Lusmaker – Die Oplossing: Valhalla

Die Oplossing: Valhalla – Quintin Ellis
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2013)

Valhalla (Boek 1) - VoorbladQuintin Ellis - Foto vir Afrifiksie Artikel

Boek 1
DIE REIS VAN DIE KRYGER

DIE Kryger gaan lê uitgeput teen die groot rots. Die voëls en krieke het stil geraak toe die vreemdeling die woud instap. Dis asof die hele woud die indringer opsommend betrag. ʼn Klein grys kewer skarrel tussen die gras en blare voor sy voete. Die digte lower bring ʼn vroeë skemer. Ure se ononderbroke stap vanuit die dorp tot in die woud het al die energie wat hy oor gehad het, uit hom getap. Sy kake is styf geklem en beklemtoon sy hoë wangbene. Hy het dae laas geskeer en die stoppels is krapperig. Daar is min tekens van die man se eens goed versorgde, amper adellike, voorkoms. Die Kryger is ʼn paradoks van wat ʼn mens sou verwag van iemand met so ʼn titel. Hy is amper ses voet lank, met lang donker hare, wat sy slanke nek korter laat lyk. Dit hang egter nou gekoek in slierte tot op sy skouers. Hy trek die gepantserde handskoene met sy tande af. Daar is nie ʼn teken van eelte op die goed versorgde hande nie.

Die vingers, wat eens ʼn swaard stewig kon vasklem, spook vrugteloos om die boskaas netjies te maak. Met ʼn lustelose beweging van sy fyn, dun hande vee hy oor sy gesig asof hy daarmee die moegheid wil verdryf.

Die amandelkleurige oë, wat soms verander na ʼn grou groen en een oomblik vol lewe kan flits, net om daarna donker, broeiend en dreigend te lyk, is diep in hulle oogkasse gesonke. Sy neus is fyn en skerp. Langs sy linkeroor loop ʼn ligte litteken tot amper op sy onderkaak. Hy praat nooit oor die oorsaak daarvan nie. Op sy seningrige bolyf is die oorblyfsels van vele stryde afgeteken. Spiere bult op feitlik ongeskonde bene onder die lang leerbroek. Waar hy eens regop en fier oor die slagveld beweeg het, hang sy skouers moeg onder ʼn vrag wat al jare daarop rus. Die wit hemp is nou vuil en bloedbevlek en die swaard en strydbyl voel soos lood in sy hande. Die knapsak, brons skild en beukhamer op sy rug, is soos ʼn hewige las wat sy skouers nog verder krom trek.

Hy vloek sag.

In die verte weergalm stemme wat sy naam roep. Weer en weer roep hulle. ʼn Naam wat nie meer saak maak vir hom nie. Sy verlede het hy agtergelaat toe hy die dorp verlaat het. Wat maak ʼn naam in elk geval saak? Om naamloos en gesigloos deur die wêreld te gaan, is die beste kamoeflering vir enige kryger. Daar is ʼn veiligheid in onaantasbaarheid. Jy kan net aangeraak word as jy jouself weerloos maak.

Hy laat die dorp aan hulle eie lot oor. Die eed wat hy geneem het om hulle te beskerm, het hulle nie verhoed om hom te verraai en in die steek te laat nie. Die stemme vervaag en hy lag hard. Hulle is op soek na hom op plekke waar hy besluit het om nooit weer te wees nie. Sy gedagtes gaan terug na waar alles begin het.

Jare gelede was hy ʼn herbergier met ʼn gelukkige gesin. Een nag word hy wakker gemaak deur ʼn angstige, dringende gehamer aan die deur. Voor die deur het ʼn potsierlike jong mannetjie met ʼn krom swaard gestaan.

Hy het die mannetjie binne genooi en vir hulle albei ʼn glas wyn geskink.

“Kan jy help?” het die mannetjie angstig gevra. “Ek kom vanuit die Vallei van Arsonogom. Laasnag het ʼn groep trolle ons plaas aangeval en my familie vermoor. Ek het gevlug.”

“En wat laat jou dink ek kan help? Hoekom het jy nie na Lloc de la Pau gevlug en skuiling by die Alak Valto gaan soek nie?”

“Die pad na Pau is afgesny. Ek het na die naaste dorp gevlug. Hulle is op pad hierheen.”

Die dringendheid in die mannetjie se stem het hom laat besef dat die mannetjie desperaat is.

“Ek is nie ʼn soldaat nie. Daar is egter wapens in die kelder. Kom, dan kyk ons wat ons kan gebruik.” Die herbergier het die wapens gaan haal en alarm gemaak. Die dorp het elke beskikbare en weerbare man, met allerlei wapens, byeengeroep en hulle het die trolle teruggedryf.

Na hierdie veldslag het die herbergier onderneem om alle weerloses te beskerm.

So drie myl buite die dorp is die verbode betowerde woud. Hy weet die woud is veilig vir hom. ʼn Plek wat net in mites en legendes bestaan. Mites en legendes het die woud ʼn verbode area gemaak. Niemand wat al in die woud ingestap het, het ooit daar uitgekom nie, of so lui die legendes. Stories word aan kinders vertel van vleisetende monsters en kannibale, wat op volmaan nagte uit die bos kom om kinders op te eet as hulle stout was.

