Martelize Faber
karmosyn – 2019 © martelize faber
Die kronieke van die Ligdraers
deur Hermes – Hoofskrib van die Boodskappersorde
Inskrywing 1:
Hulle het verveeld geraak. Dít was die probleem.
Hulle was moeg daarvoor dat die samelewing van hulle vergeet het en op robotte, ruimtevaarte, hulle eie emosionele bagasie en die vierde industriële rewolusie gefokus was.
Stadigaan het die migrasie begin. Eers net diegene wat as normaal kon deurgaan. Later het hulle in hulle hordes stede toe getrek. Niemand het meer deur die diepste, donkerste deel van die woude geloop en gedwaal of skatte op die uithoeke van die aarde gaan soek nie. Dit was stil en eensaam en hulle was honger. Honger vir bloed, geweld en vrees.
Hulle het die strate verdeel en met geweld hulle gebiede teen die ander spesiales verdedig. Dit het grotendeels oor jaggebied gegaan. Hoe groter die jaggebied, hoe meer die prooi. Snags, wanneer mense hulle gordyne toegetrek het, die deure gesluit en die alarm aangeskakel het, kla oor hoe misdaad toeneem, het hulle uit hulle skuilplekke gekom om op die mense van die nag te teer.
Nie almal was egter bang vir hierdie nuwe bendes nie. Baie jongmense wou self soos hulle wees. Ander weer was die normales goedgesind. Normales het hulle eie bendes begin vorm. Dit het tot groter oorloë en wrede sterftes gely. Maar agter die toegetrekte gordyne het niemand iets geweet of wou hulle nie weet nie.
Baie het in elk geval nie die stories wat hulle tieners kom vertel het, geglo nie. Die enigste volwassenes wat wel dit geglo het, was self mense van die nag en hulle het stilgebly. Wie sal in elk geval ‘n dronkie glo wat vertel hoe hy en sy vriend deur ‘n takhaar met ‘n yslike donkerbril aangeval is en dat die ou se hare in slange verander het? Dat sy vriend in steen verander is toe die takhaar sy bril afhaal en dat hy dit net-net reggekry het om weg te hardloop omdat hy gestruikel en geval het op die presiese oomblik wat die ou in sy rigting kyk?
Dit was ‘n vreesaanjaende tyd, want die balans in die stad was versteur. ‘n Groep vegters en bewakers wat uit spesiales en normales bestaan het, het begin om ander in die geheim op te lei. Hulle het gereed gemaak vir ‘n oorlog. Hulle wou die balans en vrede herstel. Hulle het net gewag vir ‘n teken. Vir iets om te gebeur. Iets of iemand…
Die blikkie verf spuit egalige wit strepe oor die muur. Dekades se slordige neonkuns, skeldtaal en ruwe sketse word met elke nuwe haal gedeeltelik met woorde bedek.
Die verlate, ondergrondse treinstasie is stil. Behalwe die geluid van die spuitkannetjie wanneer die siener die blikkie skud voordat hy die volgende gedeelte van die profesie op die besmeerde muur spuit.
Die wit pêrels wat sy oë tydens die trans bedek het, verdwyn. Net betyds dat hy die asemhaling êrens uit die donkerte hoor naderkom. Hy begin hardloop. Agter hom grom iets. Die siener kyk om. Donkerte. Die gegrom verander in ‘n roggeling wat deur die treinstasie weergalm. Die siener beur dieper die donkerte in. Iets bespring hom van agter. Hy gil. Die weerwolf huil. In die verte antwoord een en die ongedierte draf in daardie rigting.
Die spuitblikkie rol stadig om en om en kom teen die oorkantste muur tot stilstand.
Stilte.
***
“Wat het jy nou weer hier?” Hy bekyk dit wat sy na hom uithou. Daar is ‘n silwer potjie met die teken van die kruiedokters, ‘n vervalsde draakoorbel, ‘n ketting met ‘n proefbuis waarin ‘n bebloede vinger dryf, ‘n ring met ‘n ou eikeboomembleem en nog ‘n paar ander snuisterye. Hy vra lankal nie meer waar sy dit gekry het of hoe sy daarvoor betaal het nie.
Haar regtermondhoek trek kant toe saam met die vinnige opwaartse beweging van haar skouer. “Net ‘n paar goedjies wat ek wil toets.” Sy tel die proefbuis op en hou dit in die dun ligstraal wat deur ‘n skreef êrens bo hulle sypel.
“Ching sê al hoe hy dit kan laat lyk of dit nou net van iemand se lyf afgeruk is, is om dit in van sy eie bloed te druk voor hy dit verseël. Hy sê …”
‘n Trein rammel bo hulle koppe verby en vir ‘n ruk lawaai dit so onder die brug dat dit onmoontlik is om met mekaar te praat. Die boemelaar staan op om water uit die ou Coke-bottel te gooi. Hy het dit onder ‘n lekplek langs een van die brug se pilare laat staan. Behalwe die effense hink in sy stap, beweeg hy heel gemaklik in die halfskemerte van sy nuutste blyplek. Hy skink dit vir hom in ‘n ou roomkleurige emaljebeker en vir Anlia in ‘n wit koppie sonder ‘n oor. Bo hulle donder die trein voort. Die meisie bekyk steeds haar nuwe bykomstighede, onbewus daarvan dat hy die koppie na haar uithou.
