Anno Domini

Zyrilde Potgieter

anno domini  – 2019 © zyrilde potgieter

Distopie

Die vrou sit buite. Sy verkneukel haarself in ’n kunswerk op die laaste Tepidus dag van 2146. Tans leef hul in 2 seisoene: Tepidus se warm dae en Calidus se onuitstaanbare bloedige dae; daarom benut sy hierdie oomblik ten volle. Daar is herinneringe van vroeëre tye, Figus en vars lug, maar dit is lankal nie meer ’n werklikheid nie – veral in die digbewoonde kokongebiede waar dit daagliks ’n stryd om oorlewing is.

Hier waar sy woon, het hulle die natuur van die voortyd probeer naboots en al was dit ’n totale kunsmatige omgewing, was sy so gelukkig soos ’n planeet in sy eie wentelbaan. Die feit dat sy steeds buitelug verkies het, moet seker aan haar voorsate toegeskryf word. Deesdae wil mense minder blootgestel word aan die buitelug en word ’n ondergrondse lewensbestaan hulle voorland. Dit is dan ook juis haar balhorige weiering om hieraan toe te gee wat hulle hierheen laat verhuis het.

Natuurlik het Eden nie toe so daar uitgesien nie. Hierdie sukses was Die Firma se top werknemer, haar man, se woekerwonder.

***

Ek sit en dink. Dis so vreeslik alleen hier. Ek weet ek moet iets doen, maar ek weet nie regtig hoe nie. Ek sien nou dis nie so maklik soos ek gedink het nie. Miskien is ek te haastig. Dalk moet ek nog eers ’n rukkie dink en ’n beter plan maak. Pappa sê altyd ek moenie so haastig wees nie, maar ek kan nie langer saam met Lala bly nie. Ek verstaan nie wat nou met haar aangaan nie. Sy wil net slaap.

***

 

Loa kyk dromerig om haar rond terwyl sy die beskermende olie aan haar vel wend. Hulle het oneindig baie op Eden vermag. Hierdie stuk grond waarheen Ber haar 21 siklusse gelede gebring het, is amper nie meer herkenbaar as daardie lap dooie aardkors nie. Toe was hier slegs ’n eenvoudige opslagskuiling en ’n magasyn waar hy daagliks gewerk het. Nou tuur sy oor die tuin en kunsmatige groen skeppings wat plante moet verteenwoordig. Sy besef dit is nie die natuurlike plantegroei uit die voormense se wêreld nie, maar die nagebootste groenigheid stem haar tog rustig en dra by tot haar geluk hier. Sy en haar gesin woon tevrede en daar is geen sprake van die oorspronklike, onooglike stoor meer nie. Dit is alles die breinkind van Ber, hy wat besluit het dat daar niks meer bo die oppervlak sigbaar sou wees behalwe hulle tuiste nie.

Haar aangename herinneringe word stelselmatig onderdruk deur ’n ander gedagte. Die steurende gerugte oor Die Vlaag, wat daagliksvererger. Sy konsentreer met buitegewone inspanning om weer haar vorige gedagtelyn tussen die vuil newels van die ontstellende Vlaag-gerugte te hervat. Dan sluit sy weer aan by die geboorte van Frac, nou al 19 siklusse gelede, en twee siklusse later Merc. Seuns oorleef makliker in hierdie wêreld en tyd waarin hulle nou woon, dink sy, sonder dat sy dit werklik wou.

***

Ek dink dit sou goed wees as ek nog op ’n rekenaar kon tik, maar ek kan nie meer onthou hoe die letters woorde moet maak nie. Dalk kon iemand dit lees soos ek vir Lala elke Skermboek hier gelees het. Wanneer het ek opgehou? Alles is so deurmekaar! Ek kan nou nie meer onthou watter van die boeke is die waarheid en watter is stories nie. Ek voel of my onthou dof en deurmekaar is. Pappa het baie van boeke gehou. Hy het vertel dat dit wat ons op Die Grootskerm lees, lank lank gelede op papier gestaan het. ’n Mens het dit in jou hand gehou en so gelees. Dit was in die voortyd. Mamma het saans vir my en Lala van die kinderstories op Die Grootskerm gelees. Sy het ook vir ons die prentjies gewys wat saam met die stories gegaan het.

