Lusmaker – Deur na Nebula Nege

Deur na nebula nege – françois p. Verster
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2014)

Deur na Nebula Nege - François VersterFrançois se foto - Afrifiksie & ThompsonBoeke

AANLOOP

IN potblou toestelle sit hulle vasgegespe, roerloos soos afgeskakelde robotte – in stasis noem die tegnici dit en giggel wanneer hulle na die insittendes loer. In teenstelling met die werklike betekenis van dié term, is daar wel heelwat aan die gang: op die skerms teen die muur agter hulle word frenetiese breinaktiwiteit geregistreer – grafieke wat soos wurms onder ’n kind se vergrootglas wriemel. Voor hulle is ook skerms. Een skerm voor elke toestel. Die res van die kamer is in donkerte gehul. Behalwe vir die lig wat flitsend en wikkelend oor die skerms dans.

Die groot skerms agter lyk presies soos tradisionele televisieskerms, maar die skyn bedrieg. Helder ligte en dowwe beelde begin daarop flits, nie noodwendig teen die spoed van lig nie, maar wel so vinnig as kreatiewe denke kan beweeg.

“Hoekom blou?” het Doktor Roodezandt op die hooftegnikus se vraag geantwoord, “Omdat dit die kleur van drome is.” Toe lag hy, en die lag was sonder hartlikheid of humor. Hy het die mooi vrou met hare soos goud met onverbloemde bewondering aangestaar – die lang bene: Kyk daai killer-kuite, die tipe wat ’n man nie in ’n muur sal laat vasloop nie, maar dwarsdeur, dink hy. Die donkerkoppie is ook nie te versmaai nie. Inteendeel. Maar blondines het net meer glans. Die kamera lieg nie. Wel, hy gryns ingenome, hier tóg, maar dit word verwag. Toe draai hy na die mans, een vir een. Aantreklike kêrel, die jonger man, dink hy. ’n Bietjie dierlike magnetisme mag hom, ons almal, goed te pas kom. Indien hy hierdie rondte oorleef.

“Sterkte. Die hemele behoed julle,” sê hy ewe vroom. Hy buig soos ’n wafferse konsertdirigent en stap dan haastig uit na die kontrolekamer, asof hy bang is hy word saam die ruimte ingesuig. “Laat die show begin!” Die groot deur glip byna geluidloos toe. Daar is ’n sisgeluid wat vinnig naderkom. Soos ’n slang in ’n molsgat; ongesiens, maar daarom juis meer angswekkend.

In die donker vertrek is net die asemhaling van die mense in die blou toestelle hoorbaar. Toe vibreer die hele kamer. Op die beeldskerms begin kleure en strukture herkenbare vorme aanneem. Agter die dik glasvierkant vryf Doktor Roodezandt sy hande en kyk rond of die tegnici hulle werk doen. Daar is nie ruimte vir foute nie. Daar is veel meer op die spel as twee lewens. Fortuine en reputasies. Ten minste.

Buite op die balkon is dit koel. Hy voel hoe iets die fyn hare op sy nek en arms kielie en hy kyk vinnig op. Die wolke pak saam op die berg. Hy kan voel dat daar reeds ’n byt in die lug is. Maar genadiglik; die wind waai verkeerd vir reën – dit kom om die berg, nie uit die noordweste nie. ’n Heel gemoedelike bries, dink Doktor Roodezandt en haal diep asem. Hy trek die ritssluiter van sy leerbaadjie oop, pluk aan die voorpante van sy klassieke goudkleurige Madiba-hemp sodat dit oor sy lyfband hang in ’n vergeefse poging om sy boep te verdoesel. Toe druk hy sy Oakley Vintage sonbril terug op sy kop.

Die verrigtinge kan voortgaan. Maar steeds – die weergode mag dalk nog ’n moersleutel in die enjin gooi. Of in die wiel… of wat ook al, dink die doktor en wens hy kon sy kop soos ’n skilpad intrek en wag tot die klimaks verby is. ’n Hoogtepunt wat hopelik nie ’n krisis is nie. Wel, nie te veel van ’n krisis nie – hoe lui die gesegde? Swak besluite maak goeie stories. Swak stories is egter nooit ’n goeie ding nie. So ’n bietjie wrywing en spanning is tog nodig. Soos ’n touloper wat net effens wankel, maar nie te veel nie. Net genoeg om die skare te vermaak. Balans. Balans is die deurslaggewende faktor. Intussen trek hy maar sy nek effens in en slaan sy leerbaadjie se kraag op. Dié blink swart baadjie glo hy, laat hom jonger lyk. Dit sit lekker los en span nie so styf oor sy maag as hy mooi regop loop nie. Ai, dink hy, hoekom kon ek nie ’n lyf soos daai luiperdman gehad het nie? Maar helaas, fantasie bring wel miljoene in, maar dit bly bloot fantasie.