Hy tik haar teen die arm en sonder om op te kyk neem sy die koppie terwyl sy die ring met die boomembleem bestudeer. Hy tik haar op die kop en sy kyk vies op. Glimlag egter toe sy die rooi suigstokkie sien wat hy na haar uithou. Sy staan op, haal vyf toffies uit haar sak en ruil dit vir die suigstokkie. Steek dit in haar broeksak vir later en gaan sit weer. Hy neem stelling in op ‘n ou plastiekkrat en drink terwyl hy wag dat die geraas moet ophou.
Toe die laaste tik-tik van die trein in die verte verdwyn, beduie hy, met sy hand wat die beker vashou se wysvinger, na die ketting wat om haar knie tot amper op die grond hang. “En by watter bende wil jy inkom met daai ding?”
Anlia kyk af na die bebloede vinger in sy glasomhulsel. “Jy weet dit sal nie werk nie! Ek het net gedink niemand sal moeilikheid soek met iemand wat haar slagoffer se vinger as ‘n trofee om haar nek dra nie. Maar kyk hoe goed lyk dit,” Sy tel die draakoorbel op. “Lyk dit nie eg nie? Ek wed jou hulle sal dink ek is ‘n drakeling!”
Dagon sug. “Anlia …”
“Feniks!” herinner sy hom aan die nuwe straatnaam wat sy vir haarself gekies het.
Hy druk sy regterwysvinger en duim teen sy oë. Vryf dan driftig eers met die twee vingers en dan met sy hele hand oor sy vuilwit snor en baard. Hy laat rus sy ken op sy hand en kyk weer na die meisie wat so twee meter voor hom op ‘n groterige klip sit.
Met haar lang, swart gekleurde hare, noupassende denim en gebreide swart jas wat tot op haar enkels hang, lyk sy soos ‘n gotiese prinses op haar kliptroon. Haar ken is astrant gelig, maar wat hy in haar oë sien is die vrees om oorlewing waarmee soveel van haar ouderdom op ‘n daaglikse, soms uurlikse basis te doen kry.
Wat hulle nie sal doen om veilig te wees en êrens in te pas nie! Hy is daarvan oortuig dat die silwer potjie een of ander chemiese brousel bevat wat sy later gaan probeer om te kyk of dit nie dalk ‘n bonatuurlike vermoë na vore sal laat kom nie.
Met sy hande beduie hy verskonend en sug weer. “Feniks. Dink jy nie dit is tyd dat jy ophou nie? Hoe lank voor jy in die moeilikheid beland of ‘n vampier, drakeling of mantikor jou uitvang en doodmaak nie? Is dit nie tyd dat jy na jou eie roeping begin soek nie?
Sy snork en kyk weg terwyl sy haar oë rol. “Daar begin jy alweer!”
“Ek probeer help, An… Feniks.”
“Dis nie so maklik nie, Dagon!“
Die ou man hou skielik sy hand op en draai sy kop skuins asof hy iets hoor. Sy oë knipper. Dan lig hy sy kop en begin saggies prewel.
Grootoog hou Anlia die ou man dop. Wat sy nie sal gee om soos hy te wees nie! Vir baie is hy net ‘n boemelaar met sy verslonsde klere, deurmekaar, gekoekte hare, vuil naels en vel wat soos leer lyk. Sy weet egter dit is net sy vermomming. Wie sal raai dat hy ‘n gesiene bewaker en kryger van die stad is, wat kies om hier te bly nie? Hier in die stegies, ou geboue, in murasies of ondergronds waar stilte nie net ‘n geluid is nie, maar gedaante kry en waar mens, dier en herinneringe woon wat deur die samelewing vergeet is, is dit makliker vir hom om die boodskappe te hoor en oor te dra.
Hy draai sy kop eers een kant en dan ander kant toe en leun ‘n bietjie vooroor asof hy hard konsentreer om iets saggies te hoor. ‘n Ou, groot medalje met die bewakersembleem, wat hy aan n ketting om sy nek dra, val met die beweging uit sy klere en ingedagte druk hy dit tussen die voue terug. Die volgende oomblik lig hy sy kop en fluister iets na bo.
Vir enigiemand anders moet hy totaal gek lyk, maar hoe langer hy praat hoe meer opgewonde raak Anlia, want so ‘n lang gesprek beteken gewoonlik iets is aan die gebeur.
Dagon se oë skiet oop. Hy spring op.
“Wat?”
“Jy moet gaan. Dit is nie veilig nie.”
“Wat is dit?” vra sy weer terwyl sy haastig alles in haar rugsak druk.
“Harpies. Besig met ‘n strooptog”. Hy gryp sy ou, gekromde houtstaf en begin na die naaste uitgang hink. “Moenie verby die katedraal gaan nie, loop eerder deur die middestad.”
Anlia kreun. Sy haat die middestad! Dit is altyd so besig hierdie tyd van die nag.
Toe hulle buite in die nagdonkerte staan, verberg hulle albei hulle gesigte diep in hulle kappies en luister of hulle iets kan hoor, maar die enigste geluid is ‘n hond wat aanhoudend in die verte blaf en die voertuie op die snelweg.