Ek loop van kamer tot kamer en kyk in elke stoor op elke rak. Wat moet ek saamneem? Hoe gaan ek dit dra? Op Pappa se tafel in die kantoor lê lang lyste syfers en name, saam met ’n ou PO, amper heeltemal toe onder die stof. Mense gebruik nie meer Polsopnemers nie, want dit kan net 2 dae se praat op ’n slag opneem en stoor. Pappa het vir hom en die Boetas elkeen ’n Sikloop gekoop. Dit pas op hulle voorkoppe soos ’n koplig en kan alles vir weke lank opneem en direk in die geheuebank van Die Grootskerm stoor! Ek sien nêrens ’n Sikloop nie. Pappa en die Boetas het dit seker saam met hulle werk toe geneem. Ek wonder of die PO nog werk? Dis ’n baie ou masjien.

***

Loa onderbreek weer haar gedagtes terwyl sy huis toe stap vir water om die poeier mee te meng. Sy sien dat Hini al weer sy sonskerm vergeet het. Velsiektes is aan die orde van die dag in hulle lewe en hy veral, sukkel al sy hele 14 siklusse lank só onder hierdie wrede son. Eintlik is hy nog te jonk om deel van Ber se werkspan te wees, maar om as een van die manne gereken te word wanneer hy nie akademies besig is nie, doen sy selfbeeld goed. Haar ouers was die laaste geslag wat nog deels deur mense of robotte onderrig is. Daarna het almal tuisonderrig begin volg deur meer gesofistikeerde en gerieflik bereikbare aanlyn metodes en programme. Hulle sou nooit Eden toe kon trek as haar kinders nog van tutors afhanklik was nie.

***

Ek word deesdae so gou moeg. Wanneer het ek en Lala opgehou om mekaar rond te

jaag en wegkruipertjie te speel? Ek voel nou altyd pap. Ek sit die PO om my arm en begin hardop praat oor alles wat ek soek en doen en hoe ek pak. As die ding nog goed werk, kan hulle mos later hoor hoe ek planne gemaak het?

Ek weet nie hoe oud ek is nie, maar ek weet Lala is jonger. Ons het baie gespeel op Die Grootskerm ook, maar Lala was nog klein. Sodra ons vir Pappa of Mamma wen, kon ons ’n nuwe speletjie leer. Boetas het later sommer baie op die Skerms gespeel. Lala was nooit lief om na die kinderprogramme op die Skerms te kyk nie. Ek dink dit was omdat ons twee altyd saam gespeel het. Ons het baie gehardloop en ek het altyd dat sy my vang. Ek het weggekruip dat sy my kry. As sy my bangmaak, maak ek altyd of ek vreeslik skrik.

Ek en sy het ’n kis van die oudae se kindermense gekry en oopgemaak. Daardie speletjies het ons baie gespeel. Sy het eers gesukkel, maar ek het haar geleer en dit was baie lekker. Party speletjies was maklik, ander was wat ’n mens moes dink en onthou – ek kan nie meer die name onthou nie.

***

Ber het eendag, nadat die laaste lugskepe die depot-voorraad afgelaai het, by haar kom sit en een skermgreep na die ander op sy rekenaar oopgemaak. Elkeen was ’n ander boutekening of ontwerp met elektriese bedradings, kernselle, skakelaars, beligting en nog meer gesofistikeerde apparate waarvan sy niks verstaan het nie.

“Al daardie kere wat ek nagte deurgewerk het, was nie tydmors nie. Hier sien jy nou die finale planne vir ’n splinternuwe magasyn. Die hele struktuur gaan ondergronds en kernbestand wees – met ’n tonnel tussen ons huis en die magasyn vir wanneer ’n mens dit nodig mag kry. Elke amptenaar, afleweraar, aankoper en selfs ons gesinslede sal ’n ingeboude kode in ons handpalms kry. Dit sal die deure, kluise, skakelaars, store en vrieskaste daaronder oopsluit. Alles sal deur sonkrag aangedryf word en indien die ergste gebeur, sal daar outomatiese kernopwekkers wees wat alles vir jare sal aandryf!”

