Helen Pretorius – Tweede Plek (WF)

Vreemd Vlieënde Leiklip met Rooi Ysterstof

geskryf deur

Helen Pretorius

Professor Pauw, hoekom staan u hier so alleen in die lange gang met u kop op u arms teen die deurhandvatsel geleun? Voel u sleg?”

Die ouman druk homself regop.

Ag Jongman, ek het vergeet om my sleutel by die ingang te vat, en dis baie ver om terug te stap, trappe op tot op grondvloer en weer die amper kilometer gang tot hier. Ek het sekuriteit gebel om my sleutel vir my te bring, maar niemand kom nie, hier is ook nie sitplek nie, en my bene wil padgee onder my.”

Wel Prof, ek is ’n sekuriteitsbeampte en ek is toevallig nou hier in die omgewing.”

Jongman, sal jy dan asseblief gou vir my my sleutel kan gaan haal? Jy lyk vir my mos nog jonk en fiks?”

Prof, ek sal solank vir u met my eie sleutel oopsluit, en dan daarna u sleutel vir u gaan haal.”

Dit kan werk, baie dankie.”

Die jongman tree vorentoe en haal sy sleutel uit sy sak en sluit sonder omhaal oop en maak die deur vir die prof oop.

Daar’s hy Prof. Ek bring bietjie later u sleutel vir u.”

Die ouman strompel na binne. Die jongman help hom om op ’n laboratorium stoeltjie te sit.

So ja, dis beter. Gee my asseblief net gou ’n glas water om te drink voordat jy gaan? Daar in die waterhouer. Die drinkglas staan bo-op.”

Gretig neem die professor die glas by die jong man in die blou uniform. Hy sluk die een na die ander glas water. Die jongman is verstom.

Hoekom is u so vreeslik dors Prof? U sluk water soos ’n kameel in die woestyn?”

Sektor 51 ís in die woestyn… en dit is nog warm somer daarby!”

Prof maar die bussie laai u langs die ‘Janetvliegtuig’ op en vóór die deur van die gebou af… u kan nie só dors wees van die stap tot hier nie?”

Jy is op en wakker jongman, ja ek het eers bietjie op die terrein rondgeloop vanoggend.” Die jongman frons.

Die ouer man het beslis weer sy kragte herwin, maar die vraag is: Waarom sal so ’n ouman buite rondloop, en dan nog met ’n verkyker om sy nek.

Sien bietjie later Prof.” Dis duidelik dat die prof se aandag nie meer by hom is nie, want hy het alreeds voor ’n mikroskoop ingeskuif.

Daar is ’n klop aan die deur. Die prof maak oop.

Ag baie dankie, jy het woord gehou en my sleutel gebring. Baie baie dankie jonge Man vir al jou hulp.”

Dis ’n plesier prof,” en hy draai om om sy loop te kry, maar die prof roep hom terug.

Kom bietjie hier, ek wil jou ’n paar vrae vra.”

Verbaas staan die sekuriteitswag nader. Die prof stap vooruit en hy moet onwillekeurig agterna totdat hulle by die tafel kom. Die prof gaan sit en bied hom ’n stoel aan…”Ek mag nie sit nie Prof, ek is op diens.”

Wel sit dan op ’n labstoeltjie, dan lyk dit of jy staan,” grap die prof.

Moenie dink ek is wantrouig nie, maar toe jy netnou my deur vir my oopgesluit het, het jy net één sleutel gehad met ’n snaakse witterige sleutelhouertjie in jou hand.” Flip maar die prof is oplettend! frons die jongman.

Wag, kom dat ons só begin: wat is jou naam?” Weereens frons hy. Wat is die ouman se storie? Die ongewone toenadering. Kan hy aanvoel ek wil nie my sleutelhouer vir hom wys nie?

Wel jy weet wat is mý naam, so dis seker nie teen die wet as ek vra wat jou naam is nie? Ons het al dikwels hier in die gange by mekaar verbygeloop en met ’n kopknik gegroet?” Ja wel dit is waar, dit sal seker nie sonde wees as ek vir hom sê nie.

Ja wel Prof ek is Johnie Leaham. Johnie Klipkop my pa altyd gesê.”

Leef jou pa nog?”

Nee Prof hy is verlede jaar oorlede,” sluk die jongman. Die prof maak of hy dit nie sien nie.

Ek vermoed julle was baie na aan mekaar?”

Hoe sou die ouman dit weet?

Ja ons was baie naby aanmekaar want my ma is al dood toe ek nog ’n laaitie was.”

Ek verstaan dit, want ek het nie kind of kraai nie. My vrou is ook verlede jaar dood en nou probeer ek myself maar in die werk en navorsing verdrink.” Vir ’n oomblik is hulle albei stil, dan vervolg die prof weer: “Kom groet asseblief elke dag wanneer jy jou rondtes doen… voëls van eenderse vere kan seker maar vrinne wees?”

Dis reg so Prof, ek sal so maak.” Die arme ou man. Hy is seker reg. Ek het darem al twee bolangse pêlle, maar hy het seker niemand nie, want hy is maar van die begin van hierdie jaar af hier by die metalurgiese navorsingslabs. Nou verstaan ek hoekom ek al agtergekom het hy werk so baie oortyd. Dis nie vir geld nie, dis van eensaamheid!

Klop klop. Die deur gaan oop. “Môre Prof, ek het vanoggend bietjie vroeër op diens gekom en toe gesien u was alreeds hier in die lab besig? Is alles nog reg?”

