‘n Hoed vol geluk

Ronel Janse van Vuuren

‘n hoed vol geluk  – 2019 © ronel janse van vuuren

Hiro draai sy waentjie vol koolkoppe om die lig net reg te vang om klante te lok. Hy het ten minste drie ander stalletjies met koolkoppe gesien toe hy vroëer die markplein binnegekom het. Hiro weet dat sy groente van ‘n beter gehalte is as enige van die ander groentesmouse, maar dit beteken nie dat die mense van die dorp dit weet nie.

Hy kyk die markplein deur, verlig met die sagte strale van sonsopkoms. Die subtiele verskil in die omgewing se kimonos gaan nie op hom verlore nie. Hy weet hy staan uit soos ‘n seer oog, maar daar was nie tyd om nuwe klere te kry nie. Darem het hy ‘n nuwe mark gevind… En die ander stalletjies lyk nie veel anders as syne nie: meeste bestaan slegs uit ‘n hout waentjie gevul met ware, net ‘n paar het tafels.

Die son klim hoër oor die berg en die eerste dorpenaars kom die markplein binne. Hiro kry sy beste verkoopsglimlag in plek en hoop vir die beste.

In die vorige dorp was hy en sy koolkoppe baie gewild. Die mense het altyd eerste na hom gekom. Totdat… Hy sug en druk die herinneringe weg. Hiro hou die mense op die markplein dop. Elke dorp is maar dieselfde. Landhere en hul samoerai, geneeshere en ander geleerdes wat bo die ander uitstaan, gewone dorpenaars wat met hul hande werk – en die verworpenes. ‘n Laaitie, nie ouer as tien nie, dwaal deur die markplein en verrig klein takies – terwyl almal, veral die ander kinders, hom ignoreer.

Mense kom en gaan, maar niemand koop sy koolkoppe nie: hulle verkies die laer pryse van die ander groentesmouse ten spyte van die merke op die groente wat smaak beïnvloed – en nie ten goede nie.

Skerp sonlig en warm wind maak die middag ondraagbaar. Meeste van die stalletjies is al opgepak omdat hulle uitverkoop is. Hiro het een koolkop verkoop. Een. En hy is seker daarvan dat die vrou dit uit jammerte gedoen het. Hy hou sy glimlag in plek ten spyte van die son wat hom brand, die wind wat hom looi en die knop in sy keel.

Warrelende skaduwee laat Hiro opkyk. Iets groot val uit die lug. En land hard op sy waentjie.

“My koolkoppe!”

Hy voel trane in sy oë brand. Hy lig die voorwerp op en sien dat sy koolkoppe in verwoesting in die waentjie lê. Niemand sal hulle nou koop nie. Los blare wikkel in die wind, maar bly waar hulle is.

Hiro kyk af na die ding wat sy dag in die wiele gery het. Dit lyk soos ‘n hoed, maar dit het ‘n breë rand wat hy nog nooit op ‘n hoed gesien het nie en dit verander kleur soos die lig op dit land. Hy haal sy skouers op en sit die hoed op. Hy kan net sowel iets uit die gemors kry. Hy tel die pale van sy waentjie op – die disselboom – reg om weer huis toe te loop.

“Ek’s Steve.”

Hiro laat val die waentjie se pale en kyk rond. Daar is niemand naby hom nie. Hy buk af om die disselboom weer op te tel –

“Ek’s Steve. Wie’s jy?”

Hiro spring regop. Hy kyk rond. Steeds niemand.

“Waar is ons?”

Hiro voel lam. Hy is seker daarvan dat die stem uit die hoed kom. Hy lig sy arms versigtig en reik na die hoed. Maar dit weier botweg om te beweeg. Hy trek en ruk, maar die hoed sit vas.

“Ek het nog nooit jou soort teëgekom nie. Mm. Dit gaan ‘n rukkie vat om hierdie vaartuig wys te raak…”

Hiro hou op luister. Sy bloed voel soos ys wat deur sy are spoel. Hy het al gehoor hoe liggame oorgeneem kan word deur wesens van ander ryke, maar hy het nooit gedink dat dit met hom kan gebeur nie.

