Chantal Pretorius

Wagtyd

geskryf deur

Chantal Pretorius

 

Willemien hou die snoeiskêr styf in haar hand vas. Sy huiwer voordat sy die plante knip; haar vingers bewe. Die skerppunte raak aan die groen stingels, maar die geur van die geel blomme laat haar terugdeins. Haar kop skud en sy gaan ’n fout maak en laat die skêr tussen die lang gras val wat teen haar kuite kielie.

Toe die stingels naby haar beweeg en ’n sissende geluid maak omdat sy die skêr ronddraai om die rankplant te sny, staan Willemien eenkant en asem die reuk van nat grond in. Voetjie vir voetjie nader sy die rankplant, wil aan die blare vat, maar huiwer.

“Nee, ek wil nie aan jou raak nie,” sê sy vir haarself.

“Los my om te groei,” fluister die rankplant.

Sy loer om haar rond. Rankplante groei teen die baksteenmure op en raak net-net aan die sinkdak. Skerp dorings druk tussen die sement in, asof dit die huis vashou. Kroonblare skud los en val grond toe, maar die kelkblare staan oop. Bye vlieg naby die nektarhart en stuifmeel kleef aan hulle pote. Skielik klap die blare toe en sluk ’n paar bye in en sy kyk weg.

Die rankplant se lang stingels druk die betonheinings skeef; selfs die dun vingers waarmee dit vasklou, verwurg die struike totdat hulle verlep. Sy kan die kweekhuis nie meer sien nie – net groen. Die braai is iets van die verlede: blomme pronk op die vetterige rooster en die swembad is leeg, gevul met bruinerige blare, sakke kompos en swartsakke vol gemors. Die spesie klim en klou vas en neem die agtertuin oor.

Die bome se rooi appels hang laag, maar die rankplant druk die vrugte totdat dit bars en die sap verlore gaan. Haar oë land op die gieter vol water, dan op haar varkore waarvan die koppe al sak van droogte. Sy kyk na die boksie onkruiddoder op die vierkantige draadtafel en gooi wild die wit poeier op die slingerende ranker. Sy bid in gedagte dat haar plan sal werk, buk effens, tel grond op en vee die poeier af.

“Ek wil jou uitroei, maar Pieter sal my nooit vergewe nie.”

“Jy stel my teleur omdat jy van my ontslae wil raak. Jy behoort jou te skaam, Willemien.” Een blom beweeg en kommunikeer met die ander om haar saam uit te trap.

Wanneer die rankplant se blomme met haar praat, lyk dit of die knop oop- en toeklap; soms vibreer dit trompetagtig en die trosse groei in alle rigtings. Haar vingers streel sag oor die mediumgroot, fyn, helder geel kroonblare met ’n witterige hart. Sy leun vorentoe, want haar lyf voel hoe die dorings deur haar bloes steek. Sy ruk weg en kyk af na die bloedkolle wat die materiaal bevlek.

Willemien se oë volg die kort stingel wat rek en styf om haar gewrig draai. Sy ruk en pluk, maar kom nie los nie. Dorings druk diep in haar vel en bloed drup op die vloer. Sy sien die skêr wat vergete lê, strek haar arm en knip bewerig die stingel af. Die plant klink soos ’n ou man wat huil toe die blomme toevou.

Sy draai haar lyf skuins, hardloop teen die trappe op, die huis binne, en slaan die voordeur hard toe. Haar rug druk teen die gekleurde glas en haar asem jaag op hol. Haar hart klop teen haar ribbes. Sy kan nie dink aan planne om die onkruid te verwyder nie; dit is deel van haar lewe.

Sy loop reguit na die leefarea. Op die boekrak staan ’n fotoraam: sy met ’n sprankelende glimlag en Pieter met ’n strak gesig wat in die kameralens kyk. Sy druk die raam teen haar bors en huil bitterlik. Sy wil hom weer naby hê. Sy gaan sit op die bruin rusbank, kyk na die donker TV-skerm en luister na die stilte wat die huis toevou.

Elke dag sny Willemien blare voor die vensters af, want bure, strate en voertuie is buite haar sig. In die oggende praat sy met die rankplant en vat aan die blomme as dit haar toelaat. Nou snoei sy minder en tel eerder die ranke wat sterker as toue is.

