Henrietta Botes
neem my weg! – 2018 © henrietta botes
Wetenskapfiksie
‘n Ligte trilling vibreer oor die grasveld. Die jong man frons as hy die vibrasie voel. Dit is vreemd en onbekend. Hy gee ‘n hartverskeurende skreeu en hurk in die donker nag op sy knieë. “Neem my weg! Ek wil nie meer hier wees nie!” smeek hy met ‘n sugstem. Dit kom vanuit die jong man se hele wese. Hy kniel laag op die klam grond en harde snikke breek uit sy binneste. Sy skouers ruk en hy gee uiting aan sy diepste emosies. ‘n Patetiese bondel mens is ineengetrek op die grasveld.
Willem Nel gee homself ‘n paar minute om uiting aan die rou emosie te gee en lig dan sy kop op. Hy sal nie toelaat dat dit hom onderkry nie. Hy was nog altyd ‘n vegter. Met liggaam en gees, is hy sterker as sy generasie.
Sy sterk en kwaai persoonlikheid veroorsaak dat niemand toenadering tot hom soek nie. Hy baklei sy gevegte alleen. Dit is net sy ouers wat hom party maal verstaan het. Hulle het hom in alles ondersteun. Sy pa was ook sterk en slegs hy, het Willem teengegaan, as dit nodig was.
Nou is hy alleen in die wêreld. Geen ouers, geen broers of susters en geen vriende nie. Sy ouers is in ‘n gewapende rooftog gedood en nou het hy niemand nie. NIEMAND!
Die bitterheid sit weer vlak in sy keel, maar hy sluk dit terug en loop vining na die voertuig. Hy het deur die nag gery. Die prokureur het aanbeveel dat hy ‘n ruk moet weggaan. Die boedelproses en polisie-ondersoek sal intussen voortgaan.
Hy bestuur, totdat die dag in die Ooste breek. Moeg hou hy by ‘n padkafee stil. Hy koop koffie en drink die warm vloeistof in die voertuig. Na die kafeïene wat hy ingekry het, voel hy beter en stuur die voertuig se neus verder. Hy het besluit om na een van die Kaapse strande te gaan. Van Mussina af, is dit ‘n lang pad en hy wil so gou moontlik by sy bestemming kom. Daar is nog so drie ure se ry oor. Die radio blêr om hom wakker te hou. Willem sing lustig saam, maar frons as daar steurings oor die radiofrekwensies kom. Hy verstel aan die radio, maar die steurings vererger en vies skakel hy die radio af.
Skielik blits ‘n donker voorwerp oor sy voertuig. Instinktief koes hy en glimlag vir homself. Hy is in die voertuig en dit help nie om te koes nie. Fronsend kyk hy in die lug, maar sien niks nie. Hy twyfel ‘n oomblik, maar skud sy kop. Hy weet dat daar ‘n donker voorwerp van agter af, oor die voertuig geblits het. Dit was vining, maar hy het dit gesien.
Dit is slegs die voertuig se dreuning wat hoorbaar is. Verder is dit onheilspellend stil. Net vir ‘n oomblik en dan is alles weer normaal. Hy karring aan die radio en harde musiek blêr deur die voertuig. Vinnig draai hy die volume af en tuur deur die venster. Van voor af kom ‘n ander voertuig aangery en teen die oop lug sien hy ‘n reier grasieus vlieg. Hy skud sy kop. Dit is asof daar niks was nie!
By die volgende dorpie neem hy vir die laaste keer brandstof in. Dit is nie baie besig nie. Hy klim uit en strek sy bene. Dit was ‘n lang rit gewees. Hy loop ‘n ent van die voertuig weg, terwyl hy wag dat die joggie die brandstof opvul.
Drie fris mans loop na Willem. Hulle het vreemde drag aan. Fronsend kyk hy na hulle en voel ‘n vreemde angs deur hom spoel. Sy sintuie is wakker. “Kom saam!” sê een van hulle bevelend. Willem kug en vra: “Waarheen?” Die mans kom dreigend nader en die vreemdeling antwoord: “Ons neem jou na ons planeet toe. Dit word Moralsa genoem. Dit is ongeveer vyf sonnestelsels van jou planeet af.”
