Helene Pretorius – 2023 Wenner

FETUS IN DIE YS

geskryf deur

Helene Pretorius

 

“Dokter…” dan bly hy stil en dink ernstig voordat hy verder praat… “ Maria, ek het ‘n voorstel: Wat daarvan dat jy saam met ons na die onbekende gaan. Dat jy ook aansoek doen om as een van die bemanning aangestel te word op hierdie ekspedisie?”

***

Heen-en-weer sit sy en wieg. Heen-en-weer. Haar lang, blink blonde hare weerkaats ‘n halo wanneer die son daarop skyn. Heen-en-weer, sonder die bewustheid van enig iemand anders.

“Dokter, dis nodeloos om met haar te probeer praat. Sy is in ‘n wêreld van haar eie.”

“Wanneer laas hét iemand haar hoor praat?”

“Ek is al amper ‘n jaar hier, en ek het haar nog nooit hoor praat nie.”

“Hoe het sy hier geland?”

“Ek weet nie regtig nie… omdat sy niks en niemand pla nie, dra ek nie eens meer haar lêer saam met my nie. Ek moet sê ek is dankbaar dat ons kan omruil, en ek na ‘n ander inrigting oorgeplaas word. As ek langer hier sou bly sou ek ook van my kop af raak. Nou is dit jou baby dokterjie. Hier is al die lêers, en die res is in daardie kabinet. Hoop jy het dit nooit nodig nie… ”

“Где мой маленький ребенок?  Где мой маленький ребенок?” waar is my babatjie?

Skielik is die blonde vrou tussen hulle, met ‘n dringende smekende stem.

“Staf!!” Uit die niet verskyn twee wit uniforms, kry haar aan die arms beet en sleep haar terug na haar bed. Maak haar hardhandig sit en staan wag sodat sy nie waag om weer op te staan nie.

Verslae aanskou die nuwe sielkundigepsigiater die situasie. Die vrou wat volgens verslae nooit ‘n woord sê nie, het “gepraat” maar sy word hardhandig stilgemaak. G’n wonder sy praat nie! Dit is wel so dat sommige psigiatriese pasiënte aggressief kan raak en die dokter kan aanval, maar hierdie vrou was “angstig!” haar stemtoon was smekend. Wat ‘n kontradiksie!

 

Binne ‘n week voel Dokter Maria ingeburger in haar nuwe omgewing. Sy maak goeie kontak met haar pasiënte en almal het haar aanvaar. Dis net die blonde Brigette. Sy het sedert daardie dag nog nooit weer ‘n woord gesê nie. Sy maak ook geen oogkontak of enigiets nie.  Afgesonderd wieg sy voort. Maria het haar lêer in die laaikabinet gevind. Russiese van. Baie min inligting. Skynbaar is sy ‘n  jaar gelede van een of ander tronkhospitaal af oorgeplaas hierheen vir evaluasie, maar daar is niks aangeteken nie. Die arme vrou is skynbaar afgeslote en vergete. Sy sit net stil en doen niks nie, behalwe om te wieg. Daar is geen familie in die lêer aangeteken nie, en niemand kom haar ooit besoek nie. Dit pla skynbaar vir niemand anders nie, maar dit pla wel vir Maria. Op ‘n e-pos navraag aan die genoemde tronk, het hulle laat weet, sy is aangehou omdat sy by ‘n hospitaal in Antartika probeer inbreek het, met die doel om te steel. Net dit. Niks meer nie. Ysig afgesonder en vergete vir die wêreld. Doelbewus? Wie sou dit aan haar wou doen? Sy, met haar pragtige lang fyn vingers, lyk vir Maria eerder na ‘n fynbesnaarde kunstenaar, nie na ‘n inbreker nie. Sou dít wees hoekom sy haarself outisties terugtrek uit haar onmiddelike omgewing van sielsiekes en verpleërs? Waarvoor wag sy? Sy trek haarself elke dag netjies aan en versorg haarself. Netjies, hare gekam en geborsel sit sy dan en wag. Wag vir …? ‘n Geliefde held wat haar op ‘n wit perd uit hierdie hartelose kliniese omstandighede moet kom opeis? Kom red?

Maria gaan dikwels net langs haar op haar bed sit en voer ‘n eensydige gesprek. Sy vertel van haar eie kinderdae, haar eie ouers se onlangse dood met die hoop dat daar iets sal wees wat reaksie by Brigette sal ontlok. Daar is egter nooit enige reaksie nie. Afgesonderd maar nie kil nie, sit Brigette net daar. Maria wens dikwels sy kan net onthou wat die woorde was wat dokter Haasbroek daardie dag ge-uiter het. Wat was dit wat daardie spesifieke dag so ‘n heftige reaksie by Brigette ontlok het? Hoe meer sy dink, hoe minder kan sy onthou, maar in haar hart wéét en glo Maria: Brigette sál eendag gesond hier uitstap. Sy wat Maria is, voel dit aan, en sy gee nooit maar nooit op nie… sy is ‘n dokter met ‘n visie en ‘n droom.

***

 

“Brigette, wat gaan deesdae met jou aan? Jy is nie meer jouself nie?”

“Hoe bedoel jy Igor?”

“Jy lyk deesdae lusteloos en moeg. Ek sien jou nooit meer met jou kamera ronddwaal om foto’s te neem nie, en jy is ook selde meer aan my sy wanneer ek ‘n dier wat deur ‘n orka verskeur is, dissekteer en ondersoek, ‘n fetus van ‘n sterwende rob uitsny en red deur dit in ‘n ander draer oor te plant nie.”

“Ag nee wat Igor, jy verbeel jou. Kom ons gaan stap buite rond met my kamera, solank ons nog kan. Ons dae hier is beperk. Die ysbreker, sal seker môre of oormôre arriveer.”

“Ja, jy is reg. Dan sal ons span vir amper ‘n week lank baie besig wees om die personeel wat by ons moet oorneem voor te lig en beheer oor te gee voordat ons vertrek. Daar nie tyd sal wees vir ontspanning nie.”

“Ek hoor hulle sê die ysgletser, suid van die bruin rots is stadig maar seker besig is om spoed op te bou. Ek is nie ‘n fotomaniak nie, maar dit sal wonderlik wees, indien ek so-iets op video kan vaslê.”

“Nou toe; kom ons gaan kyk, dalk is jy gelukkig.”

Die skerp ysige sneeulug sny deur murg en been, terwyl warm stoom voor hul gesigte ys en gevlok wegwaai. Brigette kan voel sy is nie meer so fiks nie en sukkel om by te hou. Sy lag egter speels en swaai uit vir ‘n koningpikkewyn, vermoedelik die mannetjie, (want mens kan nie die verskil tussen die twee geslagte, met die oog waarneem nie) wat met sy kuiken agter hom oor die uitgestrekte lakenwit sneeulandskap aangewaggel kom. Dan kom die  ma-pikkewyn ook aangewaggel. Met deernis volg sy die mooi pikkewyngesinnetjie, wie se bestaan so nóú inmekaar gevleg is.

So teen die einde van hierdie maand, sal die wind draai, en dan is dit tyd dat die ouers die pikkewynkuikens uitvat op die see en hulle touwys maak hoe om self krill te vang en gevare te ontduik. Hoe om weg te kruip vir orkas, en klippe aan te roldra om mee nes te bou, sodat hulle na die paringseisoen self kan eiers lê en uitbroei.

‘n Pyn skiet deur Brigitte te se hart – sal sy die voorreg kan hê om haar eie kuiken te kan uitbroei en grootmaak? Onmiddelik staal sy haarself om nie daaraan te dink nie. Igor mag nog niks agterkom nie. Nie voor dit te laat is nie. Eers wanneer daar geen omdraai meer is nie, sal sy hom sê. Eers wanneer dit klaar ‘n klein mensie is, mag hy uitvind… wanneer ‘n aborsie nie meer ‘n opsie is nie. Tot dan mag niemand weet nie. Niemand op aarde nie. Net sy. Sy en die klein mensie wat binne haar groei. Díé klein mensie wat hulle s’n gaan wees. Sy wat niemand het nie. Geen familie. Niks en niemand. Sy gaan iemand hê wat deel van haar liggaam; deel van haar bloed gaan wees.  Opgewonde soos kinders klouter hulle die Arktiese heuwels uit.

“Kom Brigette, jy raak ver agter.”

“Hier’s ek Igor. Ek wil maar net ‘n paar oomblikke stilstaan en terugkyk na die klein pikkewyntjies. Ek verwonder my maar net aan hulle. Hulle is so uniek – die enigste voëls wat kan swem maar nie kan vlieg nie.”

“Die orkas speel daar in die baai.  Ek het gister, toe jy nie by was nie, een gesien wat naby die baai in die vlak water sy maag uitgedop het om skoon te maak – homself seker ooreet, want hulle hulle vreet mekaar se kleintjies. Rof en wreed.”

“Dis só wreed! Ek kan dit nie hanteer nie, ek verafsku hul gedrag!”

“Dis maar omdat daar nog nie ander kos is nie. Hulle kan nie wag vir die draai in die seisoen  wanneer hulle onder die klein pikkewyntjies gaan maai nie. Die natuur is so fyn geballanseerd: die een se brood is die ander se dood – hoewel hierdie kortsnoet orkas nie net aanval vir kos nie. Hulle is van nature wreedaardiger as ander. Dis amper ondenkbaar dat hulle in dieselfde familie as die dolfyne val. Blykbaar is hulle baie ingeteël.”

“Dit is so, maar die wreedheid is afstootlik.” ‘n Sigbare rilling gaan deur die vrou se lyf.

“Jy blaas soos ‘n stoomenjin. Kom sit hier op my been en rus ‘n bietjie. Miskien sal ‘n soentjie in jou nek bietjie energie inblaas. Genugtig! Jou nek is papnat gesweet hier onder jou parka. Vroumens, ek verstaan jou nie, ander kry koud en jy kry warm. Lyk my jou bioritme is uit balans.”

“Jy laat my nou dink aan daardie ou wat jy kort na ons aankoms van verkluiming gered het. Onthou jy nog, jy het van ver af gesien die nuwe aankomeling is besig om homself daar in die ope ysveld poedelnakend uit te trek. Jy met jou ongelooflike kennis het besef hy is eintlik besig om te verkluim, en kon binne minute dood gewees het.”

“Ja, hy was baie opgewonde om die nuwe wit yslandskap om hom te verken en hy was waarskynlik te lank buite.”

“Ek was baie dankbaar toe jy daardie aand ‘n lesing gegee het en die paradoksale ontkledingsverskynsel tydens hipotermia  aan almal verduidelik het, sodat hulle hulself nie so lank onbepland aan die koue buite moet blootstel nie, want dit kan hul lewe kos.”

“Ja almal was nog groentjies…. dié voorligting moes na my mening al voor ons aankoms hier, gegee gewees het.”

“Ekself het ook daardie aand vir die eerste keer gehoor dat ‘n mens oomblikke voordat jy van dodelike verkluiming sterf, voel of jy verskriklik warm kry en of jy gaan doodgaan van die hitte.”

“Wel daar is mos deesdae ‘n nuwe gesondheidsterapie in omloop. Mense klim in ‘n bad met yswater, so ongeveer 30 kg ys. Dan voel hulle verkwik en vars wanneer hulle uitklim, want met die inklimslag laat die skielike koue jou spiere saamtrek en die bloedvloei konsenteer op jou brein en organe. Wanneer jy uitklim, en jouself flink afdroog verslap die spiere. Die bloed vloei dan weer vinnig terug na jou ledemate en jou lyf voel gloeiend.”

