‘n Duur prys

Rozanne van der Lugt

‘n duur prys  – 2019 © Rozanne van der lugt

Almal het geweet dat sy enige iets sou doen om te wen, maar as mens nou na haar kyk, het sy hierdie keer dalk te duur betaal…

‘n Poligraaf is ‘n vertroude masjien om te toets of iemand die waarheid praat al dan nie.  Mens het egter nie in alle situasies hierdie ingewikkelde kontrapsie nodig nie.  Vra maar net vir enige iemand of hulle jaloers is op Analize Skyneveld; as die antwoord ja is, weet jy dat dit ‘n eerlike individu is.  Indien die antwoord nee is, ruik mens die bedrieëry.

Analize is een van daai gelukkige mense wat die Liewe Vader se witbroodjies vanaf skeppingsdag is.  Sy is beeldskoon, slim, atleties en het genoeg geld om ‘n derde wereld land te kan onderhou.  Sy het ‘n dik bos swart hare wat perfek val sonder om te blaas, tande wat in ‘n perfekte ry langs mekaar glinster, diep blou oë wat die oseaan vlak laat lyk, en is amper gebou soos ‘n model-die enigste verskil is dat sy spier tussen die vel en been het.  Hierdie spiere help haar om te presteer in die 100 meter atletiek, aflos, hoogspring, netbal en ballet.  Sy is elke jaar onder die top tien presteerders van haar klas, meestal onder die top drie.  Haar reeds blas vel word nooit te donker, te rooi of te wit nie.  Ja op die oog af is sy perfek.  Dit is natuurlik alles voordat mens haar leer ken!

Dit kan seker verwag word dat so ’n absolute skoonheid en talente na ’n mens se kop toe moet gaan, maar so erg sal enige iemand skok.  Haar vriendinne was so skaars soos hoendertande en so yl gesaai soos wilgerbome in die woestyn.  Elke een was fyn uitgekies – gesif op gronde van hoe hulle lyk, materiële besittings en invloed.  Geen man sou ooit goed genoeg vir haar wees nie, maar hier en daar het jy haar saam met een gesien- net sodat sy ook so bietjie plesier kon beleef – al is dit ten koste van die jong manne se harte.  Daar was geen kompetisie vir haar nie, en niemand sou nooit kon dink dat daar ooit kan wees nie.

Mevrou Skyneveld het ’n paar keer te veel aan haar gesig laat sny, en haar skrefies oë en dun plat mondjie gee haar die aansig van ‘n padda.  Sy is glad nie op haar mond geval nie -veral nie na ’n paar drankies nie- wat enige tyd van tien uur in die oggend tot elf uur in die aand kan wees.  Van al die behandeling wat haar hare al gehad het, lyk en voel dit soos strooi.  Haar lipstifie is altyd wyd om haar yl lippe gesmeer, en indien sy meer goue juwele aan haar hang, sal sy te swaar wees om te loop.  Geld koop vir haar die aansien wat sy in die dorp na smag.  Indien mens nie van haar rykdom geweet het nie, sou jy glo jou nagmerrie het waar geword en slinger die strate af.  As sy nie gereeld haar lippe nat maak met ‘n drankie nie, sal die sigaret tussen haar lippe vasgroei.  Sy het geen verhouding met haar dogter nie, maar hou daarvan om voor te sit by enige kompetisie- asof mense kan dink Analize kry haar goeie gene vanaf haar Ma. Elke wen vir Analize, is a spogreg vir haar Ma. Om te sê dat sy en meneer Skyneveld nie ’n verhouding het nie, is oordrewe.  Hulle sien mekaar nie eers elke dag in die groot huis nie.