“Bly laag en stap vinnig.” Hy draai weg, maar draai blitsig terug en neem haar gesig in sy hand sodat sy hom in die oë moet kyk. “Anlia, hou asseblief op om by een van die bendes te probeer aansluit. Dit gaan nog jou dood beteken. Daar is iets anders wat jy moet doen.”
Sy grynslag. “Soos wat… die stad red?”
Hy kyk gespanne eers regs en dan links. “Nie nou nie. Maak dat jy hier weg kom!”
“Wat? Jy weet iets. Sê vir my!”
Êrens hoor hulle iets soos kraaie wat skree en dan begin mense gil.
“Loop!” skree hy en druk haar in die rigting van die markplein.
Sy strompel en verloor amper haar balans. Toe sy woedend terugdraai, is die stegie leeg. Sy trek haar kap laer oor haar gesig, draai om en draf-stap in die rigting van die ou markplein.
Mense dink hulle verstaan. Hulle het nie ‘n flippen idee nie. Dit is ‘n onregverdige wêreld, ‘n wêreld vol verkeerd, vol haat en hartseer. ‘n Wêreld waar sleg goed is en jy enige iets moet doen om te oorleef.
Hierdie is ‘n wêreld waar meisies soek na liefde wat hulle geskeide ouers nie kon kry nie en waar ouens hul emosionele letsels wegsteek agter drank, dwelms en tatoes. Hulle lawaai, jol en lag terwyl hulle binnestes huil. Dit is hier waar swart ink tatoes en orgies gebeur terwyl toekop ouers dink hulle onskuldige bloeitjies is besig om te fliek.
‘n Wêreld waar sprokiesverhale nie ‘n gelukkige einde het nie. ‘n Wêreld waar kinders moeg is vir al die liegstories. Waar glimlagte vals, maar die pyn werklik is. Om nie eers van oorlewing teen die bendes te praat nie!
Dit is net na twee in die oggend.
Sy druk haar selfoon weer in haar denimsak en loer om die hoek na die besige straat waarlangs sy sal moet beweeg. Die middestad is die enigste plek waar die bendes ‘n tipe van ‘n wapenstilstand het – as ‘n mens dit so kan noem. Hier geniet hulle hulself en hou hulle die gevegte vir die strate wat aan hulle behoort. Selfs die paar normale tieners – soos sy – wat braaf genoeg is of maak asof hulle hier hoort, sien kans om in die middestad tussen die spesiales uit te hang. ‘n Plek waar almal bymekaar kom. ‘n Tipe van ‘n niemandsland. Dit is egter nooit veilig nie.
Sy kyk rond. Op die markplein is drie sirenes in die gebreekte fontein besig om te sing. Die fontein spuit al vir jare nie meer water nie en is aan die verbrokkel. Die sirenes is asemrowend mooi. In die straatligte glinster hulle hare en hul stertvinne wat bo die water uitsteek gee ‘n ligte pêrel-gloed af. Sy moet hard stry teen die begeerte om ook nader te stap en na hulle te luister.
Daar is ‘n groot skare om die pragtige wesens saamgedrom en dit laat haar ontspan. Uit ondervinding weet sy dat dit veilig is om daar verby te beweeg. Die sirenes se krag plaas almal in so ‘n trans dat nie een van die aanskouers haar sal pla of aanval nie.
Wat haar egter ontsettend bekommer, is die ses ouens wat net om die hoek by die kafee se ingang rondstaan. Demone. Twee van hulle doen skaatsplanktoertjies terwyl hulle mekaar met vuurballe gooi. Die groep lag en wys toe een val en sê hom sleg. Vloekend vee hy oor sy kaalgeskeerde kop toe hy opstaan. Uit woede slinger hy ‘n vuurbal na die groep en almal koes sodat dit teen die muur ontplof en ‘n swart kol los.
Nog ‘n lid van die groep dra oogomlyner en ‘n halsband met silwer stekels. Hy staan ‘n entjie verder teen die muur en speel met die vuur wat hy uit sy vinderpunte laat brand. Wanneer sy hand heeltemal aan die brand is, maak hy vinnig ‘n vuis om die vuur te blus, voor hy weer sy vingers een vir een aan die brand steek. Anlia kyk hoe een van die groep nader stap en sy lang kuif kant toe gooi. Dit is eers met die beweging dat sy besef dit is ‘n meisie. Die meisie sê iets vir die ou en hy hou ‘n brandende middelvinger na haar uit. Sy leun nader en steek ‘n sigaret aan. Blaas die rook direk in sy gesig. Vir ‘n oomblik lyk dit of hy vries, maar dan gryp hy haar, gooi haar hard teen die muur en hulle begin vry.
Dit gee vir Anlia ‘n plan. Sy haal ‘n pakkie sigarette en ‘n swaar aansteker met ‘n kopbeen en rooi kristal steentjies vir oë uit haar sak. Sy steek een aan en trek twee keer diep. Sy hoes en trek ‘n gesig toe sy die rook uitblaas. Sy haat die smaak! Wat sy nie sal gee om nou eerder die suigstokkie wat Dagon vir haar gegee het te eet nie! Geen regdenkende persoon sal egter met lekkergoed in bendegebied beweeg nie. Dit sal so goed wees soos om te skree: “Hier’s ek! Maak my dood!”