Hy voel sy vingers beweeg sonder dat hy dit doen. Hy sluk swaar.

Hiro loop na die man wat speserye verkoop by die stalletjie naaste aan hom. Die man kyk een keer na hom voordat hy wegdraai en ‘n punt daarvan maak om Hiro te ignoreer. Stalletjie na stalletjie gebeur dieselfde ding. Selfs die dorpenaars gaan uit hul pad uit om hom tet vermy. Hiro voel na aan trane soos sy vingers ‘n deuntjie klap. Dies nog erger as by die vorige dorp. Ten minste tóé het hy geweet hoekom sy geluk gedraai het: verbode liefde het die manier om jou wêreld af te brand. Maar nou?

Hy kyk paniekerig rond. Hy sien die eensame laaitie op ‘n lae klipmuurtjie sit en verlangend kyk hoe die ander kinders speel met tolle. Hiro masjeer na hom toe.

“Ek het hulp nodig. Waar is die naaste fee?”

Die laaitie kyk hom op en af. “Dit hang af hoe desperaat jy is.”

Hiro se linkerarm skiet op en waai vir iets. Hy gebruik sy regerhand om sy ander arm af te druk.

“Baie,” antwoord hy.

“Daar’s een onder in die rivier.”

“Kan jy my asseblief soontoe vat? Ek het nie baie tyd nie.”

Die laaitie haal sy skouers op en spring van die muurtjie af. “Volg my.”

Hiro probeer hard om by te bly. Die wese wat homself tuisgemaak het op sy kop neem meer en meer van sy liggaam oor. Toe hy vir ‘n derde keer in die verkeerde rigting draai, gryp die laaitie sy arm en sleep hom agter hom aan.

Hulle kom eindelik by die rivieroewer aan. Die laatmiddag son maak dat die welige plantegroei donkergroen en geheimsinnig lyk. Die gedruis van die rivier doof alle ander geluide uit.

Die laaitie haal ‘n komkommer uit sy sak uit en hou dit in die lug op. “Ons kort hulp.”

‘n Groen kind met ‘n skilpaddop op sy rug kom druppend uit die rivier uit; sy groot oë vasgenael op die komkommer. Hiro gril. Die oeroue wese voor hom kom uit sy diepste, donkerste nagmerries uit. Die stories wat hy van dit gehoor het…

“Toe, vertel hom wat jou probleem is.”

“Jy’t nie gesê jy vat my na ‘n kappa nie!” sis Hiro.

“Jy’t gesê jy is desperaat. Dit sou tot middernag gevat het om tot by die kijimuna by die riviermond te kom.”

Hiro sug gelate en kyk na die kappa.

“Die hoed wil nie af nie. En ek dink dit het ‘n wese in…”

Die kappa kyk vir hom en sy oë word groter toe sy blik op die hoed val.

“Dit kom van ‘n ander ryk. Heel moontlik uitgeskop…” Die kappa se stem maak Hiro naar op sy maag. “Bring vir my iets spesiaals… ‘n opoffering van jou af… dan sal ek die hoed en wese verwyder.” Hy hou sy hand uit en die laaitie gee vir hom die komkommer. Die kappa verdwyn terug in die rivier in.

Met die kappa weg, voel Hiro verslae in die viswalms wat die wese agtergelaat het. Selfs die rivier klink sag in sy ore: sy woeste hartklop neem sy sintuie heeltemal oor.

“Wat nou?”

“Nou kry jy vir hom iets wat hy van sal hou.”

“Soos wat?”

“Komkommers, spanspek – of iemand om te eet.”

Dit gaan maar moeilik opdraende soos die laaitie hom terug dorp toe sleep. Hiro weet dat hy nie alleen enigiets sou kon doen met sy arms wat een rigting gaan en sy bene ‘n ander nie. Hy is verskriklik dankbaar vir die hulp van die naamlose laaitie.

