DIE RIDDER
‘n Put storie
I can feel it coming in the air tonight, oh Lord
And I’ve been waiting for this moment, for all my life. Oh Lord
– Phil Collins, In The Air Tonight
14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan.
15 En as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die Woord van God
Efésiërs 6
Die Ridder
1
Die Kerk se gronde is ’n skande. Kakiebos en ander vuilgoed neem oor. Die trappe na die deure is stukkend, op plekke het stukke klip uit die eens pragtige opstap uitgeval. Leon stap versigtig in die vinnig wordende skemer na die deure, gooi dit krakend oop. Hy is nie veronderstel om hier te wees nie. Te gevaarlik, is aan hom gesê deur die grootmense. Sekere geboue in die dorp is te mankoliekerig om veilig te wees. Die Kerk een van hulle. Die laaste lig verlaat die binnekant van die Kerk deur die vensters, hoog op. Leon kyk waaksaam rond. Daar is fluisteringe van die mense wat nog oor is in die dorp. Fluisteringe van skaduwees wat beweeg. Skaduwees wat terugkyk. Skaduwees wat voorheen vêr buite die dorp was. In die wêreld daar buite.
Die houtbanke staan stewig, solied, aan die binnekant. Die gebou sal moontlik verkrummel en die banke sal bly staan. Harde hout. Hy onthou die ongemaklikheid van die lang sit en na Dominee luister. Die kraak van die bankie wanneer hy probeer om die ander boud weer lewendig te kry.
Sy ma se waarskuwende oë.
Die ou tannie (wat was haar naam?) se vinnige kyk. Afkeurend. Almal was so bang vir haar. Met haar ou hoedjie op ’n Sondag. Die een met die blommetjies op. Hulle het altyd gelag daaroor. Tot Ma eendag verduidelik het dit was ’n geskenk van haar oorlede man. Die een wat in die Ou Oorlog dood is.
Sy hand gly oor die hout van die bankies. Die bankies gaan nog die dorp oorleef, hy is seker daarvan.
Hy stap na die kateder. Podium. Dit is die mooi woord. Beter as om dit te verwar met die ander woord wat iets te doen het met ’n piepie-sak wat siek mense soms moes ronddra.
Die kruis op die podium lyk of dit blink in die skemerte. Sy vingers gly oor die gladde hout daarvan. Hy wil hom graag verbeel hy voel iets daar. Iets soos ’n bietjie elektrisiteit wat hom aanraak. Hoewel hy nie Katoliek is nie, sak hy op sy knieë voor die kruis. Hy onthou in die dae van televisie hoe hulle altyd kerse aangesteek het. Voor die beeld van Jesus gekniel het. Sy pa het altyd van beelde gepraat en wat was reg en verkeerd. Leon dink miskien was dit net ’n manier om te fokus. Die beelde. Om seker te maak Jesus bly in jou gedagtes wanneer jy bid. Want soms begin jy dink aan ander dinge. En dis verkeerd. Hy het dit eenkeer genoem – sy teorie – maar nie weer nie. Die bankie van die Kerk was meer ongemaklik daardie Sondag. Sy pa was eng in sy sienings.
Niemand hier nie. Ten spyte van die instruksies tot die teendeel, kom ’n paar mense nog na die ou Kerkie. Hy bid hardop. Dit help om te konsentreer. Te fokus. Hy hou van die idee – fokus. Hy fokus so goed, die kriewel geluid was moontlik lank aan die gang voor enigiets deurdring. Hy spring op, kyk verbouereerd rond. Retireer stadig na die ligter grys van die oop deure aan die agterkant van die Kerk. Die skemer is so te sê nag teen hierdie tyd.
Beweging aan die regterkant. Bo teen die plafon. Die Kerk is amper heeltemal donker. Leon maak sy oë skrefies. Daar is iets daar. Dit beweeg stadig, so asof dit probeer om gemaklik te sit. Te hang? Hy dwing sy voete agteruit. Oë op die hoek gerig. Sy logika sê hy moet eerder nie die skaduwee uit die oog verloor nie. In die donkerte kan dit maklik uit enige rigting kom – indien jy dit verloor. Dit is meer skrikwekkend om nie te weet nie.
Leon besef hy het nog nie beweeg nie. Sy voete wil nie luister nie. Sy kop voel dik. Die beweging teen die plafon het opgehou. Dit is erger. Die deur is so vêr. Beweging is moeilik. Voel of iets hom terugtrek. Hy veg teen ’n stroom. Sy oë is steeds vasgenael op die skaduwee. Iets…kyk vir hom. Dis net ’n gevoel, maar Leon weet dis ’n waarheid. Twee ligpuntjies maak oop. Hy sou dit gemis het as hy nie gestaar het na die hoek nie. Twee dowwe kolle wat net-net minder grys is as die donkerte.
Die ding sien hom nou regtig egtig.
’n Fladdering.
Leon se rug klap teen die houtvloer. Iets druk teen sy bors. Die twee ligpunte is naby sy gesig. Grys. Lyk soos ’n ou televisie se sneeu. Moeilik om enigiets anders te sien in die donker. Die oë – want hy weet dit is oë – beweeg nader. Pyn skiet deur sy kop. Hy probeer wegkyk, maar die oë hou hom vas. Iemand praat. ’n Stem wat vreesbevange is. Wat smeek. Wat beloftes maak. ’n Kind se stem. Enigiets om net weg te kom van hierdie…
Leon besef dit is sy stem. Maak sy mond toe. Die ding bo hom – op hom – glimlag. Weer net ’n gevoel. Hy kan net die oë sien. Dit boor in sy kop in. ’n Sagte geruis. Soos die see. Maar dit is ’n stem. Stemme. Beloftes. Dinge sal beter gaan. Geen pyn meer. Geen bekommernisse. Gee net in. Gee net op. Gee net…alles…
Leon maak sy oë toe. Probeer die trane afsny. Sy hart gaan ’n aanval kry. Dit is moeilik om asem te haal. Sy bors brand.
“Here, Jesus…” fluister hy.
Die drukking is weg. Iets val hard. Weg van hom af. Die bankies skuif. Iets – iemand – tree oor hom. ’n Lig, verblindend in die skielikheid daarvan, verlig die binnekant van die Kerk. Wit lig. Woorde. Klink soos ’n ander taal.
Iets grom. ’n Diep grom soos ’n leeu. Dan skreeu dit. Soos ’n kat saans wat baklei vir sy grondgebied.
Stilte.
Leon skuifel na agter. Na die deur. Die lig is weg. ’n Massiewe vorm stap nader.
“Asseblief…” sê Leon sag. Keel droog. Seer.
“Dis verby, seun.” ’n Man se stem. Hy hurk langs hom. ’n Metaal klank. Op die vloer. Leon skuif vêrder weg. Probeer ten minste. Die man is groot. Te groot vir ’n man. Sy kop massief. Skouers twee keer Leon se breedte. Die man se hande reik na sy eie kop. Draai iets.
En sy kop kom af…
2
“Seun?”
Leon hou sy oë toe.
’n Stil laggie. “Dis okay. Dit is veilig.”
Leon is nie so seker nie.
“Ek weet jy is wakker. Jy kan maar jou oë oopmaak.” Die stem verander. Meer soos ’n onderwyser wat ongeduldig is. “Ek kan doen met iets om te eet. En te drink. Miskien kan jy my darem daarmee help?”
Leon se oë gaan oop. Versigtig. Met ’n mate van verligting merk hy die man het ’n kop. Hy skuif vinnig op sy elmboë, kyk rond. Steeds in die Kerk.
“Kom. Dit gaan begin stink hier.”
Leon se oë soek na die…ding. “Ons kan dit nie hier los nie,” sê hy. Hy klap sy mond toe. Nie seker of die man dit verkeerd gaan opvat nie. “Oom,” voeg hy sag by. Net om ordentlik te wees soos hy geleer is.
“Dit gaan hier lê en stink. Of dit gaan op ’n ander plek lê en stink.”
“Ja, maar…”
“Wat? Dis ’n kerk?”
“Ja.”
Die man sug. “Wag buite.”
3
Leon staar. Die man stap nader, vee iets aan sy klere af. Nee. Nie klere nie. Hy dra ’n volle ridder gevegsuitrusting. Harnas. Metaal oor sy skouers, arms en bene wat glinster in die maanlig. Borsstuk. Helm onder sy arm. Dit verduidelik hoekom hy so groot gelyk het in die Kerk. Hoekom dit gelyk het of hy sy kop afhaal. Leon voel dom, maar glimlag vir homself. Verligting laat sy kop draai.
Soos sy ma altyd gesê het: kan jy nou meer.
’n Hitte gloei in sy bors. Niemand het geglo hulle bestaan nie. Nie hier, vêr van alles en almal nie. O, daar is stories. Maar niemand het GEGLO nie.
’n Vegter van God. ’n Ridder.
Die swaard se handvatsel – word ’n greep of iets genoem, steek uit oor die man se skouer. Geen skild nie. Wat jammer is. Miskien het hy dit êrens verloor?
“Kos? Water? Iets sterker?”
“Wat?” Leon kom terug na die hede. Die man se hare is wit. Dalk net grys. Hy kan nie die gelaatstrekke mooi sien nie, maar dit lyk soos een van die ou aksie helde op TV wat hy vaagweg onthou. Hoekige kakebeen. Schwartser-iets. “Ja, oom. Ons huis is nie vêr nie.”
“Oom?” dit klink of hy stil lag. “Hoe oud is jy seun?”
“Elf.” Trots.
Die Ridder knik. “Man van die huis?”
“Ja, oom.”
Hy vra nie verder uit nie. “Wat is jou naam?”
“Leon, oom.”
Die Ridder steek ’n hand uit. Leon is nie seker of hy ’n grap maak nie. Lyk nie so nie. “Markus.”
Hulle skud hande.
“Hoeveel mense in die dorp?”
“Ons is twee en veertig.”
Markus knik ingedagte. “Wapens?”
“Die Burgemeester hou nie van wapens nie. Nie in die dorp nie.”
“Burgemeester, sê jy?” Daar is ’n glimlag in sy stem.
“Ja, oom. Ons is georganiseerd.”
“Sê die Burgemeester?”
“Net so, oom.”
“Moenie my oom noem nie.”
“Hoekom nie, oom?”
“Want…” hy oorweeg dit. Skud dan net sy kop. “Dis laat. Miskien kan ek die Burgemeester môre ontmoet.”
“Reg so oom. Ons het nog skaap wat ek gebraai het.”
Markus knik. “Niks soos Karoo skaap. By voorbaat dankie, ou seun.” Hy sien die vinnige kyk. “Leon. Jammer.”
Die Ridder noem hom op sy naam! Die trots is iets wat hy lank gaan vertroetel.
“Waar is ons?”
“Phillipstown, oom.”
Sag, peinsend: “Middel van nêrens.” Hy sien weer die vinnige kyk. “En dis hoekom julle veilig is.”
Leon knik. Nie seker wat die Ridder bedoel nie.
“Of was, ten minste.”
4
Die hekkie roes-skree met die oopmaak. Die paadjie na die stoep is besig om op te gee teen die stryd met die omsingelende struike. Rooi stoep wat swart lyk in die nag. Elektrisiteit is iets van die ou dae.
“Claire,” roep Leon met die oopmaak van die voordeur.
Lig flikker in die binnekant van die huis. Kerse.
’n Engel in wit sweef nader uit die skemerte. Leon se kop ruk van die klap.
“Waar was jy? Ek was dood van bekommernis.” Sy gryp hom vas en druk hom styf teen haar met een arm. Hou die kers veilig in die ander hand. Bruin hare in ’n vlegsel. Wit T-hemp wat amper tot op haar knieë hang. Jeans. Haar oë beweeg na Markus. Oë skielik groot, mond oop in ’n stille uitroep, trek sy Leon terug na die valse veiligheid van die binnehuis.
“Hy is ’n Ridder,” sê Leon. “Hy het ’n demoon doodgemaak. Met ’n Swaard van Geloof.”
“Ek dink die Woord noem dit die Swaard van die Gees,” help Markus reg met ’n skewe glimlag.
“Uit,” sis Claire. “Jy is nie welkom nie.”
Markus se glimlag verdwyn. Sy gesig skielik strak.
“Sus, hulle bestaan. Hy is een van hulle.”
Haar stem is neutraal. Sag. “Jy weet dis nie waar nie.”
“Kyk! Daar is hy voor jou!”
Markus wag om te sien hoe hierdie een gaan uitspeel. Weet van beter om in te meng.
Leon se gesig straal. “Daar was ’n demoon. In die Kerk. Hy het hom doodgemaak. Die Ridder. Hy het die demoon doodgemaak!”
Claire lyk onseker. “Miskien het jy jou misgis…”
Sy oë sak. En spring weer op. “Dit is by die Kerk. Ons kan gaan kyk. Nou.” Uitdagend. “Kyk!” Hy wys na twee merke op sy hemp. “Dit het hier op my gedruk.”
“Leon…”
Hy vee teen sy hemp. “Kyk. Dis merke van die demoon.”
“Dit lyk soos twee hand merke,” sê sy onseker. “Stof merke.”
“Dit was ’n demoon!”
“Later, Leon.” Sy rig haar aandag weer op die vreemde man. Haar oë op Markus, instruksie aan Leon: “Badkamer. Nou.”
Leon drentel in die skemer gang weg, kop omlaag. Hy gee ’n vinnige, verleë kyk na Markus.
“’n Glas water,” sê Markus. “Dan is ek uit julle hare.”
Claire kou haar lip. “Was daar regtig…iets?”
“Daar was.”
“Dis dood?”
“Dit is.”
Sy wik en weeg. “Is jy…regtig…”
Markus skud sy kop stadig. “Nee.”
“Maar die…” Sy frons. Nie die antwoord wat sy verwag het nie. Wys na sy gevegsuitrusting met die lyne wat sagkens glinster. Nie seker hoe om die situasie op te som nie.
“Is nie myne nie.” Sy gesig vertrek en hy kyk vinnig weg. Net vir ’n oomblik. “Ek sal eerder nie moeilikheid veroorsaak nie. Ek wil egter steeds met julle Burgemeester praat.”
“Hoekom?”
Hy oorweeg. “Die demoon…”
“Daar is nie so iets nie.” Haar stemtoon bevat ’n sekerheid wat ingedril is.
Hy byt sy lip. “Wat jy dit ook al wil noem. Dit lê agter die kerk. Jy is welkom om te gaan kyk.”
Haar beurt om onseker haar lip te kou.
“Jy het my boetie gered?”
Bietjie verleë. “Ek het.”
Weer ’n oomblik. “Die gastekamer is deel van die buitekamers.”
Markus knik. Bied ’n klein glimlaggie. “Beter om ’n dak oor my te hê.”
“Daar is lopende water by die dam.”
“Ek het die windpomp gesien. “ Hy knik formeel. “Met dank.”
“Ek sal bietjie kos bring. My boetie het my eers nodig.”
“Natuurlik.” Hy tree terug, verstel die rugsak oor sy skouer en stap by die voordeur uit. Om die huis na die dam. Dis een van die groter erwe in die dorp. Die sinkdam is nie baie groot nie, maar dit verskaf vars water.
’n Goeie was.
’n Bed.
Hopelik nie weer nagmerries nie.
Dalk so ’n happie skapie.
Hemel op Aarde.
5
Die Burgemeester is nie beskikbaar nie. Nie dadelik nie. Markus weet van beter. Dit is ’n gesag speletjie. Hy maak die beste van die tyd. Sy klere aan die draad gehang. Skoon vir ’n slag. Hy het homself gehelp aan die waspoeier onder die sement buitewasbak. Die pad gee nie baie geleentheid om bietjie skoon te kom nie. Die oorskiet vleis en aartappels het hy vir ontbyt klaargemaak. Die bord skoon en langs die wasbak gesit. Hy loop kaalvoet langs die leiwater in sy tweede paar jeans, pype opgerol tot onder die knieë. Hy volg die water, maak seker die groentetuin kry genoeg. Hy staan met sy gesig na die son. Dit is helder in die Karoo hemel vandag. Geen swart storms nie.