Die woud is simmetries. ʼn Perfekte vierkant wat bydra tot die legendes en mites. Daar is glo een pad in die woud in, en geen pad uit nie. Wanneer iemand die woud betree, wandel die persoon ʼn vorteks binne. Alles neem ʼn anders wêreldse vorm aan en verskil heeltemal van die aangrensende omgewing. Alhoewel daar bome in die omliggende landskap is, blyk die groen van die woud baie dieper, meer intens en oorweldigend te wees. In een oogwink lyk die omgewing terselfdertyd aanloklik en bedreigend. Die groen woud met sy digte lower skep ʼn amper onheilspellende kontras met die omgewing waarin die woud geleë is. Die grense blyk onpeilbaar te wees. Die reusagtige dik stamme van die bome is ʼn aanduiding van die eeue wat die woud reeds onaangeraak deur mensehande staan.

Vanuit die oogpunt van ʼn waarnemer lyk die grense duidelik totdat jy die woud betree. Dan besef jy die grense van die woud word bepaal deur jou eie waarnemings en lewensuitkyk. Vir party is die grens ʼn afgrond, vir ander net ʼn eenvoudige randjie. Sommige vind dat die woud skielik eindig. Ander vind die woud as oneindig groot, ʼn unieke uitspansel sonder grense. ʼn Surrealistiese landskap wat jou omvou, insluk en koesterend beskerm teen ʼn wreedheid wat nie beskryf kan word nie.

Die Kryger weet egter dat hy nie wil teruggaan na die samelewing waarvandaan hy probeer wegvlug, nie. Hy trek die bebloede hemp uit en gooi dit in die vuur wat hy met droë takkies en dun stompe gemaak het. Nadat hy ʼn skoon hemp en ʼn karos uit sy knapsak gehaal en aangetrek het, val die sak op die grond. Hy haal die karba vol wyn van sy heup af. Alles is ʼn gewig, alles is te swaar.

Die fassinerende aspek van enige woud is die absolute perfekte balans tussen lewe en dood. In hierdie balans het alles ʼn doel, of daar nou ʼn omgevalle boomstomp, ʼn hopie mos of ʼn paddastoel is. Een lewensvorm wat ontbind, is die groei area of skuiling vir ʼn ander. Selfs hierdie betowerde woud is nie verhewe bo die natuurlike sameloop van lewe en dood nie. Van êrens af word dit alles beheer asof deur ʼn Onsigbare Hand en almal weet Die Uil het die woud geskep. Hoekom Hy bepaal het dat dit is hoe die woud moet wees, bly ʼn raaisel.

“Die Uil,” maal dit deur sy gedagtes. Hy sukkel om enige positiewe gedagtes aan die gang te kry. Die rou bitterheid van die onlangse ontnugterende ervarings, lê nog te vlak en te rou. “Altyd die Uil. Hy wat daar was voor die woud begin het en altyd daar sal wees. Met Sy bo-natuurlike grootte lyk Hy intimiderend, Hy toorn selfs bo my uit. Sy spierwit vere straal lig uit, selfs in die donkerste nag. Hy het alles begin en het belowe om alles te eindig. Die Uil was altyd die toppunt van stryder wees, die perfekte meester.”

Die Kryger haal sy pyp en sakkie tabak uit sy knapsak. Hy bespied die omgewing in die naderende skemer. Sy oë vang elke diertjie wat skarrel of rondkyk. Die voëls begin wegvlieg na hul nagtelike rusplekke, die woud maak gereed vir die naderende nag. ʼn Olifantmuis kyk na hom met ʼn vraende gesiggie. Die Kryger knipoog vir die diertjie. Hy besef selfs die klein kreatuurtjie wil vir hom sê hy hoort nie in die woud nie.

“Asof ek iewers behoort,” smaal hy vir die muis, wat vinnig wegskarrel in ʼn hoop blare. Selfs sy eie stem klink vir hom onbekend in die vreemde woud, asof stemme van êrens buite hom kom.

Hy besef hy moet versigtig wees dat sy emosies en gedagtes hom nie oorweldig nie. Met ʼn beweging van sy elmboog vul hy sy mond met wyn. Die wyn proe amper galbitter en word dan soet in sy mond. Hy speel met die gedagte om die rooi vloeistof uit te spoeg. Na nog ʼn diep teug uit sy pyp, gaan lê hy moeg teen die dik, eeu-oue boomstomp, druk die knapsak tussen sy kop en die growwe bas, soos ʼn kussing en trek ʼn karos oor hom.

Hy sluimer in, maar word wakker gemaak deur die geroep van ʼn uil. Aandagtig luister hy en probeer bepaal waarvandaan die diep bas-roep kom. Die flou maanlig dwing sukkelend deur die digte takke van die woud en vorm vreemde skadubeelde teen die basse. Alhoewel hy nie Die Uil kan sien nie, besluit hy om steeds aan te val. Grasieus tel hy sy strydbyl op. Rats rol hy op sy voete en gooi die byl sekuur in die rigting van die hoe-hoe geluid.