Jongeman, is dit al môre? As mens hier binne so diep onder die oppervlakte werk, met al die kunsmatige ligte om jou, kom jy nie die tyd agter nie!”

Het u dus deur die nag gewerk Prof?”

Ja, dit gebeur dikwels, want as ’n mens ’n eksperiment begin het, moet jy aanhou en dit voltooi. Jy kan nie sê nou is dit tjaila tyd nie. Daarom het ek gevra dat hulle vir my ’n uitskopstoel voorsien, dat ek so tussendeur my wekkertjie kan stel en vir ’n paar minute ’n uiltjie kan knip, voordat die ekperiment verder gevoer moet word.”

Wel Prof nou maak baie dinge vir my sin… Hoe lyk dit Prof? Ek het ’n paar minute tyd…”

Ha, dalk kan ons saam ’n ou koffietjie drink? Boeretroos, soos hulle dit in Suid-Afrika noem.”

Suid-Afrika?”

Ja ek en my vrou was vir ’n jaar lank in Suid-Afrika waar ek by die Meerkat, die magnetieseteleskoop stasie gewerk het. Ek moes vrywilligers help oplei vir die EZI-projek wat NAVO beoog het.”

Dit klink baie interessant Prof. As dit nie geklassifiseerd is nie, vertel my bietjie meer ivm dié projek.”

Nee wat, dis nie geklassifiseerd nie, enigeen kan op internet daarvan lees. Ek weet nie of jy besef nie, maar die pragtige skouspelagtige Aurora Borealis, of te wel ‘Noorderligte’ is in werklikheid ongeveer twee miljoen metrieke ton elektriesgelade partikels van die Son, wat dan as geomagnetiese solarwinde die aarde se atmosfeer in die poolstreke tref. Dit is mooi om te sien, en word al hoe meer ’n toeriste attraksie, maar ongelukkig vorm dit ’n bedreiging vir ons sataliete en noodsaaklike kommunikasiesisteme en -strukture, in die ruimte, sowel as op die aarde.”

Wow nee, ek het as kind daarvan gedroom om ’n ruimtereisiger te word, nouja, ek was my lewe lank nog maar altyd in hierdie omgewing, en sien maar net altyd die video’s van dié pragtige ligverskynsels. Ek het nie besef dit is magnetiese storms nie, of bewoord ek dit nou verkeerd in my onkunde?”

Nee, jy is honderdpersent korrek en al die tornado’s, lewensbedreigende storms wat die aarde deesdae tref al méér dikwels tref, asook die voortbestaan van die aarde hou daarmee verband.”

Maar as ek reg verstaan is die aarde se magnetisme die sleutelfaktor?”

Presies! Die missie van EZIE-projek is om magnetiesevelddata oor die hele wêreld te versamel binne ’n spesifieke tydsraamwerk. Hulle het dosyne EZIE-Mag magneto-meter stelletjies laat bou, wat NAVO wêreldwyd onder studente in verskeie lande versprei het. Burgerlike wetenskaplikes was ook gewerf om deel te neem. Hierdie studente moet dan op spesifiekte tye, magnetieseveld data op die grond in hul eie omgewing versamel, waarteen hulle die EZIE (Electrojet Zeeman Imaging Explorer) se magnetiesevelddata uit die ruimte kan vergelyk. Ek moes die studente en vrywilligers in SA gaan oplei hoe om met die metertjie te werk en hul waarnemings aan te teken. Hierdie dataverwerking sal dan in die toekoms help om vooraf kennis te dra van lewensbedreigende weerpatrone.”

Nou wanneer skop hierdie projek formeel af Prof?”

Die werklike essensiële opnames word eers later vanjaar gedoen, wanneer die sogenaamde ‘solar maksimum’ fase bereik word. Dis ‘n 11 jaar projek… en ons hoop die aarde oorleef…”

Wel Prof, ek en my beste vriend hier op die basis, is albei as burgerlike wetenskaplikes geregistreer en ons neem jaarliks aan die wêreldwye plant- en insekte opname deel. Jy gebruik ’n spesifieke toep op jou selfoon en neem plante en insekte in jou omgewing af en stuur dit in. Ek weet dit is ’n heeltemal ander wetenskapsveld, maar as dit kan, sou ek en hy graag aan die EZIE projek ook wou deelneem.”

En waar in watter omgewing neem julle gewoonlik deel Jongman?”

Met spesiale toestemming doen ons dit hier binne Area 51 se grense Prof. Soos u weet, mag niemand van die personeel van Area 51 ’n selfoon by hulle hê nie, maar ons word jaarliks spesiaal vir dié geleentheid met ’n selfoon toegerus wat ons weer moet inhandig.”

Dit is baie interessant. Ons moet uitvind… soos reeds gesê, die EZIE hoogtepunt vind jaar later hierdie plaas, en ek kan julle sommer persoonlik hier op die basis oplei. Ek het toevallig ’n paar van die magneto-meter stelletjies hier in my lab se stoortjie.”

Hy sluk sy laaste koffie weg. “Dit sal wonderlik wees Prof! Voordat ek weer pad vat, sê my net, wat is nou eintlik u veld van ekpertise, want die deurbordjie sê net LABORATORIUM?”