“Wat maak jy?”
Markus glimlag, maak sy oë oop. “Help.”
“Ek het nie hulp nodig nie,” sê Claire, stem bietjie styf. Sy is geklee in jeans en ’n knoop bloes. Hou ’n beker stomende koffie in haar een hand. Lyk of sy oorweeg om dit eerder te hou. Sy gee in tot haar tweestryd en oorhandig die beker. “Ons het nie melk nie. En die suiker lê laag.”
Hy neem ’n teug. “Ek verkies swart.” Hy wys na die tuin. “Ek is geleer om dankie te sê.”
“Ek het eergister die tuin gewater. Jy mors water.”
Hy kyk weg, drink weer van die beker.
Sy pers haar lippe saam, nie seker hoekom sy so aanvallig is nie. Die man sien nie baie son nie. Sy voorarms is bruin, maar sy lyf verder baie wit. So asof hy nooit sonder ’n hemp rondloop nie. Hy lyk nie soos die boere nie. Behalwe vir die min son, is hy gespierd. Sy kry nie haar oë weggedraai van die littekens nie. Oor sy rug, skouers en arms. Brandmerke aan die een arm. En sy kop – ’n sny maak ’n kantpaadjie in die grys hare wat ’n sny benodig. Sy kyk weg wanneer sy besef hy staan en kyk vir haar, haar ore gloeiend. Hy kan haar pa wees! En hy is glad nie iets vir die oog nie.
“Die Burgemeester?” vra hy sag, probeer haar haar ongemaklikheid spaar.
“Vanmiddag,” sê sy.
“Goed so. Ek sal die water afsluit.”
Sy klink vies. “Jy kan maar net so wel klaarmaak. Maak seker die tamaties aan die ander kant kry genoeg water.”
Hy hou haar dop met die wegstap. Onderdruk ’n glimlag. Dit sal beter wees om so gou moontlik hier weg te kom.
6
“Wat presies maak jy hier? Wat is dit wat jy wil hê?”
Markus lyk minder imponerend vir Leon sonder die Ridder gevegsuitrusting. Meer…gewoon. Steeds breed in die skouer, diep bors. Sterk arms. Maar gewoon in jeans en ‘n T-hemp wat eens swart was, nou ’n skakering van grys. Stukkend om die kraag en moue. Daar is iets op geskryf of gedruk, maar die woorde het lankal verdof.
“Ek beweeg net deur,” sê Markus gemaklik. Die cliché is die standaard antwoord wat hy gebruik wanneer hy nie welkom is nie. Hy het lank terug geleer.
Die Burgemeester, Daniel Lemmetjie, se oë trek op skrefies. Diep in die sewentigs, dun raam bril oor waterige oë. Knoop hemp en chinos. Hy probeer hard om soos ’n burgemeester te lyk met wenkbroue wat outomaties hoog teen sy voorkop opry tot so voor die grys hare wat in yl slierte na agter gekam is. Sy vel is ’n diep bruin met ’n leeragtige voorkoms. Soos meeste kleurlinge van die omgewing. Hulle sit in die sitkamer van die Burgemeester woning. Die formele een. Mense drom buite die huis saam, buite die hekkie. Nuuskierig.
Daniel het almal weggestuur. Claire en Leon en twee ander sit om die swaar tafel. Simoné Du Randt, ’n wit vrou wat lyk of sy jare laas kos gehad het, sit aan sy linkerkant. Rok opknoop tot teen haar keel. Lang gesig. Lyk nie of sy weet hoe om te glimlag nie. Lyk selfs ouer as die Burgemeester. Die man aan die regterkant ooglopend een van die boere van die omgewing. Pieter Labuschagne. Vellies, kakie klere. Die bril wat rus op sy neus is een van daardie ou dik raam menere. Breed in die skouer. Bruingebrand. Werkende man. Skat hom diep in die veertig. Hy hou Markus dop met geen uitdrukking op sy gesig nie. Anders as Simoné wat van nature vyandig lyk.
Geen versnaperings word aangebied nie.
“Ons doen ons Plig hier,” sê Simoné. Die hoofletter is opvallend. “Jy het ’n rusplek gevind. Kos. Ons verstaan jy het geleentheid gehad om skoon te maak.” Sy kyk na Claire, wie se oë val onder die afkeurende blik. “Dit is tyd om aan te beweeg.”
“Moet ons nie verkeerd verstaan nie,” begin Daniel.
“Natuurlik nie,” val Markus hom in die rede. “Julle wil nie vreemdelinge hier aanhou nie.”
“Dis nie dit nie,” sê Daniel. “Tye is moeilik.”
Markus lag amper. Hy trek nou al vyf jaar oor die vlaktes wat eens ’n mooi Suid-Afrika was. Tye is moeilik begin nie eens om die verval daarbuite te beskryf nie.
“En mense soos jy…” begin Simoné.
“Hy is ’n Ridder! Van God!” val Leon haar luid in die rede. Hy sit terug, skielik skaam oor sy uitbarsting.
Claire sit ’n hand op sy skouer. Maak haar oë groot om hom stil te hou. Hy skud homself onder haar hand uit. “Hy is. Hy het my gered van ’n demoon. Hulle is hier! Hy gaan ons help!”
“Ons soek nie moeilikheid met die buitewêreld nie. Ons het vrede hier gevind. Niemand pla ons nie. Ons pla niemand nie.” Daniel se stem is rustig. Redelik.
“Mense soos jy bring net ellende en verdriet,” gaan Simoné voort asof die Burgemeester nie gepraat het nie. “Ons het vrede hier. Ons het nie nodig om…”
“Simoné,” sê Pieter.
Sy draai statig na hom. “Doen jy net wat nodig is vir die dorp. Dis nie te veel gevra nie.”
“Simoné,” sê Daniel, hierdie keer met gesag in sy stem. Sy draai terug na hom, staar hom ’n oomblik in die oë, voor sy terugsit, hande in haar skoot gevou.
Daniel draai terug. “Markus? Reg?”
Hy knik.
“Dit is belangrik om te verstaan wat jy hier doen.”
“Oom Daniel! Hy is hier om te help,” roep Leon weer uit.
“Miskien moet die grootmense alleen praat,” sê Simoné sag, haar oë op Claire. Claire is in ’n tweestryd gewikkel. Besluit om te bly sit. “Ek wil weet wat gisteraand gebeur het.”
“Niks,” sê Simoné.
“Dit was ’n demoon,” sê Leon. Hy byt sy lip. Markus bewonder hom vir sy moedigheid. Nie so maklik op daardie ouderdom nie. Soms nie eens onder ouer, meer volwasse mense nie.
“Die probleem is natuurlik nie soseer om weg te bly van die moeilikheid daarbuite nie,” sê Markus.
Simoné lig ’n wenkbrou.
“Die moeilikheid gee nie om oor wat ons besluit nie.” Markus sit terug in sy stoel, gee hulle ’n stil kyk. “Dit kom wanneer dit kom.”
“Ons is gelowige mense. Die Here beskerm ons.”
Markus knik. “Ek glo en vertrou so.”
“Ek – óns – gee nie regtig om wat jý dink nie.” Die ouer vrou gee hom ’n uitdagende kyk.
Hy weet dit gaan geen verskil maak nie. Jy redeneer nie met mense wat reeds tot hulle eie slotsom gekom het nie. Hy probeer egter: “Dit is nie vir ons om te sê wat God vir ons beplan nie.”
“Is jy ’n man van geloof?” vra Simoné.
“Geloof is ’n persoonlike saak,” sê Markus, sy stem sagter. Klink of hy vêr dink.
“Sê mense wat twyfel.”
Markus knik.
Sy snuif hard. Asof dit alles verduidelik. Miskien doen dit vir haar.
Daniel stoot sy bril hoër op teen sy neus. “Jy kom hier na ’n vreedsame dorp. Bring die buite wêreld in. Wat is dit wat jy wil hê? Wil jy die dorp se inwoners oorreed om na jou te luister? Om jou te volg?”
Markus skud sy kop stadig. “Nee. Ek het geen bybedoelings nie.”
“Jy is mos ’n…Ridder van God?”
“Ek het dit nooit gesê nie.”
Almal draai na Leon. Leon voel hy kan in die vloer insak. Maak sy mond oop om die Ridder te verdedig, maar almal se aandag is terug op Markus.
Die Burgemeester stoot weer sy bril op teen sy neus. “Ons sal dit verkies indien jy vandag nog aanbeweeg.”
Markus lig sy ken. “As dit is wat julle wil hê.”
“Dit is,” sê hy met ’n beslistheid.
“Ons het hom nodig,” sê Leon. “Ons kan nie demone…”
“Daar is nie so iets nie,” val Simoné hom in die rede.
“Daar is een net agter julle Kerk,” sê Markus met ’n kalmte wat hy nie voel nie. “Gaan kyk.”
“Dis nie nodig nie. Ons pla niemand nie. Daar is geen rede hoekom ons bang moet wees nie,” sê Simoné.
“Dit was ’n verkenner,” gaan Markus voort. Hy moet sê wat hy moet sê, anders verloor hy die geleentheid. “Daar is neste daarbuite. Indien die verkenner ’n boodskap kon deurstuur, gaan…”
“Nes? Waarvan praat jy? Kom hier in met stories. Maak mense bang. Ons is Godvresende mense. Ons duld nie leuens en wêreld praatjies nie. Die Here beskerm sy kinders. Hy beskerm ons.” Daar is egter iets in Daniel se oë. Hy sê dit soos ’n rympie.
“Dis dalk hoekom Oom Markus hier is. Hy is gestuur…” begin Leon.
Markus maak sy mond oop, bedwing hom. Dis nie sy plek nie.
“Hy erken selfs hy is nie eens een van die sogenaamde Ridders nie,” sê Daniel met die redelikheid van ’n volwasse wat ’n kind iets leer.
Leon spring op. “Nee! Hy het ’n demoon gedood. Ek was daar!”
“Die sogenaamde demoon is niks anders as ’n jakkals nie. Ek het dit self gesien,” gaan die Burgemeester voort.
“Dis ’n lieg! Dit het aan die dak gehang…”
“Luister na jouself.” Simoné staan op. “Jy wou nog altyd iets meer hê in die wêreld.” Haar stem is sag. “Leon, seun. Die weggaan van jou ouers het jou erg ontstel. Jou geloof laat wankel. Ek is seker jy het dit nie bedoel om met vreemdelinge in te meng nie. Los dit. Laat hy sy eie pad loop. Ons is veilig hier. Wat ook al in die buitewêreld aangaan, ons is veilig hier. God beskerm ons hier. Solank ons die boosheid daarbuite vermy.”
Leon se mond werk woordeloos. Sy oë spring na Claire.
“Moenie vir haar kyk nie,” sê Simoné. “Ons hoor reeds hoe hý,” sy wys met haar kop na Markus, “half kaal rondloop by julle.” Sy draai spesifiek na Claire. “Meng jou met die semels. Wat sou jou ouers gesê het?”
Claire staan stadig op, haar gesig wit van woede. Haar mond gaan oop, maar sy bedwing haarself. Sy gee Markus ’n vinnige kyk, vat Leon se arm. Sonder ’n woord stap hulle uit.
Markus gee Simoné ’n lang kyk. “Jy weet daar het niks gebeur nie.”
Selfvoldaan: “So sê jy.”
Pieter staan op. Sê iets binnesmonds en verlaat ook die burgemeester se huis.
Markus gee die twee oorblywende lede van die Raad ’n knik. “Ek sal dit waardeer om nog ’n nag oor te bly. Dan is ek uit julle hare.”
“Buite die kwessie,” sê Simoné.
Daniel sit ’n hand op haar arm. Knik vir Markus. “Twaalfuur môre.”
Markus maak ’n buiginkie. “Natuurlik. Met dank.”
7
Die stap na Claire en Leon se huis voel langer met die terugloop. Hy voel die oë op hom. Dis nou al dié wat nie openlik langs die pad staan en hom aangaap nie. ’n Groep jong mans staar hom aan. Nie heeltemal vyandig nie. Meer opsommend. ’n Paar jong meisies aan die oorkant van die padgee hom meer uitdagende kyke. Hy bereik Claire en Leon se huis, loop by die oprit in en maak die hek toe agter hom. Die mense wat hom so ent gevolg het, draai weg. Terug na hulle eie sake. Hy vind Leon op die sement trappe na die gastekamer.
“Hoekom is hulle so blind?”
Markus gaan sit langs hom. “Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie.”
“Dis in die Bybel?”
“Nie so seker nie. Maar dis ’n waarheid in elk geval.”
Hulle sit in stilte. Die klank van metaal wat val in die hoofhuis. Aanhoudend. Markus spring op, maar Leon gryp sy arm.
“Los haar.”
Markus gaan sit weer. Elkeen het seker hulle eie manier om dinge te verwerk. Hy staar na die huis saam met die seun langs hom. Hy wil hom uitvra oor hulle ouers, maar voel die tyd is nie reg nie. Sal seker nooit reg wees nie. Hy het min tyd oor in Philipstown. Die dorpie het regtig die oorlog gemis. Oorlog. Slagting is eerder wat plaasgevind het daarbuite. De Aar vir een is platgevee. Nie eens ’n uur se ry van hier nie. Hier en daar het van die dorpies alles gemis. Beteken nie hulle is vermy nie. Net gemis.
“Hoe verstaan hulle nie?”
Markus sug diep. “Dis moeilik. Moenie hulle oordeel nie.”
Leon staar hom oopmond aan, skud sy kop.
Markus vryf sy slape. Die hoofpyn is maar altyd op die agtergrond. Maar dit redekawel sterker met hom vandag. “Hoe staan die kanse vir ’n bietjie aspirien?”
Leon skud sy kop.
“Stap saam,” sê Markus. Die seun volg hom na die dam. Markus klim teen die kant op langs die uitvoerpyp. Druk sy kop sommer net so onder die vloeiende water. Koel. Verfrissend. Dit help so bietjie. Hy raak-raak aan die sny oor sy kop.
“Is dit seer?” vra Leon.
“Wat?”
“Die sny.” Leon wys na Markus se kop.
Markus neem sy hand weg. Hy vergeet soms. “Nee. Net herinneringe.”
“Hoe het oom die uitrusting gekry?”
Markus kyk af na Leon, gebruik sy T-hemp om sy kop af te droog. Vat nog ’n hand vol water en klap dit op sy nek. Hy is bewus van Leon se oë op die littekens.
“Wat wil jy regtig weet? Die gevegsuitrusting? Of die hele ding van die Ridders?”
“Alles!” Leon se oë is groot. Hy voel moedig om die vraag te vra wat hom pla. “In die Burgemeester se huis het oom gesê oom is nie ’n Ridder nie. Hoekom?”
Markus lag sag. “Dis maklik. Want ek is nie een nie.”
“Glo oom nie?”
Markus staar na die grond. Dit is warm langs die dam. Die son sprankel oor die water. “Die Ridders bestaan.”
Leon vryf amper sy hande saam.
“Toe die putte oopgegaan…”
“Oom het een gesien? Gaan dit regtig al die pad na die hel toe?”
“Raak rustig.” Markus gee ’n laggie. Hy gaan sit op die gruis langs die dam. Leon volg sy voorbeeld. “Eerstens, nee. Ek het nog nie een gesien nie. Nie self nie. Ek is op pad na die een wat hier in Afrika oopgemaak het. Die ou Koeberg.”
“Hoekom?”