“Los my uit, Uil!” gil hy. “Jy het gesien hoe hulle my verraai het. Ek moes die heeltyd my lewe waag om hulle te beskerm, al wat ek gevra het, is dat hulle my familie veilig moet hou. Toe ek terugkom, is my huis verwoes en my familie dood.”

Hy kry geen antwoord nie, gaan lê weer en sluit sy ooglede.

Sy slaap is van korte duur. Die koue, skerp punt van ʼn lem teen sy keel laat hom wakker word. Die beeld voor hom laat hom lag. ʼn Fyn bosnimf hou Die Kryger se swaard lomp teen sy keel.

“Is jy reg om dood te gaan, Kryger?” vra sy kil, haar oë koud op sy gesig. “Jy kom in my woud in, met jou bebloede wapens en klere. Jy bring haat en geweld saam met jou. Jy hoort nie hier nie!”

Hy lê stil en kyk na haar. Sy is slank, raafswart hare golf oor haar half naakte lyf tot by haar heupe, wat bedek is deur ʼn knie-lengte lendekleed. Haar kil blou-grys oë staar diep in syne.

Rats spring sy in ʼn mik van ʼn boom buite bereik van Die Kryger se hande. Die mos hang soos ʼn beskermde gordyn om haar. Die Kryger weet dat hy haar met gemak sal kan tref met sy beukhamer. Hy het egter geen behoefte om homself te verdedig teen die weerlose figuurtjie, wat sy swaard lomp in haar fyn hande vashou, nie. Hy vind die situasie half komies, maar besef dat ʼn wapen, selfs in die mees ongeoefende hande, ʼn gevaar inhou.

“Ek gaan jou nie seermaak nie, Nimf. Ek is ʼn bewaarder van lewe, jy kan maar die swaard…”

Voor hy egter sy sin kon voltooi, fladder Die Uil bo haar. Sy raak verbouereerd en verloor gillend haar balans. Die vlymskerp swaard sny deur haar weerlose liggaam, bloed vloei vrylik oor die tenger lyfie. Woedend spring Die Kryger op.

“Was dit nou nodig? Moet jy al ewig inmeng?” Hy vloek hard. Sagkens tel hy die huilende lyfie op en druk haar teer teen hom vas. Met sy kaal hande skeur hy sy hemp in repe en begin die wonde skoonmaak en verbind. Hy smeer heuning en sout aan die dieper snye. “Ek is jammer jy het seergekry, Nimf. Ek sal jou nooit uit eie keuse seermaak nie.”

Hy lê die magtelose figuurtjie naby die vuur neer en draai haar toe in sy karos. Die Uil roep hard in die nag, die geluid oordonder die ander klanke van die nag, soos die lui van ʼn kerkklok op ʼn stil oggend. Iewers diep in die woud roep jakkalse na mekaar. Die Kryger staan op en stap in die rigting van die geroep. Hy sien sy byl glim tussen die lang gras en gryp die steel. Met ʼn vinnige beweging plaas hy die byl terug in die skede.

“Ek gaan jou kry, Uil. Dit was sinneloos. Jy weet sy kan my nie seermaak nie. Hoekom moes sy seerkry?” Al antwoord wat hy kry, is stilte. Die gegrom van ʼn groot kat klink ook op. In die duisternis het die diere van die nag begin kos soek. Die Kryger draai om en stap in die rigting van die vuur. Die nimf is nie meer waar hy haar gelos het nie. Hy trek weer ʼn skoon hemp aan, gooi die karos oor sy skouers en sluimer in. Die Uil vlieg tot by ʼn rots en gaan sit wakend oor die slapende kryger.

Die Kryger word wakker van die gegil en geklaag van oorlog. Die klingende wapens weergalm deur die woud. Hy hoor die geroep van banshees en minotaurusse, asook geluide wat vir hom onbekend is.

Hy staan op en skud die karos uit. Hy kyk verbaas na Die Uil wat roerloos op die rots sit. “Wat ʼn vreemde verrassing. Wat soek jy hier?”

“Ek moet eintlik daardie vraag vra, maar ek ken reeds die antwoord. Jy het jou wapens saamgebring en dit voorspel niks goeds vir die woud nie.”

“Asof die woud ʼn vredevolle plek is! Hierdie is die enigste plek waarvan ek weet waar jy kan wakker word met die klank van nodelose bloedvergieting in jou ore,” antwoord Die Kryger sarkasties.

“Alles in die woud is presies soos ek dit verkies, behalwe jou teenwoordigheid hier wat die balans bedreig.” Die Uil sprei sy enorme groot wit vlerke, wat Die Kryger met gemak kan omvou, uit. Hy staan kop en skouers bo die man se lenige gestalte uit. Die Uil se gespierde bene eindig in groot, stewige kloue wat ʼn mens met gemak sou kon oplig. “Jy het na haar kom soek?”

“Jy weet ek het onafgehandelde sake met jou Priesteres, Uil.”

“Jy moet doen wat reg is in jou oë. Onthou net my wet.”

