Jaco van der Merwe
pandora – 2019 © jaco van der merwe
Wetenskapfiksie
1
Na amper ses ure kom ’n antwoord op my noodsein. Suurstof begin min raak en die koue ongemaklik. Die paar hologram lyste wat nog aktief is verskaf slegs spooklig in die stuurkajuit. Rooi en oranje panele flits dringend vir aandag.
Die skip dryf nader. Geen sigbare identiteit tekens nie. Ek verwag nie enige nie. Nie in die smokkelroete waar ek my tans bevind nie. Die skip se rigting word aangepas en dit pas gemaklik aan by die lui tuimeling van my skip. Die vlieënier ken sy storie.
Die radiosender begin krap. Die opsielys spring op in die lug en ek verstel die sein. Die krap vloei na ’n sagte geruis en eindelik na ’n manlike stem.
“…hulp nodig?”
Ek wag. Na ’n oomblik herhaal die stem sy vraag. “Hallo? Lyk of jy hulp nodig het? Enigeen in ’n posisie om te antwoord?”
Ek wag vir die derde poging. Net toe die transmissie begin, roep ek: “Hallo? Hallo? Kan iemand my hoor?” Net genoeg benoudheid in my stem.
“Ons hoor jou. Wat is jou status?”
“Dankie tog! Ek dink die primêre splitsing kapasitor het ingegee. Ek kry geen krag na die hoofstelsels nie. My suurstof is amper op. Enige hulp sal waardeer word.”
’n Oomblik van stilte. Stemme in die agtergrond. “… moet ek weet? Klink ernstig.” Momenteel verhelder die stem weer. “Ah. Sê my, hoeveel bemanning is aan boord?”
“Net ek. Kort afstand vervoer besigheid. Soms slaap ek terwyl die stelsel deur oop gebiede navigeer.”
“Jy is vêr buite die normale roetes my vriend. Net ’n oomblik.” Sy stem raak dowwer terwyl hy met iemand in die agtergrond praat. “Skandering bevestig.”
Ek laat so bietjie ongemaklikheid deurskemer in my stem. “Mm. Jy weet wat? Miskien het ek my misgis. Dis my eerste keer op hierdie roete. Miskien is my situasie nie so erg nie. Ek sal dit uitsorteer.”
’n Oomblik van stilte. Die gesprek word oorgeneem. “Ek gaan nie iemand in jou toestand los nie. Dit sal onmenslik wees. Ons kom aan boord.”
Die laaste deel klink nie veel na ’n versoek nie.
Ek moet dit nou mooi speel. “Dankie.” Dankbaarheid skemer meer deur as onsekerheid in my stem.
“Een ding.” Gesag is te verwagte in sy stem, maar daar is iets anders. Kan nie my vinger daarop plaas nie. “Ons wil nie hê daar moet enige misverstande wees nie. Vir almal se veiligheid sal dit beter wees dat daar geen wapens aan jou is wanneer ons aan boord kom nie. Jy verstaan natuurlik ons posisie?”
“Natuurlik. Geen misverstande nie,” bevestig ek.
2
Die lugsluis sis oop. Gewapend, betree twee mans en ’n vrou die ruim van my skip. Hulle is kategories huursoldate. Beide mans se koppe is geskeer, beide bebaard – een welig terwyl die ander een moontlik as modieus êrens beskou word. Beide is fiks en gespierd onder kamoefleer drag en T-hemde met standaard geveg harnasse. Militêre stewels. Beide spog ook met ingeboude versterkings. Dikbaard se arms beweeg ’n tikkie hakkelrig wat daarop dui dat hy beide arms op ’n stadium vervang het. Die kwaliteit dalk nie die beste nie. Die sintetiese oortreksel lyk egter natuurlik. Modieus se linkeroog het ’n groen skynsel. Uiterlik kan ek nie verdere versterkings sien nie. Daar sal wees. Die vrou se blonde hare is vas in haar nek. Die donker uitrusting onder haar harnas laat haar gespierde middel ontbloot. Sexy. Wat my egter opval is haar oë. Onsekerheid. Dit kwel my. Ek verwag rowers en stropers. Onsekerheid oorleef nie lank in hulle geledere nie.
Haar aandag is op my terwyl die ander die binneruim vinnig deurkyk, aanvalsgewere teen die skouers. Baie professioneel. Haar handwapen is bewegingloos op my gerig. Nie die tipe aandag wat ek verkies van ’n mooi dingetjie nie. Haar oë som my op. Ek is geklee in jeans en T-hemp. Geen harnas. Wil mos nou nie misverstande skep nie. Lenig. Stoppelbaard. Hare effens lank en na agter gekam.
Ek hou my hande agter my kop. Vat nie kanse nie. “My dokumente is daar.” Ek knik in die rigting van ’n krat. My vuurwapen lê in ’n holster op ’n data-skyf.
Sy maak geen aanstaltes om te beweeg nie.
Haar kolegas beweeg terug na die hoofarea waar ons mekaar stilweg aanstaar.
