DIE JAGTER KRONIEKE: DIE HALFBLOED (BOEK 1) – NICO SMIT
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2014)
DIE Jagter hoor die varkbeer deur die digte oerwoudgewasse nadersluip. Sy hart klop vinniger. Kalm bly. Hy sluit sy oë. Hy maak nou staat op sy verhoogde sintuie.
Dit neem die varkbeer nie lank om die rand van die modderpoel te bereik nie. Die dier is ’n stil sluiper. Geruisloos vir sy groot gespierde liggaam. Jakut hoor die dier se kort, gejaagde asem. Die hart wat vinnig klop. Die dier kom ’n paar tree nader en snuif hard in die lug. Dan aan die swart modder. Hy huiwer, onseker.
Jakut is roerloos, met ʼn kloppende hart wag hy sy kans af.
Die varkbeer is tevrede dat daar nie gevaar skuil nie en stap die modderpoel stadig binne. Die swaar liggaam sak dadelik diep die modder in, maar die sterk beenspiere beur hom vorentoe.
Jakut se oë is toe. Gekamoefleer deur die swart modder wat sy bruin liggaam bedek, wag hy asemloos vir sy prooi om binne bereik te kom.
Die varkbeer swaai sy groot kop heen en weer. Die gekromde slagtande slegs enkele sentimeters van die voorkop van die Jagter. Nogtans laat die dier se sintuie hom in die steek. Die klam koue van die modder kalmeer hom effens. Dan steek hy in sy spore vas. Die dier loer met agterdogtige swart kraalogies na die omliggende oerwoud en digte plantegroei. Hier hou elke minuut die dood in.
Sy sintuie is sy enigste oorlewing. Iets is nie pluis nie en tog weet hy nie wat dit is nie.
Sy gehoor en reuksintuie is onvoldoende om die onrustigheid wat hy nou ervaar onder bedwang te bring. Daardie sintuie wat al so deel van sy leefwyse geword het. Dit het hom al vele male van ’n gewisse dood gered. Stadig beweeg hy vorentoe.
Binne Jakut se bereik. Die jong Jagter besef egter dat sy tydsberekening absoluut reg moet wees. Daarom wag hy vir die regte oomblik. Die varkbeer ruik gereeld aan die modder. Die dier plaas sy kort beentjies, wat sy groot liggaam dra, in die modder voor hom. Hy sug behaaglik en verslap vir daardie een oomblik sy waaksaamheid. Die groot kop is nou byna teen Jakut se gesig.
Die warm, vrot asem van die varkbeer speel liggies teen sy voorkop. Nie eens die dik modder wat sy gesig en liggaam kamoefleer, is voldoende om hierdie reuk te demp nie.
Nou!
Dit is slegs sy voorarm wat blitsig beweeg. Die kort spies skiet vorentoe, stewig in sy handgreep en dryf met volle geweld in die varkbeer se sagte keel in. Diep dring dit die sagte vlees binne. Warm, donker bloed spuit oor sy hand en voorarm. Toe is dit chaos.
Die dier vlieg met ’n onaardse skreeu op en vlug blindelings die bosse in. Die kort spies nog steeds in sy vlees. Jakut het dit verwag en het sy houvas op die kort spies verstewig, maar nogtans het hy sy wapen verloor. Die krag van die dier is te groot. Maar die wond is dodelik. Dit was ’n vinnige, diep steekhou.
Hy is nie heeltemal seker of die slagaar getref is nie. Indien wel, sal die varkbeer nie vêr kom nie.
Jakut hardloop in volle vaart agter die varkbeer aan. Die nat modder wat nog aan hom kleef belemmer egter sy spoed.
Tussen die ruig gewasse van die oerwoud vind Jakut dit moeilik om flink deur die bosse te breek en daarom wend hy hom tot die bome. Dis die beste opsie.
Rats en vinnig bestyg hy die naaste oerwoudreus en klim binne sekondes etlike meters. Behendig hardloop en spring die Jagter van die een boomtak tot die ander. Die woud is dig en die bome se takke ineen gevleg. Hierbo kan Jakut vinniger beweeg as op die grond.
Hy kan die varkbeer glad nie deur die digte blaredak onder hom gewaar nie. Maar dit pla hom nie. Hy kan die dier maklik volg.
Die geraas wat hy veroorsaak is myle ver hoorbaar. Die varkbeer skreeu aanhoudend. Hy hardloop blindelings die versperrings uit sy pad in die malle vlugtog. Die pyn in sy keel is draaglik, maar die lewenskrag wat stadig uit hom vloei maak hom histeries met angs. Dis die eerste keer dat hy dit ervaar. Diep in sy oerbrein is hy bewus daarvan dat hy sterf. Jakut vleg deur die takke. Hardloop, spring en swaai berekend van die een oerwoudreus na die volgende. Hier bo is dit onmoontlik om te onderskei aan watter oerwoudreus die digte takke en breë blare behoort.
