Frikkie Dippenaar – 2024 (2de plek – WF)

SKERPDRAAIE

geskryf deur

Frikkie Dippenaar

 

Somer, Twintig jaar gelede

Een Sondagoggend, net na die kerkdiens, het Renier met `n swaar gemoed uit die kerk na sy motor toe gestap. Sy gemoed was al baie swaar vandat hy die vorige nag Engela se woonstel verlaat het. Maar hy wou nog steeds met haar, die groot liefde van sy lewe, trou. Hy kon nie ophou dink aan die vorige aand se gebeure nie.

Op daardie stadium, die gewese liefde in sy lewe. Maar hy het lief gebly vir haar, met haar nukke en al. Hy het in sy motor geklim terwyl dit wat gebeur het in sy kop gemaal het, en hy het probeer om sin te maak van alles. Sal mans ooit kan verstaan wat in vrouens se koppe aangaan? Een oomblik is hulle nog gelukkig, dan bars daar skielik ‘n bom oor iets wat die man nié sien kom het nie.

Die Vrydag was die verhouding nog maanskyn en rose, teen die Sondag was alles tot niet. Laat die Vrydagaand het Renier haar, na ‘n verhouding van agtien maande, vir die eerste keer bed toe geneem. En daarna is hy nog, soos altyd nadat hy by haar was, met `n gelukkige hart terug huis toe. Hy het steeds gevoel dat die verhouding gedy; dat hulle twee gereed was om te trou. Veral toe.

Laat die Saterdagaand het die bom gebars. Vanaf die oomblik wat hy haar vroeër die aand opgelaai het vir fliek, het hy besef sy tree anders op. Hy kon dit nie lekker verstaan nie. Het hy dan nie reeds genoeg gewys hoe lief hy haar het nie? Hoekom was sy dan heeltyd so koud en kil teenoor hom?

Na die fliek terug in haar woonstel het sy gesê dat hulle moet praat. Toe het hy geweet, hier kom dit. Hy het gedink sy gaan sê hulle moet die liefdemaak laat staan tot na die troue. Maar nee, dit was toe nie dit nie! As dit maar dit was! Maar sy het toe hulle verhouding verbreek, sonder dat sy enige verduideliking wou gee.

“Hoekom?” het hy nog gevra. “Is dit omdat ons gisteraand in die bed gekafoefel het?”

“Nee Renier, ek is nie meer lief vir jou nie. Dit is nou al `n rukkie dat my gevoel begin afkoel het. En ja, gisteraand se saamslaap was `n fout. `n Grote. Maar ek voel dat ons hele verhouding `n fout is,” was al wat sy gesê het.

Gebroke het hy die woonstel verlaat. In die motor het hy eers bly sit om te oordink wat gebeur het. Dit het sy hart gebreek dat hul verhouding beëindig was, maar steeds het hy gevoel hulle saam hoort. Hy is nie `n man wat `n vrou bed toe sleep net vir die lekker daarvan nie. Hy is nie `n man wat `n geheime lysie het van vrouens wat verower is nie.

Renier het die motor aangeskakel, die kerk agtergelaat om by die huis te kom. Daar gekom, het hy eers koffie gemaak en toe daarmee in die sitkamer gaan sit. Hy het na sy TV gesit en staar terwyl hy die koffie opgeslurp het, sy gedagtes het bly dwaal oor die verbreekte verhouding. Later het hy met die beker yskoud in sy hand gestaan, die koffie klaar gedrink.

Toe het hy besluit om vir `n rukkie weg te gaan. Hy moes hierdie ding verwerk en besluit wat om verder te doen. Maar tuis kon hy nie ‘n goeie besluit geneem het nie. Hy het kamer toe gestap en `n tas gaan pak. `n Uur later het hy in sy motor geklim en die pad Durban toe gevat.  Die volgende oggend sou hy sy werk laat weet dat hy nie sou gaan werk nie. Presies waarvandaan dit sou wees, sou hy eers die volgende oggend weet. Daardie aand het hy iewers langs die pad geslaap ……

 

Somer, Die Hede

Engela du Plessis is `n enkelma. Elke dag ry sy na werk eers na haar dogter se skool om haar te gaan haal. Die enigste ander vervoer vir die kind om na skool by die huis te kom, is om met ‘n taxi te ry. Daar is geen ander openbare vervoer van die meisieskool na haar huis toe nie. Die skool is aan die westekant van die stad en Putstopstasie waar hulle in `n spoorweghuisie woon, is aan die oostekant van die stad. Daarom was openbare vervoer tussen die skool en die huis vandat haar kind begin skoolgaan het nie ‘n moontlikheid nie. En om te verhuis is nie vir Engela ‘n keuse nie. Die ou spoorweghuisie by die stasie was en is nog altyd gerieflik genoeg vir haar.

