Skeppingskompetisie 2024

Volgende jaar is Afrikaans amptelik 100-jaar oud.  Ons, hier by Afrifiksie, vier dit graag saam met die res van ons taalgenote, en ons sal oudergewoonte weer ‘n skryfkompetisie aanbied.  Vir hierdie eeufeesgeleentheid kan daar slegs kortverhale ingeskryf word, en slegs in twee kategorieë ingeskryf word, naamlik:

  1. Wetenskapfiksie
  2. Fantasie

Die kortverhaal is soos só dikwels reeds beskryf, en moet voldoen aan al die eienskappe van ‘n kortverhaal – daar is talle hulpbronne op die internet wat leiding gee oor hierdie spesifieke genre, en lees ook gerus ons bladsy oor kortverhale wat in 2013 geskryf is.  Dit is tipies minder as 20 bladsye maar mag definitief nie meer as 25 wees nie (A4 op 1½ spasiëring met ‘n 11 grootte Arial lettertipe).  Lees ook asseblief ons bladsy Om ‘n fantasie te skep waar goeie wenke beskikbaar is.

In die verlede was daar dikwels ‘n eerste prys toegeken in ‘n kategorie waarin daar slegs enkele (of soms net een) inskrywings ontvang was.  Eerste pryse sal voortaan slegs toegeken word indien ‘n inskrywing slaag en waardig beskou word vir ‘n eerste prys.  Met ander woorde, soms sal daar nie ‘n eerste prys toegeken word nie alhoewel daar wel inskrywings in daardie kategorie ontvang was.  Die gehalte moet eenvoudig voldoende wees om ‘n eerste prys te regverdig.  Die besluit van Afrifiksie is finaal in die benoeming van wenners.

Indien daar inskrywings ontvang word van kinders, sal die nodige aanpassings gemaak word tydens die beoordeling – hulle sal egter nie meeding teen volwasse deelnemers nie.

‘n Kontantprys van R1 000 sal toegeken word aan ‘n eerstepryswenner.

Alle inskrywings moet ons teen die einde van Januarie 2025 bereik.  Dit moet aan ons ge-e-pos word aan afrifiksie@outlook.com of afrifiksie.nova@gmail.com.  Die inskrywing moet die naam en kontakbesonderhede bevat, dit moet aandui in watter kategorie dit  ingeskryf word en ook die ouderdom van die persoon wat dit geskep het.

Die uitslag van die kompetisie sal DV aangekondig word voor die einde van Junie 2025.

Algemene reëls en voorkeure

Die volgende riglyne sal toegepas word by die beoordeling van die inskrywings.

  1. Vloek word ontmoedig, maar lei nie tot diskwalifisering nie. Indien vloekwoorde of kras taal nodig geag word, moet dit egter in Afrikaans wees.  Die ydellike gebruik van God se naam (as ‘n stopwoord, kragwoord of vloekwoord – in sy verskeie verbuigings) word egter verbied en sal inderdaad tot diskwalifisering lei. (Wenk: Indien kras taal benodig word, skep gerus die nodige woorde vir die storie, in plaas van bestaande kragwoorde wat reeds in Afrikaans bestaan.)
  2. Engelse woorde word ten strengste ontmoedig en lei gewoonlik tot ‘n afgradering in die finale beoordeling. Waar woorde in Afrikaans nie bestaan nie of nie algemeen bekend is nie, moedig ons deelnemers aan om nuutskeppings vir dié doel in te span.
  3. Vermy, indien moontlik, om in die eerste persoon te skryf.  Dit word aanbeveel dat ‘n storie geproeflees word voor dit ingedien word.
  4. Plagiaat word ten strengste verbied – die werk moet oorspronklik deur die persoon wat die inskrywing doen, geskep wees. Werke wat voorheen by Afrifiksie ingedien was, mag nie weer ingedien word nie.
  5. Die kopiereg van die verhaal sal na afloop van indiening gedeel word deur Afrifiksie en die persoon wat dit ingedien het. Dit wil sê dat Afrifiksie dit mag beskikbaar maak op enige webwerf waaraan dit verbonde is, of dit publiseer – deur egter erkenning te gee aan die persoon wat dit geskep het.  Eweneens mag die persoon wat dit ingedien het dit steeds as ‘n eie werk gebruik en dit elders ook indien of publiseer – met erkenning dat die kopiereg wel ook deur Afrifiksie gedeel word.
  6. Daar is geen vereiste om die inhoud van die storie te belyn met die politieke of sosiale druk binne Suid-Afrika of die res van die wêreld nie – politiese korrektheid, al dan nie, is die uitsluitlike prerogatief van die skrywer en bevorder nie die uitkoms tydens beoordeling nie.
  7. Dit is nie aanvaarbaar om ander etniese vertakkings (behalwe indien hulle bloot fiktief is) op ‘n neerhalende wyse in die storie te gebruik nie.
  8. Afrifiksie is belyn met Christen geloof en aanvaar nie inskrywings wat dit aanval, bespot of benadeel nie.
  9. Dit is aanvaarbaar om ‘n storielyn verder uit te brei wat voorheen by Afrifiksie ingedien was, indien die persoon wat dit inskryf dieselfde persoon is, of indien die oorspronklike skrywer daartoe toestem.
  10. Die verhaal sal nie aanvaar word indien dit eintlik tot ‘n ander genre behoort en bloot teen die agtergrond van wetenskapfiksie, fantasie, ensovoorts afspeel nie. Byvoorbeeld, ‘n tipiese liefdesverhaal wat bloot in ‘n wetenskapfiksiewêreld uitspeel is nie aanvaarbaar nie.  Die storie moet inderdaad handel met die elemente van die gekose sub-genre van fantastika waarvoor dit ingeskryf word. Dit is aanvaarbaar om die sub-genres van fantastika te vermeng, byvoorbeeld om ‘n storie te skryf wat beide wetenskapfiksie en superhelde in dieselfde storie te kombineer.

Let wel dat reëls van tyd tot tyd bygewerk of gewysig word.

Afrifiksie wens elke deelnemer baie voorspoed toe.  Almal het nie die nodige talent om te kan skep nie.  Indien jy egter wel jou hand gaan waag aan die skepping in hierdie kompetisie, lê daar ‘n opwindende reis voor – geniet dit, dit mag nie ‘n straf wees nie.

Dankie aan elkeen dapper genoeg om die hand op papier te sit.  Ons kan nie wag om jou inskrywing te lees nie…