Dis ’n pragtige immergroen wêreld en vir ’n oomblik vergeet Jakut byna van die varkbeer. Die dralende hitte van die tropiese wêreld pla hom nie. Hierdie is sy tuiste.
Skielik is dit stil. Geen angstige geskreeu meer nie. Geen takke wat kraak en bosse wat gebreek word nie. Net stilte. Jakut gaan staan om te luister. Dis uiters vreemd. Al sou die varkbeer ook opgehou hardloop het, sou hy nogtans die dier se geroggel kon hoor. Nou is dit stil. Dis asof die dier net eenvoudig verdwyn het. Vinnig, maar versigtig, beweeg hy af grond toe. Saggies land hy op die klam, mosbedekte vloer onder die oerwoudreuse.
Hy stap rondom die stam van die boom waarin hy was. Hy is oortuig daarvan dat dit hier is waar hy die laaste angsroep van die varkbeer gehoor het.
Jakut ondersoek die mosbedekte vloer en digte plantegroei. Hy kan die plek sien waar die dier uit die bosse gebreek het, waar die pote die mos met sy vastrap omgeploeg het. Hy volg die spore in die sagte aarde. Vyf meter anderkant die groot bome waarin hy was, verdwyn die spore tussen digte struikgewas. Die ruie plantegroei het weer agter die varkbeer toegemaak. Hy is hier deur, besef Jakut.
Hy luister na die oerwoud rondom hom. Sy sintuie stel hom gerus. Dis asof die afgelope paar minute se blindelingse vlug deur die woud nooit plaasgevind het nie. Tog, hier is die bewyse voor hom in die sagte mos. Duidelik en diep. Stadig beweeg Jakut vorentoe.
Hy wil nie onkant betrap word deur ’n dodelik gewonde varkbeer nie. Jakut druk die ruigtes met sy linkerhand weg. Die ruigtes gee maklik mee. Dis buigsaam en sag as hy daarteen druk. Jakut beweeg gebukkend, in ’n vegtersposisie. Soos hy vorentoe beweeg, vou die digte plantegroei weer agter hom toe.
’n Paar meter verder gaan Jakut skielik staan. Sy oë stip op die grond. Daar, skaars een meter vorentoe verdwyn die aarde in ’n diep skeur in die planeetkors. Hy kan nie sien hoe wyd die skeur na weerskante toe strek nie. Dit word heeltemal oorgroei deur die wortels van bome, struikgewasse en plantegroei.
Maar hier voor hom is die skeur duidelik sigbaar. Jakut beweeg nader. Hy staan op die rand van die skeur en besef dadelik wat gebeur het.
Die dier het in sy blindelingse vlug deur die plantegroei gebars en toe in die skeur beland. Daar sou nie tyd wees om te stop nie. Dis ongeveer twee meter breed. ’n Donker gapende kloof hier voor sy voete. Hy kan glad nie die bodem sien nie. Daar is geen teken van die varkbeer nie. Steeds verslap hy sy waaksaamheid vir geen oomblik nie. Hy kyk rond en sy oë vind dit wat hy soek. ’n Groterige swart klip.
Jakut tel dit vinnig op sonder om sy oë van die oerwoud weg te neem.
Hier kan jy dit nie bekostig om jou waaksaamheid te verslap nie. Hy hou sy hand oor die afgrond uit en laat val die klip. Dan draai hy sy kop vinnig skuins om te luister. Daar kom na etlike oomblikke nog geen geluid uit die skeur nie. Onpeilbaar diep. Dit het hy nie voorsien nie.
Jakut kan egter nie talm nie. Daar is nie veel van die dag oor nie. Hy sal moet wikkel voor die nag hom dalk oorval.
Dis nog ’n goeie trek terug na die nedersetting langs die Groot Rivier. Daar is die tuiste van die Rator stam.
Die modder aan sy liggaam het reeds hard geword. Hy vryf vinnig die oorblywende stukke weg, maar sy vel is nog vuil en hy stink.
Sy lang, donker hare is ook gekoek en hard. Persoonlike higiëne moet wag vir later. Jakut merk die plek in sy gedagtes. Hy sal weer eendag terugkom hierheen. Die skeur fassineer hom.
Hy moet erken dat die donker dieptes ook allerhande gruwelbeelde in sy gedagtes aanwakker. Watter geheimenisse word daar verberg? Is dit dalk ’n ingang na die Onderwêreld? Die wêreld van die dooies?
Dis beter om hier weg te kom.
