Lusmaker – Die Roofdier

DIE ROOFDIER – LOUISE VILJOEN
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2015)

Louise Viljoen - Die Roofdier - VoorbladLouise Viljoen - Lusmaker

Hoofstuk 1

AG nee, nie dít ook nog nie!”

Bekka gluur die blink Harley Davidson wat parmantig op háár parkeerplek staan, boosaardig aan. Wie sou nou so aspris wees? Almal weet sy parkeer hier agter die kwekery wanneer sy Saterdae mark toe kom. Waar gaan sy nou ander stilhouplek kry? Die kratte vol groente agterop die Ford se bak is heeltemal te swaar om ver te dra.

Sy meet die afstand tussen die motorfiets en die rooi baksteenmuur langsaan met nougetrekte oë. Dit sal al haar bestuursvernuf verg, maar dalk sal sy Ferdie kan maneuver om net-net in te pas. Sy laat die Ford versigtig vorentoe kruip, draai die stuurwiel skerp na regs, ry dan weer ʼn klein bietjie agteruit en hou millimeters ver van die motorfiets af stil.

Sy klim uit en betrag die gevaarte hande op die heupe. Die kragtige masjien se vaartbelynde ontwerp sou haar normaalweg gefassineer het, maar Bekka is tans te ontstoke om dit na behore te waardeer. Sy besef dat sy onredelik is en oorreageer, maar dis nou die soveelste ding wat vanoggend skeefloop en sy het nou genoeg gehad.

Daar is deesdae net té veel ongerymdhede op haar plaas aan die gang om aan te hou voorgee dis maar bloot toevallig. Iemand is besig om haar te saboteer en sy het ʼn goeie idee wie dit is, maar sy kan net mooi boggerol daaromtrent doen. Hector Krige soek haar plaas en hy sal enigiets doen om dit in die hande te kry. Enigiets.

Bekka sluk toe sy onthou hoe laag Hector al gedaal het, wat hy al aan haar laat doen het, en hoe hy haar al probeer dwing het om afstand te doen van haar erfgrond. Sy verstyf en bal haar vuiste.

As dit nie was dat die vark gedreig het om vir Zatopek, haar geliefde, seniele oom en inwoner van die plaaslike versorgingsoord vir verswakte bejaardes, seer te maak as sy praat nie, het sy Hector sowaar persoonlik gaan voorlê en laat betaal vir sy onderduimsheid.

Bekka oorweeg dit vir ʼn breukdeel van ʼn sekonde om die Harley ʼn allemintige skop te gee. Die gevaarte staan in haar pad. Sy word meteens bewus van ʼn snaakse, warm gevoel teen haar nek, asof ʼn onsigbare hand daarteen rus.

Moenie eens daaraan dink nie!

“Nou vir wat parkeer jy jou bike hier op mý plek? Kan jy nie lees nie? Kyk, daar is die bordjie wat dit duidelik stel dat hierdie spesifieke parkeerplek gereserveer is op Saterdae.”

Sy swaai om om die eienaar van die stem te konfronteer, maar daar is niemand agter haar nie. Sy staar verdwaas om haar rond. Slegs die agtergrond gedruis van stemme wat van die opelugmark voor die kwekery deur die smal stegie na haar toe aangewaai kom, is hoorbaar.

Nou hoor sy nog stemme ook… Fantasties! Sy wonder of seniliteit oorerflik is en of sy op haar jong ouderdom al simptome kan ondervind. Sy gluur wantrouig na die motorfiets. Dalk spook die ding?

“Bekka!”

Sy kyk op na die jong seun wat deur die nou stegie na haar aangedraf kom en haar gesig verhelder.

“Haai, Jaco,” glimlag sy, draai na haar bakkie en haal ʼn sak met aluminiumpype van die bak af en hou dit na hom uit. “Vat so, jong, jy’s laat.”

“Wat? Dis jý wat laat is, nie ek nie,” protesteer die sproetgesig verontwaardig, maar wanneer hy die terglustige vonkel in haar mooi oë sien, ontspan hy, neem die sak by haar en haak die band oor sy skouer. “Toe, toe, toe, ons beter opskud! Tannie Jordaan neul al die hele oggend by my oor die groentestalletjie nog nie opgeslaan is nie. Sy dreig om in die vervolg haar aankope in die stad te gaan doen.”

