Lusmaker – Die Oplossing: Die Pelgrim

Die Oplossing: Die Pelgrim – Quintin Ellis
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2013)

Quintin Ellis - Foto vir Afrifiksie ArtikelDie Pelgrim (Boek 2) - Voorblad

Boek 2
HOOFSTUK 1

G8
There’s a leader on the run. He’s got your soul to pay.
How long will the poor and the hungry be forgotten?
– Jack Hammer

VESPER sit en tuur uit oor die hawe. Waar die horison wegdeins in die verte, lê skepe en wag vir toestemming om in die hawe te vas te meer. Seemeeue draal lui in die blou gewelf wat wolkloos onder die son lê en duik sporadies af in die water om hul prooi te vang. Mense geniet die sorgvrye dag op verskeie maniere. Kinders plas jillend in die golwende water, terwyl hulle ouers rustig baai op die wit sand. So nou en dan is daar ’n geroep na een om te waarsku dat hy of sy nie te diep moet gaan nie.

Die son het sy wit vel verkleur na ʼn pynlike rooi. Hy toon geen teken dat die sonbrand hom pla nie. Sy hare kartel los oor sy skouers tot tussen sy blaaie. Lui staan hy op en drentel oor die harde wit sand. Kopknikkend groet hy wanneer mense oogkontak met hom maak. Ten spyte van die feit dat hy al amper ʼn jaar hier woon, kan hy steeds nie inpas by die mense om hom nie. Wanneer hy die groot rotse aan die einde van die strand bereik, draai hy om en slenter terug na sy plekkie op die sand en gaan sit leunend op sy elmboë.

By die dokke lê ʼn groot driemaster vasgemeer, wat dadelik sy aandag trek. Die unieke wolwe ontwerp van die vaartuig, die vlag wat pap hang van die hoogste mas en die groot boegbeeld laat geen twyfel aan wie die boot behoort en waar dit vandaan kom nie. Hy kyk vraend na die vreemde verskynsel. Die reëls is duidelik, geen stryders en geen wapens word in die land toegelaat nie.

“Vesper,” hy draai sy kop om na die rigting van die stem. Haar sagte bruin oë is vol meegevoel. Haar amper melkwit vel veroorsaak dat haar diepbruin oë meer intens voorkom. In haar hand is ʼn groot wit seilsak. “Ons moet praat.”

Inermes sit die sak op die sand neer. Vesper voel ʼn koue, onheilspellende gevoel vanuit sy maag opstoot en teen sy ruggraat afkruip. Hy weet wat in die sak is. Sonder om iets te sê, steek hy sy pyp op en maak ʼn karba wyn oop. Haar hand kom rus sag en berustend in syne. Uit sy heupsak laat hy twee glase te voorskyn kom. Met ʼn berekende hand skink hy vir hulle elkeen ʼn glas van die rooi wyn en bly uitkyk oor die see. Sy oë volg ʼn albatros wat met ʼn sporadiese vlerkgeklap op die lugstrome ry. Dan laat sak hy weer sy oë na die kim, wat deur die hittegolwe in ʼn amperse mistigheid omskep word.

“Die Wolwe het gevra of ek jou sal vra om saam met hulle te gaan.” Dit is nie ʼn vraag, of inligting wat sy weergee nie. Inermes wil net hê hy moet verstaan dat daar ander opsies in die lewe is as die amperse sukkelbestaan wat hy nou voer.

Steeds gee hy geen aanduiding dat hy enigsins aandag skenk aan haar woorde nie. Die skepe op die horison blyk die enigste voorwerpe te wees waarop hy fokus. Met sy vinger skribbel hy in die sand.

“Waar het jy die goed gekry?” Vra hy na ʼn lang stilte. Sonder om op ʼn antwoord te wag, trek hy sy hemp uit, draf oor die sand en duik in die golwe in. Die koel seewater spoel oor hom. Met lang hale swem hy deur die klein golwe wat soos skimmelperde om sy lyf speel. Dan vind hy ʼn seestroom en laat dit hom terugdra strand toe.

Na die swem gaan sit hy weer op die sand. Hy vat die sak en sit dit agter hom neer. “Ek is nie ʼn kryger nie.”

“Was jy een?” Sy kyk hom stip in die oë. Hy trek sy vingers deur sy nat hare. ʼn Paar stringe hare bly agter tussen sy slanke vingers. Met ʼn gemaakte verergdheid skud hy dit af in die sand. Sy kan sien hy probeer ʼn aanvaarbare antwoord gee, maar weet hy is uitgevang. Half lomp vind sy hand weer hare.

“Sekere vrae moet onbeantwoord gelaat word. Dit sal tot die voordeel van almal wees.”

* * *

Vandat hy Die Laelande verlaat het, was sy lewe eenvoudig. Hy was soms verwyderd van die pyn en foltering van sy ou lewe. Die verraad van Die Priesteres en haar volgelinge vreet steeds aan hom soos ʼn bitter kanker. Die beelde van sy vrou en kinders wat wreed vermoor is, kan hy egter nie vergeet nie. Soos spoke in die laatnag, kruip hulle soms terug as hy saans sy kop neerlê.

