Jaco van der Merwe – 2025 wenner (WF)

Poppedans in die skemer

geskryf deur

Jaco van der Merwe

1

Wanneer jy klaar in jou neus gekrap het …”

Ek spring. Gryp na vashouplek. Skreeu amper soos ʼn meisie. Ek het haar nie eens gehoor nie. Wat seker sin maak, aangesien sy net gedeeltelik mens is. Alles mooi aan haar, natuurlik. En ek sê dit nie net omrede sy een van die beste sluipmoordenaars is wat leef nie.

En, nee, ek het nie in my neus gekrap nie. Daar was ʼn haartjie wat my geïrriteer het.

En, nee, ek skreeu nie soos ʼn meisie nie. Net soms. Dis ʼn mediese kondisie.

Haar rooi hare is in ʼn poniestert vasgebind. Donker klere wat geensins afbreuk doen aan haar atletiese bou nie. Groen oë wat blink in die donker. Sy het nie nagsigtoerusting nodig nie. Sy is half-elf. Ek belowe. Tolkien sou van haar gehou het.

My hart klop vinniger. Warm gevoel wat deur my bors vloei. Dis maande wat verloop het vandat ek haar laas gesien het. “Ah. Hallo Charlotte. Ek het nie in my neus gekrap nie,” voel ek moet ek myself verdedig.

Uh huh.”

Jy is darem maar baie oordeelsugtig,” sê ek, met ʼn glimlag. Oordeel self so bietjie, besef ek.

Is dit ʼn woord?”

Dit is nóú.”

Ja? Wat doen jy hier? Mense gaan vrae vra.” Sy hoef nie uit te wys dat ons beide tans in ʼn boom sit nie.

Ek ondersoek iets vir die Orde.” Sy mag dit maar weet.

Ek was onder die indruk jy hou nie van hulle nie.”

Dis eerder húlle wat nie van mý hou nie.”

Dis altyd die vraag.”

En die vraag is?”

Ons draai na mekaar. Die tak is net só breed. Amper soen ek haar. Oorweeg dit steeds. Ons sit naby genoeg aan mekaar daarvoor.

Is dit ʼn verhouding wanneer dit slegs van een party kom?” Ek hoor die glimlag in haar stem. Ek mis hierdie tête-à-tête.

Ek doen hulle vuil werk. Hulle betaal my. Klink na ʼn wen-wen.”

As jy dit so stel.”

Dit vat inspanning om my wenkbroue te lig onder die nagsigtoerusting wat nou teen my voorkop nesskop. “En hoe, help my uit hier, sal jy dit stel, o, skone dame?”

Wanneer beide partye bewus is van die verhouding, is dit ʼn verhouding. Wanneer net een van die partye bewus is, word dit teistering genoem.”

Dis mos wat ek gesê het. Beide partye hou ewe min van mekaar. Soos om getroud te wees.”

Sy sê iets wat ek nie hoor nie.

Ten minste, anders as Charlotte, probeer die Orde my nie doodmaak nie. Nie meer nie.

Sy sug. “Dit was één keer. Daar was omstandighede. Bou ʼn brug.”

Ah. Het ek dit hardop gesê?”

Shaw. Jy en jou mond moet ʼn nuwe ooreenkoms aangaan.”

Daar was daardie een keer. Vir enigeen anders sou dit blyk dat sy my wou stuur na die plek waar harpe uitgedeel word saam met vlerkies. Ek is steeds nie heeltemal seker nie. Om trompop geskiet te word sou mens nogal bietjie verleë laat voel oor ons verhouding. Verhouding is dalk ook ʼn bietjie sterk gestel. Maar sy is – sý. Dinge is nooit eenvoudig nie. Daar is altyd – omstandighede.

En hoekom is jy hier?” vra ek. Tyd om die gesprek in ʼn ander rigting te stuur. Haar hand streel oor my nek. Baie lekker. Dit voel nie of daar iets skerps in daardie hand is nie.

Die Kinders.”

Loi’Nir?”

Jy ken ander Kinders?”

Ek ken vele kinders.”

Jy is snaaks.”

Jy is nie.” Ek is nou ernstig. “Die Kinders van Loi’Nir is net probleme. ʼn Wish-weergawe van die Illuminati.”

Hulle betaal goed.”

Dis nie die punt nie.”

Ek onthou spesifiek dat jy al vir hulle gewerk het.”

Dis nie die punt nie.”

Sy haal haar skouers op. Haar hand op my nek het nou in ʼn greep verander. “Ek kan na myself kyk.”

Ek kan nie?”

Jy sit in ʼn boom. Loer mense af.”

Dis twee honderd meter ver,” sê ek in verweer. “En dis ʼn fabriek. Jy laat dit regtig vulgêr klink.”

Dis nie die punt nie.” Ek hoor die glimlag in haar stem.

Jy sal dalk ook in gedagte moet hou dat jy saam met my in die boom sit.”

Sy haal die sug duskant haar stuitjie uit. Sy is een van daardie kreature waaraan alles net mooi sit. Selfs haar stuitjie. Haar hand streel weer my nek. “Ek is hier om ʼn – item te kry.”

Ek hoor die huiwering. “O?”

Ja.”

Welke item sou dit wees?”

Shaw. Moenie begin nie.”

Ek begin dit nou geniet. “As hulle jóú gehuur het, moet dit belangrik wees.”

Shaw.”

Hoe erg kan dit wees?”

Shaw!”

Kom nou. Sekerlik …”

Haar hand verstyf weer om my nek. “Kyk.”

Ek glip die lense oor my oë. Verstel die optiese opsies om dinge van nader te beskou. Die geleende tegnologie sal meeste regerings se monde laat water.

Die industriële area net buite Centurion is stil. Dis immers net voor twaalf in die aand. Spreiligte verlig die beton laai-areas om die vier sinkgeboue. Sekuriteit is bedrywig. Ek tel ten minste twaalf. Handwapens aan elke heup. Die polisie sou sekerlik belangstelling getoon het in hierdie bedrywighede. Maar hierdie is buite hulle jurisdiksie. En kennis.

Die draadhek rammel oop om ʼn voertuig deur te laat (wat Charlotte se aandag getrek het). Een van daardie duur Mercedes GLE’s. Ons praat geld hier. Wat my bekommer. Richter, wat my kontakpersoon by die Orde is, het nie veel inligting gehad nie. Net iets vaag in die lyn van ʼn groep amateurs wat sukkel met dinge wat hulle eerder moet uitlos. Die Verborge Wêreld is iets wat die Orde – wel – verborge wil hou. Mens gee nie ʼn gelaaide wapen aan ʼn kind nie.

Ek wil voorstel ons benader hulle van die agterkant,” sê ek aan die leë tak. Charlotte is reeds weg. Ek sien die skaduwee beweeg aan die linkerkant van die omheining. Sy is vinnig. En stil. Ek val-klim uit die boom, na ek my staf (wat onmoontlik balanseer oor ʼn dunner tak) saamtrek. Rus ʼn oomblik aan die voet van die boom. Oortuig myself dis eerder om seker te maak ek het niemand se aandag getrek nie. Ek is nie meer gewoond aan boomklim nie. Tevrede dat ek steeds ongesiens is, drafstap ek gebukkend agter haar aan. Dit was in elk geval my idee om daardie rigting in te slaan.

Sy het reeds die draad oopgesny teen die tyd wat ek haar inhaal. Sy grinnik wanneer ek (die heer wat ek is) dit vir haar oophou.

Dit is die gebou aan die agterkant …”

Maar sy beweeg reeds katagtig in daardie rigting. Ek onderdruk ʼn sug. Maar glimlag. Dis lekker om weer saam met haar te werk. Ons ontwyk twee wagte, klim teen die agterkant op tot op die dak van die gebou wat soos ʼn massiewe skuur lyk. Sy wag geduldig vir my, sonder om my te laat voel sy is soveel beter as ek. Ons weet dit reeds beide. Elk het sy eie vaardighede, reg? Die dak het ʼn opening aan die bokant vir vars lug of iets. Ons skuif versigtig deur na die binnekant van die sinkgebou. Werk ons pad deur die metaal dakkappe na ʼn loopvlak aan die regterkant, hoog bo die vloer. Beweeg na die middel van die lang symuur om ʼn beter uitsig te kry oor die werksaamhede onder ons.

My kommer styg so ʼn vlak hoër. Hierdie het na ʼn maklike opdrag gelyk. Maklik en winsgewend. Ek begin dink Richter het dit in vir my. Moontlik kos ek hulle te veel geld.