Bekka lag. Tannie Jordaan is heeltemal te kieskeurig om haar vars produkte by enigiemand anders te koop. Sy weet goed dat Bekka se groente altyd kraakvars en smaaklik is. Daarby is tannie Jordaan al oor die negentig jaar oud. Die plaaslike verkeerskonstabel het onlangs, tot haar hewige ontsteltenis, haar bestuurslisensie gekonfiskeer omdat haar oë nie meer so goed sien nie, en sy ʼn gevaar op die pad geword het met haar ou negentien-voertsek Buick en diaboliese liefde vir spoed. Daar is gevolglik geen manier dat sy naby die stad sal kom nie.

“Gaan slaan jy solank die gazebo op, Jaco. Ek bring die tamaties.” Bekka maak die bakkie se klap oop en sleep een van die kratte kant toe. Die geur van volryp, bloedrooi tamaties stu in haar neus op en sy adem die reuk behaaglik in. Die krat is taamlik swaar en sy steun liggies toe sy dit met haar skraal arms oplig. Haar nek kriewel meteens.

“Kan ek help dra?”

Voordat Bekka kan reageer, word die krat met gemak uit haar hande geneem. Sy staar verstom na die vreemdeling wat so eiegeregtig optree en maak haar mond oop om te protesteer, maar hy knik na die ander kratte op die oop bak. “Bring jy die aspersies.” Met dié draai hy om en kies kortpad mark toe deur die stegie.

Daardie stem…

Sy is pragtig! Hy het nog nooit so ʼn perfekte entjie mens gesien nie. Van haar effense krom linkerkleintoontjie tot die weerbarstige vlamrooi krulhare op haar kop is sy vir hom net een woord –asemrowend. Hy was nie voorbereid op die intensiteit van haar groen oë toe sy so verontwaardig na hom opgekyk het nie, en hy is dankbaar dat sy donkerbril die effek daarvan effens gedemp het.

Toe sy met haar bakkie daar stilhou en hy haar die eerste keer sien, het dit vir hom gevoel of ʼn vuishou hom op die krop van sy maag tref. Hy is geprogrammeer om buitengewoon beskermend teenoor haar te voel. Dis in sy DNS gekodeer dat hy haar bo enige ander vrou op die aarde sal wil hê. Dat sy syne is. Hy wéét dit. Maar die realiteit van haar bestaan, haar absolute, onbetwisbare ménswees het hom onkant betrap.

Hy was eers geamuseerd toe sy sy Harley Davidson so verontwaardig aangegluur het, maar toe hy haar liggaamstaal lees en besef sy gaan dit skop, het sy beskermingsdrang oorgeneem en hy het blitsvinnig ʼn dringende waarskuwing na haar gesein – moenie eens daaraan dink nie!

Sy kon haarself beseer met haar voorgenome aksie en hy kan dit nie toelaat nie. Haar kosbare bloed mag onder géén omstandighede verspil word nie. Elke druppel is van kardinale belang!

Sy het onmiddellik en instinktief die sein opgevang wat hy woordeloos na haar gestuur het. Moeiteloos, asof sy haar hele lewe lank fyn ingestem was daarop om die frekwensie van sy gedagtegolwe op te vang. Hy kon sien dit verwar haar en dat sy nie besef wat besig was om te gebeur nie.

Maar iets is nie pluis nie. Hy moet haar gedagtes kan lees en hy kan nie. Hy lees haar liggaamstaal asof hy reeds elke millimeter van haar lyf intiem ken. Maar haar gedagtes is onheilspellend stil. Ondeurdringbaar.

Hy het eers gedink hy staan dalk te ver van haar af om dit wat sy dink te hoor, maar toe hy die krat by haar vat en in haar oë kyk en byna verdrink in die smaraggroenkuile, het hy geskok besef hy kan nie dit wat sy dink ontsyfer nie.

Dis nie hoe dit moet wees nie. Dis nóg iets waarop hy nie voorbereid was nie. Hy beter ʼn plan beraam om deur haar skanse te dring. Vinnig ook. Hy moet te alle tye bewus wees van wat sy dink en voel. Dis al manier hoe hy sal weet wie die Roofdier is wanneer hy gaan kom vir haar bloed. Dis al hoe hy sal weet teen wie hy haar met sy lewe moet beskerm.

Anders gaan Bekka sterf.

* * *

“Nicholai Craigg.”