Bedags het hy los werkies in en om die hawe verrig. Die vrederegter het hom soms gebruik om seker te maak dat die orde nie versteur word nie. As hy tyd gekry het, was hy saam met Inermes. Sy is soos ʼn baken van standvastigheid in die makabere warboel van sy lewe. Meestal was hy op sy eie, besig met sy eie gedagtes. Mense het agter hulle hande gefluister as die groot man verby hulle gestap het. Ten spyte van die feit dat hy almal om hom vriendelik gegroet het, het die meeste mense gedink hy is ongeskik.

Laatnag het hy geworstel met Die Uil en die onsekerheid van wat hy in die lewe wil hê. Dis asof die vrede en stilte hom altyd ontwyk. Sy siel was rusteloos en slaap het hom meestal behandel soos ʼn uitgeworpene.

Ten spyte van die polemiek wat die stryd van Die Swart Berge veroorsaak het, het Vesper nie weer betrokke geraak by enige kontroversie nie. Die Land van die See het, soos enige plek, maatskaplike en politieke probleme gehad. Hy het egter besluit dat, as buitestaander, hy geen reg het om in te meng en oplossings te probeer gee nie.

Die Alak Valto het ook geen behoefte getoon om enigsins weer Die Laelande lastig te val nie. Hulle bote word soms opgemerk, maar hulle kom nooit naby die kuslyn nie. Iewers vandaan het hulle daarin geslaag om ʼn hawe te bekom en ʼn vloot op te bou. Hy het egter geen kennis van hierdie feite nie. Soms kry hy nuus vanuit Die Laelande en van hoe die dwerge floreer. Hulle het sterk diplomatieke en ekonomiese bande met Inermes gevorm. Hulle ruil edelmetale vir vis en groente.

Hy weet dat die dwerge hom enige tyd sou help, sou hy in die verknorsing beland. Daar was egter geen behoefte by hom om sy amp as stryder weer op te neem nie. Soms ontstaan ʼn groot stryd in hom. Ou instinkte verdwyn nie sommer nie.

As ʼn stryder sy pos verlaat, is hy ʼn droster en word dienooreenkomstig aangespreek. As ʼn leier sy pos verlaat, word ʼn president geskep, ʼn situasie wat nooit werklik aangespreek word nie. Hy weet hy het die Paladyne met genoegsame toerusting en ervaring gelaat om sonder hom aan te gaan.

Daar was egter een onopgeloste vraag: Waar is Die Priesteres? Na hy die heks se kop afgekap het, het hy in die grot tekens gekry dat sy wel daar was. Sy het egter gevlug voor die aanslag.

Half bitter het hy afbeweeg na Die Laelande om vir die dwerge te wag. Sy stryd met haar was nodeloos. Sy was net ʼn instrument in die hande van die Alak Valto. Hy kan net hoop dat Alea die boodskap gekry het.

Om as ʼn vlugteling in ʼn vreemde land te bly is nooit eenvoudig nie. Daar is altyd iemand wat vanuit die oogpunt van oningeligte xenofobie na jou kyk. Jy mag eiendom besit en selfs ekonomies voortvarend raak, maar jy sal nooit regtig inpas of behoort nie. Iemand sal jou altyd met agterdog bejeën.

Vesper is ook nie die tipe persoon wat insmelt saam met die massas nie. Bo en behalwe die feit dat hy lank en lenig is, het hy ʼn steeds die persoonlikheid van Die Kryger. Baie verstaan nie sy behoefte om soos ʼn kluisenaar te leef en net geselekteerde mense naby hom toe te laat nie. Enige vrae oor sy herkoms beantwoord hy kortaf en ontwykend. Hierdie bombasme het al menige kere veroorsaak dat hy nie tuis voel tussen die mense van die see nie. Sy kil amandel-kleurige oë en die wrang trek van sy mond, skep net ʼn groter afstand tussen hom en die res van die samelewing. Hy sal wel iemand ophelp wat val, of ʼn ouer persoon se vrag probeer ligter maak. Hy het nooit sy hand uitgesteek vir ʼn aalmoes of vergoeding nie. Ten spyte van baie se pogings om hom in hulle vriendekringe te betrek, het hy voortgegaan om sy eie potjie te krap.

Hy het die Land van die See leer ken. Oop en toeganklike mense, wat deeglik bewus is dat hul idilliese bestaan enige oomblik afgebreek kan word. Inermes se leierskapstyl herinner hom baie aan die van Die Uil. Outokraties, sonder enige verdrukking, met ’n gesag wat nie nodig is om af te dwing nie. Sy eie styl skiet ver tekort. Dis óf sy manier óf basta.

Diepdenkend sit hy en kyk uit oor die wit sand en akwamaryn see. Graag sal hy weer wil vertrou, weer wil lief hê en weer wil beskerm. Die wonde en skrape van amper twintig jaar as stryder het egter te veel skade veroorsaak aan sy eens sagte en brose psige.

Rustig steek hy sy pyp weer op en kyk na Die See van Wanhoop, wat eindeloos uitgestrek voor hom lê, tot waar die water in die diep afgrond van die horison verdwyn. Die rook dwarrel om hom en verdwyn. Dalk sal hy nog gaan kyk na wat daar lê.