Markus kyk in die vêrte in. “’n Belofte aan ’n ou vriend. Daar is ’n manier om die goed toe te maak. En as ons dit kan doen, kan ons weer herbou.”
“Hoe?”
“Hoe maak ons dit toe?”
Leon knik entoesiasties.
“Geen idee nie.” Hy kyk na die jong gesig. Die teleurstelling. “Geloof, onthou?”
Leon knik weer. “So oom glo.”
Met ’n skewe glimlag. “Op ’n manier.”
“Die swaard werk met geloof!”
“Ek dink dit werk in die nabyheid van die demone.”
Leon oordink dit. “Kan ek dit sien?”
“Die swaard?”
“Alles.”
Markus geniet die entoesiasme. Onthou ’n tyd waar hy dit gedeel het. Hy trek die T-hemp aan. “Kom. Die son gaan ons opeet. Hy gee ’n skuins kyk na die hoofhuis. Geen potte en panne word meer rondgegooi nie. Hulle stap na die gastekamer. Die kamer het nie ’n plafon nie. Die sinkdak maak dit ’n oond aan die binnekant. Hy los die deur oop vir wat dit werd is. Daar trek nie ’n luggie nie. Hy haal die borsstuk en skouerstukke uit die geoliede materiaal. Plaas dit op die bed.
Leon se vingers volg die patrone oor die skouerstuk. “Dit lyk na woorde.”
“Ou Aramees.”
“Maar oom is nie ’n Ridder nie?” Dis asof hy ’n ander waarheid wil uitdwing.
Markus kyk in die vêrte. “Ek kom van Namibië. Suidwes in die ou taal. Swakopmund. Was deel van ’n groep wat privaat sekuriteit gedoen het. Na die Bosoorlog het ons daar gevestig. Jare terug. Politiek. Nie so goed uitgewerk nie. Toe die Oorlog begin, was ons vasgekeer daar.”
“Die bosoorlog?”
“Nee, wat hulle die Demoon-oorlog noem. D-dag. Toe die putte verskyn het.” Hy lag. “D-dag. In erkenning van die ander D-dag baie jare daarvoor. Net nie met die positiewe verbintenis nie.” Hy kyk in die vêrte. “Skielik het politiek nie saakgemaak nie. Verskille tussen mense het soos mis voor die son verdwyn. Oorlewing het daardie effek op almal.” Hy maak ’n beweging met sy hand wat die dorp insluit. “Grotendeels. Daar is steeds mense wat nie wil aanvaar nie.”
Leon maak ’n snorkgeluid. “Is dit regtig demone?”
“Ek kan regtigwaar nie vir jou sê nie.”
“Die mense in die dorp wil nie eens glo daar is iets daarbuite nie. Al is ons afgesny van die wêreld. Al het iets gebeur om ons af te sny. Ten minste erken hulle dit. Maar niks meer nie.” Hy sug gefrustreerd.
“Moenie oordeel nie,” sê Markus weer. “Dit is nie maklik wanneer jy moet aanvaar jou wêreld het so verander dat dit die einde van ons bestaan kan wees nie.”
“Einde van die tye,” sê Leon met sekerheid. “Bybels.”
“Wie weet.” Markus dink terug. “Ek het saam met ’n paar makkers ’n gepantserde voertuig geleen.”
Leon weet uit sy stemtoon wat daardie leen beteken. Hy grinnik. Weer opgevat in die verhaal.
“’n Ou Ratel nog. Probeer om veiligheid te vind. Namibië het dit nie so erg getref soos die res van die wêreld nie. Daar is net minder as vyf honderd kernkragsentrales in die wêreld. Plekke soos Amerika en Rusland het dit die ergste getref. Namibië het ten minste ’n put vrygespring.”
“Wat het die kernkrag met die demone te doen?”
Markus gee hom ’n skewe kyk. “Wat weet jy?”
Met ’n skouerophaal: “Ek hoor net stories.”
Markus verstaan. “Die algemene teorie is dat die kernkragsentrales ’n fokuspunt was vir die sogenaamde Hel-putte. Hulle dink dit het met tachyons te doen. Ek dink nie daar is regtig ’n Afrikaanse woord vir tachyons nie. Dis eintlik hipoteties en te doen met Einstein se relatiwiteit teorie.”
“Hipoteties?”
“Daar nie bewyse dat dit bestaan nie.”
“Maar…”
Markus haal sy skouers op. “Dis teorieë. Ek weet ook nie.” Hy glimlag. “Daar is altyd teorieë. Miskien het dit ’n ander dimensie oopgemaak. Miskien regtig na die hel toe. Ons het nie al die antwoorde nie.”
“Maar dit help. Om teorieë te hê. Mense probeer om te verstaan.”
Hy lag. “Waar gesê. Ek onthou nog die dae van Google.”
Leon skud net sy kop. Hy is oud genoeg om net vaagweg so iets te onthou.
“Ons het vir ’n lang tyd rondgery, gehelp waar ons kan. En toe ontmoet ons ’n Ridder.” Markus se oë is weer vêr. “Ons was vasgekeer in ’n ou pakhuis. Net so oor die grens van Suid-Afrika. Hier kom hierdie ou op ’n motorfiets, van alle dinge. Ou skedonk. Die ding het so rook streep getrek. Die man op die ding,” hy lag, verlore in die herinnering. “Volle Ridder gevegsuitrusting, helm en al.” Markus streel oor die borsstuk op die bed. “En die swaard. Hy het verwoesting gesaai onder die demone. Een man.”
Leon se oë sprankel.
“Jo. Hy het gesê dis sy naam. Kort vir Johannes. Ons het saam met hom gereis. Onthou, ons was soldate wat weet van guerilla taktiek. Goeie kombinasie met die Ridder. Daai ou was bang vir niks. En ons was te dom om bang te wees.”
Leon wil-wil vra, maar besluit om eerder die storie te hoor.
“Vriende verloor. Goeie vriende. En een dag val die Ridder. Lokval. Daar was net te veel van hulle. Ons is uitmekaargeskeur. Letterlik. Ek het net-net weggekom.” Hy vryf onnadenkend oor sy liggaam, sy kop. Sy vingers volg littekens onder die materiaal van sy T-hemp. Hy ken elkeen se storie. “Ek het later teruggegaan. Die harnas en swaard gevat.”
Leon is stil vir ’n ruk, dink na oor wat hy gehoor het. Versigtig: “Ek het gehoor die Ridders is die Vegters van God.”
“Hy het ons so vertel, ja.”
“Maar oom glo nie. Nie self nie?”
Markus streel oor die metaal. Die woorde wat dit bevat. “Hierdie is uit die ou taal. Bybelse taal. Ek dink daar is krag daarin.”
“Soos die Woord.”
Markus knik, wetende wat Leon bedoel. “So iets. Ek het dinge gesien wat nie verduidelik kan word nie. Die Ridder, Jo, het dinge gedoen wat ons nie kan doen nie.” Hy kyk af na Leon. “Soos jy weet, beteken die Bybel en die Kruis niks op sigself nie. Dis die geloof daaragter wat dit krag gee.”
“Maar oom glo nie,” vra hy weer, probeer verstaan.
“Ek werk daaraan.” Hy frons.
“Ek het gesien. Die swaard werk vir oom.”
“Miskien.” Hy staan op. Die herinneringe nou te veel. “Môre moet ek die pad vat. Jy en jou suster moet ’n besluit neem.”
8
“Ek wil voorstel julle kom weg van hier. Daardie demoon is net die eerste van ’n klomp wat gaan kom.”
Claire sit haar mes en vurk neer. Tot Markus se verbasing en Leon se plesier, het sy hom genooi om in die hoofhuis te eet.
“Wat van die dorp se inwoners?” Haar oë vra die ander vrae. Is dit regtig nodig? Is daar regtig ’n probleem? ’n Demoon?
Markus haal sy skouers op, maar nie onverskillig nie. “Ek kan nie vir mense sê wat om te doen nie. Wat om te dink nie. Ek het in die verlede probeer, maar mense moet hulle eie besluite neem.” Markus glimlag. “Iets wat Jo gesê het. Sy woorde was; Die Here sal jou al die uitkomste bied. Maar as jy dit nie aangryp nie.” Hy haal sy skouers op. “Iets oor vrye wil.”
“Pa het dit ook gesê,” sê Leon sag. “Die eerste deel.”
“Wyse man, jou pa.”
“Meestal,” sê Leon, bietjie trots. “Ek verstaan nog steeds nie. Is dit dan nie regtig demone nie?”
Markus loer in Claire se rigting. Sy sê niks, maar hou die tussenspel aandagtig dop. Te aandagtig. Hy wonder wat hardloop rond in haar kop. “Ek het dit nie gesê nie. Ek weet eenvoudig nie. Nie vir my om te oordeel nie.”
Leon tuit sy lippe.
“Wat ek wel weet, is dat die goed ernstig negatief gereageer het in Jo se nabyheid. En hy het geglo.”
“Oom glo want hy – Jo – het geglo.”
Markus eet verder. “Jy weet, ek het nooit so daaraan gedink nie. Miskien. Jy het dalk iets daar beet.” Sy gesig weereens strak. Herinneringe. En ’n ander naam wat hy moes dra.
Leon glimlag. Hy weet nou hy was reg. Dit is ’n Ridder wat hier saam met hulle aan tafel sit. Die Ridder besef dit dalk net nog nie.
9
Die drie eetkamerstoele lyk uit plek in die middel van die oop stuk erf. So in ’n halwe sirkel op die gruis.
“Hou jou kop stil,” sê Claire ergerlik. “Ek gaan jou ore afsny.”
Markus dwing homself om stil te sit. “Kan jy sien wat jy doen?” die sterre is helder vanaand, maar nie só helder nie.
Sy snuif.
“Sy sny my hare,” sê Leon behulpsaam. “En meestal nie te sleg nie.”
Markus draai weer sy kop. Claire dwing hom om vorentoe te kyk. “Hy spot met jou. Moenie vir hom luister nie.”
“Jy sny nie regtig sy hare nie?”
“Ek sny sy hare. En behoorlik. Sit nou stil!”
Leon bars uit van die lag. “Ek gaan koffie haal. As oom nog leef wanneer ek terugkom…”
Claire gooi iets in sy rigting. Hy hardloop met ’n skater na die hoofhuis.
***
Hulle staar na die Karoo sterrekoepel terwyl hulle koffie drink. Markus vryf oor sy kortgesnyde hare.
“Het die sterre verander?” vra Claire, meer ingedagte as ’n regte vraag. Sy besef moontlik nie eens sy het dit hardop geuiter nie.
“Ek kan regtig net die suider kruis uitwys. En Orion se belt.” Markus wys in die rigting van die konstellasies. “Die res is maar duister vir my.”
Leon snork.
“Wat?”
“Duister. Saans. Dis snaaks.”
Markus skud sy kop. “Van die ouens in ons groep het ook iets van die sterre gesê. Maar ek het nooit regtig aandag gegee nie. Een van die ander was ons navigasie kundige.”
“Ouens?” vra Claire.
Markus vertel haar wat hy met Leon gedeel het. Sy sit koponderstebo deur die vertelling. Hy het ’n paar keer verwag sy sou iets sê, maar behalwe een of twee keer se opkyk, sê sy niks. Die stilte daarna raak ongemaklik. Meer om iets te sê, vra hy: “Mis julle elektrisiteit?”
“Kom klaar daarsonder,” sê sy.
“Die plase het elektrisiteit,” sê Leon.
Markus draai sy kop skeef in die seun se rigting. “Hoe so?”
Hy maak ’n beweging wat sê Markus is maar dom vir iemand van sy ervaring. “Son panele.”
“Ah.” Hulle drink koffie in stilte. “Vertel my van die plase.”
Claire kyk op. “Die plase verskaf kos aan die dorp.” Sy kyk op na die sterre. Frons. Kyk weer terug. “Hulle bied beskerming. Of dalk eerder ’n waarskuwing indien –”
“Iets in die omgewing is?” help Markus.
Sy knik. “So iets.”
“Oom Daniel en Tannie Simoné sê daar is niks daarbuite nie,” sê Leon.
“Wat beide waar en verkeerd is,” sê Markus. Die ironie is verlore op die ander.
“Ek dink hulle probeer die mense in die dorp beskerm,” sê sy. Sekerheid in haar stem. “Moet wees. Niemand kan so blind wees nie.”
So dit is wat haar gedagtes besig gehou het. Markus het simpatie. Hy sit agteroor, strek sy bene voor hom uit.
Verstyf.
In ’n kalm stem: “Dink ek kan doen met nog ’n beker koffie. Weet nie wanneer ek weer die luuksheid sal ervaar nie.”
Claire loer in haar beker. “Amper klaar. Dan sal ek vir ons gaan skink.”
“Claire. Nou.”
Sy kyk vinnig op.
“Vat Leon saam.”
Haar oë rek. Verskrik. Maar nie seker nie. Sy kyk rond. Sien niks buitengewoon nie.
“Nou Claire!”
Drie bewegings. Maar hy weet van die vierde. Die glans op die teleskopiese visier het hulle weggegee. Die drie stap stadig nader, vellies knars oor die los gruis.
“Julle ouens gaan dit beter moet beplan volgende keer,” sê Markus en staan op. Hy skud sy hande los langs sy sye. “Indien daar ’n volgende keer is.”
“Groot woorde,” sê een van die jong mans. Want hulle is net-net nie meer seuns nie. Bietjie ouer as Claire. Markus skat hulle in hulle vroeë twintigs. Plaas seuns. Breed in die skouer. Diep in die bors. Plaas sterk. Die balaklawas aan die ander kant sit ongemaklik oor hulle koppe. Nie hulle beste idee nie.
“Albertus?” vra Claire.
Markus gee ’n tree om hom tussen die jongmans en die broer en suster te plaas.
“Kleinjan? Junior?”
Die klomp lyk ongemaklik.
“Julle lyk verspot,” sê sy. “Haal daai goed af. Wat soek julle?”
“Lappies wil met hom praat,” sê die een wat as Albertus uitgewys is.
“Pieter Labuschagne. Deel van die Dorpsraad,” sê sy aan Markus. “Hy is nie regtig deel van die dorp se bestuur nie. Eerstens is daar nie veel van ’n dorp nie.” Sy klink bitter. “Hy is meer in beheer van die plase. Die kos en sekuriteit.”
“Wat die probleem is,” sê Albertus. Hy vee sy hare kant toe. Hou die balaklawa amper ergerlik in sy hand.
“Wat is die probleem?” vra sy. Haar stem is sag, maar giftig.
Een van die ander, Kleinjan, trap ongemaklik rond. Kleinjan was dalk klein op ’n stadium. Nou lyk hy of hy voorry kan speel. “Die Burgemeester het sy ongemaklikheid uitgespreek…”
“Sy ongemaklikheid uitgespreek? Wat? Is jy nog op skool? Of probeer jy iemand beïndruk?”
Hy bly verleë stil.
Venynig, dink Markus geamuseerd. Dat so tingerige meisie die ouens so in plek kan hou. “Is daar ’n rede hoekom die helfte van die dorp my kom sien?”
“Ons is nie helfte van die dorp nie,” sê Kleinjan onmiddellik. Byt sy lip.
Albertus hou ’n hand op. “Lappies wil net met jou gesels.”
Markus knik ingedagte. Sy kop werk klaar in die rigting van ’n lokval. Moontlik weg van Claire en Leon se oë. Hy glo egter nie die kinders is in gevaar nie. “Ek wag net hier vir hom. Hy is welkom. Mag dalk selfs ’n beker koffie kry.”
Claire snork.
“Of nie. Julle moet werk aan julle gasvryheid hier rond.” Hy wys met ’n duim na Claire. “Julle kan dalk iets leer.”
