Ellen Fritz – Tweede Plek (Fantasie)

n Engel In Tyd

geskryf deur

Ellen Fritz

“Asseblief, moenie op daardie trein klim nie!” Daria gryp na die jong soldaat se arm. Hy voel nie haar hand wat aan sy uniform pluk nie.

Sy is op ‘n spoorwegstasie. Op die perron is soldate in kakie-uniforms en musse met oorflappe. Hulle lyk soos Russiese soldate uit die Tweede Wêreldoorlog. ‘n Stoomtrein staan reeds en blaas groot rookwolke uit, gereed om te vertrek. Die soldate is besig om geliefdes te groet. Naby haar staan ‘n lang, blonde vrou. In haar moderne perdrydrag pas sy nie heeltemal by hierdie toneel in nie.

Daria pluk dringender aan die soldaat se mou. Hierdie soldaat met die witblonde hare is die manlike ewebeeld van die vrou in rydrag. Sy doen egter niks om die soldaat te oorreed om nie oorlog toe te gaan nie … hoekom nie? Sy het effens teruggetree, asof sy besef dat sy nie in hierdie toneel inpas nie. Daria voel ‘n diep deernis vir die man en sy weet sy moet hom keer. Hy mag nie op daardie trein klim nie; hy mag nie oorlog toe gaan nie.

“Daria! Liewe land, Kind, jy het alweer by jou lessenaar aan die slaap geraak,” ruk haar ma se stem haar uit die droom uit.

“Mamma,” gaap sy, “ek het gisteraand laat geleer. Meestersgraad geskiedenis is nie ‘n grap nie. O, koffie! Mamma sal geseën word.” Sy neem die beker stomende koffie by haar ma.

“Jy moet rus,” berispe haar ma. “Jy kan leer en leer, maar niks gaan in jou kop vassteek terwyl jy so uitgeput is nie. ‘n Bietjie vars lug sal jou goed doen. Sal jy asseblief ‘n mandjie perskes vir die vroutjie langsaan neem wanneer jy klaar is met jou koffie?”

“Vars lug klink goed. Ek sien nou eers wat ‘n mooi dag dit is.”

“Jy kan die bakkie vat,” voeg haar ma by.

“Nee, ek sal sommer deur die veld stap. Vars lug en oefening behoort my uit te sorteer vir die volgende sessie met die boeke,” antwoord Daria en teug behaaglik aan die koffie.

Tien minute later het sy gemaklike skoene aan en stap sy veldpadlangs tot by die hek tussen die twee plase. Die veldpaadjie sluit by die oprit-pad na die geboue in die verte aan. Oral op die wye droë landskap wei klompies skape. Nader aan die geboue is besproeide kampe met pragtige perde en ‘n paar beeste.

Daria weet dat die vrou, Katya, het haar ma gesê, ‘n nuwe inwoner in die distrik is. Sy het die plaas herdoop tot Tishina wat ‘stilte’ in Russies beteken. Blykbaar is Katya van Russiese afkoms.

‘n Veldpad – ‘n kortpad na die geboue toe – draai links uit. Sy neem dit en sien ‘n ander paadjie wat daardie een kruis. Net toe sy by die kruising kom en wonder of sy regs moet draai of reguit aanhou, flits iets in die hoek van haar oog; en daar staan ‘n vrou voor haar. Waar het sy vandaan gekom?

“Wat de …!” roep sy uit en deins terug. “Waar het jy so skielik vandaan gekom?” Sy kyk rond vir ‘n klip of boom waar die vrou kon weggekruip het. Sy kyk selfs op die grond vir ‘n gat of tonnel, maar die wêreld is plat so ver die oog kan sien.

“Hallo, ek was maar net hier,” maak sy haar skielike verskyning met ‘n effense waai van haar hand af. “Jy moet Tish se dogter wees. Jy lyk na haar. Daardie perskes … is hulle vir my? Terloops,ek is Katya.”