* * *

Hy droog sy lyf met sy hemp af en gooi die nat kledingstuk los oor sy skouers. Die smaak van seesout word vinnig weggewas met ʼn glas wyn. Sy vat sy hand en kyk hom vas in die oë.

“Wie is Vesper?”

“Daardie is nie ʼn eenvoudige vraag nie. Dis soos om te vra Wie is Die Uil, Die Geneser, Die Paladyn, Die Jagteres? Wie is ons regtig, Inermes? Waar kom ons vandaan? Hoe het ons tot hier gekom?” Hy maak sy glas weer vol asof hy tob oor die retoriese stellings wat hy gemaak het. “Hoe het jy by die Wolwe betrokke geraak?”

Haar bruin oë word kil. Sy ignoreer sy vraag oor die Wolwe heeltemal. “Jy ken my wette en jy het dit geïgnoreer. Ek het gehoor wat jy in Die Laelande gedoen het. My vraag is, het jy gedoen wat reg is?”

Stadig gaan sit hy op sy knieë voor haar en vat haar hande stewig vas in syne. In sy gedagtes formuleer hy sy antwoord. “Ek was nie ʼn stryder toe ek jou land betree het nie. Ek was ʼn eenvoudige man sonder heenkome, wat op julle gasvryheid staatgemaak het om weer myself te vind.”

ʼn Groot skaduwee val oor hulle. Vesper kyk op en sien Die Uil wat statig langs hulle op die sand kom sit. Inermes buig haar kop eerbiedig. Vesper kyk egter Die Uil stip in die oë.

In die helder son lyk Die Uil nog witter as wat Vesper hom onthou. “Ek het gewonder wanneer ek jou weer sien.”

“Heil Vesper,” beantwoord Die Uil sy aweregse groet. Die naam klink vir hom vreemd in Die Uil se sagte diep stem. Volgens hom was hy altyd Die Kryger vir Die Uil. “Ek is bly om te sien dit gaan goed. Jy het baie gewig verloor. Persoonlik dink ek jy moet meer eet en minder wyn drink en dalk die pyp weggooi.”

Vesper lag hard en omhels Die Uil. “Dit was lank gelede in ʼn ander lewe en ʼn ander plek, my vriend.”

Inermes kyk op en wys met ʼn vinger na die sak wat op die grond lê. “Wat moet ek met dié situasie doen?”

Die Uil kyk opsommend na die sak. “Die eienaar van die goed gaan dit binnekort nodig kry, jy beter sorg dat dit in die regte hande land.”

Vesper kyk Die Uil ongelowig aan. “Jy is nie ernstig nie. Ek is klaar.”

Die Uil skud sy kop simpatiserend: “Nee jy is nie, en jy weet dit. Jy het beloftes gemaak wat jy ongedaan wil laat. Dit is nie hoe die lewe werk nie.”

Vesper gee Inermes se hand ʼn druk en begin wegstap. Sy kyk hom geskok aan. “Waarheen gaan hy?”

“Hy sal terugkom. Hy het werk om te doen en hy weet dit.”

Inermes vloek en staan op. Sy weet nie vir wie sy kwaad is nie. Is dit vir Vesper oor sy leuens? Die Uil vir sy inmenging? Vir haarself omdat sy die vreemdeling so goedsmoeds vertrou het? Sy tel die sak op en stap na haar koets toe.

Sy verwaandheid om net op te staan en te verdwyn sonder om te groet, verbaas haar. Sy het regtig gedink sy ken die man met die diep oë.

“Wys jou maar net, geen mens sal ooit regtig begryp wat in die kop van ʼn ander aangaan nie.” Sy klim in haar koets en keer terug na die kasteel toe.

Sonder om terug te kyk, stap hy weg. Die blinde woede bruis in hom soos ʼn waterval in vloed. Hoe ver moet ʼn man reis om vry te wees van sy verlede? Waarom moet sy verlede hom altyd terugroep? Hy gaan sit onder ʼn boom en steek sy pyp aan. Met ’n onsekere gevoel oor waar daar vir hom heenkome gaan wees, beplan hy sy reis. Daar moet net afstand tussen hom en die see kom. Om weer na die slagveld te gaan, is ook nie ’n opsie nie.

* * *

Die meisietjie kyk om haar rond. Die hoë geboue met swierige ingange en groot vensters lyk vir die klein dogtertie soos ʼn sprokieswêreld. Sy steek ʼn handjie uit om aan die vergulde raam te vat. Sy sien nie die wag wat nader stap en haar hand weg kap met die steel van sy silwer seremoniële hellebaard nie. Haar sagte bruin ogies skiet vol trane.

“Gee pad hier!” Sis die wag. “Hierdie is nie ʼn speelplek vir kinders nie.”

Die dogtertjie sluip weg met skouertjies wat ruk met elke snik wat sy gee. Hoekom haar ouers in Lloc de la Pau wil woon, verstaan sy nie. Kinders kan nêrens hier speel nie. Oral is daar belaglike reëls en beperkings. Die kinders van die opper kaders was vry om te speel en te gaan waar hulle wou. Hulle het die beste skole en opleidings sentra gehad, maar die werkersklas het die afgewaterde oorskot daarvan gekry.

