Ellen Fritz – 2024 (3de plek – WF)

VEILIG

geskryf deur

Ellen Fritz

 

Salomie is vir ‘n oomblik uit die veld geslaan as sy haar motorvenster oopdraai om die knoppie by die hek te druk. So duidelik soos iets wat net hier om die draai gebeur, hoor sy iemand bevele uitroep en marsjerende voete. Definitief ‘n hele klomp mense wat marsjeer. Is hierdie plaas dan langs ‘n militêre kamp?

Toe sy besluit het om die kothuis hier te huur, het sy verstaan dat dit ‘n plaas met mooi natuurskoon is. Dit sal ‘n probleem wees as daar iets soos ‘n weermagbasis naby is. Onmiddellik dink sy aan die gevaar van misdaad.

Die knoppie is net buite haar bereik sodat sy uit die motor moet klim om dit by te kom. Deur die hektralies sien sy beweging. Vir ‘n sekonde verstar sy. Nee, dit kan nie wees nie; haar verbeelding hardloop weg met haar. Dit sal haar leer om gruwel rolprente oor die Tweede Wêreldoorlog te kyk wanneer sy moet slaap. Sy is egter seker dat sy so pas soldate in die uniform van die Duitse SS gesien het.

Dit laat haar talm en deeglik rondkyk. Die omheinings van die eiendom lyk nie soos in die foto’s en video’s wat sy aanlyn gesien het nie. Daar is stringe doringdraad bokant die elektriese heining net soos by die kampe in die rolprent. Sy ril en sien dat die son amper onder is. Daar is skielik ‘n wasigheid oor die hele omgewing. Kom dit van reën? Wanneer die wasigheid net so vinnig soos dit verskyn het weer verdwyn, let sy op dat daar nou net groen veld is waar sy die marsjerende SS-offisiere gesien het. Selfs die doringdraad bokant die heining is weg.

Hallusineer ek of is ek besig om mal te word? wonder sy. Dis Vrydagaand, sy het die hele week gewerk en in die aande tot laat gepak vir haar trek hierheen. Onthou die rolprente tot in die oggendure het ook nie gehelp nie, herinner haar moeë brein haar.

Twee motors het intussen agter haar gestop en iemand druk ‘n afstandbeheerknoppie wat die hek laat oopgaan. Salomie knik dankbaar in die rigting van die twee motors en spring gou terug in haar motor om deur te ry.

‘n Man kom haar tegemoet sodra sy deur die hek is. Sy trek af sodat die ander motors verby kan ry. Sy onthou die silwergestreepte blonde hare van Meneer Franz Schneider uit die aanlyn onderhoud. In hierdie era van elektronika wat onderhoude aanlyn soveel geriefliker maak, het sy die eienaar van hierdie eiendom sommer so oor die rekenaarskerm ontmoet en gereël vir ‘n woonplekkie op sy plaas. Hy kon haar video’s wat elke besonderheid van die kothuis wat sy wou huur, wys.

“Jy moet mejuffrou Glasenberg wees,” groet hy. “Welkom by ons. Hier is jou sleutels en ‘n afstandbeheer vir die hek. Jy onthou die nommer? Nege, net op met hierdie pad en daar bo by die bome links in die eerste afdraaipad.”

“Goeienaand,” groet sy. “My meubels kom netnou hier aan. Ek hoop dit arriveer voor dit te donker is.”

“Reg, reg,” antwoord hy en oorhandig die sleutels aan haar. Salomie kan sien die man lyk moeg, asof hy ‘n baie besige en veeleisende dag agter die rug het. Hy begin reeds omdraai om weg te stap, sy skouers effens geboë.

“Baie dankie,” sê sy vir sy rug. Dan ry sy verder met die oprit wat tussen groen velde kronkel. Verder weg sien sy ‘n groot opstal, seker die Schneiders se huis.

By die klompie bloekombome draai sy links en moet dadelik rem trap. Voor haar in die pad draf ‘n hele klompie hoenders. Hulle skrik nie eers vir haar motor nie, maar loop pik-pik kant toe. Wel, sy wou in ‘n landelike omgewing kom woon. Hier het sy dit, hoenders en al.