Junior gee ’n tree nader. Anders as sy vriende, is sy hare kort geskeer. Hy lyk ook na die spier-bydrae van die groep. “’n Meisie sê nie vir ons wat om te doen nie.” Sy mond trek skeef. Gebroke hart in sy verlede? Dalk nog van Claire se kant af? “En ons is nie seker jy is wie en wat jy voorgee nie.”
Albertus hou ’n hand op. Junior staan stil, maar hy gluur Claire aan. Verskuif sy aandag na Markus.
“Verskoon hom,” sê Albertus. “Ons het in die verlede wandelaars gehad. Met negatiewe intensies.”
Claire snork weer.
“Ek het geen – negatiewe – intensies nie,” sê Markus. “Inteendeel.”
“Intééndeel?” sê Junior sarkasties.
“O, jammer. Ek was onder die indruk ons gebruik groot woorde.” Die sarkasme is yl verdoesel. Markus weet waar om knoppies te druk. Hy sien Junior se swaai ’n myl vêr. Junior vlieg oor Markus se skouer en vind homself met sy gesig in die gruis, arm ongemaklik agter sy rug ingedraai.
“Ah, ah,” sê Markus wanneer die ander twee nader staan. Hy draai Junior se arm so bietjie. Junior kreun en spoeg om die gruis uit sy mond te hou.
“Regtig?” sê Claire. “Is julle nou klaar?”
Leon se oë straal. Hy klap amper hande.
“Vra julle maat om dalk nou ook nader te staan?” sê Markus. “Net nou skiet hy iemand raak. Dalk sy eie voet as ek julle klomp so kyk.”
Claire loop tot voor Albertus. Sy moet opkyk na hom, maar hy is die een wat ’n tree terug staan. “Wat besiel julle?”
“Ons was bekommerd,” sê hy, hande verontskuldigend omhoog. “Ek meen, kyk na hom. Ou toppie. Stap in met ’n swaard soos Arthur wat ’n ronde tafel wil begin. Jy wat onmiddellik val vir hom…”
“Val vir hom?”
“Wel, met die storie dat hy Leon gered het,” hy soek hulp van die ander. Kry niks. “Dit het net agterdogwekkend gelyk.”
“Jy dink ek kan nie na myself omsien nie?”
Albertus is slim genoeg om die strik te sien. “Dis nie dit nie.”
“Wat is dit dan?”
Hy kyk weer rond vir hulp. Kry niks. “Ek – ons – was bekommerd.”
“Ek neem aan Lappies weet nie hiervan nie?”
“Uhm. Nee. Hy wil regtig met hom praat.” Hy wys in Markus se rigting.
“Julle vriend?” vra Markus, beduie met sy kop in die rigting waar die skerpskutter lê.
Albertus fluit. ’n Meisie, nie ouer as veertien nie, draf uit die nag met ’n jaggeweer oor die skouer.
“Hi Ingrid,” groet Leon met ’n breë glimlag. “Nie geweet julle is terug nie?”
Claire gee haar ’n vuil kyk.
“Vanmiddag gestop. Voorraad gebring,” sê Ingrid. Lyk nie of die verandering in omstandighede haar te veel pla nie. Sy kyk met groot oë na Markus.
Hy laat Junior op uit die stof. “Sê jammer.”
“Jammer,” mompel Junior.
“Vir wat?”
“Wat?”
“Waarvoor sê jy jammer?”
Junior staan sprakeloos. “Vir jou?”
“Nee,” Markus skud sy kop melodramaties. Knik in Claire se rigting.
“Vir wat?”
Albertus tree tussenbeide. “Junior. Tensy jy weer wil grond eet?”
Junior pers sy lippe saam. Draai na Claire. “Jammer.”
Sy waai die verskoning weg. Maar voel so bietjie gevly.
“So aangesien julle julle speletjie op julle eie gespeel het,” Markus maak seker elkeen kry ’n oomblik onder sy aangesig, “Vat my dan nou maar na Lappies toe.”
10
“Dis nodig vir julle om vanaand nog te gaan,” sê Lappies. Hulle sit in sy studeerkamer wat te klein is om almal in te neem.
“Hoekom die geheimsinnigheid?” vra Markus. Hy en Lappies het elk ’n hoë rug stoel geneem. Claire, Ingrid en Leon sit op die rusbank. Die jongmans staan.
“Die dorp,” Lappies vee oor sy hare, frustrasie in sy stem, “weet nie wat goed is vir hulle nie. Die magsposisie is – moeilik.” Hy kyk na die jongmanne. “Ons sit met iemand wat goeie besluite neem, maar dit nie kan afdwing nie. Ons sit met iemand wat meer mag het, maar dit om eie gewin gebruik. En beide te bang vir verandering.”
“En ek is nou die pion tussen hulle,” sê Markus.
Lappies knik.
“Maar ek is op pad. So dit maak nie regtig ’n verskil nie.”
“Hulle gaan jou probeer terughou. Daniel en Simoné. Vir hulle eie redes.”
Markus vryf oor sy gesig uit pure frustrasie. “Ek kan help.”
“Ek weet. Maar jy gaan nie regtig die geleentheid gegun word nie. Hulle het nie veel rede nodig om jou aan te hou nie. Jou wapens weg te vat. Daar is klaar stories.” Hy kyk na Claire wat opkyk. Haar lippe pers saam en sy staar hom uitdagend aan. “Dit maak nie saak wat die waarheid is nie.”
Die jongmans het die goeie inbors om die mat te bestudeer.
“Ah, ek sien. ’n Heksejag,” sê Markus. “Nie die eerste keer nie.” Hy sit terug. “Wie sou my nou kom arresteer het? Hulle?” Hy wys na die jongmans.
“Nee. Hierdie outjies moet plase toe gaan. Presies die geleentheid wat ek wil voorstel om jou – julle – hier uit te kry.” Hy laat dit insink. “Daar is ander boere op pad wat jou nie so goedgesind mag wees nie. Meer onder die invloed van Simoné as Daniel.”
“Ek het niks aan enigiemand gedoen nie,” sê Markus redelik.
“Jy bring verandering. Jy bring die waarheid. ’n Waarheid wat tweestryd in die dorp gebring het.” Hy hou ’n hand op. “Lank voor jou aankoms. Maar nou bevestig jy ’n sekere argument.”
“Dis nou jammer,” sê Markus ontoegeeflik. “Die waarheid staan vir niemand terug nie.”
“Daar is waarheid en daar is waarheid,” sê Lappies, maar hou sy hande op. “Ek sê maar net wat ek sien.”
Markus draai na Claire en Leon. Lig ’n wenkbrou. Leon kyk amper smekend na sy suster.
“Dit gaan moeilik wees meisiekind,” sê Lappies met simpatie.
”Dis klaar moeilik,” sê sy. “Vandat Ma en Pa…” sy sluk ’n snik terug.
“Dis okay,” sê Lappies sag. Skud sy kop om Markus se onbesproke vraag te ontduik. “Maar jy weet wat hulle nou gaan sê.”
“Nee, oom. Ek weet nie.” Weer uitdagend.
“Dis ’n klein gemeenskap,” sê hy.
“Wat gaan hulle sê? Oom?”
Hy kyk weg.
“Wat oom?”
“Dat ons nie ’n hoer in ons geledere kan toelaat nie,” sê hy sag.
Claire staan stadig op. Haar lippe wit. Sy draai om en loop uit die vertrek uit.
“Dit was onnodig,” sê Markus.
“Dit was nodig. Sy kan nie bly nie. Jy kan nie bly nie.”
“Dit besef ek.” Hy draai na Leon. “Hoe vinnig kan julle pak?”
11
“Vertrou jy hom?” Markus sit langs Claire op die rant van die groot stoep. Hulle bene hang af soos skoolkinders s’n.
Sy kyk op. Haar oë rooi. Sy vee verwoed oor haar wange. Sy knik. Verander die onderwerp. “Dis nie regverdig nie. Eers wil hulle ons huis vat. Alles wat Ma en Pa voor baklei het. Voor gewerk het. En nou kan hulle alles net vat. En ons wegjaag. Soos honde.”
“Dis hoekom jy en Leon alleen in die huis is?”
“Die huis is in ons familie. Dis al wat ons oor het.”
Hy gee haar ’n oomblik om haar emosies weer onder beheer te kry. “As ek mag vra?”
“Ons ouers?” Sy kyk in die nag in. “Leon dink hulle is weg. Het gevlug. ’n Beter plek gaan soek na die probleme begin het. Die storms wat daardie swart wolke veroorsaak het. Ons sien dit nog so af en toe. Maar toe – toe was die hele hemelruim bedek. Met daardie rooi weerlig. Dit was verskriklik. En die donderslae. Dit het mense mal gemaak. Dit het net nie opgehou nie. Toe die put oopgegaan het.” Sy skep asem. “Hy dink hulle sal weer terugkom vir ons.” Sy wys na die binnehuis. “Hy is seker klaar besig om vir Lappies te vra waar ons heengaan. Om ons ouers te sê om ons daar te gaan soek wanneer hulle terugkom.” Sy sak haar gesig in haar hande. “Hy weet nie hulle was lafaards gewees nie. Het hulle eie lewens geneem. Ons gelos om na onsself om te sien. Ons! Kinders! ” Sy kyk op, trane silwer oor haar wange. “Leon was vier jaar oud. Ek kon hom nie sê nie. Kan hom nie sê nie. Sy sak haar gesig weer in haar hande. Skouers ruk. Markus sit ’n arm om haar. Sy verstyf teen hom, maar net vir ’n oomblik. Leun dan teen hom en huil stilweg. ’n Leeftyd later trek sy terug en kyk op na hom. “Hy mag nie weet nie.”
“Ek belowe.”
Sy vee oor haar gesig. “Ons moet seker pak. As dit van my boetie afhang, gaan ons niks saamvat wat naastenby ons tot hulp kan wees nie.
12
’n Peugeot Super 7 stasiewa. Markus fluit tussen sy tande. Wanneer laas het hy een van hierdie gesien? Die ding is ’n tenk. Tot die enjin opgee.
“Jy weet ons gaan nou nie heeltemal incognito hier uitry nie,” sê hy aan Lappies.
“Ja, ek weet. Maar dit kan nie verhelp word nie. Solank julle weg is voor die ander môre opdaag.”
“Wat van jou?”
“Ek weet van niks. Die seuns is hier uit na die plase. Hulle het Claire en Leon opgetel. Niemand weet wat van jou geword het nie.”
“Dis bietjie dun.”
“Dis een van daardie dinge wat gaan oorwaai.”
Markus haal sy skouers op. “Ek waardeer.” Hy hou sy hand uit.
Lappies skud blad met ’n stewige greep. “Dis die minste. Die kinders het ’n slegte tyd hier in die dorp. Hierdie hele ding is net ’n gemors. Ek haat politiek.”
“Jy is op die dorpsraad,” wys Markus uit met ’n skewe glimlag.
“Ons doen wat ons moet. Ek sien julle vanaand met voorraad. Ammunisie en ekstra wapens as ek kan kry.”
13
“Daar is kratte in die garage,” wys Claire. “Vat soveel as wat ons kan inpas.
“Ons is ses mense,” sê Albertus.
“Dis ’n Super 7,” sê sy.
Hy frons. Dit maak nie sin nie.
“Wat van Ingrid,” vra Leon.
“Sy bly,” sê Albertus. “Sy weet niks. Het niks met iets te doen nie.
“Sy is…?” vra Markus.
“Lappies se dogter,” sê Claire. “Jongste.”
“Daar is regtig nie baie plek in die ding nie,” sê Kleinjan. Hy en Junior staan met kratte in die hand. “Wat wil jy inpak?”
Claire byt haar lip. Daar is so baie. En alles wat gelos word gaan weggegooi word. Dit beteken niks vir enigiemand anders nie. “Hoeveel kan julle inkry?”
“Twee,” sê Kleinjan.
“Drie,” sê Junior terselfdertyd. Hy frons vir Kleinjan.
“Ons gaan met Junior se plan,” sê sy. Junior se frons verdiep.
14
“Dis die beste wat ons kan doen,” sê Junior nors. Drie kratte. Bietjie opmekaar sit. Bietjie baie opmekaar sit. Dit gaan ’n ongemaklike rit wees. “Daar is nie plek vir die ridder en sy gevegsmondering beide nie. Ek stel voor ons vat net die…”
“Dankie, vir jou tegemoetkoming.” Markus stap nader. “Maar alles is onder beheer.”
Almal staan terug. Markus staan in sy volle uitrusting. Helm onder die arm. Swaard in sy ander hand, steeds in die skede. Rugsak op die rug.
“Gaan ons net rondstaan?” vra Claire. Sy het die belangrikste familie-erfstukke saam met klere vir beide haar en Leon ingedruk gekry. Sy het ’n paar minute geneem om afskeid te neem. Van die huis. Van die herinneringe. Goed en sleg. Sy handig haar pa se .303 aan Leon wat dit tussen die kratte indruk. Die ammunisie sak gaan saam met dié van die ander mans s’n agter die agterste sitplek.
Die stasiewa rammel in die hoofstraat af. Almal wat nie reeds weet hulle is op pad uit nie, weet nou.
Markus sit langs Kleinjan wat bestuur, die swaard leun teen sy skouer, die punt tussen sy voete.
“Stadig,” waarsku Markus na vyftien minute uit die dorp.
“Ek sien,” sê Kleinjan.
Leon leun oor om die pad beter te sien. Die pad is oop. Meestal leeg. Die trekker lê op sy sy, halflyf oor die pad. ’n Groot trekker.
So tien minute later die vragmotor. Ook op sy sy. Die stuurkajuit lyk of dit oopgeskeur is. Van buite.
“Moet ons stop?” vra Leon.
“Nee,” sê Markus. “Daar is niks meer hier nie.”
“Daardie lê al jare hier,” bevestig Albertus.
“Wat het dit veroorsaak? Demone?”
Niemand sê iets nie.
“As dit hier lê, hoe kan mense nog twyfel?” vra Leon.
“Want daardie kon rowers wees wat met koevoete of iets dit oopgebreek het. Of iemand is gered, maar hulle moes die kajuit oopbreek van buite.” Junior klink onseker, selfs vir homself.
Leon sit terug tussen Albertus en Junior, nie oortuig nie. Beide het jaggewere wat hulle tussen hulle bene hou.
“Dit is naby aan die dorp,” sê Claire. “Hoekom het hulle nie die dorp aangeval nie?”
“Van die kleiner dorpies het die aanvalle ontduik. Jo het dit so verduidelik; dis soos mense wat ’n hoofpad ry. Hulle is gefokus op die stad of groot dorp. Draai nie af na elkeen van die kleiner plekkies langs die pad nie. Hoekom sou hulle? Die groot getalle is meer aanloklik.”
“Wie is Jo?” vra Albertus.
Markus sê niks verder nie. Die pyn van die verlede weer oopgekrap. Die son het begin gesig wys. Hy staar na die Karoo bossies wat langs hulle verbyflits. Die golf van ou telefoonlyne wat nog langs die pad staan. Onnadenkend masseer sy vingers die gedeelte oor sy voorkop.
***
Markus staan nader aan Albertus wat sag met Kleinjan en Junior staan en praat. ’n Vinnige piepie-stop was nodig. Piepie-stop is Leon se term. Die ander het dit so aanvaar asof dit gewone spreektaal is vir hulle. Markus het dit amusant gevind. Hulle raak stil, hou hom onderlangs dop. Die son skitterblink teen die harnas.
“Is dit nie ongemaklik nie,” vra Junior.
“Minder as wat jy sal dink,” sê hy. Hy kyk uit oor die veld. “Wat het julle ouens so bekommerd?”
Hulle kyk mekaar onderlangs aan. Kleinjan lek oor sy lippe. “Die trok waarby ons verbygery het?”
Markus knik.
“Daar was ’n teken op geverf wat nie voorheen daar was nie.”
“Hoe lank terug?”
