Renette Denysschen

OP PAD NA NOVUS TERRA

geskryf deur

Renette Denysschen

ʼn Nuwe planeet het uit die niet in Mars se wentelbaan verskyn, geskik vir lewe soos op die aarde. Wetenskaplikes het kopgekrap en geredeneer oor die ontstaan van die planeet. Christene was oortuig dat dit die nuwe aarde is waarvan daar in Openbaring van die Bybel gepraat word. In 2047 het die Groot Oorlog uitgebreek toe elke grootmoontheid meegeding het om die nuwe planeet te annekseer. Díe oorlog, wat tot 2049 geduur het, het byna die aarde en sy populasie totaal uitgewis. Uiteindelik, toe die oorlog verby was, is daar ʼn nuwe Wêreldregering gestig en is daar ontdekkingsreise onderneem na die planeet wat Novus Terra gedoop is. Met dringendheid en met behulp van KI en skatryk beleggers en filantrope is begin om ruimtetuie te ontwikkel wat dit moontlik maak vir gewone mense om veilig, sonder risiko die jaarlange reis na Novus Terra aan te pak. Stelselmatig is daar infrastruktuur tot stand gebring en in 2054 is daar met hervestiging van mens en dier begin. Streng biometriese toetse het bepaal wie vir hervestiging gekeur sou word. ʼn Afvaardiging is uit elk van die vooroorlogse lande op Aarde verkies, wat in beheer staan oor die hervestiging van mense uit daardie land. Tydens so ʼn reis word inligtingsessies aangebied oor die reëls en lewe op Novus Terra en alhoewel Engels die hooftaal is, het daar spontaan ʼn nuwe taal ontstaan wat in die volksmond bekend staan as NoTerIL. Klasse daarin word ook aangebied.

Sumarie Eksteen was skaars drie jaar oud toe haar pa net voor die einde van die Groot Oorlog gesneuwel het toe hy as soldaat vir die Minderheidslandekoalisie (MLK), geveg het. Daarna het haar ma gedoen wat sy kon om Sumarie en haar ouboet Henko aan die lewe te hou. Teen daardie tyd het anargie wêreldwyd geheers en almal was op hulself aangewese vir oorlewing. Die nuwe Wêreldregering het ʼn mate van orde herstel en elke mens is weer geregistreer en ʼn nuwe digitale ID-kaart toegeken.

Maar kos en werk was steeds skaars. Die gelukkiges is gekies om op Novus Terra, of die skepe wat soontoe gaan, te werk, maar die keuringsproses was uiters streng. Twee jaar gelede, toe Henko agttien geword het, is hy gekies om die werwingstoetse af te lê. Toe hy vir Sumarie en haar ma deur die venster van die Novus Terra bussie waai, was dit die laaste keer wat hulle hom gesien het. Omtrent twee maande na Henko se vertrek het hulle ma siek geword. Nog twee maande later het sy een aand Sumarie se hand gevat, en ernstig gesê:

Jy moet probeer om Novus Terra toe te gaan. En onthou, jou naam is Sumarie Eksteen, jy is vernoem na jou Ouma.” Die syfers en nommers op jou ID is nie jou naam nie. Sy het hartseer na Sumarie gekyk en haar oë toegemaak. Die volgende dag is sy dood.

So het Sumarie in die Sentrum vir Weeskinders beland. Daar is haar ID-kaart opgedateer en weer aan haar uitgereik. Sy is ʼn bed toegeken in een van die slaapkwartiere vir meisies van haar ouderdom. Omtrent ses maande gelede het gerugte die rondte begin doen dat die Novus Terra skip ook weeskinders soontoe gaan neem om daar te gaan bly. Die Wêreldregering het besef dat daar talentvolle kinders met baie potensiaal is wat deur die Groot Oorlog wees gelaat is. Deur die bestes onder hulle te werf sou hulle seker maak díe kinders kry die geleentheid op ʼn beter toekoms. Sumarie het haar oor op die grond gehou. Sy wou seker maak sy is reg as díe dag kom. Sy sou alles in haar vermoë doen om saam met daardie skip te vertrek. ʼn Maand gelede het die dag aangebreek. Net na ontbyt het ʼn amptelike Novus Terra motor voor die Sentrum stilgehou en ʼn span mense in amptelike uniforms van NT-RSA het uitgeklim. Vir ʼn lang ruk was hulle agter die toe deur van die matrone se kantoor saam met die ander personeel en toe hulle weer verskyn het elke kind ʼn elektroniese boodskap op sy ID-kaart ontvang.

