Lusmaker – Die Jagter Kronieke: Koue Vuur

DIE JAGTER KRONIEKE: Koue Vuur (BOEK 2) – NICO SMIT
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2014)

8. DJK Koue Vuur - VoorbladNico Smit - Die Jagter Kronieke: Die HalfbloedHOOFSTUK 1

DIE koninklike stertuig se straalmotore sputter. Jakut, die Halfbloed, skrik uit sy diep sluimering wakker. Hy steier orent. Voordat hy sy gedagtes kan fokus, volg daar ’n geweldige ontploffing. Die impak slinger hom teen die harde, koue kajuitvloer. Hard genoeg om sy neus te vergruis. Donker bloed drup op sy hande, maar die bekende sensasie van koue vuur is reeds daar, besig om die bloedvate en kraakbeen te herstel.

Hy moes aan die slaap geraak het. Hulle is skaars ’n uur in vlug. Hy fokus sy aandag op die chaos rondom hom. Angsvolle pynkrete vul die vertrek en die kajuitvloer is besaai met liggame. Elite soldate in diens van die Koninklike Lyfwag. Sommige sal nooit weer opstaan nie, hul ledemate is onherstelbaar gebreek.

Maar bo die rumoer uit is daar ’n ander geluid.

’n Geluid wat Jakut in sy spore laat stop. ’n Hoë frekwensie, ’n skrikwekkende geluid. ’n Bekende geluid wat hom herinner aan verraad en dood.

Kruipers? Hier? Dit kan nie wees nie! Die onmiskenbare geluid verskerp en bereik ’n hoogtepunt in ’n harde slag van brandende metaal en skroeiende hitte. Jakut handel instinktief. Hy duik neer op die vloer en rol terselfdertyd die lewelose liggaam van ’n soldaat oor hom. Blou vlamme rol oor die kajuitvloer en verswelg die krete van pyn en uitroepe om hulp.

’n Bekende stem dring tot hom deur. Jakut! Ons word aangeval! Jakut! Hoor jy my!

Prinses Luthare!

Helder en duidelik asof sy hier by hom is. Hy konsentreer om die woorde in sy gedagtes te spreek, maar daar is te veel wat sy aandag aflei. Tog kan hy vir haar die beelde van dood en chaos wat hy waarneem, aan haar oordra.

Vind jou pad na die brug. Maak gou! Daar is nie baie tyd tot ons beskikking nie! Pad na die brug? Hy probeer onthou. Natuurlik! Die reuse kajuit, twee vlakke hoër op. Die beheerkamer van die Vector tuig.

Hoe lank was hy aan die slaap? Sy het immers belowe om hom wakker te maak sodra die oseaan in sig is. Die groen see van oneindige waters. Hoe het hy nie daarna uitgesien om die toneel te aanskou nie? Hy het op die oomblik geen benul van wat buite aan die gebeur is nie. Hier rondom hom is net verskroeide metaal en stukkende liggame.

Uit! Dis nou sy enigste gedagte. Sonder huiwering rol hy die liggaam van hom weg en spring vinnig orent. Sy skerp oë boor deur die rook en vlamme. Daar! Die hysbak! Jakut spring vorentoe, struikel en val. Die tuig skud geweldig asof ’n reuse hand dit vir ’n oomblik vasgevang het. Hy wag angstig vir die volgende golf vlamme om hom te oorweldig, maar niks gebeur nie.

Daar is egter ’n nuwe bedreiging. Die reuse straalmotore sterf finaal in swart rookwolke. Die silwer stertuig verloor vinnig hoogte. Jakut se maag sit in sy keel. Hy snak na asem. Angs wil hom oorweldig, maar dan ontbrand die aandrywer en dwing die tuig terug in vlug. Jakut strompel voort tot teen die skuifdeure van die hysbak. Hy tref twee oorlewendes daar aan. Die soldate se bleek gesigte is stroef en toon geen tekens van vrees nie. Net soos masjienie. Toon die soldate dan nooit enige emosie nie?

Jakut het nog lank nie vir Aniet, die Androïde vergeet nie. Die swaar verband aan sy hand en voorarm bedek die littekens van sy finale worsteling met die duiwelse Androïde.