Anders as wat ek sou verwag, is die dertien mense nie geklee in togas of kwasi-priesterklede nie. Dit sou my meer gerus gestem het. Mense wat iets probeer om teen hulle ouers te rebelleer na al die kool wat hulle moes eet as kinders. Maar hierdie klomp is meer – professioneel. Jeans. Knoop hemde. Rokke. Nie uniforms nie. Ek draai na Charlotte. Sy gee my ʼn vinnige kyk, konsentreer weer op die werksaamhede onder ons. Dis beslis nie die Kinders daaronder nie. Sy sou sekerlik geweet het. Tensy die Kinders twis onder mekaar. Hierdie is iets anders. Goeie beplanning. Maande, dalk soveel as ʼn jaar s’n.

Die Sirkel word met sorg getrek. Radius van vyf meter. Dit is ʼn groot een. ʼn Skoon area binne die een kwadrant. Vreemd. Hulle het twee persone wat weet van runes lê. Dis nie ʼn maklike taak nie. Sirkels en runes is ʼn gespesialiseerde area. Soos wiskunde. Sommige mense snap dit net dadelik. Ander, soos ek, moet spesiale klasse bywoon. Dit sluit wiskunde in vir my.

Daar is vyf Sirkels binne die hoof Sirkel. Ek probeer meer gemaklik sit. Hou hulle dop. Charlotte skuif nader, haar been teen myne. Sy neem leiding van my. Ons kan hulle onderbreek, maar ek is nuuskierig. Wil seker maak van die vlak van kundigheid waarmee ons te doen het. Dit neem hulle ʼn volle twee ure om die Sirkels te trek en die runes te lê. Ons is reeds verby 2 uur. Meestal maak dit nie saak nie. Daar is verskeie tipes towerkrag in die wêreld, welke ons wêreld of die Verborge Wêreld. Meestal is dit towerkrag wat deursyfer en geoes word aan ons kant. Die Fae Lande. Die Grys Lande. En alles tussenin. My eie toegang tot towerkrag is deur my staf. Anders as die Magi van die Orde, het ek nie inherente towerkrag nie. Wat my so bietjie van ʼn raarheid maak, ʼn uitsondering. Hulle hou nie daarvan nie. Maar ons werk deesdae saam, al is dit soms (meestal) ongemaklik.

ʼn Ouer vrou, ek hou haar nou al ʼn rukkie dop, staan op van ʼn kampstoel wat hulle vir haar op die sementvloer geplaas het. Sy is die enigste een wat gesit het deur die verrigtinge. Haar gelaatstrekke is verskans deur die hoek vanwaar ons hulle dophou. Geklee in jeans en ʼn lang, ligbruin jas. Sy beweeg statig. Dwing ʼn onsigbare gesag af. Anders as die dertien, wat nou plekke inneem by kerse wat gespasieerd om die Sirkel aangesteek word, op die buitenste rant, is daar vyf gewapende mense in die gebou. Hierdie egter met outomatiese wapens. Saam met die klomp buite, is dit amper ʼn klein weermag. Hulle het selfs ʼn mediese span van drie.

Professioneel.

Ken jy haar?” fluister ek.

Charlotte skud haar kop, frons. Ons maak ʼn punt daarvan om die groot spelers in ons eie skadu-wêreld te ken. Die vrou is ʼn vreemdeling. Die vrou beduie. ʼn Kis (ʼn regte doodskis, maar kleiner, een wat vir kinders gebruik word) word nadergebring deur twee mans wat eers hulle wapens oor hulle skouers gooi. Ek wonder vir ʼn oomblik oor die wapens. So asof hulle meer beskerming hierbinne benodig. Of meer moeilikheid verwag. Die kerse aangesteek en almal op hulle plekke. Een van die gewapende mans plaas ʼn houtbruggie (amper eerder ʼn leer wat horisontaal gesit word) oor die runes wat getrek is oor die sement.

Die verbreking van ʼn Sirkel het gevolge. Lei gewoonlik tot mense (en dinge) wat hardloop, skreeu en liggaamsdele verloor. En tandmerke.

Die vrou stap oor die bruggie. Die bruggie word weer versigtig weggevat. Sy staan in die middel van die Sirkel. Wag. Die kis word oopgemaak. Hulle haal ʼn pop uit. ʼn Pop. Dit staan so heup hoogte. In ʼn rokkie. Hare en alles. Ek draai weer na Charlotte. Sy kyk nie in my rigting nie. Ek weet sy sien my. Ons sit immers skouer aan skouer. Ek grinnik so in die stilligheid. Sy is gehuur om op ʼn pop beslag te lê. Sy gaan nie die einde hiervan hoor nie.

Die bruggie word weer gelê. Die pop neergelê in die oop area binne die vyfde Sirkel. Die vrou se jas is meer prakties as vir die weer. Sy haal verskeie voorwerpe uit diep sakke. Dertien. Ek het ʼn dolk verwag. Dit sou meer sin maak. Bloed-Magi. Die Orde het ʼn weersin in enigeen wat daardie kortpad verkies om towerkrag te toulei. Dit het nooit ʼn goeie uitkoms nie. Sy hurk, plaas die voorwerpe om haar.

Ek begin reeds opstaan. Charlotte volg my voorbeeld.

Hierdie is gevaarlik. Voorwerpe wat met towerkrag gesmee is, is soek na moeilikheid. Daar is net te veel wat kan verkeerd gaan. Ons gebruik dit almal. Charlotte self het ʼn hangertjie vir beskerming. Ek self gebruik voorwerpe by tye. Maar wat daaronder aan die gang is, is ʼn ander moeilikheid. Mens roep nie iets op op hierdie manier nie. Oproep-spreuke is delikaat. Gevaarlik. Maar hierdie – indien ʼn klein foutjie gemaak is met een van die voorwerpe, gaan wat ook al opgeroep word, eenvoudig die (tower)kettings wat dit vashou, afskud. ʼn Ketting sonder ʼn slot is basies nutteloos.

Om iets van ʼn ander wêreld in ons wêreld los te laat, is eenvoudig krimineel nalatig. Hulle kry Doodstraf. Die Orde teken maklik af daarvoor. Geen boetes. Geen tronkstraf. Die Verborge Wêreld het sy eie reëls. Eie wetgewing.

Die vrou sing. Dis meer ʼn melodie as woorde. Maar dit besit ʼn krag. Die oproep van towerkrag is vinnig. Weereens ʼn alarm wat in my kop afgaan. Die staf in my hand vibreer. Voel die energie. Towerkrag vloei deur die voorwerpe. Dis so sterk, dit is sigbaar. Die energie vorm ʼn beligte mistigheid. Sy gooi haar kop terug, asof in ekstase. Haar oë gloei van energie. Dit lyk of sy spesifiek na ons kyk. Energie vloei uit haar, lig-slange wat uitreik na die voorwerpe. Waar dit aan die voorwerpe raak, bars dit skouspelagtig oop, soos blomme van lig. Dit kruip uit oor die sement vanaf die voorwerpe, voelers van lig. Die runes getrek in die kleinste ring naaste aan haar oor die sementvloer, aktiveer. Skiet aan die brand. Druk die lig-slange terug. Die runes verskerp verder, vervaag na ʼn oomblik. Die voelers beweeg deur. Die tweede Sirkel verskerp in ʼn verblindende ring. Hou vir ʼn oomblik langer voor dit ook uitdoof.

Outomatiese wapens word gerig op die Sirkel. Ek het tred verloor met die mense buite die Sirkel. Ek is nie seker hoe dit enigsins ʼn verskil gaan maak nie. Tensy hulle silwer koeëls het. En selfs dan is sukses nie gewaarborg nie. My hand is natgesweet om die hout van die staf. Maar ek is vasgenael deur die skouspel onder my. Sal in elk geval nie veel kan doen op hierdie stadium nie. Nuuskierigheid gaan dalk die dood van vele mense tot gevolg hê.

Die derde Sirkel vlam op. Die lig-voelers het vermeerder, soek ʼn pad uit. Soos uit ʼn doolhof. Ek sien nou die prag van die runes. Dit ís ʼn doolhof. En dit lei na die pop. Die derde Sirkel faal. Die pop lê in die vyfde Sirkel. En daar is die risiko. Indien dit nie werk nie, is die sesde Sirkel, die enigste – die laaste – grens. Die voelers beweeg teen die grens van die vierde Sirkel. Breek deur. Vloei in die rigting van die pop. Vind die pop. Die pop lyk of dit aan die brand slaan met ʼn klap van energie. Runes oor die pop vlam op. Trek die energie in. Suig dit op, letterlik.