Die Uil het die betowerde woud geskep as ʼn uitbeelding van perfekte harmonie. Sy monargiese regeringskap word baie bevraagteken, maar niemand kon hom nog ooit onttroon nie. Anders as ander despote het hy geen belastings of verdrukking nie. Sy hele heerskappy is gebaseer op die een wet van gelykheid en respek.

“Vertel dit vir haar, moenie vir my preek oor jou wet nie, ek het nie jou wette verbreek nie.”

“Ek het jou nie aangestel om namens my op te tree nie. Bitterheid en haat is ʼn swaar vrag om te dra. Niemand kan in elk geval my wette onderhou nie. Mense is ydel en selfsugtig ten spyte van hul beste voornemens. Jy weet ons het haar uit haar amp onthef en die bevel van die boogskutters teruggegee aan Die Jagteres?”

“Ek weet Uil, maar jy kan my nie keer om te doen wat reg is nie.”

“Reg? Reg in wie se oë? Reg volgens jou reëls?” Die Uil se stem is kil. “Jy kan nie self besluit wat reg of regverdig is nie.”

Die Kryger vloek sag, skop sand oor die vuur en stap weg. Halfpad na die groot pad deur die woud, kom die nimf teë. Sy het twee bakke kos in haar hande.

“Jy moet eet, Kryger.” Sy gaan sit wydsbeen oor ʼn stomp en hou die bakke vrugte en vleis na hom uit. “Jy moet jou kragte herwin.”

Hy eet en besef hoe honger hy is. Sy gee hom ʼn karba wyn aan en hy drink die helfte uit. Hy wil nie eintlik eet of drink nie, maar besef om sy plan uit te voer, gaan elke greintjie energie en krag uit hom tap.

“Jy het baie vyande in die woud, Kryger, jy is ʼn indringer hier en die woud gaan jou nie verwelkom nie. Jy het ook nie gekom met edele bedoelings nie. Jy mag dalk sterf in die woud.” Sy veins besorgdheid. Sy het geen behoefte om betrokke te raak by Die Kryger en die omstandighede wat hy saam met hom bring nie. Tog voel sy beskermend teenoor die eensame man met die groot oë. Alhoewel sy kundigheid op die slagveld legendaries is, blyk hy nie die vaagste idee te hê hoe om in die woud te oorleef nie.

Hy haal ʼn dun swart riem uit en bind sy lang donker hare daarmee vas. Met ʼn gefokusde deeglikheid bewapen hy homself. Twee dolke in die leerskede op sy arms, die strydbyl op sy rug, oorkruis met die langlem swaard. Op sy linkerheup is die kortlem swaard en die karba vol wyn aan die regterheup. Langs die wyn bind hy ʼn beukhamer vas. Die knapsak vol klere en ander los goed, gooi hy oor sy skouer. Hy stap in die rigting van die stryd. Sy groen oë beweeg stadig en dringend deur die bome. Gereed vir enige gebeurlikheid, klem sy hand die hef van sy swaard. Elke spier is saamgetrek om blitsig te reageer op die kleinste teken van ʼn aanval.

Deur die bosse kom ʼn donker figuur aangegalop. Die Kryger ontspan toe hy die donker ruiter op die perd herken. Die ruiter kopknik ʼn groet en ry in die rigting van die slagveld. Die Kryger glimlag smalend toe die ruiter in die bosse verdwyn. Vandag sal baie nie weer opstaan nie. Hy gaan sit op ʼn rots en haal sy pyp uit. Tydsaam stop hy die tabak en steek die pyp op. Selfs sy ontspanne houding verdoesel nie die feit dat hy slaggereed is nie. Hy kyk na die miere wat met stukkies blare in hulle knypers voor sy voete verby beweeg en dan weer terug skarrel om nog te gaan haal. Dooie blare wat moet beskerming bied. ʼn Eindelose stryd om oorlewing.

Van iewers uit die woud hoor hy die gesing van bosnimfe. Hulle stemme is beide engelagtig en onheilspellend. ʼn Simfonie van lewe en dood. “Simpel goed,” mompel hy. Hulle dra nie veel by tot die bos nie. Hulle speel, lag en sing. Nie veel van ʼn bestaan nie.

Hy staan stadig op en beweeg vorentoe. ʼn Pyl swiep deur die lug en tref hom in die skouer. Hy trek sy swaard uit die skede en sak af tot op sy knieë. Hy byt op sy tande en druk die pyl met sy ander hand deur sy skouer. Hy kap die steel voor die vere af en ruk die pyl van agter uit. Hy vloek sag, vee die trane uit sy oë en kruip laag tussen die digte bome in.

Was dit ʼn vloekskoot? ʼn Verdwaalde pyl? Of word hy aangeval? Die bloed vloei warm teen sy voorarm af. Hy skeur sy hemp af. Hy maak die bebloede area skoon, behandel die oop wond met sout en heuning en draai die hemp soos ʼn verband daar om. Die wond brand en klop vurig. Stadig kruip hy in die rigting van die slagveld met sy dolke gereed in sy hande.

Dan lig ʼn groot hand hom op. Hy swaai om homself te verdedig. “Nie vandag nie Kryger, hierdie is nie jou stryd om te baklei nie. Jy moet leer watter oorloë joune is. Jy het geen deel aan hierdie gevegte nie.”

