Kristal – Afrifiksie se Kunskompetisie

Ons is só opgewonde. Vir die eerste keer in 2017 gaan Afrifiksie inskrywings neem vir die beste kuns in wetenskapfiksie of fantasie.

Die tema van Kristal 2017, hierdie eerste kuns kompetisie, is Die Alternatief.

Die medium wat gebruik word vir die werk is oorgelaat aan die kunstenaar.

‘n Hoë definisie foto (of medialêer) van elke inskrywing moet ons bereik teen 31 Julie 2017 – per vonkpos (machiel.viljoen@afrifiksie.com) en reëlings om die werk self aan Afrifiksie te besorg moet dan getref word sodat dit ons nie later as 30 September 2017 bereik nie. Die wenner sal teen 15 Desember 2017 bekend gemaak word.

Die eerste prys is eenduisendrand (R1000) en die wenner ontvang ‘n sertifikaat van Afrifiksie . Buitengewone pryse mag toegeken word op die diskresie van Afrifiksie.

Enige soort werk kan geskep word, en tipiese voorbeelde sluit in,

  1. Sketse
  2. Skilderye
  3. Digitale kuns
  4. Kort rolprente of grepe
  5. Klankgrepe
  6. Beeldhouwerk
  7. Strokiesprente
  8. Fotoverhale
  9. 3D-modelle

Baie sterkte – en mag die kanse voortdurend in jou guns bly…

[spacer height=”20px”]

Voorwaardes en Bepalings (Reëls)

  1. Slegs werke wat Afrifiksie in ontvangs geneem het voor die sluitingsdatum, sal oorweeg word.
  2. Die uitslag van die kompetisie is finaal en deelnemers onderneem om dit te aanvaar.
  3. Die kunstenaar doen afstand van sy/haar eienaarskap van die kunswerk, en die kunswerke sal nie aan die kunstenaar terugbesorg word nie – ongeag of die werk gewen het of nie.
  4. Die werk moet oorspronklik wees en ‘n kopie van die werk van ‘n ander sal tot diskwalifisering lei. Toekennings sal selfs in die toekoms teruggetrek word indien dit sou blyk dat hierdie reël geskend was.
  5. Teks wat gebruik word in die kuns, en titels daarvan sal slegs in Afrikaans aanvaar word. Alle kommunikasie oor hierdie kompetisie sal slegs in Afrikaans onderneem word.
  6. Deelnemers aanvaar dat hul name en foto’s deur Afrifiksie openbaar gemaak kan word in die media. Persoonlike besonderhede sal nie bekend gemaak word nie, tensy dit deur die reg vereis word, of indien die kunstenaar daartoe instem.
  7. Afrifiksie kan te enige tyd die reëls en voorwaardes aanpas deur dit op die webwerf openbaar te maak. Die onus rus op voornemende deelnemers om hul deurentyd op hoogte te hou van veranderinge wat aangebring mag word.
  8. Afrifiksie behou die reg voor om te eniger tyd uit hierdie kompetisie te onttrek, om welke rede ook al en word ook in hierdie verband gevrywaar teen enige aanspreeklikheid teenoor derdes.