Die vrou gooi haar kop agteroor. Die energie slang steeds deur die voorwerpe, vanuit haar liggaam, vloei uit haar oë, haar mond. Sy is die katalisator. Iets manifesteer. ʼn Figuur hang oor haar vir ʼn oomblik. Rofweg menslike voorkoms. Moeilik uitkenbaar aangesien dit in energievorm is. Lyk soos ʼn engel. Meer omrede dit lyk of dit vlerke het. Maar nie soos ʼn engel s’n nie. Oë brand deur die energie wat dit omvou. Donker gate in realiteit. Die figuur ruk aan die energie wat dit vasbind. ʼn Voël wat aan ʼn lyn vassit. Die energie trek dit terug grond toe. Ruk en pluk die figuur in die rigting van die pop. Dit rek. Weerstaan die Oproeping vir ʼn lang oomblik. Dan gee dit mee. Gly deur die energie tot in die pop.

Die energie verdwyn in ʼn oorverdowende knal. ʼn Skokgolf volg wat die gebou laat skud.

Die vrou skreeu. Sak inmekaar.

2

My ore suis. Oë fokus nie heeltemal.

Maar ons beweeg reeds. Indien daardie pop wegraak, het ons groter probleme. Ek swets binnesmonds wanneer ek eers trappe na onder moet vind. Charlotte het geen probleem om direk af te spring na die vloer toe nie. Dis ʼn goeie vier verdiepings. Ek vertrou sy sal aandag gee aan die ouens met die outomatiese vuurwapens. Hopelik sonder bloedvergieting. Ons weet immers nog nie regtig wat hier aan die gang is nie.

Maar ons weet.

Dis die gevoel van regverdigheid wat my terughou. Geregtigheid. Audi Alteram Partem. Hoor beide kante. Teen die tyd wat dit my vat om die vloer te bereik, het Charlotte reeds al vyf gewapende ouens buite aksie gestel. Hulle leef. Die enigste bloed aan hulle gesigte. Ten spyte van die twee lang messe in Charlotte se hande.

Sy lig ʼn wenkbrou. Daag my uit.

Ek knik eerder in erkenning. Die mediese span staan voor my, oë groot. Die vrou op ʼn draagbaar tussen twee van hulle. Hulle wou haar sekerlik wegneem in die chaos wat Charlotte veroorsaak het. Hulle het net nie heeltemal besef ek is ook hier nie. En die trappe wat ek geneem het, het nou maar toevallig by oop deure opgeëindig. Ek stap nader. Die vrou se oë is oop, gerig eers op die staf in my hand, dan op my gesig.

Sy weet.

Die Slagter,” sê sy. Nie ʼn naam waarop ek trots is nie. Daar was omstandighede toe ek dit in besit geneem het. Haar stem is sag, melodieus. “Ek het geweet ons sal eendag ontmoet.” Haar aksent is swaar. Midde Afrika. Kongolees, sou ek sê, in my algemene onkunde.

Heerlik melodramaties,” sê ek eerbiedig. “Ek is bevrees ek is in die duister.”

Die Orde het jou gestuur.” Nie ʼn vraag nie.

Uh. Ja?”

Ek kan ongelukkig nie die uitnodiging aanvaar nie.”

Ek glimlag. Sy het ʼn manier aan haar waarvan ek hou. Haar hare is lank, stringe vlegsels. Sy het ʼn eksotiese skoonheid aan haar, haar donker vel vlekkeloos. “Ek gaan moet aandring.”

Hoekom?” Sy glimlag.

Ek is gevra om jou lewensbesluite aan te spreek.”

En tog is jy in die geselskap van die Rooi Dood.”

Die Rooi …” ek kyk op na Charlotte wat gemaklik nader slenter. “Jy word die Rooi Dood genoem?”

Sy draai haar kop in ʼn is-jy-verbaas-gebaar. Lig weer ʼn wenkbrou. Ek is ʼn bietjie jaloers.

Gaan jy haar toelaat?” vra die vrou op die draagbaar, vrees in haar oë.

Sy is nie hier vir jou nie.” Of is sy? Ek lig my kop weer in Charlotte se rigting. Sy hou haar blik op my vir ʼn oomblik, stap dan terug na die kis waarin die pop reeds geplaas is. Natuurlik tydens my tog af met die trappe. Dit was ʼn lang tog, okay? Moenie oordeel nie.

Moenie!” roep die vrou uit, probeer regop sit. Sy is egter swak. Ek is nie verbaas nie. Die hele prosedure het haar totaal uitgeput.

Hierdie is te gevaarlik,” sê ek, tot Charlotte se verdediging. Charlotte gee my ʼn kyk wat my tref soos ʼn klap. Dis nie my plek nie.

Dit het egter niks met julle te doen nie,” sê ʼn nuwe stem. Ons draai na die vrou wat in die deur staan. Sy is in swart geklee, wit (nie blond nie) hare ook in ʼn poniestert. Sy hou twee kort swaarde in haar hande, punte na die vloer. Anders as Charlotte, is haar ore lank, gepunt na bo. Wenkbroue skerp na bo. Dun gesig. Skraal gebou. ʼn Elf. Fae. Ek herstel my greep op die staf.

Christopher Shaw,” sê sy. “So baie van jou gehoor. Ek het gedink jy sou langer wees. Groter.” Sy glimlag koketterig.

Al hierdie mense (figuurlik) wat my ken, en ek het geen idee nie. Sy staan meteens teen my. Sy is vinnig. Die lem van een swaard streel teen die litteken wat oor my regterwang strek. Die lem is nie metaal nie. Lyk soos glas. Fae en yster (en staal) akkommodeer nie.

Sy is nogal mooi, hier van naby. Duskant die lem. “Die enigste mens wat ʼn Haltija oorleef het. Of so hoor ons.”

My maag maak ʼn draai. Koue vingers streel op en af teen my rug. ʼn Haltija is ʼn tipe elf. Gevoelloos. Dodelik. Lewe vir een doel. Sý doel was die beskerming van die staf. Die staf in my hand. Hy het aanstoot geneem met my inbesitneming daarvan. Daar was natuurlik omstandighede. Ons het in ʼn argument betrokke geraak. Ek het ʼn litteken ter herinnering. Maar ek het dit oorleef.

Sy lek haar lippe. Sensueel. Sy is mooi. Anders as Charlotte, is dit ʼn koue, ek wil amper sê siellose, prag. My wil vloei reeds deur die staf. Runes sink in die hout onder my hand. Lug. Wind. Sy word van haar voete gelig, word reg by die deur uitgegooi. Sy lyk nou nie heeltemal soos ʼn Olimpiese duiker waar sy deur die lug trek nie, maar sy rol en kom tot stilstand in ʼn gehurkte posisie. Dit is nogal indrukwekkend. Ek het slegs ʼn oomblik om te reageer. Mans met outomatiese wapens tree van buite deur die oop deure. Skote klap. Daar word genoeg op my geskiet dat ek ʼn skild amper outomaties opgooi. Die koeëls slaan vas in die verharde lug voor my. Hang voor my asof ek Neo is. Charlotte het reeds langs my ingerol, Glock in die hand. Sy weet my skild is sterker op die lange duur as enigiets wat sy het.

ʼn Rammel aan ons agterkant skop ʼn hol kol in my maag. Deure rol oop aan die anderkant van die sinkgebou. Nog mense met outomatiese wapens.

Die kis,” sê Charlotte.

Die vrou,” sê ek, terselfdertyd.

Charlotte se lippe pers saam. Dan knik sy. Ek weet sommer hierdie gaan ʼn argument word. Later. Ek los die skild terwyl ek rol in die rigting van die vrou. Dit gee ons ten minste ʼn verdere sekonde. Gooi amper onmiddellik weer ʼn skild op. Skilde is staties. Ek kan dit nie saam met my beweeg nie. My boarm brand. Maar ek het steeds die gebruik van my arm en hand. Kan nie te erg wees nie. Ek staan wydsbeen oor die vrou, Charlotte teen my rug. Ek kyk nie om nie, vertrou sy het reeds haar hangertjie uit. Dit sal ons beskerm. Vir nou. Maar die situasie is nie die beste nie. Ons gaan tot die aanval moet oorgaan.

Die geweervuur staak egter.

Die Elf gaan staan tussen die gewapende mans, ʼn swaard in die lug. Sy sak haar hand, Tik teen haar bene met die swaarde. Sy sê niks. Hou ons net dop.

