gaan haal word nie?” gee ek my bydrae.

“Iets stink,” sê Rowan.

“Dis wat Ty ook voel.” Tyesha maak ’n buiging in antwoord op my kommentaar.

“So, nou?” Mace het intussen weer tussen Rowan se bene gaan sit.

“Lashmi sê ons gaan voort. Ons het reeds ’n gedeeltelike betaling gekry,” sê Tyesha. “Kom ons kyk hoe hierdie een uitdraai. Ek meen, wat kan nou moontlik fout gaan?”

Haar stelling word begroet met misnoeë van almal se kant af. Verskeie voorwerpe word in haar rigting gegooi.

Mace staan op. “Mooi, man. Wanneer gaan ons?”

 

3

’n Prisonier-skip. Vir drie weke. Lashmi het ’n vreemde sin vir kostebesparing. En dan het Mace die vermetelheid om my te blameer vir haar besluit om hom nie te betrek op hierdie een nie. Ek het geen spesifieke voorkeur om hier te wees of nie te wees nie. Om te ewe vir my. ’n Kontrak is ’n kontrak. Twee weke tot die naaste spring-poort. Dan ’n verdere week tot ons bestemming. Die Bethan het die maklikste uitweg gebied na Rutger III. Volgens Lashmi ten minste. Bemanning van ongeveer tagtig met so drie- tot vierhonderd prisoniers.

Dago drafstap heup hoogte langs my, sy tong amper op die vloer. Moontlik iets die vooruitsigte van kos te doen.

Ek moes ’n paar verkeerde draaie êrens gemaak het, want ek bevind my skielik op ’n vloer met slaap kwartiere. Met die terugdraai na die hysers, steek ek egter vas. Die beligting is op half gestel. Slaaptyd vir hierdie skof. Stemme trek my aandag. Ek stap stadig nader, nuuskierig. Ek word onderskep deur ’n man in ’n skip oorpak.

“Wat maak jy hier?” Nie onvriendelik nie, maar die manier wat hy homself voor my plaas wys hy gaan ons nie verdere toegang toelaat nie.

“Moes die verkeerde vloer gevra het,” sê ek verontskuldigend met ’n glimlag. Net om te wys ek is nie hier om moeilikheid te maak nie. Ons staar mekaar stil aan. Die skielike uitroep van ’n vroulike stem êrens agter hom laat my instinktief vorentoe beweeg. Hy beweeg net genoeg om dit duidelik te maak dat ek my eerder met my eie sake moet bemoei. ’n Lae grom van Dago se kant af. Met ’n gebaar van my hand laat sak hy sy kop.

“Indien jy die kafeteria soek, probeer vloer agt.” Sy behulpsaamheid het ’n skerp ondertoon. Hy is nie soseer bekommerd dat ek moeilikheid gaan maak nie. Miskien is ek net besig om sy beurt te belemmer.

Ek knik stadig. “Daar lê my fout.” Ek draai om en stap terug na die hysers. Dago het gaan sit en gee die bemanningslid ’n bespiegelende kyk.

“Kom, buddy,” sê ek sag. Moeilikheid is iets wat ek wil vermy. Dago gee ’n grom diep uit sy bors. Sy morele waardes is soms dieper gegrond as myne.

“Ek weet,” sê ek. “Maar nie vandag nie.”

Dago gee ’n kort fluitgeluid en draai weg van die bemanningslid.

 

4

“Diere eet nie saam met die bemanning nie.”

Kos op die Bethan is beter as wat ek al gesien het in sekere hoë klas restaurante. Nie wat ek verwag het nie. Sekerlik ook maar net vir die bemanning. My beurt in die ry gee my selfs ’n keuse van hoe ek die braaiboud voorbereid wil hê met ’n wye keuse van groentes en stysel. Die braaiboud is selfs geneties ’n koei; al is ek oortuig dit het fisies geensins na een gelyk nie.

Ek kyk af na Dago wat lyk of hy die kok gaan eet. “Hy is nie ’n dier nie.”

“Hy lyk soos een,” hou die kok vol.

“Hy dink dieselfde wanneer hy na ons kyk.”

Die kok is nie oortuig nie.

“Kyk, ek het betaal vir twee plekke op die skip. Dit maak my geregtig op twee etes vir passasiers.” Dago maak ’n huil geluidjie. Die sagmoedige en effens gekrenkte kyk wat hy nou gee, het hy vervolmaak.

Die ry agter ons raak ongeduldig.

Die kok byt ’n lip en knik. “Hoe soek hy sy vleis?”

“Rou.”

Die geel bondel spiere draf ongeduldig voor my uit na die hoekie waar ons ons gewoonlik verskans tydens etes. Die bemanning het nie veel tyd vir ons nie. Ons is indringers. Nie deel van die broeder-suster-bond nie. Skielik moet hulle hul gedra voor vreemdelinge wat dalk negatiewe indrukke kan oordra aan mense wat wil luister daarna. Dit gebeur klaarblyklik nie baie dat gaste ’n rit losslaan hier nie. Ek sien die voet uit die hoek van my oog, maar besluit om te val vir die speletjie. Daar is altyd daardie een wat homself moet bewys. Aangesien ek my val beplan beland ek nie in my kos nie. Ek kan egter nie die kos red nie en dit ontplooi oor die vloer. ’n Golf van laggies omsingel my. Stadig druk ek myself orent in ’n sittende posisie. Dago vind die speletjie nie na sy sin nie. Tande ontbloot. Hy is honger. Maak hom gevaarlik. Die man spring op en mik ’n skop na Dago. Ek skop sy been onder hom uit, sommer so uit ’n sittende posisie. Hy val hard maar spring vinnig op. Voor hy heeltemal tot verhaal kom is ek op en gryp hom van agter in ’n wurggreep.

“Ontspan,” sis ek dringend in sy oor.

Hy sê iets onvanpas en ek verstewig my greep. My vrees is dat sy vriendekring hom gaan bystaan. Die klomp is nie ongewoond aan geweld nie. Indien Dago egter eers bloed ruik, gaan hy nie vir my luister nie. ’n Bloedbad is nie iets wat ons kan bekostig nie.

“Luister idioot, daardie is ’n rakshasa. Doen wat ek sê,” fluister ek in sy oor. Hy ontspan onmiddellik in my greep. Dankie tog. “Maak seker almal sien jy gee op.” Hy klap entoesiasties teen my skouer. Ek los my greep en hy sak af op sy knieë. Sy hande op in oorgawe.

“Jammer. Dit was net ’n grap.” Daar is werklike smeking in sy stem. Ek wonder of hy dalk al met ’n rakshasa te doen gehad het. Kanse is skraal. Hy leef nog. Miskien was die dokumentêr wat hy êrens gesien het brutaal genoeg.

“Ek stel voor jy vervang sy ete,” sê ek terwyl ek vir Dago kyk met ’n opgeligte wenkbrou. Dago maak geen geluid nie. Na ’n oomblik sak sy lippe oor die tande. Ek knik in erkenning.

“Natuurlik, natuurlik,” sê die man vinnig.

“Bring vir my ook maar ’n nuwe bord kos,” sê ek terloops. En in sy oor: “As jy spoeg in enige van die borde, sal hy weet.”

 

5

“Die Kaptein wil jou sien.”

Soos verwag. Ek volg die jong vrou na die brug.

“Wat besiel jou om ’n rakshasa aan boord te bring?” Haar kaalgeskeerde kop spog met vyf ingeplante skakels wat haar aan die netwerk van die skip koppel. Vyf skakels wys sy was ’n kaptein op ’n oorlogskip. ’n Grote. Dit sê baie vir haar posisie tans. Haar stem is egter minder aggressief as verwag.

“Ek het vreemde smaak in vriende,” sê ek.

“’n Vriend?” Sy draai in haar stoel en kyk my op en af. Ek tree nader aan haar en staar oor haar kop na die skouspel buite die skakel-glas. Ek sal nooit moeg raak daarvoor nie. Indirekte beligting bied net genoeg lig om nie die sig van die sterre veld buite die skip te belemmer nie. Holo-skerms hang oor ingesakte werkstasies aan die kante van die brug. “Wie is jy regtig Logan Santiago?”

Ek haal my skouers op in ’n moenie-te-veel-bekommer-nie gebaar. “Passasier wat ’n geleentheid gekry het.”

“Mmmm. Ek het jou wapens gesien. Jy is dalk meer as net ’n huursoldaat.”

My wapens wat in veilige bewaring geplaas is met my toetrede op die skip. “Ek is oortuig jy het ons mooi nagelees voor jy ons toegelaat het.”

Sy draai haar kop skeef en bestudeer my. “Niemand vra vir ’n geleentheid op ’n prisonier-skip nie.”

“En tog – hier is ons.”

“Ja. Hier is ons. Dit het nogal toutjies van hoog gevat om hierdie so vinnig te reël. En so effektief.” Sy strek uit in die stoel wat aanpas by haar. “Is jy Alliansie, miskien?”

Dit is altyd interessant om te sien wat mense se bekommernis is wanneer hulle nie regtig weet wat aangaan nie. “Jy weet van beter. Ons is onafhanklik.” Met ’n verontskuldigende glimlag: “Ons is nie hier om ondersoek na jou en jou skip in te stel nie.” Ek hou my opinie oor haar skip eerder vir myself. “Moenie dit verkeerd opneem nie, maar ek gee nie regtig om nie.”

Sy gee my ’n berekenende kyk. “Ek wil nie daardie ding los hê op my skip nie.”

“En ons het nou net so mooi oor die weg begin kom,” berispe ek haar. “Daardie ‘ding’ is my kollega.”

Sy gee toe met ’n stadige knik. “Steeds. Dis my skip.”

“Wat stel jy voor?”

“Vir julle eie veiligheid, is dit beter as julle tot julle kwartiere hou.”

“Vir ons veiligheid?”

Sy tel die toon in my stem op. “Meneer Santiago. Ek wil nie moeilikheid hê nie. Ek het eenvoudig nie tyd om daarmee te deel nie. Ek is oortuig jy voel dieselfde.”

Ons staar na mekaar vir ’n ruk. “Natuurlik,” sê ek. “Ons wil nie hê ’n ongeluk moet plaasvind nie. Dit kan…ongemaklikheid skep.”

“Dan verstaan ons mekaar.”

Ek betwyfel dit, maar laat my begelei deur die wagte terug na ons kwartiere. Dago se beskuldigende oë volg my. Hy weet. Ek krap rond in die kombuisie vir iets sterk om die smaak uit my mond te was.

“Ons kan nie almal aanvat nie, ou vriend.”

Dago gee ’n snork en maak hom tuis op die onderste van die twee beddens. Sy rug op my gekeer.

 

6

Die res van die reis verloop sonder insidente. Taamlik vervelig om die waarheid te sê.

Rutger III se netwerk van afweer-platforms verseker dat geen ontsnappingspogings ligtelik aangedurf word nie. Soos ek verstaan, is die tegnologie op die planeet self baie basies (sekerlik deel van die beheer wat oor die plaaslike bevolking uitgeoefen word) en is die voorsorg eerder gemik na buite. Dit gebeur seker uiters min dat die proses andersom werk. Die stasie, wat dien as ’n afgooi halte vir prisoniers, spog met genoeg vuurkrag om ’n fregat uit te skakel. Die Bethan nader die stasie onder streng protokol. Hoewel ons nie die geleentheid gegun word om die proses te aanskou nie, voel ons die ligte stamp deur die skip se wand met haar ankering aan die stasie. Die estetiese sy van die stasie sal ek hopelik kan waardeer met die tog na die planeet self.

Die stasie hanteer die rapportering en verwerking van die prisoniers voor ons aandag kry. Die rusbanke slaap nie gemaklik nie. Dago aan die ander kant deel nie my beproewing nie. Die pels wat hy skielik dra skep klaarblyklik soveel gemak dat hy meestal op sy rug lê en slaap. Met ’n redelike onwelvoeglike tentoonstelling van sy organe. Hy het sy eie manier om sy emosies aan ander te…ontbloot.

Drie dae.

Die swaartekrag panele gaan af en toe af wat kneusplekke tot gevolg sou hê, maar ek het genoeg blootstelling in gewiglose omgewings om myself te hanteer. Dago aan die ander kant land elke keer op sy pote wanneer die swaartekrag herstel. Voordeel van ’n rakshasa.

Ons weet beide hulle doen dit opsetlik.

Ons kry kos (weereens nie te sleg nie) maar word ten sterkste afgesonder. Ek weet dit sal geen verskil maak om te protesteer nie, so ek sit rustig en haal my vuurwapens uitmekaar en maak dit skoon. Daar is moontlik geen wapen in hierdie stelsel so skoon soos myne nie.

 

7

“Ek is bevrees dit is buite die kwessie.” Die beampte met die naamplaatjie wat Jannes Kempto lees (jy moet maar mooi kyk, dit was moontlik goud of brons op ’n stadium), sit selfvoldaan terug.

“Miskien wil jy my dokumente weer deurgaan?” sê ek meer bedaard as wat ek regtig voel.

“Hoekom? Ek weet mos wat die regulasies sê.”

“Ek is bewus dat jou kennis meer omvattend is as myne,” paai ek in die regte rigting, want hy gee ’n tevrede glimlag, “maar my teenwoordigheid hier is miskien bietjie buite die normale.”

Iets begin agter sy oë werk. “Nee. Ek sou in kennis gestel gewees het.”

“Natuurlik.” Ek sit vorentoe met my gevlegte vingers onder my ken. “Maar slegs indien dit nie ’n geheim was nie.” Ek haal ’n kristal kaart uit en speel daarmee tussen my vingers. Sy oë verstar. Tong oor skielike droë lippe. Ek sien hoe hy die dae tel in sy kop wat hy my in afsondering gehou het. Die rede dat ek nie die gewone – kom ons noem dit ’n administrasie fooi – wou betaal nie, het ’n sekere negatiwiteit tussen ons veroorsaak van die begin af. Die permit in my hande is egter ’n teken van besluite wat vêr bo sy kop geneem word. Dit is nie die eerste keer dat hy een van hierdie sien nie.

Ek handig die kaart oor. Sy hand bewe nie, ek gee hom dit. Hy slot die kaart in die paneel voor hom en holo-panele spring op in olyfgroen. Hy maak ’n verstelling en die panele hervestig tot ’n meer privaat omsetting. Hy hou sy gesig uitdrukkingloos. Jannes is duidelik middel bestuur. Vir ’n geruime tyd. Hy weet hoe om boodskappe oor te dra sonder om sy eie opinie te lig.

“Ek verstaan die probleem met vuurwapens,” help ek hom so bietjie aan. “Die laaste ding wat jy nodig het, is om ’n klomp kriminele op die oppervlak te hê met die vuurkrag wat ek ingebring het.”

Jannes se gesig spreek van verligting, ten spyte van sy poging om dit te verberg.

“Wat ek voorstel is die volgende,” gaan ek vinnig voort voor ek sy aandag verloor, “die wapens is duur, so ek sal dit in veilige bewaring hier los. Ek vra net een vuurwapen vir persoonlik beskerming en ten minste my mes.”

Hy knik stadig.

“Verder wil ek vervoer hê vanaf die grond stasie. ’n Kaart van die omgewing. En ook soveel informasie as moontlik oor die laaste bekende ligging van Chantrea Deveraux.” Ek knik na die panele voor hom. “Hoe gouer ek haar vind, hoe gouer is ek uit julle hare.”

Jannes se skouers begin opgaan. “Dis…”

“Die feit dat sy weggeraak het onder julle bestuur moet sekerlik sleg lyk vir julle posisie. Jou posisie,” skiet ek in die donker.

“Dis nie my…”

“…so as ek jou kan uithelp, sal ons beide goed lyk.” Ek haal my skouers op asof ons kamerade is wat al jare saam klippe kou.

Hy heroorweeg sy posisie. ’n Stadige knik en saampers van lippe probeer ’n glimlag versteek. “Klink of ons mekaar kan help.”

“Natuurlik.” Ek strek my nek. “Ek moet egter so gou moontlik onder kom.”

“Sekerlik. Die volgende vrag vertrek oor ’n halfuur. Ek maak seker alles is in plek.”

Ek skud sy hand. “Onthou die rakshasa. Privaatheid sal dalk ’n goeie oorweging wees.”

Hy frons en knik dan gretig. Hy het klaar vergeet van my kollega.

Ek hou ’n hand uit. “Die permit?”

Jannes het moontlik gehoop ek gaan vergeet. Hy oorhandig die kaart amper teësinnig.

 

8

Die Brügger-Barret gee ek op met ’n seer hart. Die wapen is elke skerpskutter se droom. Oud, maar ’n staatmaker. ’n Handwapen in die omstandighede is seker die beter keuse so ek besluit op die XST. Ek verkies die projektiel wapen bo ’n plasma wapen. Weet nie waar ek gaan op eindig nie. Ten spyte van Jannes se sogenaamde bekommernis oor vuurwapens, is ek wel bewus van die smokkelhandel. Daar is wapens op die planeet. Die kanse is net beter om ammunisie op te tel vir projektiel wapens as krag-kaarte vir energie wapens.

Die ry prisoniers wat wag om die pendeltuig te betree, bestaan  basies uit twee groepe; die wat vreesbevange hulle nuwe lewe betree en die wat reeds opgegee het. Daar is reeds ’n paar wat gekneus is van hulle tyd op die Bethan. Wat my pla is die vroue wat ook deurgeloop het. Sekere dinge sit net nie reg met my nie. Dago staar aandagtig na die prosessie waar hy lê voor die krat waarop ek sit. Hy grom ligweg om afkeur te lig. Die Protektoraat wat die gevangenisse reguleer is sekerlik nie veel beter as die bemanning van die Bethan nie. Of enige van die ander skepe wat gevangenisse vervoer nie. Menseregte beteken nie veel hier nie. Waar gaan enigeen klagtes lê?

Ons sit afgesonder van die nuwe koloniste in die pendeltuig. Eerste klas vir ons, as jy wil. Ek staar deur die skakel-glas na die stasie wat wegval. Die estetiese sy daarvan beteken skielik niks vir my nie.

 

9

Dit staan bekend as ’n verspreiding-stasie. Allokasie van prisoniers. Die vyf voorafvervaardigde modules vorm ’n wye vierkant met een module dwars deur die middel. Elke module is omring en verder verbind met die ander modules deur verhoogde wandelgange. ’n Flikker-veld omring die stasie tussen vier wagtorings.

Ons word eerste uitgelaat en ek gooi my rugsak oor een skouer. Dago drafstap agter my aan oor die rooi sand na die middelste module wat as hoofkantoor dien. Die lugversorger aan die binnekant is lafenis na die hitte buite. Ek sit en wag (sonder goeie rede) op die stasiebevelvoerder. Dis nie asof hy of sy besig is nie. Die inneem van prisoniers is sekerlik die plig van personeel wat minder belangrik is. Ek haal my handwapen uit en begin dit skoonmaak. Miskien sal hulle die mes mis as ek hierdie in hulle gesigte rondwaai.

Die holo-informasie waardeur ek gesluimer het op pad na die planeet, het iets verduidelik van klassifikasies van gevangenisse in verskillende areas; die meer gevaarlike in streng bewaarde omgewings wat gepatrolleer word en afgesper is met elektroniese sensors. Die res het basies vrye toegang tot die planeet. Geweld teen die gevangenisse is ontoelaatbaar, en almal het basiese regte. Ek is nie seker of die skepper van die holo-info-nonsens enigsins al voet op hierdie planeet of soortgelyke planete gesit het nie. Basiese regte! Geweld ontoelaatbaar! Rehabilitasie!

Die vrou wat voor my kom sit is moontlik in haar vyftigs. Kort. Stewig. Imponerend.

Ek hou ’n hand uit. Sy ignoreer my. Haar hande gly oor die glaspaneel van die lessenaar en sy fokus op iets anders as ek. Geen naamplaatjie. Almal weet wie sy is.

“Ek is bevrees jy gaan jou wapen moet oorhandig,” sê sy sonder om enigsins jammer te lyk. Koue oë. Wantroue. Tekens van oorlewing hier vêr van die samelewing af. Ou wonde in daardie oë. Sy moes iemand lank terug erg ontstel het om haarself hier te bevind.

Ek oorhandig die XST sonder redekaweling. Geen nut om te argumenteer nie.

Sy knik en oorhandig ’n skyfie so groot soos my duim se nael. “Daar is ’n kaart op. Die laaste wat ons van die dokters gesien het, is gemerk. Êrens naby een van die vrye kolonies. Dit is veilig.”

Met ’n knik bêre ek die skyfie. “Ek het waardering vir die samewerking.”

Haar mond trek asof sy iets suur op die tong het. “Jy is op jou eie daar buite. Kom terug hierheen – of enige van die wag-stasies – en ons reël om jou van die planeet af te kry. As jy moeilikheid kry wat jy nie kan hanteer nie, gebruik die skyf se noodsein. ’n Patrollie sal jou optel.”

Die noodsein werk moontlik nie eers nie. Selfs al werk dit, sal geen huursoldaat wat sy sout werd is dit gebruik nie. Die daaropvolgende verleentheid …

Ek knik weer.

“Hoop jy kry haar,” sê sy sonder enige oortuiging.

Net dit.

Sy hou ’n hand uit. Nie om my te groet nie. Ek oorweeg om dom te speel, maar oorhandig die mes in elk geval.

Buite groet die hitte my met meer vriendelikheid as die Protektoraat. Dago draf die trappe op waar ek vir eers staan en die rye gevangenisse bestudeer wat steeds verwerk word by die ander modules. Pendeltuie wissel mekaar af vanaf die landings raamwerk om die res van die gevangenisse te vervoer.