Kleinjan skud sy kop. “’n Week miskien.”
“Hoe lyk dit? Die teken?”
Kleinjan trek dit na in die grond voor hulle. Markus skud sy kop. Niks wat hy voorheen gesien het nie.
“Stropers? Dis al wat ons kan dink,” sê Albertus. “Ons het nie enige van die bendes hier gehad vir jare nie. Aan die begin het ’n paar deurgetrek, maar hier is nie genoeg gewees om hulle aandag te hou nie.”
“Miskien nie tóé nie,” sê Junior.
“Ek verstaan die plase het son energie?” Markus vou sy arms. “Dit sal ’n aantrekking wees.”
“En brandstof,” sê Albertus. “Petrol en diesel. Ons gaar nou al op vir ’n lang tydperk.”
“Van die ander plase?”
Albertus skud sy kop. “Dorpe. Ons is seker ook maar plunderaars op ’n manier. Maar net die dorpe wat leegstaan.”
Markus knik. “Die plaas waarheen ons gaan?”
“Die Van Vuurens. Ons het lanklaas daar ’n draai gemaak. Lappies het goeie invloed daar. Hulle sal vir jou ’n voertuig gee.”
”Sommer net so?”
“Nee.” Albertus wys met sy hand na die silwer gevegsuitrusting. “Daarom.”
Markus draai na Junior om sy reaksie te sien, maar die jong man kyk net in die rigting van die Peugeot.
“Wat van hulle?” Markus knik in die rigting waar Junior kyk.
“Die Van Vuurens het ’n groot opstal. Hulle kan dalk daar ’n tuiste vind, maar soos ek Claire ken is dit te naby.”
Markus weet presies wat hy bedoel. “Hoeveel plase?”
Junior sê trots: “Twaalf. Dis die Karoo. Dit dek ’n groot area.”
“En geen probleme?”
“Ons het patrollies.” Albertus klop sy vriende op die skouer. “Ons kyk uit vir probleme en help mekaar.” Hy stap na die stasiewa. “Kom. Ons het nog ’n uur of so se ry.”
15
Die son knipoog silwer op die hoofhuis se dak met die naderry. Die opstal sit soos ’n eiland in die Karooveld, omring deur bome om ’n lae klipmuur wat ’n grasperk omhels. Aan die eenkant staan ’n wind opwekker soos die verlore propeller van ’n reuse vliegtuig. ’n Dam aan die voetenent van ’n windpomp net buite die muur, aan die vêrste kant van die opstal. Hulle stop voor ’n klipperige heuwel, net buite direkte sig. Almal staan of leun tussen die heup hoë rotse, aandag op die huis.
“Dis baie stil,” sê Claire. “Nie eens honde nie.”
“Dis op die hitte van die dag,” sê Junior, vryf oor sy kop. Almal voel gespanne.
“Hoe wil oom dit benader?” vra Albertus aan Markus. Die ander twee gee hom ’n vinnige kyk. Hulle het nie verwag hy sal beheer oorgee nie.
Markus knik in erkenning. Vertrou in die behendigheid van die jong mans. Dis amper weer soos in die ou dae. Amper ’n kommando onder omstandighede. Hy teken ’n rowwe kaart op die grond. “Ons benader die opstal uit vier rigtings. Hier, hier, hier en hier. Dit hou ons uit mekaar se spervuur. Ek soek geen ongelukke nie. Maak seker voor jy die sneller trek.”
“Ons weet wat ons doen,” sê Junior.
“Ek weet. Die punt wat ek wil maak is jy moet skiet wanneer daar geskiet moet word. Ons hou mekaar veilig.”
Knikke.
“Oom gaan nie heeltemal ongesiens kan beweeg nie,” sê Albertus.
Markus ontgespe reeds die borsstuk. Hy haal sy 9mm uit sy rugsak. ’n Ou CZ wat hy op sy heup holster.
Kleinjan lyk onseker. “Oom seker? Miskien Claire se .303?”
“Nee wat. Ek is okay. Claire het dit nodig.”
Sy knik. Sy het nie ’n probleem om hierdie vir hulle te los nie. Sy kyk rond. ’n Valstrik van agter is die laaste wat hulle nou nodig het. Met almal se aandag op die huis…
Die veld verskaf nie regtig dekking nie. Hulle beweeg stadig nader, hou die bome tussen hulle en die huis. Geen beweging of geluid van die huis se kant af nie. Markus se grootste vrees is die boer wat dink hulle is rowers en op hulle begin skiet. Niemand skiet egter op hulle nie. Sovêr. Hulle bereik die bome. Steeds geen beweging of geluid nie. Markus beduie en hulle nader die huis. Kleinjan bied agterhoede vir Markus. Hulle het dalk nie militêre agtergrond nie, maar hulle verstaan hoe dit werk. Albertus spring oor die klipmuur langs die hoofhek, dek die area terwyl Junior volg. Markus wys na die agterkant van die huis, wys na homself. Albertus knik. Kleinjan volg hom laag langs die muur af. Hy swaai behendig oor die muur, hurk met sy wapen voor hom tot Kleinjan langs hom stelling inneem. Hy wys na homself en die agterdeur. Vingers na sy oë en dan na Kleinjan. Kleinjan knik. Markus hardloop gebukkend tot by ’n ou perdewa wat aan die kant van die agtererf staan. Die ding moet ’n familie-erfenis wees, want dit het nie diens in die laaste twintig jaar of so gesien nie. Hy skarrel om die wa, het nou ’n goeie oorsig oor die binnehof. Steeds geen beweging of geluid nie. Die buitegeboue vorm ’n oop vierkant teenoor die hoofgebou, gruis oor die oppervlakte gegooi. Kleinjan beweeg agter hom in, raak aan sy skouer. Hy maak seker daar is geen beweging nie, kyk om. Kleinjan raak aan sy neus. Markus het ook die reuk opgetel. Vrot. Hy het ’n slegte gevoel in sy maag. Albertus en Junior verskyn om die vêrste hoek, laag met hulle rûe teen die huis se muur. Markus maak ’n beweging oor sy keel. Albertus doen dieselfde. Hulle het ook niks gesien nie. Markus raak aan Kleinjan se been, wys hom om te bly langs die wa. Kleinjan vee die omgewing agter hulle met sy wapen voor hy weer op die huis konsentreer. Markus beweeg na die huis, druk sy rug ook teen die muur. Hy loer vinnig by die venster in bo hom. Die kombuis. Geen beweging. Die reuk is erger. Albertus wys Junior om posisie in te neem aan die kant van die buitegebou waar hy beter dekking kan verskaf. Hy wag op hom om posisie in te neem voor hy nader skuif na Markus se stelling.
“Voordeur is gesluit,” fluister Albertus. “Niks gesien deur enige vensters nie.”
Markus hou ’n vinger op, wys na die agterdeur, wys weer na homself. Albertus knik, hou sy wapen reg.
Markus sit vir ’n oomblik met toe-oë. Voel die ligte windjie wat opgespring het. Hoor die windpomp by die dam se blikkerige draai. Die groot wind opwekker wat soos ’n wit vliegtuigpropeller begin draai aan die kant van die buitegeboue. Stadig. Vinnig. Weer stadig. Hy beweeg na die agterdeur. Die gaasdeur skreeu oop. Die agterdeur is nie gesluit nie. Hy stoot dit vinnig oop, beweeg na binne en na die kant, wapen voor hom. Markus wag, maar daar is steeds geen geluid of beweging andersins nie. Die reuk is amper onhoudbaar. Hy beweeg dieper in die huis in.
Skote klap buite. Nie naby genoeg om een van die jong manne te wees nie.
Claire!
16
Vir ’n oomblik is hy besluiteloos. Die skemerte van die huis roep hom. Wil sy geheime met hom deel. Mag steeds iemand hier wees wat ’n bedreiging is. Die tweestryd is van korte duur. Hy draai na Albertus wat grootoog agter hom staan. “Die ander twee. Laat hulle gaan kyk.”
Albertus lyk onseker. “Dink! Daar is nie verdere skote nie. Dit was ’n .303, reg?”
Hy knik.
“Laat hulle gaan kyk,” sê hy weer, draai terug na die skemer van die huis. “Ek wag vir jou.”
17
Hulle vind die gesin in die ruim sitkamer. Ook die oorsprong van die reuk. Stukke plafon is uitgeruk om die dakbalke bloot te lê. Die ouers. Drie kinders, twee dogters en ’n seun. Lyk so tussen 15 en18. Al vyf se gewrigte vasgebind aan die balke. Heeltemal kaal. Snitte vanaf die kele af tot die pubis. Dwars snitte oor die maag. Ingewande lê in hopies onder hangende voete.
Albertus sak op sy knieë en kots. Druk ’n hand voor sy mond en strompel uit. Hy hou die geweer in die ander hand soos ’n professionele soldaat.
Daar is hoop vir hom, dink Markus. Hy hou sy asem op. Nie net vir die reuk nie, maar die wolk van vlieë. Hy staar na die muur. In bloed is ’n naam geskryf.
Thomas.
18
Albertus sit op sy knieë, kop vooroor. Dit klink nie of hy iets in sy maag oor het nie.
Markus haal self diep asem. Sit ’n hand op sy skouer. “Okay?”
“Nee,” hyg hy.
“Kom.” Hy help hom op. Lei hom na die dam langs die windpomp. “Druk jou kop onder die water. Dit sal help.” Albertus se knieë swik. Markus gryp hom om die lyf, help hom op om sy kop onder die lopende water te kry. Albertus proes, sluk van die water. Markus laat hom teen die klipwal afsak. Maak sy hande bak onder die water en gooi dit oor sy eie gesig. Druk sy kop ook onder die lopende water. Hy gaan sit langs Albertus, kop agteroor teen die wal.
“Daar is ’n smaak wat ek nooit uit my mond gaan kry nie,” sê Albertus.
Markus knik. “Kom. Ek is bekommerd oor die ander.
Die stap na die Peugeot is lank. Die son ongenaakbaar. Claire en Leon sit aan die binnekant van die stasiewa wat so bietjie skaduwee bied.
“En nou?” vra Markus.
Leon spring op. “Hier was ’n man gewees. Ek het gedink dis ’n demoon. Maar hy het gepraat. Gesê hy soek iemand. Claire het vir hom gesê om weg te bly. Ons ken hom nie. En ons ken almal hier. Hy was nie ’n boer nie. Hy het snaakse merke oor sy lyf. En arms en gesig. Toe haal hy ’n mes uit. Soos ’n panga. Toe skiet Claire hom.”
Markus hou ’n hand uit na Leon, hurk voor hom. “Het iemand seergekry?”
“Nee. Net die man. Sy het,” hy haal diep asem, “sy het hom raak geskiet.”
Markus kom orent. Claire het intussen ook opgestaan. Sy kyk weg. Die geweer steeds in haar hande. Hy probeer dit uit haar onwillige vingers neem. “Dis okay,” sê hy sag. Sy laat haar greep verslap. “Waar is die ander twee?”
“Agter die man aan. Hy is gewond. Maar hy het gehardloop soos ’n springhaas!” Leon se opgewondenheid voel effe onvanpas.
“En hulle los julle net so hier. Alleen.”
“Ons is okay,” sê Leon. “Claire is windgat!”
Markus sak sy kop om Claire in die oë te kyk. Sy vermy hom. “Dis okay. Jy het die regte ding gedoen.”
Sy draai weg van hom, gaan staan teen Albertus wat verleë ’n arm om haar sit.
“Kom, Leon.” Markus keer vir Albertus met ’n gebaar. Skud sy kop. Albertus verstaan, lei Claire terug na die stasiewa se bietjie beskerming.
19
Dis nie moeilik om die spoor te volg van Junior en Kleinjan nie. Hulle uitroepe weergalm vreemd oor die warm veld. Dit voel vir Markus hy swem deur hittegolwe. Leon draf langs hom, versigtig om nie ’n enkel te swik nie. Die Karoo lyk net plat. Hulle vind die twee met die gewonde man by ’n droë dam. Kleinjan staan met sy voet op die man se bors, Junior se geweer op sy gesig gerig. Die panga lê so drie meter van hulle af. Markus tel dit op, gaan staan langs Junior.
“Enigiets?”
“Nog nie kans gekry om te vra nie,” sê Junior.
“Gaan ons mooi vra of moet ons meer oortuigend wees?”
Junior gee Markus ’n verbaasde kyk. Die koue in die ouer man se stem is onverwags. Hy weet natuurlik nie wat in die huis gebeur het nie.
Die man op die grond lyk nie bang nie. Hy hou ’n hand op sy skouer, bloed sypel deur sy vingers. Nee nie bang nie. Maar ’n vurige haat. Beide Junior en Kleinjan kyk op na Markus. Want die man op die grond se haat is baie duidelik op Markus gefokus.
“Ken jy hom?”
“Nog nooit gesien nie,” sê Markus.
“Hy het geweet jy gaan hier rond wees,” sê die man. Sy stem is gejaagd. Hy ignoreer die voet op sy bors, die geweer wat in sy gesig huiwer.
“Wie?” vra Junior.
Die man forseer sy nek op. Sê niks. Oë wit van inspanning. Oë wat probeer om in Markus s’n te boor. Hy lyk soos iemand wat onlangs uit ’n konsentrasiekamp bevry is. Hare yl. Vel met tatoeëermerke oordek. Arms, nek, gesig. Oral waar vel wys. Lyk soos hiërogliewe.
“Wie?” vra Junior weer, hierdie keer aan Markus. Markus skud net sy kop. “Bring hom.” Hy draai om, vat Leon aan die skouer en begin terugstap.
20
Die hoofhuis is buite die kwessie. Markus neem dit op homself om ten minste sleutels te gaan soek. Die buitegeboue is prakties net pakkamers. Hulle dra ’n paar beddens uit, matrasse en lakens. Stowwerig, maar bruikbaar. Een van die buitekamers word as ’n slaapkamer ingerig. Almal gaan maar moet kamp daar. Een van die ander vertrekke is nou ’n tronk. Hoë vensters wat te smal is om deur te kruip, met ’n deur wat kan sluit. Ideaal.
“Daar is ’n braai op die voorstoep,” lig Albertus hulle in. “Ons kan dalk iets saamflans.”
“Jy is welkom,” sê Kleinjan. “Die reuk om die huis…”
Markus sit ’n kastrol met blikkies voor hom neer. “Ek vertrou nie enigiets anders in die huis nie. Sien wat jy kan doen.”
“Speserye?” vra Junior.
“Jy is die kok tussen die klomp?” Markus kan nie help om te vra nie. Hy wys na ’n sak in die kastrol.
“Hoekom?” Uitdagend. “Wat is fout daarmee?”
Markus grinnik. “Hoegenaamd niks nie. Verras ons.”
“Eerder hy as Kleinjan,” sê Leon.
“Hey!”
“Komaan! Onthou jy daardie kalkoen verlede Kersfees?”
“Die pizzaoond se temperatuur was nie reg nie!”
“Dit was ’n pizzaoond! Dis die punt…”
Markus vat Albertus aan die skouer, loop ’n entjie van die vriendelike skermutselinge weg. Albertus glimlag terug na die klomp wat steeds argumenteer.
“Ons gaan die lyke moet begrawe,” sê Markus.
Albertus se grinnik verdwyn. Hy knik. “Ons kan hulle nie so los nie. Ek voel eerder om die huis af te brand. Daardie reuk gaan nooit daarúít kom nie.”
“Ek stem. Maar ’n huis is ’n huis.”
Albertus gee hom ’n skewe kyk. “Die gevangene?”
“Ja, ons moet seker daardie wond herbind.” Markus wys na die ander. “Sal hom iets gee om te eet later. Dan help jy my.”
“Claire is dalk meer toegerus om te help.”
“Nee,” Markus is vasbeslote. “Ek sal dit doen.” Hulle staan in stilte luister na die ander wat steeds skerts.