***

Ek soek iets waarin ek kos en water kan pak. Iets waarin ek klere kan sit. Ek dink dat ek minder warm klere en eerder ’n paar van die silwer komberse waaronder ek en Lala slaap, moet saamneem. Mamma het ons altyd onder sulke sagte beddegoed toegemaak. Ek voel anders. Ek praat met die PO asof dit Lala is. Ek vra wat ek moet inpak, asof die PO my sal antwoord. Ek verstaan nie hoekom ek so met myself praat nie. Ek dink dit is omdat Lala nie meer met my gesels nie. Ek voel alleen. Ek voel hartseer. Ek is moeg en ek wil slaap – baie slaap.

***

Steeds in die huis, kyk Loa deur die venster oor die werf.  Sy sien klein Beri met sy sussie buite speel. Daar is ’n buitengewone band tussen hierdie twee kinders. Hy was maar 4 siklusse by hulle en eintlik nog self ’n baba wat nie kon verstaan wat met sy boetie gebeur het nie toe Adi gesterf het. Dit was gedurende die tydperk waarin talle babas dit onverklaarbaar nie verby hul eerste siklus kon maak nie. Tydens haar intense verdriet en deur haar rouproses, het sy Beri herontdek as haar baba en hom met valkoë dopgehou en opgepas. Ber het haar dikwels aangespreek omdat sy nie wou laat gaan nie. Gedurende sy 6de siklus het haar rouende lyf onverwags weer swanger geword.  Sy dink klein Loula het haarself gewens tot geboorte!

Loa stap met die waterhouer na buite, steeds in haar eie gedagtewêreld. Haar laaste baba is in die buitelug gebore omdat sy te vroeg was en haar ma ook toe, soos nou, besig was met iets kreatief. Hul enigste dogtertjie, hul genade-geskenk en hul natuurkind. Die oomblik toe Beri haar vashou, is die eerste skakel van die ongelooflike verhouding tussen hom en sy sussie gevorm.

***

Ek het sleg geslaap. As ek net weet hoe om vir Lala te help. Dit voel of daar te veel goed is en of ek te min weet. Ek voel deurmekaar en my kop voel dom.

Ek gaan sit. My knieë is moeg en my asem voel op. Hoekom voel ek so lam? Dit help nie ek soek en pak en het geen asem oor om met die PO te praat nie. Ek probeer hard om baie ver terug te dink, maar dit voel soos een van die stories – soos watter stories? Ek kan nie meer onthou wat drome is en wat regtig met my gebeur nie. Pappa het die geskiedenis stories vir ons vertel. Hy het gesê ons moes weet hoe die wêreld in die voortyd was, Mamma het die kamma stories vertel voor ons saans gaan slaap. Sy het gesê ’n mens moet luister en self dink hoe die mense van die stories in droomland lyk – nie soos dit waarna ons almal op Die Kinderskerm wou kyk nie.

***

Loa is verantwoordelik vir die ordelike verloop van die depot-administrasie. Sy spandeer ure voor die rekenaars aan kringtelevisie-opnames, besoldiging van amptenare en die konsolidering van lugskepe wat aflewerings moet doen. Dan moet sy ook toesien dat die kinders behoorlike tuisonderrig ontvang. Op 14 siklusse kan die seuns hulle pa begin help, op 16 word hulle voltyds by elke projek betrek. Frac sou ’n sportman in die voortyd kon wees, sterk soos osoon-staal. Merc is die brein – wakker oë en vlymskerp. Hini sou ’n kunstenaar of skrywer kon wees. Hierdie beroepe het natuurlik uitgesterf saam met die oumense van die voortyd. Nou moet elkeen geletterd wees, maar van werklike beroepsoriëntering is daar nie baie sprake nie. Dit maak nie saak wie jy is en wat jy jou nering wil noem nie. Oorlewing voer die botoon; dus staan jy bo-aan die leer as jy kennis het wat oorlewing kan bevorder.

Ber is verantwoordelik vir aankope, storing, instandhouding en nuwe ontwikkelings om almal se lewenskwaliteit by Die Firma te verbeter.

