Renette Denysschen – 2024 Wenner (fantasie)

BRAAMPIE EN DIE BABER

geskryf deur

Renette Denysschen

 

Braampie kyk op vanaf die braaivleisvuur wat hy pas aangesteek het toe hy ʼn kardeur hoor toeklap.

“Haai Oom Braampie, hoe lyk die kole?” Sy susterskind kom flink aangestap, koelkan in die hand. Met die dat Braampie ʼn laatlam is, het hy nooit die naam “Braampie” ontgroei nie en al is Fred skaars ʼn dekade jonger as hy, het sy ouers aangedring op die “Oom”.

“Jy’s laat. Die son trek water en die bier word suur” groet Braampie en grinnik vir sy eie grappie.

“Askies Oom, ek het ʼn baie interessante artikel op die internet gelees oor ʼn geheimsinnige dam in Limpopo en baie vreemde goed wat daar rondom gebeur.” Fred aanvaar die bier van sy oom en vat ʼn sluk. “Blykbaar kry niemand die dam nie, en van die manne wat soontoe is het glo net spoorloos verdwyn.” Hy skud sy kop asof hy self nie kan glo wat hy sê nie.

Braampie se passie is visvang; soutwater, varswater, dam, rivier, see… noem maar op. As daar water is het Braampie ʼn stok. Elke rand en minuut te spaar word aan visvang spandeer. Dié dat hy nog nooit tyd gehad het om ʼn vrou te soek en tot trou te kom nie. Hy kyk al wat visvang program is op tv en beny die manne wat sulke verskriklike groot visse uittrek. Persoonlik het hy al heel skaflike groottes visse gevang, maar hy hunker na daardie “eenmaal in ʼn leeftyd” vangs.

Die manne maak hulle gemaklik op die opvoustoele en Braampie gooi nog ʼn stomp op die vuur.

“Dit klink vir my bietjie deurmekaar, Fred. Begin by die begin en vertel my die hele storie.”

“Wel, blykbaar is dit nie ʼn nuwe ding nie, maar gerugte en stories het nou weer opgevlam toe die verkeerspolisie ʼn mallerige man wat roekeloos ry voorgekeer het. Hy het heeltemal verwilderd gelyk en kon nie praat of verduidelik wat aangaan nie. Die verkeersmanne het eers gedink hy is dronk en hom gevat vir bloedtoetse, maar alles het skoon teruggekom. Gelukkig kon hulle sy familie opspoor deur middel van sy ID dokument. Hulle was geskok om hom in so toestand te sien, want volgens hulle was daar niks buitengewoon toe hy die oggend vroeg weg is om vis te gaan vang by ʼn nuwe dam waarvan hy gehoor het nie. Lang storie kort – die man is nou in ʼn gestig en die koördinate wat hulle op sy foon gekry het, het geen dam opgelewer nie, net ʼn baie groot ou kremetartboom. Dis toé dat daar weer ou stories uitkom van manne wat na die kastige dam by die kremetartboom toe is en net verdwyn het. Net hulle karre is daar naby opgespoor.”

Braampie kyk peinsend na die kole wat nou net reg gloei en sit ingedagte die vleis op die vuur. “Is daardie koördinate beskikbaar op die internet? Dalk moet mens self gaan ondersoek instel.”

***

Braampie skakel sy dubbelkajuitbakkie af en kyk rond. Dit was toe glad nie so maklik om die plek op te spoor waar mense beweer die geheimsinnige dam is nie.  Vir meer as ʼn maand na Fred daardie aand met die storie by hom aangekom het, het hy elke brokkie inligting bymekaar gemaak om die ligging van die dam te probeer bepaal.

Uiteindelik het hy ʼn prentjie van ʼn soort handgetekende kaart op die internet raakgeloop in een van die artikels. Dis in die verlate motor van een van die verdwene vissermanne gevind. Wat duidelik op die kaart aangedui was, is die groot kremetartboom waarna Braampie nou deur sy bakkie se venster staar. Dis ook die enigste gemene deler in al die artikels wat hy kon opspoor.