Meneer Skyneveld is een van daai ambisieuse mans wat nooit gaan swot het nie, en reeds sy eerste miljoen op 20 verdien het.  Op 30 het hy die trouplanne met sy 18 jarige meisie begin maak, aangesien daar ’n broodjie in die oond was.  Na die geboorte van sy eerste en enigste kind, het hy gerieflik meer tyd op kantoor spandeer, en minder by die huis.   Hy was verras om te sien dat die kind so vinnig kon loop en praat, maar omdat daar nie goudstawe by haar mond uitgeval het nie, was hy nie beindruk nie.  Solank ’n groep van minder as tien mense voor hom staan, sal hy sy vrou en dogter tussen hulle kan uitken, alhoewel selfs dit vir hom moeite sou wees!  Liefde is ‘n term wat hy in rand en sent waarde kan uitdruk.

In ‘n Klein dorpie soos Wensfontein is daar nie baie geleenthede wat waarlik noemenswaardig is nie.  Die grootste gebeurtenis elke jaar is die skoonheidskompetisie in Julie.  Vir die afgelope vier jaar is Analize as die wenner gekroon, en sal sekerlik die wenner wees vir die res van die tyd wat sy aan die ouderdomsspesifikasie voldoen.  Vir die res van die dorpie is dit ‘n tyd om met opgewonde verwagting te kyk of sy nie dalk ‘n groot puisie iewers het nie, of dalk ‘n bietjie te veel gewig opgetel het nie.  Elke jaar word hulle teleurgestel, en elke jaar gaan hulle terug huistoe en kyk hul weer vas in hul eie imperfeksies.  Niemand sou ooit kon dink dat enige iets ooit sal kan verander nie.  Maar toe gebeur dit.

In die Junie vakansie word die dorpie drie nuwe inwoners ryker:  Die Skoonevelds.  Tanya, wat so oud soos Analize is, is die presiese teenoorgestelde van haar.  Sy het lang blonde hare, wat glinster soos goudstawe in die son.  Haar groot groen oë verlig haar gesig.  Haar ligte vel is foutloos en glad, en haar lyf is net so perfek, indien nie meer perfek as Analize s’n.  Sy presteer goed in langafstande, verspring, hokkie en moderne danse.  Sy gee altyd haar beste in skool werk, en dit word gesien in haar prestasies wat sy akademies verwerk.  Die grootste verskil lê egter in haar meegevoel en empatie vir ander.  Binne die eerste week het sy reeds te veel vriendinne gemaak, en het sy miljoene bewonderaars verdien.  Haar skoonheid kom van beide binne en buite.

Mevrou Skooneveld was ‘n ma duisend.  Nog nooit in haar lewe het sy iemand gekry om die huis skoon te maak, of na haar kind te kyk nie.  Sy het gekies om ‘n ma en ‘n vrou te wees, en sou dus sonder hulp al haar verpligtinge nakom.  Na ‘n tragiese geboorte was sy meegedeel dat sy nooit nog kinders sal kan hê nie, en het besluit dat sy dan meer liefde aan die een wat sy het sal gee.  Die ondersteuning wat sy vir Tanya bied, is soos ‘n brug wat Tanya oor die lewens-riviere help.  Wat okal met enige van die Skoonevelds se lewe gebeur word deur al drie lede van die familie bespreek. Hulle is ‘n fors wat saamstaan.

Meneer Skooneveld is ‘n hardwerkende man, en ‘n liefdevolle pa.  Die besluit om wegtetrek uit die groot stad, was basseer daarop dat sy vrou en dogter veiliger in ‘n Klein dorpie sou wees.  Alhoewel die skuif verseker het dat hy nooit die korporatiewe leertjie hoër sal klim nie, is hy tevrede.  Hy is ‘n betrokke man, en weet van alles wat in sy familie aangaan.  Dit is hoeka hy wat te hore gekom het van die skoonheidskompetisie, en gedink het dat dit ‘n goeie manier sal wees hoe hy, sy vrou en Tanya nuwe mense sal kan ontmoet.