***

Sy kyk weer om haar rond. Dit wat hulle plantegroei om die huis noem, verg natuurlik geen sorg nie. Loa wonder hoe werklike bome, struike en blomme gelyk het in plaas van hierdie mensgemaakte alternatief. Daar is lankal nie meer iets wat geplant of geoes word om voedsel te verskaf nie, alles word in laboratoriums geskep, verwerk, verpak en na talle store vervoer. Een van die groot voordele vir hulle op Eden, is dat hulle nooit in toue met hul handkodes of koeponne hoef te staan vir daaglikse maaltye of ander inkope soos in die kokongebiede nie. Hulle leef direk uit die depot.

***

As ek baie hard probeer dink, onthou ek Pappa en Mamma, maar die Boetas nie regtig meer nie. Ek onthou ook my en Lala se eerste nagte. Ek verstaan nie regtig hoekom ons twee hier is nie, maar ek weet ek is ouer as sy en ek is dapper en ek mag nooit huil of bang wees nie. Ons het eers saam op een van die bedjies geslaap, toe kry ons die silwer komberse en ons het elkeen ons eie bed gehad. Ek is bly dat Pappa baie ligte ingesit het, anders was ons bang in die lang gange.

Ons was nooit honger, of dors nie – ons is net vreeslik alleen.

***

Die eerste berig was soos ’n gedagteflits – verby voordat jy nog behoorlik aandag

daaraan kon gee. Loa kan nie eers onthou of sy dit as nuusberig ontvang het en of Ber dit iewers op Die Grootskerm raakgeloop het nie. Dit kon selfs een van die bemanningslede van ’n lugskip ook gewees het – hulle vlieg oral oor die planeet en hoor nuus in ander dele van die wêreld. Sy het bly glo dat sy veilig op Eden is, gelukkig saam met haar man en kinders en tevrede in haar bestaan. Toe die daaropvolgende berigte hul bereik, het sy dit eers ontsteld in haar binneste omgedra totdat die kinders gaan slaap en sy en Ber alleen was.

“Ek het vandag weer die jongste nuus omtrent Die Vlaag gehoor,” fluister sy. “Hoe ernstig is dit? Is dit waar?”

“Dalk is dit waar, maar ek dink nie ons hoef nou al besorg te wees nie. Ons is randbewonders. Ons woon nie in ’n kokongebied nie en is baie ver van enige episentra.”

Sy het dit so aanvaar, dit was na alles so ver buite haar ervaringswêreld. Tog het die nuus nie opgehou nie. Die berigte het meer geword en die dringendheid daarvan groter.

“Die Firma het nou die nuus aan al ons amptenare oorgedra – Die Vlaag is definitief ’n werklikheid. Ons sal moet kennis daarvan neem,” het ’n moedelose Ber een aand teenoor haar beken.  “Ek sal die kinders na ete ook moet inlig.”

Loa sug nou diep. Sy onthou haar kinders se reaksies, of eerder die afwesigheid daarvan. Niemand het ’n enkele vraag gevra nie. Het hulle nie verstaan nie? Of was die impak daarvan net te groot?

***

Ek onthou nou iets van die begin. Die kodes op my en Lala se hande het vir ons 3 etes

per dag van die depot se rakke gegee. Ons het vir baie lank net van die lekker soetgoed geëet, want niemand kon vir ons nee sê nie. Ons het soms probeer om meer as ’n dag se lekkergoed te kry, maar die rekenaar wat die kodes op ons hande gelees het, was slimmer as ons.

Ons het besluit dat ons nie meer skoon wil wees nie. Ons het nie eens ons hande gewas nie. Maar die dag toe ek Lala begin ruik het, het ek sowaar ’n reël

gemaak: As iemand jou ruik, moet jy jouself skoon was.

Ek dink kinders moet hardloop. Ons het vreeslik gehardloop in die gange, vir mekaar weggekruip en mekaar probeer vang. Dit het minder geword. Ek dink ons het later net geloop vir was en die kos. Is dit hoekom ek nou so styf voel? Ek is ook nie meer so seker daaroor nie.

Ek voel nou of ek nie ’n goeie boet vir Lala is nie. Ek het haar nooit gehelp om te lees nie. Ek het nooit verduidelik wat ek verstaan het nie. Ek het nooit vir haar laat mooi lyk nie. Hoekom het sy die Boetas se spaarklere gedra? Sy kon van die vroueklere gedra het? Ek is ouer as Lala, ek het die wasdag-reël gemaak, ek moes meer vir haar gedoen het. Ek moes ander reëls ook gemaak het. Ek moes meer met haar gepraat het. Sy weet nie van Oupas en Oumas nie. Ek dink sy weet nie eens van Pappa en Mamma nie!