Die mediese span, wat in die hoek skuil, kry geleentheid om te onttrek in die skielike stilte. Een van hulle is gewond.

(sien die ironie?)

Hulle hardloop verby die gewapende mans, gebukkend met arms oor hulle koppe. Buite word hulle na die grond gedwing. Arms met plastiek bandjies vasgemaak.

Wat gebeur aan jou kant?” vra ek oor my skouer.

Hulle het die kis.”

Niemand skiet op ons nie,” probeer ek die positiewe uitwys.

Hulle het die kis,” herhaal sy. Dis nie maklik vir haar om te sien hoe haar prys weggedra word nie. Ons het geen keuse anders as om hulle toe te laat nie. Die elf staan stil terwyl die gewapende mans onttrek. Gee ons ʼn lang, opsommende blik. Sy salueer vinnig en verdwyn by die deur uit.

3

ʼn Warm stort verskaf ten minste uiterlike verligting. Dit gee ook geleentheid om dinge te oordink. Soos wie is die vrou? Wat het hulle opgeroep? Logieserwys is die pop ʼn tuig om dit te vervoer. Anders as wat mense mag dink, is dit nie so maklik om ʼn pop te kry om rond te gaan en mense dood te maak nie. Dit werk net nie so nie.

Dan is daar die Orde se mense wat ʼn hele vyf minute later opdaag om die vrou weg te neem. Ek het my geld verdien. Maar daar is ʼn slegte smaak in my mond. Ek oortuig myself dit het niks met Charlotte se vinnige wegry op haar groen Ninja te doen nie. Maar dit het. Ook. Ek gaan erken ek was bly om haar weer te sien. Het eintlik maar gehoop ons gaan bietjie tyd spandeer na die nag se drama. Maar voel of daar nou ʼn koue stilte tussen ons is.

Ek bind my hare in ʼn poniestert. Wonder of ek moet skeer voor ek die pad aandurf. Besluit daar is nog ʼn goeie twee dae se groei nodig voor ek hand aan die lem hoef te slaan. Die Orde het ʼn gebou in die sakekern van Sandton. Nie-amptelik staan dit bekend as die Toring. Natuurlik het ek niks met die benaming te doen gehad nie. Dit help dat die nuwe rekrute stories van my hoor. Dink ek is koel, kalm en in beheer. ʼn Rebel met ʼn gladde mond. Die Gekose Een wat die Orde ʼn pit gedruk het. Dis natuurlik nie heeltemal die waarheid nie. Maar ek hou myself geheimsinnig.

Ek is een van min wat ʼn afspraak met Richter kan kry sonder om dit vooraf te reël. Hy laat my in voor ek sy sekretaresse se giggel verder aanspoor. Ek voel hy dink ek is ʼn slegte invloed.

Jy is,” sê hy, uitdrukkingloos. Ek moet ophou om hardop te dink. Hy lei my na ʼn kleiner raadsaal, maak die deur toe. Dit voel of dit klankdig is. Ek knipoog vir die sekretaresse deur die glas. Sy bloos nou so mooi. Jong mense! Ek laat my staf regop staan langs my stoel. Richter gee dit ʼn vinnige kyk. Ek is nie veronderstel om dit te kan doen nie. Daar is ʼn sterk towerspreuk oor die gebou wat towerkrag verhoed. Maak sin wanneer die hoofbestuur vir die kontinent almal hier sit.

Richter vee sy kort, wit hare terug. Sy kort (ook wit) baard presies. Geklee in ʼn grys onderbaadjie en wat daarmee gepaardgaan, lyk my jeans en Star Wars T-hemp uit plek. Ek krap aan die stoppels oor my gesig.

Jy is betaal?”

Ek knik. “Ja. Nie die rede vir my besoek nie.”

Hy wag.

Wie is sy? Wát is sy?”

Jy is betaal. Jou kontrak uitgevoer.” Richter is ʼn tipe mentor vir my. Maar soms is hy ʼn regte geblokte derm (jy weet wat ek wil sê). Hy hou ʼn hand op om my verdere argumente te stop. “Sy is Orde besigheid.”

Ek is nuuskierig. Dit het gelyk of sy ʼn tipe katalisator is tussen die Oproeping en die pop.”

Watse pop?”

So, hy weet nie alles nie. Goed om te weet. Ek draai my kop skeef in stille rebellie. Hy wil nie met my deel nie …

Hy staan op, vou sy arms. Staar na die geboue buite deur die venster. “Dit maak dan sin.”

Wat?”

Hy draai om. “Jy is nog hier?”

Dis lelik.”

Hy maak sy oë toe. Tel moontlik. Ek het daardie effek. Hy gee ʼn skewe glimlag, net om te wys daar is nie kwade gevoelens nie. “Orde besigheid. Sal jou laat weet as iets anders opduik.”

4

Ek los ʼn boodskap op die webwerf. Jare terug het ek en ʼn paar vriende ʼn beweging begin waar die minder opvallende mense met ʼn sin vir towerkrag, ʼn kommune kon stig. Dit is meestal mense wat nie deur die Orde of die Kinders opgekommandeer word nie. Grootliks omrede hulle talente te min geag word om óf van nut te wees, óf ʼn gevaar in te hou. Kanale het intussen gegroei en ons het ʼn netwerk opgebou regoor die wêreld. Dis verbasend wat mense raaksien wanneer hulle weet waarvoor om te kyk. Dis nog meer verbasend hoeveel mense nie wil sien wat reg voor hulle gebeur nie. Dit is seker ook wat die Verborge Wêreld se geheime bewaar.

Ek gaan klim in die bed.

5

Ontbyt is nog warm wanneer ek opstaan. Ek het regdeur geslaap. Geen teken van Olivia nie. Sy maak skoon wanneer sy voel dis nodig. Maak kos wanneer sy voel ek het dit nodig. Sy glo sy skuld my ʼn Bloedskuld. Soms wonder ek wie werk vir wie. Een van haar katte hou my dop. Sy het iets met katte. Ek het my vermoedens. Maar ons het geskiedenis, so ek vra nie.

Niks op die webwerf. Maar ek weet hulle werk daaraan.

Gaan draf.

Klap die gimnasium.

Hou my kop besig.

Niks van Charlotte nie.

6

Die Mustang gee ʼn laaste brul wanneer ek by my rylaan inry. Charlotte leun gemaklik teen die Ninja. Arms gevou. Kop skeef gedraai. Ek weet van beter as om te vra hoe sy weet waar ek bly.

Hey,” sê ek.

Hey.”

Wat maak ʼn oulike dingetjie soos jy in ʼn plek soos die?”

En dit werk vir jou?” Sy glimlag. Ek hou van haar glimlag.

Gewoonlik nie. Maar ek probeer in elk geval.”

Werk daaraan.”

Ja, Ma.”

Sy klap my speels teen die kop. Ek voel versigtig vir kneusing.

Sy lag. “Pissie.”

Honger? Ek het pizza. Ek dink.”

Ek is te bang om te vra.”

Wat pizza is?”

Sy mik weer in my rigting. “Hoe oud daardie pizza is. Oorskiet is gevaarlik.”

Daar is nie so iets soos oorskiet pizza nie. Net nou-pizza en later-pizza.”

Ek vee oor die runes wat bo teen my voordeur lê. Die towerkrag daarin laat meeste mense besluit om eerder iets anders te gaan doen as om my te pla. My vlak van sosiale interaksie is oor die algemeen redelik laag. Charlotte gooi haar rugsakkie oor die skouer. Iets klingel.

Sy haal die ander skouer op. “Ek bring my eie.” Sy weet ek drink nie. Bacchus is nie in my goeie boeke nie. Ek oorweeg ʼn klap op haar boud wanneer sy verbyskuif, maar is nie seker waar ons met mekaar staan nie. Sy het messe, onthou?

Maak jouself tuis,” sê ek, wys na die ruim leefarea na links. “Ek sal daardie in die yskas sit.” Ek neem die rugsak, haal die bier uit. Bestudeer die binnekant van my yskas. Die pizza beweeg nie vanself nie. Veilig. Ruik ook steeds soos pizza. Veiliger. Die ander Tupperware bakkies is dalk veiliger indien afgesper met geel plastiek stroke uitgedruk in ‘Gevaarlik’. Ek sal dit moet aanspreek, binnekort. Die inhoud van daardie bakkies. “Ek het uitgereik na my mense. Sal iets kry oor die pop. Ek is seker.”

Ek het nie gevra dat jy dit doen nie.”