Alle 5 – 10-jarige inwoners moet in die gemeenskapsaal aanmeld.

Inwoners vanaf 11- tot 18-jaar moet in die ouditorium aanmeld.

ʼn Gedempte opgewondenheid het posgevat onder die groter kinders. Sumarie het saam met die ander meisies van haar kwartiere in ʼn ry aangestap ouditorium toe. Daar is ʼn elektroniese tablet aan elkeen by die deur uitgereik. Na almal ʼn sitplek ingeneem het, is die aanlyn teoretiese toetse aan hulle verduidelik en kon hulle daarmee begin. Later is hulle in nommer volgorde na die siekeboeg toe geroep vir uitgebreide biometriese toetse.

Gister het die amptelike motor teruggekeer. Die mense met die uniforms het weer in matrone se kantoor in verdwyn. Sumarie het buite om gehardloop en onder die venster van matrone se kantoor haar ore gespits om te hoor wat gesê word. Sy kon nie alles hoor nie. Net hier en daar kon sy iets uitmaak. Die afleiding wat sy kon maak is dat daar ʼn lys is en almal wie se naam op die lys is moet die volgende oggend net na ontbyt aanmeld om saam met die Novus Terra-bus te vertrek. Toe die boodskappe uitgestuur is, het Sumarie nie een ontvang nie. Sy het gehuil van teleurstelling. Net na aandete het sy ongesiens na Matrone se kantoor geglip. Dit was nie eers nodig om lank soek nie. Sy het die tablet wat openlik op die tafel gelê het aangeskakel, en die betrokke lêer oopgemaak. Haar oë het gerek toe sy die dekbrief lees en sien dat nie minder as sewehonderd kinders gekies is nie. Hulle sal duidelik met meer as een bus opgelaai moet word. Sy het blitsig na haar nommer gesoek. Volgens die uitslae lyk dit of sy tog oorspronklik gekies is, maar daar, in vet letters, skuins oor haar naam, is daar gedruk: HET DIE POTENSIAAL OM IN DIENS VAN DIE SENTRUM GENEEM TE WORD.

Net daar het sy ʼn besluit geneem. Op pad na die slaapkwartiere het sy in die kombuis gaan kyk wat sy kan vat. In die slaapkwartiere was daar ʼn opgewonde geskarrel en pakkery terwyl ander stil op hul beddens gesit en toekyk het. Niemand het aandag aan Sumarie gegee wat ook begin pak het nie. Na ligte uit het sy haar rugsak gevat, uitgesluip na die kombuis toe, die goed wat sy vroeër in ʼn kas versteek het gepak en by die venster, wat sy ook vroeër van knip afgehaal het, oopgemaak het uitgeklim. Sy het aanhou hardloop totdat haar longe begin brand het en haar voete nie meer wou nie. Toe eers het sy gestop om bietjie te rus en ʼn slukkie water te neem. Daarna het sy teen ʼn stywe pas aanhou stap.

Die jong meisie is uitasem toe sy tot stilstand kom en teen die omgevalle boomstam leun. Sy is nie seker hoe lank sy al loop nie. Dit is reeds vroegoggend-skemer. Terwyl sy ʼn mondvol water uit haar waterbottel drink, versigtig om geen druppel te mors nie, sien sy die siloeët van die skip wat later vandag Novus Terra toe vertrek. Dit is waarheen sy mik.

Haar skouerlengte krulhare val vorentoe toe sy afbuk om die waterbottel weer in haar rugsak te sit. Ergerlik vee sy dit ager haar oor in. Sy gaan sit op haar hurke om vir hoeveelste keer die inhoud van haar rugsak na te gaan. Twee waterbottels – een feitlik leeg, ʼn kosblik met oorskiet van gisteraand se aandete, ʼn pakkie koekies, ʼn stel vars klere en onderklere, ʼn plastieksakkie met ʼn stukkie seep, tandeborsel en ʼn halwe buisie tandepasta en ʼn kam. In die kantsakkie is haar ID-kaart. Sy haal dit uit en kyk na die foto daarop. Die krulhare is deurmekaar, die neutbruin oë is effens verwilderd en daar is ʼn hartseer trek om haar mond. Die naam daarop is: SERSA461115.