Willem is geskok, maar glo die man onvoorwaardelik. Hy spring om en hardloop blindelings weg. Die dorpie raak besig en Willem besluit om tussen die paar mense in die besigheidsentrum weg te vlug. Die mans agtervolg hom en hy sien die polisiestasie. Vinnig verander hy van rigting en peil na die verwaarlooste staatsgeboutjie. Hy bars in die aanklagkantoor in en skree: “Help my! Hulle wil my aanrand! Arresteer hulle!” Willem word minderwaardig aangekyk en hy vleg tussen die mense deur, sodat hy aan die anderkant van die vertrek staan. Die oop toonbank is vol dossiere wat geopen word. Daar was die vorige nag ‘n skermutseling in ‘n sjebien en die aanklagkantoor staan vol mense, wat betrokke was.
Die drie vreemde mans bars die aanklagkantoor binne en staan ‘n oomblik verras stil. Hulle kyk na die mense en hou hulle wapens dreigend na die roesemoes mense. Dit is asof die mense weet dat die drie mans vir Willem soek. Hulle skree en duik weg van die mans. Die vertrekkie is in chaos gehul met mense, wat oor die toonbank klouter en ander wat enige ander uitgang kies om weg te kom. Een van die konstabels maak ‘n dreigende gebaar na die mans met sy pistool, maar is te laat. Die drie mans gebruik hulle wapens en skiet na die mense. Hulle skote is sekuur en die mense val op die vloer. Die konstabel en ander polisiebeamptes, sak grond toe. Willem staan met sy rug teen die muur en kyk geskok na die warboel rondom hom. Hy staan doodstil. Sy liggaam wil nie beweeg nie.
Twee van die drie vreemdelinge gaan haastig na Willem en gryp hom aan sy bo-arms vas. Hulle dwing hom uit die aanklagkantoor uit en sleep hom vinnig na buite. Die drie vreemdelinge swaai hulle wapens dreigend na omstanders en dié vlug verskrik weg. Willem word na ‘n oop vlakte buite die dorp gedwing. Hy is oor die ergste skok en worstel verwoed met die twee mans weerskante van hom.
Hulle beweeg oor ‘n ruwe grasvlakte en Willem struikel. Hy beland op sy knieë en ruk sy arms hewig na die grond. Die twee mans struikel ook en verslap die grepe aan sy bo-arms. Willem verwag dit en rol agteroor. Hy is vry van hulle grepe en staan blitsig op. Vinnig hardloop hy na die teenoorgestelde rigting. Hy het egter die derde man vergeet en hardloop amper in hom in. Verskrik swenk hy weg, maar is te laat. Die man skop sy bene onder hom uit. Willem ploeg in die sand. Dadelik is die man bo-op hom en sy arms word na agter gebuig. Willem se arms word geboei. Die ander twee mans is ook by en Willem word ru opgetel.
Vies sê een van die mans: “Werk saam met ons! Ons moet so gou moontlik hier wegkom!” Hulle ruk Willem verder en hy sien verdwaas hoe ‘n swart voorwerp voor hulle, bokant die veld hang. Daar is ‘n sagte gedruis wat nie afgeskakel word nie. ‘n Luik skuif oop en die mans dwing Willem na die ingang. Hy worstel, maar die drie mans is sterk en hy word in die onbekende tuig ingeboender.
Binne die tuig word Willem na ‘n bank gesleep. Hy word dadelik teen die sitplek vasgegespe. Die drie mans gespe hulleself ook vas en dan styg die vaartuig sterk opwaarts. Die drukking is sterk en angsbevange kyk Willem om hom rond. Dit voel of suurstof uit sy longe gepers word en hy haal vlak asem. Die drukking is ‘n paar sekondes en dan haal die mans diep asem. Instinktief doen Willem dit ook en hy voel beter. Die asemnood is weg. Niemand beweeg nie.