Engela stop voor die skool. Sy klim uit, staan langs haar motor met haar oë soekend oor die skoolgrond na haar dogter. Maar sy is nêrens te sien nie. Sy sien net `n klompie ander kinders wat rond staan of êrens heen loop op die grond. Sy klim terug in die motor en reik na haar foon om haar kind te bel.

Vandag het Engela nie soos gewoonlik eers na werk na die skool gery nie. Sy het oor haar middaguur voor die skool gestop. Veronica is vandag finaal klaar met skool, sy het tussen nege- en twaalfuur haar laaste vak in haar matriekeksamen geskryf. En sy wat Engela is, het sommer ses weke verlof geneem, sodat sy saam met haar dogter vakansie kan hê.

Omdat sy met verlof gaan het sy haar take by die werk vinnig afgehandel sodat sy ook twaalfuur klaar kan wees, en haar meisiekind nie die heel middag by die skool hoef rond te hang nie. Gelukkig het sy ook nog vandeesmaand haar dertiende tjek gekry. Die geld sal sy goed kan gebruik gedurende hulle vakansie. Bowendien hoef sy ook nie te spaar vir Veronica se studies nie. Sy het reeds `n beurs gekry vir haar tersiêre studies, wat alle studiemateriaal en klasgelde insluit.

Die foon in haar hand lui nog toe sy vir Veronica opmerk. Hulle soengroet toe Veronica in die motor klim.

“Hoe voel jy, het jy lekker geskryf?” is Engela se eerste vraag aan haar dogter.

“Dit het goed gegaan, dankie. Ek is bly die eksamen is nou verby.”

Engela glimlag net. Sy skakel die motor aan en vra: “Is jy lus om vir `n slag te gaan uiteet? Kom ek neem jou uit vir `n bederfde. Jy kan eet net wat jy wil. So, waar wil jy gaan eet?”

Die kind maak haar keuse, dus stop hulle tien minute later voor die Spur by Prellerplein.  Na ete ry hulle na die N8 om huis toe te gaan. Omdat hulle vroeër as gewoonlik huis toe gaan, is die verkeer heelwat stiller as met spitstyd na werk. Hulle is gouer by die aansluiting waar die pad van die N8 afdraai na hul huis by Putstopstasie.

Toe die skerp draai in die pad net duskant die stasie in sig kom, sien Engela dat daar iets fout is. Eers is daar is `n skerp flits kort voor die draai. Saam met die skerp flits in die pad sien sy die motor voor in die pad. Die motor pyl met `n spoed in die draai in. Sy sien die rooi liggies aankom, dan die stofwolk wat in die lug opslaan.

“Kyk daar” sê sy vir Veronica, “dit lyk of daarvoor pas `n ongeluk gebeur het.”

Veronica kyk op van die selfoon waarmee sy besig was. “Ja,” antwoord sy, “die stof hang nog in die lug. Dit lyk of dit pas kon gebeur het. Dit is die soveelste ongeluk op hierdie draai in die tyd wat ons by die stasie bly. Lyk my nie die mense besef hoe gevaarlik daardie draai kan wees nie.”

Hulle is die eerste mense op die ongelukstoneel. Met die uitklimslag besef Engela hoe oud die Datsun lyk. Hoewel die motor goed opgepas is, lyk dit of die motor uit die laat tagtigerjare dateer. Dit is duidelik dat die persoon te vinnig die draai binnegery het. Sy wonder of die voertuig se ouderdom dalk `n rol kon gespeel het in die oorsaak van die ongeluk. Dalk is die remme foutief? Wat was daardie flits wat sy gesien het voor sy die motor opgemerk het?

Engela buk by die venster van haar voertuig in en vra: “Gee my selfoon aan asseblief my kind.”

Terwyl sy nader stap na die voertuig om te help, skakel sy die ambulans en polisie om uit te kom na die toneel. Sy stap vinnig om die motor, sien nie `n gebarste band nie. Dus is dit nie die oorsaak nie. Sy vind net `n diep duik in die neus waar die motor `n boom langs die pad getref het. Sy steek haar hand uit na die deur aan bestuurskant om dit oop te maak, toe die deur van binne oopgedruk word. Sy staan dadelik verbaas terug. Die man wat uitklim, is duidelik nie by sy positiewe nie. Dit lyk of hy die voorruit getref het met sy voorkop. Dit is opgehewe van die stamp en bloed stroom oor sy gesig van die sny oor sy voorkop bokant sy wenkbroue. Verder sien sy geen ander moontlike beserings aan hom nie.