Wel ek was aanvanklik ’n Kwantum Fisikus aan die Universiteit van Melbourne in Australië — ‘n Kwantum in fisika is die kleinste, ondeelbare hoeveelheid van enige fisiese entiteit wat in ‘n interaksie betrokke kan wees. NASA het my daar gewerf om te help om kwantumrekenaars te ontwerp en te bou, en sedertdien het hulle my in baie terreinvelde gebruik. Hoewel hierdie laboratorium ook vir metalurgie ingerig is, vermoed ek hulle het my hier na Sektor 51 gebring om te help met Helio Fisika Divisie saam te werk – geologiese ruimtelike metalurgiese artefakte na te vors.”

Helio Fisika ?”

Ja hulle is die ouens wat die ZETIE PROJEK bedryf. Behalwe vir drie klein sateliete wat elkeen ’n mikrogolf-elktrojetmagnetogram dra wat in formasie soos ‘n string ingerygde pêrels twee tot tien minute weg van mekaar, elke tien minute die aarde van pool tot pool omseil, het NASA nog ’n hele vloot strategies geplaasde ruimtetuie en sateliete in ons aarde se heliosfeer. Die idee is om hollistiese waarneming te doen tov die son se natuur en sy invloed op die natuur en die vloei van partikels in ons planeet se ruimte, soos bv die ontstaan en die fors van die moesonwinde en kosmiese storms. ”

Ek verstaan nou nie alles waarvan u praat nie Prof, maar is Voyager dalk één van die ruimtevaartuie wat u na verwys het?”

Presies! Net so! Jongman, jy is baie skerpsinnig vir ’n leek.”

Dankie vir die kompliment Prof. Ek het wel basiese fisika, wiskunde en wetenskap op skool gehad, maar ek kon nie universiteit toe gaan nie. Ek egter sal nou moet hardloop om my rondtes op tyd te voltooi,” en soos ’n ribbok spring die jong veiligheidswag opgewonde by die deur uit.

Wat ’n merkwaardige jong man, dink die professor voordat hy hom weer in sy ekperiment verdiep…hierdie stukkies rots en ander specimens of te wel monsters wat ek gister op die terrein versamel het, is baaaie interessant. Hierdie ligte witterig een is iets ongewoons… baaaie ongewoon.

Die koffiekuiers was verslawend vir albei partye. Die ouman het ’n intelligente “seun” gevind, en die jongman ’n tweede pa-figuur. Die leergierige Johnie het deel geword van die prof se ontleding van die klipmonsters van die terrein. Die buitengewone stukkie witterige materiaal, wat die prof so fassineer, lyk vir hom baie bekend, maar…

Prof, volgende week gaan ek op grenspatrollie en ek sal u dan vir ’n paar dae nie sien nie.”

Ai my Seun, ek sal jou mis, maar kan ek ’n guns vra: As ek vir jou ’n pakkie maak met houertjies en plakkerjies, sal jy asseblief vir my klipsteen monsters bymekaar maak so ver as jy gaan? Al wat jy hoef te doen, is om elke keer as jy ’n klippie optel, dit in die houertjie te gooi, die GPS — geoposisionering apparaatjie — te gebruik, die eksakte koördinate op die plakker aan te teken en op die houertjie te plak soos ek anderdag gedoen het, die dag toe jy my so stokflou in die gang ontmoet het.”

Natuurlik sal ek dit met graagte doen Prof. Enige spesifieke versoeke?”

Ja asseblief: Daardie twee koppies net agter die riooldamme. Dis waar ek daardie witterige stukkie grondmateriaal opgetel het, wat ek tot dusver nie kon identifiseer nie. Kyk asseblief jy nóg so-iets daar sien rondlê.”

G’n wonder u was daardie dag so pootuit nie, dis ’n paar kilometer van hier! Ek sal spesifiek bietjie rondkyk… dis nie ver van die lyndraad nie.”

Ag dankie my Seun, ek gaan na jou daaglikse kuiertjies verlang.”

Klop-klop-klop. Die wit gejaste man kyk op.

My ou Seun, jy is terug! Hy storm vorentoe en omhels die jonger man. Hy hou hom ’n paar tellings vas voordat hy laat gaan. Johnie besef hy het hierdie tweede pa van hom ook gemis.

Prof, ek het net gou die pakkies kom afgee voordat ek huis Mercurius toe gaan, om te gaan skoonskrop, dan kom ek vanmiddag terug om terugvoering te gee.”

Die effens oop labdeur verwelkom hom.

Johnie, jou materiemonsters bevestig my vermoedens en teorie ivm die samestelling van die terrein. Daardie ronde koppie anderkant die rioolplaas moet beslis nagevors word!”

Dis die eerste keer dat hy my op my naam noem. Sal ek hom help,of moet ek hom maar op sy eie laat aanploeter totdat hy by die antwoorde uitkom? Hier heeltemal op sy eie het hy alreeds uitgepluis die ronde koppie is iets spesiaals…

Jy is diep ingedagte my jong vriend… waaraan dink jy?”

Sy fletsblou oë kyk die ouman amper middeldeur.

My pa het voor sy dood opdrag gegee ek moet ’n oog hou oor die twee koppies, maar ek dink my pa sou tevrede wees as ek met u deel wat ek weet. Die kennis sal in goeie hande wees en u sal weet wat om daarmee te doen.”

Die ouman frons maar wag geduldig. Hy het al lankal vermoed hierdie jongeling is ’n boorling van die area en weet meer as die gewone werker hier in Area 51.