“Nou, hoe lank moet iemand in die ysbad lê voordat jy uitklim om nou ‘terapeutiese’ waarde daaruit te put?”

“Blykbaar so drie minute daagliks, vir ses dae ‘n week.”

“Met ander woorde, as iemand te lank in die sogenaamde terapeutiese ysbad lê, kan dit katastrofale nagevolge hê?”

“Wel, ek sou reken jy behoort dit altyd onder toesig te doen, maar gelukkig smelt die ys en die water verloor sy ysigheid want dit is in die warmer ontwikkelde lande, soos Suid- Afrika, waar mense dit doen. In die Noordelike-Halfrond saag die mense mos sirkels uit die ys, en hou selfs wedstryde wie kan die verste van een gat tot ‘n ander onder ys swem.”

“Nee-wat Igor, kom ons gaan aan. “Ek wil graag nog ‘n foto diep uit ‘n pikkewynkeelgat steel.”

“Dit klink soos my meisie! Avontuurlustig en uitsonderlik. Wag, staan net ‘n oomblik stil, ek wil net daardie haar uit jou oog haal.” Hy trek sy dik gevoeringde handskoen uit en met die fyn  presisie van ‘n wenkbroutangetjie, vat sy vingers die haartjie vas. ”So-ja, nou behoort hy jou nie meer te irriteer nie.”

“Dankie, nou sal ek weer ‘n barshou kan kyk en die skoonheid om my kan indrink.”

 

Snags, in haar slaapsak langs hom rol sy rond. Dis moeilik om gemaklik te lê. Die magie wil nie so lank in een posisie stil lê nie. Dankie tog sy kry nie oggendnaarheid nie, anders sou sy dit nie so lank vir hom kon wegsteek nie. Hy is immers ‘n dokter, maar hy is só gefokus op die werking van sy hand, dat hy haar nie persoonlik as iemand met kwale en skete waarneem nie. Sy moet net regstaan met die kamera om alle vordering ten opsigte van die beheer- en prestasies wat hy met sy hand regkry op film vas te lê vir die monitering van die eksperiment. Nét sy weet van sy hand. Nie eens hulle ekspedisieleier nie. Niemand mág weet nie. Sy is kamma as verpleegkundige aangestel, maar dis meestal net Igor wat wat alle noodgevalle hanteer. Hy verdoof voor die voet alle pasiënte sodat hulle slaap en nie daarvan bewus is wat om hulle aangaan nie… dat hulle nie bewus is van wat die dokter doen nie. Die pasiënt word dan vasgemaak op die operasietafel, sodat hy nie kan roer nie, en dan tree dokter Igor in om die wond te behandel. Hetsy dit ‘n klein- of ‘n groot besering is, wanneer die pleister ‘n paar dae later afgehaal word, is die besering basies onsigbaar. Almal besef Igor is ‘n baie goeie dokter en almal het vertroue in hom, maar niemand, nee niémand besef watter ongelooflike  werk Igor doen nie. Neem nou maar daardie twee ouens wat verlede week handgemeen geraak het.

Nogal ‘n interessante geval. Die twee manne het al vier jaar lank sy-aan-sy hier op die godverlate Bellingshausen Stasie op King George Island saamgewerk. Rusland laat geen toergroepe en besoekers hier naby hulle stasie toe nie. Die inwoners is dus beperk tot die gym, die biblioteek en die Russiese televisie as enigste tydverdryf. Sergey Savitsky, die plantkundige het al feitlik die hele biblioteek deurgelees en homself uiteindelik in storieslees verdiep. Oleg Beloguzov, die sweisspesialis op die basis, kon dit nie hanteer dat sy kamermaat gedurig met ‘n storieboek besig is nie, en het toe mettertyd agtergekom as hy die boek se einde uitblaker, dit Sergey tot die dood toe irriteer en hy het homself daarin verlekker. Sodra Sergey ‘n boek begin lees het, het Oleg, nes ‘n stout kind, gesorg dat hy dit ongesiens in die hande kry en die einde lees. Die “tergery” het toe uiteindelik handuit geruk, want hier op die eiland, tel mense nogal baie makliker stres op as tuis in die beskawing waar daar baie mense is, en waar jy jou van die “boelie” kan onttrek. Hierdie afsondering word dikwels met tronkstraf vergelyk. Daarom word mense dan ook vooraf aan goeie sielkundige toetsing en evaluasie onderwerp, om seker te maak dat hy of sy die seisoen op die basis sal oorleef. Hierdie twee manne was waarskynlik al té lank hier.

Wel, dit was die eerste poging tot moord in die geskiedenis van Antartika. Sergey, het sy kamermaat met ‘n broodmes gesteek. Oleg kon dood gewees het. Sy hart was beskadig. Hulle het hom die volgende dag met ‘n helikopter afgevoer na die naaste beskawing, maar dit nadat Igor hom klaar geopereer het. ‘n Wat ‘n netjiese stuk werk! Sy onthou nog hoe opgewonde Igor was oor die geleentheid om sy vaardigheid te toets en te bewys. Igor het basies die man se lewe gered, maar nét sy weet daarvan. Soos gewoonlik het hulle die teaterdeure gesluit, sodat niemand kon inkom nie.

“Dokter Igor kan nie konsentreer op sy werk wanneer mense inkom,uitgaan en beweeg nie. Ja, ja, daar is baie bloed, maar ek is seker ons sal dit kan hanteer. Vat net die bebloede draagbaar en klere saam uit,” en toe grendel sy die deure, trek haar plastiek handskoene uit en kry haar kamera in aksie: sy hand. Sy wonderhand wat oor die oppervlakte beweeg en dan is alle bloed en ander besoedeling weg. Sy hand wat die skalpel soos ‘n fyn potlood hanteer. Wat met fyn vingeraanraking met ‘n naald, wat aan niks gekoppel is nie, gebruik om die bloedvate te verseël en wonddele aanmekaar te heg sonder steke. Sy hand, wat net deur dit op iemand se borskas neer te lê, ‘n hartskok kan toedien, wat ‘n ultrasonografie kan doen, deur net met sy spesiale vinger iemand se slape op ‘n sekere manier aan te raak.

Almal op die basis is doelbewus onder die indruk gebring dat Igor net “noodhulp” toegepas het, daarom is die slagoffer saam met die oortreder met ‘n helikopter na Chili afgevoer om in die tronkhospitaal “behandel” te word, want niemand, mag weet van Igor se hand en buitengewone vermoëns nie. Sy superbioniesehand en geniale verstand. Net sy wat Brigette is weet. Sy weet meer as wat selfs Moedertjie Rusland se geheime bevelvoerders waarskynlik weet. Selfs meer as wat Igor dink sy weet. Sy weet dat daardie linkeroog beter as haar ultrasoniese digitalekamera kan fokus. ‘n Ingeboude teleskoop. Dan verstyf sy skielik. Sy het nog nooit daaraan gedink nie. Daardie oog het waarskynlik ook xstraal- en supersoniese sonarvermoëns, dis hoekom hy net in die teater na ‘n pasiënt kan staar, en dan weet of ‘n been of ‘n arm af is, presies waar dit af is en sonder enige verdere diagnose begin spalk en verbind. Dit val haar by: hy het haar nou dit dag juis so op ‘n afstand gestaan en betrag. So asof hy diep dink. Het hy nie dalk diep, té diep, gekyk en gesien nie? As hy in haar lyf kon sien, sou hy weet. Maar kan hy in haar hart sien? Kan hy sien dat sy die nuwe lewetjie wat sy in en onder haar hart dra, met elke stukkie menswees sou beskerm? Skielik begin sy twyfel aan Igor se gevoel vir haar. Sy voel amper aggressief teenoor hom, sonder dat hy dit weet of verdien.

Hy het haar al so baie in die verlede van sy liefde verseker. Sy dank uitgespreek dat hulle saam op hierdie sending beland het, dat hulle soos vingers in ‘n handskoen pas. Dat hy haar nooit wil verloor nie, maar nou skielik begin sy oor die motivering van sy denke twyfel. Is dit nie dalk net omdat sy so ‘n integrale deel van sy lewe geword het nie — omdat sy deel van sy loopbaan geword het nie? Sy beleef ‘n skielike epifanie: wat beplan Hoofkantoor vir die res van Igor se loopbaan? Hulle sou nie soveel in hom belê het, net om ‘n pa vir ‘n kind; ‘n man vir ‘n vrou te word nie! Dan onverwags voel sy die kleinding se eerste skoppie en ‘n koue rilling sny soos ‘n skalpel deur haar siel. Haar aandag is op daardie oomblik nie by haar bewegings nie en toe sy haar voet op ‘n los klip neersit, struikel sy en verloor haar balans. Igor is te laat om haar te vang, en sy gly op die gladde ysoppervlakte, dan rol en tuimelval sy onstuitbaar af teen die yssteilte…

***

Dis hierdie tyd van die jaar. Almal maak vakansieplanne, maar dokter Maria het geen planne nie. Sy is die hele week rondom Kersfees op diens. Die meeste pasiënte gaan na  hul onderskeie families toe, maar daar is diegene, soos Brigette wat skynbaar niks, niemand en nêrens het om heen te gaan nie. Maria, jonk en vol ondernemingsgees, het gesorg vir ‘n Kersboom en Kersversierings en haar pasiënte een-vir-een genooi om te kom help om die boom te versier. Terwyl die pasiënt dan besig is om saam met haar die Kersboom te versier het Maria elkeen persoonlik en voorberei en ingelig dat haar familie aansoek gedoen het dat sy vir bietjie meer as ‘n week lank tuis kom kuier. Sy het elkeen dan ook persoonlik verseker dat hulle haar enige tyd kan bel, dat sy beskikbaar sal wees vir hulle, sou dinge nie goed uitwerk nie. Sy het dit op elkeen se hart gedruk om nie sterk drank te gebruik nie, al word dit ook aangebied, want veral saam met psigiatriese medikasie, kan dit erge gevolge hê. Vir elkeen van haar pasiënte is daar dan ook ‘n klein geskenkie onder die boom, wat sy kan saamneem die dag as sy vir Kerstyd gehaal word.

So het Maria dan ook vir Brigette genooi om saam te kom kersboomversier. Brigette het, soos te wagte, gladnie op die uitnodiging gereageer nie. Tog, toe dokter Maria haar aan die hand neem en lei om langs haar op die vloer by die Kersboom te sit, het sy saambeweeg, maar dit was asof sy gladnie die Kersboom raakgesien het nie. Soos altyd het sy gesit en staar en wieg. Maria het egter rustig met die sessie voortgegaan en Brigette vertel dat die ander pasiënte vir ‘n rukkie gaan weg wees, maar dat sy wat Brigette is nie bang hoef te wees nie… sy sal nie alleen wees nie… sy, Maria, sal dáár wees vir haar. Dit was asof die heen-en-weer-wieg vir een oomblik tot stilstand gekom het, maar agterna was Maria nie seker of dit dalk net haar verbeelding was nie.

Dit was relatief maklik om vir elkeen van haar psigiatriese pasiënte ‘n klein geskenkie te koop. Sy het elke dame se geskenkie vir haar gewys, en dan in haar teenwoordigheid toegedraai en die pasiënt se naam met ‘n pen op ‘n plakker geskryf. Dan het sy die plakker vir die pasiënt in haar eie hand gegee om op die toegedraaide pakkie te plak, en verduidelik dat sy dit op die vertrekdag mag saamneem. Vir buitestaanders sou hierdie prosedure nie sin maak nie, maar Maria wou vermy dat enige van haar pasiënte spanning ervaar die dag wanneer hulle hul kersgeskenkie saamvat, want vir sulke fynbesnaarde, gespanne mense, kan enige vreemde situasie spanning veroorsaak.