Net om seker te maak dit is steeds veilig, loer sy oor die straat na die agterdeur van die nagklub. ‘n Groep nimfe met blommekranse op hulle koppe is besig om in die straat in uit te stap. Hulle word gevolg deur ‘n klomp jongmanne wat duidelik op die perfekte lyfies voor hulle gefokus is. Die ouens val amper oor mekaar om naby die betowerende wesens te kom. Een steek sy hand uit om aan ‘n nimf te raak, maar ‘n jong reus wat in die donker gestaan het, klap sy hand weg en staan beskermend nader. Nog ‘n jong reus beweeg uit die skaduwees en kom staan aan hulle ander kant. Die nimfe giggel, waai en blaas soentjies vir die ouens terwyl hulle tussen hulle reuse lyfwagte straat af paradeer.
Sy besef sy sal nou moet gou maak. Anlia sug en haal die vinger in die proefbuis uit en hang dit om haar nek. Dan suig sy vir ‘n laaste keer diep aan die sigaret en blaas ‘n rookwolk uit om haar gesig te verberg terwyl sy om die hoek in die besige straat indraai. Sy stap vinnig en regop met haar kappie laag oor haar gesig getrek en die sigaret duidelik sigbaar. Sy stap verby kruiedokters en genesers se winkels vol liefdesdoepa, populariteitsdrankies en vreemde konkoksies wat waarborg om jou van jou realiteit te laat vergeet, tatoeëersalonne en ‘n paar obskure plekkies waarvan sy nie graag wil uitvind wat daar binne gebeur nie.
Toe die sigaret haar vingers begin brand, gooi sy dit eenkant toe. Sy sien ‘n lang, maer ou met ‘n gryswit gesigskleur in haar rigting aangestap kom en sy loop ‘n bietjie stadiger. Sy weet dat daar slagtande agter daardie glimlaglose lippe is. ‘n Entjie voor haar draai hy in die stegie tussen twee winkels af. Sy blaas haar asem verlig uit, maar krimp in een toe sy die gedempte gille van die jong vampier se slagoffer hoor. Hoeveel keer het sy nie al gewens daar was iemand wat haar en die ander normales kon red nie? Iemand wat vir hulle sou veg en dat hulle nie die prooi of speelgoed van die spesiales met al hulle verstommende kragte en vermoëns sou wees nie. Of soos Miemie, die meisie saam met wie sy in ‘n kamer bly, vertel het dat almal normaal was toe haar Ouma ‘n kind was.
Sy is so in gedagte dat sy eers besef sy is aan die anderkant van die markplein toe sy van die sypaadjie langs die verlate polisiekantoor afstap. Daar is ‘n ontploffing en mense wat êrens agter haar juig, maar sy kyk nie om nie. Sy hou net aan stap.
In ‘n donker hoekie, klim sy deur die draad en begin langs die ou treinspoor af loop. Alles is stil behalwe vir die geluid van haar voeteval op die gruis en die geblaf van honde in die verte. Reg oorkant ‘n ou, verlate treinspoorhuis gaan staan sy stil. Iets is verkeerd. Dit voel of iemand haar dophou en sy draai versigtig na die huis toe. Onder deur die voordeur sien sy ‘n flikkerende lig – soos ‘n kers – êrens in die huis brand. Sy beweeg nader en hoor hoe ‘n meisie saggies huil en om hulp roep. Sy kyk eers na die een kant van die spoor en dan na die ander kant toe, maar sy is alleen. Sy weet sy moet net omdraai en weeshuis toe stap en in haar bed gaan klim, maar die drang om nie ‘n slagoffer te wees nie en om iemand wat so magteloos soos sy voel te help, oorweldig haar. Dalk, net dalk, kry sy iets reg. So saggies en vinnig as wat sy kan, klim sy oor die treinspoor en hardloop ligvoets nader. Versigtig maak sy die voordeur oop tot dit kraak, wag ‘n minuut en glip dan in. Geluidloos sluip sy in die gang af na waar die kers brand. Die deur staan half oop. Sy luister. Niks. Versigtig loer sy om die kosyn. ‘n Geweldig pyn skiet deur haar kop toe iets haar van agter tref en sy sterre sien. Iemand stamp haar die vertrek in. Sy val en hoor hoe die deur agter haar gesluit word. Iemand lag.
“Dis ‘n lokval,” besef sy deur die pyn. Skaduwees bewe vir oulaas teen die muur toe die kers flikker en doodgaan. Anlia tas om haar rond. Vat eers niks raak nie, nie eens die muur nie. Skree gedemp toe sy iets fluweelagtigs onder haar hand voel. Sy ruk haar hand terug en klem dit teen haar bors vas. Sy haal vlak asem en kyk verward rond, al kan sy niks sien nie.
Hoe lank sy so in die donker gesit het, weet sy nie, maar die volgende oomblik is daar stemme in die gang wat op mekaar skree. Sy vergeet van haar vrees en begin in die donker na iets soek om haarself mee te verdedig. Dit neem haar ‘n rukkie om te besef die mans is nie op pad na haar nie. Iemand is besig om te veg. Mense skree, harde stampe, dan doef-doef iemand in die gang af, ‘n swiesj geluid en ‘n gil. Doodse stilte. Iemand vroetel met ‘n klomp klinkende sleutels. Anlia wriemel haarself in die hoek van die vertrek in en wag. Haar asemhaling hard in haar ore. ‘n Paar sekondes later verblind ‘n flitslig haar toe die deur oopgaan. ‘n Hand gryp haar aan die arm. Sy probeer losruk, maar die hand kry haar pols beet.