Ek is in hierdie area gebore. Dit was eers my oupa Patrick Sheaham se plaas. Ons plaashuis, of laat ek sê die bouvalle van ons plaashuis is aan die agterkant van die twee klipkoppie. Na my ma en my oupa se dood, was dit net ek en my pa James. Ek het in Las Vegas skoolgegaan en vakansies het die skoolbus my naby die koppie en die klip afgelaai.”

Die klip?”

Daardie koeëlronde koppie, was voorheen net ’n groot plat ysterklip… groot genoeg om ’n helikopter op te land. Ek het altyd daarvan gedroom dat ek eendag vir my ’n helikopter sal koop, want ek het reeds ’n landingsplek.”

En toe land iets anders op jou landingsplek?” sê-vra die prof.

Johnie se kop ruk!

Ja toemaar Johnie, ek het al lankal agtergekom onder daardie berg gebreekte leiklip is een koeëlronde ystervorm versteek. Ek is dankbaar jy vertrou my genoeg om jou kennis met my te deel. Vertel nou maar rustig verder. Elke klein detail sal help om die geheim te ontrafel, want ek is seker daar is baie vrae waarvoor jy ook nie antwoorde het nie.”

Terwyl hulle aan die boeretroos teug, ontvou die res van die storie soos wat Johnie dit onthou.

Dit was een wintersnaweek. Ek was soos gewoonlik vir die vakansie tuis. Alles het op ’n sneeustorm gedui. Ek en my inboorlingvriende wat op die plaas gewerk het, moes die bokke bymekaarmaak en in die grot, voorheen ’n silwermyn, agter die huis toemaak vir veiligheid. Die uitgewerkte myngrot, was ons winterspens. Dieper in was kos soos bokmelkkaas, neute, ingemaakte vrugte ens in netjiese rakke en kaste gebêre. Daar was selfs ’n natuurlike fonteintjie wat saggies watertjies in ’n poeletjie gedribbel het. Voor in die grot was kos, droë hout en skuilplek vir die diere. Toe die storm dus toeslaan was ons almal, mens en dier van Klipplaas, veilig en beskut.

Die storm het getier soos nog nooit tevore nie en toe daardie aand het daar tussen die weerligstrale deur ’n groot vuurbal uit die lug op die klipplatform neergedaal. Dit het die hele omgewing laat tril en ysterstof die lug in geslinger. ’n Stofstorm soos nog nooit tussen die sneeu deur. Die volgende oggend was alles stil en uitgewoed. Ons huis se dak was afgewaai en bo-op my klipplaat het ’n stofdeurdrenkte, afgeplatte ronde lugtuig gestaan. Ek en my pa het nader gegaan om te gaan kyk, maar my Pioti-vriende het pad gevat en ek het hulle nooit weer gesien nie, want hulle het geglo die hemelgode het ons kom aanval.”

Die prof hang aan Johnie se lippe.

Wie het jy en jou pa gedink is dit?”

Ons het besef dit is waarskynlik een of ander buiteruimtelike vaartuig wat in die moeilikheid beland het as gevolg van die sterk magnetiese storm waarna u gister verwys het toe u van die Zeti-projek gepraat het, of is ek nou voor op die wa om die twee sake bymekaar te bring?”

Jongman, ek dink jy is briljant in jou afleiding, want dit is presies soos ek ook redeneer, maar gaan aan, ek wag in spanning.”

Toe ons langs die vaartuig kom, was daar ’n oop deur wat ’n loopplank na buite gevorm het. Ek en my pa het geroep en gefluit om aandag te trek en ’n langerige maer bleek man met vreemde gelaatstrekke het in die deuropening verskyn. Hy het ons nader gewink en toe ons binne-in die vaartuig kom kon ons sien wat sy probleem was. Sy twee medereisigers het uitgestrek op die vloer gelê. Die een het ’n kopwond gehad, waaruit ’n wit jellie-agtige vloeistof gebloei het. Die ander het geen sigbare wonde gehad nie, maar hy was potblou, met ’n groot knop op sy lang maer voorkop.”

Daar was dus drie passasiers maar twee was buite aksie?”

Johnie knik.

Die een wat nie beseer was nie, was duidelik moedeloos en uitgeboul met die situasie.”

Hoe het hy met jou en jou pa gekommunikeer?”

Gebare en beduie. Hy het sy mond beweeg maar ons kon niks fisies ‘hoor’ nie. Ons het hardop met hom gepraat en baie beduie om onsself verstaanbaar te maak, want ons het aanvaar hy kan ons nie hoor nie — wel, dit het nie gelyk asof hy ‘ore’ het waarmee hy ons kon hoor nie, tog was dit asof ons mekaar makliker verstaan het as wat ’n mens sou verwag.”

Was jy en jou pa bang of beangs toe julle die vaartuig binne-gegaan het?”

Nee, geensinds. In teendeel, dit was asof ons kon aanvoel hy het ons nodig… dat hy beangs was en gehoop het ons kan hom help.”

En kon julle hom toe enigsinds help?”

Ons het hom gehelp om sy twee mede-passasiers terug te sit in hulle stoele. Hy het die stoele in ’n sit-lê posisie gestel. Hy het toe sy vriende se koppe tevergeefs heen en weer gedraai, asof hy gehoop het hulle sal bykom. Ek het toe vir hom beduie ek gaan hulp soek, waar weet ek nie, maar toe gebeur daar iets anders. Hy het iets in sy hand, ek kon nie sien wat nie, maar toe hy met sy hand oor die bemorste area waar die jellieagtige stolsel lê vee, toe is dit sommer net vanself skoon!” Die prof sit met wydgerekte oë en luister na Johnie se vertelling.