“Ek het dit gemis,” sê Albertus.
“Dis nodig om soms bietjie af te pak. Goed vir die moraal.”
Albertus betrag hom uit die hoek van sy oog. “Oom moes baie dinge beleef het.”
“Ons gaan moet wagstaan vanaand.” Markus wys na die windpomp. Die kraaines daarbo sal ’n goeie uitkyk maak.”
Albertus besluit om nie die punt te dryf nie. “Ons sal lootjies trek. Nie Claire of Leon nie.”
“Nie Claire of Leon nie,” beaam Markus.
“Wie is Thomas?”
Markus draai na hom. “Ek soek ook geen elektrisiteit nie. Ek wil nie nog oë op ons hê nie.”
21
“Maak hom los,” sê Markus. Hy plaas die blikbord met ’n mengsel van blikkieskos en aartappels op die vloer. ’n Noodhulptassie langs dit. Die kos het baie beter uitgedraai as verwag. Ten spyte van die gebrek aan voorraad. Junior mag maar, al is sy persoonlikheid grotendeels die van ’n klip.
Die gevangene gluur hom aan. Markus het die wapenrusting aan, swaard in die skede op sy rug. Hy laat Albertus toe om die leerriempies om die man se gewrigte agter sy rug los te maak, bring sy hande na voor en vryf sy gewrigte. Hy tree weg van Markus.
“Kom nou. Ek het nie lus hiervoor nie,” sê Markus.
Die man staan stil terwyl Markus die verbande ruil. Hy wys na die bord. “Eet.”
Die man gluur hom net aan. “Jy gaan nie weer kans kry nie.”
Hy grinnik. “Ek sal vanaand saam met my broers eet.”
Albertus trap ongemaklik rond. Markus kyk hom stil aan. “Maak soos jy wil.” Hy wys vir Albertus om hom weer vas te bind.
22
“Wat was dit?” Albertus krap onrustig deur sy hare.
Markus haal sy skouers op. “Bravade.”
“Hy het seker geklink oor sy stelling. Baie seker.”
“Laat ons eerder niks waag nie. Stel daardie wagtye op.”
23
Markus skreeu. Die pyn in sy kop is ’n witwarm lem. Hy rol uit die komberse wat as bed dien. Die borsstuk steeds aan. Swaar op hom. Hy ruk-ruk aan die gespes. Besef wat hy doen. Die pyn gaan nie weg nie. Die ander loer slaperig na hom, Albertus en Junior hurk reeds langs hom. Kleinjan staan wag. Of lê. Of sit. Die kraaines is net só groot.
“Wat is fout?” Albertus probeer hom ophelp.
“Hoor jy dit nie?” Markus praat moeilik, sy kakebeen gesluit.
Junior gryp ’n geweer, hurk langs die venster. “Niks,” sê hy na ’n oomblik. Hy verskuif na die deur, loer versigtig uit voor hy uitglip.
“Wat hoor oom?” Albertus kry sy skouer onder Markus en help hom tot op sy voete. “Wat is dit?”
Markus kry soort van beheer oor sy voete, strompel by die deur uit. Die pyn verdiep. ’n Skril geluid. Hy slaan sy hande oor sy ore. Dit help nie. Hy beweeg in die rigting van die windpomp. Dis asof die pyn minder raak. Net ’n fraksie. Hy draai om, druk in die rigting van die pyn. Vorentoe. Druk. Druk. Forseer homself. Die gevangene! Dit kom van daardie rigting. Die deur is oop. Hy knyp sy oë toe. Oop. Sy visie is dof. Alles wasig. Hoekom is die deur oop? Waar is hy? ’n Dowwe beweging aan die kant. Kan nie so mooi sien nie. Ligkolle flits voor sy oë. Verdonker. Hy het nie tyd nie.
Die pyn verdwyn.
24
Markus sit met sy kop in sy hande. Haal diep asem. Hy is bewus van die fluistergesprek nie vêr van hom af nie. Kan nie regtig fokus daarop nie. Later. Nou om die pyn weg te kry. Hy het dit een maal tevore ervaar. Dit het geëindig met bloed op sy hande. Bly hy kon dit verhoed hierdie keer. Hy raak bewus dat die stemme nou meer op hom gefokus is. Hy kyk op, sien uit die hoek van sy oog sy hande is vuil.
“Markus? Oom!”
Albertus hurk voor hom, lyk bekommerd. Nie seker hoekom nie, alles is mos in plek. Hy onthou die gevangene.
Wag.
Die deur was oop.
“Is hy nog hier? Het julle hom weer gevang?”
“Wie oom?”
“Die gevangene?” Hoekom vra Albertus so ’n dom vraag?
“Oom. Kom saam met my.”
“Hoekom? Ons moet seker maak die gevangene is beveilig.”
Albertus help hom op. Dit gaan ongemaklik. Die aandlug bring hom ’n bietjie meer tot sy sinne.
Iets knaag aan hom. Iets het verkeerd geloop. Hy probeer sin maak. Hulle stap weg van die opstal, die Karoo bossies klap en trek aan sy jeans. Voel uitasem asof hy gehardloop het. Hy moet die swaard skuins draai om op die grond te gaan sit. Swaard? Wanneer het hy die swaard gevat? Hy staar na die lem. Staar dan na sy hand. Sy ander hand. Donker merke. Is dit bloed?
“Dit is,” sê Albertus versigtig.
Markus kyk op na hom waar hy ’n veilige afstand van hom af staan. Hy het nie besef hy het hardop gepraat nie. “Wat het gebeur?”
“Oom gaan moet sê.”
“Ek verstaan nie.”
Albertus lek sy lippe. “Sovêr ons kon sien, het oom wakker geskrik van ’n nagmerrie. Gekla oor ’n harde klank.”
“’n Fluitgeluid. Maar deurpriemend. Kon niks anders hoor nie. Kon nie dink nie. Dit het my amper mal gemaak.”
“Dit het, oom.”
Markus kyk weer na die bloed op sy hande. “Die gevangene?”
“Oom het die deur uit die kosyn geloop. Die gevangene is dood.”
“Dood.”
“Ek het in my lewe nog nooit so iets gesien nie,” sê hy sag. “Daardie is – was – ’n sterk deur.”
“Die gevangene?”
Albertus beduie na die swaard. Hy hoef niks verder te verduidelik nie. “Hulle is bang, oom.”
Hy hoef ook nie te verduidelik wie die ‘hulle’ is nie. Hy skud sy kop stadig. “Ek het nie gedink dit sal weer gebeur nie.”
“Dit het voorheen gebeur?”
Markus knik stadig. Iets trek sy aandag. Die maanlig weerkaats vreemd op die lem van die swaard. “Ek is nie seker wat gebeur het nie. Gedink dit was eenmalig.”
“Dis ’n probleem,” sê Albertus. Sy stem het verander. Meer volwasse. Meer oud. Hy het tot ’n besluit gekom wat baie uit hom geneem het. “Dis beter as oom nie teruggaan nie.”
Markus sak sy kop. Ten spyte van alles het hy die geselskap van die vriende begin geniet. Selfs gewonder of hy ’n uitnodiging moet rig aan hulle. Hy frons. Dit is nie die maan wat weerkaats nie. Die lem glinster vanself. Iemand roep uit. Leon. Kom aangehardloop. Met Markus se rugsak. Dit maak Markus se gemoed swaarder. Leon is die een wat in hom geglo het. Nou besef hy eers hoeveel dit vir hom beteken het.
Iets woer by sy kop verby.
Hy kyk rond.
Voel traag.
“Oom!” Leon gooi die rugsak voor hom neer. “Gou! Kleinjan sê daar is…”
Iets woer weer, klap in iets vas. Albertus ruk kant toe, ploeg in die grond in. Iets lank deur sy kop. ’n Pyl?
“Die gevegsuitrusting,” roep Leon. “Hulle is hier!”
25
Markus druk Leon grond toe. Die sak is reeds oop. Geoefende vingers trek die harnas vinnig aan. Die helm glip oor sy kop.
En alles word stil.
Alles word helder.
Ten spyte van die nouerige kykgleuf van die helm, kan hy alles sien om hom. Nie soos nagvisie nie. Alles is net gedrapeer in ’n sterk skemer. Al is dit nagdonker. Drie figure hurk ’n ent van hulle af. Lyk na ’n kruisboog in die een se hande. Hy druk Leon laer af teen die grond. Die pyl trek skadeloos oor hulle koppe. Nie ’n goeie skut nie. Markus is dankbaar. Hy tel Albertus se jaggeweer op van die grond. Die persoon met die kruisboog ruk na agter. Al drie skarrel weg.
“Dink ek het my punt gemaak,” sê hy sag.
“Is hy dood?” vra Leon. Huil is in sy stem. Skok.
“Nee. Ons dood net indien dit regtig nodig is. Skouer wond. Maar hy gaan nie daardie arm weer behoorlik kan gebruik nie. Hy sal onthou vir die res van sy lewe.”
“Albertus?” vra Leon in ’n klein stemmetjie.
Markus hurk langs die jongman. Skote klap van die opstal se kant af. “Ons moet gaan,” sê Markus.
“Is hy?”
Markus knik. Maak sy oë toe vir ’n oomblik, hand op Albertus se voorkop. Hy gee nie nou om oor die bloed nie. “Hy was ’n goeie man. Dapper. ’n Goeie leier. Die wêreld is minder helder met die uitdoof van sy lig. Mag hy aan die voete van die Vader rus vind.”
Leon se oë blink.
“Kom, seun. Ons het werk om te doen. Ons sal terugkom vir hom.”
26
Hulle drafstap terug. Markus besef dit is taktiek. Hulle word saamgebondel sodat beter beheer oor hulle uitgeoefen kan word. Hy is nie seker of Albertus se dood deel van die plan was nie. Dalk ’n ongeluk omdat hulle nie reageer het nie? Hy wonder hoekom dit hom so lank gevat het. Eintlik het hy dit heeltemal gemis. Hy – ’n soldaat! Hy word oud.
Hy keer Leon net voor hulle by die klipmuur verbygaan. Te veel beweging aan die ander kant. Hulle is reeds te laat.
27
Hulle sit op hulle knieë voor mense wat wapens op hulle rig. Vooroor gebuig. Claire. Junior. Kleinjan. Laasgenoemde met ’n sny teen die kop, lippe saamgepers in pyn. Hy het terugbaklei. Dalk is hy raak geskiet. Markus is net verlig om almal lewendig te sien. Claire kyk op met hulle instap deur die hek voor sy teen die agterkop gestamp word met die loop van die wapen. Haar oë rek wanneer sy Leon sien. Frons wanneer sy net twee van hulle sien. Sy sak haar kop weer vinnig. Skouers ruk stil. Sy weet.
“Asseblief. Stap nader. Ons wag net vir hom.”
Markus plaas ’n hand op Leon se skouer.
Gewere word oorgehaal. Markus tel twaalf mense. Uitgesprei in ’n halwe sirkel. Maar hy is bewus van ’n ander teenwoordigheid. Soos ’n gedagte wat net-net buite bereik fladder. ’n Naam of woord op die punt van die tong.
“Ek belowe. Hy sal nie meer leed aangedoen word as enigeen van sy vriende nie.”
Die man staan in die middel van die halfmaan. Breërandhoed laag oor sy gesig getrek. Lang jas. Baie cliché. Baie warm aangetrek vir ’n Karoonag in die middel van die somer. Die maanlig hou sy gesig in skaduwee.
“Of ons kan hom kom haal.” Hy wys na Leon. “Maar dan gaan ek dalk op my woord moet teruggaan. En ek wil nou nie ongeskik voorkom nie.”
Markus vat sy hand weg. “Wees sterk.”
Leon knik. Manhaftig. Markus hoop hy is die seun se vertroue werd. Leon word hardhandig op sy knieë gedwing langs Claire. Hy kyk nie af nie.
Die man stap nader maar gaan staan so twintig tree van Markus af. “So. Wat is jy nou eintlik?” Hy hou ’n hand op om Markus te keer. “Want ek het stories gehoor. En ek is nie regtig beïndruk met wat ek sien nie.” Hy gee ’n laggie. “Kom ons kyk.” Hy hou ’n vinger op met elke stelling. “Getroude man. Vrou dood aan kanker. Gefaal. Huursoldaat. Enigste oorlewende. Gefaal. Beskermer van die onderdruktes. Kenhardt is iets spesifiek wat ek wil noem. Gefaal. Ridder.” Hy haal sy skouers dramaties op. “Gefaal.”
“Wat wil jy hê?” Dis ’n dom vraag. Maar Markus is bereid om die speletjie te speel. Vir die oomblik. Al is dit net om die gesprek aan die gang te hou.
“Kom ons begin deur jou uit die las van jou wapens te help.” Hy hou ’n hand uit.
Markus gooi die jaggeweer na die kant.
“En?”
Die swaard sing uit die skede uit. Markus laat sy oë gly oor die woorde wat dofweg gloei oor die lem. Swaai die swaard behendig ’n paar keer voor hom voor hy die punt in die grond plant. Hy rus sy hande op die swaardknop. Lig sy kop uitdagend.
“Aaaaah. Ons kan seker nie dadelik opgee nie.” Die man gee ’n stadige applous. “Darem lyk soos ’n held voor die kinders.” Hy draai sy kop na die kant, gesig steeds in die skaduwee van die hoed. “Gepraat van – het jy gehoop om ’n stukkie te kry? Lyk of sy pappa-kwessies het. Lekker lyfie daar.”
“Jou stuk gemors!” Claire is amper op haar voete voor die persoon agter haar haar aan die hare beetkry en terugtrek. ’n Swaar hand druk haar terug op haar knieë. Sy haal hoorbaar asem, woedend.
“Ek kan iets heldhaftig sê, maar ons weet hierdie is net ’n speletjie. Kom ons kry dit nou maar net oor.”
“Kyk nou net, nè? Held-sindroom op sy beste. Al ontken jy dit.” Hy maak snuif geluide. “Maak haar nat vir jou. Ek kan haar ruik van hier.”
“Genoeg.” Markus sak neer op een knie. Hou die swaard steeds voor hom, hande nou rustend op die dwarsstuk.
Die man lag uit sy maag uit. “Aaaah. Ek is jammer. Dit was regtig net ’n grap. Wou net seker maak ek het jou aandag. Volle aandag. Ons weet van beter, of hoe? Ons ken mekaar te lank. Soos broers, reg?”
“Ek weet wát jy is,” sê Markus. Hy knik na die mense met die wapens. “Nie seker hoekom presies hierdie mense jou volg nie.”
“Mense? Kom nou. Gaan jy weer aangaan oor demone en hekke na die hel? Daardie ouvrou stories? Ons het mos hieroor gepraat. Moenie alles glo wat jy hoor nie.”
Die vriende lig hulle koppe, kyk onderlangs na mekaar.
“Ek weet nie wie jy is nie,” sê Markus.
“Ek voel erg seergemaak.” Hy haal die hoed stadig af. Lig sy kop na die maanlig, kyk stadig af. “Hallo Markus. Of moet ek sê – Thomas?”
28
“Hallo, Jo,” sê Markus.
“Sien? Dit was makliker as wat jy gedink het.”
Markus bly stil.
“Het jy hulle vertel?” Jo wys na die vriende agter hom. “Of het jy die gewone storie verkoop?” Hy draai om, hou sy hande vraend op. “Niemand? Kom ons kyk hoeveel het ek reg.” Hy hou ’n vinger op. “Hy is ’n huursoldaat? Ja? Wel daardie een is korrek. Nie ’n goeie een nie, want ons het hom ingeneem na die insident. Ons kom nou terug dáárna. Hom so bietjie leer skiet, maar sela!” Hy draai terug na Markus. “Sy naam is nie eens Markus nie. Johan, reg? Johan Maritz. Of iets dom soos dit. Nie eens ’n badass huursoldaat nie. Wat was jy? Onderwyser? Maar iets is fout met jou. Reg? Daardie sny aan jou kop. Schizo! Hulle het probeer regmaak wat fout is daarbinne. Maar nie heeltemal geslaag nie. Steeds daardie verskriklike hoofpyne?”