“Kom! Ek is hier om te help! Ons moet dadelik hier uit. Hardloop!”
Die feit dat die ou normaal klink en nie probeer om haar te eet nie, oortuig haar om hom te volg. Sy spring op en hardloop agter hom aan uit die donker bouval. Oor die treinspoor. Sy verbeel haar sy hoor ‘n knor net toe hulle om die hoek verdwyn. Hy hardloop sig sag deur die strate sonder om een keer om te kyk tot hulle ‘n blok van die weeshuis af in ‘n veilige staat tot stilstand kom. Nadat sy haar asem terug gekry het, staan sy op. Sy herken die jongman van skool af. Hy het ysblou oë, kort swart hare, ‘n ligte karamel velkleur en ‘n paar tatoeëermerke. Op sy linker voorarm is daar ‘n dolk en op sy regter een ‘n leë papirusboekrol getatoeëer.
“Ek ken jou. Jy is… Tyrese, nee Tyron,” hyg sy.
Hy glimlag en beduie met sy duim na homself. “Assegaai. Straatnaam,” kry hy tussen sy asemteue uit waar hy met sy hande op sy knieë staan.
“Waarvoor het ons gevlug?”
Hy haal sy skouers op. “Mutasies”
Mutasies! Sy gril. “Hoe… hoe het jy geweet waar om my te kry?”
Assegaai staan op en sluk weer. “Ek het jou gevolg.”
Anlia gee ‘n tree terug. “Jy, wat?”
Hy lig sy hande vinnig. “Dit is nie wat jy dink nie. Ek… Ek kan jou nie alles vertel nie, maar ek is gevra om jou op te pas. Ons… ons wil hê jy moet ons help.”
“My nie vertel nie? My oppas? Julle help? Jy’s mal!” sy draai om en begin weeshuis toe stap.
Assegaai spring voor haar in. “Asseblief, Feniks, die Fluister het my gevra om ‘n ogie op jou te hou.”
Anlia steek vas. “Die Fluister? Dagon?”
Assegaai knik. “Hy was bang iets gebeur met jou. Ons werk saam met die Fluisters en wil hê jy moet by ons aansluit.”
Anlia vou haar arms voor haar lyf. Sy besef skielik dat hy haar nie op haar skoolnaam genoem het nie. “Wie is julle? Meer belangrik, wát is julle?”
Hy laat sak sy hemp effens sodat sy die tatoe van ‘n lantern net onder sy sleutelbeen kan sien.
Haar oë rek en sy begin haar kop skud. “Nee, kan nie wees nie. Die Ligdraers bestaan nie regtig nie. Dit is net ‘n legend. Jy lieg vir my!”
“Kom saam, dan gaan wys ek jou.”
Anlia lag. “Natuurlik sal jy. Vat my na jou nes toe sodat Pappa, Mamma en Sussie monster saam kan feesmaal hou.” Sy stamp hom uit die pad en begin stap.
Hy gryp haar aan die boarm. “Dit is nie veilig vir jou nie. Ons kan jou beskerm!” Hy los haar toe sy hom venynig aangluur.
“Niemand het my nog ooit beskerm nie. Ek sal vir my self sorg,” kry sy deur geklemde tande uit.
Sy los hom net daar en loop na die agterkant van die weeshuis waar sy teen die geut na die eerste verdieping klim, die venster oopstoot en inklouter. Sonder om uit te trek, gaan lê sy op haar bed en staar na die dak. In die donker luister sy hoe Miemie, haar kamermaat, rondrol en soos gewoonlik snikkend na haar ouma roep. Anlia draai op haar sy. Ten minste het sy iemand om na te verlang.
Die volgende oggend maak sy seker dat sy vir Tyron, soos hy by die skool bekend staan, vermy. Pouse sien sy net betyds hoe hy saam met ‘n groep maats in haar rigting op die stoepe stap en sy glip in tussen die seunsbadkamer en die ou tikklas – wat nou as ‘n spookhuis met funksies gebruik word. Daar staan en wag sy tot sy seker is die groepie is verby. Sy is op die punt om uit haar skuilplek te kom toe sy twee ouens deur die badkamervenster hoor praat.
“Werk dit regtig?” vra die een gedemp
“Ek het dit met my eie oë gesien. Hulle gebruik ‘n spesiale ink …iets soos Yan… Yantra as ek dit reg sê en enige voorwerp of wapen, byvoorbeeld ‘n rewolwer, wat jy dan op jou laat tatoeëer kan jy enige tyd van jou vel afhaal en gebruik. Jy is dan amper soos ‘n Skrib, net beter.”
“Wat is ‘n Skrib?”
“Dit is iemand wat boodskappe of briewe deur sy tatoes kan stuur en dan weer die antwoord van iemand anders kan ontvang.