Ek leun oor die kombuistoonbank. Dis die Fae in haar. Geen guns is sonder ʼn prys nie. “Ek doen hierdie vir myself.”

Ek skuld jou niks, Shaw.”

Ek neem nie aanstoot nie. “Jy kan my in elk geval nie bekostig nie.”

Ha!” Sy maak haarself gemaklik op die rusbank. Skop haar motorfietsstewels af en trek haar voete onder haar in. Skud haar rooi hare los oor haar skouers.

Ek staar. Betrap myself ʼn oomblik voor sy doen. Sy sak haar kop. Maar ek sien die glimlaggie. My hart spring. “Die – uh – pizza gaan sag en klam wees.” Ek stel die mikrogolfoond. Maak my skootrekenaar oop. Ek het ʼn boodskap op die webwerf.

Goeie nuus,” sê ek, draai om. Charlotte staan teen my.

Luister Shaw …”

Charlotte, ek …”

Haar hand is warm teen my bors. Sy kyk op na my. Beloftes in daardie groen oë. Die deuntjie van Twilight Zone laat my amper spring. Haar oë hou myne vas vir ʼn lang oomblik. “Dis dalk belangrik.”

Ek het nie woorde nie. Sy tree terug. Vir ʼn oomblik wil ek uitreik, haar teen my vastrek. Ek vis die selfoon uit my sak. “Hi Lynette.”

Charlotte se gesig verander. Ek voel ek moet verduidelik. Weet dit gaan die situasie net vererger. Lynette is immers ʼn ex. Omstandighede, okay? Geskiedenis.

Hey Shaw. Ons het dalk iets vir jou.”

Ek weet Charlotte kan hoor, daar waar sy nou weer op die rusbank gaan sit. “Ek luister.”

Stilte. “Alles okay?”

Ja, natuurlik. Die pop?”

Ons het vir Madelein opgespoor. Sy is bereid om te help.”

Dis goeie nuus,” sê ek. Voel ʼn swaarheid in my gemoed. Nog nie seker wat die bron daarvan is nie.

Jy is seker jy is okay? Jy klink af.”

Ek knik, besef sy kan my nie sien nie. “Alles onder beheer.”

Lynette los dit daar. Sy ken my lank genoeg. “Ons gaan by die plek moet ontmoet waar die ritueel plaasgevind het.”

Ek gee die adres. “Sal Madelein dit kan hanteer?”

Sy het ingestem.”

Dis genoeg vir my. “Dankie. Vanmiddag? Twee uur?” Ek kyk in Charlotte se rigting vir bevestiging. Sy knik, kyk by die venster uit. Ek lui af, sit die foon neer op die toonbank. “Pizza?”

Ek is nie honger nie.”

7

Veilig?” vra ek. Charlotte staan langs my teen die Mustang. Ek het dit eenkeer gewaag saam met haar op die Ninja. Nie al my littekens is die gevolg van ʼn bakleiery nie. Nie heeltemal haar skuld nie, maar lesse is geleer. En die gesegde van opklim na jy van ʼn perd afgeval het? Nee. Nie teen 150 kilometer per uur nie.

Niemand hier nie,” sê sy. Bekommerd. Knik in die rigting van die hekwag. “Behalwe daai een.” Sy kyk rond. “Daar is seker nie ʼn rede vir enigeen om hier te wees nie.” Twyfel in haar stem. Charlotte se sintuie is skerp. Sy sal weet. Ek wil uitwys die Orde maak mooi skoon agter hulleself, maar besluit sy weet dit reeds. Sy wil nie noodwendig herinner word hoe die hele aand in ʼn Orde operasie uitgedraai het nie.

Sy het ook steeds nie gesê hoekom sy by my opgedaag het nie. Ek vat die staf stewiger vas. Daardie elf met die wit hare het ʼn indruk gemaak. “Sal ons?”

Sy klim in. Die wag by die hek staan lui op. Dit kos my ʼn honderd rand noot en ʼn vae storie van ʼn nuwe fabriek opstel om toegang te kry. Ek noem Lynette se naam, sodat sy nie ook hoef te betaal nie. Sy sal seker tog.

Die sinkgebou is koel, ten spyte van die somerhitte buite. Ek reik uit deur die staf. Ek kan soms towerkrag voel. Maar net as dit sterk is. Of nalatig gebruik word. Niks. Charlotte maak haarself tuis deur plat op die grond te gaan sit. Ons wag.

Tien minute later stap Lynette saam met Madelein en ʼn reus van ʼn man in.

Hier is … julle,” sê Lynette. Haar oë op Charlotte. Lynette is in haar vroeë sestigs. Amper my ouderdom. Behalwe – ek lyk die helfte jonger. Towerkrag het sekere nagevolge. Positiewe nagevolge. Madelein, vroeë twintigs, stap skaam nader en omhels my sonder ʼn woord.

Hey Maddy. Hoe gaan dit?” Sy glimlag skamerig vir my. “Jy is seker jy wil hierdie doen?”

Sy knik net stil. Sy is iets besonders. Kan towerkrag voel. Meer as net voel. Sy kan dit volg. Uitwys. Ek het haar uit die kloue van ʼn Magi gered wat sterk megalomaniese neigings getoon het. Dit het egter ʼn merk op haar gelos. Sy is hewig menssku. Min tot geen vertroue in enigeen. Haar talent is uitsonderlik. En sy moet ten alle koste beskerm word. Dit is ook nie iets lekker om te hê nie. Gee haar nagmerries. Die bewustheid van alles wat daarbuite is, is nie iets wat maklik kan wees nie.

Ek hou van die groen hare,” sê ek, vee dit agter haar ore in. Sy glimlag breër. Draai na Charlotte. Nie bang nie. Frons net. Ek wonder of sy kan sien wat Charlotte is. Sy stap nader, hou ʼn hand uit, raak aan Charlotte se wang.

Jy is so mooi.”

Charlotte staan stadig op, asof sy nie die jong meisie wil skrikmaak nie. Sit die mes waarmee sy speel in die skede teen haar lae rug. “Amper so mooi soos jy,” sê Charlotte. Gee my ʼn vinnige kyk. Dit is die regte antwoord. Charlotte weet nie alles van my nie. Lyk of sy my ʼn bietjie meer respek toevoeg.

Maddy bloos. Stap terug na my. “Ek wil nie lank hier wees nie.”

Ek knik. “Jy moet meer eet,” sê ek.

Sy glimlag net.

Die man gee ʼn lui saluut in my rigting. Benji, onthou ek. Hy het iets vir Madelein. Nie seker of sy bewus is daarvan nie. Hulle het hom uit ʼn moeilike situasie gehelp. Met nêrens anders om te gaan, het hy homself geaffilieer met die groep. Doen take vir hulle. Bestuurder. Algemene hulp. Frons wanneer nodig om iemand te intimideer. Hy haal ʼn pak kaarte en kaartboeke uit ʼn leersak wat hy oor sy skouer dra.

Madelein stap na die oorblyfsels van die Sirkel. Die Orde het seker gemaak dit gaan nie weer geaktiveer word nie. Sy trek ʼn hangertjie uit onder die lang rok wat sy dra. Laat dit oor die materiaal hang. Die steentjie inhibeer haar talent wanneer dit teen haar vel lê. ʼn Geskenk van my. Sy hou haar hande uit, palms na onder. Stap rond om te sien of sy iets voel. Sy snik. Sak neer op haar knieë. Voel oor die grond. Beide ek en Benji gee ʼn tree nader. Ons is beide bewus sy moet deur hierdie pyn gaan, maar dis moeilik om te aanskou. Hou ons afstand. Hy gluur in my rigting. Ek hou ʼn hand op. Ek weet. Hy is steeds wantrouig teenoor my. Teenoor Magi in die algemeen. Hy vou sy arms. Ek neem ʼn tree terug. Lyk of dit hom meer gemaklik laat voel.

Sy spandeer omtrent vyf minute oor die vloer. Kyk op. Wink. Benji drafstap nader. Gaan sit plat langs haar. Strooi die kaarte oor die sementvloer voor haar. Sy tas blindelings daardeur. Vat een van die kaarte. Druk ʼn vinger op ʼn area. Benji kyk vlugtig, gryp een van die kaartboeke. Blaai dringend. Hou ʼn bladsy uit na haar. Sy huiwer. Druk ʼn vinger op die bladsy. Benji het reeds ʼn potlood uit, maak ʼn merk.

Dit gaan nie meer akkuraat as dit kan wees nie,” sê Benji. “Ons werk nog aan ʼn stelsel.”