“Kom ons gaan kry ons vervoer,” sê ek. Ons stap na een van die strukture wat soos ’n oop skuur lyk. “Ek wil daardie een hê,” wys ek vir Dago. Hy maak ’n negatiewe geluid. “Wat? Dis ’n klassieke fiets.” Die lug-fiets is geel en wit van kleur. Wel, dit was in ’n stadium. Miskien. Klassiek en ouderdom gaan seker meestal hand aan hand. My opinie. Ek mag verkeerd wees. Vyf Protektoraat personeel staan teen een muur en hou ons dop, hande op wapens. Nie seker of dit vir my onthalwe of vir Dago is nie. Die storie het sekerlik versprei oor ’n rakshasa.

Dit is wat ek myself vertel. Iets is nie lekker hier nie. Miskien is dit eenvoudig interne politiek. Miskien iets anders. Nie seker ek wil betrokke raak nie. Ek maak seker ek hou die klomp dop uit die hoek van my oog. Die wegbeweeg van die klassieke fiets veroorsaak ’n onderlangse gemompel. Ek stop voor ’n relatiewe nuwe rooi en goud fiets. Blink. Goed versorg. Sekerlik een van die wagte se persoonlike ryding.

“Hierdie een,” sê ek hardop. Ek is immers gesê ek kan enigeen kies.

Een van die wagte stoot homself vinnig van die muur af. Hy word aan die arm gegryp. Lippe saamgepers, tree hy terug.

“Pas dit op,” sê ek aan Dago terwyl ek die nodige sekuriteit uitklarings in plek gaan kry. Iemand mag dit dalk net ligtelik saboteur om ’n punt te bewys.

 

10

Die flikker-veld maak oop voor ons. Wagte staar ons aan met wapens wat nie heeltemal op ons gerig is nie. Anders as waar ek vandaan kom, het gasvryheid ’n ander betekenis hier rond.  Die lug-fiets, ’n Ducai-Zaki, stoot ’n meter in die lug op en trek ’n stofstreep agter my aan. Iemand is sekerlik ernstig vies vir my – die masjien is ’n pragstuk. Dago draf gemaklik langs die fiets, sy ses ledemate geskik vir spoed. Die rugsak met ons voorraad en toebehore is stewig vasgegespe op die tweede sitplek agter my.

Die omgewing om die stasie is oop met paaie wat uit ster vanaf die stasie as nexus. Die vryheid van die fiets maak my lighoofdig. Ek maak seker ek is ten minste ’n kilometer vêr voor ek spoed verminder en tussen ’n reeks kolossale rotse tot stilstand kom. Dago gaan lê in die skadu en lek homself. Geen hulp daar nie. Ek haal ’n rooi-bruin driekwartjas uit die rugsak. Dun materiaal, amper soos leer, met versterkte keratiek panele ingewerk. Dit verskaf goeie beskerming sonder om ongemaklik te wees. En dit lyk innemend. Ek klim ’n rots uit en verstel die verkyker. Moontlik het hulle my van die wagtorings af gevolg net om te sien of ek in die algemene rigting ry wat hulle kaart aandui. Ek twyfel sterk of ons enige satelliet-tyd werd is. Dis nou te sê indien hulle die moeite doen om satelliet beelding te gebruik om mee te begin. Die holo-kaart spring weer op oor my data-paneel. Dit lyk na ’n baie verouderde weergawe. Ek is oortuig die aanwysings daarop is nie die rigting wat ek moet neem nie.

Instink. Daardie gat-gevoel, soos Rowan dit so poëties stel.

Ons sit in gemaklike stilte en kyk na die laaste prisoniers wat in sessies vanaf die Bethan vervoer word. Ek op die rots, Dago onder by die fiets. Ek doen meestal die kyk werk.  Na ’n verdere uur verlaat die eerste  vrag tuig die stasie. Tegnies word hulle na hulle selle geneem. Ek volg die tuig met die verkyker. Kanse dat dit van koers gaan verander is redelik skraal. Daar is min lugverkeer om mee te begin. Ek maak verdere holo-vensters oop en maak verstellings aan die kaart voor ek die data-paneel gespe aan my voorarm. Ek stuur die fiets rustig in die rigting wat ek oorspronklik ingeneem het.

Net ingeval iemand tog ’n ogie oor ons hou.

Kom ons gaan kyk wat wag vir ons.

 

11

Die stad lyk of dit ’n oorlog deurstaan het. Dit het moontlik. Die natuur het genoeg tyd gehad om ’n ernstige poging aan te wend tot terugname. Wat ook al hier gebeur het, het lank terug plaasgevind.

Die fiets wieg rustig onder my terwyl ons die aansig betrag. Niemand skiet op ons nie. Nog nie.

“Kry vir my iets om mee te werk,” sê ek vir Dago. Sonder ’n geluid drafstap hy die stad in. Dis nie ons eerste uitstappie van hierdie aard nie.

Gebreekte strate gly stadig onder my verby. Deur die oop helm bestudeer ek die geboue. Geen tekens van lewe nie. Behendig swaai ek die fiets terug na die gebou wat my oog gevang het. Ek parkeer die fiets aan die binnekant van ’n groot laai area. Miskien was dit ’n restaurant. Wye trappe lei hoër op in die gebou. Die mure is gedeeltelik verbrokkel, wat ’n goeie uitkyk op die omgewing verskaf. Die boonste vloer gee my presies wat ek nodig het. ’n Derde van die dak is nog in plek. Beskerming teen die weer en ’n goeie uitsig oor die omgewing. Ek los die rugsak op die boonste vloer in ’n hoek. ’n Self-verwarmende pakkie verskaf ’n ete terwyl ek op die dak sit en die sonsondergang waardeer. Ek het genoeg kos vir ’n paar dae. Gelukkig het ek nie ’n innerlike weerstand teen militêre rantsoene nie. Water sal my ook ’n dag of twee hou, maar ek voorsien geen probleme om dit aan te vul nie. ’n Hele wêreld is tot my beskikking.

Dago het nog nie weer sy teenwoordigheid bekend gemaak nie. Van môre of sal hy vars vleis voorsien. Vanaand is dit verkenning.

 

12

Swaar wolke. Weerlig jaag oor die hemel. Ek ruik reën. Binnekort.

Die Tanto mes lê langs die rugsak. Geen teken van Dago, maar hy is duidelik besig so in sy gevaarlike stilte.

Ek forseer die vingers van die hand wat steeds die mes vashou oop en gooi dit in die hoek (die hand, nie die mes nie). Die mes is ’n pragstuk. Lyk nuut. Of dalk net mooi opgepas. ’n Skede sou waardeer word, maar ek kla nie.

 

13

Die reën gooi my bietjie af. Gelukkig werk dit beide kante toe. Vier mans en ’n vrou sit om ’n vuur op die derde vloer van die gebou. Die vloer self is oop soos meeste geboue hier rond. Geen wind nie. Iets word gespit oor die vuur.

Dago se subtiele roep het my tot hier gelei. Hy het intussen weer verdwyn. Hy weet ek kan hierdie klomp op my eie hanteer. Dit gaan interessant wees om te sien hoeveel mense vanaand kontak met ‘wilde diere’ gehad het. Daar sal natuurlik geen amptelike verslae wees nie. Ty se navorsing oor die vlak van korrupsie en die Protektoraat se bande met die bendes het ons ten minste oop oë hier laat inloop.

Amper mis ek die sesde lid van die groep. Hitte registreer vir ’n oomblik op die verkyker se infrarooi. Aan die oorkantse gebou. Vierde vloer. Indien ek van ’n ander rigting gekom het, sou ek hom gemis het. Gelukkig vir my het hy die kort lootjie getrek en is nie geneë daarmee nie. Sy hitte stempel word verdoesel deur iets, maar sy ongemak of geïrriteerdheid het hom weggegee. Net vir ’n oomblik.

Net om te verseker ek maak nie weer ’n fout nie, beweeg ek terug tussen die geboue en vat ’n ompad terug na die sesde lid se gebou.

Ek is nie bekommerd oor gesofistikeerde apparaat nie. Die feit dat hulle iemand in ’n ander gebou opgestel het, is genoeg om te wys wat die stand van tegnologie is. Soos ons vermoed het.

Die reënval dek my versigtige bestyging van die trappe. Die persoon lê plat op die vloer onder ’n termo regulerende kombers. My aanname dat hy slaap word bevestig deur ’n sagte snork. Die hitte wat ek gesien het, was moontlik toe hy ’n gemakliker posisie gesoek het.

Baie professioneel.

Wat wel my aandag trek is die skerpskutter-geweer. Verseker nie in dieselfde klas as my eie nie, maar ’n begin. ’n Oop blik staan langs hom met ’n mes ingesteek. Hy het definitief die kort lootjie getrek. Ek kan die vleis oor die vuur ruik aan die oorkant.

Hy moes iets gehoor het want sy kop kom orent. In een beweging is my knie in sy rug, linkerhand om sy mond en my mes teen sy keel. “Ek wil net gesels,” lieg ek in sy oor. Hy lê stil. “Waar lê jou affiliasie?”

Geen antwoord.

“Caveat of Konstantyn?” Die name beteken niks vir my nie, maar Ty ken haar storie. Die grootste twee bendes wat in die omgewing bedrywig is. Ook die maklikste manier om wapens op te spoor. Smokkelary is groot geld op strafkolonies. Hy verstyf. Laat hom maar wonder waar ek inpas. Hy begin wriemel onder my. “Ek verkies om die gesprek tussen ons te hou,” fluister ek gesellig. “Die alternatief …”

Hy skop op en probeer onder my uitdraai. Hy is in ’n netelige posisie met my knie in sy rug. Hy worstel en stamp die geweer kletterend kant toe.

Ek pas die alternatief toe terwyl ek hom teen die vloer vasdruk. My oë is op die groep aan die oorkant. My hoop is dat die reën enige geluide smoor. Ek was verniet bekommerd. Die vrou was nooit deel van die groep nie. Terwyl sy vriende pret het met die vrou, bloei hy onder my uit.

 

14

Gewapen met die kombers, ’n ekstra mes, skerpskutter-geweer en ’n plasma pistool, draf ek deur die reën na die oorkantse gebou. Hoewel ek seker is niemand anders gaan uitkyk hou nie, beweeg ek steeds buite direkte sig van die oop vloer. Daar is nie veel wat ek onmiddellik kan doen vir die vrou nie. Ek los die skerpskutter-geweer en kombers op die tweede vloer. Die plasma pistool is nie die beste wapen nie, maar is beslis nie oneffektief nie. Ek kan die vrou se snikke hoor. Die geluid van ’n rits wat op- of afgetrek word, is my teken. Ek stap vanuit die trap lading. Ek het ’n presiese idee van die opstel van die vloer soos gesien vanaf die ander gebou. Twee mans sit om die vuur regs van die trappe. ’n Verdere een is besig om vleis van die karkas te sny. Die laaste man stap van die agterkant van die vloer, besig om sy lyfband te verstel.

Twee skote vinnig afgetrek los die sjef wat nou direk voor my staan met ’n verbrande gesig en ’n rokende gat in die bors. Die skote stoot hom van sy voete af. Ek hou aan beweeg. Een van die twee sittende mans begin opstaan, sy hand beweeg na sy sy. Twee skote deur die bors slinger hom terug. Die tweede een lig sy hande op. Een skoot laat drie vingers verdwyn van sy linkerhand. ’n Tweede skoot in die skouer laat hom agteroorval. Broek-man staan met ’n oopmond en hande spring vinnig in die lug op. Ek hou die wapen op hom terwyl ek sy eertydse vriende nader en hulle wapens op ’n hopie gooi. Af-vingers lê op sy rug en gluur my aan terwyl ek hom ontwapen. Ek beduie en beide beweeg in knielende posisies. Broek-man se hande is reeds agter die kop, vingers inmekaar gevleg. Nie onbekend aan die prosedure nie. Af-vingers vertroetel sy hand in sy skoot. Ek ontwapen Broek-man ook. Wapen in hulle algemene rigting, stap ek na die vrou wat in ’n hopie lê aan die agterkant van die vertrek. Sy skarrel terug tot sy nie meer kan nie. Verskrikte oë staar na my oor opgetrekte knieë. Haar klere is geskeur en haar gesig dra tekens van geweld, oud en nuut. Sy is al vir ’n ruk die speelding van die groep. Ek hou ’n hand op en wys twee vingers. Gee my twee minute. Ek los die mes van die eertydse skerpskutter op die vloer voor haar.

“Wys my waar julle kamp is.” Die kaart hang in die lug voor Af-vingers.

Sy antwoord bevat geen behulpsame inligting nie, hoewel dit baie beskrywend is. Ek sou hom moontlik nog ’n kans gegee het, maar toe gaan staan en spoeg hy op my. Die tweede skoot deur sy kop is seker onnodig; maar dit is wonderlik vir effek.

Ek draai na Broek-man. Sy oë is amper so groot soos die vrou s’n. “Ek sweer ek sal jou nie doodmaak as jy saamwerk nie.” Hierdie keer is ek ernstig. Hy sien die waarheid in my oë. Die kaart vou oop voor hom in die lug. Hy druk met ’n vinger. Met ’n knik vou ek die holo skerms toe. Nou weet ek waar om te gaan vir verdere benodighede. Indien nodig. Ook welke area om te vermy in die tussentyd. Ek stap agteruit en holster die wapen. Sy oë is berekenend. Stadig ontknoop hy sy vingers en laat sak sy arms. ’n Glimlag begin aanstip oor sy gesig. Hy is slim genoeg om nie te dreig nie. My te vertel ek weet nie met wie ek mors nie. Hy hou dit vir later wanneer hy in ’n beter posisie is. Wanneer sy vriende saam met hom sterk staan. Een knie op die grond, stoot hy homself orent. Die vrou skreeu soos ’n besetene agter hom. Sy gebruik geen tegniek met die mes nie. Dit is nie nodig nie, haat en pyn gee haar alles wat sy nodig het. Die brutaliteit van haar aanval laat my besluit om op die tweede vloer te wag tot sy klaar is.

 

15

Sy sit met die kombers oor haar skouers, terwyl ek eers inventaris neem van die wapens. Die skerpskutter geweer in sy waterbestande houer oor my skouer, gee ek een van die handwapens aan haar. Vat eerder nie kanse met nog bendes in die omgewing nie, alhoewel Dago sekerlik genoeg verwoesting gesaai het op sy eie. Wie ook al verantwoordelik was om ons in ’n lokval of twee te probeer lei, gaan gou genoeg besef ons is nie die maklikste teikens nie. Sy neem die wapen met ’n vertroudheid van vorige gebruik. Ons beweeg vinnig tussen die geboue. Die reën is steeds ons vriend. Ek maak seker die pad wat ons neem is weg van die gebou waar ek kamp gemaak het. Ons swaai in die regte rigting na ’n paar blokke. Geen woord tussen ons nie. Beter so. Ek weet nie of ek myself wil begewe in die moeras van gevoelens wat sy nou deurgaan nie. My verhoudings met die teenoorgestelde geslag is grotendeels oppervlakkig. En ek verkies dit so. Vriendskap is iets anders. Lojaliteit is soms die dun lyntjie tussen lewe en dood.

Dago lê en lippe lek by ons aankoms. Hy gee ons gas ’n vinnige kyk en sleep die karkas weg wat hy vertroetel het. Sy staar gefassineerd, maar nie bang nie. Sy het moontlik geen idee wat hy is nie. In die donker sien sy net ’n troeteldier wat indrukwekkend lyk. Die ironie is dat die teenoorgestelde die waarheid is. Van Dago se oogpunt is ek die troeteldier.

Ek maak ’n vuur meer vir die lig as hitte. Hitte is egter wat sy nodig het. Bewend onder die kombers staar sy in die vlamme. Sonder om te vra berei ek een van die self-verwarmende pakkies kos voor en gee dit aan haar. Sy neem dit sonder ’n woord en val weg. Ek berei slaapplekke voor. Vêr uit mekaar. Ek is oortuig sy wil nie naby iemand – veral nie ’n man – wees vanaand nie. Dalk nooit weer nie.

Die reën het opgeklaar en die nag het ’n byt. Ek gaan lê onder ’n kombers in die een hoek. Die slaapsak los ek vir haar. Dago maak ’n geluid waar hy langs haar gaan lê en ek knik.

Hy sal wagstaan vanaand. En die nodige emosionele bystand verskaf. Hy is in diepe aanraking met sy eie emosies. Dis hoekom ons so goed saamwerk. Teenoorgesteldes.

 

16

“Dawn.”

Ek kyk op van die pan waarin ek eiers en stukkies vleis roer. Dago het die eiers êrens gekry om die vleis bietjie af te wissel. Ons hou van ’n gebalanseerde ontbyt.

“Logan,” sê ek en gaan voort met kos maak. Dis ’n begin.

Ontbyt is beter as wat ek gedink het dit gaan wees. Bietjie wilde smaak, maar geurig sonder om te veel met speserye toe te gooi. Speserye saam met die pot en pan is essensiële toerusting op hierdie uitstappies. Uit respek vir ons gas, eet Dago êrens buite sig. Na die opruim gaan sit ek plat voor haar. Nie te naby nie. Dago lê met sy kop op haar skoot. Dit het sy voordele om soos ’n kat te lyk. Selfs met vier oë.

Ek maak die kaart oop en laat dit voor haar hang. “Ons gaan in hierdie rigting.” Ek trek ’n kring op die kaart. “Jy is welkom om saam te gaan.”

Sy kyk wantrouig na my. Dago maak geluidjies. Sy krap sy kop.

“Tien minute. Jou keuse.”

 

17

Die son weerkaats op die vorige aand se reën. Die fiets staan in die binnehof tussen die toegegroeide geboue. Dago hou ’n ogie oor die omgewing, so ek is nie te veel gepla oor ongenooide besoekers nie. Dit gaan ’n ruk neem vir enigeen om weer hierdie stad te betree. Dis jammer ons kan nie bietjie geld maak met ’n skoonmaak kontrak nie. Vir die oomblik waardeer ek net die oorname van die natuur. Ek laat selfs my gedagtes toe om bietjie vry te hardloop. Wat het gebeur hier? Oorlog? Pandemie? Ek het nie genoeg agtergrond van die planeet nie, maar die gewone rigting van straf-kolonies het ten minste ’n vorige – mislukte – kolonie in die geskiedenis. Die grootte van die stad wys die kolonie het ’n stadium van welvaart beleef. Geboue is vol lewe om my. Voëls. Kleiner diere wat rondskarrel. Rankplante verf mure groen. Boomstamme druk beton opsy in hul strewe na bo.

My oë val op Dawn wat met hande voor haar gevou staan. Sy het my moontlik vir ’n wyle dopgehou. Ek gee haar ’n glimlag, maar dit het geen effek op haar nie.

“Ek het net een helm. Ons gaan jou kop moet toedraai vir die stof.”

Sy knik net. Dago gaan maar moet kat speel vir ’n wyle. Ek dink nie Dawn gaan enige transformasie aan sy kant op hierdie stadium goed hanteer nie.

 

18

Die fiets dreun ligweg onder ons. Ek hou ’n kleiner skerm met die kaart voor my oop. Die gebroke teerpad het plek gemaak vir ’n wye grasveld. Dawn hou haar arms tentatief om my middel. Die rigting wat ons volg is oop, so die gevaar dat sy sal afval is skraal. Dit moet egter moeilik wees vir haar. My nabyheid.

Dago hou gemaklik tred met die fiets. Straf-kolonies skram weg van tegnologie in die algemeen. Eerder: dit word streng afgekeur of beheer deur wie ook al die mag uitoefen. Elektrisiteit is ’n luuksheid. Vervoermiddels bo die vlak van diere-aandrywing, is gewoonlik ongehoord. Enigeen wat oor ons pad kom, sal ons ’n wye draai gee. Net die Protektoraat beweeg soos ons.

 

19

Ons sit tussen bome en bestudeer die opset onder ons. Die dorpie is duidelik sigbaar binne ’n houtpaal omheining. Miskien dertig plakker skuilings opgebou uit ou keratiek modules. Kleiner as die wat die Protektoraat gebruik, maar die voorafvervaardigde modules is ideaal vir herstrukturering. Die saamtrek stryk verder met die informasie vanaf Ty oor die basiese samelewing in die kolonie. Faksies wat saamstaan en probeer oorleef ten spyte van die sogenaamde beskerming wat die Protektoraat bied. Ek is oortuig die bendes van die sogenaamde gevaarlike sones het beter toegang tot die ander sones as wat ooit erken sal word. Word dalk selfs aangehelp.

Dit lyk relatief stil. ’n Plaasgemeenskap maak seker sin hier rond.

“Hou ’n ogie oor ons,” sê ek vir Dago. Dawn gee ons ’n vreemde kyk. Aan haar: “Ek gaan die fiets eerder hier los met die voorraad. Net ingeval.”

Sy sê niks, maar kyk terug na die dorpie.

Ons beweeg uit die beskerming van die bome en stap af na die dorpie. Die dreuning van ’n skip trek my aandag. ’n Vier sitplek, spleetvlerk ontwerp, maak ’n lui draai oor ons. Patrollie. Stabiliseerders draai en die skip hang soos ’n massiewe insek oor ons. Ek weier om my hande in die lug te steek, maar Dawn is reeds op haar knieë met haar hande agter haar kop. Die skip beweeg terugwaarts en gaan land. Drie wapens is op ons gerig. Ek hou my hande weg van die holster. Wil nou nie per ongeluk doodgeskiet word hier nie. Ek is seker verslae gaan maklik verlore, permit of nie.

“O, jy is in die moeilikheid,” sê ’n jong man met ’n gryns. Dit lyk of hy sy agtiende verjaardag verlede week gehad het. Sy vriende lyk ouer. Miskien met ’n paar dae.

Ek wag dat die skip se motore afskakel sodat ek duidelik gehoor kan word en hou die kaart omhoog. “Ek het ’n permit.”

“Jy het niks,” sê die jong man. Sy kollegas bied luidrugtige ondersteuning.

“Kragtens Klousule 98, sub A, sub (iv), van Ordonnansie 416 van die Regulasies onder die Strategiese Verordening ten aansien van die Wet op Straf Kolonies…” ek kry reeds wasige uitdrukkings van die drie,“…beroep ek my op die interpretasie soos gelees saam met Klousule 342 van dieselfde Regulasies.”