Om vir Brigette ‘n geskenkie te koop, was egter vir Maria baie moeilik. Dit was vir haar asof sy net eenvoudig nie die regte geskenkie kon raakloop nie. Toe, eendag kry sy ‘n bevlieging: sy gaan vir Brigette iets eg Russies koop, al moet sy tydens haar afdae haar voete deurstap. Toe sy in ‘n klein tweedehandse winkeltjie ‘n helderbont serp vol rose sien, het sy net eenvoudig gewéét dis wat sy vir Brigette moet koop. ‘n Stelletjie Matriosjka-poppies wat knus binne-in mekaar pas en ’n piepklein beertjie, het Brigette se geskenkie afgerond. Sy het dit self toegedraai en onder die kersboom gesit sonder dat sy Brigette daarby betrek het – sy sal mos persoonlik by wees wanneer Brigette die pakkie oopmaak. Sy hoop dat dié geleentheid dalk weer sal kan ontwikkel dat Brigette ietsie sal sê. Sy léwe vir die dag dat Brigette begin praat en kan regkry om haarself te wees. Sy voel ‘n opregte toegeneëndheid teenoor Brigette. Sy voel vir haar meer soos ‘n suster, nie soos ‘n pasiënt nie… meer as wat werklik professioneel korrek is, maar sy steur haar nie daaraan nie.

Dis twee dae voor Kersfees toe sy die elektroniese brief ontvang. Ene Kolonel Igor Stravinsky doen navraag oor Brigette, haar gedrag en haar welsyn. Hy verklaar geensinds sy verwantskap ten opsigte van Brigette, of hoekom hy navraag doen nie. Maria is baie wantrouig, daarom gee sy slegs ‘n kort saaklike antwoord:

“Brigette is wel ‘n pasiënt, maar as Brigette se dokter gee sy nie inligting rakende haar pasiënte aan onbekende buitestaanders nie.”

 

Die volgende dag, arriveer die volgende elektroniese brief. Igor verduidelik dat hy en Brigette saam in Antartika gewerk en gewoon het, en dat hulle ‘n baie intieme verhouding gehad het. Dat Brigette vir hom baie belangrik is, en dat hy haar binnekort uit die inrigting wil laat ontslaan.

Maria is dadelik gespanne en veglustig. Hoe op aarde kan hy na soveel maande of is dit dalk jare, skielik uit die niet verskyn en haar wil opeis? Nogal “wil laat ontslaan,” so amper asof hy dink hy is in beheer van alles en almal, en almal moet spring as hy praat! Hy is nie Brigette se dokter nie. Wat weet hy?  Sou Brigette nog in hom belangstel? Brigette se welsyn is die belangrikste. Sy sal móét deurdring tot Brigette, sodat sy agter die kap van die byl kan kom.

Maria en Brigette eet nou die laaste paar dae al elke dag saam aan tafel. Aanvanklik, die eerste dag het Brigette gladnie geeët nie, maar Maria het net bly sit en later selfs in ‘n tydskrif begin blaai, totdat Brigette bes gegee en begin eet het. Maria het haar eensydige gesprekke volgehou en daagliks het die verhouding tussen hulle gemakliker geword. Brigette het minder begin wieg, maar nou sit hierdie briewe van “Igor” stres op die tydsaspek. Maria weet net, die tyd loop uit, en sy weet net sy sal hand en tand vir Brigette veg as dit sou moes.

Oukersaand was altyd vir Maria baie spesiaal toe haar ouers nog geleef het, maar deesdae het sy niemand meer nie, sy het dus besluit sy gaan dit ‘n baie spesiale geleentheid maak vir haar en Brigette. Sy het die kombuispersoneellid wat aan diens was, die aand asook die volgende dag, Kersdag, afgegee en gesê sy sal self die klaarvoorbereide kos vir haar en Brigette bedien en dit wat warm bedien moet word, warmmaak.

Daardie aand het sy kerse wat vir noodgevalle bedoel is uit die kaste uitgegrawe en vir Brigette sover gekry om haar te help om die kerse in blakers te druk en dit op die tafel te sit. Saam het hulle tafelgedek  en toe het sy die musiekstel aangesit om vir hulle lekker outydse Kersmusiek te speel. Lank het hulle saam op die rusbank gesit na die brandende kerse gestaar, en saam na die musiek geluister. Maria het oudergewoonte vertel hoe hulle altyd in haar ouerhuis Kersfees gevier het, en Brigette het ontspanne geluister, sonder om heen en weer te wieg, maar nog steeds het sy nie na Maria gekyk nie. Dis toe, dat Maria vir Brigette aan die hand vat en in die rigting van die Kersboom lei.

“Kom liewe Brigette, kom sit hier by my op die vloer langs die Kersboom. Dis tyd dat jy jou Kersgeskenkie oopmaak.” Brigette het heel gemaklik saam beweeg en langs Maria gaan sit en vraend na haar gekyk. “Brigette, jy kyk sowaar vir my! Dankie! ” het Maria met intense dankbaarheid laat hoor, en Brigette se hand ‘n drukkie gegee. Maria het vorentoe geleun, die geskenkie opgetel en in Brigette se hand gesit. Sy het Brigette se ander hand gevat en dit bo-op die geskenkie gesit. “Die geskenkie is vir jou. Ek gee dit vir jou met my hele hart. Aanvaar dit asseblief?” het sy gepleit.

Brigette moes die opregte liefde aangevoel het, want sy het na Maria gekyk en geglimlag.

“Brigette, jy het vir my geglimlag!” het Maria saggies uitgeroep terwyl sy trane in haar oë gekry het. Brigette wat nie daaraan gewoond is om enige emosie te toon nie, het haar onbegrypend aangestaar. Gelukkig het Maria gou tot verhaal gekom. “Kom ek help jou dan maak jy jou geskenkie oop.” Sy wys vir Brigette hoe om die kleefband los te trek en toe sy weer sien doen Brigette mee! Maria kan uit haal vel spring van opgewondenheid, maar sy bedwing haarself, sodat sy nie vir Brigette verskrik nie.

Brigette hou die die helder roseserp waarin die ander twee pakkies verpak was omhoog. Sy lag en gooi dit om haar skouers en daarna gooi sy dit oor haar kop, bind dit onder haar ken vas, en kyk rond. Sy spring op, gaan staan voor die geraamde spieël in die vertrek. Sy lag spontaan, gaan sit weer langs Maria op die vloer. Dan maak sy die knoop onder haar ken los, haal die serp van haar eie kop af, staan op haar knieë en sprei dit oor die verstomde Maria se kop. Wanneer sy dit onder Maria se ken vasbind en terugsak op haar knieë, kom die woorde spontaan oor haar laggende lippe: “Baboesjk.”

Maria lag van blydskap en vou Brigette se hande in haar eie vas. “Baboesjk?” herhaal sy vraend.

Brigette haal haar hande uit Maria s’n. Dan trek sy haar na die spieël toe, wys na Maria se spieëlbeeld, en herhaal: “Baboesjk. Jy lyk soos Baboesjk.”

Maria lag onbegrypend saam, maar besef dan skielik dat sy waarskynlik soos ‘n ou Russies vroutjie lyk. Skielik trek Brigette haar kinderlik opgewonde terug na die Kersboom en hulle sak saam terug op die vloer sodat Brigette die volgende pakkie kan oopmaak. Outomaties reik sy na die grootste van die twee pakkies. Sy trek versigtig die sypapier oop en daar lê die  poppie in haar hande. Haar oë blink wanneer sy stadig en half outomaties die poppie oopmaak, sodat die volgende poppie sigbaar is. Sy kyk verwonderd op na Maria.

“Dankie” kom dit saggies oor haar lippe, terwyl sy gefassineerd die volgende poppie oopmaak. Stadig, in afwagting maak sy die poppies een vir een oop en sit hulle elkeen se stukke weer bymekaar totdat die ses Matriosjka-poppies in ‘n halfmaan voor haar op die mat uitgesprei lê. Waar sy so blink-oë, kruisbeen sit met die poppies om haar, lyk sy soos ‘n klein-klein dogtertjie met haar speelgoed. Dan reik haar hand na die kleinste pakkie. Sy druk dit sonder om die papier af te haal. Dit gee sag mee. Versigtig maak sy die papier oop. Dan skielik is die beertjie in haar hand. Die papier val grond toe. Haar oë skiet vol trane.

“ Где мой маленький ребенок?” Waar is my babatjie?

Maria se mond val oop. Dis dieselfde woorde as laas.

“Я хочу подарить его своему маленькому ребенку.” Ek wil dit vir my kindjie gee.

Nou loop albei die twee jong vrouens se trane. Tussen die poppies deur en met die piepklein beertjie vasgeklem in haar vuis, omhels die twee mekaar. Maria gaan haal snesies, en toe albei kalmeer het, en hulle saam op die sagte rusbank sit, praat Maria saggies en dringend: “Brigette, ek verstaan nie wat jy sê nie. Praat asseblief Engels en praat stadig. Ek wil graag weet wat jy sê.” Brigette blaas weereens haar neus, en dan kyk sy simpatiek na Maria.

“Ek wil die beertjie vir my baba gee,” kom dit saggies en bedaard.

“Jy het ‘n baba gehad?” sê-vra Maria.

“Ja, was swanger, maar hulle wou hom nie vir my gee nie.”

“Waar?”

“In die hospitaal.”

“Watter hospitaal?”

“Bellingshausen Stasie, Antartika.”

Skielik tuimel ‘n klomp legkaartstukkies vir Maria in plek. “Dis jou baby..” is was wat dokter Haasbroek gesê het.

“Wie is die pa van die baba?”

“Igor… die dokter. Hy het my probeer vang toe ek geval het, maar ek het gegly en teen die berg af gerol  en geval en ek onthou nie meer verder nie… ek weet ek het baie seergekry.”

“Kom ons gaan maak vir ons ‘n groot pot tee, en dan vertel jy my alles.”

Saam is hulle kombuis toe, en saam sit hulle die pot tee en uitdrink terwyl hulle alles probeer uitpluis. Brigette praat aanmekaar en dit is vir haar bevrydend. Vir die eerste keer het sy iemand wat sy met haar hele hart vertrou. Haar ware gevoelens onbevange mee kan deel. Selfs haar twyfel ten opsigte van Igor se gevoelens, sy verdere loopbaan waarvan sy niks weet nie, Igor se wondervermoëns, wat waarskynlik haar lewe gered het, en dan die ongenadiglike twyfel wat van haar ongebore baba geword het.

Maria laat Brigette praat, en praat en nogmaals praat. Wanneer die stortvloed woorde uitgewoed raak, raak hulle vir ‘n paar minute stil. Dan pols Maria (die opgeleide sielkundige-psigiater) weer liggies en maak die sluise weer oop. Lank na middernag het hulle eers tot ruste gekom. Maria het by Brigette op haar bed gesit en haar hand susterlik vasgehou, totdat sy vas geslaap het. Wat ‘n Oukersaand! Wat ‘n verligting! Wat ‘n vreugde!