Google Maps?” probeer ek help.

Hy skud sy kop. “Elektroniese kaarte werk nie vir haar nie.”

Ons het aanvaar dit is steeds in die Gauteng area,” sê Lynette. “So ons het die kaartboeke gebring.”

Madelein sit terug. ʼn Siddering trek deur haar. Sy sukkel om die hangertjie onder haar klere in te druk. Lynette help. Madelein gee ʼn sug van verligting. Lynette kyk op na my. “Dis al wat ons hier kan doen.”

Ek neem ʼn foto van die bladsy met my selfoon. “Dis báie. Dankie.” Ek gee Lynette ʼn vinnige, vriendskaplike drukkie. “Ek bel later.”

8

Wat het met haar gebeur?” vra Charlotte sag.

Ek druk die Mustang, so sy moet twee keer vra bo die brul van die enjin. Ek oorweeg die antwoord. Weet wie sy bedoel. “Sy het die waarheid gesien. Van ons wêreld.”

Charlotte is stil tot ons by my huis intrek. Sy draai na my. “Ek is jammer.”

Ek is bietjie uit die veld geslaan. “Vir?”

Ek is nie altyd regverdig teenoor jou nie.”

Ek draai na haar. Dis nuut. “Geen probleem.”

Sy frons. “Ons het nie veel tyd nie. Hulle kan die ding enige tyd skuif. Kanse is dit gaan landuit.”

Ek weet.” Die sagter kant van haar kon maar ʼn rukkie langer hou.

Ons weet dis nou daar. Maar hoe lank? Ons gaan vanaand iets moet doen.”

Sy is reg. Maar ek hou nie daarvan nie. Madelein is ʼn brose kind. Dis gevaarlik. As iets met haar moet gebeur …

9

Dit gaan ʼn rukkie neem,” sê ek onnodig.

Die gebou staan so sestien verdiepings hoog. Sover. Lyk of die bouery vir eers op ys geplaas is. Ons staan op die vyfde verdieping van die verlate parkeerarea aan die oorkant. Die wag slaap rustig. Ek hoop. Charlotte het toegang gereël. Op haar manier. Soms is dit beter om nie te weet nie. Volstruispolitiek. Lynette se ou Corolla staan langs my Mustang. Charlotte se Ninja aan die ander kant van die Mustang. Die vier van ons staar oor die leë straat na die gebou. Die onderste twee verdiepings is toegedraai in groen nette. Raamwerk omhels die gebou tot aan die veertiende verdieping.

Charlotte leun op die veiligheids reëling wat ons skei van die pad onder ons. “Sekuriteit bestaan uit ʼn span van agt. Hulle patrolleer die onderste verdiepings wat toegang verleen tot die res van die gebou. Elke uur op die uur stap twee na bo. Ek is nie seker welke verdiepings hulle patrolleer nie. Maar dan wissel hulle weer af.”

En jy weet dit – hoe?” vra Lynette.

Charlotte kyk nie om nie.

Sy sit al hier van net na ons geselsie vroeër,” sê ek.

Ek verdien ʼn vinnige kyk van Charlotte vir dit. Weet nie regtig wat om te maak daarvan nie. Sy beduie na Madelein. “Watter verdieping? Kan jy dit voel?”

Madelein haal die hangertjie uit onder die T-hemp wat sy nou dra. Lig haar kop, oë toe. Lig haar hande asof sy ʼn orkes dirigeer. “Daar.”

Net om seker te maak, gaan staan ek langs haar. Volg haar aanwysing deur te mik langs haar arm af. “Jy is seker?”

Sy knik. “Ja.”

Probeer weer. Want dit lyk na die veertiende verdieping.”

Sy lag sag. “Ek is seker.”

Probeer in elk geval weer.”

Sy klap my liggies teen die kop. “Ek is seker.”

Ek draai na Charlotte. “Jou plan?”

Kan jy ʼn pad oor toor?”

Toor? Hierdie is nie ʼn sprokiesverhaal nie.”

Daardie ding wat jy doen met ʼn skild. Net verder. En horisontaal.”

Gaan nie werk nie.” Ja. Ek het al probeer. Want dit sou sooo indrukwekkend wees indien dit gewerk het.

Dan gaan ons moet klim.” Ek is nie seker of sy dit amusant vind nie. Dit klink amper so.

Hulle het hysbakke daarbinne.” Ek probeer net behulpsaam wees.

Jy vergeet die gedeelte van ons plan wat sê ons wil ongesiens wees.”

Ja, maar …”

Kom nou. Jy is mos fiks. Dis net veertien vloere.”

Draf en klim is nie dieselfde nie. Eerstens, die een is vorentoe oor ʼn plat area. Die ander is op.”

Kry ʼn kamer, julle,” sê Madelein sag.

WAT?” Ek reik uit om haar hare deurmekaar te krap. Sy deins terug, maar met ʼn glimlag. “Jy is te jonk vir sulke dinge.”

Sy hou ʼn (daardie) vinger op. “Jy’s laf.” Die ou Madelein skemer deur vir ʼn oomblik. Dis goed om te sien.

Maar oulik. Reg?”

Sy lag.

Kom. Weg is julle,” sê ek aan Lynette en Madelein. Ons wag dat hulle wegtrek. Lynette knik in die verbygaan. Moontlik oor die interaksie met Madelein. Ek knik terug. Nugter nou. Die werk lê voor. Charlotte hou die voertuig dop terwyl hulle wegry. Gooi ʼn rugsak oor beide skouers. Ek vat die staf stewiger vas.

10

Ons nader die gebou so onopsigtelik as moontlik. Charlotte gaan staan voor ons die konstruksieraamwerke bereik. Kyk na bo. Draai stadig om, asof sy luister vir iets.

Wat is dit?” vra ek sag. Ek vertrou haar instinkte.

Sy fokus op my. “Niks.”

11

Veertien verdiepings is baie. Ek sê maar net.

12

Jy okay?”

Ek vee sweet af van my voorkop. My hande sweet. Ek is oortuig my tone sweet. “Gee my ʼn oomblik,” sê ek, probeer manhaftig my stem normaal hou. My stem faal my. Ek hou eerder net ʼn hand op.

Hier.” Sy bied ʼn bottel water aan. Die louwarm vloeistof het ʼn metaal smaak. Heerlik! Ek voel daar is sand in my keel, maak nie saak hoeveel ek drink nie. Sy neem die halwe bottel weg van my. “Jy gaan …”

Ek kots oor die vloer. Drink van die water om die smaak weg te kry. Dit versprei egter net die smaak verder.

Dis alles ʼn bietjie te maklik,” sê Charlotte.

Regtig?” Ek gaan lê op my rug. Oorweeg vele lewensbesluite.

Hier is geen behoorlike sekuriteit nie. ʼn Artikel met ernstige towerkrag word in ʼn gebou gehou in die middel van die stad. Oop en bloot.”

O, dit.” Wil iets slim byvoeg, maar ek het ʼn teorie. ʼn Teorie wat deur die ligte vibrasie van my staf gestaaf word. Ons het by die dertiende verdieping ingekom (dis steeds baie, een verdieping maak nie so ʼn groot verskil in die pyn en lyding wat ek ervaar nie). Die vyf boonste verdiepings is steeds in ʼn vroeë aanbouings fase, so dit was taamlik maklik. Die vensters het nog nie glas nie. Ek staan steunend op. “Hier is towerkrag. Sterk.”

Jy kan dit nou voel?”

Nie die pop nie.”

Sy staan stil. “Sekuriteit.”

Ek knik. Beweeg die staf rond soos ʼn watersoeker. “Bo ons.”

Kom ons gaan kyk dan.”

Die noodtrappe is aan die ander kant van die vloer. Ons beweeg stadig na bo, ek voor. Voel-voel, want die trappe self is donker. Ek wil nog nie lig oproep nie. Ons bereik die platform tussen die trappe, wat lei na die vertrekke op hierdie verdieping. Ek stop by die breë deurgang wat lei na wat lyk na ʼn reuse saal. Sal seker nog opgedeel word in kleiner kantore of iets.

Wag.” Hoewel ons nie fisiese teenstand verwag nie, is Charlotte se Glock in haar hand. Iets by die ingang na die oop area trek my aandag. Ek hou ʼn hand op. Laat ʼn bietjie van my wil deur die staf vloei. Lug. ʼn Titseltjie Water. Runes sak weg in die hout onder my hand. My oë uit fokus.

Hel,” sê ek sag.

Wat is dit?”