Die een ou snork. “Ek sal ‘n aansteker of selfs ‘n vuurhoutjie tatoe wil kry. As ek ‘n vlammetjie soek is myne verdomp altyd weg. Is seker flippen duur om so iets te kry.”
“Glad nie. Al wat Laurent soek is jou spoeg.”
“Huh? Jou spoeg?” ‘n Toilet word getrek. “Wat wil hy met spoeg maak?” Sy kan hoor die twee is op pad deur toe.
“Wie gee om? Ek sal kan doen met ‘n eindelose voorraad sigarette. Wat is nou ‘n bietjie spoeg vir ‘n pakkie Chestertons, hê?” Hulle lag. “Kom ons gaan rook voor die klok lui!”
Sy glimlag. Uiteindelik!
Anlia maak eers seker dat daar niemand in die straat is voordat sy uit die skaduwees beweeg en oor die pad na die tatoeëersalon stap nie. Hierdie keer dra sy die ring met die eikeboomembleem. Al was sy nog nooit binne die plek nie, weet almal wie Laurent is en dat jy baie versigtig vir hom moet wees. Die klokkie bring ‘n skraal man met glasige oë en ‘n enorme adamsappel uit die agterste kamer. Daar is nie een plek op sy vel wat nie ge-ink is nie. Hy dra ‘n neusring en nog drie ringe aan sy regter wenkbrou.
Sy steek vas, wat soek sy hier? Wat sê sy vir hom?
Laurent draai sy kop skeef terwyl hy na haar kyk en hy sy hande aan ‘n lap afvee. “Jy het seker gehoor van die nuwe Yantra ink?”
Sy knik vinnig sonder om asem te haal.
“Jy weet van die betaling?”
Weer ‘n vinnige kopknik.
“Wil jy ook weet hoekom?” Asof dit ‘n vraag is wat hy gereeld kry.
Anlia kyk oor haar skouer na die deur. Wil sy weet hoekom dit net spoeg kos? Sy is slim genoeg om te weet dit kan nie iets goeds beteken nie, maar gee sy om? Hoe lank soek sy nie al na iets wat haar gaan help om in te pas nie? Om ook iemand spesiaals te wees. Sy kyk om haar na die slordige en vuil vertrek. Wat is ‘n bietjie spoeg as jy uiteindelik iets ongewoons sal kan doen? En vriende het.
Met nuwe moed kyk sy terug na die tattoeëerder en skud haar kop. “Nee.”
Laurent glimlag. “Fantasties!” Hy draai terug na die agterste kamer. “Kom deur.”
Sy volg hom en gaan sit op die stoel waarna hy wys. Kyk om haar rond. Die plek is ‘n krot. In die hoek lê ‘n klomp polistireen bakkies met stukkies oorskietkos nog daarin. Op die kas lê ‘n leë bottel Jägermeister en ‘n halwe Sprite-blikkie wat vir ‘n asbak gebruik word. Die honderde tattoe voorbeelde teen die mure trek egter haar aandag van die vertrek af. Elkeen is ‘n meesterstuk! Laurent is beslis ‘n besonderse kunstenaar. Daar is een tatoe waarna sy nie kan ophou kyk nie – dit is ‘n asemrowende toneel van ‘n meisieskryger wat oor ‘n minotaurus met ‘n spies staan. Dit is die vrees op die monster se gesig wat vir Anlia so aangrypend is.
“Eers die betaling,” sê die skraal ou terwyl hy ‘n proefbuis onder haar ken druk. Sonder om weer daaroor te dink, spoeg sy en hou hom dop toe hy die proefbuis so versigtig soos ‘n kosbare skat neem. Hy plaas dit in ‘n proefbuisstaander saam met ‘n klomp ander proefbuise in ‘n kassie met ‘n glasdeurtjie.
“So, wat het jy in gedagte?” vra hy terwyl hy oorkant haar gaan sit en in ‘n trommel langs hom begin krap.
Sy trek haar skouers op. “Ek weet nie. Ek …ek het nog nooit so iets gedoen nie.”
Laurent glimlag sonder om op te kyk. “So jy is ‘n skilderdoekmaagd. Julle word skaars.”
“’n Wat?” roep sy uit.
Hy begin lag. “Ontspan, ek bedoel jou vel! Jou vel is skoon, nog geen ink nie.” Hy rol met sy stoel tot by die kabinet en haal ‘n stel blou weggooibare handskoene uit.
Sy snork om haar verleentheid weg te steek en kyk af na haar pols. “Dan is dit seker hoog tyd. Ek is moeg daarvoor om gespot te word dat ek nie eers ‘n merk of moesie het nie.”
Alles word stil. Sy kyk op na waar Laurent op sy stoel versteen sit. Sy oë vernou. “Niks?” Hy sluk swaar. “Nie eers ‘n ou seerplekkie of…of… ‘n geboortevlek nie?”
Sy skud haar kop. Wat is nou skielik fout met die ou?
Hy kyk om hom rond asof hy na iets soek. “En…en jou ouers.”
“Dood, seker. Weet nie wat van hulle geword het nie.”
Die tatoeëerder spring op. “Jammer, jy moet gaan. Ek kan nie op jou werk nie. Verlaat asseblief my winkel.”
“Maar…maar hoekom? Ek het dan klaar betaal”, wys sy ontsteld na die kassie waarin die proefbuis met haar speeksel staan.