 

Maria word wakker van ‘n onbekende geluid. Sowaar dit kom vanuit die kombuis. Sy staan saggies op gaan badkamer toe, en sluip dan op haar tone na Brigette se kamer. Dan besef sy, Brigette is waarskynlik in die kombuis. Wat ‘n ongewone situasie. Wat moet sy doen? Dan besluit sy. Sy gaan lê weer op haar bed met haar gesig weggedraai van die deur af. Na ‘n paar minute besef sy, sy het sowaar die ongewone situasie reg geëvalueer.

“Word wakker, word wakker… hier kom jou koffie!”

Kamma deur die slaap sit Maria regop en vee haar oë uit.

Brigette lag soos ‘n kind met die skinkbord in haar hand.

“Kom, kom laatslaper, ons moet gaan stap!”

“Wat het jóú getref?” vra sy kamma deur die slaap, maar in haar hart juig sy van vreugde! Brigette is ‘n nuwe mens. Die mens wat sy moes wees. Die regte Brigette!

Terwyl hulle saam koffie drink, babbel Brigette aanmekaar. Sy vertel sy het van Igor gedroom. Gedroom hy het gesê hy gaan haar baie binnekort kom haal. Sy moet haarself daarop instel, daarom wil sy gaan stap, om fiks te word. Sy vertel hoe baie hulle twee altyd buite gestap het, wanneer daar lig was in die Suidpool.

“Sal ek eers gaan stort?” vra Maria.

“Nee, ons kan stort wanneer ons terugkom.” kom die antwoord. “Nou gaan ons stap dat die sweet ons aftap.”

Dit is vir Maria ‘n verblydende situasie. Die nuwe Brigette kan kan logies redeneer, dinge agtermekaarsit en organiseer. Sy funksioneer normaal.

“Laat ek net gou aantrek terwyl jy die skinkbord kombuis toe vat. Ek het ook nog iets wat ek met jou moet bespreek.”

Brigette kyk bekommerd op, maar Maria ignoreer haar en begin uit- en aantrek.

Toe Maria in die kombuis kom, het Brigette so pas die koppies klaar gewas en weggepak. Nog ‘n teken dat sy goed en normaal funksioneer, dink Maria by haarself.

 

Kort voor lank, is Brigette uitasem. Al oefening waaraan sy in die verlede onwillig deelgeneem het, was die enkele daaglikse stap met die verpleërs rondom die inrigting. Maria stel voor dat hulle bietjie rus, maar Brigette dryf haarself soos ‘n uitasemperd voort, totdat sy uiteindelik nie meer kan nie en uitgeput op die houtbankie langs die pad gaan sit. Maria gaan sit langs haar. Dan vat sy Brigette se hande in hare.

Grootoog is Brigette se oë op haar gerig. Dan begin Maria:

“Jy het gisteraand vir my vertel van jou en Igor se verhouding. Van die baba wat jy verwag het, waarvan jy hom nie gesê het nie. Hoe jy geval en gerol het. Dat jy nie weet wat van jou baba geword het nie.”

Trane wel weer in Brigette se oë op.

“Ek dink jy het was waarskynlik só beseer, dat…jou baba…dat jou ongebore baba… dood is?” kom dit stotterend van Maria.

“Dit besef ek wel,” kom dit van die betraande Brigette, “maar wat het van die drie-maande oue-fetus geword? Toe ek hospitaalkamer bygekom het, wou ek in die teater daarna gaan soek, maar dit was gesluit, met ‘n vreemde slot. Ek het geruk en gepluk, en toe het vreemdes my vasgegryp, en ingespuit. Nou weet ek nog steeds nie waar is my baba nie!”

Maria druk die snikkende vrou styf teen haar vas. Nou verstaan sy weer bietjie beter. Dit was die sogenaamde “inbraak by die hospitaal,” maar waar was Igor dan? Hoekom het hy toegelaat dat sy in die tronkhospitaal opeindig en selfs op die ou einde in die gestig? Daar is nog ‘n belangrike skakel wat ontbreek om hierdie buitengewone misterie op te los.

“Ek wonder wie het jou behandel nadat hulle jou gevind en teruggeneem het basis toe?”

“Igor, natuurlik was dit Igor.”

“Hoe kan jy so seker wees dit was Igor?”

“Hy het met my gepraat en my vertel die baba was dood, dat hy nie anders kon as om hom te verwyder nie, maar dat hy hom in ys verpak het, en in die vrieskas hou, sodat ek van hom kan afskeid neem wanneer ek gesond is.”

Maria se oë word al groter en groter. Dit voel vir haar of sy ‘n klap teen die kop nodig het, om tot haar sinne te kom. Sy kan eenvoudig nie glo wat sy hoor nie!

“My liewe Brigette, maar hoe dink jy sou Igor met jou kon praat as jy dan so sterk onder verdowing was?”

“Maria, ek dink jy verstaan nie… Igor sit nie iemand onnodig onder verdowing met verdowingsmiddels wat hy inspuit, of gas of sulke goed nie. Dit is wel tot sy beskikking, maar hy sê dit vertraag ‘n pasiënt se herstel. Hy kyk jou net in die oë en hipnotiseer jou dat jy van niks weet, niks voel nie; uit soos ‘n kers. Eers wanneer hy dink die pasiënt is gestabiliseer en uitgerus, laat hy die persoon stadig, baie stadig, bykom. Dan praat hy met die pasiënt, vertel hom wat gebeur het, wat hy as dokter gedoen het en gaan doen en dan laat hy die pasiënt weer slaap. Dis wat hy met die messteekpasiënt gedoen het. Hy het ook met die messteker gepraat en vir hom baie mooi vertel dat dít wat hy gedoen het, waarskynlik was omdat hy oorspanne was, en dat hy homself nie moet teësit wanneer die helikopter hom en die pasiënt kom haal nie.”

“Waarheen is hulle gestuur?” vra Maria skoon bewerig van verbystering.

“Na die tronkhospitaal in Punta Arenas. Die pasiënt moes nog versorg word en die skuldige moes sielkundige behandeling kry — hy het aan skok gely. Hy het die hele tyd vir Igor gevra hy moet asseblief nie vergeet om vir sy siel te gaan bid nie.”

“Punta Arenas, die dorpie op die Suidpunt van Chilli?” vra Maria verdwaas.

“Ja dit is redelik naby die Suid-Pool.” verduidelik Brigette.

“Nou hoekom was Igor veronderstel om vir sy siel te gaan bid?”

“Want Oleg moes die volgende dag op die helikopter klim. Hy was nie toegelaat om eers kerk toe te gaan nie om self die monnik te gaan vra om vir hom te bid nie.”

Maria wil nie vir Brigette sê sy dink haar kop werk nie meer reg nie, daarom fraseer sy die sin met sorg:

“Brigette, nou is ek heeltemal deurmekaar. Waar sou Igor nou ‘n ooit ‘n monnik kon kry, of het hy bedoel Igor moes saamgaan na Chille?”

“Die monnik ís in die kerkie.”

“Watter kerk? Daar is mos nie ‘n kerk in Antartika nie? Of is daar?” voeg sy by, want nou weet sy nie meer wát om te dink of te glo nie.

‘n Ander psigiater of sielkundige sou onmiddelik tot die gevolgtrekking gekom het dat Brigette nou weer heeltemal van haar kop af is, maar Maria hou maar aan om uit te vra, al klink alles vir haar onwerklik.

“Maar, daar ís ‘n kerk  op die eiland, ‘n bietjie verder weg van die basis. ‘n Klein Russiese kattedraal, vooraf uit hout vervaardig en daar aanmekaar gesit. Daar is heel jaar deur ‘n monnik wat daagliks moet bid vir die siele van die mense wat al hul lewens by die navorsingsstasie verloor het.” Sy bly lank stil. “My baba, waarvan niemand behalwe ek en Igor geweet het nie, is een van hulle en ek was ook amper een van hulle,” sê sy saggies en laat sak haar kop. Haar lang blonde hare val vooroor en bedek haar betraande gesig.

Maria het nie woorde nie. Sy skuif net nader na die biddende vrou, en hou haar styf vas, terwyl sy self in haar gedagtes bid: “Ag liewe Here, help my om kop te hou en sin te maak van hierdie deurmekaar geskiedenis.

Lank sit hulle so. Twee vrouens. Albei emosioneel uitgeput.

 

“Brigette, is jy nog baie lief vir Igor?

“Ja ek is.” Die rooi dikgehuilde blou oë, kyk direk na Maria, en die blond kop knik bevestigend.

“Dan het ek baie goeie nuus vir jou.”

Vraend kyk die blou oë weer stip na haar.

“Igor het per e-pos verneem na jou, en hy wil jou binnekort kom haal.”

“Ek weet, maar dankie dat jy my sê van die e-pos,” glimlag die blonde koppie tussen die trane deur.

Weereens is Maria verslae. Hoe weet Brigette so verseker dat Igor haar wil kom haal? Sy het tog net ‘n droom gehad… of was dit nie net ‘n gewone droom nie? In hierdie verhaal van hierdie bo-natuurlike held met soveel bo-natuurlike vermoëns sal niks haar nou meer kan skok nie.

Sy vat Brigette se hand en trek haar op van die bankie af. “Kom ons gaan terug. Ek dink ons twee het nou baie tee nodig om al die adrenalien af te sluk. Suid-Afrikaanse Rooibostee sonder melk en suiker.”

 

Nadat hulle ‘n pot tee uitgedrink en albei gestort het en skoon aangetrek het, sê Maria: “Ek wil net gou na my kantoor toe gaan…”

“en kyk of daar nie weer ‘n e-pos van Igor is nie,” voltooi Brigette laggend haar sin vir haar.

“Jy lees my soos ‘n boek” glimlag Maria. “Niks is meer is meer ‘n geheim nie.”

Vir ‘n oomblik trek daar ‘n skadu oor Brigette se oë, maar direk daarna verhelder haar gesig weer.

“Ek wens net ek het geweet wat Igor beplan. Wat in sý kop aangaan, wat die owerhede vir hom beplan. Hulle het waarskynlik groot planne vir hom, maar dit sluit my waarskynlik nie in nie. Ek wil ook nooit weer sonder jóú wees nie Maria.” Skielik klink sy weer effe beangs.

“Doen my ‘n guns en gooi vir ons die potplante nat. Ek kom so gou ek kan,” en met dié woorde verdwyn Maria kantoor toe.

Sy gaan sit op haar rekenaarstoel maar toe sy haar hand uitsteek om die rekenaar aan te skakel, spring die woorde voor haar op die skerm asof iemand op daardie oomblik besig is om dit te tik. Haar kop ruk regop van skok. Sy het nog nie aan die rekenaar geráák nie! Wat op die aarde gaan hier aan… sou daar ‘n kortsluiting wees?

“Toemaar dokter Maria, daar is nie ‘n kortsluiting nie, dis net ek, Igor. Jy was die afgelope twee dae baie by Brigette betrokke. Jy het nooit eers na jou kantoor toe gekom nie. Ek was nogal verlig toe ek sien jy kom sit op jou stoel sodat ek met jou kan kommunikeer en jou agtergrond rakende die situasie kan aanvul.”

“Hoe weet jy dat ek op die stoel kom sit het, en hoe kan jy al begin tik as ek nog nie eens aan die rekenaar geraak het nie? Jy het my laat skrik.”

“Jy kan bly wees dat ek nie al die heel eerste keer toe ek en jy per e-pos met mekaar gekommunikeer het, nie van hierdie uitgebreide rekenaarmatigemikrotelepatie gebruik gemaak het nie. Dan sou jy dalk regtig aan skok gely het.”

“Sou ek dit ook kon doen?” vra Maria bewerig.

