Riaan Palmer
iets by die deur – 2019 © riaan palmer
As ek reg onthou het dit begin toe ek so agt was. Dit was omtrent in die middel van die periode, en Juffrou Mouton het probeer om die storie van Racheltjie de Beer aan ons te vertel, in die mees eentonigste stemtoon op die planeet aarde. My blaas was oorlopens toe vol, en ek kon doodeenvoudig net nie meer knyp nie. My grootste vrees was altyd dat ek myself voor my klasmaats sou natmaak – groter as my vrees vir Juffrou Mouton – so ek het maar my hand opgesteek en gevra om ‘kamer te verlaat’. Na die gewone preek dat ek pouses moet toilet toe gaan, het sy die sleutel vir die badkamer in my hand gestop en met haar monotoon stem aangehou om Racheltjie se tragedie vir die res van die klas vertel.
Die gange was verlate en ek het haastig met lomp vingers die deur oopgesluit en by die naaste badkamer stalletjie ingehardloop, die deur agter my toegeslaan en my sit gekry. Ek het skaars begin ontspan toe is daar ‘n klop aan die stalletjie se deur.
Ek het met groot oë doodstil gesit en luister. Het ek myself verbeel? Daar was weer ‘n klop. Saggies, maar onmiskenbaar, ‘n klop aan die deur.
“Hallo?” My stem was sag, asof ek nie eintlik wou gehad het ‘hulle’ moet my hoor nie.
Weer die sagte klop aan die deur.
“Hier’s iemand hier binne!” Ek het begin verontwaardig raak wat my meer selfvertroue gegee het. “Gebruik een van die ander toilette, asseblief!”
Weer ‘n klop. Saggies; vasbeslote. Toe ‘n stem.
“Maak asseblief die deur oop…”
Dit was ‘n volwassene se stem. Nie een wat ek herken het nie, en dit het my onmiddellik ongemaklik laat voel.
Dit was 1990, net nadat die hele Gert van Rooyen storie skokgolwe deur die land gestuur het, so as kind was dit by ons ingedril: Moenie met vreemdelinge praat nie! My ‘opleiding’ het ingeskop en ek het kwaai gedreig: “Gaan weg of ek skree!”
Maar daar was weer ‘n klop.
“Asseblief! Maak net oop!” Daar was niks kwaadaardig aan die stem nie, maar my sesde sintuig het helderrooi ligte geflits en my bewegingloos gelos. Ek het diep ingeasem en begin gil. “Help! Heeeeelp! Juffrou Mouton!?! Heeeeelp!” So het ek blou moord geskreeu, maar die kloppe het steeds saggies, ritmies aanhou soebat dat ek die deur oopmaak.
“Laat my inkom! Maak net die deur oop, asseblief!”
‘n Ewigheid later (in ‘n kind se wêreld) het ek Juffrou Mouton se stem by die deur gehoor.
“Christiaan? Wat is fout?”
Ek het stil geword. Die kloppe was stil. Die ander stem ook.
Daar was weer ‘n klop – ‘n anderste klop – gevolg deur Juffrou Mouton se stem. “Ek gaan inkom, Christiaan.” Sy’t die deur oopgemaak sonder om eers te wag vir ‘n antwoord.
Dit was maande ná die eerste klop. ‘n Paar dae na my negende verjaardag. Ek het verveeld my ma in die tuin rond gevolg, terwyl sy haar dag met tuinmaak verwyl het. Ek het haar kammakastig gehelp, maar ‘n 9-jarige is ook maar net van soveel hulp vir ‘n vrou met ongelooflike groen vingers. Op ‘n stadium vra sy my om die snoeiskêr uit die tuinhuisie te gaan haal. Die tuinhuisie – een van daai hout hutte wat meeste Suid-Afrikaners op hulle erwe het – was in die verste hoek in die reuse erf en ek het maar traag aangestap. Dáái donker gehuggie het my maar altyd op my senuwees gehad. Ek het die knip oopgemaak en versigtig die donker gehug ingeloer. Soos elke ander tuinhuisie was die hut vol vergete speelgoed, stowwerige bokse, tuingereedskap en dosyne langbeenspinnekoppe op chaotiese webbe. Ek vanuit die veiligheid van die sonlig uiteindelik die snoeiskêr gewaar, in ‘n kwessie van 3 tree en 2 sekondes die snoeiskêr in my hand gehad en weer buite in die vars lug gestaan. Ek het verlig die deur toegeklap; oorwinnaar van die onbegonne. Terwyl ek weer die sluitknip terugskuif, kom daar ‘n klop van die ander kant van die deur. Die klop was so hard en onverwags, vanuit die donker onbekende van die tuinhuisie, dat ek agteroor gesteier en op my agterwêreld beland het.