Laurent ruk dit oop en hou die proefbuis na haar uit. “Vat dit. Loop asseblief.”
Anlia staan op en stap nader om met die man te redeneer.
“Vat dit!” skree hy en rek sy arm verder terwyl hy terselfdertyd na agter tree.
Vies gryp sy die proefbuis en storm uit. Sy hoor hoe die deur agter haar toeklap. Toe sy omkyk, hang die “GESLUIT”-bordjie teen die glas en die ligte is dood. Sy smyt die proefbuis op die grond sodat glasstukkies in alle rigtings spat.
“Feniks …” Sy vlieg om, skielik bang. Uit die skaduwees kom Assegaai gestap met sy hande om hoog om haar gerus te stel.
“Dis net ek.”
Die bang maak plek vir woede. Sy storm op hom af. “Wat soek jy hier? Hou op om my te volg!” Sy begin hom slaan, maar hy weer al haar houe af. “Ek het julle nie nodig nie! Ek het niemand nodig nie!” Sy hou aan slaan. Naderhand is sy seer en sy laat sak haar arms. Assegaai het elke hou geblok en dit lyk nie eers of hy moeg is nie.
Anlia sak op die sypaadjie, met haar gesig in haar hande, neer en begin hard huil. Assegaai krap sy kop, kyk op en af in die straat, sug en gaan sit dan ook. Met sy arms op sy knieë, hou hy sy linkerpols vas en bly waaksaam die donker straat dophou. Toe Anlia se snikke bedaar, vee sy haar gesig met haar hemp af en staar voor haar die donkerte in. Vir lank sit die twee net en luister na die stadsgeluide.
Dan sug Assegaai. “Ek dink nie jy besef watter noue ontkoming jy sopas gehad het nie. Onthou jy die treinspoorhuis? Daar is ‘n bende, wel die Delfi’s staan eintlik as ‘n swerm bekend. Hulle het ‘n manier gekry om spoeg te gebruik om mutasies te vorm. Hierdie mutasies is sterker en gevaarliker as enige ander spesiales wat jy ken. Wanneer hulle uit die korf kom, gaan soek hulle die mens wie se spoeg gebruik is en eet hulle. Dit maak hulle nog sterker.” Hy draai effens na haar om haar dop te hou. Geen reaksie.
Assegaai sug weer. “Daar is ‘n profesie. Dit gaan oor ‘n meisie wat nie ouers of enige spesiale kragte het nie. Dit sê dat sy al die boosheid in die stad gaan beveg en dat die bendes haar sal vrees. Dat sy vrede sal bring.”
“En?” vra sy uitdrukkingloos terwyl sy steeds voor haar uitstaar.
“Dagon is oortuig dit is jy.”
“Maar hoe? Ek kan nie eers myself verdedig nie.”
“Dit is waarvoor die Ligdraers daar is. Om jou op te lei. Ons sal jou nie net leer om jouself te verdedig nie, maar ook hoe om goed te veg!”
Anlia gooi haar kop skielik agteroor en begin hard lag. “Boosheid nogal. Bendes vir mý bang wees?” Sy lag weer en staan op. “Ja! Haai, nou maak alles sin. Alles sal sommer,” en sy klap haar vingers, “skielik reg wees. Dankie vir die geselsie hoor, ek het die lag nodig gehad. Sien jou.” sê sy sarkasties en begin wegstap.”
Assegaai spring op en begin agter haar aanloop. “Feniks, wag, ek …!”
Sy vloek. “Nee!” Sy vlieg om en druk haar vinger teen sy bors. “Ek het nou genoeg hiervan gehad. Los my nou vervlaks uit! Hoor jy my? Ek wil niks met jou, ‘n kamptige profesie of enige …”
Asof iets hom brand, spring Assegaai skielik agter uit en gryp na die boekroltatoe op sy arm. Anlia snak na haar asem toe sy sien hoe hiërogliewe op die tatoe verskyn asof iemand besig is om daarop te skryf. Assegaai lees aandagtig.
“Jy… jy is ‘n Skrib,” kry sy uiteindelik uit.
Assegaai knik net kortaf sonder om van die woorde wat steeds besig is om te vorm op te kyk. Daar is ‘n frons op sy voorkop. Die volgende oomblik tel Assegaai die pen wat deel van die tatoe op sy voorarm is op en begin daarmee skryf. Anlia probeer uitmaak wat hy skryf, maar dit is in ‘n antieke skrif wat sy nie ken nie. Daar verskyn weer twee sinne voordat Assegaai die pen blitsig neersit en dit weer deel van die tatoe op sy voorarm word. Hy kyk ontsteld op.
“Wat is dit?” vra sy bekommerd.
“Dit is die Fluister. Daar was ‘n aanval. Hy…”
“Dagon? Nee!” Sy spring op en begin in die rigting van die oorbrug hardloop. Sy steur haar nie aan Assegaai wat na haar roep of dat hy haar probeer inhaal en keer nie. Sy kan nie vir Dagon verloor nie. Dit is die enigste persoon met wie sy nog ooit ‘n band gehad het. Terwyl sy hardloop flits die tye wat hulle saam spandeer het in haar geestesoog verby. Al die etes en stories wat hy met haar gedeel het. Die dag toe sy uitgevind het dat hy ‘n Fluister is en hoe opgewonde sy was om sy geheim te deel. Die een keer wat sy hom sien glimlag het en hulle albei se liefde vir lekkergoed.