Hy kyk afwagtend na haar asof hy haar reaksie op sy naam toets, asof die klanke daarvan vir haar bekend behoort te wees. Bekka kry die gevoel dat hy elke vlietende uitdrukking op haar gesig fyn ontleed en deur die getinte lense van sy donkerbril stip in haar oë staar asof hy soek na iets. Herkenning?

Sy frons liggies. Daardie warm gevoel teen haar nek is terug. Die vreemdeling ontsenu haar. Wat as hy een van Hector Krige se handlangers is? Sy draai vinnig weg van die man af en gee voor dat sy nie sy uitgestrekte hand sien nie. Sy buk en haal haar draagbare kasregister onder die tafel uit.

“Dankie vir jou hulp,” sê sy, maar laat na om haarself voor te stel. Haar oë beweeg krities oor die wye verskeidenheid organiese groente op die tafel. Haar spogprodukte vertoon gesond en smullekker. Dis keurig opgemaak in pakkies en word só mooi uitgestal dat dit mens eintlik uitnooi om daarvan te koop.

Nicholai Craigg verdwyn nie soos sy gehoop het hy sou nie. Inteendeel, hy beweeg slegs ʼn paar treë weg van haar stalletjie af onder die koelte van ʼn wilgerboom in. Hy vou sy arms oor sy bors en plant sy voete met ʼn vasberade beweging ʼn endjie uitmekaar. Hy word ʼn standbeeld. Hy dra nogsteeds daardie verpestelike donkerbril, maar Bekka voel hoe sy oë soos kooltjies vuur op haar vel brand.

Sy klik vererg met haar tong. Wat ís dit met die man? Hoekom staan hy net daar? Sy hou hom onderlangs dop en moet teen haar sin erken dat hy die aantreklikste man is wat sy al ooit gesien het. Sy raafswart hare hang styl en glad oor sy voorkop en hy dra dit laag in sy nek. En sy mond… Bekka sluk en bepaal haar aandag by ʼn klant wat ʼn bossie geelwortels uitsoek en daarvoor betaal.

Die vars produkte is altyd ʼn groot trekpleister by die mark, en Bekka en Jaco moet hulle storie ken om by te bly. Sy ken heelwat van Treurdal se inwoners sedert haar kinderdae, en geniet dit wanneer bekendes by haar stalletjie aandoen vir ʼn vinnige geselsie.

Sy bly heeltyd bewus van die vreemdeling wat roerloos onder die wilgerboom staan en in haar rigting bly kyk. Is dit dan net sy wat sy gedrag opmerk? Hy is tog ʼn vreemdeling op die dorpie en behoort baie aandag te trek, maar mense kyk skaars in sy rigting. Dis asof hy onsigbaar is vir ander.

“Jaco,” kan sy dit nie langer hou nie. “Wat dink jy is daardie vent se storie?”

“Huh?” Die seun volg haar blik en frons liggies asof dit die eerste keer is dat hy die man daar opmerk en eers mooi moet dink om sy gesig te plaas. “O, is dit nie die ou wat gehelp dra het aan die kratte nie? Vriendelik van hom gewees.” Hy verloor byna dadelik weer belangstelling en bied aan om die aartappels in sakkies te pak.

Bekka knik afgetrokke. “Verskoon my,” sê sy en stap doelgerig onder die beskerming van die gazebo uit. Die son skroei ongenadig warm op haar onbedekte hoof neer toe sy die paar treë aflê tot by die wilgerboom. Die laaghangende takke vorm ʼn groen tonnel toe sy onder hulle koelte instap en voor Nicholai Craigg tot stilstand kom.

Hy is lank en sy moet haar kop ver agteroor gooi om hom in die oë te kyk. Sy kyk egter in die glase van sy donkerbril vas wat haar eie spieëlbeeld na haar toe weerkaats. Sy voel hoe ergerlikheid oorneem en haar hande begin liggies bewe.

“Kan ek jou help? Wag jy vir iemand? Hoekom staan jy net hier?” bars sy los, hande op die heupe.

“Ek kyk na jou,” kom dit rustig, onverstoorbaar van hom.

Sy snak na asem. Die vermetelheid! Hy ontken dit nie eens nie. Wie dink die vent is hy? “Gaan soek vir jou iemand anders om na te staar, hoor! Ek is dankbaar vir jou hulp met die kratte, maar dit gee jou nie die reg om heeldag hier te staan en my dop te hou nie.” Sy druk haar vinger onder sy neus. “Kry eerder jou ry!”