“Des. Niks buitengewoon behalwe ’n sintetiese liggaam in ’n tipe staalhouer daaragter nie,” sê Dikbaard.
Al drie kyk vir my.
“Ek hoop van harte nie jy het daarmee gepeuter nie. Dit is meer werd onbeskadig.”
Des kyk in die rigting waar ek die skyf en wapen gelos het. Sy knik vir Modieus. Na ’n oomblik vat hy die skyf en gooi dit vir haar. Sy skandeer dit met die data-paneel op haar voorarm. Vir ’n oomblik gebeur niks nie. Sy tik die skyf ’n paar keer met haar vinger. Hologram panele spring op en dans in ’n warboel oor haar arm. “Wat?” sy klap die paneel in die eeue oue persepsie dat tegnologie met geweld herstel kan word. Die ligpanele vou terug en weer oop. Sy lees vlugtig deur die informasie. “Kop-jagter?” Sy kyk op. “Goeie rekord. Dolan. Franco. Ons het kompetisie.”
Ek aanvaar die sarkasme as ’n kompliment met ’n klein glimlaggie. Dolan en Franco staar in stilte. “Nou net ’n kontrak klaargemaak.” Ek beduie met my kop in die algemene rigting van die sinteet. Hopelik vra hulle nie verder uit daaroor nie. “Toe loop ek my vas in hierdie moeilikheid.”
“Dit gebeur. Kort afstand vervoer?” Sy lig ’n wenkbrou. Dolan en Franco grinnik. Broers? Of dalk net baie aksie saam gesien.
Ek deel die grinnik. “Jy weet mos.”
“Ons kyk wat ons kan doen.” Sy laat sak die wapen. “Kom. Kry iets om te drink. Vars lug.” Sy gooi die data-skyf vir my. “Lug ten minste. Dit muf hierbinne.”
Vir ’n oomblik staan almal en kyk na my. Ek hou my hand uit na Des, palm na bo. Sy gee ’n skewe glimlag.
My vuurwapen word nie aan my teruggegee nie.
3
Die Desperado is amper drie keer die grootte van my skip. ’n Bemanning van agt diens haar gemaklik. My minder flambojante Solid Space aan die ander kant is ’n derde of selfs vierde-generasie ligte vragskip wat maklik opereer met een of twee bemanning. Sy het ook ’n opgradering of twintig nodig wat nou al ’n paar jaar uitstaande is.
Die koffie wat ek geniet in die klein ontspanningsarea is beter as wat ek verwag het. My twee wagte – ek is nie geflous nie – sit stilweg en staar na my. Ek het intussen uitgeredeneer wie wie is. Dolan met die stotter arms; Franco met die groen oog
Des stap in en wink. “Die Kaptein wil jou sien.”
Ek maak my koffie rustig klaar. Sy gee ’n kyk vir die ander. Ek plaas die beker op die metaal tafel en staan op. “Dan moet ons hom nie laat wag nie.”
Die gangetjies is standaard vir skepe wat nie gebou is vir luuksheid of ontspanning nie. Met ander woorde nou en vol pype. Met my hand op ’n leer, voel ek die beweging agter my. Die hou teen die kop is nie heeltemal onverwags nie.
4
Bewuswording van my omgewing, geskiet deur pyn wat deur my kop skiet, anders as die normale – en meer aanvaarde – duisternis wat ingee tot lig van gewaarwording. Ek bevind my êrens in die onderkant van die skip. Onderkant is natuurlik arbitrêr. Naby die ingenieurs area. Om een of ander rede is daar altyd water wat tap. Die metaal om my is grotendeels nat en groen. Die gewone dreuning van die skip – die lewe van die skip – is meer prominent hier.
Ek vind myself vasgeketting aan die nek, twee langerige kettings strek weerskante na ringe in die vloer. ’n Breë metaalband druk net ongemaklik teen my keel. My hande en voete is egter los. Die oorspronklike doel van so ’n opset is iets waaroor ek eerder nie tob nie. Hoewel ek die metaalband met gemak kan verwyder, moet ek eers my deel speel. Net soos ek moes toelaat om oorrompel te word.
’n Paar noodligte verskaf net genoeg lig om te kan sien. Ek beskou my omgewing krities. Kon erger wees. Was al erger. Ek is alleen. Maar nie heeltemal nie.
“Crichton,” sê ek sag. Niks gebeur nie. Vir die eerste keer begin ek twyfel. Die hele plan was maar skiet-uit-die-heup om mee te begin. Ek het baie geld hierin belê. Desperaatheid is so ’n lelike woord, maar dit som die situasie mooi op wat hiertoe gelei het.
5
Die geluid van metaal op metaal waarsku my. Die luikgrendel draai en Des trek die swaar metaaldeur oop met moeite. Instandhouding is klaarblyklik nie ’n prioriteit nie. Sy hou ’n beker met water uit vir my. Die teken van sorg het ’n onderliggende gevoel van desperaatheid. Ek lig myself waar ek my so gemaklik as moontlik op die vloer probeer maak het. Haar hande bewe en sy mors water terwyl sy langs my hurk. Haar oë is vreesbevange. Ek hou haar dop vir ’n oomblik. Haar oë vermy my. Hier is beslis iets aan die gang.