“Wel, iemand het my eerste gewond.”

“En jou punt is? Vir my lyk dit na ʼn skrapie. Dalk net meer ongemaklik. Jy bloei nie te erg nie en jy was in elk geval al erger gewond in jou lewe.”

Hy kyk die groot man uitdagend aan. Sy groen oë kil in hul kasse, sy dolk gereed in sy hande. “Ek is ʼn stryder, jy val my aan en jy dra die gevolge,” sis hy.

“Wat daarvan as ek jou geskiet het?” Die groot man glimlag beterweterig vir Die Kryger.

“Jy sal my nooit sonder rede wond nie. Maar ek twyfel of jy so iets sou doen. Jou doel is te edel. Jy is ʼn geneser, nie ʼn stryder nie.”

“Soms is die doel van ʼn aksie tweeledig. Partykeer moet die heler en die persoon wat die wond toedien, dieselfde persoon wees.” Die Geneser se woorde is terselfdertyd empaties en selfregverdigend.

“Soos ek gesê het, jy sal nie na my skiet nie, jy weet waartoe ek in staat is.”

Die twee groot manne kyk mekaar vas in die oë. Daar is geen konfrontasie tussen hulle nie, hul houdings is uitdagend en berekenend. Die Geneser is omtrent net so lank soos Die Kryger, sy breë skouers en groot borskas getuig van ʼn man wat aktief lewe. Sy middellyf gee egter sy jare van ʼn goeie lewe weg. ʼn Effense boepmaag dra by tot sy groot gestalte. Sy gesig is groot, oop en vriendelik, lagplooie lê soos kraaispore langs sy helder bruin oë. Sy hare is kort en netjies versorg.

“Weet jy waarna jy in hierdie plek soek, Kryger?”

Die Kryger weet dat hy te doen het met ʼn vraag waarop hy nie ʼn antwoord moet gee nie, maar eerder self moet ontdek wat die oplossing is.

Die Kryger gaan sit uitgeput teen ʼn boom. Hy is moeg van sy wonde, die pyn en uitmergeling van die verlies van sy familie, die bosnimf se wonde. Hy maak sy oë toe.

“Rus, my ou vriend. Jy het nog ʼn lang stryd en ʼn ver reis voor jou.” Hy plaas Die Kryger se wapens netjies langs die slapende man. Die groot man glimlag en stap weg na die slagveld om nog gewondes te gaan versorg. Hy weet vanuit êrens sal iemand kom om Die Kryger te versorg. Hy kyk op en sien Die Uil nader vlieg.

“Jy sal eendag verstaan, Kryger. Ons paaie sal weer kruis.”

Met stram spiere word Die Kryger wakker en strek sy liggaam uit. Hy gebruik sy hamer soos ʼn kruk om homself op te hys. Ten spyte van sy wonde loop hy flink die bosse in. Hy kry vir hom ʼn skuiling in die holte van ʼn ou boom. Hy sien nie die vrou wat haar dolk vanuit die skaduwees van die woud uithaal nie. Hy maak seker dat sy wond goed verbind is en sak weg in ʼn onrustige slaap.

Sy sluip sag na die gevalle man. Haar oë is vol pyn en liefde. Huiwerig druk sy die lem in die man se slapende bors, net bo sy hart, in. Die Kryger se oë gaan oop. Hy kyk in ongeloof na die vrou. Haar gesig is bedek deur ʼn goue masker, wat al haar gelaatstrekke bedek.

Sy stap weg, haar koue oë vol trane, haar stap ferm. Langs haar stap ʼn gitswart jaguar met rimpelende spiere. Die Kryger druk sy hand teen die bloeiende wond. Die Uil kom sit langs hom en kyk na die gevalle man. Dan vlieg Hy op en gaan sit hoog in die ou eikeboom. Die Kryger skeer ʼn stuk van sy hemp af en druk die lap in die wond, sy uitgeputte liggaam gee vinnig oor aan die lokstem van slaap.

Die Kryger word wakker met ʼn brandende gevoel in sy wonde. Die bosnimf staan nou oor hom, besig om bloed af te was en heuning in die wonde te smeer. Met haar fyn hande verbind sy die wonde.

“Ek behoort jou te los om dood te bloei.” Hy kyk haar woordeloos aan.

“Jy gaan seker nie sê wie hiervoor verantwoordelik is nie. Jou plan is seker net weer om wraak te neem.”

“Ek is moeg om van oral aangeval te word. Elke keer voer iemand ʼn sluipaanval uit! Het niemand die waagmoed om my in ʼn regverdige stryd aan te durf nie?”

Die nimf lag hard. “Jy dink jy het vriende? Ek versorg jou net omdat jy nie in staat is om self die taak af te handel nie, of moed opgegee het.”

Stil en kalm bly hy lê terwyl sy die wonde versorg. Om hom weergalm die krete van die slagveld kakofonies. Vir jare was die geluid vir hom verwelkomend en oorbekend. Nou vind hy oorlogsgedruis afmattend en senutergend. In die stryd het hy altyd ʼn kameraad of twee aan sy sy gehad. Nou staan hy alleen. Die besef dat hy alleen staan teen ʼn legio bekende en onbekende aanvallers, is nie juis vertroostend nie. Sy spiere is seer, sy liggaam is uitgemergel. Magtelose woede spoel in vlae oor hom.