Die man is reeds met beide sy voete op die grond en probeer nog regop kom terwyl hy aan die motordeur vashou, maar sy bene vou onder hom in. Engela vang hom net betyds voor hy val en help hom om met sy rug teen sy motor te sit.

“Wees rustig meneer, die ambulans sal nou hier wees,” is al wat sy uitkry.

Minute later stop `n groot swart viertrek voertuig en `n insleepwa by hulle. Twee mans klim uit die viertrek en kom nader gestap. Hulle neem die beseerde man na hulle voertuig en ry weg. Die insleepvoertuig ry nader om die ou Datsun weg te sleep.

“Julle kan dit nie doen nie! Moet julle nie wag dat die polisie en die ambulans eers kom nie?” vra Engela vir die bestuurder van die insleepvoertuig. “Hulle is reeds op pad.”

Meer as `n uur later sit Engela en Veronica in hul sitkamer en koffie drink terwyl hulle oor die ongeluk bespiegel. Skaars vyf minute nadat die insleepwa met die ongeluksvoertuig weg is, het die polisie en ambulans opgedaag. Engela het al haar dae gehad om te verduideliking dat sy nie besig was om die polisie of nooddienste se tyd te mors nie. Gelukkig het Veronica die hele petalje met haar selfoon opgeneem. Al wat nié op die selfoonvideo was nie, is die ongeluk self. Die polisie kon dus met hul eie oë sien hoe beide die man en sy voertuig weggeneem word.

Engela wonder oor die flitslig wat sy net voor die ongeluk gesien het. Daar was eers `n ligflits, toe is die motor daar, en gebeur die ongeluk sekondes daarna. Hoekom het dit gelyk of die motor uit die niet verskyn het, en wat het eintlik die ongeluk veroorsaak?

Engela kry `n sterk gevoel dat sy die man ken? Daardie gesig, dit lyk soos iemand wat sy jare gelede geken het? En wie is daardie mense wat die man en sy Datsun weggeneem het? Waarom en waarheen is hy weggeneem? Waarom hulle voordoen as noodhulpdienste? Is iets onderduims dalk aan die gang? Die aand laat gaan slaap ma en dogter sonder dat hulle enigsins nader is aan `n verklaring vir wat die ligflits kon veroorsaak het of antwoorde vir al hulle vrae het.

Net na ontbyt die volgende oggend is Engela en Veronica in die kombuis besig om skottelgoed te was toe daar `n klop aan die voordeur is. Terwyl Engela haar hande afdroog, vra sy haar meisiekind om klaar af te droog terwyl sy gou gaan kyk wie klop.

`n Lang skraal bruinkop man staan buite toe sy die voordeur oopmaak. Hy toon sy identifikasiekaart en stel homself voor as Spesiale Agent Wessel Wentzel van die Wetenskapnavorsingsraad se Bloemfonteintak. “Ek wil graag julle twee dames `n paar vrae vra in verband met die ongeluk wat julle gister middag sien gebeur het. Mag ek maar binnekom mevrou?”

Engela laat hom binne en bied koffie aan, wat Wessel met dank aanvaar. Nadat die koffie gemaak is en hulle drie in die sitkamer teenoor mekaar sit, vra die agent dat hulle weer vir hom van die ongeluk vertel.

Wessel sit rustig na hulle en luister terwyl hulle elkeen hulle eie weergawe van die ongeluk aan hom vertel. “Is daar dalk nog iets wat julle per abuis kon vergeet het?” vra hy.

“Weet jy hoe ek gesukkel het om die polisie te oortuig toe hulle daar opdaag? Hulle het gedink ek is mal. Hulle was eers oortuig toe hulle die video sien,” sê Engela.

“Video?”  vra Wessel.

“Ja, op Veronica se selfoon. Dit was hoe ek die polisie kon oortuig het die ongeluk is nie net `n versinsel nie. Hulle wou my arresteer omdat ek kwansuis hulle tyd sou mors.”

Die agent vra om na die video te kyk. Veronica gaan haal die foon in haar kamer en oorhandig dit aan hom. Hy kyk daarna, laai dan die video op sy eie foon af. Wessel gee die foon terug en groet met die belofte om terug te keer met nog vrae.