Steeds effens uit die veld geslaan hou Daria die mandjie na die vrou toe uit. Sy praat met ‘n effense aksent, maar vir iemand wat oorspronklik Russies was, is haar Afrikaans vlot en foutloos.

“Hoe lank woon jy al in Suid-Afrika?” vra Daria.

“Ek het veertig jaar gelede uit Rusland gevlug en hierheen gekom. Ek boer al vir twintig jaar, maar het hierdie plaas nou onlangs gekoop. Dis warm! Kom drink iets, dan vertel ek jou meer,” nooi Katya.

Terwyl hulle op die ruim stoep van die ou plaashuis sit, vertel Katya vir Daria meer van haar lewe en ontsnapping uit Rusland.

“Wow, so jy was werklik ‘n KGB-spioen? Ek is besig met my meestersgraad in geskiedenis en die Koue-Oorlog is een van die afdelings van my studie.”

“Hulle dink steeds ek is ‘n spioen,” lag Katya, “veral nou met Putin se oorlog.”

Daria kyk aandagtig na die lang blonde vrou. Sy lyk bekend, maar waar het sy haar voorheen gesien?

“Ek ken jou. Ek bedoel … ek het jou al iewers gesien,” sê sy.

“Dalk sal jy onthou voor jy weer kom kuier,” sê Katya. “Jy moet asseblief weer kom kuier. Ek is ‘n historikus. As geskiedenis jou studierigting is, het ons baie om oor te gesels.”

“Wat behandel julle nou in jou studies?” vra Daria se pa daardie aand. “Het jy nie gesê die Koue-Oorlog nie?”

“Die Anglo-Boereoorlog op die oomblik. Die Koue-Oorlog is die volgende module,” antwoord sy. Sy skuif haar boek eenkant toe omdat sy reeds weet wat nou gaan gebeur. Haar pa het ‘n geliefde storie oor hulle familie gedurende die Tweede Vryheidsoorlog wat hy elke keer herhaal wanneer daaroor gepraat word.

“My oupa, Johannes Joubert, was ‘n tjokkertjie van omtrent ses toe die kakies my ouma-grootjie met hom en sy vierjarige sussie teëgekom het waar hulle met die perdekar oppad terug was plaas toe. Hulle was ‘n afdeling van ‘n leër wat besig was om om ‘n koppie te probeer sluip om die boeremag van agter af aan te val.

“Die kommandeur van die afdeling het die soldate toe sommer ‘n paar van sy manne beveel om die vroue en kinders gevange te neem sodat hulle na ‘n nabye konsentrasiekamp geneem kon word.” Daria luister geduldig na haar pa se vertelling. Sy het die storie al soveel keer gehoor, maar haar pa geniet dit om die storie weer te vertel.

Hy vervolg: “Hulle beraadslag nog so, toe is daar ‘n oproer. Hier vertel sommige dat ‘n naakte vrou tussen die kakiesoldate deur gehardloop het. Ander sê weer sy het ‘n deursigtige wit gewaad aangehad en was ‘n spook of ‘n engel. Nietemin, soldate wat vir maande aaneen geen damesgeselskap gehad het nie, was gewaarborg om hulle koppe te verloor. Net daar storm die hele troep toe agter die vroumens aan … die vroue en kinders, sowel as die geheime aanval op die boere, skoon vergete.”

Daardie nag het Daria weer die droom en sy besef dat Katya die vrou in die rydrag op die perron is.

“Kan jy die spoorwegstasie in Rusland aan my beskryf, of dit teken?” vra Katya die volgende middag na Daria haar van die droom vertel het.

“Ek dink so,” antwoord Daria. Vir twintig minute konsentreer sy op ‘n skets van die bekende droomplek. Dan kyk sy op en glimlag. “Ek dink ek onthou die stasie se naam. Davinsk … lui dit ‘n klokkie?”

“Kom saam met my,” sê Katya. Sy stap vooruit na die stukkie veld waar Daria haar die vorige dag so skielik ontmoet het.

