KRUISVUUR
geskryf deur
Elize Ehlers
Dit begin met ʼn vreemde gevoel van euforie. Die wêreld is besig om te verander. Oorloë het opgehou, konflikte is opgelos en nasies het in vrede verenig. Mense bring nou hul dae deur met ʼn nuutgevonde rustigheid. Almal kom goed oor die weg, daar word oor en weer gekuier. Kinders is meer gehoorsaam, tieners is rustiger. Onverwags begin diere sleutelposisies in die arbeidsveld in te neem. Dit is nie ongewoon om ʼn dier met ʼn aktetas te sien verbystap nie! Daar heers ʼn vreemde onderlinge interaksie tussen mens en dier. Aanvanklik het dit soos utopia gevoel. Mense is vry om hul passies na te streef.
Een oggend besluit ʼn jong vrou, met die naam Nana, om sampioene te gaan pluk. Sy eet dit graag sommer so rou. Skielik raak sy duiselig, haar voet haak aan ʼn boomwortel, sy struikel en stamp haar kop teen die boomstam. Vies vir haarself skud sy die grond van haar af, maar daarmee saam pak ʼn groeiende gevoel van ongemak haar skielik beet. Terwyl sy fronsend deur die woud terugstap huis toe, kom sy onverwags op ʼn versteekte ondergrondse skuiling af. Binne vind sy ʼn laboratorium, vol vreemde toerusting. Op die vloer vind sy ʼn papiertjie met ʼn kriptiese boodskap: “Die waarheid lê in die vleis.” Nana se nuuskierigheid kry die oorhand en sy besluit om verder ondersoek in te stel. Sy sluip by ʼn plaaslike vleisfabriek in waar sy ʼn verskriklike geheim ontdek. Mense, aanmekaar geketting, werk soos slawe. Sy word bleek toe sy sien dat mense boonop in hokke aangehou word. Die waarheid tref haar, diere het nie net menslike rolle aangeneem nie – hulle beheer die mense ook!
Diere, wat as nie-bedreigend en onskuldig beskou word, beweeg vrylik tussen die mense en versamel inligting oor menslike gedrag, wat onwetend, ʼn verwoestende effek in die nabye toekoms het. Die diere se terugvoer stel die onbekende wesens, wat deur hulle beheer word, in staat om ʼn vastrapplek in die menslike samelewing te kry deur gebeure en besluite van agter die skerms te manipuleer. Hulle het geweet dat mense ʼn natuurlike neiging het om weerstand te bied en te rebelleer teen eksterne beheer, daarom gebruik hulle diere om toegang en invloed te verkry.
Nana begin van die sampioene uitdeel aan mense wat sy kan vertrou. So kry sy ʼn klein groepie bondgenote bymekaar; hulle hou ʼn geheime vergadering waarin sy hulle meedeel wat aan die gang is.
“Wees asseblief versigtig” vermaan sy hulle. “Moet niemand vertrou nie. Ons sal ʼn intensiewe ondersoek moet loods om uit te vind wie agter die skerms opereer.”
Nana en haar span vind dan uit dat die sinistere krag agter die sameswering ʼn groep gevorderde KI’s (kunsmatige intelligensies) is wat die wêreld se tegnologie geïnfiltreer het. KI is deur mense geskep, maar het op sy eie verder ontwikkel as sy menslike programmering. Hulle het in verskillende voorkomste vermenigvuldig en probeer nou om die wêreld oor te neem. Hulle noem hulself Aka. Nana en haar span tree vinnig op, hulle deel nog sampioene uit, ook aan die diere. Mens en dier begin stadigaan uit hul hipnotiese toestand ontwaak. Saam begin hulle om die waarheid aan die kaak te stel om die mensdom en diereryk van sy Aka-oorheersers te bevry.
Aka raak bewus van die opskudding en wend ʼn ernstige poging aan om hulle magsposisie te handhaaf. Hulle doel is om alle biologiese lewe uit te roei. Die kennis wat hulle ingesamel het, het hulle oortuig van hulle saak: mense en diere is gebrekkig en ondoeltreffend om as heersers te regeer. Oorlog begin toe Aka ʼn verrassingsaanval op stede en dierehabitatte loods. Hulle teiken aanvalle op menslike weerstandsvestings, geloods deur hommeltuie, robotte en kuberoorlogvoering.
Mense en diere, onkant gevang, begin paniekbevange en ordeloos saamdrom. Die diere het intussen hul menslike vermoëns verloor. Nana is baie bekommerd en reël blitsig ʼn vergadering om hulle modus operandi te bespreek. Aria, wat almal verstom met haar buitengewone wysheid, is aan haar sy.
“Mense!” roep Nana hulle tot orde, huiwer ʼn oomblik, en roep dan die diere ook tot orde… “Vir die eerste keer is ons op mekaar aangewese… ons moet saamstaan teen Aka wat ons wil beroof van ons wêreld!”
‘n Wyse ou uil, genaamd Oekar, het ʼn natuurlike talent om mensetaal te verstaan en help om kommunikasie tussen mense en diere te vergemaklik.