Die voorbereiding vir die kompetisie was vol spanning.  Almal het geweet dat Analize die beste en duurste aandrok sal aanhê, maar gerugte het rondgegaan dat Tanya se ma self vir haar ’n besonderse rok gaan maak.  Die swembroek afdeling behoort ook gelyk op te eindig, aangesien beide dames ‘n perfekte lyf het.  Hulle sal net die regte kleur moet kies wat hul vel die beste aksentueer.  Die meisies is altwee geniaal, so om ‘n goeie antwoord op ‘n vraag te kan gee behoort nie vir enige een van hulle moeilik te wees nie.  Die enigste afdeling wat die angel van die by sal kan skei, is die talent opvoering.

Beide meisies het sonder die ander een se wete, besluit dat hul ‘n danspassie sal uitvoer om hul talente af te wys.  Tanya het egter meer belang gestel daarin om pret te hê op die aand, tewyl Analize gevrees het dat daar dalk iemand kan wees wat die kroon van haar kan steel.  In haar bestaan kon sy nie aan iets ergers dink as iemand wat dalk mooier, slimmer of beter as sy kan wees nie.  Skielik was Analize vriendinne met die beoordeelaars se kinders, vriendelik met almal, en so sag, jy kan haar op brood smeer.  Wen was al waaraan sy kon dink.  Wen is haar lewe.

Terwyl Tanya elke aand na skool in gekom het om haar dans te oefen, het Analize in haar eie huis met ‘n privaat afrigter in een van die sale geoefen.  Twee weke voor die kompetisie het Analize verby die saal gestap en Tanya se dans gesien.  Jaloesie het soos ‘n pepperkorrel by haar slukderm afgewurg, en geweier om verteer te word.  Nie net doen Tanya ook ‘n dansvertoning nie, maar hare lyk soveel beter!  Met twee weke om te gaan, sal sy dadelik iets meer fenominaal, meer fantasties, meer veruklik, meer verskriklik moet doen!

Na harde werk, vele beplanning en herhaalde oefenig het die aand aangebreek.

Die dorpsaal was so vol dat die sweetdruppels van verskillende mense op jou skouer val en meng.  Hier en daar het ‘n verdwaalde vlieg lui rondgeloop, te warm om te sy vlerkies te gebruik.  Die skare het opgewonde gepraat.  Die vrouens met ‘n hand voor die mond en sinne wat begin met: “ek wil nou nie skinder nie, maar…”.  Die Skoonevelds en die Skynevelds het oorkant mekaar hul stoele ingeneem.  Mevrou skyneveld duidelik reeds onder die invloed en Meneer Skyneveld op sy selfoon.  Die Skoonevelds het rustig met ander mense gesels, nommers uitgeruil en meer geleer van die dorpie.  Die saal is tot stilte geroep en die ligte is gedoof.  ‘n Man het voorentoe beweeg en die 15 finaliste voorgestel.  Die ander 13 meisies kon net sowel poppe gewees het, niemand het in hulle belang gestel nie!  Die finaliste het verdwyn van die verhoog af, en die man het nog ‘n paar sinne gesê om die meisies tyd te gee om aantetrek vir die eerste item, en toe die gordyne oopmaak, het die olie in die vuur geval!

Die eerste item was sportdrag.  Analize het ‘n rompie met ‘n stywe hempie aangehad.  Dit het haar bene aksentueer, en die perfekte verhouding tussen haar borste, heupe en middel afewys.  Mens kon duidelik sien dat die beoordeelaars baie belang stel in hierdie netbalpakkie.  Tanya het klere aangetrek soos langafstand atleet.  Die broekie het net die noodsaaklikste toegemaak, en die bokant het haar maag gewys.  Haar lang bene het gelyk asof dit met ‘n rekenaar perfek gemaak moes wees, en mens kon die spiere in haar maag sien.  Nie te veel nie- net genoeg.  Daar was geen manier om een bo die ander te beoordeel nie, beide meisies het hul goed van hul taak gekwyt.