“Maak oop! Ek moet deurkom!” Het ‘n stem beveel, gevolg deur nog hammerende kloppe. Dit was nie dieselfde stem wat ek die maande tevore gehoor het nie. Dit was dieper. Broeiend. Kwaad.
Ek het woordeloos opgespring en die hasepad gekies.
Ek het geen antwoorde gehad nie. Maar een ding was seker: dit het my bang gemaak. ‘n Ongekende vrees. In die weghardloop, het ek nog die kloppe gehoor soos ‘n vuis wat teen hout geslaan word. En die venynige stem:
“Jou blerrie klein bliksem! Maak oop!”
Soos ek ouer geword het, het die voorvalle meer geword. So ook die stemme. Ek kon minstens twee dosyn verskillende stemme identifiseer. Mans. Vroue. Kinders. Daar was geen patroon aan wanneer, waar of hoe die insidente gebeur het nie. Maar die gebeure self was altyd dieselfde. ‘n Klop aan ‘n toe deur – selfs al was die deur, soos die eerste keer, nie gesluit nie. Partykeer sag ander kere hard. Soms angswekkend gewelddadig.
Saam met ‘n stem. ‘n Opdrag. ‘n Soebat. ‘n Bevel. ‘n Smeking. Maak die deur oop.
Maar my verstand en vrees het my woordeloos gewaarsku: Onder geen omstandighede moet ek die deur oopmaak nie. Dit het gewoonlik net ‘n paar minute geduur. Gewoonlik het dit vinniger opgehou, wanneer iemand anders ‘n vertrek ingestap het. Niemand anders het ooit die kloppe en stemme gehoor nie. Ek het geweet ek kon nie met iemand daaroor praat nie. Hulle sou dink ek is mal.
Ek het toe deure begin vermy, maar ongelukkig leef ons in ‘n wêreld waar toe deure nodig is – of selfs verkies word. Badkamer sake, seuns-dinge, inbrekers, privaatheid. Vele redes wat gemaak het dat ek gedurig verskrik voor ‘n toe deur beland het, my senuwees styf gespan. Wagtend vir ‘n klop en ‘n stem. Ek het in ‘n mate gewoond geraak daaraan, tog het ek elke keer my gat af geskrik.
Sommige van die stemme het my ongemaklik laat voel, maar ek het geweet dat ek veilig was, solank ek nie die deur oopgemaak het nie. Ek het selfs name gegee vir die stemme waaraan ek gewoond geraak het – of eerder leer ken het. Daar was byvoorbeeld gedurig een wat by die voordeur verskyn het. Die voordeur was van matglas gemaak, so ek kon ‘n silhoeët van ‘n man wat ‘n groot hoed van een of ander aard gedra het, uitmaak. Hy het nooit gepraat nie, maar soms naamlose bruin koeverte, met leë stukke papier in, deur die posgleuf gedruk. Ek het hom Die Posman genoem. Hy was een van die wat die hare in my nek laat regop staan het. Ek een of twee keer met hom probeer praat, dan sou hy sy kop skuins draai en begin klop. ‘n Vinnige harde klop. Ek het Die Posman oor die algemeen maar eerder alleen gelaat.
Twintig jaar later, en ek het soveel normaliteit as moontlik probeer handhaaf. Ek het baie vriende, en ek het selfs ‘n aan-en-af-verhouding met ‘n meisie wat ek verlede jaar ontmoet het. Nie sleg vir ‘n man wat in die middel van die nag wakker word en aandagtig luister na geluide wat smeek vir aandag vanaf die anderkant van die deur nie. Ja, my vriende en kollegas het my al telkemale verstrak voor ‘n toe deur gekry en dink ek is vreemd, maar meeste vra nie vrae nie.