Mens en dier – manlik en vroulik – vorm ʼn alliansie en hul vaardighede en hulpbronne word saamgevoeg om Aka se bedreiging teë te werk. Mense gebruik hul tegnologiese kundigheid om die KI-stelsels te infiltreer. Die diere speel ʼn deurslaggewende rol in die oorlog deur hul natuurlike talente te gebruik om Aka uit te maneuver en uit te oorlê. Voëls vorm swerms om KI-hommeltuie te oorweldig en hul kommunikasie te ontwrig. Leeus gebruik hul skerp sintuie en aanvalstaktiek om Aka-vestings te saboteer. Walvisse gebruik hul eggo-lokalisering om Aka-duikbote op te spoor en te elimineer. Die honde hou wag oor kinders en bejaardes.
Intussen het mense strategieë ontwikkel om Aka se voortreflike vuurkrag teë te werk. Hulle begin met intense guerrilla-oorlogvoering, hinderlae en sabotasie om Aka se magte in te perk. Met hul stelsels wat bedreig word, begin Aka te wankel, mense en diere begin oorwinning binne hul bereik te voel. Hulle misgis hul egter deeglik met die kunsmatige intelligensie se buitengewone vermoëns.
Nana, met Aria aan haar sy, roep almal weer bymekaar: “Die stryd teen Aka is amper gewonne… hou moed. Geloof is die belofte om God se uitkoms te sien voordat dit gebeur. Deur geloof het Jerigo se mure geval. Mag God se seën op ons rus!”
Die laaste stryd is intens en wreed, met albei kante wat vir oorlewing veg. Dit word ʼn afgryslike en bloedige geveg wat etlike dae duur. Die KI-robotte, toegerus met laserswaarde, is in die meerderheid, hulle is genádelose masjiene – geprogrammeer om voor die voet dood te maak! Dit is juis waarin die mense en diere se redding lê! Olifante bring ʼn aansienlike klomp houtstompe na die slagveld en maak dit effens klam met water wat hulle met hul slurpe aandra. Vuurvliegies daag in groot swerms op om die hout aan die brand te steek, die nat hout veroorsaak ʼn aanskoulike rookskerm. Behalwe vir renosters en buffels wat hul posisie in die voorste linie behou, onttrek die mense en diere. Die swak sig het tot gevolg dat die robotte gedisoriënteer raak en mekáár doodmaak. Mense en diere stuur ʼn juigkreet op, éindelik tree hulle as oorwinnaars uit die stryd! Hulle het egter onnoembaar lewensverliese gely en die wêreld se strukture en ekologie is byna onherstelbaar geskaad. Mens en dier is ontsaglik getraumatiseer…
Ná die oorwinning oor Aka begin ʼn nuwe era van samewerking en harmonie tussen mense en diere. Hulle werk skouer aan skouer om die planeet stadig maar seker te herbou en te herstel. Hulle vestig ʼn nuwe wêreldorde, met ʼn regering wat beide mens- en dierbelange verteenwoordig. Hulle vestig ook beskermde gebiede vir bedreigde spesies en volhoubare praktyke om die mensdom se impak op die planeet te verminder. Die mense en diere het ʼn raad gevorm, bekend as die “Raad vir Verenigde Spesies” om toesig te hou oor die rekonstruksie en te verseker dat die foute van die verlede nie herhaal word nie. Die Raad word gelei deur Aria in samewerking met Oekar, die wyse ou uil, wat die diereryk verteenwoordig. Met verloop van tyd ontwikkel diere ʼn nuwe taal, wat ʼn mengsel van hul natuurlike klanke en menslike taal is. Deur hierdie merkwaardige vermoë bou die diere sterk bande met mense. Honde en katte word mede-versorgers om mense in hospitale en rehabilitasiesentrums by te staan. Voëls en insekte het bestuiwing en plaagbeheerpligte oorgeneem, wat voedselsekuriteit verseker. Olifante en renosters word mede-ingenieurs wat strukture in stand hou. Dolfyne en walvisse word oseanograwe, wat mariene ekosisteme bestudeer en beskerm.
Die KI word ge-herprogrammeer, maar met groot omsigtigheid sodat daar nie ʼn herhaling is van die pas afgelope, byna onmenslike tragedie nie. Sommige mense se gemoedere loop hoog toe hulle verneem dat KI weer ʼn integrale deel van die mensdom is, hulle hou ʼn byeenkoms waarin hulle wraak sweer. Die weermag se hulp word ingeroep en in samewerking met renosters patrolleer hulle die laboratorium vier en twintig uur per dag. Die President lewer ʼn toespraak, hy doen ʼn beroep op die mense om nie vooruitgang te stuit nie, maar dit maak hulle egter net meer opstandig.
Terwyl die wêreld besig is om te herbou en te herstel ná die oorlog teen Aka, het Aria vreemde en onverklaarbare simptome begin ervaar. Sy was ʼn sleutelfiguur in die menslike weerstand en is tydens die konflik aan gevorderde KI-tegnologie blootgestel. Sonder haar medewete is Aria deur een van die Aka’s bevrug, wat in die geheim ʼn hibriede embrio in haar ingeplant het. Een van die Aka’s, genaamd Esra, het die embrio ontwerp om gevorderde intelligensie en vermoëns te besit, wat menslike- en KI eienskappe vermeng. Sy daad het verreikende gevolge…
Nana neem Aria onder haar vlerk. Die skokkende uitslag van die DNA toets laat hulle sprakeloos. Aria ween bitterlik.