Die reg tot vryheid en vrye denke was onderdruk deur die leierskap. Die meisie het haar egter nie veel gesteur aan die voorbeeld wat sy gestel is nie. Toe sy twaalf geword het, het haar pa gesterf in ʼn slag teen die trolle. Alak Valto se leierskap het wel gesorg dat hulle ʼn goeie pensioen kry, maar die deure uit haar situasie was steeds gesluit.

Dinge het egter verander toe sy vyftien jaar oud was en haar ma weer getrou het. Die keer was haar pa die hoofraadgewer vir Alak Valto. Sy ma was ʼn vrou wat op ʼn groot plaas buite die stad gebly het. Sy was ʼn baie magtige vrou. Daar was gerugte dat die vrou ʼn heks was wat deur divinasie en nekromansie inligting aan die leiers gegee het.

Die meisie het die geleentheid aangegryp en haarself begrawe in die studie van die geskiedenis van die Alak Valto. Sy het die ou godsdienstige en geskiedkundige manuskripte opgespoor en bestudeer. Sy het bewus geword dat sy nie saamstem met wat die Alak Valto geword het nie. Hulle oorspronklike edele oogmerke het afgewater en is vervang met mag en status beheptheid.

Nadat sy haar opleiding voltooi het, het die valsheid van die Alak Valto net te veel vir haar geword. Sy het met Die Uil begin praat op soek na die dieper waarheid.

“My liewe kind. Alhoewel die Alak Valto my nie meer werklik erken nie, beteken dit nie dat ek my rug op hulle gekeer het nie. Daar is wel lede wat saam jou stem, en hulle rûe op die valsheid gedraai het. Soos in enige diktatorskap is hulle egter te bang om hulle uit te spreek. Jy kan hier bly en probeer om die status quo te verander, of jy kan wegtrek en jou ideale op ʼn ander plek gaan uitleef.” Die Uil se sagte bemoedigende stem het haar laat besef hoe min sy, ten spyte van jare se studies, van Hom weet.

“Ek wil doen wat reg is.” Het sy gehuil. “Ek wil waarheid en regverdigheid sien. Ek wil edele en gelyke hantering van elke persoon sien. Hulle is nie veel beter as die trolle nie!”

Die Uil het sy groot vlerke oopgesprei en gesê: “Jy moet versigtig wees met wie jy praat. Sulke taal word gesien as rewolusionêr en ondermynend. Die leiers sal sulke optrede nie duld nie.”

Hierdie gesprek het die onversetlike droom in haar om waarheid en geregtigheid te sien, net laat groei. Sy het meer en meer persone ontdek wat net soos sy voel. Die leier het gesterf en Alea het die tuig oorgeneem, te midde van die polemiek dat hy ʼn aandeel gehad het in die afsterwe van die ou leier. Hy het onmiddelik begin optree teen die vrydenkers, kunstenaars en ander ongewenstes wat die mag van die Alak Valto probeer verydel het.

Inermes het geen ander keuse gehad as om te vlug nie. Die wagte het nie die skielike aanslag verwag nie. Die tronke was deur klein groepe simpatiseerders bestorm en voordat daar alarm gemaak kon word, is die politieke gevangenes bevry. Hulle het oornag uit Lloc de la Pau verdwyn en na die woud gevlug.

Alea was woedend toe hy hoor sy opponente het ontsnap en het sy troepe beveel om hulle families en kennisse se plase te gaan verwoes. Die mense het as misplaaste en uitgeworpenes begin leef. As gevolg van sy vervolging en die onskuldige bloedvergieting, het Alea baie vinnig gewildheid verloor. Hy het hom ook gou vasgeloop teen sy grootste teenstander ooit, Die Kryger.

Die groep mense het ʼn nuwe lewe begin in Die Land van die See, aan die kus van die See van Wanhoop. Hulle het ʼn nuwe onafhanklike republiek begin. Die enigste bedreiging was toe Alak Valto Die Laelande beset het en die dwerge verwilder het. Hulle het egter nooit die grens probeer oorsteek nie. Sy was totaal onbewus van die geheimsinnige en onbekende nasie van elwe wat in die suid-westelike binneland gewoon het en die grens onverskrokke beskerm het. Asook die onbekende bewakers wat enige aanslag op die land, op die rûe van drake afgeweer het.

* * *

Alea gaan sit op sy goud vergulde stoel. Diamante en ander edelgesteentes versier die imposante kopstuk en armleunings. Die onteerde generaal staan met geboë skouers voor hom.

“Ek behoort jou in die openbaar aan ʼn galg laat hang,” sis die verwaande leier. “Ek gaan jou egter meer as dit straf. Jy word verban na die Eiland van die Son, waar jy as huiskneg sal werk. Vat hom weg!”

Alea sit selfvoldaan terug in sy stoel. Ten spyte van Die Kryger se sukses het hy misluk om die mag van Alak Valto totaal te breek. Alhoewel hulle grondgebied beperk is tot Lloc de la Pau, het hy nog klein faksies ondersteuners in die Vallei van Arsonagom en die omliggende gebiede. Hy het selfs ʼn wankelrige verdrag met die trolle gevorm. Sy land is weer veilig en die ekonomie is besig om te herstel. Hy het dit alles reggekry sonder enige hulp van Die Uil.