Een van die soldate druk sy gesig teen die optiese retina skandeerder en die grys deure gly oop. Hulle glip binne. Vir ’n laaste keer gly Jakut se oë deur die brandende en verskroeide kajuit. Die onsigbare aanvallers het presies geweet waar die stertuig sy troepe huisves.

Dit was dodelike akkurate vuur. En die blote teenwoordigheid van Kruipers dui op ’n fyn beplande lokval.

Hy het min kennis van die tegnologie en wapentuig van die Vreemdelinge. Die bietjie wat hy van hulle weet, is dat Kruipers nie net tot die oppervlak gebonde is nie. Die deure skuif toe en onmiddelik skiet die hysbak opwaarts. Binne sekondes bevind hulle hul op die brug van die stertuig. Jakut voel die verligting deur hom stroom toe hy haar sien, Prinses Luthare!

Aan die sy van die beeldskone prinses is die telepatiese entiteit, Maru. Die ysbeer, met sy digte swart maanhare en massiewe borskas, straal gesag uit. Die res van sy liggaam is oortrek met lang, stekelrige wit hare. Twee vlymskerp slagtande en reuse voorpote verteenwoordig brute oerkrag. Jakut glimlag. Selfs onder hierdie omstandighede kan hy die pragtige verhouding tussen die twee bewonder. Ja, hy moet erken, daar is ’n bietjie jaloesie.

Hulle betree die helderverligte brug. Alarms raas en ontelbare sensors flits kleurryk midde-in driedimensionele beelde en hologramme wat smeek om dringende aandag. Dis juis hierdie nuwe klanke, vreemd en kras, wat dreig om hom van sy sinne te beroof. Dis asof honderde stemme gelyktydig in sy ore gil. Hy deins terug en sy gesig vertrek van pyn. Hy slaan sy hande oor sy ore. Prinses Luthare is die volgende oomblik langs hom. Sy vat aan sy arm. Deeglik bewus van die foltering wat hy ervaar.

Jakut! Kyk na my! Konsentreer! Fokus op ’n voorwerp buite jouself en konsentreer daarop. Dit help! Sy kyk ondersoekend na hom. Het hy haar gehoor? Sal hy daarin kan slaag?

Fokus op my stem! Jakut knik sy kop. Hy soek na haar blou oë onder haar donker wenkbroue. In haar kykers kan hy die weerkaatsing van sy lang donker hare en bruin gelaat sien. Sweet pêrel op sy voorkop. Hierdie vreemde veranderings wat sy liggaam ondergaan, beproef sy uithouvermoë tot die uiterste toe.

Die geheime Kuur wat in sy are vloei, vermeng met mikroskopiese klein wonders van nannotegnologie en is besig om hom fisies en psigies te verander in iets waarvan niemand die finale produk kan voorsien nie. Dis om van gek te word. Hy merk die bekommerde keep tussen Luthare se oë. Vir ’n oomblik is hy vasgevang deur haar skoonheid. Haar melkwit gelaat wat omvou word deur raafswart hare. Sy blik dwaal weg van die pragtige beeld, na haar hand op sy arm. Die verbande aan haar arm is reeds verwyder. Sy herstel vinnig.

’n Innerlike pyn skiet deur sy gemoed. Wat is hier aan die gang? Daar kan tog geen toekoms wees tussen ’n Halfbloed en ’n prinses van die Vreemdelinge nie. Sy gevoelens is in ’n warboel as dit kom by hierdie skoonheid wat so maklik sy gedagtes kan lees. Hy word bewus van die feit dat sy nog steeds sy arm vashou. Sy volg sy blik en met ’n skaam glimlag verwyder sy vinnig haar hand.

Alles onder beheer? Voel jy beter? Haar sagte stem dring tot sy binneste deur. Hy knik sy kop en voel die rooi in sy gesig opstoot. Uit die hoek van sy oog merk hy die geïrriteerde uitdrukking op die gelaat van die jeugdige luitenant Katara. Die Vreemdeling hou nie veel van my nie. Flits dit deur sy gedagtes.