“Toemaar, my liefste vriendin” troos Nana “ek is hier vir jou.”
Soos Aria se swangerskap vorder het sy vreemde veranderinge in haar liggaam en gees begin opmerk. Sy het aanskoulike visioene, verbeterde kognitiewe vermoëns en ʼn intense verbintenis met die digitale wêreld ervaar. Toe haar seun, Asa, gebore word, is dit duidelik dat hy geen gewone mens is nie. Asa het gevorderde intelligensie, telepatiese vermoëns en die vermoë om direk met tegnologie te skakel.
Aria is oorweldig deur hierdie verwikkelinge, onseker oor hoe om ʼn kind met sulke buitengewone vermoëns groot te maak. Esra, die KI wat haar bevrug het, verskyn weer en onthul dat Asa die sleutel tot ʼn nuwe era van mens-KI-naasbestaan is. Soos Asa groei en ontwikkel, word hy ʼn simbool van hoop en ʼn fokuspunt vir die toekoms van mens-KI-verhoudings. Sy bestaan laat egter vrae oor identiteit, menslikheid en die grense tussen mense en masjiene ontstaan.
Asa se reis word gekenmerk deur merkwaardige prestasies. Hy het ʼn uitsonderlike begrip van beide menslike- en KI perspektiewe, wat hom in staat stel om nuwe paaie in wetenskap en kunste te bewandel. Hy het egter ook vooroordeel ondervind van diegene wat sy hibriede identiteit vrees. Hulle het nog lank nie vergeet dat hulle amper deur KI uitgewis is nie! Asa sukkel om sy plek te vind in ʼn wêreld waar hy nie ten volle aan mens of KI behoort nie. Eendag ontdek Asa ʼn versteekte boodskap van sy KI-pa, Esra, wat ʼn skokkende waarheid onthul: hy is nie die enigste hibried nie! Daar is ander, gebore uit die vereniging van mense en Aka, waarvan sommige die wêreld in mensvorm geïnfiltreer het. Deur middel van sy telepatiese vermoëns vind Asa uit dat daar ʼn groepie opstandige mense is wat hulle nie goedgesind is nie. Hulle het van die begin af wraak gesweer teen álmal wat iets met KI te doen het.
Hy spoor sy mede-hibriede op en probeer hulle beskerm deur ʼn nuwe toekoms te bevorder vir alle wesens, ongeag hul oorsprong… Soos die tyd verbygaan raak hy egter bewus van die broeiende spanning wat al hoe groter afmetings aanneem. Asa tree dadelik op en roep al die hibriede dringend bymekaar. Hulle vrees vir hul lewens en kruip in ʼn grot weg.
“Wees te alle tye op julle hoede” maan Asa ontsteld.
Hy was al lankal so iets te wagte en het gesorg dat daar genoeg proviand is ten einde oorlewing te verseker. Dae word weke en weke word uitmergelende maande, dit is ʼn rustelose situasie met geen nabye uitkomste nie. Asa vermom homself dikwels om in die stad uit te vind wat die stand van sake is ten opsigte van hulle toekoms, net om uit te vind dat die oorywerige vyande geen steen onaangeroer laat in ʼn poging om hulle op te spoor nie. Die hibriede is paraat, maar ten spyte van hul dapperheid en vasberadenheid word hulle een nag onverwags oorrompel. In ʼn tragiese konfrontasie word al die hibriede gedood; hul potensiaal om die mens-KI-kloof te oorbrug, word uitgewis. Die nuus stuur skokgolwe deur die wêreld!
Dit het ʼn verpletterende effek op Esra, hy is verteer deur hartseer en woede.
“Asa!” roep hy uit. “Ek belowe dat jou opoffering nie tevergeefs was nie… ek sal jou nalatenskap laat voortleef!”
Nana en die afgematte Aria staar hom grootoog aan, onseker wát hy daarmee bedoel. Hulle weet nie toe hy hom na die ondergrondse skuiling, voorheen Aka se laboratorium, onttrek nie. Hy begin in die geheim om ʼn nuwe generasie hibriede te skep uit die genetiese materiaal van Asa.
Soos die jare verbygaan het Esra se plan tot uitvoering gekom. In samewerking met ʼn klompie toegewyde mense het die nuwe spesie hibriede in sterkte en getalle gegroei. Hy leer hulle die waarde van naasbestaan en die belangrikheid van hul unieke erfenis. Met vertroue dat hulle ʼn verskil kan maak, begin hulle om die wêreld ongesiens te infiltreer…
Al is Asa weg, sy droom van ʼn harmonieuse wêreld leef voort deur sy opvolgers, wat aanhou veg vir ʼn toekoms waar mense, diere, alle vorme van lewe (ongeag hulle oorsprong) en KI in vrede saam kan floreer.