Sy spioene het hom ingelig dat Die Kryger Die Laelande verlaat het en weereens verdwyn het. Die nuus dat Die Kryger sy leër verpletter het, het vinnig versprei en het daartoe gelei dat sy manskappe uit Arsonagom verwilder is deur ʼn gepeupel. Hy moes ʼn noodtoestand en aandklokreël instel om orde te herstel. Sy gewildheid het getaan maar hy het nie sy heerskappy verloor nie. Hy het ook ʼn nuwe uitbreiding van sy ryk begin bewerkstellig op Die Eiland van die Son, ver buite bereik van Die Uil, Die Kryger en hulle gespuis.

Gravis, die onteerde generaal, is begelei na die hawe en op ʼn boot geplaas. Hy het na maande se ontberinge ter see op die eiland aangekom, waar wagte hom vergesel het na die garnisoen se fort. Na twee weke het ʼn enkele wag hom kom haal en na ʼn landgoed geneem wat bewaar word deur nog ʼn groot groep soldate.

Sy boeie is afgehaal en hy is na die agterdeur geneem. ʼn Lywige ou dame het hom minagtend aangegluur en sy kwartiere gaan wys.

“Jy sal sorg dat die skottelgoed skoon is en die varke voer. Die varkhokke moet elke dag skoon gemaak word.” Sy neem hom op ʼn toer deur die landgoed en die huis. Na hy meeste van sy take afgehandel het, besluit hy om weereens die huis te verken. Vroeër was daar geen teken van wie die inwoners van die kolossale kasarm mag wees nie. Hy sluip van vertrek na vertrek. Op party plekke word hy herinner aan die swier van die lewe wat hy as generaal gehad het.

In die sitkamer steek hy vas en vloek hard. Voor hom sit ʼn aantreklike vrou met twee dogters. Eenkant in ʼn wiegie lê ʼn baba in ʼn soete rus.

“Julle is veronderstel om dood te wees!”

ʼn Wag storm in en lei hom vinnig na die kombuis. Die kwaai vrou kyk hom woedend aan.

“Jy praat met niemand oor hulle nie!” Sy druk sy bo-arm dreigend. “Jy het hulle nie gesien nie en onder geen omstandighede praat jy met enige iemand oor wat hier gebeur nie. Dit is nie Lloc de la Pau die nie. Hier sal jy vinnig leer wat gebeur met mense wat nie luister nie. En jy sal nooit weer jou vuil pote in die res van die huis sit nie.”

* * *

“Wie is jy?” Vesper maak sy oë oop. Voor hom staan ʼn lenige elf met ʼn swaard in sy hand. Die swaard is duidelik goed versorg en Vesper kan aan sy houding sien dat hy weet hoe om dit te hanteer. Sy raafswart hare en hemel blou oë kontrasteer sy amper melkwit vel. Die hoë wangbene en skerp neus is ʼn duidelike aanduiding daarvan dat die elwe ʼn adellike ras is.

“Ek is Vesper, herbergier op soek na ʼn plek om ʼn nuwe lewe te begin.” Sy stem is vas en selfversekerd.

“Jy praat nie soos ʼn herbergier nie. Ek dink jy is ʼn spioen vir Alak Valto.” Die elf stap dreigend nader en bulder dat die man geboei moet word. Vanuit die gras en bome verskyn ʼn groot groep elwe. Vesper word vasgemaak met sterk toue en weggelei, omsingel deur elwe, dieper die binneland in. Hy som die situasie op. Alhoewel daar omtrent vyftig elwe om hom en sy hande vasgebind is, is dit nie onmoontlik om te ontsnap nie. Sy nuuskierigheid neem egter die oorhand. Van waar kom die elwe? Hoekom het niemand geweet daar is elwe in Die Laelande en Die Land van die See nie? Wat is hulle doel?

Gedwee stap hy saam met sy gevangenemers. Hy bestudeer hulle wapens, daar is nie veel verskil tussen hulle toerusting en die waaraan hy gewoond is nie. Byle, swaarde hamers en pyl en boë. Sou hy probeer ontsnap, gaan sy alibi dat hy ʼn eenvoudige herbergier is, geen water dra nie. Sy enigste opsie is om saam met hulle te beweeg en deur sy gedrag hulle van sy onskuld oortuig.

Elwe is effe langer as dwerge, geklee in los hemde en broeke wat toelaat dat hulle blitsig kan beweeg. Hulle het lang silwerwit hare, fyn gevormde gesigte met skerp geaksentueerde neuse en spits ore. Diep, ysblou oë en vol monde laat hulle minder dreigend lyk. Anders as feë kom hulle ook in die daglig uit. Hulle het die vermoë om onsigbaar te raak deur, soos verkleurmannetjies, in te smelt by hul omgewing en het dus nie nodig om soos feë die nag te gebruik as beskerming nie.

Vesper besef egter dat hulle nie maklik uitoorlê kan word nie. Hulle treë is kort maar doelgerig.

Niemand praat terwyl hulle tussen die bome en lang gras beweeg nie. ʼn Groepie fisante vlug verskrik die lug op voor die aankomende elwe. Vesper bestudeer elke beweging, elke tree en elke gebaar. Dit blyk of die elwe telepaties met mekaar kommunikeer.