Hiro soek die markplein deur, maar niemand het meer komkommers of spanspek oor nie. Die son begin te sak en hy begin desperaat te raak. Hy gaan staan by sy waentjie vol pragtige, gebreekte koolkoppe.

Sy liggaam word stil. Hy adem stadig uit… “Help my, asseblief,” fluister hy vir die laaitie.

“Wat’s die plan?”

“Ek gaan dít vir hom vat.”

Die laaitie lig sy wenkbroue, maar sê niks nie. Saam sleep hulle die waentjie na die rivieroewer. In die maanlig is alles in skakerings van middernagblou. Die swart rivier roggel verby teen ‘n vreesaanjaende spoed. Hiro se hartklop is meer as wat sy bors kan hanteer. Sy bene doen vreemde spring en draai bewegings – ‘n dans? – en die vrees vir wat die hoed nog kan doen oorskadu sy vrees vir die kappa.

“Kappa!” roep Hiro.

“Wat het jy vir my gebring?”

“‘n Opoffering. Dit wat vir my die meeste beteken.”

Die kappa kom nader. “Kool?” vra hy skepties.

“Proe net. Dis die beste.”

Die kappa vernou sy oë, maar steek sy lang vingers uit en vat ‘n blaar. Hy druk dit in sy mond en begin te kou. Sy oë helder op en hy klap sy lippe saam.

“Heerlik!”

Hy strompel na Hiro en pluk die hoed van sy kop af.

“Jig! Ek hou nie van parasiete nie.” Hy maak sy hand toe in ‘n vuis om die hoed wat al kleiner word voordat dit in ‘n rookwolkie verdwyn.

Hiro voel lig en vry.

“Jy,” die kappa wys ‘n krom vinger na die laaitie. “Maak seker die dorpenaars weet dat koolkoppe van hierdie groentesmous aanvaarbaar is.” Sy grynslag stuur rillings by Hiro se rug af.

Die fee lig die waentjie op, maak sy mond onmoontlik groot oop en sluk al die koolkoppe in.

“Hier,” hy sit die waentjie langs Hiro neer. “Kry nog en verkoop dit volgende markdag!”

Hy duik agteroor in die swart water sonder ‘n geluid.

“Sjoe! Dit gaan maak dat jy baie waentjies vol koolkoppe elke markdag gaan verkoop.”

“Regtig?”

“Ja! Almal in die dorp het nodig om elke dag iets vir die kappa te gee – of hy veroorsaak chaos. En kool hou langer vars as komkommers.”

Hiro glimlag. Die swaarte wat op hom neergedruk het sedert hy die ander dorp inderhaas moes verlaat het en ‘n nuwe dorp Suid van sy familieplaas moes soek om koolkoppe te verkoop, is eindelik weg.

Hy haal diep asem en kyk uit oor die vallei vol drome. As hy nie verlief geraak het op die landheer se dogter in die dorp Noord van daar nie, sou hy nooit ‘n verworpene geword het nie en sou hy nooit na hierdie pragtige kontrei gekom het nie. En as die hoed hom nie gevind het nie, sou hy nooit die kappa ontmoet het en die moontlikheid van ‘n nuwe lewe gehad het nie.

Hiro maak sy keel skoon en die laaitie hou op met sy opgewonde gebabbel.

“Wil jy my assistent wees?”

“Ek?” vra die laaitie oorbluf.

“Hoekom nie? Jy was die enigste een wat bereid was om my te help vandag.”

Die laaitie glimlag. “Hoekom nie? My naam is Kaito.” Hy buig vir Hiro.

“Ek is Hiro,” sê hy en buig terug.

Hulle glimlag breed vir mekaar.

“Tyd om nog ‘n waentjie te kry!” sê Hiro.

Saam sleep hulle die waentjie by die helling op terug na die hoofpad na Hiro se familieplaas Noord van daar.