Hy fluit saggies deur sy tande. Geen prentjie wat hy in sy kop gehad het van dié groot boom kom naby dit wat hy nou aanskou nie. Daar sal seker maklik vyftig mans hand aan hand om die stam kan staan. Terwyl hy uitklim om sy visstok en -gerei te kry, kyk hy om hom rond. Daar is geen teken van ʼn dam êrens nie. Asof hy skielik iets onthou, sit Braampie eers alles neer en haal sy selfoon uit. Hy probeer soveel moontlik van die boom in die raam van sy selfoonkamera kry. Hy het aspris nie vir enige iemand van sy planne vertel om die dam te kom soek nie, want sou hy druipstert terugkeer, is daar niemand wat met hom die gek kan skeer oor sy bloutjie nie. Sou hy suksesvol wees, het hy dan ten minste foto’s om die gebeure te staaf. Hy sit sy selfoon terug in sy broeksak en tel weer sy visstok en trommel op.

Steeds verwonderd begin hy om die boom stap terwyl hy oopmond na die reuse takke kyk.

“Pfff” blaas hy tussen sy lippe deur en vee die sweet van sy voorkop met sy arm af.

“Amper verbeel ek my daai tak wink my nader” mompel Braampie hardop vir homself net voordat sy voet aan ʼn boomwortel vashaak en hy struikel. Die visstok en trommel maak dat hy nie sy balans kan vind nie en hy kan ook nie keer toe hy gesig eerste met die boomstam kennis maak nie.

***

Braampie hoor ʼn rustige gekabbel en voel hoe iets sy linkeroor kielie. Hy maak sy oë op ʼn skrefie oop en draai sy kop. Twee kwaai dassieogies en ʼn neusie wat op en af beweeg kyk ʼn oomblik vir hom voor die dassie weg hop na ʼn klip waarop die son lekker warm skyn.

“Hy’s wakker!” skree die dassie dat die kranse antwoord gee.

Braampie se bolyf ruk hom in ʼn sittende posisie. Hy vryf sy oë en kyk rond. Hoe hard het hy die boom getref?  Hy voel oukei en daar is nie bloed nie. Sy mond val oop terwyl hy rondkyk. Die gekabbel wat hy hoor kom van ʼn klein stroompie wat oor ʼn paar klippe spoel tot in ʼn spieëlgladde dam. Braampie kom orent en kyk verward rond. Waar is die kremetartboom dan nou? Hy staan op ʼn lowergroen grasperkie met lieflike wilgerbome oral. Aan sy regterkant is ʼn paar rotse. Die dassie wat net-nou so gegil het, lê nou heerlik uitgestrek in die son. Aan sy linkerkant is die kabbelende stroompie met ʼn paar riete en verder is dit dam, so ver hy kan sien. Hier en daar is ʼn paar klippe wat bo die oppervlak uitsteek.

“Hi haai!” kras ʼn hadida wat laag aangevlieg kom dit uit. “Welkom, en geniet die visvang.” Die hadida kom sit op die gras en steek sy snawel diep in die grond. Met die uittrek slag kom ʼn mondvol vet wurms saam wat hy voor Braampie se voete laat val. Voor Braampie iets kan sê swiep die hadida weer die lug in. Braampie kyk om hom rond. Daar lê sy visstok en trommel. Die grootste, vetste wurm wat Braampie nog ooit gesien het, is op pad na die visstok toe, ruggie krom, ruggie reguit. Voor die visstok rol hy op sy rug om.

“Vat my!” sê hy met ʼn martelaarsmondjie.

“Uhm uhm” maak Braampie keelskoon en tel die wurm op. Hy gril innerlik. Die ding is dikker as twee van sy vingers!

“Ek kan nie iets aan my hoek sit wat met my praat nie.” Hy sit die wurm neer.

“Jy hoef nie die hoek deur my te sit nie, en ek kan my asem láánk ophou. Ek belowe jou, voor ek verdrink het jy ʼn vis aan die hoek.”

“En dan vrek jy in die vis se maag?” Braampie kyk onderlangs rond. Hy kan nie glo hy redekawel met ʼn wurm nie.

“Dis tussen my en die vis. Toe, toe, tyd is….hm, hoe sê julle…geld! Die wurm gaan rol hom om die hoek. “Gooi hom, Gert!”

Braampie tel die visstok op. “My naam is Braam.” Hy huiwer vir ʼn oomblik en laat dan die lyn oor die water sing.