Gee weer daardie bottel vir my.” Ek hou die bottel voor my uitgestrek, na binne verby die deurgang. Ek moet mooi kyk, want die metode wat ek volg is nie juis suiwer nie. Die boonste gedeelte van die bottel val op die grond. Sjirurgies afgesny. “Ek is nie so goed met runes nie, maar hierdie is hoërgraad verby.” Ek wys na onsigbare lyne wat oor die binnekant voor ons strek. Besef sy sal nie weet waarvan ek praat nie. “Dis soos spinnerakke wat die hele area oortrek. Fyn, maar sterk. Dink aan onbreekbare lemme wat elk ʼn millimeter breed is. Jy is maalvleis indien jy hier instap.”

Kan ons by dit verbykom?”

Ek probeer ʼn prentjie vorm. Hou my kop eers só, dan weer só. “Dit dek die hele area aan die binnekant. Maar daar moet ʼn aktiveringsrune wees. Iemand moet dit aan en af kan skakel.” Ek soek, maar sien-voel nie iets naby nie.

Miskien het iemand ʼn sleutel.”

Ek oorweeg. “Maak sin. ʼn Artikel wat die sekuriteit-spreuk aktiveer of ontset.”

Ons moet dit vanaand afhandel.” Dringendheid in haar stem.

Ek dink. Ek dink.” Die probleem voor my is te groot. Die stelsel laat die runes wat ek op my voordeur gebruik soos ʼn stokmannetjie lyk. En hierdie ʼn Van Gogh. Dis ʼn berg. Te veel vir iemand met my skrale talent. Ek kan nie …

Charlotte vat my aan die skouer. Haar mond op myne. Sy soen my. Hard. Haar hand het my poniestert beet. Trek my teen haar vas. Sy los my skielik. My lippe dood. Ek haal swaar asem. Sy ook.

Probeer weer,” sê sy uitasem.

Wat?”

Sy giggel. Ek moet verkeerd hoor (my ore suis so bietjie), want sy is nie die giggel-tipe nie. “Die runes daarbinne. Oplossing.”

Ek staar deur die deurgang. Besef wat Charlotte beoog het met die soen. Skok aksie om my brein weer wakker te skud. Ek het nie ʼn probleem daarmee nie. Beskou die probleem weer. Die ligte van Sandton is al wat die binnekant verlig deur die groot oop vensterrame. Gooi vreemde skadu’s uit verskeie bronne van lig.

Daai soen …!

Dink Shaw!

Sekuriteitstelsel.

Bronne van lig.

Ek staan nader. Laat my wil weer deur die staf. Runes val weg onder my hand oor die staf. Oë weer uit fokus. Ek sien beslis nie alles nie, maar ek sien nou genoeg. Daar is ʼn patroon. Bronne van daardie lemme wat staties uitstraal. Hoekom hierdie voor my so indrukwekkend is, is die feit dat die sekuriteit nie uit strale bestaan nie, maar statiese energie. Wetenskaplikes sal jare aan hierdie ‘harde lig’ wil werk. Kom ons kyk hoe slim was … toe nie so slim nie! Die lemme word gefokus van verskeie areas teen die mure. En vorm ʼn fokuspunt.

Nou weet ek waar die pop is.

Natuurlik in die middel van die area.

13

Charlotte gee my ʼn hele twee minute. “En?”

Ek het niks,” moet ek toegee. Om die probleem duideliker te sien, bring nie outomaties oplossings nie.

Ek is ʼn bietjie teleurgesteld.”

Ja, wel.” Ek besef dit is nie Charlotte se stem daardie nie.

Die skild is op voor ek heeltemal omgedraai het. Twee gooimesse kletter op die vloer. Elwe en hulle voorliefde vir lemme. Maar dis nie my grootste probleem nie. Ek kan nie veel sien in die donker nie. En sy is vinnig. Iets hou aan prik aan my. Om die skild. En dit los nattigheid. Bloed. Sy speel met my. In ʼn hand tot hand geveg is ek ver buite my veld. Die elf staan terug. Hou my dop. Haar kop so gesak sy moet sekerlik onderdeur haar wimpers loer.

Uitlokkend.

Sy respekteer die towerkrag. Maar nie vir my nie. Dit voel beter wanneer mens bietjie respek kry. Ek weet hoe dit klink, maar dis waar. Ek los die skild. Sy vloei vorentoe. Het ek genoem ek het opleiding gekry deur ʼn Fae? Nou nie ʼn elf nie, maar …

Die staf tref haar teen die kant van haar kop. Ek volg op met ʼn vinnige hou teen die knie met die ander punt. Ek maak dit tel, want sy gaan my nie weer ʼn geleentheid gee nie. ʼn Vinnige gebruik van lug, lig haar by my verby. Sy val sleg. Haar voet trap nie so mooi nie. Sy rol egter vinnig en kom weer tot op haar voete. Vee die bloed aan haar kop teen haar skouer af. Draai haar messe stadig in haar hande. Speeltyd is verby.

Onthou toe ek gevra het vir ʼn bietjie respek? Ek heroorweeg. Dis beter indien hulle jou onderskat.

Sy is steeds vinnig, die knie klaar nie meer ʼn probleem nie. Of sy ignoreer dit net. Sy buk asof sy ʼn resies gaan hardloop. Die skemerte (meer sommer net donker) van die breë platform tussen die verdiepings waar ons ons bevind, werk nie meer vir my nie.

Shirak,” sê ek. Lig verskyn aan die breër bopunt van my staf. Ek gebruik eintlik maar net bietjie Vuur en Lug met my wil. Nie regtig ʼn towerspreuk in die sin om towerkrag te manipuleer met gesproke woorde nie. Daar is wel Magi wat dit so kan gebruik. Elk het sy eie manier. Ek hou net van die idee om soos dit te kan doen soos die karakter Raistlin in die boeke.

Die sagte wit lig is net genoeg om die omgewing beter te sien. Ek wil nie myself verblind nie. Die elf se oë weerkaats katagtig. Haar mond trek in ʼn grynslag. Sy snel in my rigting. Hardloop teen die een kantmuur op soos ʼn ninja. Sekerlik om oor my skild te kom indien ek dit weer probeer. Charlotte is skielik teen my skouer, trek twee vinnige skote af. Die elf se momentum word mid-muur gestop. Sy val weer. Land akrobaties op haar voete, maar steier na agter. Bloed versprei oor haar skouer. Sy gluur ons aan. Sê iets in ʼn taal wat ek nie verstaan nie. Ek het nie tyd om ʼn Vertaling-spreuk te probeer nie.

Charlotte rus ʼn hand op my skouer, stoot my agter haar in. “Sy is myne.”

Jy’t geweet,” sê ek.

Sy gooi haar Glock êrens agter my. Haal haar messe uit. Antwoord my nie.

Moenie,” sê ek. “Jy het niks om te bewys nie.”

Sy fokus op die elf. “Moenie tussenbeide tree nie.”

Die twee staan teenoor mekaar. Lyk nie of die koeëlwond die elf te veel pla nie.

Hulle doen ʼn lem-dans. Met die Glock weggegooi, is die geveg tussen die twee meer tradisioneel. Eksistensieel, amper. My mond hang oop. Daar is ʼn prag in die bevoegdheid van die twee. Die flits van lemme – die amper aanhoudende klap van metaal wat ʼn aaneenlopende lui veroorsaak.

Ek kan nie towerkrag gebruik nie. Die twee is te vinnig, te na aan mekaar. Heeltyd. Charlotte gryp die elf, bring haar grond toe. Skielik is dit ʼn baie noue geveg. Grondwerk. Alles gebeur net te vinnig. Beide bloei van verskeie wonde.

Charlotte se arm knak. Ek hoor been breek. Sy word op die harde sement gegooi. Sak met ʼn kreun op haar rug, arm verdedigend bo haar. ʼn Lem vind ʼn weg verby haar verweer, sak weg in haar skouer. Indien sy nie geblok het nie, sou dit in haar hart gewees het. Die elf sit met haar bene oor Charlotte se heupe. Haar tweede mes omhoog terwyl sy die ander een in die half-elf se skouer hou.

Sonder om regtig te dink – dit is ʼn paniek reaksie – gooi ek towerkrag in hulle rigting. Niks ernstig. Ek wil regtig net die elf se aandag aftrek. Lug. Wind. Die Elf se hare ruk na die kant asof iemand haar deur die gesig klap. Ek mik wyd, want dis nie ʼn presiese aksie nie. Wil nie per ongeluk (byvoorbeeld) nog ʼn mes in Charlotte laat beland nie.