“Asseblief. Asseblief. Asseblief,” herhaal sy oor en oor. Haar bors brand, maar sy hou aan hardloop totdat sy onder die brug staan waar sy en Dagon ‘n paar aande terug gekuier het.
Geskok staar sy om haar rond. Die plek is totaal verwoes. Dagon se besittings is vernietig. Maar wat haar op haar knieë laat val, is die bloed. Op die pilare van die brug, die sand en die klip waarop sy verlede keer nog gesit het. Dan sien sy vingers wat agter die klip uitsteek.
Hande-viervoet kruip sy nader.
Toe Assegaai uitasem ook onder die brug gaan staan, kry hy vir Anlia waar sy langs die ou Fluister se liggaam sit en sy hand vashou.
“Hy was dan ‘n Fluister. Hulle weet altyd wat gaan gebeur. Hoe kon hy nie die aanval gehoor kom het nie?” vra sy. Daar is iets anders in haar stem wat hy nog nooit te vore gehoor het nie.
“Dit…dit was… Hulle het ‘n… ‘n Slurper gestuur,” hyg hy terwyl hy probeer om sy asem terug te kry. “Hulle suig alles wat in hulle pad voorkom op. Selfs woorde.”
Anlia knik asof dit die saak afhandel, buig oor Dagon en haal die bewakersmedalje wat om sy nek gehang het af. Sy hang dit om haar eie en draai dan na Assegaai.
“Wys vir my die profesie.”
Vasberadenheid, tref dit hom. Dit is vasberadenheid wat hy in haar stem hoor.
In die ondergrondse treinstasie aan die anderkant van die stad, hou Assegaai ‘n lantern vir haar omhoog sodat sy die wit woorde van die profesie beter kan lees.
Soos in die sprokie van ouds
Sal sy die mantel dra
Wanneer die nag op sy donkerste is
Is sy die antwoord op die vraag
Krygerprinses
Ouerloos, vlekloos, rein,
sonder spesiale krag
Sal sy die stad se vrede herstel
Die boosheid sal haar vrees
En oor die hordes
Sal sy heers
Maar in haarself sal daar
Geen vrees meer wees
Want haar krag sal spruit
Uit die soeke na geregtigheid
Ingedagte speel Anlia met die medalje om haar nek toe sy die profesie vir die derde keer lees. Sy hou daarvan. Sy weet nie hoe sy dit sal kan regkry nie, maar sy is seker die Ligdraers sal haar kan leer. Daar is net een ding wat sy nie verstaan nie.
“Wat bedoel dit met ‘n sprokie van ouds en ‘n mantel?” Toe niemand antwoord nie draai sy om. “Assega…”
Voor haar staan Assegaai op sy een knie met sy hande voor hom in die lug. Haar oë rek toe sy sien wat hy na haar uithou.
Hy glimlag. “So rooi soos karmosyn.”
***
Een jaar later.
Die wendigo lig sy neus en glimlag toe hy die reuk van suiker en jongmensvleis herken. Aandete, dink hy en draai regs by die stegie in.
Hy roggel toe hy die figuur teen die muur sien leun wat ‘n rooi suigstokkie staan en lek. “Hallo, Rooikappie,” spot hy. “Het jy verdwaal?”
Anlia laat val die kap van haar donkerrooi mantel, druk die suigstokkie in haar broek en laat sak haar voet. “Glad nie, ek wag al lankal vir jou.” Sy draai haar lyf reg en beweeg in haar vegstans in.
Die verhongerde kreatuur gooi sy kop agteroor en lag, ontbloot sy tande en storm. Te laat sien hy die glimlag op Anlia se gesig.
Die kronieke van die Ligdraers
deur Hermes – Hoofskrib van die Boodskappersorde
Inskrywing 128:
Dit was die begin van die groot oorlog. Later het dit as die groot Karmosynoorlog bekendgestaan.
Onder leiding van die kryger prinses, Feniks, het die Ligdraers teen die boosheid van die stad begin veg.
Die eerste operasie wat hulle uitgevoer het was om die moederby en haar korf op te spoor en te probeer vernieting. Dit was nie maklik nie. Niemand het besef hoe groot die Delfi’s se mutasiemagte was nie. Dit was ‘n lang en bloederige tydperk. Die mutasies was sterk en brutaal. Menigte goeie vegters het gesterf.
In die grootste veldslag teen die moederby, is Feniks ernstig gewond. Toe die moederby haar die laaste doodsteek wou toedien, het ‘n ou bewakersmedalje wat die krygerprinses om haar nek dra die fatale steek afgeweer. Terwyl die moederby terugsteier uit verbasing en pyn, het Feniks die moederby oorrompel en haar doodgemaak. Hierdie oorwinning was die draaipunt in die oorlog. Die Ligdraers het weer met nuwe moed die mutasies aangeval en verslaan.
Toe die grootste gevaar verby was, het hulle die ander bendes verdryf.
Feniks het die volgende leër krygers en bewakers van die stad gevestig, die balans herstel en vrede gebring.
‘n Nuwe era het aangebreek.