“Is jy hier om te help?” fluister sy. Sy kyk na die deur en terug. Twyfel. “Jy is nie wat jy voorgee nie. Het iemand jou gestuur?” Angstig.
Ek skud my kop. Wat sê ek? Hierdie was veronderstel om maklike geld te wees. Lyk nou meer na ’n byenes. Met humeurige inwoners.
Sy lek haar lippe. Die angs is fisies. Ek ruik dit aan haar. Nie so sexy nie.
“Miskien kan jy…”Haar woorde raak nog sagter. Sy worstel met haarself. Dan fokus sy op my. “Jou skip is in ’n werkende toestand. Ek weet jy het dit laat lyk soos ’n noodgeval.” Sy byt haar lip. “Nie seker hoe nie.”
Ek gee haar ’n stil kyk.
“Hoekom is jy hier? Regtig?”
“Dit is wat ek ook wil weet.”
Des se mond gaan oop in ’n stil uitroep. Sy skarrel terug en kom orent.
Twee vreemde mans betree my voorlopige leefruimte. Beide in T-hemde en jeans. Een het olierige skouerlengte hare. ’n Algemene onversorgdheid kleef aan hom. Hy staan effens agter die tweede man. “Martin,” sê hy by wyse van voorstel. Hy wys na die algemene omgewing van die skip. “Kaptein.” Sy oë is rooi. Min slaap. Drank op sy asem; selfs van ’n afstand merkbaar.
“En jy is Isak Armstrong,” Die ander man tree nader, sy oë boor in myne. Fiks. Gespierd. Hare kort geskeer. “Of so sê jou profiel ten minste.” Daar is ’n vreemde lig in sy oë. Hy gee ’n skewe glimlag. “Die ding is…met so ’n amateuragtige plan wonder ek wie jy regtig is.”
“Ek weet regtig nie waarvan jy praat nie.” Ek hou sy oë vasgenael. Die ligte flikker reëlmatig drie keer. Ek beteuel ’n sug van verligting. Ek is nie alleen nie.
Louis draai sy kop vraend na Martin. Martin lyk al hoe minder soos die kaptein van sy skip.
“Gaan kyk wat is fout.”
Martin reageer nie onmiddellik nie.
Sagter: “Moet ek weer vra?”
Martin pers sy lippe saam. Hy begin iets sê, maar besluit daarteen. Hy loop uit met Des agterna.
“Nie jy nie, Des.”
Sy verstyf. “Louis.” Haar stem breek. “Dis nie wat jy dink…”
Hy staar na my terwyl hy nader stap aan haar. Hy sit ’n vinger op haar lippe. “Shh. Gaan staan in die hoek.”
Des beweeg soos ’n stout kind wat gestraf gaan word. Haar oë wit van vrees.
“Ek stem met Des hierso. Ten spyte van amateur dag, het die skip skandeerders informasie getrek wat vals is. Hoe het jy dít gedoen?”
Ek beskou hom in stilte.
Hy glimlag weer. Sy aandag verskuif na Des. “Kyk na my Des.”
Sy draai om. Trane loop oor haar wange. Haar oë pleitend. Haar vuurwapen bly in die holster. Hoeveel mag het iemand waar selfs gewapende mense hom vrees?
Louis rig ’n hand in Des se rigting. “Hierdie is vir jou, Isak. Net sodat ons mekaar beter verstaan.”
“Dis nie nodig nie,” sê ek sag. Ek begin ’n slegte gevoel kry.
“O. Maar dit is.” Sy vingers beweeg effens. Des kom orent en staan op haar tone. Haar mond is oop in ’n stil skreeu. Louis lig sy ander hand op, die duim en wysvinger in ’n knypbeweging.
Des begin kreun geluidjies maak. “Asseblief. Moenie. Louis, ek sweer, dis nie wat jy dink nie. Jy weet ek sal nie teen jou draai nie. Nie soos die ander nie. Asseblief Louis. Asseblief.”
’n Telekineet. Maak nou meer sin. “Louis,” sê ek. “Dis genoeg.”
Hy ignoreer my. Gesig opgehelder, grynsend. Hy geniet die mag wat hy uitoefen op ander. Hy maak ’n klein draaibeweging. ’n Siek knak-geluid klap deur die ruim. Des se bobeen vervorm en vou onnatuurlik na binne. Sy gooi haar kop agteroor. Bewusteloosheid omvou haar genadiglik. Louis het nie haar been gebreek nie – hy het die femur eenvoudig omgedraai binne-in haar. Spiere en ligamente het meegegee deur die gedwonge beweging. Die pyn gaan ondraaglik wees. Wanneer sy weer bykom.
Louis hou haar vir ’n oomblik regop. Met ’n beweginkie van sy vingers gooi hy haar in die hoek. Hy gee volle aandag aan my. Met ’n handgebaar lig hy my van my voete af. Die vloer val weg vir sovêr die kettings toelaat. “Ons verstaan mekaar beter, reg? Hoekom is jy hier?”