Die knuppel tref my teen die bobeen en ek sak af op een knie. “Onthou. Ek het Genoegsame Waarskuwing gegee,” sê ek en probeer die hoofletters te vokaliseer. Die volgende hou blok ek met my linker voorarm. Ek het my data-paneel gelukkig so gedraai dat dit uit die slag bly. Dit keer egter nie die oomblik se paniek nie. Dit is moeilik om die goed te vervang wanneer jy basies in ’n tronk sit. Sy oë word groot. Stywe vingers pik onder sy kort rib in en hy val met ’n snak op die grond. Ek tel die knuppel op en swaai dit ’n paar keer behendig. “Ek herhaal. Ek het waarskuwing gegee.” De hel met die hoofletters. Ek beweeg na die kant om Dawn uit die lyn van vuur te hou.

Sy twee kollegas kyk onseker na mekaar.

“Ek stel voor julle vat hom,” ek wys na die grond, “en gaan pla iemand anders.” Ek wys na ’n groepie mense wat van die dorpie aangestap kom. “Die grootmense moet gesels.” Seker nie die regte ding om te sê nie. Aan die ander kant; ek is in ’n bui vir moeilikheid soek. Linker-kollega lig sy handwapen. Die knuppel breek ’n paar essensiële beentjies in die hand en die wapen val ’n paar meter vêrder in die gras. Die terugswaai van die knuppel tref hom teen die kant van die kop en hy sak ook neer op die grond. Regter-kollega lig sy karabyn – en kyk in die loop van my wapen vas. My wenkbroue lig in vraagtekens. Die wapen val op die grond. Verskrik staar hy my aan. Doodluiters holster ek my wapen.

“Nou dat ons dit uit die weg het,” ek beduie na sy kollegas, “stel ek voor jy rapporteer die gebeure hier. Maak seker jy kry die presiese aanhaling wat ek gebruik het. Ons wil nie ’n misverstand hê nie.”

Hulle kry geen hulp van my kant af om na hulle skip toe te sukkel nie. Die vlieënier staar met groot oë deur die skakel-glas. Ek klim in en swaai die permit voor haar. Sy deins terug, maar het geleer van haar kollegas om nie ’n wapen op my te rig nie. Sy fokus op die permit en sê iets sag vir haarself. Ek hoor dit en glimlag breed.

“Dit is inderdaad so. En dit is inderdaad ek,” sê ek vriendelik. “Bly om te hoor mense is bewus van my. Jy lyk na die meer intelligente deel van hierdie span.” En Rowan dink ek het nie ’n sin vir humor nie. Ha! “Jou verslag moet die volgende noukeurig bevat.” Ek rammel die wetlike nonsens af. Ty het my dit ingedril. Ek moet dit nog twee keer herhaal voor sy dit korrek op haar data-paneel gelaai het.

Ons wag vir die skip om te vertrek voor ons die dorpsmense nader wat ons in stilte aanstaar.

’n Ou man se gesig helder skielik op. “Dawn? My kind? Ons was so bekommerd!” Dawn spring op met ’n snik en werp haar in sy arms. Hy streel haar hare terwyl sy haar kop in sy skouer hou. “Wat het gebeur?”

“Sy is verkrag,” sê ek. Daar is geen maklike manier om dit te sê nie.

“Verkrag? My kind?” Die ou man se skok is hartverskeurend.

“’n Dokter sal goed wees,” sê ek.

Sy oë is op my terwyl hy fluister in Dawn se oor. Sy knik.

“Jy is welkom in ons dorp,” sê hy. “Ek weet nie wie jy is nie, maar vandag het jy nie vriende gemaak nie.”

Ek neem aan hy bedoel die Protektoraat, maar is ook nie heeltemal seker nie.

 

20

“Ek is nie hier om julle te beskerm nie,” sê ek sag.

“Ek is bly om te hoor.” Ouman Carter is sy naam. Ouman is meer ’n titel as ’n refleksie van sy ouderdom. Soos ’n burgemeester. Hy geniet my oomblik van ongemak. “Dis nie asof ons jou dienste kan bekostig nie.”

Meer ontspanne lig ek die drankie in erkenning. Nie ’n slegte brouery wat hulle hier het nie. “Ek beweeg net deur.”

“Niemand beweeg net deur nie.” Hy gee ’n moeë glimlag. “Dis ’n tronk.”

“En hulle was hier vir…?”

Hy weet wie ek bedoel. “Belasting. Jy het die proses effens gekortwiek met jou eskapades.”

“Eskapades,” glimlag ek. “Dis een manier om ’n pak slae te beskryf.”

“Hulle gaan jou kom soek. Nie hier nie. Maar êrens langs die pad. Mens raak maklik weg hier rond. Baie wilde diere.”

Ek knik in erkenning vir die feit. Hy bedoel die tweebeen tipe.

“Gaan dit moeilikheid maak vir julle?”

Hy skud sy kop. “Nie meer as gewoonlik nie.” Hy waai ’n hand. “Ons kan dit hanteer. Die skouspel maak wat-ook-al ons rigting kom, die moeite werd. Ons wou al lankal een van hulle ’n bloedneus gee.”

Ons geniet die koel aandwind in stilte. Mense beweeg op en af op die klip paadjies, besig met hulle take. Daar is selfs kinders wat luidrugtig rondhardloop. Amper ’n normale opset. Mens kan amper vergeet waar ons is. Carter word respekvol gegroet deur almal wat verbystap. Nuuskierige blikke word in my rigting gegooi, maar niemand nader ons nie.

“Ek soek iemand.”

Hy knik. “Ek weet.”

Ek beduie vir hom om voort te gaan.

“Daar is gereeld mense soos jy wat hier deurbeweeg. Huursoldate meestal.”

“En hulle soek…?”

Hy vat ’n sluk van die drank. “Daar is altyd iemand wat gesoek word. Kop-jagters kry soms mense wat hier probeer wegkruip.”

“Snaakse plek om weg te kruip.”

“Maar ’n goeie plek. Wie gaan hier kom kyk? In teorie ten minste. Jy weet daar is omstandighede wat erger is as om hier ’n lewe uit te krap.”

Ek moet toegee. Die dorp neem skielik ’n ander dimensie aan in my oë. Wat het hy gedoen om hier te beland? Wat het meeste van hierdie mense gedoen? Hoe lank is hulle al hier? Die dorpie lyk of dit goed gevestig is. Betaal die bewaarders so ietsie om vrede te bewaar en jy kan ’n rustige lewe hê. Niemand lyk soos kriminele nie. Die kinders is ’n goeie teken dat lewe hier bestendig is.

Ouman Carter gaan voort: “Dan is daar die mense wat kom om iets goeds te doen en iets slegs gebeur met hulle.”

“Soos ’n dokter miskien?”

“Ja. ’n Dokter wat dalk weggeraak het. Iemand belangrik. En nou soek velerlei mense haar. Vir welke rede ook al.”

Ek aktiveer die holo-skerm met Chantrea se beeld. “Moontlik hierdie dokter?”

“Ah. Daardie dokter,” sê Carter.

“Dit gaan makliker as wat ek gedink het,” sê ek.

Hy gee ’n lang lag. “O, nee.”

“Hoekom nie?”

Carter vat ’n paar lang teue. “Sy het verdwyn. So ruk terug.”

“Tog weet jy van haar?”

“O ja. Amper almal weet van haar.”

Hier is ’n storie. Miskien het hy net lanklaas met iemand anders as sy dorpsmense gepraat en soek ’n gehoor, so ek sak rustig terug in die stoel. Ek is nie te haastig nie. “Vertel my.”

“Seker. Sê my eers iets.”

“Vra maar.”

“Jy is nie alleen hier nie. Waar is jou maat?”

“Veilig,” sê ek. “Hy verkies vir die oomblik om buite sig te bly.”

“Dis ’n dier? ’n Troeteldier?”

Ek lag. “Moenie dat hy jou hoor nie.”

Carter frons. “Intelligent?”

“Moontlik meer as ek. Of jy.”

Die stilte raak lank, maar ek los dit daar.

“Die dokter,” gaan hy voort asof ons nie ’n ongemaklike oomblik beleef het nie, “sy is populêr.”

“Ander mense het haar ook kom soek?” Soos verwag.

“Ja. Maar nie mense soos jy nie.”

My beurt om te lag. “Jy ken my nie, Ouman.”

“Ek is lank genoeg hier om mense te lees. Jy is ’n man van geweld. Dood vergesel jou, maar regeer jou nie.”

Ek glimlag. “Okay. As jy so sê.”

“Daar is ’n spesifieke rede hoekom ek op hierdie moddergat geplaas is,” sê hy. “Maar ek sien nie myself in jou oë nie.”

Ek hou die glimlag.

“Net my waarneming.

Vir ’n lang ruk sit ons in stilte.

Hy gaan voort: “Die Dokter het hier aangeland en van dorp tot dorp gegaan.” Hy lag. “Dorpe. Seker nie soveel ’n dorp van waar jy kom nie.” Hy gaan voort: “Medisyne verskaf sovêr sy kon. Gehelp waar sy kon. ’n Engel. Aan die begin is sy beveilig deur die Protektoraat, maar na ’n ruk het hulle seker maar verveeld geraak en sy was op haar eie. Net die paar helpers wat sy gebring het.”

“Ek kan dink wat gebeur het.”

Hy knik. “Sy moes belangrik wees, anders sou daar nie so baie mense van Buite kom om haar te soek nie.” die vraag hang in die lug.

Ek knik net. “Wat het gebeur met haar? Sovêr jy weet, in elk geval?”

Hy haal dun skouers op. “Sovêr ons weet het een van die bendes haar opgetel. Indien sy leef – en dit is onwaarskynlik – wens sy sy is dood teen hierdie tyd.”

Sy sentimente is so naby aan my vorige gedagtes oor Dawn dat ek vinnig opkyk. Hy sien dit en glimlag tevrede.

“Die laaste waar enigeen haar gesien het?”

“Ek kan jou wys.” Hy sien die uitdrukking op my gesig. “Op ’n kaart.” Hy wys na die data-paneel op my arm en glimlag. “Ek gaan beslis nie saam met jou die pad aanvat nie. En ek dink nie jy wil enigeen rondry in elk geval nie.”

“Jammer,” sê ek. “Ek het dit nie so bedoel nie.”

Carter waai die verskoning weg. “Ek is lank in die land.”

Ek maak die kaart oop en hy bestudeer dit aandagtig. “Hier. Min of meer. Daar was ’n ou skuiling hier rond. Ek onthou van die faksies het so bietjie kopgestamp oor die area, maar die magspel is gewen deur die goeie ouens.”

“Goeie ouens?”

Geen glimlag hierdie keer nie. “Ons is nie almal slegte mense nie. Ons probeer ’n lewe uitkap in hierdie wêreld.”

Ek hou ’n hand op. “Ek dink ek moet gaan slaap. My mond en my brein werk nie so lekker saam vandag nie.”

Hy knik. “Ek is te sensitief in elk geval. Die ding met Dawn sit nie lekker nie.” Hy maak sy drankie klaar. “Sê my eers, hoe het jy by die aasvoëls verbygekom? Die Protektoraat?”

Met ’n lag maak ek my glas ook leeg. “Ek het ’n obskure Wet aangehaal. Hulle soek seker nog steeds.”

“Jy het regs agtergrond?”

“Hel, nee. Vertrou nie daardie tipe mense nie. Maar ek ken mense wat baie goed is om dinge te soek.”

“Jy gaan die wet-goed moet verduidelik aan my.”

“So, tegnies sê dit ek kan as ’n konsultant myself beskerm in omstandighede waar ek bedreig word. Solank ek nie die vlak van geweld oor skrei waarin ek myself bevind nie.”

“Jy is ’n konsultant nou?”

“Naaste interpretasie,” lag ek. “Dis die een ding wat vir my werk van hierdie ‘wet-goed’, soos jy dit so mooi opsom. Alles is oop vir interpretasie.”

Hy ruk stilweg van die lag. “Kan jy nou glo. Gebruik die wet om iemand ’n pak slae te gee. Kom. Ek wys jou waar jy kan slaap vanaand.”

 

21

Dawn bly staan by die deur na sy dit toemaak. Dalk om haar oë aan die donker te laat gewoond raak. Ek los nie die hef van die mes nie. Maak steeds of ek slaap. Sy stap stadig, saggies nader. Sy is nie hier om dankie te sê nie.

“Vroeg vir ontbyt,” sê ek sag.

Sy ruk en tree terug. Sy sien nie die mes nie. “Jy moet gaan.”

Ek sit regop. Stadig, wil haar nie verder verskrik nie. Ek onthou wat sy met ’n mes kan doen, alhoewel sy nie gewapend blyk te wees nie. “Hoekom?”

Vir ’n ruk sê sy niks. “Hulle gaan jou probeer oorrompel.”

“En hier dog ek Ouman Carter hou van my.”

“Hy doen.”

“Maar?”

Sy is weer stil vir ’n rukkie. “Jy moet nou gaan. Hulle soek jou wapens.”

“Ek het nie alles by my nie.”

Ek sien haar knik in die maanlig wat deur die venster sypel. “Hulle weet nie van jou vriend nie. Wat hy regtig is nie.”

“En jy doen?” So dit gaan nie oor my nie. Sy is bang Dago gaan hulle doodmaak.

“Ek is nie dom nie.”

“Wys my die vinnigste pad hier uit.”

 

22

Drie dae se rit sonder enige insidente. Rondom die tweede dag het ons egter ’n stertjie opgetel. Vêr terug en beslis nie meganies nie. Hoewel die fiets spoed het, vou ek die solar panele gereeld uit om die battery te herlaai. Goeie verskoning om dit dan bietjie rustiger te vat.

Ons het die Protektoraat nou al vir ’n keer of so vermy (skuiling in ’n murasie, laaglê in digte bosse), so ons weet dit is nie hulle nie.

Ek is nuuskierig.

 

23

Die brug is heel genoeg om ’n rit daaroor te waag. Plantegroei het reeds ’n houvas gekry en die strukturele integriteit van die brug word stadig maar seker afgebreek.  Rivierwater skuim dertig meter onder ons. Iets massief breek deur die onstuimige water vir ’n oomblik, voor dit weer wegsink. Met arms geleun op ’n stewiger gedeelte van die reëling, staar ek oor die water terwyl ek ’n vrug oopsny. Daar is maar altyd iets rustig aan vloeiende water, maak nie saak waar jy jou bevind nie. Of wat daarin leef nie.

Dago maak ’n skerp geluid en ek deel van die vrug met hom. Hy toring oor my in sy huidige vorm wat meer menslik vertoon. Menslik – ook maar net omdat hy regop loop met twee bene, arms en ’n kop (net een) op die regte plekke. Met sy dun ledemate, sorgvuldig toegedraai in materiaal soos ’n mummie, lyk hy bedrieglik swak. Sy fisiologie is natuurlik heeltemal buite die perke van enigiets wat ek verstaan. Ek kan nie insien waar massa heengaan of terugkom wanneer hy byvoorbeeld ’n kleiner of groter vorm aanneem nie. Dan weer – ek is meer soldaat as wetenskaplike. Okay. Nét soldaat. Dit is dalk die rede hoekom ons vriende is; ek aanvaar hom maar net soos hy is. Beide Maya en Tyesha wil altyd iets meer probeer uitvind oor hom.

Die dowwe metaal masker wat hy verkies om te dra in hierdie vorm, draai in my rigting. ’n Uitdrukkinglose gesig is uitgebeeld daarop. Geen openinge vir oë of mond is sigbaar nie. Sy kop is verder ook toegedraai. Nie ’n stukkie vel wys nie. Hy maak ’n string geluide. Ek kyk na die beboste area aan ons linkerkant.

“Seker?” Ek weet van beter as om hom te vra, maar dit is nie omdat ek hom nie vertrou nie. Hy het vroeër die gebied uit die lug verken, maar die bome is dig. “Hoeveel mense?”

Hy gee ’n indikasie.

“Miskien ’n tipe nedersetting?”

Ophaal van skouers. Hy gooi die leë skille oor die kant van die brug. Die vrug het nie naby sy mond gekom nie.

“Kom ons gaan kyk.”

 

24

Lang, dun, vinger bome reik na die hemel om ons. Dago sit gemaklik agter my met die rugsak op sy skoot. Ek leun terug met die handvatsels langer gestel vir gemak. Daar is verbasend baie spasie op die fiets. Ek gaan dit beslis probeer huis toe vat. Die pad is heeltemal toegegroei so halwe kilometer in die woud in. Gelukkig het die Ducai-Zaki geen probleem om die natuurlike oopte te volg nie. Was dalk ’n pad op ’n stadium.

Om ’n draai en…chaos.

Ons stop vêr genoeg om nie opgemerk te word deur al die aksie wat plaasvind nie. Ek draai die fiets in die digter bosse in en sak langs Dago neer agter ’n omgevalle stomp.

“Aaaah crap,” sê ek met gevoel.

Die pad loop reguit voor ons uit. Die seil van die tente wat aan beide kante van die pad staan is vuil en opmerklik vele kere reggemaak. Soms beter as ander kere. In die pad af staan en sit ongeveer dertig mense; mans, vroue, kinders. Verslae. Weerstandloos.

Die paar mense wat nog weerstand bied word vinnig oorkom. Hulle is ongewapen of moontlik ontwapen. Drie liggame lê eenkant, bewegingloos. Regoor die liggame staan ’n verdere twee op hulle knieë met hande op die koppe. Hulle is bebloed en ek neem aan hulle tree op as wagte of beskermers van die groter groep.

Die oorweldigers is grotendeels geklee in skakerings van militêre drag, maar dit blyk nie te geredelik beskikbaar te wees nie. Hulle sou snaaks gelyk het in die wanverhouding van die gedeeltelike uniforms, as dit nie vir die brutaliteit van hulle optrede was nie. Twee para-militêres stap nader na die twee wagte en swaai pangas of kort-swaarde. Die onthoofde liggame val vooroor.

Dago beweeg. Maar ek het ook die beweging agter ons gehoor. Ons stertjie het uiteindelik besluit om nader kennis te maak.

 

25

My mes is teen sy – wat uitdraai om ’n haar te wees – keel ’n breukdeel van ’n sekonde voor ek die koue lem teen my eie keel voel. Ek lê  op my rug terwyl sy oor my leun, ons oë vasgenael op mekaar.

“Eerste indrukke,” sê sy sag, ’n effense glimlag op haar lippe.

“As julle klaar is,” sê ’n manstem, “kan ons dalk eerder gesels.” My oë flikker kant toe. Die man hou ’n panga teen Dago se nek. Of eerder – Dago laat hom toe.

Ons lemme beweeg nie.

“Of het julle nog ’n oomblik of twee nodig?”

Sy tuit haar lippe en die lem verdwyn van my keel af. Net vir effek hou ek my lem nog ’n oomblik teen haar keel voor ek dit terugtrek. Sy gee my ’n breë glimlag terwyl sy terugleun.

Drie van hulle. Twee vroue. Blondine met die mes, hare in stywe vlegsel teen haar rug af. Sy is om een of ander rede gefassineerd met my. Die donkerkop het ook ’n vlegsel, maar die kante van haar kop is geskeer en tatoeëermerke krul van haar slape af terug. Die man het kort hare en baard. Al drie geklee in militêre drag en T-hemde. Stewels. Vuil en ruik na sweet. Miskien geborg van buite, of hulle dryf handel met die Protektoraat. Lyk nie na die bende tipe nie. Nie so seker waar hulle inpas nie.

“Yeager,” sê hy. “Sarah en Megan.” Hy wys na die blondine en Mohawk.

“Logan,” sê ek. “Ek wil voorstel jy vat daardie lem weg.”

Yeager kyk af na Dago asof hy van hom vergeet het. Die lem wys skielik grond toe.

“Jou mense ?” Ek wys na die toneel voor ons.

“Onbepland,” sê Yeager. “Hier is nie veronderstel om bendes te wees nie.”

“Jy ken hulle?”

Hy knik. “Nie die bende nie.”

Ek skud my kop. Nou is nie die tyd nie. “Is hulle in gevaar?”

Hy gee my ’n skuins kyk.

Ek probeer om nie my oë te rol nie. “Die enigste mense wat effektiewelik weerstand kon bied is dood. Is die ander in onmiddellike gevaar?”

Hy gee my ’n berekenende kyk. “Nee. Ek dink nie so nie.”

“Wie is die bende? Wat kry hulle hieruit?”

“Reeds gesê ek ken hulle nie. Dit gaan afhang wat hulle soek.”

Hy brei nie uit nie.

Ek het nie tyd om stadiger te praat nie. “Ons het nie tyd hiervoor nie. Moet óns hulle uithaal, of gaan julle help? Ek vra maar net omdat ek nie wil hê julle moet in ons pad wees nie. Miskien wil julle eers tee maak en dit bespreek?”

Yeager se blik is vinnig na die twee vroue. “Jy is nie wat ons verwag het nie.” Hy lyk regtig uit die veld geslaan.

“Nog nie.” Al weet ek nie wat hy bedoel nie, kan ek reeds sien hoe ’n klap of twee hom in die regte rigting in sal help.

Hy gee my ’n vinnige kyk. “Vertroue is moeilik om verdien te word hier rond.”

Ek sê niks. Weet nie wat vertroue met enigiets te doen het nie. Hy mors my tyd.

“Jy ken nie eens die mense nie,” gaan hy voort.

Ek swets. Regtig?  Nou wil hy gesels? “Bly uit ons pad uit.”

“Ek gaan saam,” sê Sarah.

Megan gee Yeager ’n klap teen die kop en beweeg ook nader.

“Okay. Okay. Wat stel jy voor?”