Daar is ‘n effense trilling deur die vaartuig en dan verander die dreuning na ‘n sagte gedruis. “Dit is veilig om te beweeg, Kaptein!” word ‘n stem êrens gehoor. Willem kyk rond, maar sien nie die woordvoerder nie. Die drie mans se gespes om hulle lywe skuif terug en hulle staan op. Een van die mans staan voor Willem en sê: “Ek is kaptein Serwewa. Ek is aan hoof van die sending om jou van jou planeet af te gaan haal. Die omgewing waar jy jou nou bevind is onbekend aan jou en daarom is dit my taak om jou te oriënteer. Jy word na Moralsa geneem om jou lewe daar verder te hervat.” Willem word bleek. Geskok vra hy: “Hoekom? Wie gee julle die reg om my van my bekende wêreld af weg te neem?” Kaptein Serwewa kyk hom meerderwaardig aan en antwoord: “Jy het daarvoor gevra. Wat was jou nering op die Aarde?” Willem skud sy kop en roep uit: “Ek wil nie hier wees nie! Neem my terug!”
Die vreemde kaptein glimlag skrams en sê dan ernstig: “Dit is nie meer moontlik om jou terug te neem nie. Verandering is nie altyd maklik nie. Dit gaan van jouself afhang, hoe maklik jy by ons wil aanpas. Ek sal aanbeveel dat jy die volgende paar ure rustig terugsit en luister na wat ons jou alles gaan vertel. Dit sal jou oriëntasie op die moedertuig vergemaklik.” Die fris man gaan sit ‘n ent van Willem af en vra vir ‘n tweede keer: “Wat is jou nering, belangstellings, talente en gawes? Ons moet jou beter leer ken. Alle inligting wat jy ons nou kan gee, sal dit makliker maak om jou in die korrekte rigting te plaas.” Willem frons en vra: “Wat bedoel jy om my in die korrekte rigting te plaas? Wat gaan julle met my maak?” Kaptein Serwewa antwoord geduldig: “So vreemd soos wat ons vir jou is, is jy vir ons. My opdrag is om soveel moontlik inligting van jou te kry. Die beheerraad sal jou dan op die geskikste plek plaas, waar jy kan diens doen.” Willem val die man in die rede: “Hoe bedoel jy ek moet diens doen? Waar moet ek diens doen? Ek wil nie hier wees nie!”
Ietwat verergd antwoord die vreemdeling: “Jy wou hier wees.” Hy lig sy hand op om Willem se verontwaardiging te stuit en vervolg: “Jy kan nie verwag dat ons jou moet inneem en nie diens doen nie. Almal van ons op Moralsa doen diens. Van jongs af word ons belangstellings, talente en gawes ontwikkel en dan word ons voorberei om diens te doen in die geskikste posisie waar ons tot ons volle potensiaal kan ontwikkel. Tot op ‘n baie hoë ouderdom doen ons diens. Dit is slegs die Moralsaners wat te siek is om diens te doen, wat verskoon word. Hulle word in sentrums geplaas tot hulle dood.” Die inligting klink soos ‘n konsentrasiekamp vir Willem en hy voel benoud oor sy toekoms. Die kaptein vervolg: “Dit is vir hierdie rede dat ek solank jou karaktereienskappe en belangstellings moet prikkel. Dit sal die korrekte plasing van jou vergemaklik.” Willem word ‘n klomp persoonlike vrae gevra. Eers is hy teësinnig om die vrae te beantwoord. Die man troon voor die sittende Willem en slaan hom deur die gesig. Daar volg harde woorde van beide kante. Willem is magteloos vasgemaak en die man voor hom is vasberade om inligting van die aardling te verkry. Later tree een van die ander twee mans tussenbeide en daar word nie weer aan Willem geraak nie. Na die uitbarsting van emosies, raak die kaptein rustig. Willem het egter nog nie bedaar nie en hy kryt die mans uit. Hy beseer homself met die gespes en die kaptein sê bedaard: “Ons mediese voorrade is beperk op die tuigie. Ek sal aanbeveel dat jy rustig raak.” Sonder om hom verder aan Willem se uitbarstings te steur, gaan sit die groot man langs die aardling en praat in ‘n kalm stem. Hy vertel Willem van die planeet Moralsa. Hulle werkswyses en gewoontes word ook verduidelik.