“Hierdie is ‘n kruispad waar die bonatuurlike kan gebeur,” vervolg sy as hulle by die plek kom waar die veldpaadjies kruis. “Vat my hand, Daria, en hou vas vir al wat dit werd is. Moet om hemelsnaam nie los nie. As jy soos ek is, gaan jy nou iets nuuts ervaar.”

Meteens voel Daria of sy val. Dis doodstil vir ‘n oomblik; en dan is hulle in ‘n groen vallei tussen berge – definitief nie meer op die Vrystaatse vlakte nie.

“Waar is ons nou?” vra sy bangerig.

“Die Anderwêreld, ook bekend as die Tussen-in-plek; of eenvoudig Feëland,” sê Katya asof sy ‘n doodnormale verskynsel verduidelik. “Kom, ons moet op daardie paadjie kom en gou ook. Hier is goed wat jy nie eers in jou nagmerries wil teëkom nie.”

Katya sleep haar tussen die lowergroen gras en hoë bome deur tot by ‘n lang strook sleutelblomme. Sy gee een tree tot bo-op die blomme en trek Daria agterna.

“Die arme blomme,” kla Daria. “Ons kan hulle nie so vertrap nie.”

“Dis die enigste manier,” sê Katya en begin vinnig aanstap. Sy vervolg: “Dink nou aan Davinsk Stasie, presies soos jy dit in jou droom sien. Ek sal lei, maar jy kan help. Moenie rondkyk nie. Hou jou oë op hierdie strook blomme, moenie struikel nie en konsentreer op die plek waar jy wil wees. Moet net nie my hand los nie; dit sal ‘n gemors wees as ons op verskillende plekke opeindig.”

Heimlik dink Daria dat sy liewer in haar ouers se huis wil wees as in ‘n vreemde soort van kammaland wat dalk die resultaat van ‘n versteurde Rus se verbeelding is. Kon Katya haar ‘n hallusinogeen ingegee het? Sy pluk haar gedagtes terug en dink aan die stasie waarvan sy al so lank droom.

Skielik voel Daria weer of sy val. Dis pikdonker en sy kry ‘n eienaardige gevoel dat sy vinnig in die rondte tol. Sy klou krampagtig aan Katya se hand vas.

Wanneer hulle uiteindelik tot stilstand kom, is Daria eers bang om haar oë oop te maak. “Waar is ons nou?” fluister sy.

“Ons is op Davinsk Stasie,” antwoord Katya. “Dis September 1942 en hierdie soldate is oppad na Stalingrad.”

“Hulle gaan ons sien en ons klere…” Daria beduie na hulle drag van denimbroeke en T-hemde.

“Goeie punt,” sê Katya en kies koers na ‘n donker kol tussen twee spoorweggeboue van waar hulle steeds die perron kan sien.

“Dit voel of ons in ‘n slaghuis se vrieskamer ingestap het,” bibber Daria.

“Ek vergeet soms van die koue as ek hierheen kom,” erken Katya. “Weet jy enige iets van die geveg in Stalingrad in die Tweede Wêreldoorlog?”

“Ons het dit nie intensief op skool of in my universiteitstudies behandel nie, maar ek het baie daaroor nagevors en rolprente gesien. Dit was so erg, ‘n soldaat se lewensverwagting daar was dertig minute. Wag, daar is hy! Daar is die man, of seun. Ek probeer hom altyd keer om te gaan. Kom ons keer hom!”

“Nee,” fluister Katya dringend en hou Daria se hand stywer vas. “Ons het deur tyd gereis. Een van die reëls is ons mag nooit, nooit iets doen wat die geskiedenis kan verander nie; ons mag net kyk. Weet jy wie is daardie agtienjarige seun? Dis Alexei Badinov … dis my pa.”

Daria se mond hang oop. Dan vervolg Katya: “Hy het van die huis af weggeloop om te gaan veg. Hy was reeds twee-en-veertig toe ek gebore is.”

Minute later fluister Katya: “Dink aan jou huis en die kruispad op my plaas.” Weer is daar die gevoel dat sy in die donker tol.