 

26

Yeager en die twee vroue stap uit in die oopte. Dit vat ’n oomblik voor hulle opgemerk word.  Uitroepe bring hulle tot stilstand. Hande in die lug. Die aandag word weg gevat van die paar vroue wat betas word. Die leier van die bende stap nader.

“Wie de hel is julle?”

“Ons soek nie moeilikheid nie,” sê Yeager in ’n gepaste skril stem. Miskien praat hy regtig so wanneer hy onder druk is.

Die leier het net oë vir die twee vroue. Soos ek gehoop het. Twee van sy manne stap nader, neem posisie in langs hom.

Nie een van die bende het vuurwapens nie. Sovêr ek kan sien in elk geval. Ons sal vinnig uitvind.

Die leier se linkerhand-man ruk agteroor en val. Die leier gee hom ’n skewe glimlag en verstar. Hy buk af en reik uit. Die regterhand-man ruk ook en val terug. Kopskoot. Elk.

“Wat?” die leier kom orent.

Yeager gryp na sy panga wat agter sy rug deur sy belt ingedruk is. Die leier se hand gaan nog op toe ’n gat in sy voorkop blom. Yeager swets. Nie seker of dit is omdat hy skrik, of sy afkeuring weergee nie.

Ek verskyn van die linkerkant af uit die bosse. Drie bendelede voor my. Mooi groepering. Die loop van my wapen teen die kop van die middelste een soos hy verbaas omdraai in my rigting. Die skoot verander sy gesig in ’n pappery en stoot hom weg van my. Ek swaai om en skop laag na die agterste man. Sy knie splinter. Hy sak neer met ’n kreet. Die oorblywende man draai om. Te stadig. Hy staar in die loop van my wapen. En sy gesig word weggevee deur plasma energie. Ek draai terug na die man wat kreun op die grond. Twee bendelede verder terug in die pad kom aangehardloop. Ek skiet die man op die grond deur die kop. Alles gebeur so vinnig, ek dink nie die ander bendelede besef regtig wat gebeur nie. Twee skote deur die lyf slinger die vrou wat op my afstorm eenkant toe. Die man agter haar neem alles vinnig in en swenk in die woud in.

Ek los hom vir Dago.

Die oorblywende twee lede van die bende sit op hulle knieë met hande op hulle koppe. Gebeur deesdae gereeld in my teenwoordigheid. Sarah en Megan staan met groot oë en kyk na my terwyl hulle die twee oorblywende lede ontwapen.

Yeager stap stadig nader. “Was dit nodig?”

Ek gee hom ’n stil kyk.

“Hulle het nie vuurwapens gehad nie.”

“Hulle het wapens. Hulle het gemoor. Ek het geen simpatie nie.”

’n Skreeu van die bosse weergalm en word vinnig afgesny. Yeager staar in die woud in. “Wie is julle?”

 

27

Die tent is groter as die res. Moontlik skoner. Wat my wys Yeager en sy meisies is meer as net ’n patrollie gebonde aan die gemeenskap waar ons ons bevind. Vlugtelinge of te nie. Dago sit kruisbeen in ’n hoek. Met die masker is dit moeilik om te sien of hy iemand aanstaar of eenvoudig sit en slaap. Yeager en Sarah sit teenoor my op kussings. Daar is nie meubels nie. Meubels is ’n beslommernis vir vlugtelinge. Megan staan by die ingang, haar oë op my. Ek neem aan haar posisie is meer om mense te verhoed om in te kom as om wag te staan oor ons.

“Miskien is nou ’n goeie tyd om oop kaarte te speel,” sê ek.

“Wel, eerstens het ons geen…” begin Yeager.

“Ek verkies om met die mense in gesag te praat. Dit spaar tyd,” sê ek terwyl ek vir Sarah kyk.

Sy glimlag. Haar mes tol tussen haar vingers. Yeager maak ’n onplesierige geluid.

“Hoekom probeer ons nie dalk…” Yeager stop wanneer Sarah haar hand in die lug hou.

“Hy is reg. Tyd is nie aan ons kant nie. Wag buite.”

Sonder ’n woord verlaat hy die tent, Megan volg en maak die tentopening toe. Deur die skrefie wat oopbly is haar rug sigbaar waar sy weer posisie inneem.

“Hy probeer,” sê Sarah.

“Ek sien so.”

Ons staar mekaar aan vir ’n lang ruk. Dago maak geen geluid of beweging. Om die waarheid te sê, Sarah het moontlik al vergeet hy is nog hier.

“Hoekom is jy hier?” vra sy.

“Ek het gedink almal weet reeds. Het Carter geheime vir jou?”

Sy grinnik en gee toe. “Hy het gewoonlik sy eie agenda.”

“So agtergekom.” Ek vryf my hare na agter. “Hy het ’n talent om vertroue in te boesem.”

Sy knik ingedagte. “Beslis.”

Ek haal die holo-skyf uit my sak. Die beeld van ’n jong meisie spring op. Ek verstel die beeld en Chantrea se gesig spring op. “Ek is op soek na haar.”

Sarah gee ’n vinnige kyk. Geen verbasing te lees op haar gesig nie. “Jy is nie die eerste nie. Ook nie die laaste nie.”

“Ek is sterk van plan om die laaste te wees.”

“Dis…gekompliseerd.”

“Wanneer is dit nie.”

“Wat is jou intensies?”

Ek lag. Sy vind nie die humor daarin nie. “Die manier wat jy dit sê,” verduidelik ek. “Ek is nie hier om haar uit te vra nie.” Ek sien Sarah mis steeds die punt. Miskien is hierdie humor ding nie vir my nie. Miskien is dit iets anders. Mace is beter met dinge wat met vroue te doen het. Dit maak my net deurmekaar. Ek loer skuinsweg na Dago om te sien of hy my ongemaklikheid geniet. Moontlik. Moeilik om te sê. “My kontraktuele verpligting is om haar veilige begeleiding te verskaf.”

“Waarheen?” Sarah lyk verward.

Met ’n vae gebaar: “Weg van hier.”

’n Frons tussen haar oë. “Ons kan later gesels.” Sy staan op. “Julle kan hierdie tent hou. Ons beweeg môre vroeg. Ons sal veilig wees vanaand.”

Dit klink na ’n kombinasie van ’n steek en ’n tugtiging vir die gebeure vroeër.

“Megan sal iets bring om te eet.”

 

28

Ek sit op ’n rots onder die twee mane van Rutger III. Die grens van die woud lê teen my rug waar ek uit staar oor die grasvlakte. ’n Trop herbivore wei, salig onbewus van Dago wat besluit het om te jag vanaand.

“Pragtige aand,” sê Sarah en kom sit langs my.

“Dit is,” gee ek toe. Niemand behalwe ons nie. Ek sou ’n wag saam met haar verwag het. Maar sy kan sekerlik na haarself omkyk.

“Daar is min roofdiere in hierdie omgewing. Dit is die rede hoekom die knopier rustig wei saans.”

“Ek hoop jy het iets van Carter se brouery afgebring,” sê ek om haar aandag af te trek van die beweging in die lang gras wat afsluip op die knopier. Ek het gedink dis koeie. My kennis is maar skraps. Alles wat gras eet is ’n koei vir my. Soms het dit net horings.

Sarah krap in die skouersak wat sy saamgebring het. “Hulle weet wat hulle doen.”

Ek neem die bottel en neem ’n behaaglike teug terwyl ek loer in die rigting van die knopier. Een van hulle verdwyn skielik in die gras en die res spat in verskeie rigtings met paniekerige bulk geluide.

“So. Hoe het jy hierdie gekry?” Ek lig die bottel. Gedeeltelik om haar aandag steeds weg te hou van die slagveld in wording voor ons.

“Carter is vrygewig wanneer dit hom pas.” Haar oë blink in die maanlig. Sy reageer nie eens op die bulk geluide nie.

“Miskien het hy jou gevra om ’n oog op my te hou?” stel ek voor.

“Miskien,” sê sy.

“Vir welke rede?”

“Ons sal maar moet sien,” sê sy. Ek dink sy is besig om te terg. My gesig raak warm.

Nie seker of ek gered word uit die situasie en of ek dit verder wou ondersoek nie, maar ’n geluid vanuit die woud laat ons wegrol van mekaar. Van die rots af en ons is op ons voete. Sarah het ’n mes in haar hand, lem na onder gehou. Ek is beïndruk met haar. Dit kon ’n wilde dier wees. Of iemand van die tent-mense (soos ek hulle sien). Maar die steelse manier van beweging laat instinkte inskop.

Wapens op ons gerig, staan twee mans en ’n vrou wat uit die bome te voorskyn getree het. Ek wens ek het my jas aan. Ek raak te gemaklik.

“Ek ken jou,” sê ek aan die man links wat voor Sarah staan. Hy het ten minste die ordentlikheid om skuldig te wil lyk. “Ah. Nou onthou ek. Die Ducai-Zaki is joune.” Ek korrigeer: “Was joune.”

“Waarvan praat hy?” vra die vrou.

“Dis niks,” sê hy bot.

“Is jy mal?” vra die ander man. “Hierdie is persoonlik?”

“Hierdie is dalk ’n goeie tyd om julle te herinner aan Klousule 98…” begin ek.

“Ons is nie offisieel hier nie,” sê Fiets-man. “Jy kan jou slimmighede vir jouself hou.”

“Bly ons verstaan mekaar,” sê ek. “Net een ding nog.”

Die drie staar, grepe op die wapens versit senuagtig.

“Rakshasa.”

Hulle kyk onseker rond.

My mes sink in Fiets-man se skouer en hy tol weg van die pyn. Iets wawiel uit die bome en neem die ander man in die verbygaan saam. Die vrou word skrams getref deur dieselfde beweging wat moontlik my lewe red. Sy trek die sneller en skote klap. ’n Hamerslag teen my linkerskouer swaai my van my voete af. Fiets-man gryp die vrou aan ’n arm en ruk haar orent. Hulle hardloop na die beskutting van die bome terwyl ’n paar halfhartige skote in ons rigting gevuur word.

“Los hulle,” kreun ek, wanneer Dago hulle begin volg. Hy steek vas, sy kop swaai tussen my en die prooi. Hy gee ’n brul in die nag in en draf op sy ses pote nader. Hy gaan sit op sy hurke en hou ons dop.

Sarah hurk langs my en ondersoek die wond. “Dit lyk of die koeël regdeur is.” Haar oë beweeg na die kant van my kop. “Dis nie goed nie…”

Dankie tog vir projektiel wapens. Energie sou meer skade aangerig het. Help egter nie met die pyn nie. My visie begin verdonker. My kop voel nat.

Skok.

Mens sou dink jy raak mettertyd gewoond daaraan om geskiet te word.

 

29

Wit.

Nie wit aan die einde van die tonnel nie, maar gesteriliseerde wit. Mediese wit.

“Jy is een van die gelukkigste mense wat ek al gesien het.”

Ek draai in die rigting van Sarah se stem. Sy sit gemaklik in ’n metaal stoel langs my bed.

“Hoe so?”

Ek drink die water wat sy aanbied en probeer weer. Hierdie keer werk my stem.

“Die skouer wond het septies geword. Die skoot wat jou rakelings teen die kop getref het, het egter geen permanente skade aangerig nie.”

“Verduidelik die hoofpyn,” sê ek. Sy lag, alhoewel ek dit nie as ’n grap bedoel het nie. “Hoe lank?”

“Vyf dae.”

Ek peusel ’n rukkie aan die informasie. “Waar is ons?”

“Mense wat ons ken. Ons is veilig.”

Die deur skuif oop aan die oorkant en ’n man loer in. Die wag – dit staan buite alle twyfel wat sy funksie is – geklee in swart harnas met ’n Kalashnikov aanvalsgeweer oor sy bors, is verseker ’n hoë klas huursoldaat. “Daeshaun wil jou sien.” ’n Naam wat bekend is aan my. Dit bring ’n mate van gerustheid.

Sarah staan op en raak aan my skouer. “Rus. Ek sal weer inloer.”

“Waar is Dago?”

Sy kyk nie om nie. “Veilig.”

Ek lê in stilte en wonder.

 

30

Die mediese boeg spog met gesofistikeerde apparaat. Verchroomde mediese robotte hang van plafon gemonteerde spore oor die vier beddens. Holo-skerms is tans af, maar verskeie glasskerms projekteer niksseggende (altans vir my) grafieke, tabelle en data. Ek loer af teen die kant van die bed na die skerm wat my gesteldheid analiseer. Grotendeels groen. Goed genoeg vir my. My jeans en ’n nuwe T-hemp (want dis sonder ’n gat in die skouer) lê op ’n stoel. Selfs my onderklere is skoon.

Die deur gaan oop met die druk van die paneel aan my kant. Goeie begin.

Geen wag. Nog beter.

Ek stap in die gang af. Die metaal vloere is uitgevoer met tapyt. Portrette teen die mure. Neem nie die feit weg dat ek op ’n skip is nie.

Die wag staan skielik voor my. Ten minste lyk hy nie begerig om my te skiet nie. Hy gee ’n skewe glimlag.

“Kom, hulle wag vir jou.”

Ek laat my lei na ’n vlak ondertoe en ons stap in die kantien in wat meer soos ’n onthaal saal lyk. ’n Rotstuin aan die linkerkant. Rye metaal tafels en sitplekke. Ongeveer vyftien huursoldate, almal geklee in verskeie tipes harnasse, almal gewapen, sit losweg in ’n groep. Ondervinding laat my ongeveer dertig skat in die kompanjie, wat ek aanneem gehuur is vir sekuriteit. Dit is ’n algemene gebruik om ’n kern groep te hê as span en soms ekstra werkkrag te huur om sekere missies uit te voer. Ons het dit self al menigmaal gedoen.

Die drie wat die leierskap verteenwoordig is maklik om te sien ten spyte daarvan dat hulle tussen die res sit. Daar is ’n onsigbare grens om hulle. Almal wil naby aan besluitnemers sit – maar nie té naby nie.

Ek beweeg in die rigting van Daeshaun, maar ’n hand op my skouer stuit my. My fout. Daar gaan eers ’n toets wees. Ek onthou hom nou. Hy is ’n boelie.

“Die man wat soveel moeilikheid vir ons almal maak,” sê Daeshaun en strek twee hande uit na my asof hy een of ander mafia baas is. Sy hare is vasgemaak in sy nek, baard kort. Hy dra arrogansie soos selfvertroue. Ek aanvaar die lag van sy gehoor sonder uitdrukking. Nog nie seker hoe hierdie gaan uitspeel nie.

My gids stap verby en gaan sit by sy vriende. Almal grinnik in afwagting.

Dit lyk nie of iemand my gaan skiet nie, so ek stap weer nader. Daeshaun lig weer ’n hand en wys na die kant. “Kry eers jou besittings.”

My jas lê opgevou op ’n tafel langs die rotstuin. Hopelik my wapens en permit ook, maar ek sal seker nie so gelukkig wees nie. Ek verander van rigting. Iemand giggel. Ek is oortuig dit was nie een van die vroue nie.

Die rotstuin beweeg en lyk of dit ontvou tot dit ’n goeie nege voet hoog staan. ’n Golem, so breed soos hy hoog staan. Twee ligpunte waar die oë moet sit, fokus op my.

“Braugh,” sê ek. Ek spreek sy naam korrek uit deur die gelyktydige hoesie. Dis moeilik om te oordeel, maar ek is seker hy knik in erkenning. “Ek het gedink jy sou met ander tipe mense as ons uithang teen hierdie tyd.”

Braugh se klip skouers maak ’n beweging. ’n Diep rommel geluid kom uit die diepte van sy bors. “probeer.”

Ek skud my kop. Ten spyte van die imponerende figuur wat hy is, is hy niks meer as ’n sagmoedige kind nie. Daar is onsekerheid of hy aan ’n ras behoort en of hy ’n skepping is. “Moenie vir my sê jy hang nog uit met Daeshawn nie?” Ek gooi ’n duim oor my skouer. Die laggies het opgehou en stilte hang swaar in die lug.

Die golem maak weer ’n amper-beweging met sy skouers. “oorleef.”

Met ’n knik na my eiendom: “Ons probeer maar almal. Gee jy om?” Geen beweging. Ek trek die jas aan. Geen wapens. Ek het niks anders verwag nie. Stilte groet my met die terugdraai en ek gaan sit doodluiters voor Daeshaun. Ons staar mekaar aan vir ’n lang oomblik. Hy waai ’n hand en almal drentel uit. Teleurgesteld.

“Ek het vergeet jy ken vir Braugh,” sê hy terwyl hy ’n glas aanbied.

Whisky. Duur. Ek lig die glas.

“Jy werk nog vir daardie fraai dingetjie – wat is haar naam nou weer?”

Hy weet baie goed, maar ek speel maar saam. “Lashmi.”

“Dis reg.” Hy maak of hy diep dink. “Die L7.”

“Weet nie wat dit beteken nie,” sê ek. Hy het ’n beterweterigheid aan hom wat my nie aanstaan nie.

Hy lag. “Natuurlik nie. Dis maar wat ons julle spannetjie noem.”

Spannetjie. So hy wil nou eers groottes meet. Ek gee hom nie die satisfaksie nie. Miskien wil hy eendag self bekendstaan as die Dinamiese Daeshaun Deelgenootskap. Of iets. Dit het nog maar altyd oor homself gegaan.

“Hoekom is jy hier?” vra hy.

“Seker dieselfde as jy.”

“En dit is?”

“Om ’n bestaan te maak.”

Hy knik asof ek iets diep kwytgeraak het. Nie ’n teken van verbasing nie, wat my laat wonder oor hoe goed besigheid nou regtig is in ’n straf-kolonie. Ek is oortuig hy het my permit reeds bestudeer en weet hoekom ek hier is.

“Kom.” Daeshaun staan op. “Ek wil jou iets wys.”

 

31

Die son is besig om onder te gaan. Daeshaun se groep is goed uitgerus. Die grond voertuie staan mooi in gelid. Nuut. Net die beste.

Ons staan op die boeg van die skip wat in die water lê soos ’n luukse plesierboot, vasgemeer aan die kant van ’n binnelandse meer van amper ’n kilometer in deursnit. ’n Kamp met ’n kombinasie van voorafvervaardigde geboue en tente strek vanaf die oewer met twee opslaan-wagtorings aan die buitewyke.

Goed georganiseerd.

Daeshaun babbel aan, sterk van plan om my te beïndruk.

Ek draai en besigtig die skip. Dit lyk soos ’n ou plesierskip wat oorgedoen is. Die antenna bondel is egter militêre graad. Kanonne sigbaar aan die boeg en romp.

Hierdie is ’n militêre operasie.

Interessant.

 

32

Die stort in die kajuit aan my toegedien, is hemels. Warm water. Selfs sjampoe wat ek deur my hare vryf. In die veld aanvaar mens sekere luukshede moet wag. Dit is egter lekker om skoon te wees.

My klere is skoon en gepars teen die tyd wat ek uit die stort klim en ’n handdoek om my heupe draai. ’n Meisie wat nie ouer as twaalf kan wees nie, staar met verskrikte oë na my. Sy skarrel na die kajuit se uitgang.

“Wag,” sê ek met ’n hand uitgestrek na haar. Sy versteen. “Wat is jou naam?”

Sy staar na die tapyt. Haar klere is skoon, maar dra die kenmerke van vele wasse en regmaak. Sy is nie bemanning nie. Een van die groep waar saam met wie ek gekom het?

“Dankie,” sê ek eenvoudig. Haar oë lig vir ’n oomblik. Verligting flits en sy hardloop uit.

 

33

“Kom!” Sarah se dringendheid laat my vinnig beweeg.

“Wat?”

Sy antwoord nie, maar hardloop in die gang af. Terwyl ek in my jas inglip, wonder ek vir ’n oomblik oor haar vryheid op hierdie skip. Ons bereik die dek en sy hardloop die afloopplank af met ’n geratel. Geluide en bewegings van paniek in die vêrte. ’n Vierwielaangedrewe voertuig wag aan die kant van die tente, enjin luierend. Sarah wink en ons spring in, sy voor en ek agterop.

“Ry! Ry!” roep sy.

Die bestuurder skop ’n stofwolk op en skiet verby die tent-dorp. Hy ry af na die waterkant en draai regs, parallel met die meer. Die oewer maak ’n verdere draai na regs en die bestuurder volg noodgedwonge. Bome sny die aansig na voor. Die bestuurder sny ’n waterspoor in die lug om verby die bome te kom. Voor ons staan ’n tweede kamp. Voorafvervaardigde modules vorm ’n groot vierkant. Mense staan op die dakke en kyk in die rigting van die water. Skote klap. Ek sien vaagweg beweging in die lug. Die bestuurder bring die voertuig tot stilstand. Sarah is langs my wanneer die toneel voor ons ontvou.

Verskeie wagte – dit is duidelik wanneer mense wagte is – skiet in die rigting van die meer. Verskeie vlieënde kreature hang in die lug, so lank soos ’n volgroeide man, met lang sterte en vlerke wat so vinnig klap dit is amper onsigbaar. ’n Geluid soos tentflappe wat wapper in ’n sterk wind is amper oorverdowend. Lang nekke wat eindig in reptiel koppe. Van die kreature sleep mense na die water – sterte gekrul om ledemate. Van die mense is te swaar om van die grond gelig te word en word eenvoudig aangesleep.

“See-drake,” sê Sarah langs my.

Ek hoor haar amper nie. Die skote wat klap is oneffektief, want niemand wil mense per ongeluk raak skiet nie. Drie van die drake is egter uitgeskakel. Skerpskutter. Ek hardloop terug na die voorafvervaardigde modules en bestyg ’n leer teen die kant.

“Gee my ’n wapen,” sê ek aan die naaste wag. Sy kyk onseker rond. “Wil jy lewens red?” skreeu ek amper. Tyd is nie aan ons kant nie. Ek neem die wapen uit haar onwillige hande. Die skerpskutter lê so ent vêrder. Lyk of hy weet wat hy doen.