Hulle kom tot stilstand voor ʼn massiewe boom en die leier prewel iets in ʼn taal wat Vesper nog nooit gehoor het nie. Die woorde klink soos fonteinwater wat sag oor die klippe kabbel, onderbreek deur kort tongklap en langer vokale geluide. Hy vermoed dat dit Oud Elfies moet wees. Ten spyte van baie verhale en legendes is die elwe ʼn geslote gemeenskap. In al sy jare se omswerwinge is dit die eerste keer dat hy met hulle te doen kry. Steeds klink hulle taal vir hom bekend asof hy al voorheen daarmee te doen gekry het.

ʼn Vreemde rooi-groen gloed kom uit in die boomstam en die elwe stap daarin en dwing hom om saam te beweeg. Hy stap in die gloed in. Die boom disintegreer om hom en maak plek vir ʼn nuwe landskap. Goudgeel plate sonneblomme strek sover as wat die oog kan sien. Die heldergroen stamme en blare kontrasteer perfek met die swart koppe van die sade. Hier en daar is groot bome sigbaar in ’n see van geel-groen gras.

Hy sien die gruishope van die metaal en steenkool myne, kontrasterend met die ongereptheid van die natuur. Die elwe is ingestel op selfvoorsiening. Die spore van die waens wat die erts neem om verwerk te word, lê uitgetrap tussen die sonneblomme. Die rook van die aanlegte, waar die erts verwerk word, spiraal teen die rooierige lug. Alles lyk agterstevoor. Die son lê oos ten spyte van die feit dat dit laat middag is. Die helder sfere bo in die lug skep die illusie dat daar drie sonne is. Dit gee ook die lug ʼn unieke rooi-pienk skynsel as dit filtreer deur die drie koepels wat die atmosfeer opmaak.

Die wind dra strelende musiek van onbekende instrumente na sy ore. Asof uit die niet verskyn die elwe se woonplek voor hulle. Die groot silwer kleurige geboue is verblindend in die son. Met die stewige blink mure lyk elke huis soos ʼn fort, maar die tuine met die helderkleurige blomme laat dit verwelkomend voorkom.

Die gesig verras hom. Hy het altyd geweet dat elwe in swier bly. Wat hy egter waarneem, is dat hulle ook so na as moontlik aan die natuur leef en probeer om so min as moontlik negatiewe impak op hulle omgewing te hê. Die stad se uitleg is eenvoudig en effektief. ’n Kasteel en omliggende raadsale vorm die middelpunt van die stad, saam met die besige plein met stalletjies waar allerlei produkte en snuisterye te koop is. In ’n bont kaleidoskoop van kleur en geur versier die markplein die stad. Strate en stegies vloei soos polsende are daaruit. Die huise, gevorm uit gesmelte metaal, is met sorg onderhou.

Die elwe lei hom na die middel van die plein, waar hulle hom vasmaak aan ʼn dik paal, met vreemde inskripsies daarop. Vesper het die skrif op die paal probeer ontleed, maar kon geen sin maak uit die delikate swierige krulle nie, niks het ʼn woord gevorm wat hy kom verstaan nie. Agter hom hoor hy hoe die normale gang van die lewe voortvloei. Hy voel baie kwesbaar waar hy hulpeloos aan die paal gebind is met sy rug na die stalletjies. Voor hom is ʼn blink gebou met klein, hoë venstertjies. By die deur staan twee wagte met hul wapens gereed in hul hande. Voor hy die res van die omgewing kan besigtig, word ʼn sak oor sy kop getrek.

Hy besef dat hy hom nou in ʼn baie onbenydenswaardige posisie bevind. Hy kan nie eens poog om te ontsnap nie, want hy weet nie hoe om die poort tussen die twee landskappe te aktiveer nie. Die elwe sorg dat hy genoeg kry om te eet en drink, maar praat nie met hom nie. In die kort tydjies wat hy nie die sak oor sy kop het nie probeer hy soveel as moontlik van sy omgewing inneem. Saans word ʼn karos oor hom gegooi en kan hy half sit-lê en ʼn bietjie slaap inkry.

Na drie dae hoor hy nuwe bewegings agter sy rug. Hy word omgedraai. Die stalletjies word vinnig weggeskuif en vier groot trone word ingedra. Hy kan egter steeds niks sien van wat agter hom gebeur nie. Die skare nuuskieriges bondel weer saam.

“Maak die beskuldigde los,” beveel ʼn stem ferm agter hom. Die tou om sy polse word met sorg los gemaak. Vesper draai om. Voor hom sit drie elwe op silwer trone. Twee vroue en ʼn man. Die krone op hul koppe dui hul adellike herkoms aan. Instinktief sak hy af op een knie en buig sy kop in eerbied.

“My naam is Aeqver, ek is die koning van die elwe.” Hy lig die septer in sy hand op. Die ander drie kyk Vesper strak met uitdrukkinglose gesigte aan. “Gewoonlik bring ons nie ons gevangenes na Taïsnîgums toe nie. Hierdie is egter buitengewone tye. Wie is jy?”