Onsin! Jy is onnodig sensitief. Hy ken jou nog net nie. Jakut glimlag stram. Bly uit my gedagtes uit! Sal jy!

Sy antwoord nie.

Luitenant Katara frons ergerlik. Hy probeer ’n uiterlike kalmte handhaaf, maar verwarring heers in sy gemoed. Slegs twee soldate van sy elite peleton het oorleef. Hy moes beter voorbereid gewees het! Voorsien het dat die prinses nie veilig sal wees voordat die stertuig die beskermde koepel van die Heilige Stad betree het nie. Die gevangenes is almal dood. Die skandeerders het dit reeds bevestig. Sewe priesters is verkool in die kajuit aan stuurboord kant, reg langs die aandrywer wat deur die eerste Atmosfeer Kruiper vernietig is. Blote geluk of goeie intelligensie? Hoe is dit moontlik dat hulle onsigbare aanvallers die gevorderde wapentuig bekom het? Die Atmosfeer Kruipers is diabolise wapens. Onsigbaar, deeglik gekamoefleer teen die soekende sensors van die kunsmatige intelligensie van enige Vector tuig. Sluimerend, wagtend vir sy prooi totdat die hitte van die aandrywers die Kruiper ontwaak en dit soos ’n dodelike roofdier toeslaan.

Hy sal die sekuriteitmaatreëls in die Stad moet ondersoek. Hier is ’n diepe verraad agter die skerms aan die gang. Maar ’n volledige ondersoek sal moet wag vir later. Eers moet hy daarin slaag om die stertuig solank moontlik in vlug te hou. Maar hy besef deeglik dat hy kort voor lank gedwing sal word om ’n noodlanding in die groen waters van die oseaan uit te voer. Die noodsein is reeds gestuur. Maar dit sal ’n reddingspan vanuit die Heilige Stad ’n goeie aantal ure neem om hulle op te spoor. Dit is indien hulle aanvallers die sein nie onderskep of blokkeer het nie.

Luitenant Katara vestig sy volle aandag op die beheer van die Vector tuig. Die tuig verloor veels te vinnig hoogte. Hy het reeds alles in sy vermoëns gedoen. Die stertuig is op haar laaste. Angstig roep hy na die groepie oorlewendes.

“Prinses Luthare! U en die ander sal moet vasgordel! Gou, asseblief! Ek sal ’n noodlanding moet uitvoer! Daar is geen tyd meer te verspil nie.”

Die soldate hoef nie ’n opdrag te ontvang nie. Hulle het reeds na die diep stoele aan weerskante van Luitenant Katara gestrompel en daarin neergeval. ’n Sagte blou energieveld word outomaties geaktiveer rondom die manskappe.

Prinses Luthare trek vir Jakut agter haar aan. Sy druk hom in een van die vreemde stoele. Onmiddelik ervaar Jakut die strelende warmte van die blou energieveld wat hom omvou. Die wêreld is meteens stil. Hy merk Prinses Luthare vinnig woorde wissel met Luitenant Katara voordat ook hulle elkeen die veiligheid van die diep stoele opsoek. Dis slegs Maru wat op sy pos bly. Jakut merk egter hoe die skerp naels van Maru grawe in die metaal van die kajuitvloer. Grommend, met gloeiende oë, anker die reus homself, gereed vir die impak.

Die outomatiese loods het reeds beheer oorgeneem en bring die tuig in posisie vir die waterlanding. Jakut staar na die beeld wat voor hom ontvou. Die stertuig bars deur die sagte sneeuwit wolke en die reuse skerm word gevul met die uitgestrekte waters van die groen oseaan. Van horison tot horison, so ver as wat die oog kan sien, strek die blougroen waters van die Suidsee.

Jakut se mond gaap oop van verbasing. Wat ’n wonderlike gesig! Die oppervlak van die oseaan is spieëlglad en rustig. Nie ’n kabbeling sigbaar nie. Die tweede en laaste aandrywer sterf. Die energieverbinding is afgesny deur die ver- skroeiende hitte wat op die raamwerk van die stertuig teer. Die outomatiese loods doen vinnige verstellings. Dit word in millisekondes uitgevoer. Die breë vlerke skuif ’n aantal grade. ’n Nuwe trajeksie is vasgelê en geïmplementeer. Jakut se maag sit in sy keel. Hy kry die gevoel dat hy val en besef dan onmiddelik dat dit ook presies is wat aan die gebeur is.