“Jy moet slaap.” Die woorde is meer ʼn bevel as net ʼn terloopse opmerking. Sonder om teë te praat, laat hy die slaap hom oorval. Die slaap is nie rustig en vertroostend nie. In sy drome word hy gejaag deur vampiere, weerwolwe en demone. Hy stoei en baklei. ʼn Warm klou skeur sy lyf oop. Van sy skouer tot op sy naeltjie gloei ʼn koorsagtige brandende gevoel deur hom wat hom laat opkrul van pyn.

Die Nimf vee die sweet van sy voorkop af. Sy hare koek van die sweet en struweling met die innerlike demone wat hom jaag. Hy word wakker en steier die bosse in. ʼn Bruin swart braaksel boog by sy mond uit. Hy krul van die pyn, maar maak nie ʼn geluid nie. Sy wit hemp kleef aan sy brandende lyf. Hy vat ʼn sluk wyn om die galsmaak uit sy mond te kry. Knersend trek hy sy lyf regop en stap terug na waar hy gelê het. Hy tel sy wapens op en trek sy stewels aan, sonder om met die nimf te praat. Met ʼn knik van sy kop begin hy aanstap. Sy kyk hom woedend agterna.

“Gaan vrek dan maar.”

Om op die pad te bly, is moeilik, want die roetes verander na willekeru van rigting. Die intrige van die woud is die feit dat alles verander en niks verander nie. Die inwoners weet om op niks staat te maak nie. Die Kryger besef al rigting wat konstant blyk te wees, is die slagveld. Daar is geen aan-duiding waar Die Priesteres haar bevind nie.

Hy druk die klimop en wildewingerd met die strydbyl uit sy pad. Skielik kom hy te staan voor ʼn reusagtige wese. Die dier is amper vier keer langer as Die Kryger, met ʼn soepel gespierde lyf en ys-blou oë. In sy hande is twee groot sekels.

“Jy moet omdraai. Jy kan nie verder op hierdie pad gaan nie.”

Die Kryger som die situasie vinnig op. Hy sal nie die skepsel met sy leeukop en gorillalyf kan oorweldig nie. Nou is dit tyd vir taktiek en nie baklei nie.

“Ek is op pad na Die Priesteres toe.”

Met die een sekel wys die kreatuur die rigting aan waar hy heen moet stap.

“Jy gaan nie leef tot daar nie, Kryger, maar geniet die reis.”

Die Kryger draai weg in die rigting wat vir hom aangewys is.

Hy luister aandagtig na die skril krete en geklingel van wapens wat die lug vul. Sag waai die wind deur die bome. Asof toegevou in ʼn swart kleed, beweeg die wind deur die takke. Met elke ritseling en kraak raak ʼn mens bewus dat hierdie nie net ʼn plek van vrede is nie, maar dat dood en verwoesting ʼn kardinale rol speel om die balans te behou.

Die ruie bome, klimoppe, mos, wildewingerd, duiwelsgras en varings kan enige vyand versteek. Ongeskonde plante rank weelderig oor die skouer van die pad. Die Kryger draai om na die roete wat hy afgelê het, maar sien niks behalwe woud agter hom nie. Asof die woud padgee en weer toegroei met elke tree. Na ʼn paar uur se stap, bevind hy hom weer voor die reusagtige skepsel.

“Jy het omgekyk, Kryger! In hierdie plek kyk jy nooit terug nie.” Die reusagtige gedrog wys weer die rigting aan waarin hy moet stap. “Dis waar die legende, dat daar net een pad is, vandaan kom. Die waarheid is dat daar vele paaie bestaan, maar jy mag nie terugkyk nie, want dan sal die paaie jou net terugneem na die plek waar jy voorheen stilgestaan het. Bly op die pad wat ek vir jou aanwys en jy sal moontlik uitkom waar jy moet wees.”

Die Kryger kyk die skepsel vas in die oë, trek sy skouers op en begin aanstap. Soos met enige reis is daar in die bos nie ʼn vaste rigting nie. Jou vasberadenheid om by ʼn eindpunt te kom, bepaal jou sukses. Onkunde hou frustrasie in, maar die versteekte is deel van die geheim van die woud. Die Kryger besef dat die woud die rede is waarom mense nooit daaruit terugkeer nie, want die woud laat dit nie toe nie.

Hy probeer nie meer merkers laat of plekke identifiseer waar hy reeds gestap het nie. Die pad blyk minder ruig en oorgroei te wees. By ʼn stroom kniel hy en haal sy slypsteen uit. Met sorg slyp hy die lemme van elke wapen. Hy toets elke wapen se lem op ʼn dooie boomstam, voordat hy, tevrede met sy handewerk, dieper die woud instap. Die stilte word net verbreek deur die oorlogsklanke wat vanuit alle rigtings aanspoel. In die woud is daar altyd ʼn stryd. Die pad na die slagveld word goed bewaar, besef hy.