Uit die kaptein se vertellinge is dit duidelik dat Willem na die onbekende planeet geneem word om permanent daar te bly. Afhangende van die verskillende take wat verrig word, word Moralsaners in werkskampe ingedeel. Die mense word lewenslank in die spesifieke werkskamp gehou. Elke werkskamp funksioneer as ‘n gemeenskap op hulle eie. Kinders word gebore in die kampe en op drie jaar word hulle van die kamp geskei. Die jong kleuters word opgelei en geleer in rigtings wat hulle talente en belangstellings ontwikkel. Na ‘n opleidingstydperk van ongeveer twintig jaar, word die jong mense uitgeplaas in verskillende werkskampe. So word daar gesorg dat die kampe altyd met nuwe bloedlyne gevoed word. Dit verseker ook dat die planeet hoogs produktief bedryf word. Willem sal vir ongeveer vyf jaar buite ‘n werkskamp gehou word, om opleiding te ontvang. Daarna sal hy by ‘n geskikte werkskamp ingelyf word.
Willem voel siek van al die inligting wat hy ontvang het. Sy opstandigheid het verdwyn en hy luister met verdwasing na die vreemde lewenswyse van die mense oorkant hom. Na ‘n ruk word daar opdrag gegee dat almal hulle moet vasgespe. Daar is ‘n suisgeluid en Willem kan voel dat die tuig tot stilstand gebring word.
Die mans staan op en Willem word losgemaak. Hy is styf van die lang stilsit en die mans hou hom aan die bo-arms vas. Hy word uit die tuig gedwing en hulle loop op ‘n groot oppervlakte uit. Dit is die moedertuig se landingsterrein en Willem is verbaas om die groot aantal tuie op die dek te sien. Willem word vinnig deur gange na die bevelvoerder van die moedertuig geneem. Die ouerige man lyk streng en hy wys slegs aan kaptein Serwewa om teenwoordig te wees. Die drie mans staan teenoor mekaar. Die ouerige man word voorgestel as kommandeur Brihaka. Die kommandeur lig die jong aardling met staccato sinne in oor wat met Willem beplan word. Dit is ongeveer dieselfde inligting as wat die kaptein alreeds aan Willem meegedeel het.
Daar is ‘n kort verposing en Willem vra ongeskik: “Hoekom het julle my ontvoer? Ek weet nou wat julle planne met my is, maar hoekom ék? Ek wil nie na julle planeet gaan nie! Ek is tevrede om op die aarde te bly.” Daar is ‘n vlugtige trek om die ouerige man se mond, wat blyk asof dit ‘n glimlag kon gewees het. Hy kyk Willem op en af, en sê dan: “Ons het jou nie gekies nie. Jy het gevra om te kom. Jou besluit is eenmalig en kan nie verander word nie.”
Willem kyk hom fronsend aan en sê: “Julle het nou al ‘n paar maal gemeld dat ek gevra het om na Moralsa te gaan. Ek hét nie. Kan julle nie verstaan dat ek nie na julle planeet toe wil gaan nie?!”
Die bevelvoerder peuter aan ‘n toestel aan sy arm en beveel: “Luister hierna, Willem! Kan jy nóg sê dat jy nie na Moralsa wou kom nie?” Willem frons eers en dan word hy wasbleek.
Geskok besef hy sy eie smekinge vroeër in die donker grasland het realiteit geword: “Neem my weg! Ek wil nie meer hier wees nie!”
DIE EINDE