Die swembroekafdeling was elke jong lat in die gehoor se droom, en sal hul vol drome hou tot die volgende jaar se kompetisie.  Tanya en Analize het beide veruklik gelyk.  Altwee het ‘n twee stuk swembroek aangehad, wat net toemaak wat noodsaaklik is.  Die res van die perfekte lywe het gewys en geglinster in die ligte wat op hul skyn.

Teen die aandrok afdeling was daar slegs 10 meisies oor, en na die afdeling sal daar net 5 wees.  Analize het verskyn met ‘n stywe rok van wynrooi materiaal.  Die rok het dun bandjies gehad en die hele rug het gelyk asof ‘n spinnaker sy web daar geweef het.  Dit het ‘n sleep aan die een kant gehad wat elegant agter haar aangesleep het soos sy oor die vloer gewals het.  Die enigste ding wat lelik aan so ‘n rok kon wees, is die prys as dit nog daaraan vas sou wees.  Tanya het ingestap gekom met ’n goue bruin nommertjie.  Dit was ‘n bruim uitskop romp met ‘n korset bokant.  Daar was geen bandjies oor die skouers nie, en op haar kop het sy ‘n klein kroontjie gedra.  Haar rok was nie so asemrowend soos Analize s’n nie, maar het soos ‘n handskoen om haar lyf gepas en haar skoonheid net beklemtoon.

Die vyf dames wat oorgebly het, is toe almal ‘n vraag gevra.  Die vra was nie daar om hulle vas te vra nie, net om seker te maak dat die meisies nie net prag en geen brein is nie.  Beide Analize en Tanya het hul goed van hul taak gekwyt om die vrae te beantwoord, het oor die hele gehoor gekyk soos hulle praat, en hul stem helder en duidelik gemaak.  Beide het ‘n juigende applous verdien, en geen persoon in die gehoor kon een bo die ander sit na al die afdelings nie.  Die meisies was te gelyk, en te goed in alles!  Die wenner sou slegs op die talentkompetisie bepaal kon word.

Tanya het eerste haar dans gedoen.  Dit was indrukwekkend, en mooi vir die oog.  Soos sy die bewegings uitvoer, sien mens die spiere in haar lyf uitbult.  Op haar gesig het sy die heeltyd ‘n glimlag gedra.  Dit was asof sy met ritme gebore was.  Gou het die gehoor hul hande begin klap op maat van die musiek, en tot almal se spyt het die vertoning na twee en ‘n halwe minute opgehou.  Die ander drie deelnemers het gevolg, maar niks noemenswaardig gedoen nie.  Hulle het geweet dat hulle kompeteer vir die derde plek!  Toe Analize die verhoog betree, het ‘n paar mense verward rondgekyk.  Van die kant af het mense balke en toue ingestoot wat mens vir akrobatiese toertjies gebruik, maar almal weet dat ballet tog haar sport is.  Sy het voor gaan staan en uitdagend aangekondig dat talent nie behels om iets te doen wat jy elke dag doen nie, maar om iets nuuts te kan doen.  In absolude stilte het sy aan die eerste tou gaan hang, en stadig maar seker begin swaai.

Niemand weet presies hoe dit gebeur het nie, maar toe Analize misgryp en op die grond val, kon almal in die saal die gekraak van haar nekwerwels hoor.  Die kompetisie se resultate was uitgestel omdat die ambulans haar moes kom oplaai, maar hulle het na ‘n paar dae afgekondig dat hulle besluit het dat Analize die wenner is.  Almal weet dat sy die eerste prys gewen het omdat sy nooit weer in so ‘n kompetisie sal kan deelneem nie.  Sy sal nooit weer aan enige iets kan deelneem nie.

‘n Maand later het haar familie verhuis en die dorpie verlaat.  Dit was ‘n patetiese gesig om Analize in haar rolstoel te sien, nie eers in staat om haar kop op haar eie te kan draai nie.  En op haar skoot het ‘n goue trofee pap gelê met hande wat dit nooit self sal kan vashou nie.  Haar prys waavoor sy so duur betaal het.