Die metaalband wurg my. Ek roggel iets.
“Dit is duidelik jy is ’n kop-jagter. Is dit die prys op my kop?” Hy glimlag trots in self-verering. “Dis redelik hoog.”
Ek hou die band met beide hande vas. My voete skop in die lug.
Sy gesigsuitdrukking verander. Suspisie. “Nee. Dis iets anders.” Hy stap nader. “Nee. Jy lyk ten minste of jy ervaring het. Jy sou beter voorberei het. Jy sou seker maak jy weet waarvoor jy jou inlaat.” Hy loop stadig op en af. “Jy was te verbaas oor my klein vertoninkie.” Hy skiet ’n vinger in Des se rigting. Sy ander hand bly egter in my rigting wys, sy krag op my gefokus. Dit is goed om te weet sy krag het ’n fisiese element. Nie net die físiese fisiese deel nie. Indien hy sy krag met net sy gedagtes kon beheer, staan ek nie ’n kans nie. En ek is klaar in diepe waters.
“Nee. Jy is hier vir iets anders.” Hy klap sy vingers. “Die kis? Jy weet van die kis?”
’n Alarm begin skree. Rooi ligte flits net ingeval die alarm nie genoeg aandag trek nie.
Louis swets. Hy besef nie ek bly in die lug hang terwyl hy by die deurgang uitstorm nie.
“Omtrent tyd,” sê ek aan die plafon. My vingers wriemel onder die metaalband in. Die kettings kletter neer, die metaalband oopgeskeur. Vir ’n oomblik langer hang ek in die lug. Gravitasie manipulasie is nie my sterkste talent nie, maar beslis die een wat ek die meeste geniet. Verkieslik egter onder ander omstandighede. Ek dryf af na Des en hurk langs haar. Sy is steeds bewusteloos. Beter so. Ek verwyder haar data paneel en gespe dit aan my voorarm. ’n Skerm spring onmiddellik oop. Ek maak ’n verstelling aan die klank.
’n Elektroniese stem krap vanuit die paneel. “Ek stem saam met hom. Ek is skaam om met jou amateurisme geassosieer te word.”
“Regtig? As ek reg onthou het ons hierdie saam beplan.”
“Bespreek eerder. Ek kan dit nie met eerlikheid ‘beplanning’ noem nie.”
Ek ignoreer Des se wapen en loer by die deurgang uit. “Vuur êrens in ’n sensitiewe area?”
“Inderdaad. Die inligting wat ek die skip stelsel voer sal hulle laat rondhardloop vir ’n paar minute voor hulle agterkom ons lei hulle aan die neus rond.”
“Lekker. Hoekom het dit jou so lank gevat om iets te doen? Jy het toegang tot hulle stelsels gekry die oomblik toe Des die skip betree het.”
“Wel. Ek is jammer. Ek moes stilsit in haar data paneel tot haar skip stelsel toegang daartoe verskaf is. Dis minder aangenaam as jy mag dink. Om die waarheid te sê; ek moes ’n subprogram verlei om ’n ander stelsel te oortuig om logika assosiasies te volg…”
Ek maak ’n geluid. “Jammer ek het gevra. Wil eerder nie weet nie.” Ek luister aandagtig by die ingang. “Kon jy háár opspoor?”
“Regtig?”
Elektroniese sarkasme. Kan jy nou glo. Aanwysings maak oop in ’n nuwe paneel. “Aangesien jy losbandig verkeer met die stelsels, kan jy sommer ’n aanduiding gee van die ander se bewegings?”
“Om een of ander rede het die skip nie kameras nie. Ek kan slegs sekondêre tegnologie gebruik.”
Die inligting maak oop oor ’n nuwe paneel. Die data panele van die bemanning is tot Crichton se beskikking. Hulle hardloop nog agter spook vure aan.
“Dankie baie o Meester Manipuleerder van Tegnologie.”
“Jou sarkasme laat jou intelligensie deurskemer.”
Ek grinnik. In die loop: “Telekinete en Telepate is oor die algemeen ’n bietjie los in die kop. Louis is geen uitsondering. Indien hy nie reeds oor die agtergrond is nie, is hy baie naby. Ek neem aan jy het die insident met Des gevolg?
“Grotendeels. My sitplek in die data-paneel se visuele vlakke was effens beperk. Wat van haar?”
Ek kyk terug na die onnatuurlike vou van haar been uit die heup. “Daar is nie veel wat ek kan doen nie. Hoe vinniger ons hier klaar is hoe vinniger kan sy hulp kry.”
“Ek sien nie hoe sy jou probleem is nie.”
“Dis nie dit nie.” Hy is verkeerd. Maar nou is net nie die tyd om persepsies te deel met iemand wat langer tyd bestee in masjiene as met mense nie. Ek beweeg deur nou gangetjies en gly af teen nouer metaal lere dieper in die maag van die skip. Crichton deaktiveer die elektroniese slot op die massiewe deure by ons bestemming.
“Ek dink hulle het ons klein grappie uitgewerk. Iemand is op pad hierheen.”