“Ja, as jy opgelei word om dit te doen. Dis uit-en-uit ‘n breinoefening. Ek tik byvoorbeeld ook nie vir jou nie, ek konsentreer net op jou op daardie spesifieke punt daar waar jy daar voor die rekenaar sit, maar as twee mense goed geoefen is, is ‘n rekenaar ook nie eens nodig nie. Hulle kan direk op mekaar konsentreer.”

Daar is ‘n effense stilte. Dan lag Igor hartelik. “Welkom tot my en Brigette se wêreld. Sy sal dit ook binnekort aanleer, sodra ek haar kom haal het.”

Maria stamel effens. Sy probeer, maar kry nie ‘n woord op die rekenaar getik nie. Haar vingers sowel as haar verstand is gevries.

“Kalmeer dokter Maria. Heel eerste wil ek jou bedank dat jy soveel vir Brigette beteken, soveel kwaliteit-tyd met haar deurbring, want sy beteken baie vir my. Ek is lief vir haar, soos ‘n gewone ware man ‘n vrou lief het, al is ek half robot — half mens. Laat ek dit eerder só stel: ek is ‘n gewone man, wat net toegerus is met ‘n paar ingeboude robotiese hulpmiddels om my beter en meer effektief te maak vir my werk. My hart is nog mens – met gevoelens en emosies, hoewel ek my emosies baie beter as ‘n gewone ou kan beheer.”

“Ivan,” tik Maria. “Jy het my alweer onkant gevang, maar op hierdie stadium is niks meer vir my ‘n verrassing nie, want Maria het my van jou en al jou vermoëns vertel,” tik Maria.

“Ek weet” rol Ivan se woorde vinniger as wat Maria kan lees, oor die skerm. “Toe ek sien hoeveel jy werklik vir haar omgee, en julle is alleen, het ek het haar hipnotiese stilte stap-vir-stap gelig, sodat sy stadig maar seker met jou kon kontak maak. Dis belangrik dat sy haar emosies en gevoelens met jou as persoonlike sielkundige/psigiater deel, sodat sy nie spanning oorhou nie. Sy moet nou soveel praat as wat sy kan en alles met jou bespreek. Enige post-traumaties stres moet nou voorkom word.”

“Nou werp dan asseblief bietjie lig op die ‘fetus-in-die-ys.’ Dit, veral, skep baie spanning by Maria. Wat het van haar ‘babatjie’ (soos sy daarna verwys) geword?” tik Maria.

“Dié kosbare ‘pakkie’, is hier by my in my vrieskas, ek het dit saamgebring, sodat ek en Brigette formeel saam daarvan kan afskeid neem.”

“Wat bedoel jy daarmee?”

“Ek beoog dat wanneer ek en Brigette weer bymekaar is en die stof gaan lê het, ons ‘n kissie koop en ons kindjie eervol langs my vader en moeder in die familiebegraafplaas begrawe. Ek weet net nie of ons dit vóór of ná ons troue moet doen nie. Ek sal graag jou opinie wil hoor dokter Maria.”

Vir ‘n oomblik is dokter Maria verslae. Hy wil met haar trou! Die pasient en haar aanstaande, albei konsulteer haar, ‘n tipiese pasiënt-dokter-situasie, maar meer kompleks as wat sy nog ooit in haar beroep ervaar het. Die een pasiënt naby, maar nie in haar kantoor nie, en die ander pasiënt aan die ander kant van die aardbol, waarskynlik Rusland, en sy, as die dokter moet hulle albei begelei… ‘n baie delikate situasie.

“Dokter ek sien jy is net so onseker soos ek?”

“Wel kom ons redeneer dit uit. Dit help altyd.

“Eerstens stel ek voor julle moet die kindjie ‘n ‘naam’ gee, want Maria ervaar hom as haar baba, nie as ‘n aborsie nie. Die ‘begrafnis’ is ‘n baie goeie idee om afsluiting te kry, maar soos jy tereg sê, die vraag is wanneer, op watter stadium?”

“Die naam gee is ‘n baie goeie idee dokter, miskien moet ek en Brigette saam sit om op ‘n naam te besluit. Dit behoort te help om ons albei emosioneel weer op dieselfde bladsy te kry.”

“Gee die kind jou van ook, aangesien julle tog gaan trou… dit behoort die vorige verbintenis wat jy en Brigette gehad het, ook te regverdig as ‘n eerlike opregte verhouding, nie dat ek dink sy twyfel daaroor nie, maar dit behoort ook aan daardie deel van julle verhouding afsluiting en volvoering te gee.”

“Dankie dokter vir die rigtinggewende gesprek. Ek sal dit vanaand so met haar bespreek.”

“Igor, daar is nog baie dinge wat ek jou nog sou wou vra, maar Maria is nou al te lank alleen.”

“Dankie dokter, ek waardeer dat Maria jou eerste prioriteit is. Sê vir haar ek stuur groete.”

Skielik is die rekenaar weer afgeskakel en die skerm donker, sonder dat Maria daaraan geraak het. Sy skud haar kop verslae.

 

Brigette sit in ‘n tydskrif en blaai. Sy kyk op toe Maria inkom. “Maria?” kom dit vraend.

Maria skud weer haar kop. “Ek dink ek ly aan skok.”

“Hoekom?” vra Brigette bekommerd.

Maria besef dadelik sy sal haarself onder beheer moet kry. Brigette is nog baie sensitief en mag nie verwar word nie, al is sy wat Maria is verward.

“Ek dink die tegnologiese kennis en vermoëns waaroor Igor beskik is ver bo my begrip,” en sy vertel vir Brigette van die rekenaar wat sommer self aan- en afgaan.”

Brigette lag klokhelder en verlustig haar in die situasie. “Dis nou weer vir my ook ‘n nuwe een. Ek is net bly jy kon met Igor kontak maak.”

“Ek ook, en hy stuur vir jou groete. Hy sê hy sal self vannag met jou gesels,” vertel Maria baie versigtig.

“Wonderlik! Ek het nogal vermoed laasnag, toe hy met my gepraat het, was nie net ‘n droom nie.” Brigette klink opgewonde en tevrede met die saak. Dan sien sy Maria wat in die niet in staar.

“Toemaar Maria, ek weet presies hoe jy voel. Onthou, ek het ook maar alles wat ek omtrent Igor weet so stelselmatig ontdek. Ek was nie vooraf ingelig omtrent sy bioniese vermoëns nie. Toe hulle my aangestel het, het hulle darem een of twee vrae gevra omtrent my verpleegkundige agtergrond maar hulle het my onophoudelik getoets om vas te stel of ek kan kalm bly in moeilike omstandighede, en hoe vaardig ek is met ‘n kamera.”

“Dis interessant.”

“Wel wat vir my baie vreemd was, was hulle belangestelling in my agtergrond. Gevra of my familie nie sal omgee as ek hulle dalk nooit weer sien nie.”

“Ek dink nogal dis te verstane,” laat Maria hoor.

“Nee Maria, vir my was dit vreemd, want hulle het dit ‘n paar keer so tussen die vrae deur ingevleg, ten spyte van die feit dat ek op die vorms ingevul het dat geen familie het nie.”

“Ja, dit is nogal vreemd, noudat jy dit so uitwys.”

“Hulle wou alles omtrent my persoonlike sake weet, of ek in ‘n verhouding is, selfs of ek ‘n baie goeie persoonlike vriendin het en ál inligting wat ek gekry het, was dat ek Antartika toe gestuur word en die dokter se assistent  sou wees. Toe ek dokter Igor ontmoet het, het ek ook nie besef hy het allerhande vreemde vermoëns nie, want mens kan nie aan sy hand iets anders sien nie, en selfs sy oog lyk ook normaal. Dis maar soos ek saam met hom gewerk het, wat ek agtergekom het hy is met ekstra ‘toerusting’ toegerus.”

Maria gee ‘n skewe glimlaggie. “Nogal die presiese woorde wat hy in sy gesprek met my ook gebruik het.”

 

Elke dag het die twee vrouens gaan stap. Elke dag verder en fikser. Maria het aangehou om Brigette uit te vra en te laat praat sodat sy kan seker wees, soos Igor gesê het, dat sy nie post traumatiese stres oorhou nie, maar as sielkundige was sy tevrede dat alles wel is met Maria. Al wat haar bekommer, was dat hulle alleentydjie ten einde snel, en sy weet nie hoe op aarde sy aan die ander personeel gaan verduidelik hoekom Brigette so handomkeer verander het nie, want verseker kan sy nie aan ander die hele situasie verduidelik soos dit werklik is nie. Tog kan sy ook nie vir Brigette net ontslaan as sy nie weet hoe Brigette teenoor ander mense, wat nie soos sy, ‘n vertroueling is, gaan optree nie. Om Brigette egter aan die ander psigiatriese pasiënte bloot te stel sal dalk ook ‘n skok wees, maar tog, Brigette is ‘n opgeleide verpleegster, na regte behoort sy dit te kan hanteer.

Soos teenoor ‘n kollega, het Maria daardie aand ook hierdie saak met Igor bespreek. Hy het egter met haar saamgestem en hulle het dan ook ooreengekom watter verduideliking sy en Brigette vir die ander personeel gaan opdis, naamlik dat Brigette aan “post traumatiese stres gely het nadat sy in ‘n bergklim ongeluk beseer was, en dit die rede was hoekom sy haar voorheen van alles en almal onttrek het, maar dat die persoonlike aandag wat sy die vakansie gekry het, die stres grootliks opgeklaar het.” Dit is mos genoegsaam die waarheid.

 

Maria sit in haar kantoor. Igor kan nou enige oomblik by die deur instap, om Brigette te kom haal. Al die vorms is voltooi en onderteken behalwe die een wat Igor moet teken. Tegnies is dit dus tyd dat sy van Brigette afstand doen, tevrede en gelukkig soos ‘n goeie dokter met wie se pasiënt dit nou goed gaan, maar haar hart is in vertwyfeling… sy moet van ‘n beste vriendin afskeid neem.

‘n Klop aan die deur. Die sekretaresse kom in gevolg deur ‘n lang aantreklike man. Sy stel hulle aan mekaar voor. Ewe formeel skud hulle hand.

Met lam knieë gaan sy sit toe die sekretaresse uit is.

“Sit, Igor. Bly om jou in lewende lywe te ontmoet.”

“Dis vir my ook ‘n voorreg om jou te ontmoet dokter Maria,” kom dit van die man met die fletsblou oë. Maria voel dadelik gerus. Sy kan haar vriendin met liefde aan hierdie man toevertrou. Die volgende oomblik vlieg die deur oop en Brigette storm in Igor se arms in. ‘n Omhelsing wat Maria nooit in haar hele lewe sal vergeet nie.

 

“Wel, julle twee, alles is geteken. Brigette het vroeg vanoggend al van al die pasiënte en personeel afskeid geneem. Dan is dit seker maar tyd om te groet” sê Maria met ‘n knop in haar keel. Ook Brigette is nou stil met trane in haar oë.

“Dokter…” dan bly hy stil voordat hy verder praat…” Maria, ek het ‘n voorstel: wat daarvan dat jy saam met ons na die onbekende gaan. Dat jy ook aansoek doen om as een van die bemanning aangestel te word op hierdie ekspedisie, om eendag ‘n kolonie aardbewoners op ‘n ander planeet te gaan vestig? My aanstaande vrou sal ‘n vriendin nodig hê.”

Brigette blom! “Asseblief Maria, sê ja?” smeek sy.