Die stertuig kreun, die eens onbreekbare raamwerk brand en kraak. Stukke van die reuse straalmotore breek los en stort smeulend in die see. Die oseaan groei vinnig en onkeerbaar groter.

Jakut se hande klem onwillekeuring om die relings van die vreemde stoel. Dis sy enigste beskerming teen die vernietigende impak.

Is jy bang? ’n Koue hand gryp aan sy hart. Jakut kyk verwilderd rond. Hy ken die stem. En hy vrees die stem. Daardie donker innerlike deel van homself. Natuurlik is hy bang.

Maar die stem dryf die spot met hom. Tart hom. Probeer hom oortuig om iets te wees wat hy nie wil wees nie. Vir ’n aantal dae was die stem stil. Het hy rus gevind in sy oorlaaide gemoed. Tot nou.

Ah! Ek sien… ja, jy is bang… bang vir my!

Hou jou smoel, wil hy gil, maar hy onderdruk die dwang.

Ek is Jakut, die Jagter. Ek is nie bang nie. Hy benadruk die woorde in sy gedagtes. Hy doen dit stadig, herhaaldelik en fokus sy aandag daarop. Dwaas! Gee oor aan die werklike jy en word die god wat jy is. Waarom jou ophou met hierdie wesens, hierdie organismes. Parasiete! Dis al wat hulle is. Ellendige wurms en jy is die meester. Laat my toe om jou te wys! Jakut kners op sy tande. Die stem dreig om hom mee te sleur oor daardie afgrond van ewige donkerte. ’n Afgrond waarvandaan hy nooit weer sy pad terug sal kan vind nie.

Daiken! Die gelaat van die kranksinnige priester flits voor sy oë. Nee! Ek sal nie so eindig nie! Met nuwe ywer en inspanning konsentreer Jakut op die beeld van die groter groeiende oseaan. Het sy vader die see ook so aanskou?

Sy vervreemde vader wat hy skaars kan onthou. ’n Vae herinnering uit sy kinderjare. ’n Jagter wat hom baie jare gelede alleen en wees agtergelaat het en terug is na die Neaniete, sy eertydse meesters. Sy moeder was ’n Neaniet en vir haar het hy nog nooit gesien nie. En dis die somtotaal wat Jakut van sy ouers en sy herkoms weet.

Hy loer vinnig in die rigting van Prinses Luthare.

Die melkwit gelaat is die ene konsentrasie, die lippe saamgepers. Kan hy haar volkome vertrou? Wie se belange dra sy op die hart? Neaniet of Jagter? Op daardie oomblik draai sy haar helder blou oë na hom en ’n sagte glimlag verlig haar gelaat. Hy bloos onwillekeurig.

Deksels! Wat is hierdie vreemde verbintenis tussen hulle? Hy kan dit nie heeltemal begryp nie. Waarom bokspring sy hart elke keer wanneer hulle oë kontak maak. Sy denke word wreed versteur deur die polsende trillings wat deur die stertuig skeur. Die outomatiese loods veg teen die onvermydelike. Jakut knyp sy oë toe. Die groen oseaan is slegs etlike meters weg!

Die tuig tref die waters. Die impak is geweldig en vernietigend. Die romp ploeg deur die groen oppervlak.

Die breë vlerke verbrokkel soos droë blare en ruk gapende openinge in die romp. Duisende kiloliters seewater word in enkele sekondes verplaas. Meter hoë deinings en geelwit skuim borrel uit die vernietigende pad van die stertuig.

Die vreemde metaal van die romp skeur en buig soos papier. Rooiwarm stukke metaal sny deur die raamwerk van die brug. Die reuse skerm wat eens ’n pragtige beeld gelewer het, bars in duisende stukke. Die oorhoofse raam van die brug sidder en verbrysel. Kunsmatige intelligensie netwerke ontplof in blou vlamme. Hologramme verdwyn in dansende partikels en word deur donkerte verswelg.