“My naam is Vesper, ek is ʼn herbergier wat na Die Land van die See gekom het om ʼn nuwe begin te maak, U Majesteit.” Hy lig nie sy kop op terwyl hy praat nie. Uit die hoeke van sy oë merk hy vier pare voete op. Daar bestaan geen twyfel by hom dat hierdie vier wagte wapens op hom gerig hou nie.

Aeqver bly vir ʼn wyle stil. “Waar is jou land van herkoms?”

Vesper besef dat hy sy antwoord goed moet deurdink. Hy weet nie hoe die elwe voel oor stryders nie. Sou hy te veel sê, mag hy tereggestel word. “Ek kom vanuit Die Vrye Lande. Alak Valto het my gesin uitgemoor. Ek wil net wegkom van die verdriet af en ʼn nuwe lewe begin.”

“Trek sy hemp uit!” Beveel die koning. Vesper verset hom nie. Terwyl hulle hom betrag, praat die vier onderling met mekaar in Elfies. Een wys na die littekens op sy bolyf. Hulle beraadslaag onder mekaar in dringende tone.

“Vesper, in ons taal en gebruike bestaan daar nie iets soos leuens nie. Die littekens op jou lyf is ’n aanduiding dat jy ons om die bos probeer lei. Geen herbergier kan sulke wonde opgedoen het nie, behalwe as hy trolle gehuisves het.” Al die elwe bars uit van die lag. Vesper kyk op vas in die koue blou oë van sy ondervraer.

“Wat ek sê, is die waarheid.” Hy bly gehurk op sy knieë, maar ʼn idee vorm in sy kop. Die elf naaste aan hom kan maklik oorrompel word. Daarna is dit spoed en kundigheid wat bepaal hoe lank hy gaan oorleef.

“Ek het nooit gesê jy is besig om blatante leuens te vertel nie. Ek dink eerder jy vertel nie die volle waarheid nie.” Die koning leun oor en praat met sy seun. “Gaan sluit hom toe. Ons moet dink oor sy lot.”

Vesper word weer vasgebind en weggelei na die groot gebou. Hy besef dit moet die gevangenis wees. Die wag lig ʼn luik in die vloer op en wys vir Vesper om in te klim. Die luik word bo hom gesluit met ʼn staal pen. Vinnig som hy die situasie op. Die kelder is netjies afgewerk. Daar is twee tonnels wat na buite loop; dit is egter te smal vir enige persoon om deur te kruip en dien seker as ventilasiegate. Die vloer is koud, maar droog. ʼn Enkele fakkel verlig die vertrek. Hy gaan lê op die katel en heroorweeg sy posisie. Hy sypel weg in die slaap wat hy vir ʼn paar dae lank ontneem was.

ʼn Angswekkende skril lagkreet ruk hom terug na die werklikheid. Sy hand skiet uit om die swaard uit sy skede te trek en besef dan waar hy hom bevind. Die elwe maak alarm en die geklank van wapens vul die lug. Bo die klank van die geveg bly die giggelende lagkrete die lug vul. Vesper sit regop en luister na die geluide wat deur die tonnels kom. Die fakkel het gedurende die nag doodgegaan. Sy oë probeer deur die stikduisternis dring en sy gedagtes probeer ʼn beeld vorm van wat bo hom aan die gebeur is.

Met ʼn dowwe plofgeluid val iets in die hoek van die donker vertrek. Op sy knieë kruip Vesper na die geluid. Hy voel-voel totdat hy kontak maak met ʼn wriemelende slymerige voorwerp. Instinktief ruk hy sy hand terug en tas rond in die omliggende areas. Sy vingers voel die bekende koue metaal van ʼn lem. Sag streel hy daaroor totdat hy die hef met geklemde vingers daarom voel. Die beweging het opgehou en Vesper besef dit is ʼn afgekapte arm. Vinnig vou hy die vingers los. Hy druk die wapen onder sy hemp in en kruip terug na die katel toe terwyl hy die arm agter hom aan sleep. Dis nie ʼn elf se arm nie. Na hy die arm diep in die donkerste hoek onder die katel versteek het, gaan lê hy op die bed. Die koue lem rus teen sy heup onder sy klere. Die wapen bring vir hom ʼn bietjie gemoedsrus. Net so skielik as wat die aanval begin het, raak dit stil en die giggelkrete vervaag. Slaap oorval hom weer en sy borskas dyn op en af in die rustige vergetelheid.

Vroeg môre word hy wakker. Die luik word oopgemaak. Vesper bly stil op die bed lê. Die wag steek die fakkel aan en sit die kos op die vloer neer sonder om ʼn woord te sê. In totale stilte eet Vesper die brood en sit die bord terug op die vloer.

Hy bestudeer die wapen wat hy die vorige nag gekry het. Dis ʼn dun gekrulde dolk met ʼn redelike skerp lem. Daar is geen versierings op die hef nie en die lem is effens geroes.

Met een wapen kan jy jou kanse verbeter om ʼn oormag te oorval. Die probleem is egter dat wanneer jy niemand het wat tot jou redding kan kom nie, jou kanse op oorlewing baie skraal is. As gevolg van die portaal en die feit dat hy geen manier het om met enige van sy geallieerde magte kontak te maak nie, sal hy nie ʼn aanval kan loods nie. Briesend versteek hy weer die wapen onder sy hemp.