Die kothuis met die nommer nege op lyk nog aantrekliker as op die video’s wat Schneider vir haar gewys het. Die netjiese siersteen gebou laat dit modern lyk. Die vensters het egter hout rame wat dit weer ‘n effense ouer gevoel gee. Ongelukkig doen die diefwering afbreuk aan die skoonheid, soos diefwering maar gewoonlik doen. Selfs die deur het ‘n outydse klopper in die vorm van ‘n hond se kop.

Die ander huise wat sy kan sien is soortgelyk aan hare. Hulle is egter nie presies eenders nie en sy is dankbaar. Eendersheid gee onmiddellik ‘n gevoel van ‘n industriële kompleks. Die wooneenhede is ook ver genoeg uitmekaar uit om vir elkeen sy persoonlike spasie te gee. Sy let op dat elke kothuis omhein is en dat sommige aantreklike tuine het.

Voor dit heeltemal donker is, het drie vriendelike honde en ‘n groepie eende reeds kom groet. Terwyl Salomie die toebroodjies wat sy vanoggend gemaak het op haar stoepie geniet, waardeer sy die rustigheid van die natuur. Voëls sing hulle laaste aandlied en paddatjies en kriekies maak musiek naby die stroompie wat so vyftig meter van die huisies af verby vloei.

Die stilte is balsem vir haar gemoed. Al het sy in ‘n sogenaamde stil buurt in die stad gewoon, was die lawaai van nabye paaie en snelweë altyd ‘n onderliggende teenwoordigheid. Sy wil die woorde, idillies en utopies, vir hierdie nuwe tuiste gebruik, maar sy is tog ‘n bietjie te afgemat en teleurgesteld in die lewe om dit te luid te dink. Sy is bang dat hierdie lieflike woonplek ook in een of ander teleurstelling sal ontaard. Die vae herinnering van die weermag-oefeninge hinder haar ook in haar onderbewussyn.

Teen die volgende oggend is haar meubels uiteindelik  reggeskuif. Sy het die grootste gedeelte  van die nag gespandeer om elke ou bekende stoel en kassie sorgvuldig te sit soos sy haar dit die afgelope maand voorgestel het. Dis naweek en sy begin eers weer die volgende Maandag werk. Sy het dus ‘n hele week om haarself in te rig.

“Klop-klop,” hoor sy ‘n manstem van die voordeur se kant af roep. Vir ‘n oomblik word sy yskoud. Die plaas met sy rustigheid het haar laat vergeet om die sekuriteitshek toe te sluit. Wat as dit ‘n kwaaddoener is? Haar logika sê vir haar dat ‘n kwaaddoener nie sou klop en roep nie.

“Ek kom,” roep sy en druk gou haar skouerlengte hare reg. “Middag, kan ek help?” groet sy die jongerige man wat in die deur staan.

“Middag, ek is Robbie. Ek is jou buurman,” groet hy. Sy stel haarself voor en wik en weeg of sy hom kan binne nooi. Haar kombuis is nog in ‘n chaotiese  toestand en al wat sy hom kan aanbied is water of warm koeldrank.

“Ek kan jou nie veel te drink aanbied nie,” begin sy, “maar kom gerus in.”

“Het oom Franz jou al op ons WhatsApp groepie gesit?” vra hy later. “Dis maar net waar hy vir ons goed laat weet, soos hoekom die krag af is, as dit afgaan. Dit gebeur nogal gereeld.” Salomie kyk en sien dat sy reeds deel van die groep is.

“Ja dankie,” sê sy. Dan, meer geïnteresseerd: “Wie is my ander bure?”

“O dit sal suster Elsa wees. Sy is een of ander familie van oom Franz of van sy vrou. Hulle is Duits. Sy was ‘n non—”

“Is ‘n non, jong man,” roep ‘n vrouestem van die voordeur af. “Ek het jou al gesê, eenmaal ‘n non, altyd ‘n non.”

“Ag skuus tannie, ek bedoel suster Elsa,” antwoord hy met ‘n ondeunde glimlag op sy aantreklike gesig. Dan saggies aan Salomie: “Ons noem haar Kiets-ore, want sy het die gehoor van ‘n kat.”