Die man stap toe na die deur van hul tuig, en wys vir my iets soos ’n sleutelgat binne en -buite, regs onder langs die snaakse afsakdeur. Toe gee hy die klein voorwerpie in sy hand vir my en beduie ek moet dit as ’n sleutel gebruik vir die deur wanneer ons terugkom. Ek kon sien hy is tot die dood toe moeg en aanvaar hy gaan nou slaap. Ek klim toe vinnig eerste uit nadat ek vir my pa gesê het ek vinnig huistoe gaan om kos en vervoer te gaan kry na die naaste dorp toe. Pa sê toe hy sal self vir die kuiergaste kos bring, ek moet net vir myself sorg, want padlangs na die naaste beskawing is dit ’n dagreis met die fiets, en deur die berg na die hoofpad toe een-en-‘n-half dag. Al kom ek ook naby die hoofpad, is dit egter ook nie ’n feit dat ek opgelaai sal word nie, want die hele area is waarskynlik onbegaanbaar agv die vorige nag se storm. Pa gee my toe instruksie ek moet die ‘sleutel’ wat die man gegee het by die ingang van die grot onder die platklip bêre. Hy sal dit daar kry en saambring voor hy terugkom met kos vir die gaste.”

Ek was skaars by die huis, en pa nog oppad huistoe, toe hoor ons ’n helikopter. Pa het gaan staan en arms geswaai om aandag te trek, maar die vlg oomblik begin hulle vanuit die helikopter op hom skiet. Pa val plat, hulle spring uit die heli, neem pa gevange en die res van die gewapende militêrehelikopterspan storm op die vreemde vaartuig af, onbewus van my bestaan. Net daar en dan het ek besluit hulle moet onbewus blý van my teenwoordigheid. Nadat ek die diere versigtig een vir een uit die grot uitgelaat het, het ek op die koppie tussen die klippe geskuil en die indringers met ’n verkyker bespied. Vir ’n week lank het ek die spulletjie dopgehou. Dit het gewemel van helkopters en soldate en ons eens rustige plaas het in ’n groot geheime miernes ontwikkel.”

Gewapende soldate was wel by ons huis, gesien die dak was weg, meubels soos vuurhoutjiedosie rondgesprei en verwoes, selfs die diere se sneeu besprinkelde mis en spore gesien, maar nooit die ingang van die grot ontdek nie. Hulle het blykbaar op die oog af besluit daar is niemand lewend in die omgewing nie.”

Ses myl laer af, rondom my klip, was dit egter ’n miernes van bedrywighede. Helikopters het fotograwe, ondersoekers en wetenskaplikes gebring en dag en nag die lugruim beman. Behalwe dat gewapende soldate gekeer het dat geen ongemagtigde naby die klip met die tuig kom nie, het landmeters begin strepe trek.

Twee grondgrawermasjiene wat met ’n trok afgelewer is, het lang slote begin grawe. Kamma rioolslote tot waar ons vandag in hierdie geboue sit.”

Jy bedoel…gange vanaf die geboue vir laboratoriums en kantore vir ondersoekers om tot by die vaartuig te kan kom?”

Presies dit Prof, want hulle moes die vaartuig op die platklip vinnig ondersoek en daarna kamoefleer, sodat dit nie uit die ruimte bespied kon word nie.”

So daardie ronde hoop fyn leiklip wat soos ’n koppie lyk, is die gekamoefleerde tuig van jou buiteruimtelike vriende?”

Ja Prof.”

Verslae sit die twee daar. Elkeen vasgevang in sy gedagtes. Johnie, verlig dat hy sy groot geheim met die prof gedeel het, en die prof verslae dat sy eie vergesogte teorie blyk waar te wees.

Daardie stukkie wit gesteente wat ek anderdag opgetel het…deeltjie van die legkaart… Johnie, daardie sleutel waarmee jy vir my oopgesluit het, dit was die sleutel wat jy by die ruimtebesoeker gekry het” kom die retoriese vraag.

Hulle pak die vrag wat op die trollie was in die laboratorium af. Dan maak die sterk jongman die tafel se stoel op die trollie staan en wag dat die prof opklim en in die stoel sit.

Druk die stophorlosie Prof.”

Hy sluit die lab se deur en dan gaan hulle die ellelange gang af. Aan die einde van die gang, langs die trappe, is ’n deur. Johnie haal sy sleutel uit, sluit oop, en sluit weer agter hulle.

Druk weer die stophorlosie Prof.”

Sy elektroniese koplamp sny ’n pad in die donker. Die rowwe gegote sementmure is noupassend om hulle. Die omgewing is verstikkend benoud sonder lugvloei en die prof verstaan waarom Johnie dit as gegote rioolpype beskryf het — Blykbaar is dit die indruk wat onder die werksmense geskep is…dis net dat hierdie spesifieke ‘rioolpyp’ nooit in aksie geswaai is nie… dis nie waarvoor hy geskep is nie… hierdie is volgens hom as ’n spesiale “snelweg” wat na die klipkoppie lei geskep.