“Дорогая моя, Мэри должна решить для себя сама. My liefste Skat, Maria moet self besluit. От этого зависит все ее будущее. Haar hele toekoms hang daarvan af.

Maria sit diep ingedagte en antwoord nie. Sy vra ook nie wat hy so pas gesê het nie.

“Maria, jy weet alreeds meer as wat ek of Brigette geweet het, voordat ons by hierdie projek aangesluit het, maar ek sien jy het nog baie vrae. Ek het ook so pas vir Brigette gesê sy moet jou nie probeer oorhaal nie, dis jou besluit, want dit is jou lewe, en dit gaan jou hele toekoms beïnvloed. Nét jy mag hierdie besluit neem. Al wat ek kan doen is om jou so goed moontlik in te lig, sodat jy ‘n ingeligte besluit kan neem, want as jy instem om saam te gaan, is daar nie omdraai nie.”

“Ja, soos altyd ‘sien’ jy reg Igor.”

“Ons het mos nou al die vorms voltooi en amptelik is Brigette nou ontslaan, is dit nie?” vervolg hy geduldig soos mens met ‘n kind praat.

“Ja…” antwoord Maria onseker.

“Kom ek en jy en Brigette gaan eet vanaand by ‘n privaat hotel, waar ons alleen en ongestoord kan saam eet. Dan kan ek en sy sommer daar inboek vir die aand. Maar nou wil ek eers vir Brigette na ‘n paar modewinkels vat en haar met ‘n tas en ‘n paar goeie kledingstukke bederf. Sy moet leer om weer by die buitewêreld aan te pas en jy moet besluit of jy kans sien om oor ‘n bietjie meer as ‘n jaar van hierdie wêreld soos jy hom ken, afstand te doen.”

Verlig knik Maria haar kop. “Dit klink goed. Naby my woonstel is ‘n oulike hotel. Na ete kan julle dan by my woonstel kom koffiedrink.”

 

Maria kan haar oë nie van Brigette afhou nie. Gekleë in ‘n ligblou moderne uitrusting, en haar opgewekte gelukkige uitdrukking, lyk sy soos ‘n koningin van ouds, statig, vroulik en  selfversekerd. Maria daarenteen is bekommerd, effe gespanne en het duisende vrae wat in haar kop rondmaal. Igor is die ware ouwêreldse heer, wat albei die dames in die holte van sy hand hou.

Nadat die kelner die kostrollie ingestoot het en die vertrek verlaat het, kan hulle gemaklik verder gesels.

 

“Igor, ek besef hierdie ‘sending’ soos wat jy dit genoem het, is ietwat sensitief, maar ek waardeer dat jy my tot dusver so openlik en opreg geantwoord het, en ek dink jy besef dat ek myself nooit ooit sal veroorloof om daaroor te praat nie, selfs al gaan ek nie saam met julle nie. Daarom het ek die vrymoedigheid om nog vrae te vra.”

“Maria, aan jou integriteit het ek geen twyfel nie, daarom sal ek alles sover moontlik beantwoord.” Dan knipoog hy vir Brigette en vervolg:

“Dit is binne my vermoë om die toepaslike stukkie van jou geheue uit te wis, of kom ons sê ‘stil’ te maak om jouself asook die sending te beskerm indien jy nie sou saamgaan nie.” Maria verstyf onmiddelik.

“Igor jy maak nou vir Maria bang. Ek wil nie hê haar betrokkenheid by my en my toekoms — ons toekoms, moet haar bang of beangs maak nie.” kom dit van Brigette.

Vir ‘n split sekonde is Igor ongemaklik, en dit laat Maria net besef, hy is tóg nog mens. Nog net ‘n man wat wil beskerm, nie ‘n dame wil verskrik nie.

“Ontspan Maria, ek wag vir jou vrae,” kom dit van Igor.

“Wel, waarheen gaan die sending? Maan toe?”

“Nee, die Maan en Mars is al ou nuus. Mars is te ver van die son af en is so koud dat water vries. Nee, ons gaan na Die Nuwe Aarde-2. Die aarde, soos ons hom ken, se tweeling, maar selfs die Europese Ruimteagentskap is nog nie eens bewus van die bestaan van DNA-2 nie. Hulle het met hul Kepler teleskoop, eers onlangs van die bestaan van – soos hulle dit noem Kepler-452b bewus geword. Waar ons heengaan, is heelwat nader aan die aarde, baie dieselfde as Kepler-452b, maar ‘n planeet identies aan die aarde, ongerep en ongeskonde sonder ander ‘menslike’ inwoners. Ons gaan ‘n ‘aardse bevolking’ daar vestig om die totale uitwissing van die menslike ras te voorkom, want teen die tempo waarteen die mens tans sy eie wêreld besoedel en vernietig, is die kanse goed dat die aarde en die mens soos ons hom ken totaal in ‘n vlammehel uitgewis kan word.”

“Maar Igor, met al die ruimtenavorsing wat tans op dreef is, gaan die ruimtewetenskaplikes bes moontlik van die sogenaamde Nuwe Aarde-2 bewus word… en wat dan?”

“Indien dit gebeur, en hulle van ons bestaan bewus word, sal hulle waarskynlik dink ons is ‘ruimtewesens,’” lag Igor.

“Intussen is ons maar in werklikheid aardse ruimtereisigers wat ons op Die Nuwe Aarde-2 gaan tuismaak het,” kom dit spontaan van Brigette, en almal lag verspot saam.

“Wel,” bring Igor die gesprek weer terug op roete, “die Europese Ruimteagentskap se PLATO-ruimtetuig sal volgens hul beplanning oor twee jaar gelanseer word, met ‘n stel teleskope wat na meer aardagtige planete rondom nabygeleë sterre sal soek. PLATO sal waarskynlik die paar dosyn planete soortgelyk aan Kepler-452b ontdek, wat selfs meer soos die aarde is, en baie daarvan sal baie nader aan die aarde wees, maar teen daardie tyd is ons hopelik klaar op Die Nuwe Aarde-2 gevestig en hulle sal maar verder moet soek, en wonder hoe het ons daar gekom en waar kom ons vandaan.”

Elkeen is nou vasgevang in sy eie bespiegelende droomgedagtes.

“Igor, met jou eerste sogenaamde e-posboodskap aan die inrigting, het jy dit met ‘n ‘Kolonel’s titel’ afgesluit. Is jy dus in die Russiese weermag?”

“Ek was, in die weermag. Na skool het ek by die Russiese Weermag aangesluit, en hulle het vir my mediese studies betaal. Al was ek toe ‘n gekwalifiseerde mediese dokter, moes ek dan ook soos enige ander soldaat, gevegsopleiding ondergaan en my range verwerf. Tydens een van hierdie opleidingssessies, het ek het my hand en my oog weens die nalatigheid van een van die opleidingsoffisiere verloor — ‘n lang storie waaroor ek nie nou gaan uitwei nie. Die feit is egter dat hulle my dienste as ‘n dokter sou verloor, en ek na my herstel in ‘n administratiewe pos sou moes diens doen. Dit was vir my totaal onaanvaarbaar. Ek het beswaar aangeteken en voorgestel dat hulle op my eksperimenteer en my hand en my oog met bioniese ledemate vervang. Ek het gevoel ek het niks om te verloor nie.

“In hierdie hele proses het die ou Professor van die Mediese Navorsings Instutuut en sy ‘proefkonyn’ – dis nou ek – uiteindelik ‘n gedugte navorsingsspan gevorm. Ons het saam beplan, saam beraadslaag en ek kon help voorstelle maak, planne beraam, oplossings soek- en dit beproef. So was ek uiteindelik nie net ‘n pasiënt nie, maar is toe ook later as ‘n waardige Navorser aangestel. Ons het mekaar ten volle vertrou en en tot hoër hoogtes aangespoor.

“Ek het toe aangebied om met my nuut toegeruste self, op ‘n Antartika te gaan diens doen, om die eksperiment te voltooi en afrondingsverslae vir die professor aan te stuur.”

“Ah! nou verstaan ek, waar ék in die prentjie ingepas het en so baie foto’s van jou werksaamhede moes neem en op jou persoonlike rekenaar moes plaas. Ek was as verpleegster én as fotograaf eintlik déél van hierdie ‘navorsingsprojek’! roep Brigette trots en opgewonde uit.”

“Wel my slim meisie, jy het sonder dat jy weet, baie komplimente vir jou foto’s gekry en ek dink nou verstaan jy ook die hele geheimhoudingsding?”

“Ja, verseker Igor, en ek voel bevoorregd dat ek deel kon wees. Kom ons drink daarop!” en ewe formeel stamp hulle drie glasies.

“Nou verstaan ek waarom jy vir ons ‘n bottel Franse sjampanje bestel het ‘Kolonel Igor,’” kom dit bewonderend van Maria.

“En waar kom die hipnotisering van jou pasiënte vandaan?” vra Brigette met ‘n skewe koppie. “Ek dink jy is hierdie eks-gehipnotiseerde pasiënt van jou ‘n verklaring skuldig.”

Igor glimlag soos ‘n stout seuntjie.

“As jong seuntjie het ek baie oor hipnose gelees, elementêre opleiding gekry en dit tesame met kulkunsies as ‘n stokperdjie beoefen. Na die eerste operasie op my hand, het ek vir die Professor voorgestel dat hy ‘n goeie hipnotiseur kry om my te hipnotiseer vir die komende operasies, omdat die die gewone narkose so ‘n slegte nawerking op my gehad het. Ek het gevoel dit benadeel my herstelproses.”

“Sowaar! jy het dus jou teorie omtrent hipnose op jouself laat toepas?” kom dit ongelowig van Maria.

“Ja, anders sal ek mos nooit weet of my teorie sal werk of nie,” antwoord die “skaam seuntjie” weer.

“Toe ek sien dit werk, het ek by die hipnotiseur klas gedraf om my eie hipnotiese vermoëns uit te brei, asook selfhipnose en brein-programmering te kan toepas.”

“Waaaat?” “ Waaat!” kom dit gelyktydig van die twee dames.

“Het jy jouself vir jou operasies gehipnotiseer?” verwoord Brigette hul albei se vraag.

“Dit het goeie beplanning en koördinering en tussen my en die mediese span geverg, maar dit het gewerk.”

“Nog vrae Maria?”

“Ja, asseblief Igor.

“Wie is die ‘ons’ groep waarvan jy die hele tyd praat? Julle twee is albei Russe, so is dit uitsluitlik ‘n Russiese groep mense? want dan gaan ek nie inpas nie.”

“Wel, ons hoofkantoor en laboratoriums is wel in Rusland, maar ons is ‘n uitgesoekte kosmopolitiese groep spesialiste en wetenskaplikes, wat persoonlik uitgesoek is om met hul spesialiskennis by te dra om die beoogde kolonie se lewensvatbare sukses te verseker. Baie van hulle is oud-lede van verskillende  Antarktiese- en Noordpool-ekspedisies.  Ons woon en werk reeds almal saam in hierdie afgeleë klein ‘dorpie’ met geen toegang van buite, sodat ons elkeen ons werk en posisie in hierdie geslote samelewing kan in-oefen, dat elkeen eendag presies sal kan weet wat om te doen.”

“Nou waar pas ek in?” vra Maria.

“Maria, jy het die regte stoffasie, spesialiskennis en deursettingsvermoë om die gemeenskap te kan bedien en hulp te verleen ten einde hul gesonde verstand te behou onder moeilike- en vreemde omstandighede, want onthou, al gaan ons almal basies toegerus wees met robotiese hulpmiddels en bo-menslike vermoëns, gaan ons almal nog basies ‘mens’ wees, met emosies wat kan ontspoor.”