Willemien druk nie meer haar hande in die grond om saad te plant nie. Die ranker ruk haar groeisels uit en onder haar vingernaels is dit groen gevlek. In die kweekhuis staan nuwe blompotte wat wag om met sand en kompos gevul te word. Haar neus kriewel toe sy die stowwerige lug ruik.

Sy was altyd fluks en voer die gemmerkat wat op die muur sit. Maar sy kan nie die rankplant met petrol oorgooi en aan die brand steek nie. Hoekom kan sy dit nie doen nie?

Daar is baie wat Willemien wil herstel: die huis, die voor- en agtertuin, en die Opal se enjin. Haar verstand is helder, al is sy sestig jaar oud. Sy wag vir die regte uur om aan te breek.

Sy hou daarvan om op ’n sonnige dag op die trapleer in die groenhuis te klim en te sien hoe saad wortel en blaar skiet. Sy trek grashalms tussenin uit en strooi fyn boombas bo-op. Op ander dae sproei sy water oor die plantjies, maar uiteindelik vrek elkeen weens die rankplant.

Die braaivleisplek is haar troos. Sy wil weer hout inpak wat knetter en kraak, wetend die twee geel oë loer tussen die struike en fluister saam met die vlamme. Sy het geleer om die stem te ignoreer en antwoord dit net wanneer sy geselskap soek.

Haar oë dwaal oor die verjaarsdagkaarte van haar kleinkinders. Sy wil aan elke gesig raak, maar hulle vervaag soos ’n bloeisel wat blom en verlep.

“Kom buite toe,” fluister die rank.

Haar gedagtes jaag. “Ek wil jou hou, maar dit gaan te ver.” Sy sug en laat haar hande in haar skoot val. Die rankplant verstaan nie hoekom sy dit wil uitroei nie.

Met ’n vinnige, rukkende beweging seil die rank om elke pyp en geut. Dit haal asem en gee ’n kort, fluweelagtige sis. Dit klink soos ’n sagte grom, amper soos ’n hond wat bedreig voel.

Sy druk haar hand teen haar bors en voel haar hart klop – sy leef. Trane rol oor haar wange. Sy vee dit weg en smeer die klam vingers oor haar rok. Sy kyk na die kalender teen die muur en verlang na ’n liefde wat sy nie meer ken nie.

In die aande rol sy in die bed rond, lê wawyd wakker en dink. Sy kan nie meer Pieter se stem onthou nie. Sy mis sy aanraking. Nou slaap sy min; die plant fluister en sy staan op om TV te kyk.

Willemien wens Pieter sit langs haar en gee haar ’n druk. Sy skep asem en probeer kalmer raak. Pieter se skraal lyf, grys hare en ligblou oë flits deur haar gedagtes.

Haar vingers vee oor die kol op die bank wat al dae lank nat is. Voor haar lê tydskrifte en boeke onaangeraak. In die hoek lê sakke klere wat sy wil skenk, maar sy kom nooit sover nie. Sy vryf oor haar silwer hare en besef haar realiteit is rof.

Die Oupaklok slaan skielik dong-dong. Willemien se skouers ruk en die klank eggo deur die huis. Sy staan op, rek haar bene uit. Genoeg is genoeg.

“Ek kom vir jou,” sê sy in gedagte.

Willemien staan weer op dieselfde plek met die snoeiskêr in haar hand. Haar vingers bewe minder. Sy knip die blare af sonder om te huiwer. Die heldergeel blomme fluister in ’n manstem: “Hou op.” Die lemme is vol groen en die skêr sny die stingels morsaf. Hierdie keer doen sy wat gedoen moet word.

Die rankplant gil sag en krul om haar gewrig. Sy wikkel haar los en kyk af na die rooi kolletjies op haar rok. Haar vingers streel oor haar prikkelende vel en sy ruk haar hand weg.

Elke stingel wat Willemien sny, voel soos ’n wond. Sy weet dit sal die rankplant minder laat blom. Sy onthou toe dit begin oorneem het: die dag toe Pieter in die tuin ineenstort en die potplant uit haar hand op die sement breek. In haar wagtyd neem die rankplant oor. Die petunias in die beddings verlep. Die geur van die alyssum is weg. Al wat oorbly, is groen.