Drie dae later sit hy weer oorkant die twee dames in hul sitkamer. “Wel dames,” sê die agent, “daar het verwikkelinge in die saak plaasgevind. Nadat ek drie dae gelede hier weg is, kon ons nog dieselfde aand daardie man betrokke in die ongeluk opspoor. Hy is nou veilig in `n kliniek in ons kantoorgebou vir waarneming. Maar wat ek nou by u wil seker maak, u ken mos die man met die naam Renier Oelofse?”

Die vraag laat `n lam gevoel deur Engela se knieë gaan. Vir `n paar sekondes staar sy die speurder met groot oë aan voor sy kan reageer. “Dit is `n man wat ek jare gelede geken het, en hy is deel van `n verlede wat ek wil vergeet en waaroor ek nie graag wil praat nie. Maar wat hy met hierdie ongeluk te doen?”

“Het jy dan glad nie die man herken nie mevrou? Dit was dan Renier Oelofse wat daardie motor bestuur het.”

“Werklik! Ek het wel besef die man lyk soos hy, maar dit is mos onmoontlik!” sê Engela verbaas. “Daardie man is dan `n jong man. Die Renier Oelofse wat ek geken het was `n jaar ouer as ek. Indien hy nog leef, moet hy nou in sy veertigerjare wees.”

“Ja, dit was `n jongman in daardie motor. Maar ek kan jou verseker hy is werklik die Renier Oelofse wat jy ken. Aanvaar dit maar as die waarheid. Ons Agentskap het `n draagbare tydreismasjien ontwikkel. Deur dit te gebruik kan mens in tyd terug of vorentoe beweeg. Ons het dit gebruik om Renier uit die verlede te gaan haal. Juis op die oomblik toe julle die flitslig gesien het, het hy in die hede gearriveer. En daar is wel `n verband tussen sy tydreis en die feit dat die ongeluk gebeur het.”

“Maar ons het nou `n probleem. Die tydmasjien is nog in sy toetsfase. En dit wil voorkom of die ding nog nie behoorlik werk nie. Die ongeluk is bewys daarvan. Ons het nie daarop gereken dat iemand buiten ons en Renier by hierdie tydreisproses van hom betrokke moet wees nie. Daardie groep wat Renier van die ongelukstoneel verwyder het, moes nie hierby betrokke gewees het nie. En Engela, julle twee ook nie. Julle moes nie daardie flits vooraf, of die ongeluk as gevolg daarvan, sien gebeur het nie.”

“Hierdie groep wat vir Renier geneem het, is van die buiteland en ons grootste teenstanders. Deur hulle is julle twee nou in gevaar om ontvoer te word. Dus sal ek graag wil hê dat julle elkeen `n tas met die nodigste pak, sodat ek vir julle en Renier saam ‘n veilig plek kan neem.”

Engela kan nie glo wat sy hoor nie. “Hoe weet u alles van ons? En ek weier om alles hier netso te los,” is die eerste woorde wat sy kan uiter. Na `n tweede asem praat sy verder “Hoekom moet ons alles hier netso los? Wat het julle tydmasjien, asook die feit dat dit Renier is wat in daardie motor was, met ons te doen? Ek wil niks met daardie man te doen hê nie. Jy sê julle is verantwoordelik vir sy tydreis. Maar ook sê jy dat iemand anders hom daar weggeneem het, en dat julle hom intussen gekry het?”

“Ja, die Wetenskapnavorsingsraad is vir sy tydreis verantwoordelik. Op `n manier het ons kompetisie geweet van die tydreis-operasie. Hoe hulle geweet het, weet ons nie. Maar dit was wel hulle wat hom van die toneel af ontvoer het voor ons daar kon kom. Maar ons mense het vir Renier en sy voertuig teruggevind en na ons kliniek geneem.

Daarom gaan julle lewe soos julle dit ken, van vandag af permanent verander. Julle moet nou so spoedig moontlik al jul nodigste besittings pak. Ek sal reël vir die verpakking van die res. Julle huur mos hierdie huis. Die huurkontrak sal onmiddellik gestaak moet word. Gelukkig het jy geen vaste bates wat verkoop hoef te word nie. Ons Agentskap sal reël vir nuwe lewens vir julle.”

Die agent deel Engela ook mee dat hulle op `n spesifieke punt in `n voertuig gewag het vanwaar hulle Renier uit die verlede wou oorbring na die hede. Slegs vir hom, sonder sy motor. Hulle voertuig is `n ambulans, met `n bed in soos `n normale ambulans. Op hiérdie bed moes Renier land met sy landing in die hede.