“Wie?”
“Almal. Ek stel voor ons doen wat ons gekom het om te doen. Vinnig.”
Die deure rammel oop soos ’n metaal kakebeen. Twee verdere panele word ontbloot wat kant toe skuif met ’n gedonder om ’n area te ontbloot wat ongeveer agt meter breed en twee keer so diep is. Dit lyk soos ’n ou laboratorium, kompleet met drie staal ontleedtafels teen die een kant asook antieke toerusting wat jou moontlik sal dood skok as dit enigsins kragtoevoer ontvang. ’n Afgeplatte kapsule, net groter as ’n standaard doodskis, lê op die vêrste tafel. My aandag daarop gevestig, stop ek dood in my spore met die eerste tree teen ’n sagte voorwerp. My aandag gevestig op die kis, het ek nie die ses liggame op die vloer gesien nie. Almal is gedraai in die rigting van die kis. Asof hulle dit eenvoudig net móés bereik. Droë bloed vanaf gesigte vorm patrone op die vloer. Nekke in onnatuurlike posisies.
Iets vloei oor my die oomblik toe ek langs die liggaam se voete staan. Net ’n gevoel, niks sigbaar nie. Lighoofdigheid dreig – maar eerder daardie lekker amper-dronk gevoel. Ek tree terug en die gevoel syfer stadig weg soos rook wat uitmekaar waai. Ek lek my skielike droë lippe. Die oomblik het aangebreek. Vinnig in en uit. Ek tree weer oor die onsigbare grens.
6
Ek is nie ’n Telekineet nie. Ek is iets anders. Een van die talente wat ek het (nie so bevredigend soos vlieg nie, maar beslis voordelig), is die manipulasie van my molekules. Ek sien dit as ‘dikvelligheid’. Dit vat konsentrasie, ek is nie dikvellig van nature nie. Dit blyk egter te werk teen wat ook al die bemanning onder my voete beïnvloed het. Ek voel nogtans die drukking in my kop soos ’n migraine wat spoed optel. Telepatie. My vingers streel oor die gladde metaal van die kis.
’n Stasis kis. Merkwaardig raar. ’n Buitengewone hoë prys was aangebied om die kis op te spoor. Sodanig dat ek ’n lyn oorskry het. Ek steel tegnies van diewe, reg? Die gedagte los egter ’n wrang smaak in my mond.
Die Telepaat is ’n verassing wat die prys skielik verklaar. Hoe kragtig moet sy wees om deur die stasis-effek beheer uit te oefen?
Plasma energie flits verby my. Ek koes outomaties.
Louis staan aan die buitekant van die laboratorium. Dolan en Franko neem beurte om te kyk wie kan my raak skiet. “Crichton?”
“Ek weet ek weet. Al waarvoor ek goed is.”
Die deure rammel toe. “Jy kon my gewaarsku het.”
“Ek kon. Of jy kon die situasie nou al lankal uitgesorteer het. Ek probeer jou behulpsaam wees.”
“Jy het ’n vreemde manier om behulpsaam te wees.”
“Nie fisiese hulp nie. Jou gees het aandag nodig.”
“Jy raak nou moreel ideologies. Ek het meer alkohol nodig voor ek kan saampraat.”
’n Geluid wat moontlik ’n elektroniese snork kan wees is hoorbaar deur die data paneel. “Jy kan hom vat.”
Louis. “Dis nie die punt nie. Hierdie is nie ’n speelgrond boelie wat ’n les moet leer nie. Dis nie ’n kompetisie nie.”
“Oorlewing is ’n kompetisie.”
Crichton het moontlik geen ander uitlaat as om my te pes nie. “Om rond te gaan en almal dood te maak is nie die beste uitweg nie.”
“Maar dit is ’n uitweg.”
Ek streel oor die kis.
Oorlewing.
Ek plaas my hande op die kis. Wat wou ek doen? Vir ’n oomblik is ek nie seker nie. My kop sweef ’n bietjie. Ek onthou my eie gewaarwording soveel jare terug. Hande besmeer met bloed. Verbrande, verskeurde liggame opgehoop. ’n Koue gevoel vat my binneste vas. Hoekom dring hierdie gedagtes nou deur? Ek probeer fokus. My palms is op die kis. Energie pols sigbaar deur die vel.
Ek ruk my hande terug. Wou ek nou net die kis probeer vernietig? Sweet loop teen my rug af. Dan die gedagte: weet sy?
Die massiewe deure wat Crichton met soveel sorg toegemaak het, word gewelddadig oopgeskeur. Louis is sterker as wat ek verwag het.
Ek tree terug van die kis.
Ek begin dink ek moet hierdie dinge beter beplan. Of dalk net beplan. “Crichton?”
“Ja, o Meester? Wil u hê ek moet my pligte as ’n deurwag uitoefen? Sal ek bestellings neem?”
“Nou is dalk nie die beste tyd nie.”
“Dis nooit nie.”
“Crichton!” My geduld is besig om beproef te word. My dag loop nie soos ek verwag het nie.
“Niks wat ek kan doen nie.”