Ek lê aan en trek ’n paar skote af. Die naaste draak se kop spat swart vloeistof en dit val teen die klip oewer, sy prooi wriemel uit die slangagtige stert en hardloop vir die bome. Twee skote laat hom neer slinger.

“Wat doen jy?” ek draai verwoed op die wag wat die man geskiet het. “Die bome is die veiligste beskutting!”

“Jammer, ek dog hy probeer ontsnap!”

Ek byt op my tande en swets. “Skiet die drake!”

Ek skiet ’n verdere vier uit die lug voor alles vir my verander. Daar is soms ’n oomblik van helderheid in jou lewe. Wanneer alles net sin maak. Wanneer jy besef hoekom jy op ’n sekere plek op ’n sekere tyd is.

’n Draak trek hoog in die lug op. Ek staar verbaas. Die prooi is ’n kind.

Ten spyte van die chaos voor my draai ek om. Die kamp lê onder my voete. Ek het die grootte onderskat. ’n Prisonierskamp. Ek lag amper – ’n prisonierskamp op ’n prisoniers-planeet. Daar is ironie hier êrens.

Die modules vorm die buitemure van die kamp, met kettingbrûe wat span oor draadhokke. Gesigte staar op in vrees vanuit die hokke. Een afdeling het skade opgetel. Die draad wat die plafon vorm is oopgeskeur en verskeie hokke is blootgestel aan die lug. Een of twee van die drake het in die hokke beland. Die wagte het hulle gedood. Saam met meeste van die mense.

Ek draai terug na die kind wat amper die watervlak bereik het. Adrenalien gee my spoed. Ek neem die skerp skut geweer af van sy eienaar. Hy bied weerstand. Ek het nie tyd hiervoor nie. My elmboog tref hom teen die kant van sy kop en hy tuimel van die module af. Ek hoor wapens op my gerig word.

“Red die mense!” skreeu ek en lê aan.

Fokus.

Asem uit.

Die kind val in die water, verstrengel deur die dooie draak. Niemand doen iets om die kind te red nie.

“Sarah!” roep ek uit en beduie met die wapen. Sy het reeds begin hardloop na die water. Ek skiet ’n verdere vyf drake uit die lug, ongeag die wapens wat op my gerig is. Ek diskrimineer nie, wagte en gevangenisse het almal ewe veel hulp nodig. Die res van die wagte besluit ek is nie die grootste gevaar vir die oomblik nie.

’n Ewigheid later besluit die paar oorblywende drake dit is nie meer die moeite werd nie. Genoeg mense het reeds in die water in verdwyn. Die oorblywende paar drake hang oor die water terwyl hulle die mense op die oewer agterdogtig aanstaar ’n Skoot of twee in hulle rigting laat hulle regaf in die water duik en verdwyn. Sarah swem uit na die wal met die kind in haar arms.

“Los die wapen. Stadig,” sê ’n stem agter my.

“Ernstig? Ek het nou net…” die kolf van ’n karabyn word gebruik met die doel om my weer aan die duisternis voor te stel. Eers heel hulle my, dan…

Maar ek stamp die kolf opsy. “Wat is fout met julle? Ek het gehelp!”

Die kolf kom weer. Ek gryp die wapen en draai dit uit sy hande. Hy val neer na dieselfde kolf hom teen die voorkop tref. Ek hou die wapen aan die loop met my hande in ’n ek-gaan-niks-doen gebaar. Ek los egter nie die wapen nie.

“Kry Daeshaun hier,” sê ek. “Dan kan ons hierdie uitklaar.” Twee skote tref my, een in die bors een in die sy. Die jas se panele beskerm my, maar ek word agtertoe gedruk deur die skote. Ek verloor die wapen.

“My f-!” Daar is vier wagte voor my. Ek duik onder die naaste een se wapen in en slaan hom in die kortrib. Genadeloos. Been splinter en hy hoes bloed. Die ander drie is te naby om my te skiet en ek

(hou in die keel)

(skop tussen die bene, opgevolg met ’n knie in die gesig)

(elmboog in die gesig terwyl ek sy wapen afneem)

haal hulle doelgerig uit. Die enigste rede wat ek dink my aan die lewe hou, is die feit dat ek klaarblyklik vir Daeshaun ken. Niemand skiet weer op my nie. Vir ’n paar minute word ek die geleentheid gegee om koning van die heuwel te speel. Soos hulle opkom probeer ek hulle afstamp. Sommige met meer geweld as ander. Getalle is egter teen my en mettertyd is ek onder.

 

34

“Jy is ’n hardekop, ek gee jou dit,” sê Daeshaun. Die ou wonde is behoorlik deur die auto-dok behandel, so ek hoef myself net te bekommer oor nuwe kneusplekke en ribbes wat gevoelig is. Visie van een oog is effens moeilik deur die swelsel wat beheer oorvat aan die een kant van my gesig. Ek mompel iets en spoeg bloed op die grond. Ten minste is my tande almal in plek.

“Dit was bietjie onregverdig,” sê ek.

“Wat het jy gedink? Een teen tien?”

“Ek bedoel vir hulle. Ek moes terughou.”

Hy gee my ’n stil kyk. Probeer seker uitwerk of ek sarkasties is.

Die kompanjie sit en staan in verskeie stadiums van pyn en lyding. Ons sit ’n ent van die groep, maar hulle lyk reg om my weer aan te vat. Ten spyte van my bravade, is ek nie begeesterd vir nog ’n rondte nie.

“Waarmee is jy betrokke hier?” vra ek. “Komaan, man. Hierdie is nie wat ons doen nie.”

Daeshaun bekyk die omgewing, asof hy dit vir die eerste keer sien. En waardeer. “Maklik vir jou om te sê.”

“Jy ken my nie.”

“Regtig? Dit is jou antwoord? En jy ken my?”

Ek haal my skouers op. My brein is dalk ’n bietjie losgeslaan en werk nie so lekker nie. “Dis nie wat ek bedoel nie.” Ek sug. “Hoe kry iemand ’n skip soos hierdie hier?”

“Die vraag is jou antwoord.” Hy staar in stilte oor die meer. “Kan ek jou vertrou?”

“As jy moet vra, is die antwoord seker nee.”

Hy sê niks.

“Dis kinders, Daeshaun,” sis ek tussen my tande.

Sy kop sak, asof in skaamte. “Die geld is goed. Maar ek het nie geweet wat dit behels nie.”

“So loop weg.” Maar ek weet dit is nie so eenvoudig nie. ’n Reputasie hang van die uitvoer van kontrakte af.

“Jy weet van beter.” Hy gee ’n diep sug. “Imran wil jou sien.”

“Jou werkgewer?”

Hy knik. “Moet hom nie ligtelik opneem nie. Hy het invloed.”

“Ek kan so sien. Waar is Dago?” vra ek.

Hy gee my ’n sy-langse kyk. “Dit is iets wat ons ook moet bespreek.”

 

35

“Imran.”

Ek skud die hand wat myne amper omvou. Imran is groot. In ’n stadium in sy lewe was hy moontlik in dieselfde besigheid as ons. Sy spiere het intussen versag. Die goeie lewe.

My gasheer gaan sit en hou my dop. Sy kop is geskeer en hy dra juwele deur sy ore en neus. Die goud is opmerklik teen sy bruin vel. Hy is geklee in ’n oop wit hemp met ’n bypassende wit broek en sandale. Hy lyk heeltemal uit pas met al die para-militêre mense om hom. Hy het egter die persoonlikheid om óns almal uit te laat voel.

Ons sit aan die waterkant. Die dek is geklee in dik tapyt wat jou amper laat vergeet ons sit op ’n ruimteskip vasgemeer in die water. Stoele en tafels van hout.

Hy knik in die rigting van Daeshaun. “Ek het gesien wat jy met sy mense gedoen het. Nie sleg nie.”

Stilte blyk die beter opsie te wees.

“My tyd is nie my eie nie, so ek gaan maar ter sake kom.” Hy maak sy glas leeg. “Blykbaar het Lashmi se mense ’n gewoonte om nie veel te sê nie.”

“Jy ken vir Lashmi?”

Hy knik. “Ek ken almal wat ’n rol speel in my besigheid. Nie dat julle baie hoog op is in die hiërargie nie, maar ek maak seker ek weet wie die spelers is.”

Daeshaun trap ongemaklik rond waar hy langs Imran staan. Sy oë boor in myne. My blik draai terug na Imran.

“Ek luister.”

Hy waai sy glas in die lug en ’n meisie draf nader om sy glas te hervul. Nie seker nie, maar ek dink dit is dieselfde meisie wat in my kamer was. Ek word nie ’n drankie aangebied nie.

“Stap eers saam,” sê hy en beweeg na die reëling. Ek neem stelling in langs hom. Ten spyte van my vorige optrede, lyk dit nie of hy hom te veel bekommer oor my nie. Dalk al die wapens om ons.

My bloed word koud. Vyf mense – twee mans, drie vroue – sit op hulle knieë op die klipperige strand onder ons.

“Ek kan nie bekostig om ondermyn te word nie,” se Imran gesellig. “Soms moet mens hard wees. Soms haat mense jou. Maar op die ou einde is dit vir almal se belang.”

Imran hou daarvan om te praat. Iemand in ’n gesagsposisie wat outokraties optree, maar voel hy moet sy welwillendheid verduidelik. Op die ou einde is dit mos vir die belange van die onderdane. Soos ek sê, ek het ondervinding.

Een van die wagte rig ’n handwapen op die eerste man se agterkop en trek die sneller.

“Wat ek hier doen,” gaan Imran voort, “is besigheid. Ek maak geen verskoning nie. Dit is goeie besigheid. Maar sodoende help ek ook ander.”

’n Tweede skoot bring ’n vrou se liggaam grond toe.

“Die mense hier,” hy wys in die algemene rigting van die omgewing, “het geen toekoms nie.”

’n Derde skoot. Nog ’n vrou.

“Die mans maak goeie werkers, selfs soldate. So ook van die vroue. Indien nie, wel, ons weet waarvoor vroue goed is. Meeste van hulle vind ’n beter toekoms en kan selfs hulle vryheid verkry na ’n paar jaar.”

’n Vierde skoot. Die man val in lyn met die liggame.

“Daeshaun vertel my jy het ’n spesifieke reaksie getoon teenoor een van die kinders.” Hy draai na my toe. ’n Glimlaggie op sy lippe. “Jy lyk nie na iemand wat ingee tot die meer donker sy van sy psige nie, maar mens weet nooit. Dis die rêrige donker mense wat weet hoe om dit weg te steek. Nee. Miskien het jy ’n ander ondervinding gehad. Jyself? Miskien iemand wat jy ken?”

Die vyfde skoot klap. Ek dwing myself om Imran in die oë te staar.

“So. Logan Santiago. Ek het ’n aanbod om te maak.” Hy wink en die meisie draf nader om sy glas weereens te hervul.

“Ek weet wie jy is,” sê hy. “Ek weet hoekom jy doen wat jy doen. Ons verstaan mekaar op ’n ander vlak as hierdie klomp.” Hy wys na Daeshaun wat net buite gehoorsafstand staan. Hy lyk bekommerd. Of jaloers.  Ek begin verstaan waar hy inpas. Ten minste volgens sy eie gedagtes.

“Ek kan werk saam met iemand soos jy,” gaan Imran voort. “Iemand wat ’n wyer visie met my kan deel.”

Die meisie, taak voltooi, begin wegstap. Imran se hand is skielik op haar skouer en sy versteen in plek. Ek probeer hard om geen emosie te wys nie. “Daar is ’n verdere voorwaarde, egter.”

Ek sê steeds niks nie.

“Die kontrak wat jy aan werk. Ek wil hê jy moet dit aan my sedeer.”

So dit is waaroor dit gaan. “Pure nuuskierigheid,” sê ek. “Hoekom?”

“Ek aanvaar jy vra eerder oor die tweede aspek van my aanbod.” Hy wag nie vir ’n beaming nie. “Devereux is so bietjie van ’n probleem vir my. Vir ander redes as wat jy mag dink.”

“Ek dink nie ek kan help nie,” sê ek. Ek weet nie eers wat die gewone redes mag wees nie.

Hy maak of hy my nie hoor nie. “Dink so bietjie daaroor. Ons gesels later.”

Daeshaun wink.

 

36

“So hoe gaan jy hierdie operasie oorvat?”

Daeshaun word wasbleek. Die loop van sy wapen teen my voorkop. “Waarvan praat jy?”

Met ’n skouerophaal; “Wel, kom ons wees nou nie té ambisieus nie. Ten minste die huidige operasie.”

Hy sluk hoorbaar.

“Raak rustig. Ek werk nie vir Imran nie. Ek sou hoop jy het ten minste duidelikheid daaroor.”

Onsekerheid. Maar die glinster in sy oë sê baie.

“Een voorwaarde,” sê ek sag.

Die wapen sak. Maar gaan nie terug in die holster nie. “Voorwaarde vir wat?”

“Om jou te help.”

Hy byt sy lip. “Wat?”

“Maak dit twee.”

“Ek het jou nog nie geskiet nie.”

Ek grinnik. “Tien persent.” Die mate van gemak om hom te manipuleer laat my amper skuldig voel.

Hy oorweeg dit en knik. “En?”

My voorarm teen sy keel en sy rug teen die metaal muur voor hy kans het om te beweeg. ’n Hand op sy gewrig om te verhoed dat hy sy wapen kan gebruik. My oë boor in syne. “Geen kinders.”

 

37

Daar is ’n derde voorwaarde.

Dago lê in ’n krio-tenk. Dit maak ’n uitstekende gevangenis vir iemand soos hy.

“Hoe lank vat die ding om oop te maak?” Die tenk lyk oud. “Veilig oop te maak,” voeg ek by. Ons bevind ons in ’n pak area onder in die skip. Die tenk staan regop tussen ’n klomp kratte in ’n hoek. Dago staar blind deur die reghoekige gleuf wat kophoogte gemonteer is aan die voorkant. Lyk soos ’n ou tronkdeur. Ek skuif die paneel terug om die venstertjie te verberg.

“Halfuur,” sê Daeshaun.

“Kom enigiemand af hierheen?”

“Nie sommer nie.”

“Wys my hoe werk hierdie een.” Dit blyk maklik genoeg te wees. “Ek het my data-paneel nodig.”

Hy skud sy kop. “Kan nie.”

“Doen dit net.” Ek gee Dago ’n lang kyk. “Jy wil nie hier wees wanneer hy wakker word nie.

Hy frons, maar knik. Ek kan sien hy maak die verkeerde afleiding dat die data-paneel iets met Dago te doen het. Dit pas my.

“Vertel my van Sarah,” sê ek terwyl ons terug stap na my kajuit. Of my sel. Alles is perspektief.

 

38

My bydrae om die warm water van die skip uit te put, is seker kinderagtig. Dis ’n groot skip. Maar ek probeer. Weet nie wanneer ek weer die luuksheid sal beleef in die nabye toekoms nie. Water stroom teen die kante van my gesig af waar ek koponderstebo teen die stort muur leun. Die laaste ding wat ek moet doen, is om te dink. Te wonder. Te twyfel. Die uitstappie is van die begin af ’n gemors. Geen twyfel bestaan vir my dat hier ’n groter spel aan die gang is nie. ’n Paar, om die waarheid te sê. En my brokkie is maar ’n fraksie van die groter gedeelte.

Ek hou nie daarvan om gebruik te word nie.

 

39

Die huidige mediese robot is een van die ouer modelle – geen KI. Vir die kneusings en gekraakte ribbes het dit ten minste nie enige intelligensie nodig nie, kunsmatig of andersins. My vriendekring in die siekeboeg raak al hoe groter.

 

40

“Daardie koffie sal lekker wees,” sê ek. Die meisie wat vroeër in my kamer was om na my om te sien ruk orent langs die koffiemasjien. Sarah sit op die bed en gee ’n skerp uitroep. Beide lyk uitermate skuldig.

Ek grynslag. “Iemand anders verwag?”

Die meisie skink en oorhandig die stomende beker. Nie suiker of melk nie. Net soos ek dit nodig het. Die kafeïen brand ’n pad oop na my brein. Ek maak my oë toe en voel hoe die ratte weer geolie word.

“Dankie” sê ek eenvoudig. Ek het verwag sy gaan haarself uit die voete maak sodra sy die kans kry, maar sy bly staan in die middel van die kajuit. Soos ’n houtpop.

“Ek en jou ma moet bietjie gesels,” sê ek.

Haar oë word groot.

“Sy is nie…” begin Sarah, maar ek hou ’n hand op.

Die meisie staar met hoopvolle oë na my. “Het sý jou gestuur?”

Ek draai my kop skeef. “Wie? Chantrea?”

Sy staar in stilte.

“Ek wil dit graag met jou ma bespreek,” sê ek sag. Sarah vermy my oë.

“Gaan Danica,” sê Sarah. “Ons praat nou-nou.”

Danica speel senuagtig met ’n armbandjie.

“Danica,” sê ek en wink haar nader. “Wil jy hê ek moet help?”

Sy kyk na haar ma. Sarah staar net na my. “Ja,” sê sy.

Ek hou ’n hand uit. “Mag ek die armbandjie kry?”

Danica oorhandig die armbandjie met ’n frons. “Dankie,” sê ek. “Ek belowe ek sal help,” sê ek amptelik. Na ’n ongemaklike stilte verlaat sy die kajuit.

’n Verdere oomblik se stilte hang tussen my en Sarah.

“Ek kan verduidelik,” gee Sarah in.

“Ek weet,” sê ek.

Sy byt haar lip. Ek onderdruk my emosies.

“Jy weet nie hoe moeilik dit is nie,” sy hou haar gesig na die vloer. “My kind…”

“Jy ken my nie,” sê ek. Ek weet ek is onregverdig, maar ek voel geregtig daarop.

Sy kyk vinnig op en laat haar oë weer sak.

“Jou kind was nie veronderstel om hier te wees nie,” sê ek. Sy kyk weer op. Hierdie keer hou sy haar oë op my. Emosies speel soos branders oor haar gesig.

“Jy moes my uitkyk, moontlik van my ontslae raak as die geleentheid hom voordoen,” gaan ek voort. Waarheid is soos spykers wat ek in haar inslaan. Sy het geen verweer nie. “Maar dinge het anders begin lyk vir jou. Iemand het gesien jy twyfel en ’n boodskap is teruggestuur. Skielik hoor jy daar is ’n groep van jou – dorp? – wat probeer vlug of iets. Miskien ’n geleentheid kry om die planeet te verlaat. Ek is nog nie seker daaroor nie. Jou dogter is saam. Iets wat jy nie verwag het nie. Iemand speel met ander reëls as wat jy gewoond is. Jy reël met die Protektoraat om my bietjie sag te maak. Miskien van jou hande af te neem. Maar Imran tree tussenbeide. Miskien het hy geweet, miskien sien hy net ’n geleentheid. Nou is dinge regtig deurmekaar en jy weet nie meer wat om te doen nie.”

Sy probeer trane terughou. Haar oë is egter steeds uitdagend. “Ek het nie gereël dat die Protektoraat jou kry nie.”

Ek haal my skouers op. “Jy het my ook nie gewaarsku nie. Jy het geweet.”

Sy sê niks.

“Dit was net té maklik vir hulle. Ek het nie eens gehoor toe hulle land nie. So ek neem aan hulle was reeds in die omgewing.”

Ek laat die stilte uitrek. “Hoe is Chantrea betrokke hierin?”

Sy kyk oral behalwe na my. “Yeager.”

“Wat van hom?”

“Hy is die kontakpersoon tussen Chantrea en Justine.”

“Ek weet nie wie Justine is nie,” sê ek.

“Jy het haar sekerlik ontmoet. Sy is soort van hoof van die Gevangenis.”

“Ah. Sy. Nie ’n mens-mens nie. En Imran? Jy lyk of jy redelik gemaklik is met hulle in die omgewing.”

“Chantrea het ’n ooreenkoms met hom.”

“Wat wat is?”

Sy haal haar skouers op. “Hy help haar soms.”

“Met?”

Sy haal weer haar skouers op.

“Dit is nie heeltemal wat nou gebeur nie, reg?”

Sy skud haar kop. “Ek weet nie. Alles val uitmekaar. Hy is nie veronderstel om ons mense aan te hou nie. Hy help ons.”

“Hy help om mense van die planeet af te kry?”

Peinsend: “Ja, dis wat nog altyd gebeur het.”

Ek herkou aan die informasie. “Is dit wat Chantrea hier doen? Help om mense van die planeet af te kry?”

Sarah knik. Haar kneukels is wit soos sy haar hande saampers. Sy besef ek weet nou genoeg om haar dood te kos.

“Ek neem aan jy is een van die helpers om die mense tot by die ontmoetingsplekke te vergesel?”

“Ons is soldate –,” sy gryns, “of so naby as ons kan wees hier rond. Ons help,” sê sy sonder veel entoesiasme.

Sag vra ek: “Het jy ooit gesien wat met die mense gebeur wat hier weggevat word?”

Sy staar vir ’n oomblik. Die implikasies dring stadig deur. “Jy is verkeerd. Sy sal nie.”

Ek haal my skouers op. “Miskien.” Die koffie wat nog in die beker is, het koud geword. Ek gooi dit uit.

“Ek het jou hulp nodig.”

“Ek het nie joune nodig nie,” sê sy uitdagend.

“Miskien het Danica.” Ek weet ek speel vuil, maar ek is oortuig van my siening. En ek hét hulp nodig.

 

41

“Alles gereël?” vra Daeshaun.

Ek knik. Dit is te maklik. Twee wagte staan voor die deur en laat ons in. Daeshaun se mense. Sy hand hang langs sy sy en vingers fladder ’n boodskap. Miskien dink hy ek het dit nie gesien nie. Die vertrek is groot. Dalk ’n danssaal op ’n stadium. Nou lyk dit soos ’n troonkamer. Imran het verseker egoïstiese hinderlikhede. Ons stap na die lae verhoog aan die oorkant. Daeshaun stap ’n tree agter my aan my linkerkant, die twee wagte aan weerskante van ons, elk ook ’n tree of so terug. Imran sit op ’n vergulde (ek belowe!) stoel.