Ongelukkig het Renier én sy ou Datsun, as `n eenheid oorgekom. Omdat Renier op daardie oomblik nie geweet het wat met hom gebeur het nie, asook die feit dat hy op `n ander pad neergesit is as waarop hy was, het die ongeluk gebeur. Wentzel sidder ook om te dink wat die voertuig sou veroorsaak het indien dit op daardie pad in die verlede sou bly voortbeweeg het. Dink net aan die ongeluk wat dit daar destyds kon veroorsaak het. Die ontwerpers van die tydmasjien het duidelik nie aan sulke detail aandag gegee nie.

Hy vermoed ook dat hul teenstanders nader was aan daardie draai waar die ongeluk plaasgevind het, daarom was hulle voor die Raad se agente daar. Hulle mag dalk juis die oorsaak wees hoekom Renier en die voertuig juis daar verskyn het, en nié in die Navorsingsraad se omgeboude ambulans nie.

Die Agent sluit af met: “Die stamp wat Renier in die ongeluk teen sy kop gekry het, was nie te erg nie. Hy het ligte harsingskudding en die sny oor sy voorkop was nie te diep nie, dus kan hy binne `n dag of twee ontslaan word uit ons kliniek. Onthou, vir hom het daar geen tyd verloop sedert julle destyds uitmekaar is nie. Ja, jy kyk my verniet so verbaas aan. Ek weet daarvan, hy het ons die hele hartseer storie vertel. En hy het jou herken daar op die ongelukstoneel, en het wel teenoor ons erken dat hy jou graag weer wil sien. Dat hy `n lewe saam jou wil hê. Hopelik sal jy hom na soveel jaar kan vertel hoekom jy die verhouding verbreek het.”

Wentzel se selfoon lui. Hy haal dit uit en antwoord. Engela sien hoe hy verbleek en sy gesig verstrak. “Dit kan nie wees nie!” roep hy uit.

Hy spring op, verskoon homself met die belofte om hulle op `n later stadium te kom haal. Hulle moet sorg dat hul tasse klaar gepak is. Hy drafstap voordeur toe, pluk dit oop en gaan spring in sy motor. Veronica, wat gou badkamer toe was, stap die sitkamer weer binne juis toe die agent met skreeuende bande wegtrek. Sy kyk grootoog na haar ma wat in die voordeur staan en die motor agterna kyk. “En nou?” vra sy.

“Sy foon het gelui. Hy het bleek geword toe hy antwoord,” sê Engela. “Hy is met die foon teen die oor soos blits uit om in sy motor te gaan spring en het weggejaag na wie weet waarheen. Net gesê hy sal later terugkom om ons te kom haal. Lyk my daar is groot marakkas in die land van Kanaan. Kom ons gaan pak maar solank die nodigste.”

Die twee stap na hul onderskeie kamers om elkeen `n tas te pak. Engela dink oor hoekom sy eintlik destyds haar verhouding met Renier verbreek het. Sy het nooit aan hom verduidelik wat eintlik die rede daarvoor was nie; dat sy destyds iemand anders ontmoet het vir wie sy gevoelens ontwikkel het nie. Nadat hulle twee saam in die bed beland het, het sy eers werklik besef dat haar gevoel vir die ander man sterker is as haar gevoel vir Renier. Daarom het sy daardie aand besluit om die verhouding met die eerste geleentheid te verbreek.

Die geleentheid was toe die volgende aand, min wetende dat sy die vorige aand swanger geword het. Toe die ander man `n paar weke later van haar swangerskap uitvind, het hy haar summier verlaat. Sy liefde vir haar was nie sterk genoeg om `n ander man se kind groot te maak nie. Dus het die man haar net verlaat en verdwyn uit haar lewe. Sy het besluit om terug na Renier te gaan, dit is immers tog sy kind. So vind sy haar kind se pa het ook spoorloos verdwyn toe sy na hom soek.

Vandag weet sy hoekom hy destyds net verdwyn het. Sy besluit dit is dalk `n bedekte seën dat juis sy en haar kind op Renier se ‘ongeluk’ moes afkom. Dit is `n bestiering dat die drie van hulle saam weggeneem gaan word.

`n Paar uur later, nadat hulle gepak het, is daar weer `n klop aan die deur. Engela dink dit is Wentzel. Sy gaan maak oop, sien dit is nié die Agent nie. Toe sy besef wie dit is, raak sy skoon oorstelp. Sy nooi die man met `n breë glimlag binne.