“Sal ek en Brigette dus ook een of ander elektroniese ‘hulpmiddel’ moet kry, as sy sou saamgaan?” Maria frons.

“Nie noodwendig nie, want julle as vrouens moet buiten vir jul spesialis kennis, hoofsaaklik vrou en moeder wees in die nuwe gemeenskap.”

“Gaan ons met ander woorde net ‘broeimasjiene’ moet wees, wat waarskynlik kunsmatig geïnsamineer word om kinders te baar is vir voortplanting in Die Nuwe Wêreld?” laat Maria onthuts hoor.

Sy sit haar mes en vurk met mening neer.

“Nee Maria,” antwoord Brigette met deernis en begrip, en sit haar hand saggies op Maria se skouer.

“Ek en Igor gaan baie binnekort trou, maar ons gaan eers met ‘n gesin begin nadat ons ingeburger is. Elkeen van ons gaan moet werk om ‘n nuwe samelewing te bou.”

“Dis nou alles goed en wel, julle is- en was verlief, maar waar gaan iemand soos ek byvoorbeeld ‘n ‘geliefde’ ontmoet om ‘n ‘hemelse gelukkige gesinnetjie’ mee te begin op die sogenaamde DNA-2?”

Maria is nou snedig en sarkasties, heeltemal buite haar normale self. Dan sien sy Igor en Brigette kyk stip na haar, en sy besef: sy wat saamgenooi word, om eendag hierdie mense in hierdie wêreld waarvan hulle droom as ‘n skynbaar nuwe hemel op ‘n nuwe aarde, te help om hul teenwoordigheid van gees te behou, sy is besig om haar eie balans te verloor. Sy moet leer om nuut en vry te kan dink. Sy laat sak haar oë.

“Maria, (soos wat ek reeds gesê het) daar is meer as 1,000 mense van oor die hélé wêreld wat saamgaan. Ordentlike, begaafde mense met ‘n droom. Die kans is dus goed dat jy iemand sal ontmoet, wat by jou sal pas. Dalk is die kanse selfs beter as wat jy sou aanbly by die inrigting waar jy tans werk.”

“Só baie mense! Hoe op aarde gaan julle so baie mense tot op die planeet vervoer? Dis mos onmoontlik! Of is dit nie…” twyfel sy hardop.

“Die Leierskorps werk al jare daaraan om die nodige tegnologie ten opsigte van ‘vervoer’ soos jy dit noem, asook kommunikasievermoëns te ontwikkel. Hierdie jaar word die laastes van die groter groep indringend opgelei in gevorderde telepatie, telekenetika en daarna in supersoniese-mikroplasmatiese-nano-verplasing. Ek het verlede jaar hierdie opleiding voltooi, en dit baie geniet.”

 

Soos ‘n vis op droë grond gaap Maria na lug. Igor gee ‘n skewe glimlaggie.

“Jy hét mos gevra na die ‘vervoermiddel’ wat gebruik gaan word, dan nie?”

Maria se oë rek soos pierings, en Brigette is net so verstom. Sy het ook nog nie hierdie detail gehoor nie, want sy en Igor het hulself gisteraand vleeslik in mekaar se arms geniet.

“Igor, is dit hoekom jy nie verlede jaar by Brigette uitgekom het nie? Jy het sogenaamde ‘opleiding ondegaan’ en sy moes maar sit en wag?”

“Dit klink wreed Maria, maar ek kon nie anders nie. Wanneer sy bygekom het uit haar hipnotiese toestand sou sy jou en my nodig hê, en dit sou onmoontlik wees vir my om enige aandag hoegenaamd aan haar te gee. Glo my, dit was ‘n moeilike besluit. Sy sou dit nie op daardie stadium kon verwerk nie.”

“Hoekom nogal nie?”

“Sy was nog swak na die operasie. Sy sou baie pyn gehad het, sy het op daardie stadium nog nie van die projek geweet nie, en buitendien was jy ook nog nie gedurende daardie tyd in haar lewe nie. Jy het mos self gesien wat was die houding van die vorige dokter en personeel teenoor haar. Ek moes besluit wat vir Brigette die beste sou wees, want sy is vir my ongelooflik belangrik. Ek is lief vir haar, en terwille van haar ewewig sou dit beter wees as ek eers my opleiding sou voltooi. So kon ek haar dan ook beter begelei om deel te word van ons span.”

“‘Bemanning’ het jy dit vanoggend genoem — Hoe dan so?” Maria se wenkbroue trek  skepties skeef.

“Maria, dis maar by wyse van spreke. Die algemene aardbewoner praat van ruimtetuie en ‘n die bemanning van ‘n ruimtevlug. Ek kon nie op daardie stadium daar in jou kantoor vir jou verduidelik ons gaan nie met ‘n ‘ruimtetuig’ as sulks vertrek nie.” Igor is uitasem van verduidelik.

“So Igor, ek lei af jy is een van die Bestuursgroep en ek en Maria is van die laaste toevoegings tot die groep? As sy sou instem om saam te gaan, bygesê.” Die blondekoppie met die lig se stralekrans, kyk ver-erend op in haar geliefde se oë.

“Jy’s reg Liefling. Ek is een van die Middel-bestuursvlaklede van die voorlaaste groep mense, en juis daarom het ek die outoriteit en vrymoedigheid gehad om Maria saam te nooi. Sy is ‘n nugterdenkende spesialis in haar vakgebied, wat baie vir jou sowel as die res van die groep kan beteken.”

“En weereens het jy aan my en wat goed sal wees vir my gedink, Igor my liefling.”

Hulle kyk vlugtig in mekaar se oë en hy  vou haar fyn kunstenaarshand in syne, maar dan vestig albei van hulle weer hul aandag op Maria.

 

“Maria, wat wou jy vra?” por Igor haar aan.

“Wanneer presies het jy gehoor of te wete gekom van hierdie DNA-2  idee/projek?”

“Die dag ná Brigette se val en gevolglike operasie. My Professor was ook op die skip, met die nuwe aankomelinge, spesiaal om met my te kom praat, en self die omstandighede waaronder ons gewerk het, te kom besigtig. Ek was nie vooraf ingelig omtrent sy besoek nie. Hy het my toe persoonlik ingelig omtrent die DNA-2 projek waarby hy ingeskakel het terwyl ek in Antartika was. Hy het my en Brigette spesiaal kom nooi om by hulle aan te sluit, want die volgende opleidingskursus in die ‘verplasingstegniek’ sou die einde van daardie week begin.

“Regtig… het hy my ook saamgenooi?” vra Brigette verbaas.

“My Skat, hy sê hulle het nog nooit sulke hoë gehalte aksiefoto’s gesien nie.”

Brigette glimlag. Dit was ‘n groot kompliment.

“Toe Prof hoor van Brigette se ongeluk en besering, het ek en hy saam beraadslaag wat die beste oplossing sou wees.” Brigette sou nie die volgende dag met die ysbreker kon terugkeer nie, en buitendien sou ons dan ook te laat terug wees vir die opleiding.

“Ons het toe saam-saam besluit om haar na die tronkhospitaal te verplaas, sodat sy eers kon aansterk.”

“Nou hoekom juis die “tronkhospitaal?” vra Maria skepties. Brigette leun ook nader om te hoor.

“Dit was die naaste hospitaal aan ons Antartika Basis, en tydens die mesaanval-geval, het ek goeie bande opgebou met die Bestuur- en personeel van die betrokke hospitaal.

“Die nuwe Antarktiese-personeel was reeds op hul pos, en elkeen het voorligting gekry omtrent hul werksroetine. Dis hoekom daar nuwe slotte aan die deure van die teater was toe Brigette die teater wou betree. Hulle het egter nie enige voorligting omtrent Brigette gehad nie, en haar as ‘n ongemagtigde indringer beskou.”

Maria wil begin praat, maar Igor hou sy hand op.

“Brigette was reeds vooraf geprogrameer om daardie dag liggies wakker te word, want ek en die Prof sou haar op die helikopter vergesel na die tronkhospitaal, sodat sy eers bietjie daar kon aansterk. Dis hoekom Brigette liggies ‘bygekom’ het. Ek was net op daardie oomblik in my kantoor om my rekenaar en dokumentetas te kry.”

“Het jy my toe vergesel Igor, ek kan niks daarvan onthou nie.”

“My Skatjie, jy het op ‘n draagbaar gelê, en ek het jou fyn handjie al die pad tot daar vasgehou. Ek daardie nag langs jou bed gesit en jou hand vasgehou en deurnag by jou gewaak om seker te maak dit gaan goed met jou.” Brigette gee sy hand ‘n drukkie.

“Gaan aan.”

“Wel, ek kon toe die volgende dag voor ek lughawe toe is, eers toesien dat alle wel is met jou, en reëlings tref dat hulle jou twee weke later oorplaas na die psigiatriese inligting waar jy was, en seker maak die inrigting weet van jou, en jy sou veilig wees daar.”

“Ja, maar hoekom die klag teen haar?” wil Maria onthuts weet.

“Die klag, was maar ‘n administratiewe formaliteit. Die nuwe Antartika-personeel met wie sy  te doen gekry het, moes ‘n klag lê, anders sou hulle haar nie daar toegelaat het nie. Ek wou ook nie te veel met lang stories by hulle kom en verduidelik wat ek vermoed, sy in die teater gaan soek het nie, anders sou ek meer moes verduidelik as wat ek kon, en aandag te trek. Ek het net aangedring dat ek my pasiënt wou vergesel, en daarmee kon niemand fout vind nie.”

Daar is ‘n paar minute stilte. Baie van die gebeure maak nou meer sin.

“Igor, kom asseblief nou weer terug na die DNA-2 projek. Verduidelik daardie deel nou weer verder, dat ek daaromtrent ook duidelikheid kan kry,” versoek Maria.

“Waar was ons nou weer?”

“Jy het laas vertel van die ‘vervoer’ en die voorbereidings vir die projek.”

“O ja, nou onthou ek. Wel Meisies, in kort kom dit hierop neer: die hele projek is in fases beplan en word in fases tot uitvoer gebring. ‘n Projekplan net soos hier op aarde gebruik word. Die verskil is net dat ongeëwenaarde breinkrag van honderde mense, tesame met atoomfusie gebruik word om al die sogenaamde ‘Bou Blokke (BB)’ wat nodig gaan wees om te oorleef, te verplaas na die presiese, eksakte posisie waar dit op DNA-2 benodig gaan word.

“Die eerste groep bewoners van DNA-2 is reeds daar en hulle moes die nodige boublokke inwag en met volgehoue konsentrasie rig en op presies die regte posisie neersit. Boublok een was byvoorbeeld om in hul aanvanklike behoeftes te voorsien. Items soos voedsel, water, medikasie en oorlewingsmiddele waarmee hulle kon afskop, sodat hul net eers die kos en waterbronne op die planeet kon toets.

“Drone’s, onderdele en komponente om robotte te bou om die fisiese harde werk te doen, was in ‘n volgende boublok. So is daar verskillende BB’s wat volgens gebruikswyse saam gegroepeer word. Hierdie groep mense met hoofsaaklik ingenieurs, grondbewerkings-tegnici en ambagsmanne het begin om huisvesting en infrastruktuur vir die mens te skep om permanent daar te kan woon.”

Sy frons. “Het ek reg gehoor? Die wonings op DNA-2, waar ons gaan ‘huisopsit’  is reeds op hierdie stadium in aanbou?” vervolg Brigette onbegrypend.