“My naam is Sumarie Eksteen, vernoem na my ouma Susan Marie, ek is veertien jaar oud. Ek moet my bes probeer om by Novus Terra uit te kom,” fluister die meise vir soveelste keer aan haarself voor sy die ID-kaart terug sit in haar rugsak. Sumarie staan op, haak die rugsak oor haar skouer en begin weer stap. Sy is nie seker hoe laat die skip gaan vertrek nie, daarom wil sy maar eerder so gou as moontlik naby genoeg kom om daar weg te kruip totdat die bus met die kinders wat gekies is opdaag. Sy weet nog nie hoe sy ongesiens saam met die ander kinders aanboord die RSA01 sal kom nie, maar sy is seker sy sal ʼn plan kan beraam sodra sy kan sien wat die opset is.

Sumarie byt haar onderlip teleurgesteld. Die ondeurdringbare grensdraad hou die RSA01 onbereikbaar vêr. Die enigste manier hoe sy daar sal uitkom is deur die hek en selfs al kry sy dit reg, sal sy sukkel om ongesiens tot by die skip te kom. Daar is ʼn miernes van bedrywighede tussen die hek en die skip. Vragmotors en pantserwaens met die amptelike Novus Terra-embleem op ry heen en weer. Wagte met groot gewere en kwaai honde patrolleer die grensdraad. Sumarie het nog nie die busse gesien wat die gekose kinders moet bring nie. Sy besef haar enigste kans is om saam met só bus in te gaan, maar hoe? Sy kan haarself skop. Dit sou makliker gewees het as sy by die Sentrum op een van die busse probeer kom het.

Versigtig sluip sy van boom na bos tot naby die hek en hou die prosedure van die wagte dop. Een wag loop met ʼn lang spieël om die voertuig en skandeer die onderkant. Nog ʼn wag met ʼn hond loop ook om en dan is daar een wat bo-op die voertuig klim en die dak inspekteer. Sumarie sien in die verte ʼn stofwolk. Soos miere in ʼn ry kom sewe groot dubbeldekkerbusse met die kronkelpad aangery.

Sy hurk weer om vir oulaas haar rugsak na te gaan om seker te maak alles is nog daar.

My naam is Sumarie Eksteen. Ek is na my ouma Susan Marie vernoem. My ma was Ralie Eksteen. Sy is dood. My boetie was Henko Eksteen. Hy is weg.”

Sy blaas haar asem stadig uit toe sy regop kom en vee haar natgeswete hande aan haar broekspype droog. Die busse is nou by die hek en kom sugtend tot stilstand. Sumarie som die situasie op. Dis haar enigste kans. Vasberade begin sy al met die bome langs nader aan die busse beweeg tot sy in lyn kom met die agterste bus. Die wagte het klaar die eerste drie busse geïnspekteer, maar wag blykbaar eers tot almal nagegaan is voor hulle die hek oopmaak. Sumarie hou haar gereed. Die laaste wag fluit en waai met sy hand toe hy klaar is met die laaste bus en begin hek toe stap. Die busse word aangeskakel. Sumarie hardloop koes-koes tot by die agterkant van die agterste bus en beweeg dan na die kant. Sy voel na die bagasieruim se handvatsel en stuur ʼn skietgebed op dat dit nie gesluit moet wees nie. Sy slaak ʼn sug van verligting toe sy voel hoe die deur oopskuif. Dan kom die bus stadig in beweging. Met al haar krag beur sy teen die sakke aan die binnekant en dwing haarself in die beperkte ruimte in. Met moeite skuif sy die deur toe, maar maak seker dis nie op knip nie. Haar hart klop wild in haar bors.

Wat soos ʼn ewigheid voel, maar tog ook soos ʼn oogwink, kom die bus tot stilstand. Sumarie skuif die deur effens oop en loer met een oog uit. Sy sien niemand. Sy sal moet vinnig speel. Met een beweging maak sy die deur bietjie wyer oop en klim vinnig uit, skuif die deur toe en rol tot onder die bus. Sy wag tot sy die voete wat al skuifelend om die bus rondtrap sien wegbeweeg in ʼn ry voor sy vinnig uitrol en dan naderdraf om in die ry te val.

Hei, jy hoort nie hier nie.” Die seun kyk oor sy skouer na Sumarie terwyl hulle aanstap na die trappe wat opgaan na die gapende deur van die RSA01.

Sumarie kan hom net aanstaar. Sy weet nie wat om te sê nie en trek net haar skouers op.