“Santiago.” Hy kyk op van ’n holo-skerm wat voor hom hang. Hy knik in Daeshaun se rigting voor hy op my fokus. “Jy het tot ’n besluit gekom?”

Ek gee hom ’n lang kyk. “Miskien nie heeltemal nie.”

Hy maak die skerm toe. “Dit is nie so moeilik nie. Regtig.”

Met ’n skouerophaal: “Dalk nie vir jou nie.”

Hy grinnik. “Kom nou. Ons weet almal hoe hierdie speletjies uitwerk op die einde.”

“Nee. Nie regtig nie.” Ek glimlag. “Miskien is ek nie hoog genoeg op in die hiërargie nie.”

Imran sit vorentoe. “Miskien. Miskien nog nie,” sê hy terwyl hy na Daeshaun kyk. Ek weet nie wat tussen hulle afgespeel het nie, maar Daeshaun raak kriewelrig. Sy oë is op die vloer, maar ek kan die spiere sien speel oor sy kakebeen.

Die deur gaan oop agter ons. Danica stap in met ’n skinkbord. Met ’n knik, draai ek om om die skinkbord by haar af te neem. Haar oë is groot. Ek knipoog vir haar. Ek balanseer die koffiefles en twee skottels. Net voor die trappie na die verhoog tree Daeshaun nader.

“Net ’n oomblik.”

Ek stop en staar na hom. Dit is nie deel van die plan nie. My wenkbroue lig. Sy handwapen is skielik teen my kop.

“Verduideliking?” vra Imran. Hy klink verveeld.

Daeshaun gooi sy kop kant toe. “Ek het op ’n komplot afgekom.” Tevredenheid bloei uit sy gelaat.

Wat doen jy? Vra ek deur net my lippe te beweeg.

“Ek het nie tyd hiervoor nie,” sê Imran.

“Maklik om op te klaar,” sê Daeshaun. Hy reik met sy leë hand uit om die deksel van een van die skottels op te lig. “Sien, Logan hier het gereël om ’n wapen in te smokkel.” Hy knik na Danica wat verskrik staan met die kollig skielik op haar. Een van die wagte stap nader en sit ’n hand op haar skouer.

“Sodra hy naby genoeg kom aan jou…” Hy lig die deksel in dramatiese openbaring. Spek. Eiers. Sampioene. Hy gryp die ander deksel. Verskeidenheid van vleise.

Dit neem Daeshaun ’n oomblik om te besef wat gebeur het. “Nee,” fluister hy.

“Hoe dom dink jy is ek?” fluister ek terug. Die skottels kletter neer op die vloer. Sy aandag is vir ’n oomblik daarop gevestig. Met ’n vinnige beweging draai ek die wapen uit sy hand en rig dit op hom. Hy is egter oor sy skok en slaan die wapen uit my hand terwyl hy opvolg met sy ander hand. Ek deins terug en sy hou mis my gesig. Ek lewer vier vinnige houe in sy ribbes en ’n hamerhou in die gesig. Hy gee ’n paar treë terug en spoeg bloed.

“Okay,” sê hy.

Hy tree in en ek blok twee vinnige skoppe en duik onder die swaai skop wat volg. Hy spring terug soos ’n bokser en grinnik. Hy veg soos iemand wat ’n gehoor het.

“Ek het nog altyd gedink jy is nie so goed soos jy dink nie,” sê hy.

Nie seker waar hy sy informasie kry nie, blok ek grotendeels ’n paar vinnige houe wat hy lewer. Ek kry ’n goeie hou in en hy snik na sy asem. Ek is naby genoeg om op te volg met ’n elmboog teen die kant van sy kop.

Sy oë verloor fokus vir ’n oomblik en hy skud sy kop. Ek skop hom in die bors. Sy rug klap teen die muur vas en ek is onmiddellik op hom. My knie hamer hom in die maag en ribbes. My hande gryp hom agter die kop en ek druk afwaarts terwyl my knie opkom. Halfpad tussen die twee punte kraak iets in sy gesig en ek stamp hom kant toe waar hy op die vloer neer slinger.

Ek draai stadig na die twee wagte. En verstyf. Een staan met sy wapen op my gerig, terwyl die ander een vir Danica voor hom hou met ’n mes teen haar keel. Haar oë is groot van vrees en onsekerheid. Daeshaun lê en kreun, maar gee nie enige rigting vir sy mense nie.

“Laat haar gaan,” sê ek sag. “Jy het genoeg moeilikheid.” Ek praat nie eers met sy vriend nie. My oog val op Daeshaun se wapen. Naby genoeg.

“Regtig, mense?” sê Imran van die kant af.

Die wag se oë vestig vir ’n oomblik op Imran. Nie seker of Imran dit met opset gedoen het nie. Die geleentheid is daar, so ek gebruik dit. Ek duik vir die wapen. Miskien is dit my beweging. Miskien is dit die aksie wat die wag in elk geval sou uitvoer. Die mes trek ’n rooi streep oor Danica se keel. Ek rol oor die wapen en eindig in ’n hurkende posisie. Die wag maak die fout om Danica te los as ’n skild.  Ek is nie seker of dit ’n verskil sou maak in my optrede nie. Ek trek die sneller sonder om te korrel. Vinnig. Vyf keer. Plasma vreet gate in sy gesig. Hy tref die vloer sonder om ’n geluid te uiter. Dalk omdat dit fisies onmoontlik geraak het.

’n Oomblik se stilte.

Danica op haar knieë met haar hande oor haar keel. Bloed tussen haar vingers.

Die oorblywende wag staar met groot oë, wapen min of meer op my gerig. Onmoontlik soos dit blyk, word sy oë nog groter met die besef dat my aandag nou op hom is. Die hand wat die wapen vashou beweeg. Ek gee nie om wat sy intensie is nie. Ek hou aan sneller trek tot hy op die vloer lê, sy liggaam naby aan verkool.

Ek kom stadig tot my sinne. Imran is besig om iets te sê, maar ek hoor niks bo die gesuis in my ore nie. Die wapen val uit my hand en ek kniel langs Danica. Vrees in haar oë. Sy leef nog, so miskien was die sny nie so diep nie. Ek besef ek probeer myself oortuig.

“Hou jou hande daar,” sê ek. Weet nie of sy my hoor nie. My stem moet haar net rustig hou. Sy is so lig in my arms. Daeshaun sê iets agter my. Ek hardloop sonder om te probeer verstaan. Die deure gaan voor my oop. Braugh staan die hele opening vol. Desperaatheid laat my amper huil.

“Asseblief,” smeek ek. “As ek haar nie by die mediese boeg kry nie…”

Braugh se oë fokus op die kind in my arms, bloed wat deur haar vingers sypel. Hy neem ’n tree terug…en word weggestamp na die kant toe met geweld. Dit vat baie om hom om te stamp. ’n Geel Ronster staan en betrag my met vier klein, venynige ogies. Die tandlose mond gryns en laat die sewe voet hoë gepantserde kolos lyk soos ’n klein hondjie wat wil speel. Dago behou sy intellek ten spyte van enige vorm wat hy aanneem. Dit lyk egter nie of hy die newe-effekte van die krio-tenk al afgeskud het nie.

“Wag!” probeer ek in elk geval. “Hy het nie rusie gesoek nie!”

Braugh staan donderend op. Dago se kop swaai in sy rigting en hy blaas deur sy neus.

“Dago!”

Sy kop sak en hy storm op die Golem af soos ’n vragtrein. Nie seker of hy dit so bedoel nie, maar die weg na die mediese boeg is oop.

Ek hardloop.

 

42

“Het jy gedoen wat ek gevra het?” Miskien is dit ’n bietjie onsensitief onder omstandighede. Sarah gee my ’n kyk wat deur staal kan sny vanaf die ander kant van die bed.

Met hande opgehou om haar af te weer, sê ek: “Jammer, maar dis belangrik.”

“Jy het belowe sy gaan niks oorkom nie!”

Ek het geen antwoord vir haar nie.

“Ek het hoop gehad vir jou,” gaan sy bitter voort. “Maar jy is nes al die ander. Selfsugtig. Gebruik net mense. Jy wou seker hê daardie ander vrou moet haarself voor jou neergooi uit dankbaarheid.”

Ek verstaan Sarah is ontsteld, maar: “Watter vrou?”  My stem is sag.

“Die een wat verkrag was.”

Diep asem. Ek maak ’n punt daarvan om te ontspan. “Luister Sarah…”

“Nee! Jy luister! Jy het my kind in lewensgevaar geplaas…”

“Sarah, ek is jammer…”

“Jammer! Jammer! Dit maak dit nie reg nie.”

“Ek weet…”

“Jy gebruik almal!”

“Dis nie waar nie…”

“Ek beteken niks meer vir jou as om gebruik te word nie.”

Wat? Sy bewe van woede. Ek sien die twee wagte wat my gebring het na die siekeboeg, staan en grinnik vir mekaar. As hierdie nog ’n rukkie aanhou gaan ek dalk maar my frustrasie op hulle moet uithaal. ’n Stem êrens in my kop skreeu op my, maar ek ignoreer dit.

“Jy dink dis beter om jou mense uit te verkoop aan mense soos dié?” Ek wys in die algemene rigting om ons.

“Waarvan praat jy?” Maar sy weet.

Ek haal diep asem. “Jy sien wat hier aangaan. Ek weet nie wie vertel jou wat nie, maar al wat gebeur is jou mense word in slawerny verkoop.”

“Dis ’n leuen.”

“Jy glo dit? Het jy al met enigeen gepraat wat van die planeet afgevat is?”

Sy gee ’n lag. “Jy weet dit is onmoontlik.”

My argument was dalk nie so goed deurdink nie. Is sy egter blind? “Ek sal nie vir jou lieg nie.”

“Ja. Jy sal.”

Ek byt eerder op my lip as om te sê wat ek dink. Ek speel met die armbandjie om my pols wat Danica vir my gegee het. Dit gaan duidelik geen nut hê om hierdie gesprek verder te probeer voer nie. Net een ding bly oor. “Sarah. Dis belangrik. Het jy gedoen wat ek gevra het?”

Sy gluur my aan met haat in haar oë. Vir ’n oomblik lyk dit of sy my gaan spoeg. Dan knik sy en vou snikkend inmekaar op die bed langs Danica. Ek reik uit na haar maar sy klap my hand weg.

“Kom Casanova,” sê een van die wagte.

 

43

“Dis fassinerend,” sê Imran.

Dit is nie. Die een wag wat my vergesel het, staan noodgedwonge met haar knie op my rug en haar wapen teen my agterkop. Haar mede-wag vryf sy kakebeen en hou ’n paar tande in sy hand, wagtend op tyd in die siekeboeg.

“Dis genoeg,” sê ek aan Imran.

Hy gee ’n skewe glimlag. “Moenie vir ’n oomblik dink jy kan vir my sê wat ek kan of nié kan doen nie.”

Stilte blyk die regte antwoord te wees. Ek druk na bo, maar die knie in my rug is oortuigend. Drie ander wagte – nie een van Daeshaun se mense is in sig nie – staan met wapens op my gerig, terwyl twee ander skok-stokke op Dago gebruik. Dago wriemel onder die elektriese ontladings. Hulle het hom in die proses van verandering gevang. Tans lyk hy soos ’n geel tent wat probeer opslaan maar elke keer inmekaar tuimel.

“Ek skuld hom seker,” gaan Imran voort. “Ek sou nie van die Golem kon ontslae raak nie. Dit is nie aldag dat jy ’n nege voet rotsstapel sien wawiele maak in die water in nie. Maar hy gaan moet leer om aan ander mense se eiendom ’n mate van respek te betoon.” Die skade aan die skip gaan Imran kos. Ek vind ’n mate van plesier daarin.

Ek draai skielik onder die gewig wat teen my druk, met die hoop dat die skouspel miskien haar aandag aftrek. My verbasing is dalk groter as hare. Sy beland met ’n knie en ’n hand op die vloer, desperaat om haar balans te hou. Ek krul onder haar uit. Miskien het sy ’n probleem daarmee om sleg te lyk voor haar baas, want die tweede hou teen my kop is dalk ’n bietjie onnodig. Per ongeluk, of omdat sy regtig goed is, vat duisternis my nie heeltemal weg van die werklikheid nie. Ek voel elke ongelykheid op die vloer in die sleep op pad na die selle. Ek is nogal beïndruk met die mate van skade wat deur Dago en Braugh veroorsaak is. Selfs so deur my visie wat effens belemmer word (deur wat voel soos ’n gekraakte skedel), is die gat waardeur die sonlig stroom aan die kant van die skip skouspelagtig.

 

44

Dis met ’n mate van verbasing dat ek oplet dat die gesig geheg aan die voet wat my herhaaldelik in die ribbes skop, nie aan Daeshaun behoort nie. My ledemate wil nog nie mooi saamwerk nie, so ek lê en aanvaar die pak slae.

“Genoeg,” sê ’n vrouestem.

“Hy is die rede dat ons hier sit,” sê ’n manstem.

Ek kry nog een skop en bly stil lê. Die metaal vloer is baie gemakliker wanneer jy nie rondgeskop word nie.

“Hy is ook die rede hoekom iemand soos Mario nog hier is.”

Stilte begroet haar uitlating, voor iemand iets binnesmonds sê en voetstappe wegbeweeg.

Met geen idee wie Mario is nie, t-lepel ek die naaste muur. Vir wat dit werd is. Enigeen kan ’n skop of ’n hou in my rigting stuur sonder om nagevolge te vrees. Vreemd genoeg gebeur dit nie. Weet nie hoe lank ek so lê nie. ’n Koue, nat lap oor my gesig is die eerste aksie wat ek kry.

Nie die vreemde vrou nie.

Sarah.

Daar is steeds nie veel liefde in haar oë vir my nie, so ek laat haar in stilte toe om bietjie aandag aan my te gee.

 

45

Die Protektoraat daag presies ’n dag laat op.

Die offisier is jonk. Ek het simpatie, want ek is oortuig hy het ’n weddenskap verloor of ’n kort lootjie getrek. Hy staar verdwaas om hom rond. Imran se kantoor is indrukwekkend. Luuks. Meubels weereens egte hout. Panele teen die mure wat (ek neem aan) duur kunswerke bevat. Hy is geïntimideerd. Hy kyk onseker na my. Sy drie kolegas staan met wapens in die hand ’n entjie van ons af. Hulle het besluit hy gaan die val neem vir hierdie uitstappie.

“Sekerlik wil jy nie hê dit moet uitkom dat die Protektoraat lyk of hulle mensehandel toelaat nie?”

Hy soek hulp by sy kollegas, maar hulle staar oral behalwe in sy rigting.

“Hierdie is belaglik,” sê Imran. Hy lyk seker van sy posisie. Genoeg mense in sy sak om enige situasie te hanteer. Twyfel begin vingers in my maag steek. As ek verkeerd is…?

“Ons sal hierdie hanteer,” sê die offisier.

Imran lag. “Jy sal doen wat jy gesê word, Kaptein…?”

“Luitenant,” kom die antwoord met meer sekerheid. Imran het die verkeerde knoppie daar gedruk. “En nee, ons sal doen wat ons moet.” Hy knik in die rigting van sy kollegas.

“Jy moet mooi dink,” sê Imran sag. “Die lewe is moeilik genoeg soos dit is.”

Klein glimlaggie speel om die Luitenant se mond. “Ek weet.” Hy wink en ek volg hom uit die vertrek.

“Jy gaan jammer wees,” sê Imran. Hy hoef nie sy stem te verhef nie.

Ons stap in stilte. “Jy gaan jammer wees,” sê ek.

“Ek weet. Maar partykeer moet jy die regte besluit neem.”

“Ek neem aan die regte besluit het niks met mý te doen nie.”

Hy grinnik en oorhandig my permit. “Soort van.”

Ek grinnik. “My finansierders is belangriker as syne?”

“So iets. Wat het jy nodig?”

“Wel…”

 

46

Een oog kyk smekend na my. Ek klop Dago op die lyf. Dit neem hom twintig minute om van vorm te verander. Behoorlik hierdie keer. Dit is moeiliker tussen uiterste vorms om mee te begin. Nog meer as gevolg van die geweld wat hy moes verduur. Ek staan wag. Hy is magteloos vir die tyd wat dit vat, welke rede Imran se mense hom so maklik kon oorrompel. Niemand is nou die omgewing nie, maar dit is ons roetine. Ek help hom in die krio-tenk in maar skakel dit nie aan nie. Dit is nie net vir hom om te rus en te genees nie. Ek het ander planne.

 

47

Die vrou wat vir my opgestaan het in die selle stap nader op my versoek. Die res van die huursoldate staar met minagting na die lede van die Protektoraat.

“Jou naam?’ vra ek.

“Ardi,” sê sy. “Maar ek het niks gedoen om jou onthalwe nie. So moenie onder enige wan-idee verkeer nie. Ek is nie jou vriend nie.”

Eina. Reguit. En dit maak so bietjie seer. “Okay. Kies vier mense wat jy vertrou.”

“Vir wat?”

“Ek het ’n uitweg. Maar spasie is beperk.”

 

48

Ek soek deur die omringende mense tot ek vir Danica sien. Ek wink. Sy hardloop nader met ’n breë glimlag. Sarah staan stil en kyk uitdrukkingloos na ons.

“Kry almal bymekaar,” grinnik ek vir haar. “Ek vat julle huis toe.”

 

49

Die Luitenant oorhandig die noodsein sender. “Net ingeval.” Sarkasme?

“Ja, wel. Hopelik nie.” Maar ek vat dit in elk geval. “Gaan ons almal inkry?”

Hy gee die groep mense ’n vinnige blik. “Ja, wat. Bietjie knap, maar ek is seker niemand gaan kla nie. Die klomp hier moet maar wag vir versterkings. Ek dink nie hulle sal sommer probeer wegkom nie.”

“As hulle probeer?”

Hy gee my ’n lang kyk. “Moenie dink hierdie oorwinning is die einde vir jou nie. Ook nie vir my nie.” Imran gaan wegstap hiervan, dit weet ons beide. En hy gaan dit nie los nie.

Ek vryf deur my hare. “Ek weet. Maar vandag is ’n wen. Dankie.”

Hy lyk nie so seker nie. Dalk dink hy eerder aan homself.

“Een guns?” vra ek.

Hy knik.

“Ek het ’n lug-fiets waaraan ek nogal geheg geraak het…”

 

50

“Ek verstaan nie hoekom jy dit die rooi stad noem nie,” glimlag ek terwyl ons die rooi sandduine onder ons sien verbyvloei.

“Jy sal sien,” giggel Danica. Ek het dieselfde uitdrukking gesien op mense wat glo hulle gaan nie weer ’n sonsopkoms sien nie en dit dan elke keer regtig waardeer. Haar stem is bietjie hees, maar sy het geen permanente skade opgedoen nie. Niks fisies nie, in elk geval.

“Ek sien die rooi. Sekerlik moet daar ’n stad ook wees?” sê ek.

Sy vat my hand. “Wag net.” Ek druk haar hand en glimlag.

Die Protektoraat skepe land in ’n wolk van stof in ’n vlakte van rooi sand. Reuse deure is gemonteer in die berg wat wag staan aan die een kant. Mense stroom uit die skepe asook vanuit die berg. Ek staan terug en hou die reünies dop van ’n afstand. Nie almal is bly om ons te sien nie. Ek merk die gesigte wat onvriendelike blikke na ons kant toe gooi.

’n Blok van ’n man stap nader. Kop kaalgeskeer. Woeste baard. “Logan Santiago?”

Ek knik. Almal ken my deesdae.

Hy steek ’n hand uit en ek skud blad outomaties. Hy het daardie tipe charisma. “Dmitri,” sê hy.

“Okay.”

Hy gooi sy kop kant toe. “Sekuriteit. Maar moenie bekommer nie. Ek is aan jou kant.”

“Daar is kante?”

Hy lag diep uit sy maag uit. “Jy weet verseker. Anders sou jy nie vir Lashmi gewerk het nie. Sy het nie tyd vir dom mense nie.”

“Jy ken vir Lashmi?” Ken almal haar?

Dmitri kry ’n vêraf kyk in sy oë. “O jaaaa…”

Lashmi is ’n mooi vrou, maar miskien ken ek haar net op ’n ander vlak. Ek kan om die dood nie die twee saam met mekaar sien nie. Dit is erger as om op jou ouers in te stap terwyl…

Ek skud my kop om van die visuele drogbeelde ontslae te raak. “So, en nou?”

“Wees net rustig. Ek moet net eers iemand gaan intimideer dan reël ons vir julle slaapplek.” Hy stap na die Luitenant en lig die man van sy voete af. Ou vriende. Wonder wat is hulle storie.

Ardi en haar span staan ’n halwe sirkel om my. Sy stap nader. “Wat was dit?”

“Wens ek het geweet.” Ons betrag die mense vir ’n ruk. “Jy ’n ogie op ons moeilikheidmaker?”

Sy knik en ek volg die rigting van haar kyk. Jaeger stap tussen ’n klomp mense met ’n breë glimlag. “Jy dink dis hy?”

“Redelik oortuig.”

“Jou girlfriend is nie onskuldig nie.”

“Sy is nie…” begin ek tot ek haar gryns sien.

“Jy kan slegter doen.”

“Regtig? Ons is skielik familiêr.”

Sy haal haar skouer op. “Ek sê dit soos ek dit sien.”

“Jy het seker nie baie vriende nie.”

Sy haal weer haar skouers op. “Nie baie nodig nie.”

“So ek is nou ’n vriend? Dis nie wat jy vroeër gesê het nie.”

“Dinge verander. Ek kan van standpunt verander. En ek kan slegter doen.”

Ek skud my kop, maar glimlag. “En dis waar dit bly.”

Sy lag. “Jy is nie my tipe nie. Maar okay.”