Teen skemer bereik hy ʼn groep heuwels. Hy voel moeg en met tam treë begin hy teen die naaste heuwel uitstrompel. Die dromme van die stryders weergalm meedoënloos teen die ondergaande son. Deur die bome glinster die vure van die opponerende groepe uit alle rigtings. Hier is geen vrede in die woud nie. Halfpad teen die heuwel op hoor hy ʼn harde grom naby hom. Vanuit die skaduwees bespring ʼn gitswart figuur hom. Met sy swaar vrag het hy geen kans om sy balans te behou nie en rol magteloos teen die heuwel af. Voor hy egter tot stilstand kom, glim sy twee dolke slaggereed in sy hande.

Met flink oë verken hy die area voor hom. Warm bloed loop teen sy gesig af waar die groot kat hom gekrap het. Hy sien die dier en storm daarop af. Vergete is sy pyn en die swaar vrag op sy skouers. Hy laat gly die knapsak af tot op die grond. Sy gespanne spiere en brandende oë is gefokus op sy vyand. Wiegend hou die twee mekaar dop.

Die Kryger raak bewus van nog ʼn figuur. Hy steek in sy spore vas en bestudeer die figuur. In die laaste bietjie lig kan hy haar vloeiende purper en rooi kleed sien. Sy is ʼn lang vrou, groot gebou sonder om lomp te lyk. In haar hand is ʼn hellebaard, met ʼn gloeiende robyn as kopstuk. Die wapen bestaan uit ʼn lang staf met ʼn byl net onder die juweel, en ʼn spiespunt wat bo die juweel uitsteek. Aan die anderkant van die byl is daar ’n hoek om berede ruiters van hulle perde af te ruk. Die hele steel is met metaalringe bedek om swaarde mee af te weer. Die wapen is veral effektief wanneer ʼn teenstaander te naby is om met ʼn boog aan te val. ʼn Dolk en ʼn swaard hang van haar heupe af en verdwyn in die voue van haar kleed. Op haar rug is daar ʼn boog en ʼn koker. Sy dra geen skild nie. Tussen haar borste hang ʼn groot rooi robyn, in die vorm van ʼn hart. Hy herken die vere van die pyle, dieselfde ontwerp as die een wat hy vroeër uit sy skouer moes haal. ʼn Kille woede oorval hom. Vinnig sit hy die dolke weg en haal sy skild en lang swaard van sy skouers af. Hy herken ook die goue masker as die van sy aanvaller vroeër.

Stadig, berekenend stap hy na sy aanvallers toe. “Jy!” sis hy. Sy kyk hom aan. Met elke tree wat hy nader kom, klem sy die hellebaard stywer vas met altwee hande. Haar vingers streel oor die dik metaalringe. Hy kyk na die breë bylkop, wat in ʼn halfmaan gevorm is. Daar is nie ʼn manier waarop hy ʼn kolskoot van die wapen sal kan oorleef nie.

“Jy wil dalk jou volgende beweging goed oorweeg, Kryger.” Haar stem is kalm en ferm. Die kat se stert kwispel, sy rug krom en hare regop. Die Kryger besef dat hy sal moet fokus op twee aanvalle gelyk. Die kat en die Priesteres gaan hom gelyk toetakel. Vanuit nêrens kom die ritmiese gedreun van die dromme. Hy besef daar is dalk meer as een inwoner in die woud wie se aandag gefokus is op die aankomende stryd teen die heuwel.

“Genoeg!” bulder ʼn groot stem vanuit die naderende nag. Die groot vlerke druis bo die dromme en oorlogskrete. “Nie vanaand, nie nou nie en nie hier nie!”

“Jy meng weer ongevraagd in, Uil.” Die groot kat en Die Priesteres stap weg. Haar lang rok skep die illusie dat sy sweef.

“Jy sal nie maak soos jy lus het in my woud nie!”

Die skerp brandpyn skiet weer witwarm deur sy bo-lyf. Genadiglik het hy nie verdere wonde opgedoen nie.

Hy draai om en stap na die voet van die heuwel. Hy maak seker dat hy die kampvure van die strydende magte agtergelaat het, voor hy begin soek na ʼn geskikte skuilplek. Hy vind ʼn boom wat genoegsame beskerming bied teen enige aanval. Terwyl hy die omgewing om hom verken, laat sak hy sy vrag en gaan lê in die holte van die stam.

Die boom is naby ʼn stroom en daar is ʼn klein oopte wat dit onmoontlik maak vir enige vyand om hom te bekruip sonder dat hy hulle kan bespeur. Hy draai sy kop sodat hy soveel moontlik van die omgewing kan dophou deur die yl maanligstrale wat deur die lower syfer. Misvingers wat vanaf die stroom se kant deur die bome kruip, blink spookagtig in die flou, silwer maanlig. Hy sluit sy oë en dink terug aan ʼn tyd toe Die Priesteres sy kameraad was.

Amper bloedrooi glinster die volmaan teen die westelike horison. Lui druk die strale van die nuwe dag teen die oorkantste kim. Die teenstrydigheid van dag en nag wat baklei om die hemelsfeer te oorheers, vorm ʼn amperse metafoor van wat op die slagveld voorlê.