‘n Vrou in ‘n stywe, modderbesmeerde kortbroek en T-hemp kom die kombuis binne. As dié ‘n non is, is nonne baie verlig in hierdie eeu, dink Salomie as sy opspring om die ouer dame met die hand te groet.

Teen Woensdag voel Robbie en suster Elsa vir Salomie soos ou bekende vriende. Selfs van die ander inwoners groet gereeld en saans sit hulle graag langs die plaasdam. Almal is werkende mense; twee jong paartjies en ‘n klompie enkellopendes soos sy self. Blykbaar is daar nog mense wat in goedkoper behuising op ‘n ander deel van die plaas woon, maar hulle hou hulself eenkant.

Gedurende die dag is die plaaswerf leeg omdat almal in die stad werk. Dan is daar net die rustige gemompel van weiende hoenders en die veraf kwaak van die eende by die dam. Meneer Schneider se Duitse Herdershonde kom ook graag vir lekkernye en aandag vra.

“Nou wat?” mompel Salomie vir haar foon. Robbie begin lag waar hy op sy rug op die grasperk lê.

“Ek het ook nou net daardie een gekry. ‘Veilig buite die hek vroeg Vrydag?’ Oom Franz se Afrikaans verlaat hom soms al is hy al vir soveel jare in die land,” lag hy. “Dit beteken eintlik: vuilgoed buite die hek vroeg Vrydag. Dit wil sê reeds voor sonop. Ons sit ons s’n uit op pad werk toe.”

“Sal jy myne Vrydag vat, asseblief, Robert?” vra suster Elsa. “Ek het die dag af.”

“Suster Elsa,” begin Robbie huiwerig, “ek sal dit met die grootste liefde doen, maar jy weet ons probeer almal altyd op Vrydae om nie hier te wees nie, reg?”

“Ja, ja natuurlik.” Sy waai haar hand  afwysend. “Ek sal vir Ansa gaan kuier, net nou nie sesuur in die oggend nie, moenie bekommer nie.”

“Salomie, dit sal beter wees as jy ook Vrydag vroeg kan uitgaan en liefs die hele dag wegbly,” stel Robbie voor.

“Hoekom?” vra sy.

“Hier gaan iets aan op hierdie perseel op Vrydae,” sê suster Elsa. “Ek wil nog vir Vader Ludie hierheen bring om te sien wat ons daaraan kan doen.”

Dit maak nie saak hoeveel vrae Salomie vra nie, sy kry nie die waarheid oor Vrydae op oom Franz se plaas uit Robbie en suster Elsa nie.

“Wel, ek begin Maandag werk so môre is regtig die laaste stil dag wat ek het om klaar uit te pak,” sê sy Donderdagaand vir suster Elsa.

Soos elke oggend hoor Salomie as die uittog die volgende oggend begin. Robbie kom haal haar vuilgoedsak om dit buite die hek te gaan neersit. Dit lyk of hy weer wil begin oor die uitganery, maar op die laaste oomblik draai hy om, gooi die sakke op sy bakkie en vertrek.

Van haar agterstoep af staan en kyk Salomie na die sonsopkoms. Ver weg hang die wolke van stadsbesoedeling soos ‘n donker hand, maar hier is die opkomende son helder teen die skoon lug. Sy onthou dat suster Elsa gesê het dat sy by sonsopkoms rond wou ry, maar daar is nog geen roering van haar buurvrou se huis af nie. By haar hek het ‘n groepie hoenders reeds begin vergader asof hulle weet sy is vandag nie uit nie en dat sy vir hulle kos sal gooi.

Sy sien dit toe dit gebeur, daardie breukdeel van ‘n sekonde as ‘n wasigheid die helder oggend laat verdof. Dit verdwyn net so vinnig weer, maar nou hoor sy mense praat in die pad voor die huise. Iemand roep ‘n bevel uit.