Hy skud sy kop. “Ek’s bevrees dis buite die kwessie. Ek’s hier om jou op te pas.”

Sy staar hom verbysterd aan. Die man is sowaar stapelgek. Hy is geheel en al van sy trollie af. Dalk is hy ʼn stalker? En van alle mense moes hy nou juis vir háár, Bekka Malan, kies om te bekruip. Sy kreun en druk haar hande voor haar oë. Haar verbeelding wil-wil met haar op loop gaan.

“Het jy seer?”

Die bekommernis in sy stem ruk deur haar en sy laat sak haar hande stadig. Hy het sy donkerbril afgehaal en staan naby, baie naby aan haar. Té naby. Sy gee onwillekeurig ʼn tree agteruit om meer afstand tussen hulle te kry. Dan versteen sy.

“Jou oë…”

Sy het nog nooit sulke oë gesien nie. Die kleur! Dit wissel voortdurend van die rykste skakering van karamel na gepoetse okerbruin en goud. Dis asof die kleure luiweg soos ʼn spiraal inmekaarvloei en haar wil insuig.

Sy staar asof gehipnotiseer na hom en skud haar kop liggies asof sy haar verstand wil helder kry deur die klein beweging. Toe sy weer kyk, is sy oë ʼn doodgewone bruin.

“Bly weg van my af!” sis sy ontsteld en loop so vinnig as wat sy kan terug na haar stalletjie toe.

* * *

ʼn Harde knal ruk deur Ferdie se kajuit en Bekka moet al haar bestuursvernuf inspan om die bokspringende Ford op die grondpad tot stilstand te bring.

Great! Gebarste band.

Sy klim uit en betrag die linkervoorwiel wat aan flarde geruk is. Gelukkig het sy nie vinnig gery nie, anders het die bakkie sweerlik gerol. Sy ril en slaan haar arms styf om haar lyf. Dis amper donker en sy sal moet wikkel om die band om te ruil. Die spaarwiel is darem nog goed.

Bekka het skaars die spaarwiel en domkrag langs die bakkie neergesit, toe sy die gebrul van ʼn motorfiets hoor naderkom. Sy kyk vies na die Harley wat agter haar bakkie tot stilstand kom en wag Nicholai Craigg hande op die heupe in.

Die man moenie met haar staan en bodder nie! Sy het nie nou die krag of lus om met hom te sukkel nie. Vir wat agtervolg hy haar? Kyk, as hy darem wraggies een van Hector Krige se manne is… Die gedagte laat haar maag op ʼn knop trek en sy buk vinnig af om die moersleutel op te tel. Sy slaan sy harspan inmekaar!

“Het jy hulp nodig?” bied hy vriendelik aan.

“Ek sal regkom, dankie. Jy kan maar gaan.”

Nicholai ignoreer haar asof sy nooit gepraat het nie. Hy buk, bekyk die gebarste band noukeurig, en kom dan stadig orent. Hy laat sy oë oor die vinnig donkerwordende landskap dwaal, sy kop skeef, luisterend. Meteens verstyf hy en swaai om na Bekka toe.

“Daar’s op jou geskiet,” kondig hy doodluiters aan asof hy ʼn opmerking oor die weer maak.

Bekka staar stomverbaas na hom. Haar eerste indrukke van die man was reg. Hy is totaal en al stapelgek. Sy vat die moersleutel stewiger vas.

“Dis ʼn grondpad. My band het gebars. Sulke dinge gebeur.”

Nicholai skud sy kop beslis. “Iemand het op jou geskiet, Bekka. Hy’t daar regs voor teenaan daardie groot rots stelling ingeneem. Hy’s nou weg, maar ek wed jou die patroondoppie lê nog daar. Kom.”

Nicholai kry Bekka aan haar pols beet en trek haar saam met hom. Sy rem met mening terug. “Nee, los my! Hoe weet jy nogal wat is my naam? Ek gaan nie saam met jou nie!”

“Jy gaan waar ek gaan. Kom!”

“Nee!”

Bekka lig die moersleutel op en slaan na die kneukels wat styf om haar pols span. Sy voel met genoegdoening hoe die kneukels kraak onder die hou en lig die moersleutel om hom weer te foeter, maar hy neem dit met gemak uit haar hand en sy word sonder seremonie oor ʼn breë skouer gegooi asof sy ʼn sak aartappels is.