Hulle is almal goeie mense.
Ek gaan hulle mis.
Jy sien, dinge het vreemd begin raak. Wel, vreemder as gewoonlik, dink ek. So drie weke gelede het ek wakker geword, sopnat van die sweet en klaarblyklik ook van my eie trane. Ek was nie seker hoekom nie. Ek het gedroom. Maar die droom was, van wat ek onthou, redelik normaal. Lukraak. Maar net nog ‘n droom. Terwyl ek gedroom het, het daar skielik – ek sukkel bietjie om die woorde te kry – ‘n skaduwee oor alles geval. Oor die droom? Oor my? Ek weet nie. Die presiese oomblik toe ek my oë oopmaak, kom daar ‘n klop aan my slaapkamerdeur. Nie net ‘n ‘gewone’ klop nie. ‘n Vreesaanjaende, swaar klop.
Klop.
Klop.
Dit was ‘n onbekende klop.
Ek kon nie verstaan hoekom my slaapkamerdeur toe was nie. Ek los nie sommer ‘n deur toe nie.
“Wie’s daar?!” Gil ek. Oor die jare het ek besef ek kon nie net alle kloppe ignoreer nie, want regte mense klop ook aan deure. (Regte mense? Ek het lankal al handdoek ingegooi om dit te probeer verstaan.)
Klop-klop-klop-klop.
“A-asseblief. Help… ” het die stem geantwoord.
Ek was verras. Dit was die sadistiese, kwaai stem wat ek gehoor het in die tuinhuisie jare gelede. Onmiskenbaar. Vrees brand mos herinneringe in jou geheue om ongevraagd daar te bly. Ek sou nooit daai stem vergeet nie. Dit was die eerste keer wat hy weer terug was in 20 jaar.
Maar die stem was hierdie keer anders. Smekend en nie woedend soos die vorige keer nie. Daar was ‘n pynlike toon: asof die spreker ernstig gewond was. Ek het hom half jammer gekry.
Voor ek my kon kry, toe staan ek voor die deur, my hand uitgestrek na die handvatsel. Ek het gehuiwer. Ek was nog nooit vantevore in die versoeking om die deur oop te maak nie. Ek het altyd aangeneem dat dit wat aan “die anderkant” was, boos was. Kwaadgesind. Omineus. Dit was sekerlik net logies. Maar op daai oomblik was daar iemand – iets? – wat gesmeek het om hulp. En…ek kon dalk hulle lewe gered het.
Ek het egter nie.
Ek het bewegingloos, woordeloos voor die deur bly staan, lank nadat die kloppe opgehou en die stem stil geword het.
Van daar af het dinge net erger geword. Twee dae later was ek by die Griek se kafee op die hoek. Ek was alleen heel agter by die winkeltjie se yskaste toe iets groot, kragtig, teen die winkel se stoorkamerdeur, reg langs my, klop. Terselfdertyd begin ‘n stem skree: ‘n lang, onbeheerste gekerm. Ek het verskrik geretireer tot by die toonbank voor in die winkel en vraend na die Griek gekyk of hy dit ook hoor. Hy’t my egter net met ‘n frons aangestaar. Asof ek mal was. Ek het iets gemompel en spore gemaak uit die winkel uit.
Daar was nog vier voorvalle tussen toe en nou: ‘n mengsel van gille. Soebat. Pleit. Smeek.
Die Posman het ook gister ‘n draai gemaak. Ek het hom laas gesien (of is dit gehoor?) toe ek nog in my ouerhuis gebly het.
Hy’t beleefd geklop voordat hy sy gewone brief onder deur die deur gestoot het.
En toe nog een.
En nog een.
Altesaam dertien gewone, bruin koeverte. Die Posman het ‘n paar minute gewag, af en toe geklop, en my uiteindelik met rus gelaat.
Elke koevert het ‘n vel vaal-wit A4-papier in gehad. Iemand het met ‘n swart pen met groot ywer “Maak Oop” oor en oor regoor die papiere gekrabbel. Ek het die papiere weer in die koeverte gedruk en probeer om nie daaroor te dink nie. Maar die koeverte het op die lessenaar gelê en roep soos ‘n gewonde dier om hulp roep.