Net voor die lyn die water tref, knip-knip Braampie weer sy oë. Het die wurm wraggies die hoek laat los net voor dit die water getref het? Hy kry egter nie kans om daaroor te wonder nie. Iets pluk aan die lyn en Braampie moet vas vat om nie die stok te verloor nie. Dis definitief ʼn grote wat hy nou gehaak het. Hy begin stoei met die vis.

ʼn Rietduiker kom aangevlieg en gaan sit op ʼn riet. Hy sprei sy vlerke soos ʼn dominee wat die seën uitspreek en kyk Braampie uit die hoogte aan.

“Dit lyk my jy het vir Bezilius aan die hoek. Hou hom weg van daardie klip af waarnatoe hy nou op pad is. Dis waar hy die gewoonlik die lyn afskuur. En hou maar jou oë oop vir Rana.”

Braampie kyk net vinnig na die voël en span dan al sy vernuf in om die vis weg van die klip te hou en ter selfde tyd nader aan die kant te bring.

“Wat vir ʼn ding is Bezilius?”

“Bezilius die baber. Hy is een van ons grootste inwoners hier.” Die rietduiker vlieg weg toe ʼn paar rooivinke aangeskarrel kom.

“Braampie, Braampie hy’s ons man. As hy nie kan nie wie sal dan!” kwetter hulle en kom sit in die riete.

Braampie het nie tyd om aan hulle aandag te gee nie. Hy het amper die vis om die klip. Nog net so…twee…draaie…inkatrol. Daarsy, verby die klip! Dan word die lyn ʼn oomblik slap en ʼn breë plat baberkop met lang snorbaarde verskyn bo die oppervlak.

“Welgedaan, Braampie!” skree die baber en verdwyn weer onder die water.

Braampie moet sy hakke in die grond vasskop toe die vis ʼn breek maak. Hy begin weer met mening katrol. Die visstok is krom gebuig. Meter vir meter begin Braampie veld wen teen die vis. Uiteindelik verskyn die vis bo die oppervlak. Hy lag dat jy net borrels sien.

“Hahaha! Dit was nou lekker. Jy is baie vernuftig hoor!”

Braampie kan sy oë nie glo nie. Dis die grootste baber wat hy in sy lewe aanskou het. Hoe gaan hy hom uit die water kry?

Die vinke kwetter opgewonde en loer onderlangs na die drama wat voor hulle oë afspeel.

“Jy ken jou storie. Wat gaan jy nou met my doen?” Bezilius swem heen en weer in die vlak water en kyk Braampie ondersoekend aan.

“Wel, gewoonlik meet en weeg ek ʼn vis en neem dan ʼn foto voor ek hom weer terug in die water sit. Ek hou nie vis wat ek nie gaan eet nie.”

Bezilius swem nader. “Ek sal al daardie goed toelaat maar, wat as ek vir jou sê dat jy nooit, maar nooit ooit dit wat jy vandag hier ervaar het met enige iemand kan deel nie. Dis ʼn geheim waarvan net jy kan weet. Jou lewe hang daarvan af.”

ʼn Roering in die water trek Braampie se aandag voor hy kan antwoord. ʼn Enorme brulpadda kom te voorskyn en hop lomp nader. Die vinke vlieg vervaard weg.

“Bezilius! Vir wat hou jy jou op met hierdie…mens?” Die laaste woord word afkeurend uitgespoeg. “Trek hom in die dam in en kry klaar. Ons het mos nou al hoeveel keer gesien hulle soort is nie te vertrou nie. Net die feit dat hy hier is, is klaar ʼn bewys dat daar steeds inligting oor ons daar buite is. Hoe Groot Kremetart nog kan toelaat dat mense hier inkom gaan my verstand te bowe.” Die brulpadda is uitasem en het homself opgepof.

Die vinke kom weer nader. “Trek hom in, trek hom in!”

Bezilius kom moeisaam op sy voorvinne uit die water gestrompel en spoeg die hoek uit. “Ag Rana, vir wat kom meng jy jou nou in hier. Die reëls is baie duidelik. Elke mens moet ʼn keuse kry en self kies. En as hulle keuse oneerbiedig is, dán deel ons daarmee. Ons hier binne en Groot Kremetart daar buite.  Jy weet, die natuur het ʼn manier om haar geheime te bewaar. As ons net mense sommer so in die dam intrek, is ons niks beter as hulle nie.”

“Trek hom in, trek hom in!” Die vinke sweep mekaar op.

“Bly stil! Party van ons probeer slaap!” gil Dassie kwaai vanaf sy klip.