“Sit my neer, jou lummel! Sit my op die daad neer, sê ek jou!” protesteer sy luidkeels en haar vuiste tamboer op sy rug.

“Sjuut, Bekka.”

Sy wriemel en skree vir al wat sy werd is, maar sy kon haarself net sowel die moeite gespaar het, want Nicholai steur hom nie aan haar nie. Hy stap vinnig en doelgerig na die rots waarna hy vroeër verwys het. Daar aangekom, sit hy haar op die gras neer, sy oë speurend op die grond op soek na die patroondoppie wat hy weet daar moet wees.

“Daarsy!” Hy buk, tel die doppie op en hou dit uit na haar.

“Daar’s die bewys. Iemand het hier gestaan en na jou geskiet met…” hy betrag die doppie meer noukeurig, “ʼn 303-geweer.”

Bekka staar na die patroondoppie in sy hand en voel hoe haar maag ʼn draai maak. Sy trek haar knieë op en rus haar voorkop ʼn oomblik lank daarop om haar ontsteltenis vir hom weg te steek. Iemand – dit kan net een van Hector se manne wees – het sowaar op haar geskiet! ʼn Ander gedagte kom by haar op en sy kyk wantrouig na Nicholai Craigg.

“Hoe het jy geweet van die skietery? Hoe het jy geweet presies waar,” sy knik na die patroondoppie in sy hand, “om dit op te tel?”

Nicholai trek sy skouers op en steek die doppie in sy sak. “Ek weet dié tipe ding instinktief. Dis asof die omgewing ʼn geheue het en ek daarop kan inskakel en dan ʼn herhaling van die gebeure in my gedagtes sien.”

Bekka se mond val oop. “Huh?”

Sy kyk stomverbaas hoe Nicholai die onmiddellike area begin verken deur stadig in die rondte te draai. Dan snuif en ruik hy liggies hier en daar aan ʼn gebreekte takkie en gekneusde blaartjie. Sy sien verbysterd hoe hy selfs op sy hande en knieë sak om beter te ruik.

“Wat… wat doen jy?” kwaak sy. Haar kop draai en sy voel naar. Sy kom wankelrig orent. Sy moet siek wees. Koorsig. Dis hoekom sy so hallusineer. Haar oë bedrieg haar, maar sy sien steeds hoe Nicholai Craigg rondsnuffel tussen die bossies asof hy spoorsny soos ʼn wafferse bloedhond. Dit kan tog nie werklik gebeur nie, kan dit?

Sy moes ʼn klein geluidjie van pure ontsteltenis gemaak het, want Nicholai Craigg is meteens by haar en hy tel haar weer op, dié keer asof sy ʼn baba is.

“Kom, Bekka. Ek sal jou bakkie se band omruil en dan gaan ons huis toe.”

“Los my, ek hét bene. Ek kan self loop!” protesteer sy dadelik, maar hy steur hom nie aan haar nie. Sy sluk swaar aan die naarheid wat in vlae in haar keel opstoot. Duiseligheid dreig om haar te oorweldig en sy het geen keuse as om hulpeloos toe te laat dat die man haar dra nie.

Sy skaam haar morsdood! Wat moet die man nie van haar dink nie? Dat sy ʼn spookasem poppie is wat vir die geringste flou val in die hoop dat mansmense met bultende spiere haar sal optel en ronddra? Ha! Nie sý wat Bekka Malan is nie, dankie. Geen man op aarde se spiere het háár al beïndruk nie. Al ry hy ook ʼn Harley Davidson en spog met ʼn bonatuurlike reuksintuig.

Bekka is diep dankbaar toe Nicholai haar langs Ferdie staan maak. Sy voel hoe haar wange brand en sy buk vinnig af om een van haar skoenveters vas te maak in ʼn poging om haar verleentheid weg te steek. Sy hou hom onderlangs dop toe hy ewe handig die ou Ford se band in ʼn japtrap omruil. Die man het beslis nie tien duime nie. Wanneer hy sy ghriesbesmeerde hande aan ʼn stuk flenterlap afvee, staan sy traag nader.

“Dankie vir die omruil van die band.” Sy druk haar hande in haar denimbroek se sakke en skop-skop liggies teen die stywe band. “Jy kan nou maar gaan. Ek sal jou nie langer ophou nie.”