Daria is so verwonder deur die feit dat sy so pas ware geskiedenis beleef het, dat die terugreis met die sleutelblompad langs in ‘n waas verby gaan.

“So, dis waarheen jy gister was toe ek hier gekom het? Jy reis deur tyd. Hoekom, en waarheen gaan jy? Sekerlik nie elke keer na Davinsk Stasie toe nie?” vra sy vir Katya.

“Ek is ‘n skrywer van geskiedkundige fiksie, sowel as universiteitshandboeke – onder ‘n skuilnaam natuurlik. Wat is makliker as om op die toneel van ‘n geskiedkundige gebeurtenis te wees om absoluut feitelik daaroor te kan skryf?”

“Vergeet jy elke keer van die klimaat in die geskiedkundige plek waarheen jy gaan?” vra Daria met ‘n senuweeagtige laggie. “Ek vra, want in my herhalende droom het jy altyd moderne perdryklere aan.”

“Dit was die eerste keer toe ek daar beland het en dit was totaal onwillekeurig. Ek het van my perd afgeval op presies so ‘n deurgang na die Anderwêreld as by die kruispad hier,” erken Katya. “Een van Stalin se manne het my opgemerk en ek moes vlug vir my lewe en destyds het ek nog nie so mooi geweet hoe om vinnig met die blommepaadjie langs terug te kom nie. Gewoonlik probeer ek om aan te trek sodat ek by die historiese plek waarheen ek gaan, sal inpas.”

“Op die oomblik is ek besig met ‘n verhaal wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog afspeel. Ek gaan binne die volgende twee weke ‘n paar keer Die Slag van Die Somme besoek. Dit was ‘n veldslag in daardie oorlog en daar is meer as ‘n miljoen mense dood in die vier-en-‘n half maande wat die geveg geduur het. Jy kan saamgaan as jy wil. Ek sal jou dan begin leer hoe om by die regte plek op die regte tyd uit te kom,” nooi Katya die volgende week gedurende een van hulle kuiertjies.

“Ek sal graag wil gaan,” sê Daria.

Hulle reis elke tweede dag op verskeie tye gedurende die bekende veldslag. Snags droom Daria nie van die Davinsk Stasie nie, maar van die grusame tonele in die modderige Tweede Wêreldoorlog loopgrawe.

Die laaste keer, wanneer hulle die einde van die veldslag gaan waarneem, lê ‘n afdeling feësoldate op eenhoorns hulle voor waar hulle op die sleutelblompad moet kom. Katya gee vir Daria ‘n verroeste ysterdolk om haarself mee te verdedig.

“Ek kán skiet. Jy kon my ‘n geweer gegee het,” sê sy terwyl haar hart in haar keel klop.

“Die feë kan nie die aanraking van yster verdra nie, so dis jou beste wapen,” antwoord sy. “As hulle weet ons het yster by ons, sal hulle ons uitlos.”

“Dink jy ons kan ‘n veldslag in die Tweede Vryheidsoorlog besoek?” vra Daria. “Ek is nou amper klaar met die studie wat daaroor handel, maar ek sou graag eerstehands wou sien hoe dit gelyk het.”

“Het jy ‘n spesifieke slag in gedagte?” vra Katya.

Daria probeer onthou watter veldslag haar pa altyd van vertel, maar sy kan nie onthou dat hy ooit ‘n spesifieke plek of datum genoem het nie. “Nee, enige een sal seker werk. Ek het al die teoretiese inligting; ek sou net graag die persoonlike ervaring wou hê,” antwoord sy.

Hierdie keer bereik hulle die sleutelblomme sonder voorval. Toe hulle begin stap en Daria weereens jammer voel vir die blomme wat so vertrap word, noem Katya die slag wat sy gekies het en verduidelik vir Daria hoe om op die plek en presiese datum te konsentreer.

“Hierdie veldslag het kort voor sononder plaasgevind, so jy moet ook ‘n laatmiddag in jou gedagtes hou. Visualisering is die sleutel om presies op die regte tyd by ‘n plek in tyd aan te kom,” verduidelik Katya.