Hoe oud is jy?” vra die seun weer.

Veertien.” Kwaak Sumarie hees.

Jou ry is daar.” beduie die seun met sy hand. “Hoe het jy in dié ry beland. Ons is agttien.”

Jammer.” Sumarie drafstap na haar ouderdomsgroep toe, maar probeer so onopsigtelik moontlik bly. Sy probeer haar oë afgewend hou, maar die yslike ruimteskip wat sissend op sy landingsblad staan en blaas, dwing haar om notisie daarvan te neem. Sy het alles wat sy in die hande kon kry gelees oor die reise na Novus Terra, en sy het geweet dat die skepe wat soontoe gaan, tot drieduisend mense op ʼn slag kan vervoer, maar niks kon haar voorberei op die kolos hier voor haar nie. Sumarie probeer die droogheid in haar keel wegsluk. Sy wens sy kon ʼn slukkie van die water in haar rugsak vat. Dit voel of haar hart uit haar keel wil spring en sy is seker almal om haar kan dit hoor klop.

Deur die venster van die RSA01 is daar tog een van die personeellede wat haar opmerk. Dis nie elke dag dat mens ʼn jong meisie met sulke ongetemde krulhare sien nie. Hy klik op die tablet in sy hand en gaan deur die lys van passasiers. ʼn Ligte frons verskyn tussen sy oë.

Sumarie probeer ongemerk rondkyk terwyl hulle met die trappe op na die ingang van die skip beweeg. Haar bene wil swik onder haar. Weerskante van die deur staan twee soldate in uniform. Soos die kinders die deur bereik, word die dogters en seuns geskei en ʼn houertjie word aan elkeen gegee. Seuns gaan by ʼn gang aan die linkerkant in en die dogters regs.

Die vroulike soldaat oorhandig die houertjie aan Sumarie. Daar is ʼn gehoortoestel in. Sy beduie aan Sumarie om dit in te sit. Sy sien die vrou se mond beweeg en hoor dan ʼn blikkerige stem wat in Afrikaans in haar oor praat.

Jy lyk oorweldig kind, kom saam met my.” Sy stoot Sumarie by die eerste deur in die gang in terwyl sy terselfde tyd in ʼn horlosie tipe apparaat op haar arm praat. Sy glimlag vir Sumarie. “Sit ʼn oomblik en kry jou asem terug. Jy hoef nie bang te wees nie. Iemand gaan nou met jou kom praat.” Sy glimlag weer en die deur skuif agter haar toe voordat Sumarie iets kan sê.

Sumarie kyk om haar rond. Voor haar is ʼn vlekvrye staal lessenaar met ʼn mikrofoon daarop. Dit lyk of dit in die skip ingebou is. Weerskante is daar twee lang banke, op dieselfde prinsiep gebou. Bokant die banke is ʼn magdom klein glaskompartementjies. Dieselfde tipe gehoorstoestel as wat Sumarie in haar ore het is daar in. Dit lyk vir haar of daar ʼn kompartementjie vir elke taal op aarde is. Sy het skaars op die punt van die een bank gaan sit, toe die deur amper geluidloos oopskuif. ʼn Soldaat in uniform kom binne, besig om op ʼn tablet te tik. Sy sien ook sy mond beweeg en hoor weer die blikstem in haar ore.

Goeie dag, ek is offisier HERSA401125, ek is die NoTerIL instrukteur van die RSA01. Ek neem aan jy kan my verstaan? Ek is aangewys om die onderhoud met jou te voer en jou op jou gemak te maak. Gee asseblief vir my jou ID-kaart.”

ʼn Sug en ʼn slag op die vloer laat HERSA401125 vinnig opkyk. Dis die meisie met die krulhare en sy het flou geword. Hy skakel die mikrofoon af, maak een van die kaste oop en haal ʼn botteltjie water uit. Toe hy haar omdraai verbleek hy merkbaar. Dit is wraggies sy. Hy sprinkel van die water oor haar gesig.

Sumarie?”

Haar oë knipper oop. Vir ʼn oomblik kyk sy verward rond. Dan ontmoet haar oë die offisier sʼn.

Ek het jou nommer herken. Jy is eintlik Henko Eksteen. Seun van Ralie en Herman Eksteen. Ek is Sumarie Eksteen vernoem na my ouma Susan Marie.” Trane wel in haar oë op en sy sluk. “Ons ma Ralie is dood en jy was weg, maar nou is jy hier.” Sy vee die trane met haar mou af en snuif terwyl sy wankelend orent kom. “Ek het saam met die weeskinders gekom, maar ek was eintlik nie gekies nie.”