Dit ruk Braampie terug na dit wat hy sopas sien afspeel het. Is ʼn vis en brulpadda sowaar besig om oor sy lewe te onderhandel?

Die vinke vlieg weer fladderend weg. “Shh, shh, shh”

Rana hop nader aan Bezilius. “Ja, en as die mense Groot Kremetart vernietig opsoek na ʼn dam, is ons almal en alles daarmee heen.” Hy klink hartseer. “Trek hom net in, dan weet ons verseker geen inligting word uitgelek nie.” Hy besef sy pleidooi is futiel en blaas hom af voor hy die water in verdwyn.

Braampie dink skielik onwillekeurig aan al die artikels van die verdwene vissermanne en die een wat in ʼn gestig beland het.

“Is dit wat met die ander vissermanne gebeur het? Wou hulle nie die geheim bewaar nie?”

“Wel, hulle het ook ʼn passie vir visvang gehad – soos jy. Dis hoe almal hier beland. Nie almal vang mý nie. Dit hang van jou wens en begeerte af wat jy vang. En ja, van hulle het arrogant geraak, wou die vis wat hulle gevang het vir ʼn trofee hou en wou nie die ooreenkoms eer nie. Ons kon hulle nie toelaat om terug te keer na hulle wêreld nie.”

Braampie dink ʼn oomblik na. “Ek is bereid om die geheim te bewaar. Ek gee my woord. Ek sal jou tóg net graag wil meet en weeg, jy weet, net vir my eie inligting. Dis nie aldag dat mens jou persoonlike beste vang nie. En dit boonop in ʼn geheime dam. O, en ʼn foto neem, as ek mag.”

Bezilius kyk Braampie stip aan en steek dan sy een vin uit. Braampie huiwer ʼn oomblik en sak dan af op sy hurke en skud die vis se vin.

“Nou toe dan, kom ons kry dit agter die rug.”

Braampie haal ʼn maatband, ʼn visskaal en ʼn notaboekie uit sy vistrommel. Bezilius strek hom goed uit. Braampie meet hom en maak ʼn inskrywing in sy notaboekie. Dan, met baie moeite word hy geweeg en die gewig word neergeskryf. Versigtig word Bezilius weer op die gras neergelê en Braampie vroetel in sy sak vir sy selfoon. Die vis trek sy snor effens op toe die foto geneem word.

“Nou toe ou grote, kom ons kry jou terug in die water.” Skielik val iets hom by. “Die ou wat in die gestig beland het…hoe’t dit gebeur?

“Wel, ek is nie seker nie. Ons het net beheer oor wat hier binne gebeur. Net Groot Kremetart weet. Kom nou, sit my in die water, my asem word min.”

Braampie vat Bezilius om die lyf en waggel waterkant toe met hom. In die vlak water verloor hy sy balans en man en vis plons in die water. Dan voel Braampie hoe hy met ʼn spoed saam met die vis die water ingetrek word. Voor hy tot verhaal kan kom, word alles swart om hom.

***

            Braampie word bewus van ʼn skurwe geskuur teen sy wang. Hy maak sy oë oop. Die groot kremetart se wortels is ongemaklik onder sy lyf waar hy teen die stam sit-lê. Hy staan wankelrig op en kyk rond. Die son sit laag. Sy bakkie staan steeds waar hy dit die oggend gelos het. Sy klere is droog en daar is geen teken dat hy naby water was nie. Het hy gedroom? Die visstok en -trommel is nêrens in sig nie. Hy haal sy selfoon uit sy broeksak en maak die foto’s oop.

Bezilius grynslag vir hom vanuit die foto. Dan is dit tog waar! Hy moet dadelik die foto en die een van die kremetartboom vir Fred aanstuur. En hy moet die presiese koördinate op sy foon stoor. Sy hele gesprek met die groot vis kom in sy gedagtes op en hy dink weer aan die man in die gestig. Hy’t sy woord gegee. Vir ʼn oomblik huiwer hy en druk dan die ‘delete’ knoppie. Bezilius sal vir ewig net in sy gedagtes lewe. Hy sug en stap hangskouers na sy bakkie toe. Terwyl hy stadig sy terugtog huistoe met die tweespoorpaadjie begin, wonder hy hoeveel ander ouens dit wel soos hy ‘uit’ gemaak het.