Wanneer sy om die huis kom om te kyk wat aangaan, sien sy hulle, die soldate. Waar die klompie hoenders so pas staan en wag het vir hulle mielies, staan nou ‘n paar soldate in Tweede Wêreldoorlogse Duitse weermagdrag. Voor sy ‘n volgende gedagte kan vorm, kom ‘n SS offisier met een van oom Franz se Duitse Herdershonde aan ‘n leiband aangemarsjeer.

Salomie deins terug om die hoek van haar kothuis. Daardie hond, ou Heinie, is gewoonlik die lieftalligste van Franz se honde. Nou egter rem hy aan die leiband en kwyl drup van sy kake af soos hy wreedaardig grom. Intussen vorm die soldate ‘n plegtige ry en marsjeer agter die offisier aan. Sy volg hulle.

“In die tuin voor die hoofopstal staan ‘n groep in vuil gestreepte uniforms. Konsentrasiekamp uniforms, besef sy, maar hoe en hoekom?

Dit is asof die rolprent wat sy meer as ‘n week terug gesien het voor haar afspeel. Die prisoniers word met swepe na die landerye gejaag waar hulle onmiddellik begin spit. Is dit oom Franz se geheim van die groente wat hy verbou? Sy het nog nooit plaaswerkers gesien nie en tog is daar reuse landerye vol van die mooiste groente net anderkant die dam. Sy het al gewonder of iemand die grond huur by meneer Schneider. Is hierdie die geheim en hoe werk dit? Is sy besig om mal te word en ‘n alternatiewe werklikheid te beleef?

“Kom, kom gou!” hoor sy agter haar en suster Elsa se verbasende sterk vingers sluit om haar arm. Is sy ook een van hulle? Salomie probeer besluit of sy haarself moet verdedig en of sy saam met die bejaarde non moet gaan. “Asseblief, voor Franz ons sien.

“Wat gaan hier aan?” vra sy as sy toelaat dat suster Elsa haar agter ‘n skuur in sleep.

“Dis die geheim van hierdie plaas. Elke Vrydag word dit ‘n konsentrasiekamp. Dis hoekom almal probeer wegkom voor sonop. Jy sal nie nou uitkom nie, die hek is gesluit en die elektrisiteit werk nie.”

“Hoe is dit moontlik?”

“Hou op vrae vra en probeer uit kom. Klim oor die heining! Daar is ‘n maklike plek agter die huis, maar moenie dat hulle jou sien nie. Die klomp mense wat hulle daar beet het is mense wat in die goedkoop behuising woon. Hulle het nie almal werk nie, so hulle is hier en word elke Vrydag gevang. Kry vir jou iewers om te wees tot die son sak. Jou goed sal veilig wees, kom net hier uit!”

Salomie laat nie op haar wag nie. Sy draf agter die huise langs, om ‘n bos bloekombome en tot waar suster Elsa aangedui het die pap stuk heining is. Dan hoor sy suster Elsa gil. Sy wil omvlieg en haar gaan help, maar as die ander mense skynbaar niks oorkom van die Vrydae hier nie, behoort sy veilig te wees. Sy is immers familie van Franz.

Terwyl sy die heining staan en betrag, stry Salomie met haarself of sy die non moet gaan help. Dan hoor sy dit, die ritmiese mars van soldate en sy begin klim.

Een van hulle sien haar en skree. In ‘n sweet van angs, met draad wat haar hande sny, klouter sy tot bo. Sy kruip tussen die doringdraad deur en laat haarself anderkant afval. Sy hoor hoe die draad haar klere skeur, maar vrees sit nie ‘n prys op klere nie.

Salomie rol teen ‘n steilte af. As sy uiteindelik weer haar voete onder haar kry om verder te hardloop, kyk sy oor haar skouer. Nee, dis nie moontlik nie. Die plaasheining blink in die helder sonskyn en daar is geen doringdraad bokant die heining nie. Sy tree stadig nader. Daardie gevoel van statiese elektrisiteit wat ‘n elektriese heining soms afgee is wel daar. Sy gaan nie ‘n kans vat om geskok te word nie, maar sy moet terug op die plaas kom.

Was hierdie ‘n mal laai van haar verbeelding of lei sy dalk aan een of ander siekte? Alzheimer’s op drie-en-dertig? Sy moet terug oor die heining kom.