Die langwerpige romp van die stertuig klief soos ’n silwer pyl deur die water. Dit sny ’n kilometer lange keep deur die oseaan se groen oppervlak. Die oorlewendes druk onwillekeurig hulle arms voor hul oë vir beskerming teen die aanslag. Die blou energieveld omvou die sitplekke en red hul vlees.

Die skild verteer die wrakstukke wat daarteen vasgeslinger word tot nuttelose atome wat in die wind en see verdwyn. Dit is blote geluk dat die grootste gedeelte van die brug andersins ongeskonde bly. Die geharde Maru se skerp naels en kragtige spiere anker hom uiters effektief, maar die groot liggaam word gepynig deur die verbrokkeling van die onderskeie panele en raamwerk.

Uiteindelik word die stertuig tot stilstand gedwing deur die massa water. Die rooiwarm, smeulende wrak van die eens trotse stertuig dein op en neer in die versteurde oppervlak van die Suidsee. Die golwe bedaar, maar die koue water veg teen die lekkende vlamme.

Die energieveld rondom die groepie oorlewendes disintegreer en onmiddelik tref die vreemde wêreld van die groot oseaan Jakut se sensitiewe sintuie. Daar is die vreemde, nuwe reuk van die see en die soutigheid van fyn sproei wat die sagte wind teen sy gesig spat. Vir ’n oomblik sit Jakut verwonderd, stom en bewegingloos.

Die eens trotse stertuig is ’n wrak. Groot gedeeltes is in brandende blou vlamme gehul. Die koepel wat die beheersentrum beskerm en omvou het, is deur ’n reuse hand weggeskeur. Dit is net die brug van die tuig wat vir die oomblik nog dien as dryfhout. Sissend, gloeiend weens die hitte van die materiaal, stoom en borrel die waters rondom die drywende wrak. Hulle is ’n paar oorlewendes, weerloos teen die elemente. ’n Sagte misreën vou soos ’n wolk rondom die wrak.

Jakut word bewus van die sensasie van hoendervleis op sy arms.

Hy loer fronsend na die onbekende waters. Hoeveel tyd het hulle voordat hierdie golwe die laaste oorblyfsels van die tuig opeis? Onseker beur hy orent en staan onvas op die gladde oppervlak van die deurdrenkte brug. Die golwe bedaar en meteens is dit stil en rustig. Die angs van die noodlanding is iets van die verlede.

Luitenant Katara en sy soldate sluit hulle stilweg by hom aan. Prinses Luthare is reeds uit haar beskermde kokon. Sy kniel by Maru. Die reuse ysbeer het verskeie bloeiende wonde aan sy groot gestalte, maar hy verdra dit heel gelate. Geen bene is gebreek nie. Prinses Luthare ondersoek nietemin elke wond deeglik terwyl sy sagkens oor die wit hare streel. Sy is oënskynlik onaangeraak deur die gebeure die afgelope paar minute. Jakut glimlag onderlangs.

In sy eie gemoed kolk dit. Sy vel kriewel en deur sy liggaam spoed die donker emosie van naderende onheil.

Luitenant Katara stoot sy hand deur sy kort, donker hare. Hy staar mistroostig na die laaste wrakstukke van die eens trotse Vector tuig. Hy trek sy blou oë op skrefies. Die skerp sonlig is ’n marteling vir daardie sensitiewe kykers.

Jakut draai na luitenant Katara. Hy het nooit werklik die geleentheid gehad om die jong offisier te leer ken nie. Daar was eenvoudig net nie die tyd daarvoor nie. En die afgelope paar maande het die Neaniete nie juis daartoe bygedra dat Jakut enige rede het om hulle te vertrou nie.

“Ek aanvaar die aanval was deeglik beplan, Luitenant. Dus is ek korrek in my vermoede dat ons binnekort besoekers kan verwag?”

Luitenant Katara knik sy kop in eerlike erkenning.

“Heeltemal korrek. Die wapentuig wat teen die Vector tuig ingespan is, is van die beste in die arsenaal van die Koninklike Lyfwag. Ons is gelukkig om te oorleef. Wat my egter die meeste bekommer, is die feit dat die Kruipers geplant is en dit reg in die pad van ons vlugplan. Daar is slegs enkele individue wat bewus is van die prinses se terugkeer. Ek is bevrees ons is verraai.”