Die elf se kop ruk op. Sy gluur my aan asof sy aanstoot neem. Spring in my rigting. Ek het reeds ʼn skild opgeroep. Vat nie kanse met haar nie. Haar gesig, vertrek van haat, klap teen die skild vas. Dan verander haar uitdrukking. Pyn. Verbasing. Sy kyk af.

Bloed.

Die skild het haar arm afgesny, net so halfpad deur die voorarm. Dis hoe vinnig sy is. Haar hand – saam met haar mes, is teen (in) my bors. Aan my kant van die skild. Ek los die skild. Dit verdamp in ʼn vae, blou mis tussen ons. Sy tuimel vorentoe, omhels my so te sê. Ons struikel na agter. Ek swaai om, stamp haar weg van my. Sy het reeds ʼn verdere mes in die hand. Effens korter lem. Asof dit ʼn verskil gaan maak.

Sy strompel agteruit.

Deur die ingang.

Reg in die sekuriteitstelsel in. My maag maak ʼn draai.

Wat het ek gedoen?!

Sy neem ʼn paar tree agteruit en val oor haar eie voete. Niks gebeur nie.

Geen dele wat afval of maalvleis word nie.

Sy staan moeilik op, hou die bloeiende stomp onder haar arm. “Marcáilte,” sis sy. Klink soos mar-keel. My naam, bekend aan Fae. ‘Gemerkte’.

Nóú weet sy.

Die geskiedenis agter die litteken. Sy het dit net nie geglo nie.

Sy beweeg reeds in my rigting, effe stadiger. “Mý lem is jou dood. Mýne!” Donderweer slaan. Twee, drie maal. Sy ruk na agter met elke slag. Val op haar rug. Charlotte skuif by my verby, Glock in die hand. Gaan staan oor die elf. Trek nog ʼn skoot af. Sy sê iets oor haar skouer, maar my gehoor het besluit om die res van die nag af te vat. Ek sak neer op my knieë. Beskou die hef van die mes in my bors. Dis darem maar baie bloed. En ek hou regtig van die T-hemp.

Die mes val uit.

Wel.

Toe nou nie so diep nie.

Voel diep.

Perspektief, reg?

Charlotte kyk terug na my waar sy reeds die kis uit ʼn krat lig, so met die een hand. “Jy okay?”

My ore protesteer, maar gehoor keer stadig terug. “Ek dink sy het haar naam op my rib probeer uitkrap. Wou moontlik ons verhouding na ʼn nuwe vlak neem.”

Kon erger wees.”

Dis seer, okay? Ek is in pyn.”

Sy wys na die mes wat steeds in haar skouer vasgepen is. Haar arm wat onnatuurlik buig. “Regtig?”

Jy’s gewoond daaraan. Mense doen dit die hele tyd aan jou. Ek is sensitief.” Maar dit lyk ernstiglik seer.

Ek gaan jou nou-nou op jou sensitief skop. Kom. Help hier. Die geweerskote het aandag getrek.”

14

Die Orde het hulle eie hospitale. Of eerder – hulle eie mense in sekere hospitale. Moeilik andersins om dinge aan die owerhede te verduidelik. Soos: u bloedtoetse het teruggekom. Daar is spore van lycanthropy opgetel. Ons wil graag weet of u onlangs ʼn ouma verorber het. Of: daardie tandmerke aan jou buurman lyk suspisieus soos dié van ʼn helhond. Gloei steeds soos kole. Kan ons asseblief u lisensie sien…?

Ek het ʼn persoonlike kamer. Sonder persoonlikheid. Met SABC en E-TV. Nie geweet dit bestaan nog nie. Walker: Texas Ranger, op die skerm. Die kos steeds dieselfde hospitaalkos. Na drie dae hier, is die jellie die enigste ding waarna ek uitsien.

Voel my pyn?

Charlotte stoot die deur oop. Kardoes met Burger King. En ʼn sak met iets anders in. Alles so in die een hand.

Ek sal selfs jou crocks verskoon vir die feesmaal wat jy bring,” sê ek droogweg.

Sy sit die sak op die vloer. “Jy moet ophou aansit. Jy het net ʼn skrapie en lê steeds in die bed.” Stywe verband oor haar skouer. Arm in ʼn hangverband. My wonde is seker minder indrukwekkend. Soos die tyd aanstap probeer mens minder littekens bymekaarmaak. Niemand is regtig meer beïndruk nie. En daar is net soveel plek oor ʼn mens se liggaam.

Daar kon gif aan die lem wees,” sê ek, net halfpad verontskuldigend. Elwe is bekend daarvoor. Ek is bly Charlotte is reeds op haar voete. Ek was bekommerd oor haar. Sy heel dalk makliker, vinniger. Maar daardie lem het diep in haar skouer gesit. Die arm ongemaklik gebreek. Ek skuif op, sit kruisbeen om vir haar spasie te maak. Ons hou piekniek op die bed.

Die pop?”

Sy lig haar kop. Frommel die papiere en boksies en druk dit in die kardoessak. Ek help. Sy haal ʼn mes uit haar sak. Die lem is Fae-glas. Fae en yster hou nie van mekaar nie, onthou nou weer? “Vertrou jy my?”

Ek haat wanneer ʼn gesprek so begin. Dit eindig altyd in ongelukkigheid. “Jaaa?” Ek is ook nie dom nie. Dis ʼn lem in haar hand.

Sy lag. “Dis te gevaarlik om dit vir die Kinders te gee.”

Die pop? Of die mes?”

Die pop.”

Ek stem.”

Sy handig die mes oor. “Hou dit.”

Dis – spesiaal. Die oomblik. Nie seker hoekom sy dit doen nie. Fae of half-fae gee jou ʼn wapen as geskenk, dan vra jy nie vrae nie. Hulle besluit dalk net om iets duskant jou ruggraat te soek met dieselfde lem. Ek glimlag. Aanvaar die geskenk. “Nog iets.” Sy tel die ander sak van die vloer af, sukkel-sukkel.

Dit lyk nie na ʼn gewone verpleegster se uitrusting daardie nie,” sê ek. Iets fladder in my bors. “Met hoë hakke?”

Sy sluit die deur. “Help my.”

Bly ʼn halfuur langer.

Ons voel beide beter.

Toedels!” En sy is by die deur uit.

Ek dink eers later daaraan. Sy is half-fae. Fae kan nie lieg nie. Sy het egter my nie regtig geantwoord oor die pop nie.

15

Twilight Zone maak my wakker. Eers dink ek dis die TV. Maar dis my selfoon. Die nagpersoneel praat sag, verder in die gang af.

Ek het reeds versekering en soek nie ʼn Tracker nie,” sê ek vinnig. Ek is ten minste beleefd en antwoord.

Jy het een van myne gevat. Ek voel daar moet balans wees,” sê ʼn vroulike stem.

Verkeerde nommer.”

Nee, Meneer Shaw. Dit is nie.”

Koue streel teen my ruggraat af. My maag ʼn blok ys. Ek trek reeds aan, so met die een hand.

Sy is baie spesiaal. Dis ʼn wonder niemand weet van haar nie.”

Madelein? Hulle weet van haar? “Luister, ek weet nie …”

Kom nou, Meneer Shaw. Ons is nie kinders nie.” Of het sy gesê ons is nie die Kinders nie? My kop hardloop reeds kilometers vooruit. Ek gaan sit weer op die bed, een been in my jeans.

Geen kwinkslae, Meneer Shaw? Ek is teleurgesteld. Ons het dan so baie van jou gehoor.”

Daar is ʼn stilte in my. Ek streel oor die hout van my staf. Want ek weet nie of hulle haar reeds het nie. Daar is altyd hoop. “Julle weet wie ek is.” Ek bedoel dit as ʼn stille dreigement.

Meneer Shaw. Hierdie is nie ʼn rolprent nie.”

Presies.” Ek beëindig die oproep. Maak twee vinnige oproepe.

Eers na Lynette. “Vlug,” sê ek. Beëindig die oproep voor sy kan antwoord. Sy weet. Ons het die plan lankal uitgewerk. Ons sal op ʼn voorafbespreekte plek ontmoet. Weggooi selfone aktiveer om te kommunikeer.

Die tweede oproep is na my ou maat in die Orde. Aan die militêre gedeelte. Die een wie se nagsigtoerusting ek nog mee sit. “Rock, paper, shotgun,” sê ek voor hy iets kan sê.

Daar is oomblik se stilte. “Ek is op pad.”

-Ω-