‘n Gesonde sin vir haar eie selfbehoud laat haar rondkyk vir ‘n boom wat naby die draad is waarin sy kan klim om dalk oor te kan kom of net te kan sien. Wat te kan sien, stry sy met haarself. Aan die anderkant kan sy ook net om stap na die hek toe. Sy durf nie hulp soek nie, enige mens sal dink sy is stapelgek as sy vir hulle vertel wat daar aangaan.

‘n Boom wat sowaar ‘n tak het wat bo-oor die heining strek vang haar oog. Gelukkig het sy gemaklike klere en tekkies aan en dit sal boomklim makliker maak. Eers kyk sy rond of niemand haar kan sien nie. Dan begin sy klim. Genadiglik is die tak wat bo-oor die heining strek nie te dun nie.

Versigtig skuifel sy met die tak langs terwyl sy aandagtig luister vir kraakgeluide wat kan beteken dat die tak wil meegee. Sy kom tot reg bokant die draad. Versigtig leun sy vooroor om beter te kan sien.

Dan verloor sy amper haar balans. Daar is die werkers in hulle gestreepte klere en saam met hulle die soldate. Sy sien hoe ‘n soldaat ‘n vrou ‘n harde stamp gee omdat sy nie vinnig genoeg beweeg nie. ‘n Ou man sukkel om ‘n graaf vol grond op te lig en word met ‘n sweep geslaan. Suster Elsa is besig om iemand met ‘n bebloede been te help terwyl ‘n offisier dreigend oor haar staan. Oom Franz, kromgeskouerde, goedige, effense verstrooide oom Franz, staan kiertsregop, geklee in ‘n kamp kommandant-uniform, op ‘n ou vragmotor tussen die landerye en skree bevele uit.

Stadig, stadig, lam van skrik, beweeg sy terug op die tak. Sodra sy terug oor die heining is, is die gruwel toneel weg en lê die plaas met sy veld, dam en groentelande rustig in die oggendson. Weer kruip sy vorentoe en soos ‘n televisie wat aangeskakel word, verskyn die toneel weer. Iets moes intussen gebeur het want suster Elsa lyk of sy op haar knieë geval het of gestamp is. Sy moet gaan help. Sy moet die polisie ontbied.

“Jou domkop!” raas sy met haarself. Haar foon is in haar huis en om die saak vir enige iemand te noem sal waarskynlik vir haar ‘n plek in die gestig besorg! As sy nog twee maal die eienaardige verskynsel getoets het, klim sy uit die boom uit en begin met ‘n veldpaadjie aanstap. Iewers moet daar ‘n huis wees.

Dis nog vroeg en sy geniet die koel oggendvarsheid. Die son is gemaklik warm op haar skouers en  ‘n lomerigheid wil haar oorval. Dis seker die gevolg van die adrenalien wat nou bedaar, dink sy. Sy drentel voort tot sy ‘n huis in die verte sien. Eers bietjie rus, dink sy. Sy kan seker nie die mense van daardie huis al sewe-uur in die oggend gaan pla nie.

“Is jy oukei?” vra ‘n stem bokant haar. Salomie skrik wakker. Sy het sowaar onder die boom aan die slaap geraak. Wat soek sy egter onder ‘n boom in die veld?

“O jammer,” mompel sy terwyl sy haar voete onder haar probeer kry en terselfdertyd haar oë probeer oop forseer. Die vrou wat haar onder die boom ontdek het lyk egter vriendelik. “Ek het gestap, toe sit ek net vir ‘n oomblik en weg is ek droomland toe!”

“Voel jy sleg of iets? Jy is bleek en lyk doodmoeg. Die son het jou ook bygekom,” sê die vrou. “Kom saam met my huis toe. Ek kan immers vir jou bietjie water gee. Terloops, my naam is Arlien.”

Dis dan al laatmiddag, besef Salomie. Hoe op aarde het sy hier gekom en onder ‘n boom aan die slaap geraak? Sy stap saam met die vrou en probeer onthou hoe en wanneer sy hier gekom het en hoekom haar hande so vuil en vol skrape is. Sy woon op die plaas langsaan; dit kan sy onthou. Dalk het sy gaan stap en verdwaal, maar dis nie normaal vir haar om sommer onder ‘n boom aan die slaap te raak nie.