Weer ervaar Daria die nou bekende gevoel dat sy val en tol. Dan staan hulle op ‘n randjie met die ondergaande son agter hulle. Links van hulle is die Boereleër en na regs die Engelse.

Terwyl hulle kyk hoe die gevegslinies mekaar nader, sien Daria hoe ‘n groep Engelse soldate hulleself van die hoofmag afskei en suutjies om die koppie waar hulle staan begin beweeg.

“Waar gaan hulle nou?” vra sy.

“Ek dink hulle gaan die Boere van agter af bekruip,” sê Katya. “As mens honderde veldslae oor die eeue gesien het, begin jy leer wat in die bevelvoerders se koppe aangaan.”

Daria draai weg van die veldslag af om die klein groep soldate dop te hou. Dan sien sy dit: Reg in hulle pad ry ‘n perdekar met ‘n vrou en kinders. Die groep se bevelvoerder merk hulle op en stuur vier van sy manne agter hulle aan.

“Ons kan nie dat daardie barbare die vrou en kindertjies vang nie!” sê Daria ontsteld. “Ek gaan hulle keer!”

“Jy mag nie,” sis Katya en gryp haar mou.

“Ons kan nie toelaat dat hulle gevang word nie. Die veldslag sal ook verlore wees vir die Boere as hierdie afdeling hulle van agter af aanval. Het jy nie gesien hoeveel meer Engelse as Boere daar is nie?” stry Daria.

“Die reël is …”

“Na die maan met die reëls! Ek sal daardie klomp jong haantjies laat omdraai en vergeet van alles!” Sy pluk haar klere uit tot sy net ‘n wit hardloopbroekie aan het. Katya gryp nog na haar, toe is sy weg en Katya staan net met Daria se kakiebaadjie in haar hand.

Daria is ‘n mooi en atletiese meisie en sy het reeds die rekkie uit haar rooiblonde hare gepluk sodat dit soos ‘n vlag agter haar waai as sy soos ‘n bokkie teen die steilte af draf.

Een soldaat merk haar op en fluit. Dit trek sy makkers se aandag en binne ‘n minuut kyk die hele groep van omtrent dertig manne vir haar. Die vier wat die vrou en kinders moes voorkeer, draai ook om om te sien wat aangaan.

Binne minute is daar chaos en niks wat die bevelvoerder skree dring tot die soldate deur nie. Hulle vrouens en meisies sit in Engeland; en na maande op die oorlogsveld is ‘n mooi meisie wat naak oor die veld hardloop vir hulle soos water in ‘n woestyn.

Daria haal uit soos sy nooit eers op die sportveld gedoen het nie. Agter haar klap perdepote. Sy mik in die teenoorgestelde rigting van waar die vrou met die perdekar is. Daar is ‘n bebosde kol en ‘n sloot waar die soldate nie vinnig met hulle perde sal kan beweeg nie. Heimlik hoop sy dat Katya haar dophou en haar daar sal ontmoet.

Kort voor die eerste Engelse ruiters haar bereik, tuimel Daria teen ‘n wal af en tot voor Katya se voete. Sy gryp die hand wat Katya na haar toe uit hou en onmiddellik begin die wêreld tol.

“Ek vat jou nooit weer saam as jy sulke goed gaan aanvang nie,” raas Katya. Daria sien die geweldadige Rus in die ouer vrou se houding en sy voel hoe haar bene begin bewe.

“Het die vrou en kinders weggekom?” vra Daria.

“Hulle het tussen ‘n klomp bome verdwyn. Die vrou het die perdekar soos iets uit die Wilde Weste laat jaag,” antwoord sy steeds met ‘n kwaai frons op haar gesig.

Dan vertel Daria vir Katya van hulle familie-legende.

“Dit was bestem. Jy was die gesin en die Boeremag se beskermengel,” sug die Rus en word weer die joviale tydreisende boerin wat Daria leer ken het.

Waarheen gaan ons volgende?” vra Daria.