Louis staar my aan, hande uitgestrek. Verblydend is die sweet op sy voorkop. Dit vat inspanning vir hom om soveel krag te gebruik. Hy is sterk, maar daar is perke. Ek het egter nou ook genoeg gehad van mense wat op my skiet. En oor die kop slaan. En in die algemeen my dag opmors. Hierdie was veronderstel om maklike geld te wees. Energie vlam op in my hande. Dolan se oë word groot. Sekerlik die enigste rede hoekom hy wyd skiet en my eerder in die skouer tref. Ek verwag dit egter. Dikvellig. Die geweld druk my steeds ’n tree terug. Sy oë word wit.
Ek maak ’n slinger beweging met my arm en energie flits vanuit my hand. Ek hoop van harte Dolan se inplant was goedkoop en geen senuwee konneksies loop deur sy arms nie. Hy word terug geslinger, sy regterarm ’n verwarring van gloeiende masjinerie wat eindig net bo die elmboog. Ek kan Louis nie kans gee om op my te konsentreer nie. Energie flits van my ander hand. Louis se aksie is onverwags. Franco lig van sy voete af en swaai voor hom in. Effektiewelik ’n lewende skild. Energie slaan in sy liggaam in. In plaas daarvan om meer energie uit te stoot en deur Franco te sny, laat refleks my terugtrek. Franco hang vir ’n oomblik in die lug met ’n gloeiende tonnel in sy bors. Louis maak ’n gooi beweging in my rigting. Ek blok Franco se liggaam met my voorarms en stoot hom kant toe. Ek twyfel of hy nog leef. Louis konsentreer op my. Ek voel hoe sy krag my vasvat. Hy maak ’n wink beweging met een hand. Iets tref my van agter. Die geweld van die aanval is onverhoeds en ek val op die vloer regoor ’n liggaam. Die reuk is selfs erger as die gedagte om ’n lyk amper te omhels. Uit die hoek van my oog sien ek die kis in die lug hang. Dit lig hoër op en looi my hard teen die rug. My konsentrasie glip en ek voel hoe Louis se krag my skelet probeer vasvat. Ek onthou Des se dilemma. Ek kners op my tande en stoot sy krag af. My poging is grotendeels suksesvol. Maar nie heeltemal. Ek voel die drukking letterlik in my bene. Al my bene. Met die kis in gedagte, gooi ek ’n greintjie energie in sy rigting. Nie soseer om hom aan te val nie, eerder om sy aandag af te trek.
Dit werk. Hy tree vinnig terug en die kis val met ’n slag êrens agter my. Ek lig myself ’n meter van die vloer af, energie gloeiend in my hande. Louis reik ’n hand uit en stuit my. Ek druk hard teen sy mag. Ek vorder twee tree nader voordat hy sy ander arm ook teen my uitgooi. Hy pen my arms vas teen my sye. Hy is nie onnosel nie.Net soos hy, moet ek fokus gee aan my kragte. Met my arms vasgepen, stuit hy my effektiewelik. Aan die ander kant dwing ek hom om sy energie op my te fokus en kan hy nie ander voorwerpe gebruik as wapens nie. Ek druk vorentoe. Hy steier.
“Dolan,” sê Louis na die kant toe.
Dolan stap nader, wapen in die oorblywende hand. Dit wys nie heeltemal in my rigting nie. Ek probeer my een hand in sy rigting draai. Louis se krag hernu op my en hou my vas in die lug. Ek fokus energie na my oë toe. Dit is ongemaklik, gaan gepaard met erge hoofpyne en is meestal oneffektief, maar ek moet hierdie situasie vinnig tot ’n einde bring. My kop ruk egter kant toe.
“Nee, nee. Niks daarvan nie,” sê Louis.
Ek druk harder in sy rigting. Dit is soos twee reuse magnete met dieselfde pole wat teen mekaar druk.
“Isaac. Wag.”
Die krag teen my verminder skielik. Hoewel ek die energievloei na my oë reeds gelos het behou ek die energie in my hande.
“Ek dink ons het dalk op die verkeerde voet afgeskop.” Louis is uitasem. Ek weet hoe hy voel. Ek durf egter nie my waaksaamheid verslap nie. Ek bly in die lug hang. Skep ’n posisie van gesag.
Louis laat sy arms sak. Sy kyk is spekulerend. “Kom ons gesels op dieselfde voet.”
“Ek is gemaklik waar ek is, dankie.”
Hy haal sy skouers op. “En jou … spook in die masjien?”
“Ek is ook gemaklik waar ek is.” Crichton antwoord deur sowel my data-paneel as Louis en Dolan s’n.
“Hy sal hom gedra. Vir nou,” sê ek ligweg.
Louis lag. “Ek dink nie hy kan veel doen vir jou nie.” Hy lig sy hand op om enige vrae voor te spring. “As jy gaan dreig met die sny van suurstof, of oopmaak van die lugsluis – spaar my dit. Jy sou dit doen as jy kon. En jy het nie.” Hoewel Louis vir my kyk is die woorde nie vir my bedoel nie.
