Tragedie van die Ligeter

Carmen Edwards

tragedie van die ligeter  – 2019 © Carmen Edwards

Wetenskapfiksie

In Phalaborwa het die sterre laag aan die hemel se dak gehang. Die nag was vol van die natuur se geluide. Olifante het luidrugtig langs die Selati rivier getrompetter terwyl leeus se gebrul ver deur die nag gebrom het. En dit was warm, so warm dat meer as net die kraaie gegaap het.

Aandete was lankal klaar. Dit was nog net die bittereinders wat om braaivleisvure getalm het. Veel later kon jy nog net ‘n hond se veraf tjankblaf gehoor het. ‘n Kaleidoskoop het alleen en verlate langs die vuur bly lê.

Die kind kon nie slaap nie. Krieke het in die stil naglug getjir. Sterre het gevonkel en sy het haar verbeel hulle roep met winkende hande. Die hitte was ondraaglik. Skielik het sy die dringende gevoel ervaar dat sy dadelik buitentoe moes gaan. Sy het hard daarteen probeer stry.  Maar dit was asof haar gedagtes hulle eie besluite geneem het.  Die wonder van die stille nag het hard geroep.

By die vuur was daar nog ‘n verdwaalde kooltjie wat met sy warm gloed probeer skyn het teen die sterre se koue lig. In die helder bosveldlug kon sy dadelik die lig teen haar kaleidoskoop sien flikker. Daardie oulike buisie met sy stukkende glas en ronde spieëltjie wat die mooiste patroontjies kon maak. In haar stille wêreld het hulle met haar in ‘n taal van kleure en vorms gepraat wat sy in haar eie stories omskep het.

Rustig het sy haar ogies oor die landskap laat dwaal. Hulle plasie langs die Olifantsrivier was haar skuiling en veilige hawe waar sy glad nie bang was nie. Mamma baklei altyd en wys gewoonlik met vinnige vingerbewegings waarom sy nie alleen buite kan wees nie. Maar mamma het nooit verstaan nie. Mens kán hoor,  al is daar fout met jou oortjies. Jy hoor met jou voete, met jou lyfie en met jou hande.

Toe het sy die lig gesien. Dit was soos ‘n sterrepad wat reguit na die rivier gepyl het. Die kleure het haar aan haar kaleidoskoop laat dink. Met ‘n sierlike boog het die snaakse gedoente reguit in die rivier geplons. Vir ‘n oomblik was daar ‘n doodse stilte. Haar lyfie het nie eens die vibrasie van die paddakoor gehoor nie. Met die groot golf het al die klanke terug gekom.

Sy was die enigste aanskouer van die tuig wat van die hemele gekom het soos ‘n reuse vuurvlieg en toe in die rivier neergeploeg het met ‘n geweldige geplas. Soos ‘n duisend bye het die klank daarvan ongehoord by haar dowe ore verby gesweef. Water in ongekende groot golwe op die normaalweg sagvloeiende rivier was ‘n wondergesig vir die 10-jarige se nuuskierige ogies.

Met haar kaal voetjies en nagrokkie het sy vrolik afgetrippel rivier toe om die spektakel van naby te gaan aanskou. Vir ‘n oomblik het dit gelyk of die bosveldlug en die hemelboog mekaar met ‘n soen gegroet het. Toe het die water rusiger geword.

Stil het sy gestaar toe hy uit die water opstyg. Sy wit klere het nie eens gelyk of hulle nat was nie. Sy snaakse hare het haar aan die vlakvark se kuif laat dink. Kompleet met die horinkies.

Hy het in haar wêreld gekom helder skynend soos die sterre op ‘n donker nag.  Miskien het hy probeer om met haar te praat. Hy het saggies sy hande oor haar blonde haartjies gestreel. Vriendelik, as ‘n groet, het sy haar kaleidoskoop in sy hande gedruk en met groot verwagting gekyk wat hy daarmee gaan doen. Nadat hy lank en diep in haar oë gekyk het sit hy sonder aarseling die kyker by sy oog.