Johnie kan voel sy energie taan. Hulle sal moet omdraai. Sonder om te praat of te verduidelik, begin hy die trollie terugstoot. By die trapdeur druk die prof weer die stophorlosie. Hulle eerste navorsingsrondte is amper voltooi. Nou nog net weer die stoel afhaal en die vrag terugpak op die trollie, dan is hulle veilig.

Na ’n weke se fyn beplanning, word ‘die sleutel,’ die sleutel tot hul doel, en die laboratorium die basis vanwaar hul projek bedryf word. Gelukkig doen niemand navraag waarom die prof so baie suurstofsilinders vir die laboratorium bestel nie. Johnie ontvang dit bo-gronds en lewer by die lab af. Die trollie werk oortyd. Om langlewe kos en drinkgoed in te smokkel is egter die moeilikste want dit is nie iets wat die professor vir die laboratorium kan bestel nie, en kos móét hulle hê. Mens pak nie langpad aan sonder kos nie.

Johnie kry hoendervleis, want dit laat hom onthou hoe hy daai tyd as tiener vir hom ’n rugsak met kos uit die grot se voorraad gepak het om van die plaas af te ontsnap. Hoe hy koes-koes berglangs moes beweeg het sodat niemand hom sien nie. In LA het hy in die bib se koerant gelees dat die regering Klipplaas as regeringsgrond verklaar het en dit afgekamp het as deel van Area 51 se verbode gebied. Hulle het beweer die Russe het ’n bom daar gegooi en dit kan radioaktief wees. Voortaan sal dit deel vorm van Area 51 en iemand word daar toegelaat nie. End van die prent. Toe hy lees hulle het beweer die eienaar van die plaas en sy seun is albei dood in die ontploffing, het hy besluit hy beter dan sorg dat niemand in die dorp hom sien en herken nie… hy moet maar ‘dood’ bly!

Eers vyf jaar later het hy sy pa in ‘n sielsieke-inrigting heel in die noorde van die VSA opgespoor, waar hy doelbewus as ’n skisofreen gebrandmerk en toegesluit was. Hoewel sy pa, wat relatief jonk in jare was, hom herken het, was sy gees gebroke en die biblioteek was sy enigste toevlug. Johnie het vir homself ’n werk as sekuriteitsbeampte by die inrigting gekry en gereeld by sy pa gekuier sonder dat iemand agtergekom het hulle is familie. Vir die buitewêreld was hulle albei ‘dood’ maar vir mekaar het hulle gelewe.

Na sy pa dood, het hy weer doelgerig koersgekry na sy geboorteplek met die groot geheime — Area 51. Hy het teen hierdie tyd in sy lewe lankal besef dat sy beroep as sekuriteitsbeampte toegang bied tot geslote gebiede, en het op dié manier weer hier geland. Dit het egter amper ‘n jaar geduur om tot op die regte plek verplaas te word, vertroue in te boesem en aanvaar te word. Eers nadat hy van tyd tot tyd begin grenspatrollies doen het, het hy kans gekry om ongesiens by die grot uit te kom en sy ‘sleutel’ onder die klip by die ingang te gaan haal. Gaandeweg het hy ontdek dit kan enige gemors skoon vee; énige deur oopsluit; radarstrale tel dit nie op nie; dit kan ligte op ’n afstand aan- en afskakel en hy het dit soos sy lewe beskerm. Dit altyd op sy geheime plek buite die geboue en buite die oog van kameras, gaan wegsteek en nooit saamgeneem wanneer die vliegtuig hulle uit die basis uit gevlieg het nie.

Dis met ’n swaar hart dat hy dié Maandagoggend aan die lab se deur klop en toe hy die deur oopmaak, lees die ouman sy liggaamstaal.

Uit daarmee my Seun… wat pla?”

Prof, die storie loop in die dorp rond dat die regering binnekort ’n nuwe eenheid hier in Area 51 gaan vestig om navorsing te doen ivm VVV’s!”

Johnie my kind, moenie te veel bekommer nie, ons het nie meer baie tyd nodig nie… voordat hier vreemdelinge aankom is ons vort!”

Prof bedoel?”

Ja, ek bedoel ek het die laaste elektromagnetiese probleempie hierdie naweek terwyl jy weg was uitgesorteer. Ons moet nou net die apparaatjie terugvat na ons lugtuig toe en gaan herinstalleer.”

Johnie se hart klop in sy ore van spanning. Hy hoop die ouman is reg, want dinge word nou té vinnig na sy sin op die spits gedryf. Hulle kan nie nóú bekostig om uitgevang te word nie!

Ek kom tienuur hier aan, dan is ek klaar met my oggendrondtes.”

Johnie weet dit nie, maar die ouman se hart klop ook in sy ore van spanning, maar hy durf nie dat Johnie agterkom nie, want dis vir hom belangrik om hierdie projek deur te voer. Hy sien dit as sy laaste lewensprojek op planeet Aarde!

Ek sal 10:00 reg wees vir jou Johnie,” en met die prof se laaste woorde in sy ore is Johnie by die deur uit.

Wanneer hy ’n paar uur later die deur oopstoot rek sy oë. Die trollie staan hoog gepak en reg. Hy sluit die deur en die prof neem plaas. Albei te bang om te praat. Die spanning hang in die lug, terwyl die trollie koers kry na die deur aan die einde van die gang.

Jy kry die eer om die knoppie te druk Johnie… ” Die volgende oomblik is die hele kajuit verlig, skerms vol beelde en die klank van LA radio vul die vertrek. Hulle omhels mekaar — Weet nie of hulle moet lag of huil nie.