“Wat wil jy hê?” Ek hou my stem matig. Ek wil nie hê hy moet weet onder hoeveel inspanning ek verkeer nie.
Weer daardie klein glimlaggie. Asof hy die hef in die hand het. “Snaaks dat jy vra.”
Die sarkastiese antwoord wat ek reg het word onderbreek. Die vloer moker my met geweld. Ek het net genoeg tyd om my gesig met my voorarms te beskerm. Pyn skiet deur my knieë. Indien ek nie gefokus was op digtheid nie, sou bene gebreek het. Ek het Louis onderskat. Weereens. Ek word orent geruk en kant toe gegooi. Ek stop myself in die lug voor ek die teen die muur vasslaan. Dit vat ernstige aandag aan my kant. My regterhand, gloeiend met energie, strek in die rigting van Louis. My hand sper egter onwillekeurig oop en al vyf vingers klap soos hulle agteroor vou. Ek roep uit van pyn. My konsentrasie glip verder en ek voel Louis se krag my vasvat. Refleks laat my draai in die lug en my skouer moker teen die plafon vas. Beter as my kop. My knieë vat weer die impak op die vloer waar Louis my weereens neerkap.
“Wat presies het jy gedink gaan jy vermag?” Louis stap nader en hurk langs my. “Ek het hierdie herwinningsoperasie beplan. Dit het baie geverg om die geabandonneerde skip met die kis op te spoor. Die bemanning dood. Niemand wou naby dit kom nie.” Hy gee my ’n lang kyk. “Seker hoekom jy gewag het vir my om die moeilike deel te doen. Dan stap jy in en vat wat ek voor gewerk het? Wat maak dit jou?”
“Nadat jy ’n gedeelte van jou eie bemanning vermoor het is ek seker die goeie ou.” Ek is amper oortuig van my stelling.
Hy skud sy kop. “Sy het hulle oorgevat. Opgesteek. Hulle het die kis probeer oopmaak.”
“Kan nie wees nie. Dis ’n statis kis.” Maar ek weet hy is reg.
“Dis wat ek gedink het. Sy moet uitermate kragtig wees. Nie baie Telepate daarbuite wat nie onder die Gilde se beheer is nie.” Hy staar in die vêrte vir ’n oomblik. “Nie al die Telepate word gedwing om ons soort uit te snuffel nie. Ek hoor van hulle doen dit vrywillig.” Hy sug. “En dan is daar jy. Wat gaan ons met jou doen?” Hy vryf sy ken nadenkend.
“Sy weet wat jy beoog met haar.” Ek weet nie waar die gedagte vandaan kom nie, maar ek is seker van die waarheid daaragter. “Sy hou nie van die idee nie.”
Louis lig ’n wenkbrou. “Jy het ’n sagte plekkie vir haar?” Hy grinnik. “Is jy seker daaroor? Of speel sy met jou kop?”
“Ek is my eie mens.”
“Ek is seker jy dink so. Maar hoe seker is jy? Is dit wat sy jou laat dink?”
Ek maak reg om myself in die lug te slinger en spasie te skep tussen ons. Dit vat ernstige konsentrasie. My liggaam is ’n konsolidasie van pyn.
In my periferale sig lig Dolan sy wapen. Nie in my rigting nie. Wraak vir Franco? Louis moes dit ook uit die hoek van sy oog gesien het. Dolan se arm knak onnatuurlik na buite en die skoot mis Louis met meters. Dolan se uitroep word afgesny deur die geweld waarmee hy teen die oopgeskeurde deur geslinger word. Ribbes streel soos vingers om die metaal wat deur sy bors spies.
Ek het een oomblik. Ek rol terug en gryp die kis se gatkant met my linkerhand. Daar is geen handvatsels nie. Ek werp-stoot die kis in Louis se algemene rigting. Akkuraatheid is onnodig. Louis vang die kis in die lug met sy telekinese. Energie spat uit my hand. Ek fokus nie behoorlik nie. Spoed is al wat tel.
Louis se knie kom met geweld op die vloer te lande waar die res van sy been en voet tevore was. Hy skree. Meer skok as pyn. Die pyn sal later kom. Ek dink egter nie hy waardeer die mediese implikasie op hierdie oomblik nie. Oog vir ’n tand my maat. Of so iets.
Die kis val met ’n slag.
“Jou bliks-,” Louis kners op sy tande en lig sy hand.
Energie vloei soos lawa na my hand. Ek het gehoop skok en pyn sal hom sy fokus ontneem.
Die ligte gaan uit. My hand gooi ’n skynsel teen die wande. Ek kon nie ’n beter teiken wees nie. “Crichton! Jou idioot!”
Die ligte flikker weer aan. Louis se gryns begroet my. Die volgende oomblik spat vonke agter sy kop en hy val vooroor.
“Jy is welkom.”
Martin stap nader met sy handwapen gerig op Louis. Hy gryp skielik die wapen met beide hande vas. Die loop draai in sirkels asof dit ’n lewe van sy eie het. Louis lig homself stadig van die vloer op. Die loop mik ewe-eens na Martin se voorkop. “Nee,” fluister hy magteloos.