Skielik kniel hy by die kind, sprei sy hande en versamel die lig met sy oë. Die lig wat ingaan lyk soos vlammende driehoeke en skitterende sirkels. Glinsterende reghoeke en ploffende heksagone was ook deel van die vertoning.  Niks daarvan het vir die kind vreemd gelyk nie. Sy was gewoond daaraan om in haar eie verbeeldingswêreld te lééf. Haar ouers kon haar gebrek nie hanteer nie en het haar meestal alleen gelos.

Uitbundig het sy haar hande geklap van vreugde oor die asemrowende vertoning. Haar glimlag het hom aangespoor om die lig te laat ontsnap. Hulle het by sy oë uitgeborrel soos kerse en sterre wat aan die brand was. Party het gelyk soos komete met sterte wat flikker en flonker. Hy het opgestaan en sy hand na haar uitgesteek. Sonder aarseling het sy dit geneem en saam met hom geloop. Sy het nooit omgekyk nie.

Sover soos hulle geloop het, het hy die lig geëet. Voor hulle was dit lig. Agter was dit stikduister nag. As daar baie lig was het hy stil gaan staan en dan die lig by sy mond laat ingaan in al die vorms en patroontjies wat hy in haar kaleidoskoop gesien het. So het hy ook sommer al haar stories in die loop herskryf en nuwes bygeskryf.  Sy het nie omgegee nie. Stories kan mos enige tyd verander.

Hy het opgelet na die sleepvoete loop en die koppie wat begin hang. Hy weet van moeg wees en die nodigheid van slaap. Daarom het hy teen ‘n boom gaan sit en met die lig begin speel. Sy het ‘n paar maal met haar hande die lig probeer vang en toe het die slaap haar gevang. Met ‘n verlangende blik het hy na die sterrehemel gestaar.

Terwyl sy slaap het hy al die lig van hulle wêreld gevang. Die maan se goue strale. Die lighuise se bakenligte. As dit skyn, flonker of flikker het hy dit gevang. Sy planeet het lig so nodig en sy seuntjie wag vir hom. Sy mense sou hou van die robotligte wat in 3 fases met 3 kleure werk. Die flitsende diskoligte sou ook vir hulle ‘n nuutjie wees. En toe was alles donker. Nie rustig middernag donker nie, onheilspellend – geen lig – donkerder as donker , donker.

Die wetenskaplikes en die Suid-Afrikaanse weermag het sy tuig se landingsplek geïdentifiseer. Die withuis het hulle geheime diens gemobiliseer as bystand. Groot vragvliegtuie was gelaai met kragopwekkers wat ‘n hele stad kon verlig. Die polisie se spesiale taakmag is ingespan om op die grond te soek. Die regering was kwaad. Hulle het nie gehou van hulle landjie sonder lig nie. En dat die oorsak boonop ‘n buiteruimtelike wese is, was die laaste strooi.

Toe het hulle hom gesien. Hy het geskyn soos die lighuis by Tafelberg nie kon skyn nie. ‘n Lewendige flitslig wat boonop verskillende kleure reflekteer. Hy het hulle gesien en probeer kommunikeer. Maar kommunikasie was die laaste aksie op hulle lang agenda. Eerste moes hulle die lig terugkry en dan van die vreemd gevaar ontslae raak. Daarna moes hulle sy tuig kry sodat dit ondersoek en ontleed kon word.

Die vreemde vliegtuigvibrasies het haar laat wakker word. Traag het sy die slaap uit haar ogies gevee. Toe het sy die manne met uniforms en gewere gesien en vir die eerste keer in haar jong lewe was sy werklik bang. Sy het geweet van gewere en wapens. En dat dit kan doodmaak. Toe het sy die vlam van die geweer gesien en met skok besef hulle skiet haar ligte maatjie. Die oomblik toe hy met ‘n plof op die harde grond val het die lig van hom begin uitgaan. Hierdie keer was daar nie vorms en stories nie. Net ‘n stroom van sterk gekleurde lig. Haar hande was vol bloed waar sy aan hom geraak het.  En skielik het een ster uit sy mond ontsnap en reguit na die hemele gepyl. Toe was alles verby.

Hulle het die snaakse stil kind met kaalvoete en nagklere opgetel. Haar trane het hulle hande en klere nat gemaak. In haar een handjie was die kaleidoskoop krampagtig vasgekelm.

Hulle het haar vriend en vreemdeling weggeneem, haar lig-eter. Wat ‘n tragedie.