“Miskien moet jy my baas noem. Net om ons verhouding mooi op rekord te hou.”

“Miskien moet ons armdruk net om te sien wie die broek dra.” Sy gee ’n skewe glimlag en kyk by my verby. Sarah stap verby met Danica aan die hand. Sy ignoreer ons so hard sy kon netsowel gestaar het. Danica waai en ek knip oog vir haar.

“Kom ons gaan hoor wat Olof te sê het,” sê ek.

“Dmitri,” korrigeer Ardi.

“Hy lyk soos ’n Olof.”

“Jy het ’n vreemde sin vir humor.”

“Ten minste het ek een.”

“Hou vas aan daardie gedagte.”

 

51

“Dis mos nie asof iemand my hier wil dood hê nie.”

Dmitri gee my ’n lang kyk. Ons sit onder ’n boom, elk met ’n bottel van Carter se doringdraad. Dit wys my weereens hoe die netwerk gelê is tussen die nedersettings.

“Natuurlik wil iemand,” sê hy droogweg. Ek loer na waar Ardi en een van haar mense ’n entjie vêrder sit en proe-proe aan die drankies. Dit was een van my beter besluite om haar en haar mense te her-kontrakteur. Imran sal sekerlik maklik uit sy penarie kom – geld maak alles reg, maar Daeshaun en sy mense dalk nie so maklik nie. Lashmi gaan sonder twyfel haar misnoeë met my deel, maar ek sal daarmee handel wanneer die tyd kom. Indien Daeshaun vir Imran oorleef, gaan hy ook vir my kom. Dis lekker om geliefd te wees.

“Daar is ’n rede hoekom hulle eers môre met jou wil praat,” gaan Dmitri voort. Hulle – verwys na die leierskap van die dorp. Seker stad, as mens dit vergelyk met Carter se opset. Die stad (as jy wil) moes een of ander plek van veiligheid gewees het.

“Die teorie is dat hierdie ’n stad was,” Dmitri wys na die omliggende berge asof hy my gedagtegang volg. “Van die lug af sal jy sien ons sit eintlik in ’n krater. Dit is onseker of dit ’n metroïed of ’n bom was. Sovêr is slegs gedeelte van die stad weer in werking.” Hy wys weer na die berge. “Daar is stad reg rondom die kom.”

“Moes lank terug gebeur het,” sê ek. Ek kyk na die woud waarin ons sit.

“Vanselfsprekend.”

Ons sit en luister na die water wat verbyvloei vir ’n oomblik. Die son is warm op my skouers. ’n Gevoel van saligheid dreig om my te oorrompel. Die rivier wat deur die kom vloei gee meer as genoeg water vir daaglikse gebruik en is sterk genoeg om te voorsien vir die landerye wat na die een kant toe uitsprei.

“So,” begin ek. “Jy dink iemand wil van my ontslae raak?”

“Daar was reeds twee pogings,” sê Dmitri droogweg.

Ek is bewus van twee insidente – die laaste so min as ’n halfuur terug – waar daar beweging in die omliggende bosse was. Op daardie stadium het ek afgelei dit kon een van twee dinge wees; diere wat verras is deur die mense, of mense wat verras is deur die wagte wat na my omsien. Ek het egter aanvaar dit is eerder die tweede opsie. Dankie tog vuurwapens is nie volop beskikbaar hier rond nie.

Met ’n sug: “Dit gaan nie ophou nie, nè?”

Hy skud sy kop stadig. “En mense soos jy gaan nie weggaan nie.”

“Ek het dalk ’n oplossing vir julle.”

“Ek is nie een wat oortuiging nodig het nie.”

Ek knik. “Ek weet. Wat het jy gedoen om hier te wees?”

Hy staar in stilte in die vêrte.

“Ek meen, ek kan sien jy het militêre of polisie agtergrond. Jy het dinge mooi onder beheer hier vanuit ’n sekuriteit oogpunt.”

Hy draai na my. “En jy kan dit alles aflei na ’n vinnige toer van die stad?”

Ek maak ’n gebaar wat vra hoe hy kan twyfel. “Ek is in dieselfde besigheid.”

Hy snork.

“Miskien uit ’n ander oogpunt,” lag ek. “Maar steeds.”

“Indien jy die nag oorleef, sal ek jou môre na die mense daarbo neem.”

Ek kyk hom in die oë. “Ek wil met Chantrea praat.”

Hy gee my ’n lang kyk. “Natuurlik.” Na ’n oomblik: “Môre.”

Die stilte wat volg sê meer. Die aand gaan lank wees.

 

52

“Dinge kon soveel makliker gewees het.”

Ek maak my oë oop en maak seker ek beweeg so min as moontlik. Ek hou my stem normaal. “Ons kan sekerlik steeds daaroor gesels?”

Yeager tuit sy lippe. Ek kan sy gesig slegs vaagweg uitmaak in die donker, maar hy draai effens sodat die dowwe lig op hom val. Wanneer jy in ’n berg woon, is dit regtig donker wanneer daar nie ligte is nie. Dit is grotendeels die rede hoekom daar altyd beligting êrens is.

“Ek weet nie,” sê hy. “Dinge het begin verkeerd loop met jou aankoms. Miskien is die makliker oplossing.”

“Ek sal graag wil stry teen daardie argument.”

Hy haal sy skouers op. “Miskien moes jy daaraan gedink het voor jy begin moeilikheid maak het.”

“Kom nou, ek het nie eers geweet waarop ek afgekom het nie.”

“Miskien. Miskien nie. Maar jy maak meer golwe soos jy aangaan.”

Hy begin poëties raak. Nie ’n goeie teken nie. “Dink bietjie daaroor,” sê ek redelik. “As die persoon wat my aangestel het ook weet wat aangaan, is daar miskien politiek hoër op wat jy – ons – nie van weet nie.”

Yeager herkou aan die gedagte van ’n oomblik. “Niks met my te doen nie.” Hy sit bietjie gewig agter die mes teen my keel. “Hierdie gaan ’n plesier wees.”

“Dit gaan haar nie meer van jou laat hou nie,” sê ek.

Die lem lig bietjie weg van my keel. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

“Kom nou. Hoe dom dink jy is ek? Ek het gesien hoe jy na haar kyk.” Ek het nie, maar dis ’n goeie skoot in die donker. Jaloesie het al mense dommer dinge laat aanvang.

“Dit is so ooglopend?”

“Natuurlik. Almal kan sien as hulle weet waarvoor om te kyk.”

Hy byt sy lip. “Weet Sarah?”

“Dis tussen jou en haar.” Ek skud my kop versigtig. “Gaan jy die mes nou wegvat sodat ons kan gesels?”

“Wat? Nee! Jou dood is my kaartjie weg van hier.” Hy glimlag smalend. “Jy’t gedink dit gaan so maklik wees?”

“Chantrea gaan dalk iets te sê hê daaroor.”

“Jy weet minder as wat jy dink.”

My opsies raak min. Tyesha sou hom teen hierdie tyd al laat gesels het oor intieme geheime. Wel, miskien wil ons nie sovêr gaan nie. “Hulle sal nie Sarah laat gaan nie,” sê ek.

Hy lag. “Mikal het gesê jy gaan dit probeer. Sy en haar dogter gaan saam met my. Hulle is veilig.”

“Genoeg?” vra ek.

“Beslis,” sê Dmitri.

Yeager swaai om. “Wat?”

“Sarah?” vra Dmitri.

“Ek het my mense by haar. Sy is veilig,” sê ek.

Yeager skud sy kop. “Dit gaan jou niks help nie. As ek nie slaag nie, sal iemand anders…”

“Ek sou hoop jy gee meer om oor Sarah,” sny ek hom af.

“Nee. Sy is veilig. Sy…”

Dmitri neem die mes uit Yeager se hand en stamp hom deur se kant toe. “Nou gaan dinge interessant raak.”

 

53

“En Mikal se gesig toe Yeager hoor hulle het Sarah ook probeer vermoor!” Dmitri lag uit sy maag uit.

“Jy weet, eintlik gee ek nie…”

“Dit het vier mense gekos om Yeager van hom af te trek! En toe babbel hy aanmekaar en kom met alles vorendag.”

“Dmitri…”

“Nou het van die hoogste snobs baie om te verduidelik.”

“Dmitri!”

“Kan jy glo? Nie een van die mense wat veronderstel was om van die planeet af gered te word, was gered nie? Almal in een of ander tipe slawerny verkoop. Dis verskriklik.”

My hand gryp sy skouer vas. “Ek is bly, maar dis nie hoekom ek hier is nie.”

Hy kyk na my hand en sy oë volg die arm tot hy my in die oë staar. Ek verwyder nie my hand nie.

“Julle was lank genoeg daar binne, so ek neem aan my voorstel is aangespreek?”

Dmitri knik stadig. Ek verwyder my hand van sy skouer.

“En?”

“Jy het alles opgef-…moeilik gemaak. Die mense daarbo wil jou so gou moontlik hier uitkry.”

“So?”

“Na alles, voel hulle hul het nie ’n keuse nie. Teësinnig soos dit ook al mag wees.” Hy knik weer. “Jou voorstel en aanbod is aanvaar.”

“Goed so. Dis dalk beter om so gou moontlik hier uit te kom.”

“Jip. Selfs al het jy slegs die waarheid oopgevlek, maak dit jou nie geliefd nie.”

“Ja, toemaar. Ek weet.”

“Ek sal met die Protektoraat reël vir môreoggend. Ek is seker jy sal oorleef tot dan.”

Ek grinnik. “Jou positiwiteit is aansteeklik.”

 

54

Sarah wag vir my. “Klaar met die grootkoppe?”

“Vir nou,” sê ek versigtig.

“Hoe voel jy?”

Ek maak ’n niksseggende geluid.

Sy vat my hand. Ek trek nie terug nie. “Kom saam met my.”

“Jy gaan my êrens van ’n hoogte afstoot?”

Sy kyk affronterend na my. “Hoekom sou ek dit wil doen?”

Ek skud my kop. “Sommer ’n dom ding om te sê. Waarheen gaan ons?”

“Jy het rus nodig. En miskien ’n bietjie aandag.”

 

55

Ten spyte daarvan dat ek rus nodig het, het die aandag my nie soseer rus gegun nie.

 

56

Braugh donder teen die afrit van die Protektoraat skip af. Ek staan stil ten spyte van die oorweldigende gevoel om te vlug. Danica staan vreesloos langs my. Haar oë is vol verwagting.

“WATER SLEG. Nie alleen,” sê hy terwyl hy oor my toring.

“Nee,” sê ek. “Jy sal nie weer alleen wees nie.”

Ardi stap van agter die massiewe Golem uit met ’n glimlag. Sy knik. Hy sou nie iemand anders vertrou het na wat gebeur het nie. Dit sal ook ’n goeie idee wees om Drago sovêr as moontlik buite sig te hou.

“Ek dink jy gaan jou nuwe omgewing baie meer waardeer,” sê ek. Die Golem se vuis tref my in die bors. Om te voel hoe bene breek is een ding. Dit is soveel erger om dit te hoor…

 

57

Ons vlieg in die rigting van die Protektoraat se hoofstasie. Die siekeboeg aan boord is nie heeltemal so gevorderd soos die een op Imran se skip nie, maar dit is steeds my vriend. Klampe hou my stil terwyl metaal vingers in my rondsoek vir iets om reg te maak.

Ardi stap in met twee bekers koffie. Dit ruik hemels. Ek maak ’n geluidjie toe een van die ribbes in plek gedruk word wat sy interpreteer as ’n reaksie vir die koffie. Sy is nie sensitief nie. Sy betrag die masjinerie wat rondtas in my met morbiede belangstelling. “Pyn?”

“Nee,” sê ek terwyl ek om die masjien se hangende drade die beker nader bring. “Ek voel nie pyn nie. Maar ek voel hoe dit in my werk. Dit is erger.”

Ons sit in gemaklike stilte. “Ons moet praat,” sê sy.

Ek wys na die siekeboeg. “Ek is nie regtig besig nie.”

Sy glimlag. “Moet my nie verkeerd verstaan nie…”

“Altyd ’n goeie begin vir ’n gesprek. Netnou sou ek jou dalk verkeerd verstaan het.”

Sy gee ’n laggie. “Nie geweet jy is sarkasties ook nie.”

“Ek sukkel met die lyn tussen humor en sarkasme. Blykbaar is ek nog nie baie goed daarmee nie.”

“Ons is nie seker waar ons staan met al hierdie dinge nie.” Sy hou ’n hand op om my te stop. “Jy het ons gehuur en ons is dankbaar. Hierdie is nie heeltemal die plek waar ons wil agterbly nie.”

“Maar?”

“Maar wat nou? Ons is op pad uit en ons is onseker oor die pad vorentoe.”

Ek drink my koffie. “Ek het ’n kontrak met julle aangegaan. Die kontrak verstryk sodra ek en my passasier veilig is.”

Sy kyk oor haar beker na my, speel met die idee in haar kop. “Wanneer sal dit wees?”

Sy is steeds bang ek gaan hulle opgee aan die Protektoraat.

“My kliënt het vyande. Oral. Ek sal nie veilig voel totdat ons land op Docile nie.”

Sy probeer haar verligting wegsteek. “Wat is op Docile?”

“My kontakpunt voor ek die kliënt oorhandig.”

“Oorhandig? Dit klink of sy ’n gevangene is.”

“Dit is vir haar veiligheid. Vertroue is moeilik bekombaar.”

Sy knik stadig. “Sy het nog nie ’n woord geuiter nie. Sit net in haar kajuit.”

“Jou mense kyk na haar?”

“Twee by haar deur. Staan skofte, maar dis asof sy nie eers daar is nie.” Sy frons. “Niemand het haar gesig gesien nie. Jy is seker…?”

Ek gryns en verander die rigting van die gesprek. “Ek weet Imran het haar ook gesoek op ’n stadium.”

“Dis nie hoekom ons hier was nie,” sê sy met ’n tikkie verweer in haar stem.

“Ek het nie gevra nie.”

Sy kyk na die vloer. “Jammer, dit was onprofessioneel.”

Ek maak dit af met ’n gebaar. Sy weet egter van beter.

“So,” sê ek.

“So?”

“Wat was die hele storie met Braugh?”

“Jy vra my?”

“Jy het saam met hom gewerk.”

“Daar is ’n tipe logika aan sy optrede,” sê sy met ’n geregverdigde toon in haar stem.

“Ek sien geen logika daarin nie. Net gebreekte ribbes.”

“Wel, hy is aangeval…”

“Nie deur my nie.”

“Maar op jou aandrang.”

Ek gooi my hande in die lug, maar nie te hoog nie. Alles trek in my bors. “Ek het dit probeer stop!”

“Maar nie suksesvol nie.”

Met ’n skud van die kop: “Maak nie sin nie. Sekerlik is hy afgep-…kwaad vir Dago?”

“Ek het nie gesê sy optrede is logies nie.”

Ek byt my lip. “Ja, jy het.”

Sy lag. “Ek het gesê daar is ’n sekere logika daaraan. Nie gesê dis jou logika nie.”

Dit is moeilik om te stry wanneer jy nie eens meeste van die argument kan volg nie. Ek verander weer die rigting van die gesprek. “Is die krio-tenk gereël?”

Sy staan op. “Alles in plek. Dago okay?”

“Die krio sal hom stabiliseer tot ons hom in ’n beter omgewing kan kry om te genees.”

Sy knik. “Ek is jammer dit het so uitgewerk.” Sy staan op en kyk rond.

“Jy kan maar praat. Ons is almal vriende hier,” sê ek terwyl ek liefdevol die mediese robot vryf.

“Dankie vir wat jy vir Braugh gedoen het.”

“Jy stem saam met my?”

“Hy het ’n sagte hart,” sy lag, “Klip of te nie. Daeshaun het hom nie reg hanteer nie.”

“Duidelik ek ook nie. Jou gevoel oor Daeshaun?”

Sy glimlag. “Wanneer al hierdie verby is gaan drink ons. Dan gesels ons oor hom.”

“Moet ek bekommerd wees?”

Sy skud haar kop. “Nee. Ek dink jy kan jouself hanteer. Maar as hy hierdie oorleef gaan hy jou kom soek. Wees voorbereid. Hy speel nie altyd volgens die reëls nie.” Sy stap tot by die deur en kyk terug. “Ons het nie saamgestem met meeste van sy besluite nie. Dit is nie ’n verskoning nie, maar ons was gekontrakteer. Reputasie is meer as die geld in ons lyn.”

 

58

Die tog na Docile vat langer as gewoonlik. Ek is bekommerd oor Imran se kontakte en vat eerder nie kanse nie. Ons stop by die Kioshi skip werf en gaan aan boord van ’n middelslag goedere skip met die naam van die Quinby.  Die kaptein gee die krio-tenk nie meer as een kyk nie. Die figuur toegegooi in die swaar parka in die middel van ’n gewapende groep laat ’n wenkbrou of twee lig, maar niks meer nie. Hy verstaan hy word nie betaal om vrae te vra nie. Dit is sekerlik ook nie die eienaardigste gesig wat hy al gesien het nie. Ons het geen kontak met die bemanning nie, behalwe vir die paar keer wat ek in stilte ’n Carter-brou met die kaptein deel. ’n Man van min woorde is presies wat ons nodig het. Ons kry verder kos en water, het ons eie ablusies. Niemand pla ons nie.

 

59

Bietjie meer as ’n week later verruil ons ons verblyf vir bietjie meer luuksheid. Rowan ontmoet ons by ons aankoms aan die Ozuru stasie. Ons dok aan die aflewerings kant van die stasie. Die luukse sy in teenstelling, is waar die meer gesiene besigheidsmense vergader en hulle vere vir mekaar wys. Hulle probeer die feit ignoreer dat vrag eintlik die rede vir die bestaan van die stasie is. Geleë naby ’n spring-poort wat ’n nexus vorm tot ’n paar relevante handelsweë, is dit ’n ideale bymekaarkomplek vir onderhandelinge. Van die onderhandelinge is selfs wettig. Die stasie is darem nou nie op die buitewyke van die Gereguleerde Terreine nie, so ’n mate van wet en orde is aanwesig. Behalwe miskien in die laer gedeeltes waar die skeepsbemanning uithang. Kroeggevegte, dwelms, prostitute. Net om bietjie kleur te gee.

Rowan stap deur die geroesemoes van kratte. Robotte rits, loop of strompel met vrag in die proses om opgelaai en afgelaai word.

“Wel, wel. Wat het ons hier?” glimlag sy. Sy betrag die groep wat gemaklik op die kratte sit. Die krio-tenk verskaf sitplek vir my. Ek laat niemand naby dit toe nie.  Ardi gee die metaal arms ’n afkeurende blik. Rowan sien dit en haar mond trek op ’n tuit. Sy omhels my langer as wat dalk nodig is.

“En dit?” Sy wys na die Ducai-Zaki wat langs die krio-tenk staan.

“Ek wou nog altyd een hê,” glimlag ek.

“Kinders,” sê sy sag.

“Alles gereël?” vra ek onnodig.

Rowan knik. “Probleme?”

“Niks sovêr. Hou maar ’n oor en oog uit vir my.”

Sy knik. “Jy begin jou eie span bymekaarmaak?”

Ek lag. “Nee wat. Ek is nie goed met die bestuur van mense nie. Waar is…”

Ardi en haar span spring op. Gegewe die feit dat hulle saam met ’n Golem gewerk het, is die massa wat bekend staan as Mace seker nie so vreeswekkend nie. Dit maak hom nie minder intimiderend nie. Meeste werkers op die besige laai area maak spasie vir hom, of staan en bekyk eers die skouspel.

Ardi se hand huiwer naby haar wapen. Ek rus ’n hand op haar boarm.

“Hy is saam met my,” sê ek.

Dit laat niemand regtig ontspan nie.

“Jy kry ook al die lekker speelgoed,” sê Mace.

My hand streel oor die lug-fiets. “Sy is pragtig, nè?”

“O ja.” Hy knik in die rigting van die tenk. “Alles reg?”

“Sal wees,” verseker ek hom. “Vat dit na ons kamers toe vir nou, dan kan julle hom huis toe vat.”

Hy lig die tenk gemaklik op sy skouer. Ek begin beswaar maak. Ons het nie hierdie tipe aandag nodig nie.

Rowan stop my. “Vat die aandag weg van jou,” sê sy.

“Okay. Kom ons vat dan maar ’n bietjie van ’n ompad,” stem ek in. “Ons het almal ’n goeie stort nodig en behoorlike kos.”

“En drank,” sê Ardi. “Jy was maar suinig met die Carter-brou.”

“Sal jou later vertel,” sê ek op Rowan se stilswyende vraag.

 

60

“Kan ons maar hier bly? Soos in vir altyd?” Ardi loop ’n draai deur die luukse kamer.

“Dit raak nog beter. Ons vlieg môre. Geboek op die Kadeesha wat ons sal vat tot by Docila.” Ek wys na die knapsakke wat netjies langs mekaar lê. “Klere vir almal. Ons wil nou nie heeltemal soos huursoldate lyk vir die res van die reis nie. Ons is in ’n bietjie van ’n hoër klas nou.”

Sy werk deur die wapens in van die sakke. “Ons ken nie regtig die L7 nie,” sy maak ’n verontskuldigende gebaar, “soos Daeshaun julle noem.”

Wanneer sy nie verder uitbrei nie, lig ek maar die onuitgesproke vraag. “Maar?”

“Die manier wat julle saamwerk – of so lyk dit – is iets wat ons nie aan gewoond is nie.”

“Miskien sal jy anders daaroor voel wanneer jy die ander ontmoet,” stel ek voor.

“Miskien,” sê sy onoortuig. “Jy lyk glad nie sleg wanneer jy uit die para-militêre gewaad klim nie,” sê sy met ’n knipoog.

“Die drie kamers langs hierdie een is vir ons. ’n Stort en slaap sal almal goed doen.”