“Hey! Louis!” Louis besef sy fout. Hy los vir Martin en reik uit na my. Ek pers die energie uit my hand met alles wat ek het. Hy word terug geslinger teen die oorkantse muur. Hy gaan nie weer opstaan nie.
“Moes dit nou al lankal gedoen het.”
“Jip,” bevestig ek.
Martin het die vuurwapen omgedraai en hou dit op my gerig vir ’n lang tyd. Oplaas laat hy die wapen sak. “Jou soort is nie welkom op my skip nie.”
“My soort?”
Hy gee my ’n lang kyk. “Vat die kis. Vat jou spook. Jy het tien minute.” Hy stap weg.
Ek wou vra wat hy sal doen indien ek nie sy skip verlaat nie. ’n Laaste oomblik van bravade om my gekrenkte ego te streel. “Jy besef ek het jou lewe gered?”
Martin stop. “Ek het my lewe gered. Jy het net ’n verdere gemors gemaak. Nege minute.”
7
Crichton se sintetiese liggaam is uitgestrek voor die hologram panele van die navigasie werkstasie. Ek staar na die sterre deur die kajuit venster. Alles is pynlik. Ten minste wys my vingers weer in die aanvaarde rigting. My skip is oud, maar die mediese toerusting is van die beste.
“Ek dink nie die Kaptein hou baie van jou nie.” Crichton se stem modulator blyk steeds ingestel te wees vir sarkasme.
“Dit is opvallend hoe jy jouself uit die prentjie hou.”
Crichton snork. Ek is oortuig hy het die klank effek spesiaal laat installeer. “Spook?”
“Kon erger wees.” Die stilte raak ongemaklik. “Jy was nog nooit een vir chit-chat nie. Vra wat jy wil vra.”
“Nou goed dan. Wat is jou planne met die kis?”
Na ’n lang oomblik antwoord ek: “Ek dink nog.”
“Jy het geen idee wat gaan gebeur indien jy daardie kis oopkry nie.”
“Miskien moet ek eers probeer om dit oop te kry.”
“Hoekom wil jy dit oopmaak? Die kontrak was vir aflewering. Is dit ons probleem? Is sý ons probleem? Of is dit wat sy wil hê?”
Goeie vrae. Ek is self bekommerd oor my wik en weeg. Ek was seker hoe dinge staan toe ek die kontrak aangepak het. Ek is nie trots op hoe ek dit uitgevoer het nie. Louis is nie die enigste persoon wie se optrede bevraagteken word nie. Maar die kis. Ek moet haar daar uitkry. Ek laat die stilte uitrek. Ek het nie ’n antwoord nie.
Crichton is stil. Miskien het hy afgeskakel intussen – wie weet regtig hoe hy funksioneer? Dan: “Jy speel gevaarlike speletjies, Isak. Ons reputasie gaan ernstig beskadig word. Werk gaan moeilik in ons rigting kom na hierdie fiasko.” Na ’n oomblik: “Die Kaptein gaan jou opgee.” Daar is ’n outomatiese prys op enigeen wat anders as normaal is. Martin kan maar Louis se kontrakprys insamel. Lewendig sou dit dalk meer ekonomies wees vir hom, maar jy vat wat jy kry. Des se mediese uitgawes alleen gaan astronomies wees. Dit sal hom egter nie stop om ook ’n vriendelike Telepaat en haar jagters in my rigting te stuur nie.
Ek oorweeg die waarheid wat hy uitlig. “Ons gaan hulp nodig hê.”
“Ah. Nou is dit óns?”
“Tensy jy ’n ander idee het?” Ek weet Crichton stem nie saam met my oor die kis nie, maar uit lojaliteit hou sy opinie vir homself. Vir nou.
“Iemand wat weet hoe om met spesiale gevalle te werk.”
“Jy begin soos Martin klink.”
Hy ignoreer my opmerking. “Ons het iemand nodig wat tegnologie kan manipuleer. Ou tegnologie.” Skerms flits voor Crichton. “Ek dink ek weet van iemand. Hy gaan duur wees. Maar die kis se bestaan sal hom moontlik reeds oortuig.”
“Jy soek hulp op forums wat kop-jag kontrakte aanbied teen buitengewone mense?”
Die skerms hou aan flits, te vinnig vir my oë. “Beste plek.”
Ek staan op en strek. “Die ironie daarvan bring vir my ’n mate van plesier.”
Crichton laat die skerms terugvou. “Die naaste Spring-poort is drie weke weg. Van daar volg ons die skilderagtige agter-roetes. Gaan lê skuins in die krio-bank. Ek maak jou wakker sodra ons daar is.”
In die algemeen vind ons die vryheid buite die grense van die Gereguleerde Terreine minder beperkend op ons lewens. Minder ongemaklike vrae deur offisiële kanale. ’n Verdere drie weke of so se vlugtyd is aanvaarbaar.
Die deursigtige deksel van die krio-bank sny my af van die skip se dreuning. Maar nie van die vroulike stem wat saggies beloftes maak nie.
~O~