’n Uur later en die son se laaste strale flits oor die groen lower van die digte oerwoud-koninkryk.
Jakut is nou haastig om by die nedersetting te kom. Sy maag brand al van die honger. Nie dat dit hom veel pla nie, maar hy verlang na die warm gloed van die aandvuur in die nedersetting. Sy skerp oë lei hom in die byna onsigbare voetpad deur die woud. Hier is dit aansienlik donkerder. Die son se laaste flikkering verdof weens die digte blare-dak. Jakut hardloop soos die wind. Vlugvoetig en sonder enige tekens van uitputting. Die leninge bruin liggaam smelt saam met die bekende wêreld. Geruisloos soos ’n roofdier beweeg hy. Uiteindelik is die gedruis van baie water hoorbaar. Die rivier is naby. Jakut nader vinnig sy bestemming. Hier is die oerwoud nie meer so ruig nie. Die bome en struikgewasse groei verder van die rivier se oewer af en word merkbaar yler.
Hy bars deur die laaste breëblaar struikgewas en steek vas op die oewer van die Groot Rivier. Hy bevind homself op ’n hoë rotsbank. Etlike meters onder sy voete vloei die bruin kolkende waters. Die rivier maak ’n skerp draai na regs. Links sak die rivier weg in ’n nou kloof. Aan weerskante van die nou kloof toring daar reuse sedimentêre sandsteen formasies. Dit vorm ’n natuurlike smal kloof en hier vloei die water sterk en vinnig. Lang skaduwees is reeds besig om oor die landskap te val. Hy talm vir ’n oomblik, onseker. Hy staar ondersoekend na die digte struikgewas. Sy oë op soek na die bekende tekens van ’n versteekte uitgeholde boomstam. Met die primitiewe vaartuig sal hy die nedersetting vinnig met behulp van die stroomversnellings bereik, etlike kilometers met die rivier langs.
Juis op hierdie oomblik hoor Jakut ’n vreemde geluid. ’n Eentonige dreuning wat nie deel is van die bekende natuur hier rondom hom nie.
Dit kom vanuit ’n oostelike rigting. Jakut trek sy oë op skrefies.
’n Klein, silwer spikkel verskyn teen die donker wordende hemelruim. Dit beweeg teen ’n geweldige spoed en soos wat dit naderkom, word die dreuning vervang deur ’n hoë skril gefluit van die kragtige motore. Jakut besef dadelik wat dit is, of altans, wie dit is. Dit het in sy leeftyd al telkemale hoog bokant die nedersetting deur die lug geklief, maar slegs een keer geland. Die dag toe hy agter sy vader se bene weggekruip het. Dis een van die vlieënde tuie van die Vreemdelinge.
Die tuig groei vinnig groter totdat dit uiteindelik doodstil hoog in die lug bokant Jakut hang. Sy aanvanklike instink is om op vlug te slaan. Terug te hardloop die donker oerwoud in. Maar sy nuuskierigheid dwing hom tot stilstand. Hy weet immers die Vreemdelinge is nie vyandig nie. Hy het al gehoor van Jagters wat in diens van die Vreemdelinge is. Maar wat sal hulle nou hier soek? Hy staar sprakeloos na die wonder van die vlieënde tuig.
Die tuig daal. Die geruis van die motore is nou oorverdowend. Dis duidelik dat hulle hom bespeur het. Maar hoe is dit moontlik? Dis reeds goed donker en selfs nie eens ’n Jagter se oë is so skerp dat dit hom hier aan die rand van die oerwoud kon bespeur nie.
Jakut kom vinnig in beweging. Dis duidelik dat die vlieënde tuig wil land. Met oë stip op die dalende tuig beweeg hy nader aan die ruigtes van die oerwoud. Gereed om te vlug. Maar iets hou hom terug. Blote nuuskierigheid? Miskien, maar nietemin bly hy dapper staan.
Die tuig het gedaal tot sowat dertig meter bokant die ruwe rotsbank. Die motore raas nie meer so hard nie. Goue kentekens in die vorm van ’n vreemde dier se kop is teen die silwer romp sigbaar.
Toe die geraas van die motore wegsterf, gloei daar ’n helder lig rondom die tuig. Die area is helder verlig en Jakut knip sy oë teen die skerp ligstrale.
Daar is ’n dowwe geruis van binne die tuig. Jakuk het besluit dat hy genoeg aanskou het. Hy draai om, reg om in die donkerte van die oerwoud te verdwyn. Maar alvorens hy die ligkring kan ontsnap, dring ’n vreemde tinteling sy neusgate binne. Hoe vreemd. Dis die laaste gedagte voordat hy ineenstort en donkerte hom genadiglik verlos.