***

Vandag is Tepidus se laaste dag. Môre kan mense nie meer sorgeloos buite wees nie, want die son draai sy felheid oop. Loa wonder of haar kinders met vrae woeker na die vorige aand en of hulle in hul onskuld net die nuus van hul skouers afgeskud het.

Ber en Frac is vroegoggend al uit, hulle moet na die naaste kokongebied vlieg vir depotkontrakte. As ’n spesiale vergunning, is Hini saam met Merc om die grense van Eden na te gaan en te toets of al die kameras werk. Die jongste twee kinders jaag mekaar rond en skree en lag luidkeels. Hulle liggame is silwerblink van die sonskerm gesmeer. Loa sit voor haar kunswerk en wonder oor kleurskakerings – donker of lig?

Dit sal haar laaste rustige gedagte wees: Kleurskemas.

Toe sy omdraai, sien sy die massa borrelwolke op die horison en weet dadelik dat die berigte en waarskuwings nie versin is nie. Haar gedagtes gaan vinnig na haar man en oudste seun en sy wonder of hulle al opgeslurp is deur Die Vlaag. Sy weet instinktief dat haar jonger twee wat die grense patrolleer, nie betyds sal kan vlug nie, maar tyd vir hartseer of treur is daar nie. Sy het nog 2 kinders om aan te dink.

“Berii!”

Die seuntjie in sy 10de siklus stop sy vaart in sy spore en kyk verbaas om. Hy is nog nooit in só ’n stemtoon geroep nie. Iets moet vreeslik verkeerd wees.

“Gryp Loula se hand en hardloop huis toe, gaan deur die tonnel na die depot en sluit die luik agter julle toe!”

Sy weet sy is te ver van die huis, maar hulle speel reg voor die deur. Hulle het ’n kans.

“Hardloooooop!”

***

Ek het nou net wakker geskrik. Die PO het die hele tyd geloop. Daar is baie opneemtyd

gemors. Nou maar weer na Lala toe. Ek sal die sak vol pak met alles wat ek kan saamneem; dan gaan ek die lang tonnel se deure een vir een oopmaak en buitentoe gaan. By die kamer waar Lala is, staan ek stil. Dit ruik nou vreeslik sleg daar. Miskien moes ek haar meer toegegooi het. Ek voel so naar dat ek nie die deur oopmaak nie. Ek stap verder met my sak om kos en water te kry.

Ek praat baie hard om seker te maak dat die PO my hoor. Ek staan voor die rekenaar en lig my hand dat die kode gelees word. Wat het ek gedink? Hoe gaan ek maak? Ek kan niks meer as vandag se kos kry nie! Ek kyk na die blink staalkis voor my met die prentjies op. Daar is steeds baie kos om van te kies. Daar is meer kos as wat ek in die sak kan pak. Daar is te veel kos, maar ek kan dit nie kry nie!

Ek probeer nie eens ’n knoppie druk nie. Wat sal een kospakkie nou help? Ek stap stadig in die gang af en maak die deure een vir een oop, op pad na die grys staalluik aan die einde van die trap. Ek weet nie meer hoe dit gelyk het toe ek en Lala hier ingehardloop het nie. Ek weet nie meer wat aan die ander kant was nie. Ek onthou so min en weet eintlik niks meer nie.

Ek sukkel om die handvatsel te draai. Dit is stywer as wat ek gedink het. Miskien is dit net omdat ek deesdae so swak is. Is dit hoe Lala ook gevoel het voor sy gaan slaap het? Ek weet nie. Ek haal die PO van my arm af en sit dit op die vloer neer. Ek draai weer. Die luik maak stadig oop …

***

Drie goed gebeur gelykertyd toe die swaar staalluik ten volle oop is: Aaklige pers-groen sonstrale skyn soos deurborende laserstrale in die gang af, ’n ou man strompel sy dood tegemoet en die blikstem van die rekenaar kondig afgemete aan:

Anno Domini 2246.