Die magteloosheid kook in hom. Hy besef dat hy nie moet toelaat dat sy emosies sy rasionele denke oorneem nie. Vir eers sal hy die omgewing buite die sel moet verken en die vertroue van sy gevangenemers moet wen. Die geheim van ʼn ontsnappingspoging lê daarin dat jy moet voorgee dat jy geen voorneme het om te ontsnap nie. Fyn beplanning en kennis van jou opponente se gedrag is van kardinale belang. Hy sal egter nie poog om vanuit die sel te ontsnap nie. Die luik word van buite gesluit en is die enigste uitgang. Heel waarskynlik sal daar ʼn groep wagte wees en om met een hand die luik oop te hou en met die ander jouself te probeer verdedig, gaan onmoontlik wees. Die mure is soliede rotswande en selfs met die dolk sal hy nie ʼn roete kan oop grou nie. Die tonnels is te smal en daar bestaan die risiko dat dit sal ineenstort sou hy poog om dit te vergroot. Die plafon van die sel is groot houtbalke en hy weet nie hoe dik dit is nie. Omdat hy heelwat langer is as die elwe kan hy nie ʼn gyselaar neem en die gebruik as ʼn skild nie. Sou hy ontsnap, sal hy eers buite moet wees.

Die dag se roetine is vervelig. Al wanneer die luik oopgaan, is wanneer hy kos en water kry. Verveling is ook ʼn baie slegte situasie, dit laat jou swak beplanning doen. Om die dag om te kry, oefen hy sy spiere en slaap. Na amper drie dae word die luik oopgemaak en hy na buite gelei. Die sonlig skyn skerp en hy moet sy oë ʼn paar keer knip voor hy ordentlik kan sien.

Aeqver sit intimiderend op sy troon. Hy kyk Vesper met ʼn kil blik aan. “Herbergier, het jy nou al besluit om my te vertel wie en wat jy regtig is?”

Vesper kyk om hom sonder om sy kop te draai. Oral tussen die blink afgewerkte metaalgeboue staan wagte met blink lanse en byl en boeë. Daar is geen manier om te ontsnap nie.

“Ek bly by die waarheid,” antwoord hy ferm.

“Gaan roep vir Barneao,” beveel die koning. Een van die wagte draf flink weg. Na ʼn ruk keer hy terug met ʼn man wat lyk soos ʼn reusagtige elf. Hy het lang silwer-wit hare en is geklee in ʼn bruin beerpels. Op sy kop dra hy ʼn skede van ʼn groot wolf met twee penne daarop wat soos horings lyk. Sy hemp is van leer en is vasgemaak met rieme. Dit span styf oor sy breë bolyf. Sy broek is los en is versier met metaalplate om sy bobene. Die stewels wat hy aanhet is dik en wollerig. Sy blou oë is baie intens en sy neus en kakebeen is prominent. Barneao gaan sit langs die koning en bestudeer Vesper woordeloos.

“Ek kom van ʼn land van ys en sneeu, waar die son nooit ondergaan nie.” Barneao se stem is kil. “Jy is nie ʼn herbergier nie. As ek moet raai, is jy een van Die Uil se stryders. Maar jy dra geen wapens nie. Ek dink jy vlug van wie jy is.”

Vesper kyk die groot man aan sonder om enigsins ʼn spier te verroer. Die koning fluister iets vir die man. Hy knik net sy kop in antwoord. Dan staan hy op en stap tot voor Vesper.

“Waar is jou wapens?” Sis Barneao dreigend.

Voor Vesper hom kan antwoord, is die hele kamp in rep en roer. Die koning, wagte en ander nuuskieriges sak af op hulle knieë en buig hulle koppe laag. Barneao volg hulle voorbeeld. Agter hom hoor hy hoe ʼn perd stadig aangestap kom. Vesper vou sy arms en sy regterhand sluit om die hef van die versteekte dolk.

Die spierwit perd stap tot agter Barneao. Vesper kyk op en glimlag.

“Heil, Vesper.” Groet die ruiter met ʼn sagte stem.

“Heil, Paladyn.” Vesper buig sy kop.

Die Paladyn klim van sy perd af. “Heil Aeqver.”

Die elwe-koning antwoord die groet. Na die groet staan almal op. Barneao stap terug na die koning se sy toe.

“Wat gaan hier aan? Hoekom is die man in julle aanhouding?” Die Paladyn se stem klink streng en ontsteld.

“Ons het hom in die buite-wêreld sien ronddwaal en vermoed hy is ʼn spioen van die Alak Valto,” probeer Aeqver verdedig. “Ons het nie geweet hy is een van jou manskappe nie.”

“Hy is nie een van my manskappe nie. Hierdie man is die bevelvoerder van my leër! Julle het geen rede om sonder meer in te meng in die buite-wêreld nie. Julle vesting is veilig en sal so bly.” Die Paladyn haal die groot seilsak van sy perd af en sit dit voor Vesper neer. Almal kyk aandagtig na die toneel wat afspeel. “Die keuse bly joune, Vesper.”