Dames en here, luisteraars, dit is LA radio se voorreg om julle in te lig dat die VSA regering beplan om nuwe ondersoek in te stel na vreemde vlieënde voorwerpe in die Area 51 gebied, oa die Roswell insident en vele meer. Hierdie besluit volg nadat die 30jr wet op geheime inligting verlede week gelig is. Dit blyk dat daar destyds in die Nevada woestyn ’n vlieënde piering met drie insittendes geland het. Die vreemde wesens was dood gevind en in 30 jr kon nog nooit bepaal word waar hulle vandaan gekom het, of waarheen hulle op pad was nie. Daarom was die area afgesper, die lugtuig verseël en gekamoefleer.

Met meer kundigheid en nuwe tegnologie gaan hierdie insident nou weer herondersoek en nagevors word. Daar word verwag dat die projek vlg week, nét na die langnaweek gaan afskop met die besoek van hooggeplaasdes.

Personeel om op hierdie projek te werk is glo reeds geïdentifiseer en hulle sien uit daarna om die projek van stapel te stuur. Hoewel Area 51 nog steeds ‘n hoogs geheime ontoeganglike area is, is die pers beloof dat daar op ’n gereëlde basis inligting bekendgestel sal word, sodat die publiek daarin kan deel wanneer die vlieënde voorwerp weer sal vlieg, al weet niemand nog wanneer of waarheen nie. Vragmotors met radiotoerusting en rolprentkameras is reeds op pad om vir Maandag se geleentheid voor te berei. Statiese kameras sal dan ook permanent rondom die beplande terrein opgestel word net vir ingeval… selfs al duur dit ’n paar jaar, ons is dit aan die publiek verskuldig. Hulle wag al dertig jaar vir hierdie geleentheid! Hiermee dan die einde van vandag se nuus.” Die Star Spangled Banner word oneerbiedig afgeskakel toe die prof die knoppie druk.

Twee stelle groot oë staar na mekaar. Dan bars hulle uit van onuithoudbare spanning en albei lag dat die trane loop. Die spanning is gebreek en nou kan hulle planne maak. Hulle sal voorraad aanry en hy sal inpak terwyl Prof die tuig se stelsels vir oulaas almal deurgaan en toets. Saterdag is D-dag. Tienuur, nadat Johnie sy rondtes voltooi het, sal hulle vir oulaas die lab sluit; die gangdeur vir oulaas agter hulle sluit; die tuig se loopplankdeur optrek en sluit en dan…. dan is daar nie meer omdraaikans nie. Die enigste probleem is dat hulle nog nie genoeg proviand bymekaar het nie. Volgens prof se beplanning moet hulle genoeg proviand bymekaar maak om ten minste Andromeda te haal, maar verder weet hulle nie. Daar is nou ook nie ’n ander plan nie… hulle weet net: die volgende vier dae is al wat saak maak hulle kan net hul bes doen en niks meer nie.

Elke dag tydens hul besoek aan die tuig, hoor hul oor die radio meer en meer spekulatiewe inligting omtrent vlg week se gebeure, en elke dag voel die twee harwerkende manne meer en meer bedreigd. Toe, om alles te kroon word die prof nog Woensdag in kennis gestel hy moet Donderdag by hoofkantoor aanmeld.

Hy en Johnie is albei snaarstyf gespanne: Sou iemand iets agtergekom het? Gaan hy deel wees van Projek VVV of gaan hulle hom van die basis verwyder? Hoekom was hý nog nooit genader om te hoor of hy sal belangstel nie? Dit lê hul bewegings tov kosaanvullings nog verder aan bande. Iemand het juis gister by die toonbank waar hy moet inteken gevra hoekom bring hy die afgelope paar dae so baie koekies, neutestafies ens saam werk toe? Ly hy honger? Is hy nie bang hy gaan vet word nie? Johnie op sý beurt was ook al bang vir dieselfde tipe opmerkings, maar omdat hy nog jonk is en baie beweeg trek dit darem minder aandag.

Donderdag was vir hul albei ’n ongelooflike spannende dag. Die prof waar hy in hoofkantoor se wagkamer sit en wag om ingeroep te word, en Johnie op die basis waar hy wag op die prof se terugkoms. Nog ’n dag om voor te berei daarmee heen!

Wat ’n verligting toe Prof terugkom en verslag doen: Die Raad het hom ingelig omtrent hulle VVV-projek, en verskoning gemaak dat hulle hom nie al vroeër omtrent hulle planne ingelig het nie, maar dit was die éíntlike rede hoekom hy oorspronklik na hierdie basis verplaas is. Hy moes aan die hoof van die VVV projek staan. Hulle vertrou egter dat hy hom gedurende die afgelope maande op die basis nie te veel verveel het nie, maar die tyd benut het om sy laboratorium te leer ken. Hulle besef die hele projek kom nou “bietjie onverwags” op hom af, maar hy moet maar solank dink wat hy Maandag tydens sy toespraak aan die pers sal sê om jan publiek tevrede te hou. Hulle het nog heelwat probleempies om voor Maandag op te los, en hy moet asb nie Maandag laat blyk dat hy nog nooit die VVV gesien het, of van die projek geweet het nie. Dis agv druk vanaf die pers en openbare media dat hulle die aankondiging nou so hals-oor-kop moet vervroeg.