Jakut kyk vraend na prinses Luthare: “Ek het aanvaar die priesters wat die monargie verraai het, is uitgeskakel. Is dit dan moontlik dat daar nog sommige is wat ontvlug het?”

Prinses Luthare antwoord nie dadelik nie.

Luitenant Katare skud sy kop. “Ek is nie oortuig daarvan dat dit die werk is van die prieter order nie. Miskien enkele individue wat vertroulike inligting kan uitlek. Ek het egter ’n sterk vermoede dat dit die Uitgewekenes kan wees. Indien ons vlugroete aan hulle uitgelek is, sou hulle beslis hierdie as die ideale geleentheid beskou het om die monargie by te kom. Niks ontsnap die waaksaamheid van die Uitgewekenes nie. En hierdie gebied in die Suid-See is bekend vir die toenemende agressie van sekere faksies in hul geledere. Redelike ongure karakters…”

Jakut frons. Hy het nog nooit van die term gehoor nie. Wie is die sogenaamde Uitgewekenes? Katara beantwoord sy onuitgespreekte vraag.

“Hulle is die skuim van ons samelewing. Kranksinniges, moordenaars, verkragters, uitgewekenes, noem hulle wat jy wil. Een ding het hulle in gemeen en dit is dat ieder en elk van hulle die een of ander tyd verban is uit die Heilige Stad.”

“Vir uitgewekenes beskik hulle oor indrukwekkende wapentuig, nie waar nie, Luitenant? Enige verduideliking hoe die uitvaagsels daarin geslaag het om die koninklike stertuig so dodelik akkuraat te teiken?”

Jakut slaag nie daarin om die sarkasme in sy stem te verbloem nie. Luitenant Katara kry nie die geleentheid om te antwoord nie. Prinses Luthare praat skielik en haar stem is sag en kalm.

“Dis nog geensins seker dis die Uitgewekenes wat ons aangeval het nie. Maar dit is voor die hand liggend. Ons is verraai. Die vraag is eenvoudig, wie is die verraaier in ons geledere? Wie buiten my vader het geweet van die sending?” Sy kyk stip met uitdrukkinglose blou oë na die jong luitenant.

Jakut merk die gepynigde uitdrukking op die jong Neaniet se gelaat. Sy blou oë skielik vol grys wolke van ontsteltenis. Sy is besig om sy gedagtes te ondersoek, te sif, besef Jakut. Arme drommel. Uiteindelik slaag luitenant Katara daarin om sy stem terug te kry. Met duidelike agting spreek hy haar aan. “Prinses, hoe kan u my van so ’n lafhartige daad verdink? Ek is geen verrraaier nie! Ek sal my lewe gee vir die monargie! Ek, soos hierdie soldate, het trou gesweer aan die koning,” sy stem bewe van emosie en vir ’n oomblik kry Jakut die Neaniet byna jammer. Prinses Luthare onderdruk ’n glimlag. “Ek is jammer, Luitenant. Ek moes seker maak.”

Sy vat doelbewus aan die jong Neaniet se skouer. “Vergewe my asseblief.” Katara sluk swaar en knik sy kop. Alhoewel diep seergemaak deur die vroeë wantroue van die prinses, besef hy terdeë die erns van die situasie.

“Alles reg, Prinses. Ek verstaan, dit is niks persoonlik nie.”

Hulle sal moet saamstaan om die komende aanslag te trotseer. Sy het nog nooit werklik met die Uitgewekenes te doen gehad nie. Om as ’n Uitgewekene veroordeel en verban te word, is erger as die doodstraf. Dit ontneem jou van jou identiteit.

Jou identiteit word verwyder van die Heilige Stad se databank. Asof jy nooit bestaan het nie. Uitgevee. Verlore. Uitgewekenes wat hulle toevlug tot die oseaan geneem het.

Hier bied die koeler atmosfeer, die digte grys mis die enigste bietjie beskerming teen die blootstelling aan hierdie wêreld se skerp son.