“Ja, jy’s reg Brigette. Die eerste 6,000 akker waar die aanvanklike nedersetting  gevestig gaan word, was basies vooraf met magnetiese grond- en plantpenetrerende super LiDAR en verbeterde radiometriese tegnieke bepaal om seker te maak dat die grond op daardie punt stabiel is. Die dorpsuitleg van die nedersetting ‘DNA-2 Alpha,’ was reeds  voor hul vertrek, grootliks deur die ingenieurs beplan.

“Gaan daar paaie wees?” Igor vra Brigette.

“Ja, soort van, maar nie heeltemal soos ons dit hier op aarde ken nie, maar daar gaan beslis nie vliegtuie wees nie. Ons moet ons breinkonsentrasievermoëns behou, en ons kinders daarin oefen.”

“Is dit die enigste redes hoekom landingspunte, of kom ons noem dit nou maar meer wetenskaplik: ‘n eksakte punt op DNA-2 moet wees?” vra Maria met ‘n frons, want met die gewone ruimteprogramme van die VSA, Rusland en China wat al ruimtetuie maan toe gestuur het, was hulle maar te dankbaar as dit enigsinds in ‘n sekere area te lande gekom het en nie stukkend gestamp word omdat dit te hard neerval  of aan flarde geskeur word tydens die landingsproses nie.”

“Dit my liewe regdenkende Maria, dit is juis die geheim van die hele logistieke vervoerproses.

“Eerstens om hierdie verplasingtegniek te aktiveer, is ‘n eksakte koördinate posisie nodig waarop al die inwagtendes moet konsentreer om die vrag neer te sit, anders kan die vrag bo-op hulle beland of buite beheer raak, in ‘n wentelbaan beland en verlore gaan of iewers selfs groot skade aanrig.

“Tweedens is die eksakte neersitpunte belangrik, want die grondstruktuur op daardie punt moet soos reeds gesê, baie stabiel wees, en derdens sodat die natuur en plantegroei so min moontlik versteur hoef te word, want ons wil in harmonie met die natuur leef en bestaan. Nie alles opfoeter soos hier waar ons nou is nie.”

“Dit gaan ‘n reuse kopskuif benodig, want die huidige aarde se bewoners is in ‘n spesifieke gemaksone van heers en oorheers, gebruik en misbruik ingeburger,” sê Brigette ewe droog. “Maria, jy sal moet sorg dat ons koppe nie uithaak nie.”

Maria staar hulle aan asof hulle deursigtig is.

“Nou laat ons nou maar net my lang ongewone voorligting afsluit,” sê Igor, hoewel hy kan sien die dames kan nie veel meer inneem nie.

“Nadat al die BB’s ‘afgelewer’ is, gaan die laastes van die ‘toekomstige bewoners’ hulself, elkeen in ‘n spesifieke groeperingsvolgorde verplaas, en op spesifieke aangewese versamelpunte byeenkom. Elkeen sal vooraf weet presies wat om te doen, dis hoekom alles daar in die verre verlate Russiese platteland ingeoefen word. Daar woon net toekomstige DNA-2 bewoners, in ‘n toegespande beveiligde gebied, met bordjies wat aandui dat dit kamma ‘n ‘kernaanleg’ is en toegang verbode is. Soos wat die tegnici en behuisings-spesialiste en ander sleutelpersoneel daarvandaan vertrek na DNA-2, word die dorpie leër en leër…”

“Totdat ‘n spookdorpie agterbly?” merk Brigette op, terwyl ‘n rilling langs haar rug af glip.

“Presies net so, en intussen raak die gemeenskap op DNA-2 gevestig. Uiteindelik bly slegs ‘n paar van die fundi agter om alle spore van ons dorpie  op hierdie aarde uit te vee, en dan kom hulle ook agterna.”

Maria sowel as Brigette se koppe draai. Dit voel asof hulle te veel gedrink het. Dis tyd om te gaan slaap, want hul breine is nou oorweldig. Dis net te veel. Niks kan nou meer sin maak nie.

“Kan ek julle môre, net voordat julle vertrek my antwoord gee?”

“Geen probleem nie. Ons vliegtuig vertrek eers môre-middag.”

“Jy sal seker eers moet kennis gee, en wag totdat hulle iemand in jou plek aangestel het Maria,” kom dit bekommerd van Brigette.

 

Maria loop soos ‘n slaapwandelaar saam met hulle tot by haar woonstel. Die beloofde koffiedrink by haar woonstel skoon vergete.

“Ek sal julle môre op die lughawe kom groet.”

Igor sluit vir haar oop, en maak seker dat sy veilig is. Brigette en Maria omhels mekaar amper wanhopig. Dan verlaat hulle die woonstel. Hulle kyk Maria agterna, voordat hy die deur agter hulle toetrek.

“Arme Maria,” sê Brigette. “Ek dink dit was vir haar oorweldigend.”

“Dis seker te verstane, maar daar is nie baie tyd oor om te besluit nie. Jy en Maria is die laaste twee persone wat by die groep kan aansluit. Die laaste opleidingsprogram begin net na volgende week en ons mag nie laat wees nie.”  Skielik stop Igor, vat Brigette aan haar twee skouertjies vas en kyk haar in die oë. “Sien jy nog kans Brigette?”

Onverskrokke kyk sy hom vas in die oë: “Saam met jou sien ek vir enigiets kans,” en sy vou haar arms om sy nek en trek sy kop af totdat hul lippe raak. Hul vurige omhelsing word aangeblaas deur die maan en sterre wat bokant hulle heenwys na hul bestemming waar hul eendag hul nageslag gaan grootmaak. Eendag is nie meer so ver nie. Eendag is reeds afgebaken en op hierdie aarde se kalender aangeteken.

 

“Ek wonder wanneer kom Maria? Daar is nog geen teken van haar nie.”

“Toemaar my Liefie, sy sal betyds hier wees. Dis ons wat maar net vroeg is. Terloops, sit asseblief die kaartjies en besprekingsdokumente in jou handsak, dis veiliger as in my bo-sak.” Hy gee ‘n koevertvouer aan.

“Ek twyfel of sy sal saamgaan, maar wat daarvan as Maria sou wou saamgaan? Sal jy vir haar kan geld gee vir ‘n kaartjie? Maar jy het gesê die program begin net na volgende week? Dan kan dinge mos nie uitwerk nie!” Brigette klink onseker en verward.

“Stadig Brigette, jy gee my nie eens ‘n kans om te probeer antwoord nie.”

“Daar’s sy! Daar’s Maria en sy het ‘n klein tassie by haar!”

Brigette swaai haar arms in die lug om Maria se aandag te trek, en die twee dames storm op mekaar af in ‘n omhelsing.

“Maria, jy’t gekom. Hoekom het jy ‘n klein tassie by jou? Wat het jy besluit?”

“Kom julle twee mooiste meisies, gaan sit rustig almal saam by daardie tafeltjie in die hoek, en pluis die saak oor ‘n koppie tee uit.”

“Suid-Afrikaanse Rooibostee!” voeg Brigette laggend by, en sy dink aan die vorige keer wat Maria haar met ‘n pot Rooibostee tot kalmte gebring het.

 

“Nou toe, Maria, ons tee is bestel. Uit daarmee. Wat het jy besluit?” Brigette kan nou nie meer wag nie.

“Ek het besluit ek gaan saam!”

Brigette val Maria amper weer om die hals, maar gelukkig kom die tee presies op die regte tyd.

“Nou kom ons drink daarop” en Igor stoot sy koppie vorentoe sodat Brigette dit kan volmaak.

“Maar Maria, wanneer gaan jy kom, Igor sê die opleidingsprogram begin net na volgende week, en wat van jou werk en jy moet nog bedank.”

Igor leun nou maar rustig agteroor en drink sy tee. Die twee opgewonde vroumense moet dit nou maar self uitpluis. Hy weet wat hy weet, en het reeds voorsorg getref.

“Ek besluit ek gaan saam met julle, want as ek níé sou gaan nie, sou niks in elk geval meer dieselfde wees nie, en ek sal waarskynlik die res van my lewe daaraan wy om te dink en te wonder oor wat sou kón wees. Ek dus vanoggend baie vroeg vóór werk hierdie tassie gepak, my woonstelsleutels met ‘n briefie in die opsigter se posbus gegooi.”

“Wat het jy daarin geskryf?”

“Dat my ‘familie’ my dringend nodig het. Hulle moet maar alles in die woonstel verkoop, die opbrengs aan ‘n kinderhuis skenk, en die deposito vir hulself hou vir hul moeite.

“By die werk gekom, het ek dadelik my bedankingsvorms ingevul. As motivering het ek aangevoer ek voel gefrustreerd met my beperkte kennis- en werksgeleentheid by die inrigting. Ek gaan op ‘n wêreldreis sodat ek my kennis en geleenthede kan uitbrei. Ek weet nog nie waarheen nie, en kan dus nie ‘n adres agterlaat nie. Hulle moet alle korrespondensie maar laat ophoop, totdat ek ‘n adres stuur.”

“Meisies, ek moet nou julle twee se detail gesprekkie onderbreek met ‘n afskeidswoordjie.”

Verstom kyk hulle altwee op.

“Kom gou saam met my hysbak toe.”

Igor tel Brigette se tasse op en hulle tou verbaas agter hom aan. In die hysbak, vat Igor Maria se vingers en plaas dit op drie knoppies tegelyk, wat die deur moet toe maak, en toe hóú.

“Hou jou vingers daar Maria, ek moet dringend afskeid neem.”

Verstom hou Maria haar vingers op die drie knoppies en kyk dan op om ‘n verduideliking te vra. Al wat sy egter sien is hoe Igor die ewe verbaasde Brigette van haar voete af optel in ‘n warm omhelsing en haar soen dat sy na haar asem snak.

“Brigette my liefling, julle kaartjies, geld en alles is in jou handsak. Gaan nou dadelik toonbank toe, gee jou groot tas in en dan gaan julle tweetjies aan boord. Ek wag vir julle op die  lughawe, wanneer julle arriveer.”

Die twee meisies se monde val oop. Die geskokte Maria se vingers los die hysbak se knoppies. Die deur gaan oop. Buite die hybak staan ‘n klomp mense ongeduldig en wag dat die twee wasbleek meisies wat lyk of hulle ‘n spook gesien het, hulle tasse moet optel en uitstap sodat hulle kan instap.

***

NASKRIF:

Hy land saggies op haar voorstoep en stap rustig tot voor die oop glasdeur.

Sy sién hom! Herken die lang aantreklike gestalte en skrik wawyd wakker. Verdwaas sit sy regop. Besef dan wat gebeur het. Sy frons. Dit is die eerste keer dat dit gebeur, maar nie weer nie! Die karakters het só op haar gegroei, en deel van haar daaglikse roetine geword, dat Olaf nou haar persoonlike lewe begin binnedring. Sy móét nou afsluiting vind.

Nadat sy haar gesig met koue water afgespoel het, skuif sy met ‘n beker warm koffie weer voor haar rekenaar in. Dit was nou genoeg vir “een dag,” en druk die “stuur” knoppie. Dan leun sy terug op haar stoel en teug aan die koffie, maar “Olaf” wil nie uit haar gedagtes wyk nie…

Ek wou hom nog gevra het, as Brigette nie die ongeluk gehad het waarin sy die baba verloor het nie, wat sou dan gebeur het? Sou hy kans gesien het om van die sending na DNA-2 afstand te doen om by sy nuwe gesin agter te bly?

o0o