Sy tree agtertoe totdat haar sandaalhakke op die vloer klap en trap versigtig rond. Die ranke lê bo-op en die dorings klou tussen die vougleuwe vas. Sy buk effens, knip die blare vinnig af en kom weer regop.

’n Paar bye draai om die wingerdblomme, maar vlieg gou weg omdat die nektar bruin is. Hulle pote beland op oranje Afrikanertjies wat blom. Vir Willemien lyk dit of die kleure deur die onkruid skyn.

Toe die rankplant uit die mure lostrek en op haar afstorm, lyk dit soos ’n geraamtehand wat haar wil gryp. Willemien hardloop oor die gras en kruip agter ’n boom weg. Kort-kort loer sy tussendeur hangende, vrot appels na die rankplant en skep asem om kalm te raak.

“Kom hier, Willemien,” fluister die stem.

Willemien skud haar kop. “Nee. Ek weier. Jy wil my vang.”

“Ek wil jou iets vertel,” prewel die geel blomme.

Sy sluk en sê teen haar keel: “Ek wil nie meer na jou luister nie.” Haar hartklop is onreëlmatig.

Vir die laaste keer streel Willemien se vingers oor die blomme wat soos sonstrale skyn. Sy lig die snoeiskêr, knip die langste rank af, en blare val los, dwarrel in alle rigtings. Die rankplant slaan kaplaks teen die grond, soos ’n boom wat omval.

Die gemmerkat spring met spoed van die muur af toe die wingerd dit wegdruk terwyl dit af krul. Willemien kyk af hoe die kat se rug ’n boog maak, teen haar been skuur en skielik met sy naels teen die boom opstoot, opklim en op ’n tak gaan sit, nes ’n uil.

Skielik hang daar ’n stilte in die lug. Al waarna Willemien luister, is die wind se gesuis wat teen haar warm wange waai. Geen fluistering roer in die erf nie.

Hierdie keer staan Willemien stil toe die rankplant ’n hand vorm en om haar bolyf krul. Die dorings druk lig teen haar silwerbloue bloes, asof dit huiwer om haar vel te breek. Dit voel soos arms wat haar toevou en beskerm – soos sy haarself beskerm het deur binne die huis te bly. Sy sluit haar oë vir ’n paar minute. Pieter se glimlag flits op en sy sluk die knop in haar keel af. Dit is hy: dié rankplant.

“Ek verstaan. Jy mag snoei, maar dis al,” lig die rankplant haar op en krul weer van haar lyf af.

Willemien knik om te bevestig dat sy die opdrag verstaan.

“Ek sal altyd lief bly vir jou, maar ek wil met my lewe aangaan.”

“Ja, my vrou,” klink die fluister skerper.

Willemien kyk na die blare wat lyk soos engelvlerke en liggies beweeg. Die rankplant se blomme klink of dit vir haar sing. Willemien tel die gieter op, gooi die verlepte varkore nat en rangskik die potplante wat rondlê op die swembad se rand.

Die rankplant maak ’n soort buiging voor haar. Willemien kom agter die boom uit en staan op die sement. Sy kyk om haar. Sy lig die snoeiskêr effens en snoei eers die stingels om die braaivleisplek, dan dié wat teen die mure druk, en laaste die stingels wat die vensterruite toegroei. Sy vee die sweet van haar voorkop af. Haar oë dwaal oor die agtertuin – dit lyk netjieser en oop, maar daar is nog heelwat werk wat wag.

Willemien buk en tel ’n vars rooi appel op, wat naby haar lê. Sy vat ’n groot hap, kou en sluk. Die soet smaak rol oor haar tong en dit proe minder bitter. Sy gooi die stronk in die struike en sien hier en daar groen blare wat wys.

Ná al die gesnoeiery stap sy die trappe op, gaan sit op die rusbank en skep asem. Sy neem die afstandbeheerder, druk ’n knoppie en kyk na die TV-kanaal wat reënboogkleure uitstuur. Sy luister na die fluistering.

“Ek is hier, Willemien.”

“Ek weet dit, Pieter.”