Ek het gedog dis jy, maar kon nie jou naam op die lys kry nie.” Hy druk haar ʼn ommblik teen hom vas. “Ons kan later praat. Ek moet nou eers hierdie onderhoud met jou hê.” Henko gaan sit en skakel weer die mikrofoon aan.

Oorhandig asseblief jou ID-kaart.”

Na die onderhoud het Henko weer die mikrofoon afgeskakel en Sumarie behoorlik gepeper met vra oor die laaste twee jaar. Sy het hom vertel van hulle ma se siekte en alles daarna. Toe sy hom vertel hoe sy uiteindelik op die skip gekom het, het hy net sy kop in ongeloof geskud.

Dis ʼn wonderwerk dat jy nie uitgevang is nie. Ons sal jou vir ʼn jaar moet wegsteek … of ten minste tot ons vertrek het. Dan is daar nie omdraai kans nie. Ek sal aan my bevelvoerder moet verduidelik, maar hopelik sal hy jou in my sorg laat.”

“Hoekom het jy net weggeraak, Boeta?”

“Toe ek die keuring vir werk geslaag het, moes ons dadelik aanboord kom want hulle was agter skedule met die vertrek. Ek het elke dag aan jou en Ma gedink. Ek het hard gewerk om ʼn pos op die skip te kry sodat ek weer kon terug keer en julle kon gaan soek, maar jy moet onthou, dit het ons ʼn jaar geneem tot by Novus Terra en weer ʼn jaar terug en toe ons hier land is ons nie toegelaat om die skip te verlaat nie. Ons moes dadelik voorbereidings tref om alles gereed te kry vir die nuwe passasiers.”

ʼn Blikkerige aankondiging kom weer deur die gehoorsstuk in haar oor.

“Aandag alle bemanning. Dit is die eerste aankondiging. RSA01 vertrek in tien minute.”

“Kom Sussa, ons het nie baie tyd nie. Dis belangrik dat jy nou so normaal as moontlik optree. Ek gaan maak of ek jou nou na jul slaapkwartiere toe begelei, maar ons moet by my woonkwartiere uitkom. Doen net wat ek vir jou sê.”

Doelgerig navigeer Henko vir Sumarie tussen personeel en passasiers in ʼn doolhof van gange deur. Sy sorg dat sy op sy hakke bly en kyk nie rond nie. Soos hulle vorder raak die mense al hoe minder. Henko kom tot stilstand en skandeer sy horlosie by ʼn deur. Dit skuif feitlik geluidloos oop. Hy trek Sumarie in die vertrek in en druk ʼn knoppie wat die deur weer laat toeskuif. Dis Henko se woonkwartiere.

Sumarie kyk om haar rond. Dis ʼn baie knap sitvertrek met ʼn tafel en twee stoele. Alles ingebou net soos in die onderhoudkamer. Sy kry nie kans om verder te kyk nie. Henko trek haar na ʼn ander deur. VERTREK/LANDING FASILITEIT staan op die deur. Dis ʼn klein vertrekkie met weereens twee ingeboude vlekvrye staal stoele teen ʼn muur. Henko vat haar rugsak en sit dit in ʼn kassie bokant die stoele. Dan druk hy Sumarie op een van die stoele neer en gaan sit langs haar.

Sit jou arms op die leuning. Ons gaan nou vasgordel.”

Hy skandeer die toestel aan Sumarie se kant en ʼn sitplekgordel verskyn. Na hy haar gehelp het om vas te gordel, herhaal hy die proses aan sy kant.

Nou wag ons.”

Sumarie maak haar oë toe en leun teen die koel ruglening van die stoel. Hierdie dag het heeltemal anders verloop as wat sy ooit kon droom.

Ek het dit gemaak, Mamma.” Fluister sy.

Daar is ʼn gedruis en vibrasie toe die RSA01 in beweging kom. Sumarie knyp haar oë styf toe. Dan voel sy hoe haar boetie haar hand vat. “Dis okei…jy’s nou veilig.”

Van buite af sien mense die RSA01 die ruimte in skiet met sewehonderd weeskinders, een verstekeling, die bemanning en ander passasiers.

In kajuit LO-02 kyk HERSA401125 en SERSA461115 na mekaar en glimlag.

Ons is op pad.”