“Hoe laat is dit?” vra sy en soek in haar sak vir haar foon. Sy moes dit by die huis vergeet het.

“Kwart oor vyf,” antwoord Arlien.

“Dankie, ek dink ek het my foon by die huis vergeet. Ek bly net hier langsaan op meneer Schneider se plaas.

“Jy is nie die eerste van sy huurders wat hier kom verdwaal het nie,” mompel Arlien. “Snaaks, dis altyd op ‘n Vrydag dat ek mense hier kry, dis hoekom ek gaan rondkyk het.”

“Wat ‘n toeval,” stem Salomie saam. By Arlien se huis raak hulle aan die gesels en vind dat hulle verskeie belangstellings deel. Teen die tyd wat hulle koffie en beskuit geniet het en Salomie gereed is om te vertrek, is die son reeds amper onder.

“Ek sal jou by die hek gaan aflaai,” bied Arlien aan. Salomie is dankbaar want sy weet nie werklik hoe sy tot hier gekom het nie.

Arlien parkeer voor die hek en spring uit die motor voor Salomie vir haar sleutels en afstandbeheer kan soek. Sy sien hoe die vrou in haar spore stop as sy by die hek kom. Sy deins effens terug en hou haar hand oor haar oë om teen die ondergaande son in te kan sien.

Salomie hoor die bevele en marsjerende voetstappe as sy by Arlien aansluit.

“Wat gaan daar binne aan?” vra Arlien. Op daardie oomblik spoel die oggend se gebeure soos ‘n tsoenami oor Salomie se geheue. Bel die polisie, is haar eerste gedagte vinnig gevolg deur: wat op aarde het van suster Elsa geword? Sy soek nog na woorde om Arlien te antwoord as die son agter die randjie verdwyn. Die wasigheid wat sy die vorige Vrydagaand en daardie oggend gesien het, verskyn weer. As dit verdwyn, is alles rustig en suster Elsa kom in die pad af gedraf.

“O kindjie, jy het seker jou sleutels vergeet. Hier, kom in.” Die hek begin oop skuif. “Verskoon my vuil klere. Ek het die hele dag in die tuin gewerk.” Eintlik lyk suster Elsa baie beter as wat Salomie verwag het sy sou lyk.

“Baie dankie vir die geleentheid en die heerlike koffie,” sê sy vir Arlien wat steeds grootoog na hulle en die plaas kyk.

“Julle buurvrou het gesien wat hier aangaan,” sê Salomie as Arlien se motor in die pad af verdwyn.

“Daar sal niks van kom nie,” sug suster Elsa. “Dis deel van die towery van hierdie Vrydagverskynsel; mense vergeet gou daarvan.”

“Is jy egter…?”

“Ek is doodreg, hartjie,” verseker suster Elsa haar. “Ek weet jy het waarskynlik gesien hoe ons verniel word, maar sien, dis ook deel van die towery hier. Maak nie saak wat gebeur in die dag nie, behalwe dat mens bietjie moeg voel en vuil is van die tuinwerk, kom jy niks oor nie. Dit is wel bitter onaangenaam terwyl dit aan die gang is.”

“Amper asof dit ‘n ander dimensie is,” spekuleer Salomie.

“Daar is iets in die huis,” begin suster Elsa. “Ek dink dit is ‘n ou Gestapo uniform met die hakekruis daarop wat dit veroorsaak. My en Franz se familie was in die Tweede Wêreldoorlog … aan die verkeerde kant. Sy oupa, my pa, was ‘n bevelvoerder by een van die konsentrasiekampe. Ek het al vir Franz en Analisa gesê ons moet die ding vir ‘n museum skenk, of nog beter, dit eenvoudig verbrand. Dalk sal hulle as ons hulle vertel een van die bure het gesien.”

“Daar is meer goed op aarde en in die hemel as waarvan die mens in al sy filosofieë sou kon droom,” som Salomie Hamlet se woorde op terwyl sy na haar kothuis toe stap.