“Nie so haastig nie, Bekka,” keer Nicholai en sy een mondhoek wil-wil opkrul. Sy gluur hom wantrouig aan. Lag die vent miskien vir haar? Sy kyk rond. Waar is daardie moersleutel?

“Jy gaan nie so gou van my ontslae raak nie. Ek gaan agter jou aanry en seker maak jy kom veilig tuis. Daarna gaan jy vir my ʼn lekker koppie koffie maak. Ek hoop jy’t beskuit. Van daardie bruines met die sade en neute in. Dis my gunsteling en…”

“Kyk, meneer Craigg,” val Bekka hom in die rede. “Dit was gaaf van jou om die band om te ruil en ek is dankbaar vir jou hulp. Ek ken jou egter van geen kant af nie. Jy daag uit die bloute op, staan en beloer my heeldag én dan weet jy boonop wat my naam is sonder dat ek jou dit gesê het. Boonop word daar op my geskiet en jý is maar net toevallig in die omgewing om held te speel. Vergewe my, maar daar’s nie ʼn manier dat ek jou huis toe nooi en dít nogal vir koffie en beskuit nie!”

Nicholai draai sonder ʼn woord om en klim op sy Harley. Hy sit sy valhelm op sy kop en maak dit vas. Eers dan kyk hy weer na Bekka.

“Klim in jou bakkie, Bekka, en ry. Ek kom saam en klaar.”

“Dít sal die dag…!” begin Bekka, maar Nicholai skakel die kragtige masjien aan en laat dit brul. Die geluid van die enjin doof haar stem. Haar mond gaan oop en toe van verontwaardiging, maar hy lig doodluiters ʼn vinger en wys vir haar die pad wag. Sy voel lus en stamp haar voet soos ʼn kind, maar draai dan tog om en skuif agter Ferdie se stuur in.

Die man besit nou eenmaal die vermoë om haar die harnas in te jaag en haar bloeddruk behoorlik die rooi in te laat styg. Moeiteloos ook. Wie dink hy ís hy om so ewe vir haar te beduie sy moet haar ry kry? Hmph! Sy skakel die bakkie se hoofligte aan en trek rukkerig weg. Die motorfiets val dadelik agter haar in.

Sy ril. Dit sou nogal aardig gevoel het om stoksielalleen by die huis aan te kom. Wie sê die vent wat Ferdie se band aan flarde geskiet het, sluip nie dalk iewers op haar plaas rond nie?

Sy voel meteens dankbaar dat Nicholai Craigg homself genooi en daarop aangedring het om haar tot by die huis te vergesel. Sy ken hom nou wel van geen kant af nie en vertrou hom net sover sy hom kan sien, maar sy teenwoordigheid is tog gerusstellend. Maar, en sy lig haar ken vasberade, hy het ʼn hele klomp verduidelikings om te doen. Sy wil weet wat sy storie is en wat hy met haar wat Bekka Malan is, uit te waai het.

Daar’s op Bekka geskiet! Iemand het haar doelbewus voorgelê, ʼn gelaaide vuurwapen in haar rigting gemik en ʼn skoot afgevuur. As sy nie so ʼn goeie bestuurder was nie en net effens vinniger gery het op die grondpad, kon sy die bakkie omgegooi het toe die band aan flenters geskiet is. Sy kon dood gewees het!

Die blote gedagte aan Bekka wat dood en bebloed in ʼn motorwrak lê, laat hom duisel. Hy byt op sy tande en bal sy vuiste, voel hoe sy hart swaar en moeisaam in sy binneste klop. Dis sy plig om haar te beskerm en daar mag absoluut niks met haar gebeur nie.

Hy het die skut se reuk in sy geheue gestoor. Hy sal hom herken as hy hom iewers raakloop. Dan moet die hemele help dat hy hom nie verskeur nie. Die persoon was houtgerus en het presies geweet wat hy doen. Hy het na ʼn bewegende voertuig geskiet en sy teiken sekuur getref. Dis nie die werk van ʼn amateur nie. Hy wou Bekka dood hê of goed die skrik op die lyf jaag, en hy wou dit na ʼn ongeluk laat lyk het.

Bekka verkeer in lewensgevaar. Die ergste is, hy weet nie van watter kant af om die gevaar te verwag nie. Dit wil voorkom of dit nie net die Roofdier is wat agter Bekka se bloed aan is nie. Daar is sinistere dinge aan die gang en Bekka staan in die middel van dit alles.