Ardi staan vir ’n oomblik en wag. “Dankie,” sê sy.

Ek voel ek het iets verkeerd gedoen. Daardie gesprek met Mace gaan binnekort moet plaasvind. Miskien kan hy my bietjie touwys maak.

 

61

Die Kadeesha uitstappie is…vervelig. Nooit gedink ek sal dit sê of dink nie. Kos uit die boonste rakke. Luukse-plus kamers. Diens wat sovêr gaan dat hulle moontlik jou neus sal afvee as jy die regte kyk gee. Moontlik ook jou…

“Ek is verbaas Chantrea het besluit om uit haar kajuit te kom.” Ardi beduie na die stil figuur wat ’n entjie van ons sit op ’n slonsstoel.

“Vier mure is steeds vier mure, maak nie saak hoe luuks nie,” sê ek en keer terug na die holo-skerm voor my.

“Snaaks. Ek sou dink ’n dokter van haar kaliber sou makliker aanpas.”

“Weet nie wat sy alles deurgegaan het nie.” Ek haal my skouers op. “Vra haar?”

“Het al probeer. Sy praat met niemand.”

Ek haal weer my skouers op. “Nog ’n dag. Dan is ons klaar met hierdie ook.”

Sy kyk verlangend om haar. “Mens sou sweer die weelde maak jou ongemaklik.”

“Nee wat. Net die pretensieuse mense. Ek voel partykeer net lus en…”

“…slaan ’n bietjie sin in hulle in?”

Ek lag. “Jy verstaan.” Ek skakel die skerm af. “Kom ons gaan kuier met daardie drankies en gesels oor Daeshaun en die ou dae.”

“Klink jy nou soos ’n ou man.”

“Jy dink? Ek drink jou maklik onder die tafel in.”

“Uitdaging aanvaar.”

 

62

Die naglewe van Seema beweeg verby en oor die skakel-glas koepel. Die aanhoudende bewegings trek my aandag af. Moontlik is dit die rede vir die ontmoeting hier. Die kantoor is geleë in ’n duur besigheids gedeelte en sekerlik gehuur net vir hierdie onderhandelinge. Dit ontgaan my ook nie dat ons ons steeds op Docila bevind nie. Daar is dalk beter oog gehou oor ons as wat ons aanvanklik gedink het.

Mace en Rowan staan aan weerskante van my. Ons is wapens toegelaat, maar dit beteken nie veel teenoor die tien gewapende wagte, vyf aan ’n kant, wat teen die mure staan nie. Swart harnasse met donker helms gee hulle ’n intimiderend voorkoms.

Ons ignoreer hulle.

“Chantrea. Nie gedink ons gaan jou weer sien nie…” Jamon sit gemaklik agter ’n groot lessenaar. Skerms flikker oor die oppervlakte. Niksseggende verslae wat dalk sin maak vir hom. Of dalk net vir die vertoning. Lyk indrukwekkend. Hy hou daarvan om indruk te maak.

“Wat wil jy hê,” vra sy.

Toneelspel is nie een van sy beter talente nie. Hy maak sy oë dramaties groot. “Sekerlik het ons…” hy wys na my, “jou gered uit daardie aaklige plek?”

Sy staar in stilte.

“Die jeug van vandag.” Hy staan op en stap om die lessenaar. Die skerms flikker steeds. Betekenisloos. “As jy dan nou vir jou lewe vrees,” hy maak ’n gebaar met sy hande wat in kloue trek en rek sy oë dramaties, “hoekom het jy gekom?”

Ek aanskou die drama. Wie het iets gesê van vrees vir lewe?

“Miskien het ek nie ’n keuse gehad nie.” Sy gee my ’n kyk.

“Wel, wel. Meneer Santiago. Ek is beïndruk.” Hy stap terug agter die lessenaar in en manipuleer ’n paar skerms. “Finale betaling gedoen. Kontrak voltrek. Besigheid afgehandel.”

Asof hy nou van my wil ontslae raak. Ek gee ’n enkel knik en draai na die ingang.

“Een ding, Meneer Santiago.” Ek stop.

“Met ons eerste ontmoeting het jy uitgelig dat die korrekte inligting van uiterste belang is.” Hy strek sy nek dramaties. Eers een kant. Dan die ander kant. “Vandag kan ek jou meedeel dat dit nie die geval is nie. Jy was suksesvol en dit met net die nodige inligting. Om die waarheid te sê, jy weet steeds minder as wat nodig is.”

Ek staar stil na hom. Mace raak kriewelrig. Rowan sit ’n koue hand op sy breë boarm.

“Ek wil ’n verdere aanbod maak,” sê Jamon met ’n skewe glimlag.

“Ek luister.”

“Ek weet dit is nie jou gewone lyn van werk nie. Miskien moet jy dit eers bevestig met jou…baas?” Hy lig ’n wenkbrou. My opinie van hom daal verder. Dit lê nou êrens in die negatiewe. “Ons wil hê sy moet verdwyn.”

Ek vou my arms. “Ek kan hierdie een sommer self antwoord.”

Jamon lyk geïnteresseerd.

“Nee.”

“Nee?”

Ek weier om myself te herhaal. “Ons doen nie re-allokasie van mense nie.”

Hy lag. “Jy verstaan my verkeerd.”

Ek verstaan hom baie goed. Ek wil net hê hy moet dom genoeg wees om dit te sê.

“Dit wil voorkom asof sy nie oop kaarte met jou gespeel het nie,” gaan hy voort.

“Ons het nie veel gepraat nie. Sy is hardkoppig. En vertrou klaarblyklik niemand nie.”

Jamon lag. “Nee. Ek is seker. Sy is goed met een ding.” Hy wag nie vir die vraag van my kant af nie. “Sy is ’n pyn in die…”

Sy gil skielik en storm op hom af. “Jou vark!” Sy glip ’n mes uit haar mou en bring die lem omhoog. Die wagte se wapens is skielik op haar gerig. Vrees om Jamon raak te skiet laat hulle egter huiwer.  Ek geniet die klein oomblikkie om die vrees in sy oë te sien. Die skoot tref haar agter die kop. Sy ruk vooroor en val in Jamon se arms. Ek holster my XST en vleg my vingers op my kop. Wil nou nie per ongeluk deur die wagte geskiet word nie.  Hulle wapens swaai tussen my en Jamon terwyl hulle nader beweeg.

Jamon worstel onder die liggaam uit met die hulp van twee wagte. Hulle sukkel bietjie. ’n Dooie liggaam is mos swaarder as gewoonlik.

Hy vee sy hande aan ’n sakdoek af terwyl hy agter sy lessenaar in skarrel. Sy oë bly op die liggaam. Die bloed maak ’n poel om die kop.

Sy hande vloei oor die kontroles. “Ek dink jy sal die vergoeding aanvaarbaar vind.”

“Ek het nie jou aanbod aanvaar nie,” sê ek, stem koud.

Hy kyk op asof hy my nog nooit gesien het nie en wonder wat ek hier doen. “Sien dit as ’n bonus.”

Ons verlaat die kantoor sonder ’n verdere woord. Ek hou my gesig uitdrukkingloos. Rowan en Mace se gesigte strak. Mace s’n begin in ’n glimlag trek. My hou teen sy skouer maak geen indruk nie.

 

63

“Die ekstra geld sal julle ten minste ’n ruk aan die gang hou.” Tyesha sit terug agter haar rekenaar bank.

“Vir seker. Is Logan daar?” vra Ardi.

Tyesha se vingers dans oor die glas sleutels en manipuleer die holo-projekteerder en kameras. Ardi se kop lig wanneer my beeld aan haar kant opspring. “Dankie,” sê sy eenvoudig.

Ek knik. “Ek is seker ek gaan jou een of ander tyd weer uit ’n penarie moet red.”

Sy skud haar kop gemaak verdrietig. “Daardie hou teen jou kop het meer skade aangerig as wat jy gedink het.”

“Watter hou?”

Sy maak ’n my-punt-bewys gebaar met haar hande. “Jy maak dinge ten minste interessant.” Haar beeld flits uit.

“Jy kan slegter doen,” sê Rowan.

“Wat? Kom nou. Ons het net saamgewerk.”

“En sy hou van vroue,” sê Mace.

“Wat? Nee sy doen nie.” Doen sy?

Mace haal net sy skouers op.

“Ek wou dit natuurlik nog byvoeg,” sê Rowan. Sy bestudeer haar hande.

“Dago?” Ek rig my pleidooie na my enigste vriend vir die oomblik. Dit lyk of hy dit oorweeg, maar maak dan net ’n geluid van amusantheid.

Ek maak ’n sielswroegende geluid. “Met vriende soos julle…”

“Hoeveel keer was jy onder mediese behandeling nou weer, Logan? Klink of jy meer tyd in die siekeboeë spandeer het as op Rutger III self.” Rowan maak soen geluidjies en stap nader. “Siestog, jong.”

“Regtig?” Ek probeer verontwaardig klink, terwyl ek probeer om haar pogings af te weer om my kop te vryf.

Ek stap na die opdientafel en help my eerder aan ontbyt.

“Goeie werk, almal,” sê Lashmi. Sy sit en vertroetel ’n vrugtesap. Haar lang swart hare hang los oor haar skouers. Die rooi rok met goue motief beklemtoon haar donker vel. Sy lig die glas na my. “Veral met daardie mooi stukkie bedrog om Chantrea van Rutger III af te kry.”

“Hoe het jy dit gedoen?” vra Mace. “Ons het reeds geweet dat sy nie daar was nie.”

Ek glimlag. My oomblik van erkenning gaan kort wees tussen hierdie klomp, so ek maak die beste daarvan. “Ons het reeds vermoed sy is dood.” Ek knik vir Tyesha wat haar glas lig in aanvaarding van my kompliment. “Maar blykbaar het niemand anders sekerheid gehad nie. Dis hoekom daar heeltyd kontrakte oopgegaan het vir haar sogenaamde redding. Hulle wou sekerheid hê.”

“Ek weet Dago het homself voorgestel as Chantrea,” gaan Mace voort, “maar hoe het jy ‘haar’ van die planeet afgekry?”

“Maklik. Almal het gedink Dago is erg beseer. Deur voor te gee hy is in die krio-tenk het niemand twee keer gedink dat die persoon in die parka iemand anders as Chantrea kan wees nie. En ja…” ek knik na Rowan wat haar hand laat sak, “Dago kan sy lengte ook manipuleer.”

Rowan se hand gaan weer op.

“Maar hy wil nie sê hoe nie.”

Sy laat haar hand weer sak.

Dago maak ’n snuit geluid.

“Dago is reg,” sê ek. “Ons vra julle nie persoonlike vrae nie.”

“Vra maar,” sê Mace.” Hy grinnik toe Rowan hom teen die kop klap.

“Dis…dalk nie vanpas nie,” sê Lashmi diplomaties, maar haar mond trek in ’n glimlag.

Dago se kop sak. Soos ek hom ken, lag hy in sy stilte.

“Maar die krio-tenk op Ozuru stasie was aktief.” sê Mace. Hy hou ’n vinger in die lug. “Daar was beslis iets daarin!”

“Niemand kon sien wat binne aangaan nie,” lag ek. “Ek het ’n paar kaste van Carter se brouery daar in gehad. Krio is goed om iets koud te hou.”

Ons eet in stilte.

“Ek dink nie Mayah is baie beïndruk met jou nie,” sê Rowan waar sy haar bord weer opvul.

“Sy het nie seergekry nie – dis amper onmoontlik,” skerm ek.

“Als behalwe. Ek dink dis meer die moeite wat sy gedoen het met die vleis-pak,” sê Lashmi. “Die uitstappie na die lykshuis was sekerlik ook nie haar idee van pret nie.”

Mace trek ’n gesig. “Dis onnatuurlik wat sy doen.”

“Meer as dié?” Rowan klap hom weer teen die kop met haar metaal hand.

“Dis anders,” sê hy nors.

Ek stem saam met hom. Maar nie hardop nie. Mayah se talente is egter besonders en behulpsaam. “Sy sal daaroor kom.” Miskien moet ek maar net by haar inloer op ’n stadium. Vir wat dit werd mag wees.

Lashmi beduie na die rekenaar bank. “Ons het goeie terugvoer gekry. Intussen is ’n paar nuwe kontrakte spesifiek aan ons gestuur vir eerste opsie. Tyesha?”

Holo-panele spring in die lug en geesdriftige argumente begin oor die verskeie kontrakte.

Ek skuif langs Lashmi in waar sy geamuseerd na die spul luister. Op die ou end maak sy die besluit, maar sy hou daarvan om te hoor wat almal te sê het.

“Hoe lank?” vra sy.

Ek sluk my vraag terug. Haar bruin oë lag vir my.

“Miskien so ’n maand?”

Sy luister na die argumente wat rondgeslinger word. “Vat twee. Het jy iets nodig?”

“Ek sal regkom,” sê ek.

Sy knik. “Vat wat jy nodig het.” Sy draai sodat sy my reg in die oë kyk. Sy moet opkyk, maar dit is steeds ek wat voel of ek klein is. “Moenie iets dom aanvang nie, Logan.”

 

64

“Mayah?”

Die paneel bly rooi. Ek gee op en loop na my kamer toe. Die deur skuif oop agter my. “Logan.”

Ek stap terug en gaan die donker vertrek in. Sy glo nie veel aan meubels nie. Sy het dit nie nodig nie. Sy glo wel aan baie memorabilia. Kaste en rakke staan vol items. Sy praat nie daaroor nie, maar dit moet iets uit haar verlede wees. Moontlik iets om haar te herinner van die tyd voor sy geword het wat sy is.

“Ek is jammer,” kom haar stem uit ’n donker hoek.

“Waarvoor? Ek het gedink ek is die een wat moet om verskoning vra. Dit was immers ek wat jou geskiet het.”

Sy lag nie. “Ons het mos so beplan.”

“Sekerlik. Maar iets pla jou.”

“Ek het opgemors,” sê sy sag.

“Hoe so?”

“Ek het die plan vergeet. Ek moes hom kry om meer te sê. Meer informasie kwyt te raak . Maar toe verloor ek my humeur. Logan, ek wou hom doodmaak. Dit was so naby. Dit kon julle dood veroorsaak het.”

Dis moeilik om emosioneel op te tree teenoor iemand wat basies ’n robot is. Ek wonder watter knoppie Jamon gedruk het om haar dit te laat verloor. “Maar ons het daarúít gekom. Hou op om jou te bekommer oor iets wat kón gebeur het.”

Daar is ’n stilte. “Miskien. Sê my hoekom jy haar opgegee het.”

Logika is al wat vir Mayah tel. Ek besluit om nie die diepere menslike sy met haar te bespreek nie. “Chantrea se dood het haar mense twee keuses gegee. Hulle kon haar beeld as ’n martelaar gebruik vir een. Maar omdat sy reeds kontakte gemaak het om mense van die planeet af te kry, het hulle eerder daardie opsie uitgebuit.”

“Maar niemand is gered nie.”

“Miskien was daar tog. Ons weet nie.”

“Ek verstaan nie hoe mense ander mense verkoop nie.”

Ek het die insig om te verstaan sy praat nie van die gebeure op Rutger III nie. “Daar sal altyd iemand wees wat op ander se desperaatheid teer vir hulle eie gewin.”

“Het jy hulle nie in gevaar gestel deur jou besluit nie?”

Haar oë beweeg af na my arm. Na die armbandjie waarmee ek speel. “Moontlik. Ander sou aanhou om haar te gaan soek. Een of ander tyd sou die waarheid uitkom. Nou het ons haar ’n martelaar gemaak.”

“Wat moontlik niks beteken nie. Die korrupsie gaan voort. Is dit beter nou?”

Ek haal my skouers op. “Jy is diep vandag.” Ek sug. “Ek hoop dit sal beter wees. Miskien gaan iemand kyk hoekom sy mense daar wou uitkry. Meer so die kinders.”

“Die kinders! Ek is so jammer, Logan. Ek het vergeet!”

My hand stop haar. “Dis alles reg.” Maar dit is nie. My hand rol weer die bandjie om my arm.

Sy stap uit die donkerte uit en staan voor my. “Weet hulle?”

“Wat?”

“Dat die mense wat jy basies bevry het die prys was om van jou ontslae te raak?”

“Wat laat jou so sê?”

Haar kop sak. Dit is vreemd om ’n robot menslike handelinge te sien doen. Dis maklik om te vergeet wie en wat sy is.

“Dis net logies. Die Protektoraat kry hulle deel. Die slawehandelaars kry goeie weivelde. Wie weet wat belowe is aan mense wat hulle eie verkoop. Jy het ’n probleem geraak. Te gou en maklik op die regte spoor gekom. Hoekom?”

“Hoekom doen mense wat hulle doen?”

“Nee. Hoekom het jy dit so maklik reggekry?”

“Ek het self gewonder. My goeie instinkte en besondere mense verhoudinge?”

Sy lag nie. Natuurlik nie.

“Miskien het die regte mense gesien wat gebeur en my gebruik om dinge reg te maak?”

“Ek sou graag die Golem wou ontmoet,” sê sy.

Ek glimlag. Die diep gesprek is verby.  “Dit sou ’n interessante ontmoeting gewees het.”

Sy begin wegdraai maar stop. “Daar is iets anders.”

“Wat bedoel jy?”

Die blou liggies van haar oë staar meedoënloos. “Logan? Wat gaan jy doen?”

 

65

Hy swets stilweg toe die ligte nie werk nie. Hy skuifel in die donker soos iemand wat vertroud is met sy omgewing. Die instap yskas verlig met die oopmaak van die glasdeur. “Wat de-?”

“Dis net die ligte wat nie werk nie,” sê ek vanwaar ek terugsit in ’n gemakstoel aan die oorkant van die oop kombuis.

Hy verstyf. Dan skink hy vir hom ’n glas melk. Hy los die deur van die yskas oop vir die lig. Doelgerig stap hy nader. Ek manipuleer die holo-platform wat rus op die palm van my hand en ’n beeld spring op.

“Jy moes dalk maar verdwyn het terwyl jy die kans gehad het,” sê hy. “Ek neem aan jy weet wie ek is.” Hy hou die glas omhoog. “Drankie?”

Ek lig die whiskeyglas omhoog. Sy oë flikker na die halwe bottel langs die stoel. Sy uitdrukking versuur. So ek het ten minste ’n duur bottel gekies. Miskien wou hy dit hou vir ’n spesiale geleentheid. “As ons in clichés gaan praat,” sê ek gemaklik, “sal ek dalk maar uitwys dat jou sekuriteit nie jou noodsein gaan kry nie.”

Hy staar na my in die lig van die hologram.

“Ek neem aan hulle het jou ’n inplant gegee,” sê ek.

Hy knik. “Ek gaan hulle kontrak ernstig moet heroorweeg.”

Ek skud my kop stadig. “Dalk ’n bietjie laat. Jy kry wat jy voor betaal.”

“Hulle is van die beste in privaat sekuriteit.”

Ek lig my hande in ’n nou-wat-het-dit-gehelp gebaar. “Miskien nie so effektief nie.”

Ons staar mekaar aan vir ’n oomblik.

“Wag. Santiago?” Hy lag, ’n lelike blaf-lag. “Sowaar? Ek sou hoop jou tyd saam met Lashmi het jou ten minste ’n mate van sin geleer.” Hy gaan sit oorkant my en leun terug. ’n Skewe glimlag speel om sy mond. “Ja, ek ken haar. Ek ken almal. Ek weet van alles. Dit is hoekom ek aan die toppunt staan en jy…doen wat jy doen.”

“Ons het almal ons plek.”

Hy lag. “Dis wat almal sê wat onder in die modder leef en probeer om ’n rede te vind vir hulle bestaan. Imran het genoem jou ambisie is maar redelik laag. Jy het vêr geval.”

“Jy verstaan verkeerd. Ek is meer as gemaklik met waar ek my bevind.”

Hy lig sy glas. “Ons is natuurlik nie almal bestem vir groot dinge nie.”

Die whiskey gly lekker oor my tong. “Ons het nog so ’n goeie twee ure voor die nuwe wagte hulle skof begin.”

Hy sit die glas neer. Geïrriteerd. “Wat wil jy hê?”

“Miskien wil jy nie so hard praat nie,” sê ek. “Jou sekuriteit is dalk nie beskikbaar nie, maar jou minnares mag dalk wakker word.”

Hy kyk in die rigting van die slaapkamer.

Ek hou ’n hand op in ’n jou-keuse gebaar. “Afhangende van hoeveel jy tans vir haar omgee, kan ons haar dalk die onplesierigheid spaar?”

Sy oë fokus op die hologram. “Wat wil jy hê?” Geen dreigemente.

“Ek het ’n kontrak om te volbring.”

“Niemand sal ’n kontrak op my uitneem nie.”

Ek sê niks.

“Niemand kan dit bekostig nie en niemand is dom genoeg om dit te aanvaar indien dit wel so is nie. So waaroor gaan dit regtig?”

“Jy is reg.”

“Watter deel?”

“Vanaand is net ’n stappie in die regte rigting. En jy is maar net die eerste stappie.”

“Jy begin my nou verveel. Jy weet nie wat jy jouself voor inlaat nie. As jy regtig wil voortgaan met hierdie belaglikheid, hou net in gedagte dat iemand vir jou gaan kom.” Nou kom die dreigemente. Hy besef ek is ernstig.

Hy sit terug en drink van die melk. “As ek iemand te nagekom het, is dit nou maar so. Die lewe gebeur. Dinge gaan voort. Besigheid is besigheid. Hoeveel gaan dit kos?”

Hy vang die voorwerp wat ek na hom toe gooi. “Wat is dit?” Hy hou die armbandjie omhoog.

“Dit is die prys wat my kliënt betaal het.”

Hy begin lag. “So melodramaties. Dit beteken niks vir my nie.”

Ek skakel die hologram van my dogter af. “Jy is reg, Devereux. Dit beteken niks vir jou nie. En dit is die probleem.”

 

~0~