……………………………….

Renier ry rustig op die N1 binne die spoedgrens. Hy is reeds naby Winburg. Hy sien al die brug doer in die verte waar hy gaan afdraai op die N5 om deur Bethlehem na Durban te ry. Hy skrik toe `n skerp flitslig in die pad reg voor sy motor verskyn. Daar is geen tyd vir enige reaksie nie, hy beweeg volspoed daarin. Die een oomblik is die N1 nog oop voor hom, asof oombliklik is hy op `n ander pad, met `n skerp draai reg voor hom. Soos die skerp draai in die pad na Engela se huis. Daar is geen tyd vir rem trap nie, binne die draai verloor hy beheer oor die motor en hy kan niks doen om die boom wat voor hom opdoem mis te ry nie.

Hy tref die boom met `n harde slag, voel hoe sy kop die voorruit breek, die lug van buite oor hom vloei. Hy val terug in sy sitplek. Sy kop voel erg duiselig van die harde hou. Sy hand reik na die deur om uit te klim. Hy het die drang om uit die motor te kom. Hy kan nie verstaan wat het met hom gebeur nie.

Buite die motor probeer hy regop staan, maar sy bene vou onder hom in. `n Vrou help hom om teen sy motor te sit, sê iets van `n ambulans wat op pad is. Die vrou se stem klink net soos dié van Engela. Hy probeer fokus op haar gesig. Dit lyk vir hom of dit sy is, maar `n ouer weergawe. Dalk speel sy kop parte met hom, sy kop voel seer van die harde stamp.

Hy voel half duiselig. Dit voel of hy in donkerte wil wegsak. Hy veg daarteen want dit mag nie. As hy nou bewusteloos raak, het hy dalk nie `n kans om met die vrou wat soos Engela klink, te praat nie.

Skielik is daar mans om hom. Hulle help hom op. Dan voel dit vir hom asof hy sweef. Voor hy heeltemal in die donker wegval, wonder hy of hy gedra word. Engela se ewebeeld het mos gesê van die ambulans op pad.

……………………………….

Renier word stadig wakker. Hy kan voel hoe die wasigheid oor sy brein stadig lig en hy al hoe meer van dinge om hom bewus word. Hy besef ook hy lê op sy regtersy in `n bed. Daar is stemme wat op wolke aangesweef kom, besef daar is mense by hom. Sy oë gaan op skrefies oop, hy sien `n vrou wat na hom kyk. Dit is asof die bietjie waas wat nog daar is heeltemal verdwyn. Sy oë gaan heeltemal oop, sien die vrou wat langs sy bed staan is in verpleegstersuniform.

“Waar is ek en wat het gebeur?” is die eerste woorde wat sy kop wil sê. Maar wat uitkom is: “Hoezit nurse, wie is jy en wat maak ek in jou bed?”

Die verpleegster sê met `n glimlag na iemand agter hom: “Aah, die man is wakker dokter. Jy het dan self in my bed geklim, meneer Oelofse. Onthou u nie?”

“Verpleegster van der Wath!” sê `n gebiedende stem aan Renier se rugkant van die bed.

Renier wil sy kop draai om te kyk, maar hy sukkel om te sien. Die verpleegster help hom om op sy rug te lê. Toe hy gemaklik op die bed lê, stel die man in die wit jas homself voor as Dr. Jason Fourie en die verpleegster as Verpleegster van der Wath. Hy sien dit is `n wit geverfde kamer met vier beddens, twee beddens teenoor mekaar, waarin hy lê. Die ingang is in die muur links van die beddens, en met `n venster in die regtermuur, die kant waar die verpleegster staan. By haar is `n trollie met al die fieterjasies wat `n verpleegster gewoonlik op `n hospitaaltrollie nodig het.

“U was gister in `n ongeluk meneer. Ek is nou besig met oggendbesoek hier in die kliniek. Hoe voel u vandag, meneer Oelofse?” vra die dokter. Nadat hy `n deeglike ondersoek op Renier gedoen het, kyk die dokter na die verpleegster en beveel haar om die wond op Renier se voorkop toe te maak en te sorg dat hy gemaklik is en ontbyt kry.

Net voor die dokter die saal uitstap, groet hy Renier. “Tot vanaand meneer Oelofse,” en aan die verpleegster: “Vertel hom hoe hy regtig in hierdie bed beland het verpleegster van der Wath.”