Die Kryger staan in sy volle wapenrusting met die skelrooi banier van die Vrye Lande voor die troepe. Aan die noordekant staan Die Priesteres slaggereed met haar magte. Sy lig die staf in haar hand as ʼn groet-sein na Die Kryger. Hy antwoord deur sy hamer in die lug te hou. Jillende krete weergalm om die soldate op te sweep vir oorlog.

ʼn Donker massa opponente kom aangemarsjeer. Die Kryger stap tot voor die boogskutters wat onder Die Priesteres se bevel staan. Hy knik sy kop goedkeurend vir haar en keer terug na sy troepe. Voor die boogskutters se voete word die vore, wat met teer gevul is, aan die brand gesteek. Die pyle se punte wat met doeke toegedraai is, word daarin gedoop.

“FEUER FREI!!!” haar stem laat ʼn kort stilte neersak waarna duisende brandende pyle akkuraat op die aankomende mag afgeskiet word. Die pyle hang in die lug asof dit daar gehou word deur ʼn onsigbare koepel, voordat hulle suisend op die aankomende trolle neerswiep. “FEUER FREI!!!” ʼn Tweede druisende sarsie word losgelaat.

Die voorste linie van die vyand begin nader beweeg en die voetsoldate val in gelid voor die boogskutters. Die Boogskutters sit hulle boë weg en neem hulle hellebaarde op…

Sy gedagtegang word onderbreek deur ʼn knalgeluid. Die Uil is besig om groot takke tussen sy kragtige pote te breek en ʼn vuur te bou. Die Uil en Die Kryger gaan sit langs die vuur. Wanneer gaan die bakleiery stop? Hulle praat nie en staar net na die vuur. Die duisternis vloei stadig deur die woud en sterk skemer wyk uit voor die nag. Ten spyte van die nag vul die toornige klanke van oorlog steeds die lug.

Die Kryger trek sy stewels uit en sit verweerde voetbedekkings langs sy wapenrusting neer. Vir ʼn verandering is sy klere nie bebloed nie. Die skraap op sy wang het nie te veel gebloei nie. Hy haal ʼn pot uit sy sak en gaan skep water by ʼn stroom. Hy maak die water warm en was hom. Hy maak skuim uit ʼn stuk seep en skeer die stoppels van sy gesig af.

Die Uil braai ʼn klein bosvark oor die vuur. Hulle eet saam.

“Hoekom het jy die woud gekies? Wat laat jou dink jy is veilig hier?” Die Uil klink besorg, soos ʼn vader wat ʼn seun aanspreek oor ʼn swak keuse wat hy gemaak het. “Jy dra sekerlik nie steeds ʼn wrok oor wat op die slagveld gebeur het nie?”

“Hier is meer op die spel as net die slagveld! Sy is net so skuldig aan verraad as die Alak Valto en hulle gespuis.”

“Wat was jou rol? Wat was jou aandeel?”

“Ek het my plig gedoen, niks minder, niks meer nie en wat was my vergoeding?” Die Kryger staar Die Uil woedend aan. “Daar het goed tussen my en daardie vrou gebeur waarvan jy duidelik nie kennis dra nie.”

“Jy vergeet ek weet alles. Of gebeure in die woud plaasvind of daar buite, ek hoor en sien alles.”

“Besef jy hoe absoluut belaglik jy nou klink, Uil? Waar was jy toe my familie en my huis verwoes is? Jou apatiese self gespeel en as kragtelose toeskouer deelgeneem?” Hy gooi woedend ʼn ribbebeen in die vuur. Die vog en stukkies vleis sis en word dan deur die vlamme verteer. “Jy sal ook seker nou vra wie is ek om jou aksies te bevraagteken?”

“Nee, jy besef nog steeds nie wat eintlik gebeur het nie, Kryger. Jy wil glo jou aksies is die pad na waarheid en geregtigheid. Jy vergeet dat sy jou na Die Geneser geneem het.”

“Jy vergeet: dit was sy wat my gewond het! Jou konsep van regverdigheid is blykbaar meer verdraaid as myne!” Hy vat ʼn sluk wyn uit die karba. “Wat het jy al ooit vir my gedoen?”

Die Uil stap die nag in en kom terug met Die Kryger se knapsak. “Jy vergeet te maklik! Het jy al jou hand in hierdie sak gesteek sonder om iets daaruit te haal wat jy op daardie spesifieke oomblik nodig gehad het?

“Snuisterye en negosieware is veronderstel om op te maak vir al my verliese? Jy weet hoe onbeduidend aardse besittings vir my is.”

“Ja en omdat jy nie omgekoop kan word nie, is die presiese rede hoekom ons jou verkies het as kryger.” Die Uil eet ʼn laaste happie en vlieg dan op in die boom. “Hierdie blyk ʼn nodelose redenasie te wees wat jy probeer aanknoop. Eendag sal jy wysheid en insig ontvang. Ek hoop op daardie tydstip kan jy nog iets daarmee uitrig.”

Die Uil verdwyn ruisend die nag in. Die Kryger gooi die karos oop voor die vuur. Die nag, die oorlog, alles om hom verdwyn in die donker onsekerheid van slaap.