Die vriende raak onrustig agter hom.
Hy klop met sy wysvinger teen die kant van sy kop. “Ah! Dit het weer gebeur! Iemand dood? Opgesny met daardie swaard? Miskien weer iemand wat dit nie regtig verdien het nie?”
Markus se kop sak ’n fraksie laer. Hy voel ’n drukking opbou. Die hoofpyn wil-wil deurdruk.
“Die helm help nie regtig nie. Jy dink net dit doen. Dit is deel van die probleem.”
Markus byt op sy tande, voel die spiere om sy kakebeen styftrek.
“Twee,” gaan die man voort, hou twee vingers omhoog. “Hy vertel almal hy is ’n Ridder. Of eerder, hy is nie een nie.” Hy gee Markus ’n simpatieke kyk. “Besluit jong. Maak ’n keuse. Niemand kry jou jammer nie.” Hy draai weer terug na sy gehoor. Fluister hardop: “Daar is nie regtig Ridders nie. Dis iets wat iemand opgemaak het. Fanatikusse. Makliker om die probleme van die wêreld op te los met ’n Bybel. Jy moet mos net glo. Hoef nie bewyse te lewer nie.” Hy swaai om na Markus. “Museum, reg?” Hy wys ’n vinger asof hy hom uitgevang het. “Maklik om iets op te graveer en te sê dis Bybels. Dit ís dalk selfs!”
Markus hyg nou binne die helm. Sy asemhaling luid in sy ore. Voel of sy kop gaan bars.
“Die swaard. O, wat ’n pragstuk. Jy het letters met een van daardie gloei in die donker penne opgeskryf?” Hy lag. “Tower speletjies vir dié wat maklik om die bos gelei word.”
Leon kreun.
“Sien? Maklik! Maar daardie ding in jou kop! Die ding wat jou sulke hoofpyne gee. Wat jou dinge laat doen. Dinge laat sien. Dan weet jy nie eens wat jy gedoen het nie. Of weet jy? Is dit ook ’n verskoning? Kenhardt! Het jy hulle vertel?” Hy swaai weer na agter. “Ja? Nee?”
Die oë wat hom volg is verskrik. Ongelowig. Vol vrees.
“Onthou jy? Onthou jy!” Hy gaan staan reg by Markus, raak vlugtig aan die helm. Ruk sy hand weer terug.
Markus se bloed stol. Nee. Nie dit nie. Nie weer nie!
“Dis reg. Nie een oorlewende nie. Nie eens die meisie vir wie jy alles wou opgee nie. Dit na jou vrou se dood. Maar ’n man is nie ’n eiland nie. Reg? Of het jy net aan jouself gedink?”
’n Visioen.
Druk hom af op beide knieë.
Die liggame.
Oopgeskeur.
Dele afgeruk.
Bloed oor die mure.
Die reuk!
Elke man.
Vrou.
Kind.
En in die veld.
Gekruisig teen ’n boom.
Danielle.
“Sy was ’n mooi dingetjie. Bietjie tingerig vir my smaak. Maar jy het nog altyd van hulle gehou wanneer hulle lyk soos stokmannetjies. Met borste ten minste. Ek soek bietjie meer vleis aan my vroue. Meer vatplek. Is ek reg?”
Markus skud sy kop stadig van kant tot kant. Hy kan nie eens die bloed in sy mond uitspoeg nie. Kan nie die helm afhaal nie.
“Demone, Markus? Of was dit jy? Die naam in bloed teen die mure. Dit het daar begin, reg? Thomas. Die ongelowige. Jy. Jy is die ongelowige. Want jy weet jy is verkeerd. Wat jy doen, is verkeerd.” Hy hurk voor Markus. “Jy het hulp nodig, ou vriend. Jy weet jy het hulp nodig. Thomas. Dis jou manier om hulp te vra. Uit te reik na iemand om te help. Ek is hier vir jou. Soos in die verlede. Laat ek jou help.”
“Dis leuens!” roep Leon uit.
Die man staan stadig op. Loop na die vriende. “Regtig? Wat laat jou so sê?”
“Die mense in die huis,” Leon wys na die hoofhuis. “Hulle was dood toe ons hier aankom.”
“O? Dit het weer gebeur? Hier? En die naam Thomas is teen die muur geskryf?”
Leon kyk na Markus vir hulp.
“Dit was, ek verseker jou. Julle almal. Die man het hulp nodig. Hy het hierdie alles opgestel om sy storie geloofwaardig te maak. Het julle niks verdag gesien om hom nie? Dalk selfs nou onlangs?” Hy kyk rond. “Is dit bloed wat oor daardie kamer daar anderkant se vloer vloei?”
“Dit was een van jou manne,” sê Kleinjan sag.
“So dis waar hy heen is. Walter. Is – was – sy naam. Hy het ’n kind wat vier jaar oud is. Hoekom is hy dood? Het hy iemand skade aangebring?”
“Hy het my gedreig,” sis Claire.
“Gedreig? Dit lyk na baie bloed daardie. Vir ’n dreigement.”
Die vriende is stil.
“Daar was ’n demoon in die Kerk! Hy het dit doodgemaak!” roep Leon uit.
“Het iemand die demoon gesien?” die man draai sy kop skeef.
“Ek het! Dit het my aangeval.”
Die man reik ’n hand uit na Leon wat terugdeins. Die hand hang ’n oomblik in die lug, voor hy dit laat sak. “Ek glo jou.”
Leon knik geregverdig.
“Ek glo iets het jou aangeval. Ek betwyfel dat dit ’n demoon was.”
Uitdagend: “Hulle het die lyk – karkas – agter die Kerk gekry.”
“En wat het hulle gesê?”
Leon struikel oor sy woorde. Sag: “Dat dit ’n dier was. ’n Jakkals dalk.”
“En jy het iets anders gesien?”
“Sy oë het geskyn in die donker.”
“Soos ’n roofdier in die nag?”
Leon sug verslae.
“Jy het nie regtig iets gesien nie, het jy? Jy was bang. Jy het gedink dis iets wat dit nie was nie.”
Leon se skouers ruk.
“Dis nie iets om oor skaam te wees nie, seun.” Hy draai terug na Markus. “Om die situasie so te misbruik, is egter iets onvergeeflik. Skaam jou! Thomas!”
“Maar oom was ’n Ridder?”
Die man draai terug na Leon. Lag hardop. “Dís wat hy julle vertel het? Dat ék ’n ridder was? Nee, nee. Ek is ’n soldaat. Ek maak ’n bestaan. Goed of sleg, ek gee nie om wat julle daarvan dink nie. Maar ’n ridder!”
Hy stap terug na Markus. “Kom, ou maat. Dis verby. Laat ek help. Haal daardie helm af. Dit maak jou dood.”
Markus lê met sy bors op sy bobene. Sovêr die metaal uitrusting dit toelaat. Sy asemhaling asof hy nou net ’n marathon voltooi het. Sy arms hang ongemaklik vanaf die swaard wat steeds regop voor hom staan. Soos ’n kruis.
“Seun? Kom help hom. Haal daardie helm af. Dit sal hom goeddoen om bietjie vars lug te kry.
Leon staan onseker op, in ’n tweestryd gewikkel. Hy kry geen ondersteuning van die ander nie. Die twyfel lê te dik. Skok. Afsku. Hy stap stadig nader aan die knielende man. Die man wat geklee is soos ’n ridder. Hy reik uit na die helm.
29
Markus probeer fokus. Die aanslag op sy psige, sy gees, is kragtig. Die man hou van praat. Maar daar is ’n doel daaragter. Hy probeer ’n swak plek vind in Markus se weerstand. Beitel aan die onsekerheid. Krap aan die twyfel. Soek rond met vlymskerp woorde. Witwarm versinlikhede. Die saai van swart, klewerige twyfel bo-op die bestaande twyfel. Uitwys van swakhede (en daar is tog so baie). Skuldgevoel is ’n magtige wapen teen iemand. Markus prewel sag. Die woorde dof in die ruimte van die helm;
Borswapen van geregtigheid.
Swaard van die Gees.
Helm van verlossing
Hier is mense wat hy moet beskerm.
Plig.
Aan jou dade sal jy geken word…
Hy lig sy kop. Leon staan voor hom. Hande uitgereik na die helm. Twyfel op sy gesig.
“Leon,” sê hy.
Die vingers is amper teen die helm. Huiwer.
Markus se stem is kalm. “Dis makliker om die gespe onder my ken eers los te maak.”
“Wat?”
“Daar is ’n gespe. Onder my ken.”
Leon se hande val tot langs sy sye. “Oom? Is dit waar?”
Markus glimlag onder die helm. Daar is altyd hoop. Hy lig homself, sit regop, steeds op sy knieë. “Sekere dele. Maar hy verdraai dinge. Laat dit anders klink as wat dit was. Is. Net genoeg waarheid om dit te krom te trek.”
“Seun?” Die man staan hulle en betrag. “Vandag nog? Jy wil nie hê hy moet verder ly nie, wil jy?”
Leon draai na die man vir ’n oomblik. Draai weer terug. Sag: “Ek weet nie wat om te doen nie.”
“Wat jy voel is die regte ding,” sê Markus. “Laat die Gees jou lei.”
“Dis nie so maklik nie,” sê Leon.
Markus lag. Lag regtig, diep uit sy maag. “Nou begin jy verstaan.”
“Die partytjie is verby,” sê die man. Hy stap na die vriende, gryp Claire aan die hare. Haar gesig vertrek van pyn. Sy gryp sy hande vas om te verhoed dat haar hare uit haar kopvel geskeur word, gly-loop agter hom aan. “Die helm. Nou.”
“Hy kan dit nie self doen nie,” sê Markus sag. Leon se vingers vroetel reeds met die gespe onder Markus se ken. Hy huiwer weer. “Hoekom dink jy is dit so?”
Leon se gesig is amper teen die helm. “Ek het gesien hoe hy sy hand terugruk.” Hy maak sy oë toe. “Dis die gevegsuitrusting. Dit keer hom.”
Markus maak ’n onderskragende geluid.
“Dis hoekom hy my gevra het.” Sy vingers is stil. Die gespe hang los.
“Genoeg, seun. Stap weg.”
Leon frons, doen wat hy gesê is.
Die man se kop draai weer skeef, kyk Markus aan soos ’n roofvoël. “Haal dit af.”
Markus beweeg sy been sodat hy net op een knie sit.
“Los die swaard.” Hy ruk aan Claire se hare. Sy roep uit van die pyn, maar meer oor die onverwagse beweging.
Die swaard val om in die man se rigting.
“Nou die helm.”
Markus lig sy hande na die kante van die helm. Begin dit stadig oplig. Hy weet hy gaan geen beskerming hê teen die aanslag wat steeds teen hom gefokus word nie. Oorweeg om die helm in die man se rigting te gooi. Indien hy reg mik, sal dit sekerlik ’n effek hê? Tyd wen? Hom kans gee om…
Leon gee ’n skreeu van die kant af, duik af op die man. Kry ’n arm beet. Die man gooi hom met gemak weg van hom af. Hy val hard, sy wind uit.
Die man draai terug na Markus. ’n Skewe glimlag op sy lippe. “Nou moet kinders jou werk doen?”
Die glimlag verdwyn.
Markus staan reg teen hom. Die helm stewig teruggedruk.
“Jy is verkeerd oor baie dinge,” sê Markus gesellig. “Jou tweede grootste probleem is hoe jy alles en almal onderskat.”
Die man maak ’n uitgerekte kreungeluid. Markus lig hom tot op sy tone met die swaard wat deur sy ribbekas boor. Swart vloeistof borrel uit sy mond. Hy los sy greep op Claire se hare. Sy rol weg van hom af.
“Hoe…?”
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag verleen,” sê Markus gemoedelik. Hy wring die lem af en na die kant. Die man wat soos Jo lyk word teen die grond geforseer. Die deel van die lem wat uit sy rug steek, laat hom ongemaklik skuins lê. Nie dat die lem deur sy lyf enigsins minder ongemak skep nie. “Ek is nie seker hoe jy Jo se kennis bekom het nie, maar jy het iets belangrik vergeet.”
Die man – ding – roggel deur sy keel.
“Hy was ’n Ridder. En hy het my geleer.”
Claire skreeu.
Markus ruk die swaard uit. Hy voel daardie teenwoordigheid van vroeër. Sterker nou. Maar ook iets anders. Vêrder weg. Hy glimlag, draai na die bewegende horde wat by die hek instroom. Maklik dertig van hulle wat uit die nag vloei.
Hy strek sy nek kante toe om dit los te kry. Werwels knak. Die swaard is stewig in sy hand, punt na die grond. Hy lig sy gesig na die sterrehemel vir ’n oomblik. Sak weer sy kop. Hulle staar hom aan. Naakte, grys velle. Manlik en vroulik. Geen skaamte. Soos diere. Maar hulle is nie diere nie. Iets anders. Daardie snaakse, dowwe gloei van hulle oë in die donker. Ore groot, gepunt. Monde vertrek in ’n voortdurende gryns. Tande te groot.
Hy voel die drukking in sy kop. Die fluisteringe. Weet hulle probeer hom oorreed. Om op te gee. Op te hou baklei. Dis nie die moeite werd nie. Makliker om dit iemand anders se probleem te maak. Jy het lank genoeg baklei. Niemand gee om nie. Almal bejeën jou met agterdog. Moenie glo nie.
Moenie glo nie.
Dit het geen effek op hom nie.
Die helm weer die geestelike aanval af. Makliker as dié van Nie-Jo. Hierdie is net die soldate. Nie soveel mag of krag nie. Maar nie minder gevaarlik nie.
“Rek dit uit,” roggel Nie-Jo. “Laat hy dit vóél.” Hy lag in Markus se rigting. “En dan, wanneer jy amper-amper nie meer kan nie, dan kan jy kyk hoe ek elkeen van die kinders doodmaak. Hulle ingewande uitstring oor die grond. Miskien die meisie bietjie meer aandag gee. En miskien, net miskien, laat ek jou lewe daarmee.”
Markus tree vorentoe en na die kant. Die swaard trek ’n ligstreep deur die nag. ’n Arm nog aangeheg aan ’n skouer en deel van die bolyf val in die stof. Die demoon wat die eerste aanval loods, hardloop aan. Momentum dryf hom tot waar hy ’n paar meter verder op sy knieë neersak. Dit gee ’n uitgerekte klaag-huil, kop na die sterrehemel.
Te maklik.
Hulle toets hom.
Speel met hom.
Markus swaai om, arm op in refleks. Tande klamp vas aan sy voorarm, breek op die metaal van die voorarm-skut. Die tande van die onderste kaak kry egter vleis. Hy skud die ding af, druk die swaard met een hand deur die demoon se bors. Hy beweeg die vingers van sy linkerhand. Alles werk nog. Geen spiere of ligamente geskeur.
Die byt aan die ander kant…
Nog twee.
Van links en regs.
Die swaard is lig in sy hande. Hy gebruik twee hande om soveel krag agter die swaai te sit as moontlik. Die lem byt skuins af deur die ribbekas van die linker een, wat in ’n gemors van ingewande, nat op die grond val.
Die regter een ontmoet die swaard met Markus se terugswaai, die bokant van sy kop netjies afgekap bokant die ore.
Klink soos ’n trop diere wat hom nader. Markus verstel sy greep, vat die swaard stewiger vas. Die swaard gloei helder, swaai sistematies deur die trop demone soos hulle nader storm.
Te veel.