“Nee meneer,” begin sy, “jy is nie in my bed nie, maar in `n kliniek. Gister was jy in `n ongeluk betrokke. Gisternag is u na hierdie kliniek gebring.  Met u aankoms hier het dokter Fourie u versorg. Jy het jou voorkop gesny en ligte harsingskudding in die ongeluk opgedoen.  Het jy nie geweet `n motor se voorruit is van glas en dit kan jou sny wanneer jy dit met jou voorkop breek nie?”

“Maar hoe?”

“Wag nou meneer, wees rustig,” sê die verpleegster. “Laat ek nou eers weer die wond op jou voorkop toeplak. Die dokter is darem tevrede hoe die sny vanoggend lyk. `n Man sal later vandag na jou kom om alles wat met jou gebeur het te verduidelik.”

Later na middagete stap agent Wessel Wentzel die kamer binne met die dag se koerant en `n tydskrif. Renier kyk na die man wat by sy bed kom staan. Eers stel die agent homself voor, sit dan die tydskrif en koerant op die bed voor Renier neer en vra hom om op te let na die datums daarop.

Wentzel spandeer meer as twee ure by Renier voor hy weer die kamer verlaat. Met groot moeite moet die agent aan die arme man verduidelik dat hy amper twintig jaar in tyd aan beweeg het en dat die tydreis byna sy lewe in die ongeluk gekos het. Hy verduidelik aan hom dat die era van tydreise aangebreek het en dit eintlik nog in ‘n toetsfase is. Renier is die eerste persoon wat lewendig `n tydreis voltooi het. Dus het hy geskiedenis gemaak, die naam Renier Oelofse gaan in die geskiedenisboeke verewig word. Dit is soos destyds met die eerste hartoorplanting van Chris Barnard.

Die res van die dag tot laataand lê Renier en tob oor wat met hom gebeur het. Hy is hoogs ontevrede om proefkonyn te speel. Juis omdat geen rede aan hom verskaf is hoekom juis hy as proefkonyn gekies is nie. Vergeet van geskiedenis. Hy voel sy situasie kan nié met Chris Barnard sin vergelyk word nie. Daar is geen ooreenkoms nie. In elk geval onthou almal met daardie eerste hartoorplanting net die hartchirurg se naam, maar niemand onthou meer wie was die pasiënt nie! Toe hy later aan die slaap raak, het hy sy besluit geneem.

……………………………….

Renier is dankbaar vir die hulp wat die verpleegster hom gegee het. Dit is nie elke dag dat iemand `n wildvreemdeling help nie. Dit het hom wel `n ruk geneem om die plan te beraam en dit uit te voer. Maar dit maak nie saak nie, hy is nou uiteindelik by die kliniek weg.  Hy stop voor Engela se huis. Hy klim uit, haal die tydmasjiene en toerusting uit die kattebak en kry dit reg vir later se gebruik. Dan stap hy na die huis toe.

Renier klop aan die voordeur. Engela maak die deur oop, nooi dadelik vir Renier binne toe sy sien dit is hy voor die deur.

……………………………….

Met sy aankoms in die kantoorgebou hoor die agent dat Renier Oelofse werklik verdwyn het uit die kliniek soos hulle hom telefonies laat weet het. Hy stap na kliniek toe om homself te vergewis van die omstandighede van Renier se verdwyning. In die kliniek stap hy reguit na die kamer waar Renier gelê het. Die verpleegster is nog besig om die bed skoon oor te trek.

“Wat het hier gebeur Geraldine?”

“Die personeel van die vorige skof was die laastes wat hom gesien het, meneer. Met die laaste besoek van nagskofpersoneel was hy nog hier. Met my eerste besoek `n uur nadat ek begin werk het, was hy weg. Hy moes vroeg-oggend verdwyn het terwyl die personeel skofte geruil het, of baie kort daarna, meneer,” antwoord sy.

“Wanneer het julle dit uitgevind?”

“Vanoggend met my eerste besoek by die pasiënt het ek gesien die bed is leeg. Ek het gedink hy is in die badkamer. Die matrone het my geroep, en omtrent `n halfuur later het ek weer teruggekom na die pasiënt se kamer. Die bed was nog steeds leeg. Toe ek hom soek, was hy nêrens te vinde nie. Hy was nie eers in die badkamer nie. Selfs sy klere het ook verdwyn.”

“Niks kan net verdwyn nie!” skel die agent. “Waar is Dr Fourie? Het hy ooit vandag sy rondtes gedoen? Het hier nie dalk van die ander ook verdwyn nie?”