Hulle is verradelik. Hulle is dodelik en hul reputasie loop hulle vooruit. Maar ’n aanval op ’n koninklike stertuig? Wie ookal in beheer is van die Uitgewekenes, ontvang sy opdragte van elders. Miskien die priester orde? Maar met die hoëpriester Daiken dood en die orde leierloos skakel dit die groep vir eers uit die prentjie.

’n Ligte vibrasie in die atmosfeer dring deur tot Jakut se sensitiewe gehoor.

“Ons het besoekers,” hy beduie met sy kop na die ooste. Die soldate verstyf merkbaar. Hulle is gereed om te veg en wag slegs op ’n bevel van hulle bevelvoerder. Luitenant Katara weifel. Hy kyk na prinses Luthare. Wat staan hom te doen? Hulle kan nêrens heen vlug nie.

Die koninklike tuig is ’n wrak en sal in elk geval nie veel langer dryf nie. Hulp vanaf die Heilige Stad is duisende kilometers weg. Teenstand is dwaas en nodeloos. Maar dit is sy plig om die prinses en dit wat in haar versteek is, veilig te hou. Prinses Luthare het egter planne van haar eie.

Wie ookal agter die verradelike daad skuil, wil haar lewend in die hande kry. En dit is nou haar geleentheid om vas te stel. Prinses Luthare stel die jong luitenant gerus.

“Nee, Luitenant. Ons gaan nie veg nie. Altans nie op die oomblik nie. Laat ons eers uitvind met wie ons te doene het en wat hulle bose planne met my, met ons is,” die jong Neaniet byt op sy onderlip as teken van die frustrasie wat in hom opwel.

“Prinses, hulle sal nie een van ons ontsien nie. Hierdie uitvaagsels haat die monargie en ons samelewing met ’n passie. As hulle moet uitvind van die Kuur…” hy skud sy kop.

Die gevolge sal katastrofies wees. “Indien hulle ons dood begeer het, Luitenant, sou hulle nie slegs die troepe kwartiere en aandrywers geteiken het nie. Nee, daar skuil veel meer agter hierdie aanval.” Prinses Luthare glimlag betekenisvol en trek haar skouers terug. Die swart hare glimmend in die skerp sonlig.

Sy vertoon eenvoudig asemrowend in die helderwit noupassende uitrusting waarin sy geklee is. Daar is enkele bloedspatsels op, vanuit Maru se vlak wonde. Maru grom diep uit sy breë borskas. Hy sal haar volg waar sy ookal gaan. Gedwee en verlig dat die leiding uit sy hande geneem is, knik Katara instemmend sy kop. Hy draai weg en vroetel aan ’n meganisme onder een van die diep stoele wat staande gebly het.

’n Wit luik gly geruisloos oop. Hy verwyder vinnig die inhoud en draai na Jakut. Hy glimlag en bied ’n swart uitrusting vir ’n verbaasde Jakut aan. Dis soortgelyk aan die van die soldate. Jakut kyk hom vraend aan. Prinses Luthare verduidelik. “Dis ’n kleefpak en die doel is om jou liggaam te beskerm, indien jy in die ongenaakbare oseaan beland. Die materiaal is waterdig en sal jou liggaams temperatuur reguleer.” Jakut knik sy kop. Hy begryp.

Beter om voorbereid te wees vir enige gebeurlikheid. Daarom weier hy nie die vreemde uniform nie en verklee skaamteloos. Naaktheid is nie vir hom ’n probleem nie. Nogtans is hy bewus van haar oë op hom en vir die eerste keer in sy lewe voel hy skielik selfbewus. Sonder veel seremonie verwyder hy die verbande van sy arm en hand. Dit is nie meer nodig nie. Die koue vuur het sy werk goed gedoen.

Luitenant Katare verleen hand en dit gaan makliker. Die swart materiaal is koel en verbasend lig. Dit kleef soos ’n tweede vel aan hom sonder om sy beweeglikheid in te perk. Hy merk uit die hoek van sy oog haar goedkeurende blik. Jakut en die prinses se oë ontmoet. Wees versigtig. Moet niemand vertrou nie, fluister haar stem in sy binneste.