Hulle hou aan.
En aan.
Die swaard gloei. Die woorde op die borsstuk en skouerstukke gloei. Sy linkerhand begin kramp. Die besef: daardie byt was gif.
Hy word gestamp van agter.
Omsingel.
Te veel.
Daar is net te veel.
Dans-van-die-dood. Jo se woorde. Almal het gelag toe hy sê hy het dansklasse aangebied. In die ou wêreld. ’n Ridder van God. Iemand wat demone veg. ’n Man van yster. Heeltemal letterlik met sy gevegsuitrusting aan. Tot hy Markus begin leer om met die swaard te veg. Die swaard wat amper te swaar was om te lig. Die lem wat daardie tyd net geblink het in Markus se hande wanneer die son daarop weerkaats. Of maanlig. Markus het die lesse ernstig opgevat. Dag en nag. Hy en een van die Recces. Die Recce, Nick, het beter gevaar. ’n Natuurlike aanvoeling vir die swaard. En die dansklasse! Vir grasie. Soepelheid. Stamina. Of Jo het net ’n vreemde sin vir humor gehad. Hy beweeg egter nou met ’n grasie wat moeilik toegeskryf kan word aan iemand van sy ouderdom, maak nie saak hoe goed hy na homself kyk nie. Om nie eens te praat van die swaar gevegsuitrusting nie. Nietemin beweeg hy in ’n patroon van bloedvergieting. Die demone val. Maar hulle raak slimmer, beter daarin om hom te ontduik. Die eerste paar het maklik geval. Maar nou raak dit moeiliker. ’n Sny hier. ’n Klap van die lem daar. Hy raak moeg. En die goed raak nie minder nie. Hy het lankal telling verloor. Was daar nie dertig nie? Veertig? Voel na sestig.
Die aanval bereik ’n stilte. Markus haal swaar asem. Draai stadig in die rondte. Daar is so baie van hulle. Ten spyte van die karkasse wat verstrooid lê om hom. Hy skop ’n onderlyf met een been nog aangeheg, weg van hom.
Hulle staan om hom. Net buite bereik.
Omsingel hom.
En wag.
Hy draai in die rondte. Swaard gereed. Asem rou deur sy keel.
Fokus.
Net agt oor? Kan netsowel vyftig wees.
Die goed staan net en kyk vir hom. Grys puntjies oë.
Onrustig.
Wieg op hulle pote. Kloue oop en toe.
Afwagtend.
Die oë beweeg gesinchroniseerd weg van hom. Hy draai in die rigting waarheen hulle kyk.
Nie-Jo.
“Hoe voel daardie arm? Bietjie lam?”
“Ek kan hierdie heelnag doen,” fluister hy uitasem.
“Nee. Nee, Thomas. Jy mislei jouself.” Die stem is redelik. Selfs simpatiek. Hy maak ’n buiging in Markus se rigting. “Ek was verkeerd.”
“Probeer ek nog heelnag jou inlig.”
Nie-Jo lag sag. Dit lyk nie of die wond deur sy bors hom te veel ongemak meer verskaf nie. Hy hou egter ’n hand oor die wond. “Ek het lanklaas soveel talent gesien. Min Ridders het jou vernuf.”
Markus buig sy kop om die kompliment te aanvaar.
“Dit is egter jou laaste.”
Markus gryns agter die helm. Herstel sy greep op die swaard.
“In erkenning van jou kundigheid, het ek ’n voorstel.”
“Dit werk gewoonlik nie so goed uit nie,” sê Markus, sy stem sterker.
“As teken van my bereidwilligheid.” Hy waai sy hand. Die demone val vooroor op hulle hande, draai en hardloop handeviervoet by die hek uit.
“Moenie jou tyd mors met ’n aanbod om kragte saam te span nie.”
Nie-Jo lag weer. “O, nee. Ons weet beide dit gaan nie werk nie.” Hy wys dramaties na die vriende wat steeds kniel agter hom. “Ek sal hulle almal laat gaan. Geen haar op hulle hoofde aanraak nie. En dit sê baie. Want my mense het nuwe bloed nodig. En die sagte vlees van ’n vrou. ’n Onskuldige vrou.” Hy draai na Claire. “Figuurlik gesproke, natuurlik.”
“En hierdie – eer – wat jy my aandoen kom ooglopend met ’n prys.”
Nie-Jo maak ’n dis-mos-hoe-dit-werk gebaar. Hy knik in die rigting van die mense agter die vriende. Met ’n mate van teensin tree hulle terug.
“Ek wil net vir jou hê.”
“Natuurlik.”
“Kom. Bewys aan hulle jy is die voorbeeld wat jy sê jy is. Jou lewe vir hulle. Is dit nie wat jou Jesus gedoen het nie? Wie weet. Jy staan dalk ook op na die tyd. Jou geloof is mos sterk. Tyd om daad by die woord te sit.” Hy wys weer met die hand. Die mense gooi hulle wapens oor die skouers en stap min of meer in gelid by Markus verby. Hy draai om om hulle tog by die hek uit te volg. Die blikke wat in sy rigting draai is minder as vriendelik.
Markus knik in die vriende se rigting. “Kleinjan, kry die sleutel van die Peugeot. Maak julleself skaars.”
Hulle staan stadig op, Leon werp hom in die arms van sy suster.
Markus draai sy kop. Dis meer ’n gevoel as ’n sekerheid, maar hy weet waar die demone is. En Nie-Jo se mense. Net ’n vae gevoel. Iets wat Jo – die regte Jo – altyd geïmpliseer het die wapenrusting mee help.
Geloof.
“Ry na die dorp,” sê Markus. “Niemand sal julle keer nie.” Hy sê die laaste met sy oë op Nie-Jo. “Die dorp is ook buite perke.”
Nie-Jo beskou hom vir ’n oomblik. “Natuurlik.”
Kleinjan trek die stasiewa uit die skuur. Almal bondel in. Leon se gesig teen die venster wanneer hulle verby rammel.
“Nou is dit net ons. Verloor die swaard en helm,” sê Nie-Jo. Hy gee op om soos ’n mens te lyk. Vel verdor, skilfer weg. In die visie wat die helm verskaf, kan Markus die swart vel sien, soos ’n kat wat geskeer is. Die oë is heeltemal swart, wit pupille. Kakebeen lyk langer, meer gepunt.
“Jy het my baie pyn veroorsaak,” sê hy, hou steeds ’n hand oor die wond. “Ek gaan die guns moet terugbetaal.”
Markus se vingers ontspan. Die swaard plof neer op die grond.
“Dis reg. Laat alles gaan.”
Sy vingers op die leer bandjie onder sy ken se gespe.
“Niemand anders hoef seer te kry nie.”
Die gespe is reeds los.
“Kniel.”
Markus sak neer op sy knieë.
Skote klap. Nie-Jo se mond vertrek in ’n gryns. “Jy moes van beter weet. Thomas.”
Markus se hande val slap langs hom.
“Die helm,” skreeu Nie-Jo.
’n Skoot klap. Nader.
Nie-Jo se kop ruk. Hy draai met ’n brul in die rondte.
“Jy is reg. Ek moes van beter weet. Gelukkig het ek.”
Nie-Jo tol weer in sy rigting. Kloue peul deur die vleis van sy eertydse hande. Maar hy deins terug.
Markus staan voor hom.
’n Nuwe Markus.
In ’n gloeiende gevegsuitrusting.
Stralende swaard in die hand.
’n Ridder.
Sy doel duidelik. Meer so vir homself.
Markus se stem is sag, maar dra oor die omgewing. Miskien is dit die helm. “Thomas is nie meer hier nie. Laat dit bekend wees dat my naam Markus is. Ek is hier om ’n Boodskap oor te dra. ’n Boodskap van God.” Hy stap nader aan die demoon. “Los My mense uit!”
Die demoon se mond gaan groter oop. ’n Brul ontsnap. Hy bespring Markus, kloue uitgestrek.
Markus beweeg vinniger as menslik moontlik. Alles is so duidelik. Die demoon. Die rigting van sy aanval. Met gemak swaai hy onder die ding in, kap beide bene bo die knieë af. Nie-Jo se momentum dra hom ’n verdere paar meter. Dit rol, kom orent op lang arms.
Skreeu.
Markus stap stadig nader, bewus die ander demone is terug. Hulle was nie vêr om mee te begin nie. Claire-hulle het die menslike monsters op die pad teëgekom. Met ’n verassing.
“Maak my dood,” sê Nie-Jo. “Dis mos wat julle doen. Verkondig liefde. Vergifnis. Wanneer dit julle pas. Maar vind ’n rede om te doen wat júlle wil. Júlle wil af te dwing. In die naam van julle God.”
Markus gaan staan oor hom. “Daar is altyd genade.”
“Regtig. Wie besluit? Jy?”
“God.”
Nie-Jo kyk dramaties rond. “So, waar is Hy? Laat Hy my oordeel.”
“Jy bekeer? Jy aanvaar God Drie-enig as die ware God?”
Nie-Jo spoeg op die grond. “Natuurlik.”
Markus hou die swaard voor hom, punt op die grond. “Raak aan die swaard.”
Die swart oë van Nie-Jo word groot. Hy spoeg weer op die grond. “Nee. Jý sal my nie oordeel nie.”
“Dis nie ek wat jou oordeel nie. Dis jy.”
Nie-Jo lag sag. “Jy het die oorhand. Jy kan doen wat jy wil.”
“Nee. Ek is slegs ’n mondstuk.”
“Met daardie wapen? Jy is klaar ’n tiran! Dis jóú wil wat jy afdwing. ”
Markus lig die helm van sy kop af. Hurk langs Nie-Jo. Hand steeds rustend op die swaard se dwarsstuk onder die greep. “Ek glo jy sal oorleef as jy regtig glo. Anders…” hy haal sy skouers op.
Nie-Jo sak neer op sy romp, stompe in die lug. Lig sy hand – en skreeu!
Die demone spring soos een om Markus te pak.
30
Die swaard saai verwoesting. Markus is lig op sy voete. Koppe rol. Bloed modder onder sy voete. Uit die hoek van sy oog sien hy Nie-Jo taamlik behendig op sy hande, op pad weg van die slagting. Die demone hou hom besig. Te besig om Nie-Jo agterna te sit.
Nog ’n skoot klap. Nie-Jo se arm swik.
Die demone om Markus trek terug. Vier. Net vier oor.
Hulle swerm om Nie-Jo, lig hom en hardloop.
Markus sit hulle agterna. Een draai om, werp hom op die Ridder. Markus bring die swaard op en deurboor die demoon. Die ding gryp die lem vas en val. Teen die tyd dat Markus die lem uitgetrek het, het die res verdwyn in die nag.
31
“Julle was laat,” sê Markus.
Lappies en vier ander boere sit en staan met gewere gereed. Lafenis uit hulle koffie flesse, word gedeel.
“Ontspan. Hulle is weg.”
“Vir nou,” sê Lappies. “Hel! Dit was intens.”
Die son is reeds uit. Hittegolwe verwater die horison.
“Julle was ook maar net betyds,” sê Junior. Hy draai na Markus. Buig sy kop in erkenning van die nag se gebeure. “Daardie klomp het op ons gewag so ent in die pad af.” Hy knik in Lappies en die boere se rigting. Sy pa een van die groep. “Die ooms kom soos ’n groep cowboys om die hoek. Skiet die wit waks uit die klomp.”
Daar is stil laggies. Die gebeure is nog te vars. Die karkasse van die demone is op ’n hoop gegooi om verbrand te word. Weg van die huis. Die grafte van die Van Vuurens nog nie lank toegegooi nie. Albertus is toegedraai in komberse. Hy sal op sy familieplaas begrawe word. Sy ouers nog onbewus van hulle eie tragedie. Kleinjan staan eenkant en praat sag met sy pa.
“Hoe weet hulle so baie van oom?” vra Leon.
Markus maak sy koffie klaar. Hy haal iets uit sy sak, gooi dit in Leon se hand. “Ons gevangene het hierdie by hom gehad. Net ’n teorie. Maar daardie is ’n fluitjie. ’n Beenfluitjie. Ek dink dit behoort aan Jo. Die regte Jo.”
Leon haal sy skouers op. Die ander staan nader. Claire staan so op die buitewyke van die groep. Haar gesig uitdrukkingloos.
“As ek moet eerlik wees, is dit seker my skuld.”
“Wat?” Leon skud sy kop.
“Dis ’n storie wat ek gehoor het. Nie veel aandag daaraan gegee nie.” Hy skud sy kop. “Ek het destyds die wapenrusting van Jo afgehaal. Ek dink nie die demone het menslike helpers gehad toe nie. Of net nie eniges naby nie.”
Leon gee die stukkie been terug.
Markus rol dit in sy hand, druk dit in sy sak. “Demone kan nie aan die wapenrusting vat nie. So toe ek dit afhaal, het hulle toegang tot Jo gehad.” Hy kyk na sy skoene. “Ek dink elke been van hom is ’n fluitjie gemaak om die persoon uit te wys wat die mantel van Ridder oorgevat het.”
Die weersin is duidelik by almal.
“Maar die kennis?” hou Leon vol.
“Ek weet regtig nie. Jo was dood. Hy kon nie iets met hulle deel nie. Kyk, hulle het ons gevolg vir maande. Of eerder – ons het hulle gevolg. Gejag. Hulle weet dinge. Gesien of gehoor. Die res is ’n tipe telepatie, as jy wil.” Niemand dink dis vêrgesog nie. Nie na die aand se gebeure nie. “Hulle het ’n manier om in jou kop te probeer kom. Sien wat jy begeer. Vrees.”
Leon knik.
“En die dorp waarvan hy gepraat het?” Claire se stem sag van die kant af. Almal draai na haar.
Markus probeer die vloed van emosies onder beheer hou. Maak sy oë toe. Sak sy kop.
“Ek is jammer,” sê sy. Sy druk deur die ander en gooi haar arms om sy skouers.
Die ander draai weg. Dis nie verkeerd vir ’n man om te huil nie. Dit is egter ’n teken van respek om hom toe te laat om dit in privaatheid te doen.
32
“Oom was ’n onderwyser? Soos in, regtig?” Leon grinnik.
“Nee. Dit was maar net sy manier om my te laat twyfel aan myself.”
“Niks fout met onderwysers nie,” sê Claire van agter.
“Die ander dinge?” hou Leon vol.
“Daarvan is waar. Ek het deur ’n moeilike tyd gegaan. Alleen. Heeltyd in stryd met myself. Dis waar die Thomas ding begin het. Hulle – kan selfs Nie-Jo self wees – het my probeer aftakel. Geestelik.” Hy kyk by die voorruit uit. Die grondpad is jare laas geskraap. Maar die Van Vuurens se Land Rover loop met gemak oor die sinkdak effek van die pad. Markus bestuur met Leon voor langs hom. Claire en Kleinjan sit agter. Hulle sleep ’n ou Venter waentjie met voorraad vir ’n maand. Wapens en ammunisie. Kanne met brandstof.
Die wiele sing ’n ander deuntjie wanneer hulle teerpad betree. Claire druk tussen die voorste sitplekke in. “Hoe vêr is dit?”
Markus kyk in die vêrte. Krap onnadenkend aan die verband om sy voorarm. Die wond heel vinniger as wat die ander dink. ’n Bank donker wolke lê suid oor die horison. Rooi weerlig jaag rond in die swart massa.
“Te naby,” sê Markus sag.
“Daardie militêre basis wat my pa genoem het is drie ure se ry,” sê Kleinjan wanneer hulle oos draai. Hy vou ’n kaart op.
Markus druk ’n donkerbril oor sy oë. “Kom ons hoop daar is nog iemand daar. En hulle is ons vriendelik gesind.”
“Hoekom nie?” vra Leon. “Ons het ’n Ridder van God by ons.”
-Ω-