Vrydag, toe hy met sy baadjiesakke vol snoepies moes inklok, nog ’n skok! Voor die ingang staan ’n groot goedere vragmotor. Die basis wemel van vreemdelinge wat besig is om bokse en nogmaals bokse gemerkte goedere af te laai, op trollies te pak in by die voordeur in te stoot tot in die groot ingangsportaal.

Dis vir Maandag se funksie” antwoord die beampte by die toonbank die Professor se vraend blik, min wetende die hele wêreld weet wat die prof eers gister verneem het. In sy laboratorium drink die prof solank alleen koffie, met die hoop dat dit die kramp in sy borskas sal laat skiet voordat Johnie tienuur sy opwagting maak, maar tienuur kom en gaan en daar is geen klop aan die deur nie. Die prof maak die lab deur oop om in die gang af te kyk of hy Johnie gewaar, maar wat hy wél sien, laat hom letterlik terugtree van skok. Die hele gang is vol trollies met bokse daarop en vreemdelinge is besig om nog trollies die trappe af te dra en in die gang te parkeer. Dan waai ’n bekende blou uniform vanagter ’n trollie vir hom…

Toemaar Prof, moenie skrik nie, dis proviand vir Saterdag… ag ek bedoel Maandag se geleentheid wat hulle net tydelik hier in u gang stoor terwyl hulle nog na sleutels soek. Die deur wat hulle moet gebruik is twintig jaar gelede gesluit en die sleutels is bietjie soek, maar ek is seker hulle sal dit vóór Maandag kry. Is u toespraak vir Maandag se persverklaring gereed?”

Wanneer hy die lab se deur agter hom toestoot, moet hy vashou om nie van skok te beswyk nie. Die hele gang staan vol kos en drinkgoed te kies en te keur, netjies geboks en verpak! Nou het hy waaragtig boeretroos nodig om van die skok te herstel. Tussen alles deur praat sy gewete ook nog met hom en hy besef hy drink die laaste tyd te veel koffie, maar dis al wat hom kalmeer. Sou daar koffie en koffieapparaat ook in hierdie bokse wees? wonder hy.

Hulle sit albei rustig en uitkyk na die mooiste mooiste gesig wat ’n ruimtevaarder óóit kan beleef. Selfs mooier as enige Aurora Borealis. Dan vang hul tuig die heel laaste LA radioberig wat hulle ooit sal hoor op:

Dames en Here, dit spyt ons om te berig die pers is weereens tov Area 51 se gebeure in die rug gesteek. Almal met wie ons kontak maak, gee voor hulle het niks geweet nie, maar ons glo hulle nie, want die VVV wat Maandag amptelik as ’n VVV-projek aangekondig en uitgewys sou word, het vroeg vanoggend, nog voor daglig opgestyg. Professor Pauw, wat Maandag die aankondiging sou doen, kon tot dusver nog nie opgespoor word nie. Gelukkig was ons kameramanne en rolprent span op die toneel, maar hulle kon ons ook nie van enige beeldmateriaal voorsien nie, agv die fisiese impak van materiaal wat rondgewaai het toe die VVV opgestyg het. Kom ons luister na een van die teenwoordiges se woordelikse vertelling:”

Goeie môre dames en here. Ons kameraspan was op die terrein in ons onderskeie karavane waar ons die afgelope paar dae oorgebly het ten einde kameratorings op te rig en voor te berei vir Maandag se beplande gebeure Dit sou met toestemming permanente installasies wees, sodat ons in die toekoms gereeld sou kon verslag doen tov Projek VVV waarvoor ons eksklusiewe regte verkry het.

Om terug te kom tot die punt, vyfuur vanoggend het ons wakkergeskrik van ’n onaardse gedreun en ’n geweldige trilling wat omtrent dertig minute geduur het. Ons het almal het uitgestorm na buite om te probeer agterkom wat aangaan. Ons karavane het sigbaar heen en weer gewieg maar ons kon nie met mekaar kommunikeer nie as gevolg van die geraas.

Die ronde klipkoppie wat Maandag die middelpunt van belangstelling sou wees, het getril en stukkies fyn leiklip het teen die hange begin afgly. Fyn rooi ysterstof wat alles bedek, het die hele lugruim begin vul nog voordat ons ons kameras kon beman. Later was dit ’n ‘avalange’ van leiklip en stof en jy moes jou hand voor jou oë hou om teen die lig van die opkomende son die skouspel te kon waarneem.

Die gedreun het toegeneem en die koppie het begin roer. Soos ’n kombers het ’n reuse kamoefleernet vol stof en klip van ’n skuins opstygende piering afgegly voor dit in die verte verdwyn het. Die elektroniesbeheerde grondverskuiwingsvoertuie wat langs die klipkoppie geparkeer was om Maandag die opgehoopte klipstapel waaronder die VVV versteek was, simbolies te begin oopgrawe, is nou onder tonne gebreekte leiklip begrawe. Die hele rioolplaas is bedek met die beklipte kamoufleernet en ’n laag rooi ysterstof wat jare sal vat om te verwyder.

Tot sover dan ons oggendnuus. Ons volgende nuusuitsending om tienuur vanoggend.”

Die twee vlieëniers se trane loop soos hulle lag.

Prof, die boeing is nog nie oor nie, en ek weet nog nie in watter boks die koffietoebehore verpak is nie, maar die wynbokse is heel bo. Sal ons elkeen ’n glas vonkelwyn op die geleentheid drink,” kom die retoriese vraag.

-o0o-