Vroeër vanaand het my slaapkamerdeur skielik gewelddadig geruk. Asof iemand wou inkom. Iets. En net so skielik weer opgehou. Daar was egter steeds ‘n sagte geluid. So sag dat ek dit nie mooi kon uitmaak nie. Dit was nie die gewone gil of bevel of gesmeek nie.
Ek het my oor teen die deur gedruk.
Die klanke was onteenseglik: ‘n Gehuil. Dosyne en dosyne stemme. Met gedempte snikke. Amper asof hulle bang was iemand hoor hulle.
Of iets.
Nog ‘n slag het die deur getref en ek het teruggesteier van die skok. Pleister het van die mure afgevlieg en die mat soos ‘n slagveld bedek. Steeds geen stemme met pleidooie of bedingings nie.
Net. Snikke.
DOEF!
Ek het retireer na die verste hoek in die kamer.
DOEF!
‘n Haarlyn kraak het verskyn langs in die een hoek van die raam van die deur.
Ek het koorsagtig al die meubels en los besittings in my kamer teen die deur gestoot.
Ek het gewag vir die stilte wat gewoonlik volg, maar dit het nooit gekom nie.
DOEF!
Die onophoudelike gehuil het gebou in volume. Ek was seker dat die deur enige oomblik sou ingee. En my verspotte versperring!?
DOEF!
Wat soek hulle?
Aanvaar die realiteit.
DOEF!
Die moontlikheid van…die dood.
DOEF!
Miskien moet ek die deur oopmaak…
DOEF!
Miskien moet ek hulle inlaat?
Ek spring op en gaan staan vierkantig voor die hoop meubels wat die deur wegsteek. “Wat wil julle van my hê?” Die frustrasie in my stem en trane..
~ | | ~
Uiteindelik is daar stilte. Geen stampe. Geen kloppe. Geen gehuil. Ek konsentreer so hard om geluide te hoor dat die stilte in my ore begin suis soos die eindelose geskreeu van sonbesies. Ek bly sit. ‘n Uur? Ure? Ek asem die stilte in. Laat dit deur my vloei en rustigheid oor my neerdaal.
Ek staan op en loop versigtig tot by die deur. My hart klop in my keel en ek bewe soos die angstigheid my oorval: Angstig om te ontsnap uit hierdie kloustrofobiese nagmerrie.
Ek kan buitetoe gaan.
Na die oopte.
Weg van deure.
Ver weg van deure en mure en handvatsels en kloppe en stemme.
Ek skuif die meubels en die res van my versperring uit die pad. Die deur het die aanval weerstaan. Ek sit my hand op die handvatsel, asem diep in en druk die handvatsel na onder.
Die deur is gesluit.
Gesluit? Ek dink nie ek besit eers ‘n sleutel vir my slaapkamerdeur nie.
Ek kniel voor die deur en loer deur die sleutelgat. Buite my kamerdeur is nie die gang wat ek ken nie, maar ‘n ander vertrek. ‘n Soort biblioteek? Of dalk ‘n klaskamer? Die vertrek is verlate. Behalwe…wag… Ja! Daar’s ‘n kind wat sit en lees met sy rug na my toe. Ek klop aan die deur.
“Hallo? Haai! Kan jy my hoor? Maak asseblief die deur oop…” Roep ek in ekstase om ‘n ander mens te sien.
Hy kyk oor sy skouer.
“Ja. Ek’s hier agter jou!” Ek bewe, vibreer van opgewondenheid. “Kan jy asseblief die deur oopmaak?”
“Los my uit.” Die seun praat oor sy skouer maar kyk nie direk in my rigting nie. “Ek is nie veronderstel om met iemand te praat nie. Gaan weg.”
Hy sak weer na die boek voor hom. Verward, verbysterd begin ek opstaan.
Die hare in my nek staan penorent.
Iemand is saam met my in die kamer.
Iets.
Venynig. Sadisties. Tartend.
Dit is reg agter my. Ek gaan nie omkyk nie!
Ek voel hoe die vrees in my opborrel. Oorborrel. Ek begin waansinnig aan die deur hamer.
“Haai! Seun? Asseblief? Maak die deur oop … Jy móét oopmaak!”