“Die dokter is wel iewers besig, meneer.”

……………………………….

Na hulle seker tien minute aan groet en drukkies gespandeer het, vra Engela dat Renier net `n oomblik in die sitkamer te wag. Sy verdwyn na agter om vir Veronica te soek. Sy vra die kind om `n wyle in haar kamer te gaan wag tot sy geroep word. Al wat sy Veronica antwoord toe `n rede gevra word, is dat sy `n verassing vir haar het.

Sy keer terug na die sitkamer waar Renier wat nog geduldig vir haar sit en wag. Hy luister in doodse stilte na haar terwyl sy hom vertel wat alles die afgelope agtien jaar gebeur het en dat sy spyt is dat hulle destyds uitmekaar is. Hy voel hoe sy hart swel van trots terwyl sy hom vertel van hulle dogter. Nadat hulle mekaar alles vertel het, is Engela kamer toe om hulle kind te gaan haal. Sy berei Veronica vinnig en kortliks voor vir die ontmoeting. Daarna bring sy pa en dogter bymekaar vir hulle eerste ontmoeting.

Daarna het Renier die tydmasjiene en toerusting uit sy motor gaan haal en in die huis ingebring. Dit word gestel vir hulle reis terug in tyd; na die aand van hulle laaste fliek. Hulle wil teruggaan na presies die oomblik voor Renier en Engela die woonstel sou verlaat vir die fliekvertoning. Verskeie verstellings moes aan die masjien gemaak word. Engela moes vir die tydperk jonger word, maar Renier hoef nie jonger te word nie. En natuurlik moes Veronica ook terugkeer na haar tyd in die baarmoeder, sodat pa en ma haar saam kan grootmaak. Die tweede masjien word ook gestel en eenkant neergesit.

En al drie besef die risiko verbonde aan die proses terdeë. Toe al die verstellings gemaak is en die drie gereed is, word die knoppie op een masjien gedruk.

……………………………….

Agent Wessel Wentzel vind geen spoor van Renier in die kliniek nie. Hy is werklik weg. Dadelik keer hy terug na die kantore van die Wetenskap Navorsingsraad. Daar gekom, kry hy die boodskap dat selfs die tydmasjien deur die loop van die oggend verdwyn het. Met verdere ondersoek vind hy boonop uit dat selfs die tweede tydreismasjien wat hulle gehad het, ook spoorloos verdwyn het. Hy gaan sit agter sy lessenaar en oordink die hele situasie. Wessel plaas homself in Renier se skoene, probeer indink wat hy sou doen indien hulle rolle omgeruil was. Later besef hy Renier moes die masjiene saamgeneem het.

Hy draf na die sentrale sekuriteitskamer vanwaar al die beelde op die sekuriteitskameras opgeneem word. Daar word sy vermoede bevestig dat Renier met die masjiene weg is, met een van die agentskap se voertuie. Hy het `n sterk vermoede waarheen hy daarmee is.

Hy roep drie van sy kollegas vir rugsteun en saam draf hulle na sy motor om na Engela se huis te ry. Terwyl hulle in die motor voortspoed knyp hy al tien sy duime vas in die hoop om betyds te wees. Daar aangekom, sien hy Engela se motor, asook die een wat Renier by hul kantoor vasgelê het, op haar erf staan. Hulle vier spring uit die motor en draf voordeur toe. Op pad na die deur sien Wessel nog die drie figure, baie verlig om die drie van hulle daar te sien.

Hy merk Renier kyk na hom deur die venster, dan af.  Daar is `n flitslig deur die venster, nog voor hulle by die deur kon kom om dit oop te maak. En hy weet hulle is te laat. Tog maak hy die voordeur oop en stap die sitkamer binne.

Binne vind hulle die tydmasjiene en toerusting lê. Dit lyk of dit stukkend is. Wessel tel die een masjien op om te sien op watter datum dit gestel is. Niks nie, geen datum op nie. Hy tel die ander een op om te sien of daarop `n datum te lees is. Skaars het hy die datum gelees, is daar `n flits in die vertrek. Hy het per abuis die knoppie op die tydmeganisme gedruk.

Met die flits wat op die druk van die knoppie volg, word Wessel Wentzel en sy kollegas meer as `n duisend jaar terug die verlede in verplaas. Wessel weet die kans is goed dat van sy ander kollegas ook na die huis van Engela sal gaan, en ook per abuis daardie knoppie sal druk soos hy….

Einde